SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.64 issue1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

HTS Theological Studies

Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.64 n.1 Pretoria Mar. 2008

 

Die kerk, die huwelik en seks - 'n morele krisis?

 

 

T F J Dreyer

Hervormde Teologiese Kollege, Universiteit van Pretoria

 

 


ABSTRACT

The church, marriage and sex - a moral crisis?
Within Western societies the church is challenged by a new sexual "morality". Seemingly, the traditional theological answers do not address the challenge sufficiently. The incompetence of the church to change people's minds leads to a moral crisis. This article is an attempt to create awareness that the church has no choice but to review her traditional stance. This awareness will only surface once we are prepared to acknowledge that our traditional views were influenced by different contexts through the ages. Therefore it is necessary, in a postmodern context, to theologically reflect afresh within this context.


 

 

1. INLEIDING

Die kerk word in ons tyd gekonfronteer met uiteenlopende sienings oor seksuele verhoudings en die huwelik. Die werklikheid waarbinne ons leef, stel die kerk voor die uitdaging om opnuut te besin oor die vraag of ons met ons "tradisionele" verstaan van die huwelik en seksuele verhoudings nog mense kan begelei om as gelowiges sinvolle en verantwoordelike keuses te maak. Indien dit nie die geval is nie, is dit juis die oorsaak van die morele krisis waarin ons onsself bevind. "Die huwelik is in 'n krisis. Leiding wat die kerk in hierdie verband gee, is dalk 'n groter krisis" (Van Eck 2007:81).

Die afgelope vier dekades het daar in die Westerse wêreld 'n ingrypende verandering plaasgevind in bestaande familie-patrone. Hierdie veranderings manifesteer in die stygende egskeidingsyfer, buite-egtelike geboortes, selfdegeslag huwelike en saamwoon. Westerse gemeenskappe word getipeer as "high-divorce societies". Die getalle van saamwoon paartjies het in die Verenigde State van Amerika sedert 1970 agtvoudig toegeneem en die afleiding kan gemaak word dat dit waarskynlik 'n tendens in die meeste Westerse samelewings is (Browning 2001:243). Die egskeidingsyfer in die VSA is tussen 29% en 50% vir eerste huwelike, terwyl 61% tot 76% van alle tweede huwelike op die rotse loop. Gill (1997:81) spreek sy bekommernis uit oor die feit dat ons gekonfronteer word met 'n versnelde afname in die tradisionele twee-ouer families, 'n toename in beide tienerswangerskappe en gepaardgaande aborsies, die styging in die verspreiding van HIV/VIGS, asook 'n toenemende onsekerheid oor wetlike en sosiale grense van pornografie en obseniteit. Die vraag is of hierdie verskynsels as immoreel veroordeel moet word, of is dit normale kulturele patrone in 'n veranderende samelewing? Is dit bloot aanduidings van veranderings in die familie- en gesinslewe, of moet ons dit sien as 'n morele krisis (Browning 2001:4)? Hoe moet die kerk mense pastoraal begelei binne hierdie veranderende seksuele en huweliksmoraal?

Jongmense is in die verlede onder kerklike tug geplaas as gevolg van voorhuwelikse seks en ongewenste swangerskappe. Baie van hulle het daardeur 'n neurotiese skuldkompleks en minderwaardigheidsgevoel ontwikkel wat die res van hulle lewe, hulle huwelik en seksuele intimiteit negatief beïnvloed het. In sommige gevalle het dit gelei tot onwettige aborsies en selfs tot selfmoord. Persone betrokke in 'n egskeiding, of geskeides wat hertrou het, is tot 'n groot mate deur die optrede van kerklike ampsdraers en lidmate gestigmatiseer, soveel so, dat hulle dit as verwerping beleef het en God en die kerk as hard en ongenaakbaar beskou het (vgl Van Biljon 1997:1068). Seksuele minderhede soos "gay" persone is op grond van hulle seksuele oriëntasie kerklik veroordeel en vervreem. Dit het in baie gevalle aanleiding gegee tot homofobie. "Wanneer homoseksuele persone medegelowiges se vrees en weersin ervaar, bring dit innerlike konflik mee. Dikwels maak hulle die negatiewe boodskappe hulle eie en dit lei tot self-haat. Geïnternaliseerde selfhaat is ook homofobie" (Dreyer 2006:446). Predikante was nog tot 'n paar jaar gelede in die Hervormde Kerk gedwing om as gevolg van 'n egskeiding te bedank, of hulle is via kerklike tughandelinge van hulle ampsvoorregte onthef (NHKA 2001:117-121). Hertoelating na egskeiding was tot in die sewentigerjare nog onmoontlik.

