SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.64 issue1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

HTS Theological Studies

Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.64 n.1 Pretoria Mar. 2008

 

Ecclesia reformata semper reformanda - die ongemaklike eis

 

 

Johan Buitendag*

Departement Dogmatiek en Christelike Etiek, Universiteit van Pretoria

 

 


ABSTRACT

Ecclesia reformata semper reformanda - a hard to do command
This article is a reworked version of the Moderator's opening address at the 68th General Assembly of the Netherdutch Reformed Church of Africa in October 2007. Against the fourth-century background of Emperor Constantine's "church politics", the paper reflects on the first-century rhetoric of the Apostle Paul in 2 Corinthians 10:3ff and 17ff about non-worldly, divine weapons of warfare, and about boasting and self-commendation. It shows how Paul understood oral rhetorical words as theatrically performed by employing the genre of the so-called "Fool's speech" by means of which Paul argues that masks disguise the authentic identity of Christ-followers. Paul's rhetoric is applied in the article as an appeal to the modern-day church to be ecumenically open and anthropologically inclusive. The article demonstrates the uneasiness of some members in the institutional church to proceed along a path of ongoing reformation (ecclesia reformata semper reformanda).


 

 

1. INLEIDING

Al is dit nie so voor die hand liggend om die werklike outeur en bron van die baie bekende uitdrukking, ecclesia reformata semper reformanda, aan te dui nie, is Reformatoriese teoloë daaroor eens dat hierdie uitspraak die ekklesiologie van die groot hervormers soos Luther, Calvyn, Zwingli, Knox en ander besonder treffend weergee. 'n Kerk kan nie stagneer nie, het nie gearriveer nie en spreek nooit die laaste woord nie. Voortdurend moet daar na die bronne, eintlik die Bron in die enkelvoud en geskrywe met 'n hoofletter, teruggekeer word en moet daar weer opnuut in gehoorsaamheid aan wat verneem is, uitdrukking gegee word. Nooit is hierdie taak afgehandel nie, nooit kan volstaan word met wat reeds gehoor is of wat bereik is nie, soos veral ook die twee boesemvriende1 en eietydse "teologiese reuse", Hans Küng en Jürgen Moltmann, duidelik aangetoon het; eersgenoemde vanuit sy solidêr-kritiese posisie binne die Rooms-Katolieke Kerk en laasgenoemde weer as kritiese Reformatoriese teoloog.

Dit is opvallend dat Moltmann in sy 2006-outobiografie, Weiter Raum: Eine Lebensgeschichte (in Engels vertaal as A broad place: An autobiography, in 2008 uitgegee) nie net vertel hoe onder andere hy en Hans Küng in teologiese denke gegroei het nie (Moltmann 2008:358-361), maar ook hoe en onder watter omstandighede hy weer eens tot die besef gekom het dat hy juis 'n Hervormde teoloog - en nie 'n Lutherse nie - van oortuiging is, alhoewel hy nooit gehuiwer het om sy "waardering vir onafhanklike katolisisme" te betuig nie (Moltmann 2008:251). Ook vir Küng2 ([1968]1978:33-35) bestaan die kerk nie anders as in hierdie konkrete historiese gestalte nie en dit wat kerke van alle tye en plekke in gemeen het, is juis die gebrokenheid van die hier en die nou. En juis dít roep voortdurende hervorming op.

Die NHKA verkeer wat sy ekklesiologie betref, tans in 'n sekere sin in 'n impasse. Enersyds is daar duidelik van sowel binne as buite die Kerk 'n bepaalde appèl op die NHKA gemaak om aan die Reformatoriese eis om te bly hervorm gehoor te gee en andersyds is daar die stemme wat steeds "tevrede [is] om te bly wat ons nog altyd was" (NHKA 2007:12). In hierdie homiletiese rede word die evangeliese eis beklemtoon dat 'n kerk voortdurend erns daarmee moet maak om alleen die gesig van Christus, dit is die "hart van God",3 aan die wêreld te moet wys - met alles wat dit ook al mag inhou. Dit kan inderdaad gebeur dat hierdie gesig versluierd raak, selfs gemaskeer word. 'n Klassieke voorbeeld hiervan was die kerk gedurende en na die tyd van Konstantyn die Grote. Op die oog af was alles wel, sommer baie wel, maar agter die skyn was dit kwalik iets anders as die gesig van menslike hubris.