Die negatiewe siening van seksuele intimiteit, omdat dit slegs bedoel is vir voortplanting en nie vir genot nie, het in die vroeë kerk ontstaan (Vardy 1997:47-57). Alhoewel hierdie siening binne die Reformatoriese tradisie, gewysig is, was seksuele intimiteit nog altyd hanteer as iets wat eintlik nie in die kerk oor gepraat word nie. Dit het gelei tot 'n "swyggebod" in die meeste gesinne, met die gepaardgaande ontkenning en onderdrukking van die geweldige rol van die erotiese in seksuele verhoudings. Dit het mense met 'n skuldgevoel gelaat en geïnhibeer ten opsigte van die rekreatiewe faset van seksuele intimiteit in die huwelik.

Vardy som die morele waardes oor seksualiteit, wat in meerdere of mindere mate vir baie eeue in die kerk geldend was, soos volg op:

• Sex before marriage is wrong;
• Homosexual behaviour is wicked;
• Adultery is against the law of God;
• Masturbation is a grave sin;
• The main purpose of sex is procreation;
• Sex is only acceptable within the marriage of one man and one woman;
• A woman has a duty to provide sexual access to a man if she is married to him;
• Sex is to be treated with suspicion and as a temptation;
• Celibacy is a higher ideal than married life.

(Vardy 1997:xi)

Alhoewel daar in die verskillende teologiese tradisies bepaalde nuansverskille ten opsigte van bogenoemde sake is, weerspieël dit tot 'n groot mate die grondliggende teologiese opvattings oor die huwelik en seksualiteit.

Sedert die ou Midde-Oosterse idee dat seks hoofsaaklik bedoel was as prokreasie, het daar talle verskuiwings gekom in hoe mense in verskillende tye seksualiteit beskou het: die Romantiek sien die bedoeling van seksuele intimiteit as die versterking van vriendskap; die Libertyne beskou seksuele plesier as 'n waarde in sigself, wat nie beperk behoort te word tot bestaande verhoudings waar daar reeds emosionele bande is nie; postmoderne seksuele etiek heg waarde aan pluraliteit en diversiteit (Dreyer 2006:457). Die hedendaagse konteks plaas die kerk voor uitdagings wat hernude teologiese besinning en refleksie noodsaak.

• Die stygende egskeidingsyfer met die gepaardgaande hertrou van geskeides vir 'n tweede keer, of selfs meermale, stel ons voor die vraag of die tradisionele standpunt dat die huwelik 'n lewenslange verbintenis is, nog onverkort onder alle omstandighede moet geld?

• Die toenemende voorkoms van saamwoon onder lidmate van die kerk, as voorbereiding vir die huwelik, of selfs as alternatief vir die huwelik, vra nuwe teologiese refleksie oor huweliksvorme.

• Voorhuwelikse seks word 'n aanvaarbare lewenspatroon onder jongmense en dit dwing ons om opnuut te vra na die kerk se siening oor die funksie en betekenis van seksuele intimiteit.

• Vryheid ten opsigte van seksuele oriëntasie word in ons land deur die grondwet verskans en homoseksuele verbintenisse word deur wetgewing gelegitimeer. Moet die kerk voorsiening maak vir alternatiewe verbintenisse naas die tradisionele heteroseksuele huwelik?

Adrian Thatcher (1999:9) sê in sy boek, Marriage after modernity: Christian marriage in postmodern times, dat die inkongruensie tussen die menslike ervaring van die huwelik en die "teologie van die huwelik" deur die eeue heen problematies was. Rosemary Haughton (1987:149) noem dit: "a theology of marriage shattered by experience". Die gaping tussen bestaande teologiese teorieë en die praxis is so groot dat dit teologiese refleksie bemoeilik, omdat daar uiteenlopende interpretasies bestaan.

Die antwoorde wat 'n mens op hierdie vrae sal gee, word tot 'n groot mate bepaal deur jou Skrifbeskouing en Skrifhantering. Indien die Bybel as 'n tydlose boek beskou word, sal die moreel-etiese kodes wat ons in die Bybel vind, net so op ons situasie vandag toegepas moet word. Indien ons egter die Bybel verstaan as 'n historiese boek wat geskryf is in 'n bepaalde konteks, stel dit jou voor die uitdaging om deur 'n kritiese-verantwoorde hermeneutiese benadering met die onderskeie kontekste van die Bybel en vandag erns te maak en so soekend poog om die Woord van God vir ons tyd te hoor.

Volgens Van Aarde (2005:35) is teologiese hermeneutiek of teologiese eksegese wanneer die teks gehoor word in die aktuele gehoorsaamheid aan die aanspraak van God (wat deur die menslike teks en getuienis geskied) en in die geloofsverwagting dat God in vryheid God se Woord vir ons sal open. Die leser van die Bybel moet onthou dat die kerk tot hier toe in hierdie boek die Woord van God gehoor het, en dat die kerk die verwagting sal hê om self ook hier vir die hede die Woord van God te hoor. Die plek van teologiese eksegese en hermeneutiek lê tussen hierdie herinnering en verwagting.

In die lig van die morele krisis, is hierdie artikel verkennend van aard. Die doel is om 'n bewustheid te skep dat ons tradisionele antwoorde op vrae rakende seks en die huwelik, binne die huidige konteks, nie meer daarin slaag om die seksuele moraal waaraan ons gewoond was, in stand te hou nie. Dit dwing 'n mens om weer krities na die geykte antwoorde te kyk. In watter mate is die antwoorde evangeliese waardes, of is dit dalk die neerslag van teologiese refleksie wat deur historiese kontekste beïnvloed is? In hierdie verkennende studie wil ek probeer aantoon dat dit juis die geval is dat ons tradisionele siening deur historiese kontekste beïnvloed is en daarom vra dit hernude besinning. 'n Kursoriese oorsig oor die invloed van verskillende historiese kontekste op die kerk se verstaan van die huwelik en seksualiteit sal voldoende aantoon watter groot rol kontekste in die verstaan van die Bybel gespeel het. Dit behoort ook die noodsaak te illustreer waarom die kerk vandag binne ons konteks weer opnuut sal moet luister na die Woord om antwoorde vir ons tyd te vind.

 

2. 'N OORSIG VAN DIE KERK SE TEOLOGIESE REFLEKSIE OOR HUWELIK EN SEKSUALIEIT

Dit is opmerklik dat sekere standpunte van die kerk oor die onderhawige saak, nie in die eerste instansie gebaseer is op die verstaan van die Bybelse tekste binne hulle historiese konteks nie, maar beïnvloed is deur kulturele strominge van 'n bepaalde era in die geskiedenis. Die doel van hierdie oorsig is om te probeer vasstel waar die wortels van bepaalde tradisionele sienings geleë is. Van Eck (2007:82) maak die opmerking dat die kerk se verstaan van die huwelik en aanverwante sake radikaal verskil van die verstaan van die huwelik in die Bybel. Tog maak die kerk daarop aanspraak dat sy verstaan van die huwelik in die Skrif terug te vind is.

2.1 Bybelse perspektiewe

Die skeppingsverhale is in baie opsigte gebruik en misbruik om teologiese sienings oor seksualiteit en die huwelik te begrond. In die Evangelies word dit ook gestel dat Jesus hom, in gesprekke oor die huwelik en egskeiding, op die skeppingsorde beroep het (Mark 10:1-12; Matt 5:23, 19:1-12; Luk 16:18).

Vanuit 'n patriargale perspektief is die vertellings so geïnterpreteer dat die ondergeskiktheid van die vrou aan die man daardeur begrond word. Die vrou is die verleidster wat verantwoordelik is vir die sondeval. Die sonde is dan ook gesien as die seksdaad. Hierdie beskouings het later in die teologie die hoekstene geword waarop 'n teologie gebou is dat die seksdaad eintlik sonde is, dat die vrou die minderwaardige en ondergeskikte is en dat sy die verleidster is (Vardy 1997:10). Vleeslike eenwording gesien vanuit die patriargale sisteem, is gebruik om die vrou in te trek in die identiteit van die man. So word die vrou dan 'n toevoegsel tot die "vlees" van die man, permanent afhanklik van hom en ondergeskik aan hom. Hierdie idee kom oorspronklik vanuit die Genesisteks waar die man eerste geskep is en die vrou uit die man se liggaam geneem is. Dus bly die "een vlees" sy vlees, waarvan die vrou nou net deel word.

'n Noukeurige lees van die tekste binne hulle eie onderskeie kontekste en ontstaansgeskiedenis, toon egter oortuigend aan dat dit nie die bedoeling van die vertellings is nie en dat bogenoemde standpunte nie vanuit die skeppingsverhale begrond kan word nie (Cahill 1985:56).

Die dekaloog het die basis geword vir Joodse en later Christelike denke oor morele waardes en godsdienstige sienings oor seks. Dit is tog belangrik om daarop te let dat die dekaloog slegs een direkte en een indirekte verwysing na seksualiteit bevat. Die sewende gebod verbied egbreuk en die tiende gebod verbied die begeerte na 'n ander man se vrou. Dit is egter duidelik dat die uitsprake ook verstaan moet word teen die kulturele agtergrond van daardie tyd. Die vrou is beskou as die man se besitting (Van Eck 2007:94; Countryman 1988:147) en daarom het egbreuk eintlik neergekom op die diefstal van 'n ander man se eiendom. Die tiende gebod verbied die begeerte van 'n ander man se vrou in dieselfde terme as sy ander besittings soos sy bees of sy donkie of enige iets anders wat aan hom behoort. Die gebod word ook uitgedruk in manlike terme. Die man mag nie 'n ander man se vrou begeer nie, maar daar word nie gesê dat 'n vrou nie 'n ander man mag begeer nie.