Die subteks van hierdie openingsrede4 is tegelyk ook die tese wat hier beredeneer word. Die agenda van die ag en sestigste Algemene Kerkvergadering (NHKA 2007) het die agtergrond van hierdie homilie gevorm. Daarin is onder andere 'n handvol beskrywingspunte aangebied wat die NHKA se verstaan van kerkwees nie net raak nie, maar inderdaad ook bepaal:

• Die aansoek vir die moontlike heropname by die Wêreldbond van Hervormde Kerke (WARC);
• Die bereidheid al dan nie om Apartheid teologies af te wys;
• Die gesindheid teenoor gay-persone;
• Die strukturele vormgewing aan die verhouding met sy dogterkerk, die Maranatha Reformed Church of Christ (MRCC);
• Die plek wat die volkskerkbegrip in die Kerkorde behoort in te neem.

Die bogemelde "tevrede om te bly wat ons nog altyd was", tesame met 'n destydse selferkenning (NHKA 1985:85) dat die NHKA 'n merendeels "na binne gekeerde kerk" is, plaas die NHKA se kerkwees in die lig van hierdie vyf beskrywingspunte, gevolglik voor 'n dwingende uitdaging. Hierdie na-binne-gerigtheid word veral ook gevoed deur die NHKA se karakterisering van sigself as volkskerk5 en die gevolglike terugtrekking van sy aansoek om lidmaatskap by die WARC. Alhoewel die NHKA tog ook daarop gewys het dat die kwessie van volkskerk vir die Kerk bloot 'n praktiese aangeleentheid is, word die beginsel daarvan egter in die huidige Kerkorde verskans deurdat dit nie by die praktiese maatreëls (ordinansies) aan die bod kom nie, maar wel by die prinsipiële gedeeltes (ordereëls). En om sodanige ordereëls te wysig, vereis Ordereël 10.1 (iii) nou, moet 'n twee derde stem dit aanvaar (NHKA 2004:112).6 Die WARC het in sy gesprekke en korrespondensie met die NHKA dit ook onomwonde gestel dat hierdie wesenswaarde wat die Kerk aan die volkskerkgedagte toeken, die ekumeniese verhouding van die NHKA internasionaal nie net kán nie, maar ook definitief negatief sál beïnvloed (kyk Buitendag 2006:22). Etlike teoloë7 is dit ook eens dat die sogenaamde vier notae8 van kerkwees in die Nicaeno-Constantinopolitanum ónskeibaar is en dat ál vier hierdie dimensies kerkwees gesamentlik konstitueer. Daarom kan geen kerk een of meer van hierdie dimensies op die spel plaas sonder dat dit ernstige implikasies vir sy ekklesiologie inhou nie. Vandaar die appèl van die openingsrede en dié se fokus op 2 Korintiërs 9.

 

2. MASKERS EN IDENTITEIT

2 Korintiërs 10-13 word deur G M M Pelser (1991:230) getitel as 'n "Polemiek teen die 'superapostels'" en die grondliggende retoriek daarvan - veral die gedeelte wat volg op hoofstuk 11:16 - beskryf hy as 'n "Narrede" (Pelser 1991:232, 238-239; vgl Zmijewski 1978). Retoriek in die Grieks-Romeinse kultuur het egter nie net gegaan om in gesprek of in geskrif met die beste argumentvoering met jou hoorder of leser te kommunikeer nie. Retoriek het ook 'n belangrike rol in die teater gespeel.10 Efese, die plek vanwaar die Korintiërkorrespondensie van Paulus waarskynlik afkomstig is (kyk 1 Kor 15:32; vgl o a Lambrecht 1999:5), se teater kon 24,500 toeskouers huisves (Tarn & Griffith 1966:309)!

Die uitvoering van die retoriek van die "Narrede" in die teater gaan met die dra van maskers gepaard. Hans Windisch ([1924] 1970:316) beskryf dit as Mimus, dit wil sê die "kuns van mimiek".10 Maskers, toneelspeel en identiteit gaan altyd hand aan hand.11 Die Franse dramaturg, Victor Hugo,12 skryf byvoorbeeld oor die identiteit van "die man in die yster masker" wat gedurende die regeringstyd van Lodewyk XIV amper sewe en dertig jaar lank in die Bastille aangehou was, dat "niemand sy naam geken het nie; sy gesig het niemand gesien nie; [hy was] 'n wandelende geheim, 'n skaduwee, 'n enigma, 'n probleem." Toe Voltaire13 in die agtiende eeu gespekuleer het dat hierdie gevangene in die yster masker dalk die halfbroer van die koning self kon wees, het 'n stroom teorieë - nie minder nie as sestig - oor die identiteit van hierdie gemaskerde man die rondte gedoen! Dit is bekend dat maskers so ver terugdateer as vroeg in die vyfde eeu v C toe die Griekse teater ter ere van Dionysios in antieke Athene sy beslag gekry het. Aangesien een akteur dikwels ook verskillende rolle in 'n opvoering gespeel het, is van maskers en kostuums gebruik gemaak om die verskillende karakters uit te beeld. Een gesig word waargeneem, maar 'n ander skuil daaragter. Vir die destydse teatergangers was dit ook altyd 'n groot uitdaging en ook heerlike genoegdoening om die werklike akteur te identifiseer en verby al die gebare, maskers en kostuums, te kyk en die eintlike persoon daaragter te probeer eien. Natuurlik het nie almal dit reggekry nie. In 'n afgeleide sin van die woord, kan ons sê, het dit die gawe van onderskeiding geverg.