Die hoeksteen van die kerk se siening oor die huwelik en seks is dat die huwelik 'n instelling van God is.1 Noukeurige eksegese van die onderhawige teksgedeeltes in Genesis (1:27-28, 2:18, 21-24) laat duidelik blyk dat dit nie hier gaan om die Goddelike instelling van die huwelik nie. "Al dit soort vragen ligt buiten het doel van onze verteller: hij heeft niets anders willen aangeven dan de volmaakte vertrouwlijkheid van deze twee, man en vrouw nie" (Van Selms 1967:37-62). In die Ou Testament word verskillende huweliksvorme aangetref, wat dit feitlik onmoontlik maak om 'n selfstandige leerstuk daaroor op te stel.

Die Ou Testament het geen voorskriftelike uitsprake oor die huwelik nie. Verwysings na die huwelik vind binne 'n konstellasie van begrippe plaas wat gebruik word om teologiese konstrukte te vorm. … 'n Eerste rede is dat die verskeidenheid van vorms en beskouings oor die huwelik in die Ou Testament eenvoudig so uiteenlopend is dat dit onmoontlik is om by so 'n skema uit te kom.

(Venter 2007:1213-1237)

Alhoewel daar verskillende huweliksvorme was, is daar tog aspekte wat deurlopend 'n rol gespeel het, naamlik dat dit 'n belange-huwelik was, wat onderhandel is deur die betrokke families.2 Volgens Malina (1981:105-116) was daar in die geskiedenis van Israel verskillende huwelikstrategieë (versoenend, aggressief en verdedigend) wat saamhang met die verskillende periodes in die Joodse geskiedenis. Dit kon die vorm aanneem van 'n huwelik binne die eie kring om die gemeenskap te versterk teen vreemde invloede, of 'n huwelik buite die eie kring om sodoende invloed na buite te versterk. Die konstante was egter dat die vrou as 'n besitting van die man beskou is (Van Eck 2007a:115; Malina & Rohrbauch 1992: 241-242). Die profeet Natan se kritiek teenoor Dawid is nie gerig op sy seksuele aktiwiteite met Batseba nie, maar omdat hy 'n arm man se eiendom gesteel het. Dit was die plig van die vrou om vir die man eer te bring, deur die kinders wat sy vir hom gegee het - veral seuns (Malina & Rohrbauch 1992:241-242). Daar was nie die verwagting van 'n lewe na die dood nie en mans het na hulle dood voortgeleef deur hulle seuns. Sonder kinders kon hulle "naam" nie voortleef nie. As 'n huwelik kinderloos was, was die probleem altyd by die vrou en dit was vir haar 'n groot skande. 'n Kinderlose vrou kon in so 'n geval haar slaaf aan haar man gee, om namens haar kinders te verwek (Gen 16:2). Slegs mans kon van hulle vroue skei omdat hulle die eiendomsreg oor vroue gehad het. Hierdie reg was nie op vroue van toepassing nie (Deut 24:1-4).

Bepaalde reinheidsmaatreëls het ook 'n invloed uitgeoefen op morele kodes wat later gegeld het. Aan die einde van die Ou Testamentiese periode het Joodse Skrifgeleerdes die reinigingsreëls toegepas as reëls wat seksuele wangedrag bepaal het. Dit het tot gevolg gehad dat wat voorheen as onrein beskou was, nou gegeld het as sonde.

In this translation (Septuagint), although not in the original Hebrew nor indeed in one of the versions of the Septuagint, adultery is raised into the leading place in the list of sins above theft and murder. We see here, therefore, the clear wish of Jewish rabbis to raise the profile of sexual sin so that what was previously impure is now identified with what was morally bad.

(Vardy 1997:31-32)

Jesus se lewe was gekenmerk deur sy bemoeienis met die gemarginaliseerdes van die samelewing. In sy tyd was die samelewing en die familielewe oorheers deur 'n patriargale sosiale struktuur, waarbinne mense, maar veral vroue uitgebuit is (Malina & Rohrbauch 1992: 241-242). Teen die agtergrond moet sy negatiewe uitsprake oor die familie verstaan word. 'n Mens se identiteit word nie primêr bepaal deur jou deel wees van 'n familie nie, maar deur jou deel word van 'n "nuwe" familie (Vardy 1997:36). Hierdie insig het in die latere tradisies ook aanleiding gegee tot die klem op selibaat as 'n meer verhewe vorm van lewe in God se teenwoordigheid.

Oor seksualiteit en die huwelik het Jesus eintlik min gesê. Sy uitsprake oor egskeiding, na aanleiding van die vraag van die skrifgeleerdes, moet in die eerste plek gesien word, nie as 'n uitspraak oor egskeiding nie, maar as 'n uitspraak teen die uitbuiting van vroue deur mans wat om enige rede van hulle skei en hulle weerloos laat (Van Eck 2007b:103-128). Egbreuk het neergekom op die bring van skaamte oor 'n getroude man deur met sy vrou seksuele kontak te hê, of anders gesê die steel van 'n ander man se besitting (Van Eck 2007b:118; Donahue & Harrington 2002:295). Wat wel van belang is, is dat Jesus Hom beroep op die skeppingsverhaal wat van die begin af dit nie toegelaat het nie (Mark 10:1-12; Matt 19:1-12). Volgens Hom was die ideaal van die begin af dat daar 'n permanente en onbreekbare band tussen man en vrou sal wees. 'n Mens sou dus die afleiding kon maak dat Hy die onverbreekbare band van die verhouding tussen man en vrou as ideaal stel. Verbreking van hierdie band skaad hierdie ideaal, maar tegelyk geld sy beginsel van vergewing by God.

Uit hierdie enkele verwysings na Bybelse uitsprake word dit duidelik dat dit moeilik is om ons hedendaagse verstaan van die huwelik reglynig te verbind met Bybelse gegewens. Alhoewel die kerk dit vir baie eeue gedoen het, word dit vanuit ons huidige konteks problematies om hierdie Bybelse gegewens net so te gebruik om 'n morele basis aan die huwelik en seksuele aktiwiteite te verleen. Die probleem word skerp afgeëts met die volgende opmerkings van Van Eck (2007b:125-126):

Die argument dat die postmoderne huwelik "Bybels" moet wees (of dan die huwelike van gelowiges), kan nie aanvaar word nie. Die implikasie van so 'n standpunt is dat die postmoderne huwelik onder andere gereël moet word, dat individue geen keuse mag hê ten opsigte van huweliksmaats nie, en dat magsbelange as basis van die huwelik erken word. Verder sal die wese van die huwelik patriargaal, hiërargies en patrilokaal ingeklee moet word. Seksuele kontak sal alleen mag plaasvind met die oog op prokreasie … emosionele of psigologiese fasette van verhoudings sal nie as belangrik geag word nie. Die vrou sal as besitting gereken word. Die man sal nie aan egbreuk teenoor sy vrou skuldig kan wees nie en alleen die man sal egskeiding kan inisieer.

2.2 Die kerkvaders en die Middeleeue

Die vroeë kerk was tot 'n groot mate beïnvloed deur die denke van die Platoniese dualistiese siening van menswees, met die teenstelling tussen die spirituele en stoflike. Dit het gelei tot 'n skeptisisme oor liggaamlike aspekte soos seksuele aktiwiteite, omdat die liggaam ondergeskik moet wees aan die hoër spirituele waardes. 'n Negatiewe persepsie oor die huwelik en seksualiteit is hierdeur versterk. Onthouding en selibaat is gevolglik hoër geag en seksuele aktiwiteit is met agterdog bejeën (Vardy 1997:47-51).

Philo van Alexandrieë (25-40 nC) het die Joodse denke en Platonisme gekombineer. Hy kom tot die gevolgtrekking dat prokreasie die enigste doel van seks was. Hy veroordeel daarom alle seksuele omgang met vroue in hulle onvrugbare periode en selfs omgang met vroue wat steriel is. Vroue is die voorwerpe van seksuele plesier en daarom die instrumente van die kwaad (gebaseer op die sondeval). Maagdelikheid word verhef tot 'n groot deug in 'n mens se reis na God. Sy denke het 'n besliste invloed op die vroeë kerk en die kerkvaders uitgeoefen (Vardy 1997:49-51). "It would be fair to say that some quarters of the early Christian Church developed an obsession about sex … Violation of oaths is treated in two canons, thrift in two, participation in pagan or magical rites in five, murder or manslaughter in twelve and sexual offences in no less than forty-one" (Price 1990:261). Streng morele kodes rakende seksualiteit en die huwelik was die uitstaande kenmerk van die vroeë kerk.