As daar nou een geval is waar ons verby die uiterlike masker moet kyk en moet sien wat daaragter sit, is dit dié van Konstantyn die Grote.14 Tydens 'n visioen wat hy volgens oorlewering in die jaar 312 gehad het, het hy duidelik die Christus-monogram met die woorde, "In hierdie teken sal jy oorwin", gesien. Onmiddellik het hy dit toe op die skilde van sy soldate laat aanbring en 'n oorlogsmasjien op die been gebring wat die magtigste Romeinse Ryk van alle tye tot stand gebring het. Die destydse stad Bisantium is in prag en praal ontwikkel en tot Konstantinopel hernoem en sou vir die volgende millennium glorieryk voortbestaan. Vir sommige was dit selfs die Duisendjarige Vrederyk wat op aarde aangebreek het! Christene het in buitengewone mate by Konstantyn se heerskappy gebaat. Opdrag is gegee dat daar godsdiensvryheid in die hele Ryk sou wees en die Edik van Milaan is gevolglik uitgeroep. Dit sou formeel 'n einde maak aan die vervolging van Christene wat sedert die jaar 303 deur die destydse Keiser Diocletianus hoogty gevier het (kyk o a MacMullen & Lane 1992:233-234). Pragtige basilicas is op staatskoste vir die kerk gebou, geestelikes het belastingvoordele ontvang en Christene is in hoë regeringsposte aangestel (vgl Macmullen & Lane 1992:265). Konstantyn het selfs die eerste ekumeniese konsilie in 325 te Nicea byeen laat roep en die beskermer van die kerk se leer geword (vgl Rieger 2007:9-10). Uit die kerkvader Eusebius se werk, Vita Constantini,15 verneem ons byvoorbeeld van die groot rol wat Konstantyn in hierdie vergadering gespeel het, byvoorbeeld sy betrokkenheid by die vasstelling van die kanon van die Nuwe Testament en die uiteindelike formulering van die Belydenis van Nicea (kyk McDonald 1995:182-189).

Tog is historici uiters gereserveerd om erkenning aan Konstantyn in terme van sy optrede as Christengelowige te gee (kyk o a Carter 2006; Dungan 2006). Hy het hom volgens een weergawe eers kort voor sy dood in 337 laat doop; hy was maar net so brutaal soos die ander keisers voor hom, byvoorbeeld deur die leër van Licinius met 'n heilige oorlog te verslaan en sy eertydse kameraad sommer ook te laat teregstel. Hy het selfs sy eie seun en later ook sy vrou laat vermoor en ten spyte van sy bekering tot aan die einde van sy lewe aan die kultus van die Onoorwinlike Son getrou gebly. In kort, dit word vandag deur die navorsing aanvaar dat Konstantyn se edik van godsdiensvryheid niks anders nie as 'n strategiese en politieke besluit was. Sy omhelsing van die Christelike godsdiens was op geen ander motief gebaseer as dié van Diocletianus wat die Christene weer hewig vervolg het nie! Albei was vas van oortuiging dat die Christelike godsdiens 'n beslissende faktor vir die stabiliteit van die staat was: die een net negatief, die ander positief! Konstantyn was met ander woorde van oordeel dat sy persoonlike posisie soveel sterker sou wees as die oortuiging by die mense tuisgebring kon word dat die keiser deur God self aangewys is en dat al sy oorloë dus heilige oorloë was. Boonop was die kerk vir hom belangrik omdat dit oor 'n ongeëwenaarde infrastruktuur beskik het en hy dus nie so swaar op die weermag hoef te gesteun het vir byvoorbeeld die insameling van belastings en allerlei maatskaplike dienste nie. Die kerk se netwerk van ampsdraers was ideaal hiervoor geskik.