Augustinus het die algemene negatiewe siening van seks, wat as identiteit van die kerk gedien het, verander na 'n negatiewe siening wat gebaseer was op teologiese prinsipes (Price 1990:262). Hy was van mening dat seksuele begeertes getolereer moes word as "evil", slegs omdat dit noodsaaklik was vir die prokreasie van kinders. "The married couple could descend with a certain sadness to their regrettable task" (Vardy1997:53). 'n Man wat uit blote begeerte met sy vrou gemeenskap het, sonder die verwekking van kinders as doel, pleeg owerspel met sy eie vrou. Die basis van sy teologiese argument was dat seksuele begeertes nie deur 'n mens se denke en wil gekontroleer kan word nie. 'n Man kan nie besluit om 'n ereksie te hê nie en dikwels gebeur dit juis as jy nie wil nie. Menslike geslagsorgane was onder beheer van wellus en dit was die oorsaak van die sondeval. Hierdie sondige begeerte word van ouers na kinders oorgedra deur die seksdaad tydens die verwekking van kinders. Volgens Augustinus is nie alleen seks buite die huwelik verwerplik nie, maar ook seks binne die huwelik is sonde as dit nie die bedoeling van die verwekking van kinders het nie. Sy denke het nie slegs die vroeë kerklike vergaderings en besluite beïnvloed nie, maar ook die Kerkhervormers ten tyde van die Reformasie (Price 1990:262).

Hierdie teologiese denke is tydens die Middeleeue verder versterk nadat in 1215 besluit is dat elke gelowige minstens een maal per jaar by 'n priester moes bieg. Hierdie biegpraktyk het veral gefokus op seksuele oortredings en reëls is verfyn om seksuele omgang in die huwelik, as noodsaaklike euwel ter wille van prokreasie, te orden. Seks was byvoorbeeld nie aanvaarbaar naby gebedsgeleenthede nie, ook nie vir veertig dae in die Lydenstyd, agt dae na Pase, veertig dae in Advent en agt dae na Kersfees nie (vgl Payer 1993:98-102).

Thomas Aquinas (1226-1274), was in sy denke beïnvloed deur Aristoteles wat 'n empiriese vertrekpunt gehad het. Op sedelike gebied het hy die klem laat val op die doel (telos) van menslike gedrag. Die doel van genitalië is prokreasie en daarom kom hy tot die gevolgtrekking dat:

• geen kunsmatige manier van geboortebeperking gebruik mag word nie, omdat dit die doel van die seksuele daad naamlik voortplanting skaad;

• masturbasie sonde is omdat genitalië vir 'n ander doel gebruik word as waarvoor dit bestem is naamlik voortplanting;

• homoseksuele dade as gevolg van dieselfde rede ook sonde is, omdat genitalië nie vir voortplanting gebruik word nie. Verkragting is daarom 'n geringer sonde as homoseksuele dade omdat genitalië minstens volgens die oorspronklike doel aangewend is;

• seksuele gemeenskap nie rekreasie of die uiting van liefde kan wees nie, omdat dit strydig is met die oorspronklike doel.

Hierdie siening van Thomas Aquinas is deur die Middeleeuse Rooms-Katolieke Kerk aanvaar (Konsilie van Trente 1545) en toegepas. Die huwelik word verhef tot 'n sakrament (Vardy 1997:60-65).

Na die skeiding van die Oos en Weskerk (1054) het daar twee verskillende tradisies ontstaan. In die Weste (Rooms-Katolieke tradisie) het die beskouings van Aquinas die geldende gebly. In die Oos-Ortodokse kerk het daar 'n meer genuanseerde standpunt na vore gekom. In die Weste is die huweliksvorm beïnvloed deur die Romeinse Ryk. 'n Huwelik was beide 'n wetlike ooreenkoms tussen 'n man en vrou, asook 'n teologies-sakramentele aangeleentheid, 'n weg tot verlossing waar man en vrou hulle verbind het tot 'n onverbreekbare verbintenis. Die teenwoordigheid van die priester was bloot die bevestiging dat dit 'n "wettige" ooreenkoms tussen 'n man en vrou was. 'n Huwelik bly 'n sakrament al is dit nie in teenwoordigheid van 'n priester voltrek nie. Huweliksliefde was irrelevant en nie as noodsaaklik vir 'n huwelik beskou nie. 'n Huwelik kan nie ontbind word nie - dit kan slegs tot niet verklaar word omdat dit nie om bepaalde redes (soos wanneer een van die partye van die begin af die intensie gehad het om nie kinders voort te bring nie), 'n wettige huwelik was nie.

Die Oos-Ortodokse Kerk het erken dat daar 'n verskil is tussen die ideaal van 'n onverbreekbare verhouding en die realiteit van menslike feilbaarheid en sonde, of anders gestel, die verskil tussen 'n teologiese ideaal en die realiteit van egskeiding in die wêreld. Die huwelik as sakrament is meer gesien as 'n teologiese misterie en nie soseer as 'n wetlike ooreenkoms nie. Die priester het sy seën oor die huwelik uitgespreek, maar die huwelik is eers voltrek deur deelname aan die Nagmaal. Die huwelik was 'n doel op sigself en daarom is seksuele omgang tussen 'n man en vrou gesien as deel van die huwelik en nie slegs as prokreasie nie. Hulle onderskei tussen saamwoon en die huwelik. Saamwoon is nie sonde nie, maar word nie op dieselfde vlak geplaas as die huwelik nie (Vardy 1997:67-77).