Maar mens sien die skynheiligheid hierin maklik raak: die kruis was wel op die soldate se skilde aangebring, maar die onoorwinlike son weer op hulle harnasse! Hoe is dit nie vir masker-dra nie! Heilige oorloë is uitgeroep alleen om die belang van die keiser te bevorder! Hierdie ónheilige alliansie tussen staat en kerk het, helaas, in 'n onderdrukkende en totalitêre sisteem ontaard.

Godsdiensvryheid het daarna ook weldra tot 'n einde gekom - reeds in 528 word die Christendom as enigste wettige godsdiens verklaar en net die volgende jaar word boonop al die filosofiese skole in Athene gedwing om te sluit. Dit het tot uitbuiting en ontmensliking gelei. Hiermee het die negatiewe betekenis wat buitestanders vandag nog aan die woord Christendom heg, sy beslag gekry. Hierdie einste Christendom het byvoorbeeld tussen die elfde en dertiende eeu bloeddorstige kruistogte onderneem (wat selfs 'n kinderkruistog ingesluit het!) om na bewering Israel te gaan bevry, maar in werklikheid om die eertydse sogenaamde heilige ryk van Konstantyn te probeer herstel!

Die saak waarom dit in hierdie geskiedenis gaan, is die gevaar dat die kerk toenemend soos die wêreld begin lyk. Die stem van God begin algaande soos die stem van die wêreld klink. Die kerk verloor sy andersheid en gaan op in 'n eendersheid met die wêreld. Die maatstawwe van die wêreld word gevolglik ook die kerk se maatstawwe. Geen wonder dat die teoloog, Karl Barth, gesê het dat sekularisasie reeds met Konstantyn begin het nie!16 Die gevolg is dat God gemaskeer word, die evangelie verwronge raak en die kerk die verlossingswoord in Christus nie meer onbevange kan hoor nie. Uiteindelik word 'n ánder Jesus en 'n ánder gees verkondig (vgl 2 Korintiërs 11:4). En dít natuurlik, bring die identiteit van die kerk ernstig in gedrang.17

 

3. PAULUS SE APPÈL OP DIE KORINTIËRS

Paulus het in die gemeente van Korinte ook iets van hierdie wêreldse gesig van die kerk en die verwringing van die evangelie ervaar. Dit is duidelik dat die verhouding tussen hom en die gemeente in hierdie stadium glad nie goed was nie. Die gemeente is op loop geneem deur 'n groepie mense wat van buite Korinte af gekom het en die gelowiges op 'n heel wêreldse wyse beïnvloed het (kyk veral Barnett 1998; Carson et al 1994). En dit stem Paulus nou tot droefheid.

Enkele navorsers is van mening dat ons dalk hier met die sogenaamde "tranebrief" (vgl 2 Kor 1:23-2:4) van Paulus te doen het (Watson 1984:324-346; Welborn 1995:138-153; contra Pelser 1991:230). Die hele toon van die brief verander vanaf hoofstuk 10 radikaal.18 Waar hoofstukke 1-9 nog 'n gees van hartlikheid adem, slaan dit in hoofstukke 10-13 oor in 'n byna polemiese toon en hoor ons harde woorde van vermaning en teregwysing.19 Dit is duidelik dat Paulus die ware identiteit van sy teëstanders met hierdie brief wil ontbloot en die gemeente in Korinte waarop hy eens so trots was, vir Christus wil terugwen. Daarom moet die selfbeheptheid van hierdie nuwe groepie leiers ontmasker word. Ons het natuurlik nie die betoë van Paulus se opponente voor ons nie, maar uit sy reaksie kan ons hulle argumente wel aflei.20

Die onderhawige Skrifgedeelte het twee duidelike fokuspunte: enersyds gaan dit om Paulus se legitimiteit as apostel (v v 1-11) en andersyds om die maatstaf wat hiervoor aangewend word (v 12-18). Die valse profete het Paulus se legitimiteit en integriteit probeer aantas deur op sy inkonsekwente optrede te wys: in sy briewe is hy "manhaftig", maar in lewende lywe weer, ewe "gedwee" (kyk Käsemann 1942:33-71). Hy sou dus by die gemeente 'n ander gesig of masker opsit. Omdat 'n brief sy outeur by die geadresseerdes as 't ware verteenwoordig, is Paulus volgens hulle oordeel dus ínkonsekwent en gevolglik váls. Met ander woorde, volgens hulle is Paulus geen faktor om mee rekening te hou nie. Die vraag is natuurlik watter maatstaf en oordeel hulle aangewend het om by hierdie gevolgtrekking te kon uitkom (kyk Watson 2003:81-95). Hulle was van oordeel dat alleen uitwendige prestasies belangrik was. 'n Apostel moes volgens hulle byvoorbeeld 'n dinamiese persoonlikheid hê, 'n goeie spreker wees, nie geld vir sy werk vra nie en met gesag kon handel. En die eintlike kriterium vir 'n ware apostel was vir sulke mense of hy van Abraham afgestam het en veral ook of hy 'n aanbevelingsbrief van die Joodse leierskap uit Jerusalem met hom saamgedra het (kyk Duling 2006:66-89).