2.3 Luther

Luther word allerweë beskou as die groot hervormer van die huwelik en sy teologie het 'n stempel afgedruk op die verdere verloop van denke oor die huwelik binne die Reformatoriese tradisie (Wengert 2004:171-178; Buitendag 2007:445-461), juis daarom word enkele gedagtes van Luther aangedui as die laaste eksponent van hierdie kursoriese oorsig. Buitendag (2007:445-461) stel dat Luther die huwelik gedesakramentaliseer het en daarmee dit vierkantig in die sfeer van die wêreld geplaas het, maar dit tegelyk ook in 'n netwerk van verhoudings - coram Deo et coram hominibus - tuisgebring het. Teen hierdie agtergrond is dit te verstane dat hy die huwelik teen die selibaat afspeel en dit selfs belangriker as die selibaat ag (Hendrix, in Wengert 2004:170).

Although Luther endorses marriage between Christians and non-Christians and even calls marriage a worldly thing, he is not trying to secularize marriage in the sense of separating it from God or religion. It is no longer a sacrament, to be sure, but marriage is intended by God for most people and, as we have seen, it is the genuinely religious form of life.

(Hendrix, in Wengert 2004:170)

Luther is versigtig om egskeiding ongekwalifiseerd te aanvaar en sien dit as toelaatbaar in sekere gevalle, maar gelowiges moet altyd poog om te vergewe en met mekaar se swakhede saam te leef. Vreemd genoeg hou Luther self nog vas aan die tradisionele siening dat seksuele verkeer nooit sonder sonde is nie, selfs binne die huwelik (Hendrix, in Wengert 2004:178).

Ons kan met reg beweer dat Luther die huwelik desakramentaliseer maar dit nie geheel en al desakraliseer nie. Die huwelik hou ten nouste verband met gelowiges se verhouding met God en met mekaar.

 

3. GEVOLGTREKKINGS

Hierdie kursoriese oorsig oor die ontwikkeling van sekere beskouings oor seks en die huwelik het bloot ten doel gehad om die kontoere te trek van die tradisies wat ons eie siening voorafgegaan en beïnvloed het. 'n Mens besef dadelik watter geweldige invloed die verskillende kontekste op die kerk se sienings uitgeoefen het. Die problematiek wat dit op die agenda van die kerk plaas, is die vraag of ons bereid is om te erken dat die tradisionele standpunte van die kerk die resultaat was van die invloede wat bepaalde kontekste op mense se verstaan van die Bybel gehad het? Indien ons antwoord daarop 'n ja is, plaas dit ons voor die uitdaging om opnuut in ons konteks te luister na die Woord en te soek na riglyne wat in ons tyd mense kan help om ook in seksuele verhoudings outentiek in die teenwoordigheid van God te lewe.

Dit kan die indruk wek dat alles oorboord gegooi word en dat seksuele losbandigheid gepropageer word. Inteendeel, die bedoeling is juis dat ons, te midde van die moraliteitskrisis van ons dag, poog om deur middel van kritiese teologiese refleksie mense te begelei om sinvolle keuses te maak. Vir die kerk is dit van die allergrootste belang dat seksuele verhoudings plaasvind binne die raamwerk van 'n gehoorsame luister na God se Woord. Teologies gesien is die huwelik wel 'n sakrale aangeleentheid wat eers tot volle ontplooiing kom coram Deo et coram hominibus.

Enkele sake kan aangestip word as raamwerk vir hierdie besinning.

• Ons moet erken dat die huwelik as instelling, soos ons dit ken, nie in die eerste plek 'n instelling van God is nie, maar die neerslag is van die kerk se teologiese refleksie oor eeue heen. Huweliksvorme het onder die invloed van kontekste en tradisies in verskillende tye gewissel. Alhoewel die huweliksvorm nie 'n vaste Bybelse imperatief is nie, is die saak van die verhouding tussen man en vrou en die seksuele intimiteit wat daarmee gepaard gaan, nie slegs 'n kultureel-sosiale aangeleentheid nie. Die Bybel en ons teologiese tradisie bied aan ons grondliggende perspektiewe om aan hierdie verhoudings 'n sinvolle inhoud te gee en dit te orden.

• Ons sal opnuut in die Bybel moet ontdek wat die evangeliese waardes is waardeur hierdie verhoudings gedra moet word.

• Die aksent moet verskuif vanaf die vorm wat die inhoud bepaal na die evangeliese inhoud wat aan die uiterlike vorm sin gee.

• Miskien is dit dalk meer Bybels om die verhouding tussen man en vrou te sien as 'n proses met verskillende fases.