Paulus reageer met 'n militêre metafoor op die kritiek op sy legitimiteit en integriteit (kyk Malina & Pilch 2006:152). Hy sê: "Natuurlik leef ons in 'n menslike liggaam [en sarki], maar ons voer nie die stryd met menslike wapens [kata sarka] nie. Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig." Wêreldse optredes word hierdeur duidelik aangetoon vir wat dit eintlik is, en tegelyk ook ontkragtig. Die Christen gee nie toe aan die verleiding van die wêreld om met geweld op te tree nie. Hierdie metafoor wil vir ons sê dat, soos 'n vesting fisies tot oorgawe geforseer kan word, so sal die evangelie ook teëstanders se harte vermurwe en mense vir Christus verower. Die evangelie kom weliswaar in hierdie wêreld voor valse argumente en drogredenasies te staan, maar oorwin inderdaad. Paulus betoog dus dat die mense in Korinte oppervlakkig oordeel. As hulle dieper sou kyk, sal hulle besef dat die gesag waarmee hy optree, nie sy eie is nie, maar dié van die Here en dat dit nie om eie gewin gaan nie, maar alleen om die opbou van die gemeente.

Wanneer Paulus hom vervolgens wend tot die maatstaf wat die sogenaamde leiers in Korinte aanlê wanneer hulle Paulus verkleineer en so met hulleself spog, laat hy - ewe tong in die kies - hulle argument boemerang. In vers 12 sê hy dat hierdie sogenaamde leiers hulle in der waarheid met hulleself vergelyk. Hulle volg 'n soort sirkelredenasie (vgl Agosto 2003:127). Hulle wil hulleself aan hulle eie skoenveters optel! In hulle eie oë en met hulle eie maatstaf prys jakkals sy eie stert. En wanneer Paulus nou sê dat hy hom nie met hulle wil vergelyk nie, plaas hy homself duidelik in 'n ander kategorie. 'n Mens kan mos nie appels met pere vergelyk nie! Met hierdie subtiele spot, toon Paulus aan dat die leiers in Korinte hulle aan óngeoorloofde roem skuldig maak (kyk Ryken et al 2002). 'n Mens kan tog nie spog oor dinge wat hy nie besit of tot stand gebring het nie. Doen hy dit tog, eien hy hom iets toe wat nie aan hom behoort nie en regverdig hy homself op 'n oneerbare manier. Die eienaar het dan die volste reg om in so 'n situasie sy eer as 't ware terug te vat en dan is sý spog wel aanvaarbaar. Tog is daar ook duidelike grense aan spog (vgl 2 Kor 10:13-16). Hy mag net daardie roem inoes wat hy deur 'n ander se toedoen verbeur het. En dit, toon Paulus nou aan, is presies wat die valse profete in Korinte gedoen het. Hulle oes roem in wat nie aan hulle behoort nie: dit was immers Paulus wat geplant het, Apollos wat natgemaak het en die Heilige Gees wat laat groei het (1 Kor 3:6). Op 'n baie subtiele wyse stel Paulus sy opponente belaglik voor. Vir 'n oomblik speel hy húlle rol wanneer hy ewe kordaat, sélf begin grootpraat (vgl 11:16-31). Maar, sê hy, dit is die rol van 'n dwaas, 'n ware narrespel! Alhoewel hý die een is wat te na gekom is, gaan hy nie die wêreldse rol speel en oor homself spog nie. Wanneer hý spog, doen hy dit alleen in die Here (vgl Jer 9:24). Deur nou níe kata sarka, volgens die vlees te handel nie, plaas hy alle fokus op die Gewer ágter die gawe en gee hy aan God alleen die eer. Die eer wat Paulus dus hier terugvat, gee hy deur aan die Een aan Wie dit eintlik behoort - naamlik God self.