• Binne 'n seksueel permissiewe gemeenskap, moet mense weer opgewonde gemaak word om seksuele intimiteit nie bloot as 'n verbruikersartikel te sien nie, maar as 'n gawe van God wat slegs met groot verantwoordelikheid teenoor God en mekaar geniet kan word.

• Teenoor die sekularisering van die huwelik moet die sakralisering van die huwelik bevorder en uitgebou word.

Indien die kerk, in die lig van bogenoemde sake, daarin kan slaag om weer 'n eietydse morele basis vir seksuele verhoudinge daar te stel, kan dit seksuele losbandigheid, met die gepaardgaande seksuele uitbuiting en misbruik van mense teenwerk, en 'n stabiele gemeenskap skep waarbinne 'n volgende geslag kan opgroei.

 

Literatuurverwysings

Browning, D 2001. The world situation of families: Marriage reformation as a cultural work. Edinburgh: T&T Clark.         [ Links ]

Buitendag, J 2007. Marriage in the theology of Martin Luther - worldly yet sacred: An option between secularism and clericalism. HTS 63(2), 445-461.         [ Links ]

Cahill, L 1985. Between the sexes: Foundations for a Christian ethic of sexuality. Philadelphia, PA: Fortress.         [ Links ]

Countryman, L W 1988. Dirt, greed and sex: Sexual ethics in the New Testament and their implications for today. Philadelphia, PA: Fortress.         [ Links ]

Donnahue, J R & Harrington, D J 2002. The Gospel of Mark. Collegeville, MN: The Liturgical Press. (Sacra Pagina, Vol 2.         [ Links ])

Dreyer, Y 2006. Heteronormatiwiteit, homofobie en homoseksualiteit. HTS 62, 445-471.         [ Links ]

Gill, R 2001. The Cambridge Companion to Christian ethics. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Haugton, R 1987. The meaning of marriage in women's new consciousness, in Roberts W P (ed), Commitment to partnership: Explorations of the theology of marriage, 149. New York: Paulist.         [ Links ]

Malina, B 1981. The New Testament world: Insights from cultural anthropology. Louisville, KY: John Knox.         [ Links ]

Malina, B J & Rohrbauch, R L 1992. Social science commentary on the Gospel of John. Minneapolis, MN: Fortress.         [ Links ]

Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, 2001. Agenda vir die 66e Algemene Kerkvergadering. Pretoria: Kerkargief.         [ Links ]

Payer, P 1993. The bridling of desire. Toronto: University of Toronto Press.         [ Links ]

Price, R 1990. The distinciveness of early Christian sexual ethics, Heythrop Journal, 253-278.         [ Links ]

Thatcher, A 1999. Marriage after modernity: Christian marriage in postmodern times. England: Sheffield Academic Press. (Studies in Theology and Sexuality 3).         [ Links ]

Vardy, P 1997. The puzzle of sex. London: Harper Collins.         [ Links ]

Van Aarde, A G 2005. Interdissiplinêre module: Teologiese hermeneutiek. Studiemateriaal OTW 451, 35. Departement Nuwe-Testamentiese Wetenskap, Universiteit van Pretoria.         [ Links ]

Van Biljon, K 1997. Krisis in pastorieë. HTS 53(4), 1052-1074.         [ Links ]

Van Eck, E 2007a. Die huwelik in die eerste-eeuse Mediterreense wêreld (1): Vroue in 'n man se wêreld. HTS 63(1), 81-101.         [ Links ]

Van Eck, E 2007b. Die huwelik in die eerste-eeuse Mediterreense wêreld (II): Huwelik, egbreuk, egskeiding en hertrou. HTS 63(2), 103-128.         [ Links ]

Van Selms, A 1967. Genesis, deel I. Nijkerk: Callenbach.         [ Links ]

Venter, P 2007. Die huwelik as identiteitsmerker in die Ou Testament. HTS 63(3), 1213-1237.         [ Links ]

Wengert, J (ed) 2004. Harvesting Martin Luther's reflections on theology, ethics and the church. Grand Rapids, MI: William Eerdmans.         [ Links ]

 

 

1 Die klassieke huweliksformulier se vertrekpunt is dat die huwelik 'n instelling van God is. Dit word begrond met die teksgedeelte uit Genesis 1:27-28 en Genesis 2:18, 21-24. Johannes 2:1-11 word gebruik as begronding vir die opdrag dat die huwelik deur almal in ere gehou moet word.
2 Venter (2007:1213-1237) toon in sy navorsing aan dat die huwelik altyd binne 'n teologiese raamwerk gebruik word saam met ander begrippe soos afkoms, land en volk. Hierdie konstellasie van begrippe word gebruik om die identiteit van die geloofsgemeenskap van Israel uit te spel.