Die boodskap is nou duidelik. Die gemeente durf nie wêrelds daar uitsien en die ware gesig van Christus verberg nie. Die werkheiligheid waarmee die valse profete die gemeente verlei het, moet ontmasker word en die heiligheid van God moet voorop staan. Heil word nie gegrond op dit wat die mens self bereik nie, maar alleen op die liefde van Christus. Dit is immers wat genade beteken. Martin Luther het hierdie waarheid ook pragtig saamgevat met sy uitdrukking "vreemde geregtigheid".21 Ons geregtigheid voor God is nie iets waarop óns aanspraak kan maak nie, dit behoort nie aan ons nie, word nooit ons eiendom nie, maar is Christus se geregtigheid wat Hy vir ons aan die kruis volbring het. Ons geregtigheid is met ander woorde altyd dit wat God ons toereken deur ons regverdig te verklaar. En wanneer dit gebeur, leef ek nie meer nie, maar Christus leef in my. Iemand wat aan Christus behoort, is dan 'n nuwe mens. Dan oordeel en beoordeel ek nie meer volgens menslike maatstaf nie, maar volgens die genade alleen (vgl 2 Kor 5:16).

 

4. EKKLESIOLOGIE KONTOERE

Die Hervormde Kerk staan in hierdie tyd voor 'n uitdaging soos waarskynlik nog nooit tevore in ons geskiedenis nie. In haas al ons debatte die afgelope paar jaar en in soveel beskrywingspunte van die agenda van hierdie ag en sestigste Algemene Kerkvergadering, gaan dit ten diepste eintlik maar om die een saak, te wete ons verstaan van kerkwees. Die Hervormde Kerk se ekklesiologie is duidelik in die brandpunt.

• Ons kan die eenheid van die kerk nie verstaan asof dit net agter ons is, afgehandel en onsigbaar is nie. Eenheid is nie staties nie. Dit gebeur. En so word dit sigbaar. Meer as dit. Dit móét ook gebeur. Dit is 'n gegewe, maar tegelyk ook 'n eis.

• Ons kan die heiligheid van die kerk nie verstaan asof dit die kerk afsonder en isoleer nie. Die heiligheid van die kerk laat ons stry teen die sonde en verdeeldheid van hierdie wêreld, laat ons bekering verkondig en laat ons uitstrek na wat voor is. Ons aanvaar die roeping om alleen die heiligheid van Gód te laat blyk en bid dat die gemarginaliseerdes van die samelewing, in die kerk kan tuiskom.

• Ons kan die algemeenheid van die kerk nie verstaan asof dit niks met die eenheid van die kerk te doen het nie. Die algemeenheid van die kerk voorkom selfgenoegsaamheid, oorstyg wêreldse grense en bind die plaaslike kerk aan die kerk van alle eeue. Dit maak die plaaslike kerk sensitief teenoor ander kerke van ander plekke en ander tye.

• Ons kan die apostolisiteit van die kerk nie verstaan asof dit maar net 'n sydelingse taak is wat die kerk verrig nie. Die sending van die kerk setel in die wese van God self en soos die Vader die Seun gestuur het, so het die Seun sy dissipels gestuur en word ons ook vandag in die wêreld gestuur (vgl Joh 20:21). Omdat die kerk op die verkondiging van profete en apostels gebou is, moet ons hierdie taak voortsit deur die evangelie publiek te maak en kerke te laat ontluik.

Die afgelope dekades het daar in die teologie opnuut weer oortuigende stemme opgegaan dat kerkwees in besonder vanuit die Triniteit verstaan moet word (o a Volf 1998). Kerk kom immers van die Drie-enige God af. Dit is nie 'n menslike versinsel of bloot 'n sosiologiese verskynsel nie. 'n Trinitariese kerkbeskouing sê egter ook nie net dat dit van God af kom nie. Dit sê ook iets van die onderlinge verhouding, ons wedersydse reflektering van die liefde van Christus na mekaar toe (o a Zizioulas 1985; Jenson 1999; Dulles [1974] 2002) . Die Bybel gebruik die voornaamwoord "mekaar", nie minder nie as negentig keer om praktiese kerkwees te verduidelik. Kerkwees gaan dus om: vir mekaar bid; mekaar se laste dra; in vrede met mekaar leef; geduldig met mekaar wees. Alleen so bou die liggaam sigself op in liefde. Kerk is daarom ook die gemeenskap van gelowiges.

Christus is die gesig van God (vgl Joh 14:9). En die opdrag van die kerk is nou om híerdie gesig aan die wêreld te wys. So word die verborge God die geopenbaarde God. Die gesig van Christus wat die kerk die wêreld moet laat sien, mag nooit soos in die geval van Konstantyn die gesig, die onbybelse masker van 'n "messias" wees wat die kruis in 'n swaard verander en die wêreld stormenderhand wil verower nie. Ons moet die wêreld die wáre gesig van Christus laat sien, die gesig van die Bybelse Messias, wat ploegskare van swaarde maak en snoeiskêre van spiese (Joël 3:10). 'n Messias uit wie se mond daar nooit 'n leuen gekom het nie. Toe Hy beledig is, het Hy nie terug beledig nie, toe Hy gely het, Hy nie gedreig het nie, maar alles oorgelaat het aan Hom wat regverdig oordeel (1 Pet 2:23). Daarom mag die kerk nie vasval in institusionele en rituele vertoon nie, maar moet erns maak met dissipelskap wat na die kruis toe lei, wat die ander wang draai, wat ook die boklere gee, wat 'n tweede kilometer saamgaan (Matt 5:39-41).

Soos wat 'n masker die aangesig van God kan verberg, kan dit natuurlik ook die werklike gesig van my medemens wegsteek. 'n Sprekende voorbeeld uit die geskiedenis was met die Swart Plaag van die veertiende eeu toe meer as die helfte van alle mense in Europa uitgewis is.22 Mense het nie geweet wat die oorsaak van die plaag kon wees nie en het die oorsprong toe onder andere by hulle medemense begin soek. Die gevolg was dat felle agterdog onderling posgevat het: my medemens het mý dood dalk met hom of haar saamgedra, was die deursnee oortuiging. Daarom het mense mekaar begin wantrou en vermy, mure om hulle dorpe gebou en ook letterlik maskers en lang gewade gedra om hulle teen ander te beskerm. 'n Invloedryke filosoof van die twintigste eeu, Emmanuel Levinas (1998), bepleit die teenoorgestelde. Hy maak ons daarvan bewus hoe belangrik dit is om weer die onbedekte, maskerlose gesig van die ánder raak te sien (Levinas 1998:74-81). Wanneer ons van aangesig tot aangesig met 'n ander verkeer, sê hy, verdwyn ons selfbeheptheid en agterdog en in die gesig van die ander sien ons die spore van die transendente. Dit is hier waar ons roeping lê.

Die kerk durf nooit soos die wêreld lyk of optree nie. Ons as kerk sal ons identiteit en roeping aan die begin van die een en twintigste eeu in Suid-Afrika duidelik moet definieer. Nie alleen is dit 'n kultuur-kritiese eis nie, maar ook 'n Bybelse appèl. Hoe die uiteindelike kontoere daar gaan uitsien, sal die komende dae ons leer.23 Maar die een saak mag dit nié wees nie: kata sarka, volgens die vlees, wêrelds. En as ons hierdie proef deurstaan, sê vers 18, hoef ons nie onsself te prys nie, maar sal ons deur die Here self geprys word!24

 

5. SLOT

Die gevierde teoloog van Yale, George Lindbeck (2002:158-159), stel dat ten spyte van die gereformeerde kerke in Suid-Afrika se betrokkenheid by die destydse onderdrukkende Apartheidsbestel, hulle nietemin kerk van Christus gebly het. Kerkwees word immers deur God se verkiesing gekonstitueer.25 Vanuit Lindbeck se sosio-linguistiese verstaan van kerkwees is daar volgens hom vanselfsprekende ruimte vir 'n kulturele gestaltegewing, maar slegs met kontingente waarde. Wat kerkwees wesenlik bepaal is alleen maar die vraag of die kerk geloofwaardige getuienis van God se liefde in Christus aan die wêreld bied. Juis in hierdie gemeenskaplike getuienis van verskillende kerke aan die wêreld, kom die eenheid en die algemeenheid van die kerk tot uitdrukking. Die geloof dat God die kerk in die verlede gelei het, moet daarom ook die impetus vir die kerk se waagmoed vir die hede en die toekoms vorm. Kerklike institusies sal daar altyd wees, maar moet ook altyd aangepas word. Andersins word kontingente sake wat aanvanklik net die welwese (bene esse) van die kerk in die oog gehad het, geag die volledige wese (plene esse) van die kerk te wees en uiteindelik selfs die eintlike wese (esse) (Lindbeck 2002:162).

Daar het 'n tydjie gelede 'n pragtige boek in Nederlands uit die pen van Henk de Roest (2006) van Leiden verskyn met as titel, En de wind steekt op, en as subtitel, Kleine ecclesiologie van de hoop. Die titel spreek vir sigself. Dit herinner onder andere aan Johannes wat die beeld van die vryheid van die wind gebruik het om die vrye werking van die Heilige Gees te illustreer. Die Gees waai waar die Gees wil. Hierdie wind het ook in die kerk opgesteek. Lankal reeds. En waar hierdie wind waai, daar vermurwe agterdog en ook 'n wêreldsheid wat kerke so kniehalter. Besielde en begeesterde mense gee uitdrukking aan die heerlikheid van God in Christus. Met hierdie wind in die seile, gebeur nou die ongelooflike: Christus word geglo en mense word vry.

 

Literatuurverwysings

Agosto, E 2003. Paul and commendation, in Sampley, J P (ed), Paul in the Greco-Roman world: A handbook, 101-133. Harrisburg, PA: Trinity Press International. (A Continuum imprint.         [ Links ])

Barnett, P W 1998. Opponents of Paul, in Hawthorne, M R P & Reid, D G (eds), Dictionary of Paul and his letters. Downer's Grove, Ill: Intervarsity Press.         [ Links ]

Barrett, C K 1973. The second epistle to the Corinthians. London: Adam & Charles Black.         [ Links ]

Barth, K [1935] 1964. Credo: Hauptprobleme der Dogmatik dargestellt im Anschluß an das Apostolische Glaubensbekenntnis. 16 Vorlesungen, gehalten an der Universität Utrecht im Februar und März 1935. Dritte Auflage. München: Chr Kaiser Verlag.         [ Links ]

Buitendag, J 2006. Coming in from outside: A crucial event in the history of ecumenism of the Nederduitsch Hervormde Church. HTS 62(4), 1-26.         [ Links ]

Bultmann, R 1947. Exegetische Probleme des zweiten Korinthierbriefes. Upsala: Årsbok. (Symbolae Biblicae Upsaliensis, Supplenthäften till Svensk Exegetisk 9.         [ Links ])

Carson, D A et al 1994. The New Bible Commentary. Downers Grove, Ill: Intervarsity.         [ Links ]

Carter, G A 2006. Rethinking Christ and culture. A post-Christendom perspective. Grand Rapids, MI: Brazos.         [ Links ]

De Roest, H [2005] 2006. En de wind steekt op! Zoetermeer: Meinema.         [ Links ]

Dulles, A [1974] 2002. Models of the church. Expanded Edition. New York: Image Books.         [ Links ]

Duling, D C 2006. 2 Corinthians 11:22: Historical context, rhetoric, and ethnic identity, in Fotopoulos, J (ed), The New Testament and early Christian literature in Graeco-Roman context in honor of David Aune, 66-89. Leiden: Brill. (NT Suppl).         [ Links ]

Dungan, D L 2006. Constantine's Bible: Politics and the making of the New Testament. Philadelphia, PA: Fortress.         [ Links ]

Eusebius, Vita Constantini [1890] [1961], anonymous translation, Nicene and post-Nicene fathers of the Church, Series 2, 1. New York (1890), reprint, Grand Rapids, MI: Eerdmans (1961).         [ Links ]

Funk, R W 1964. The hermeneutical problem and historical criticism, in Robinson, J M & Cobb, H B (eds), The New Hermeneutic, Vol II, 164-197. New York: Harper & Row. (New Frontiers in Theology. Discussions among Continental and American Theologians.         [ Links ])

Harding, M 2003. Early Christian life and thought in social context: A reader. London: T & T Clark. (Understanding the Bible and its World.         [ Links ])

Jenson, R W 1999. Systematic Theology, Vol 2: The works of God. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Käsemann, E 1942. Die Legitimität des Apostels: Eine Untersuchung zu II Korinther 10-13. ZNW 41, 33-71.         [ Links ]

Kärkkäinen, V-M 2002. An introduction to ecclesiology: Ecumenical, historical & global perspectives. Downers Grove, Ill: InterVarsity.         [ Links ]

Küng, H [1968] 1978. The church. London: Search Press.         [ Links ]

Küng, H [2001] 2003. The Catholic Church: A short history, tr by J Bowden. New York: Random House.         [ Links ]

Levinas, E 1998. Totality and infinity, tr by A Lingis. Pittsburgh, PA: Duquesne University Press.         [ Links ]

Lambrecht, J 1999. Second Corinthians. Collegeville, MN: The Liturgical Press. (Sacra Pagina Series 8.         [ Links ])

Lindbeck, G A 2002. The church in a postliberal age, Buckley, J J (ed). Grand Rapids, MI: Eerdmans.         [ Links ]

Macmullen, R & Lane, E N (eds) 1992. Paganism and Christianity 100-425 ce: A sourcebook. Minneapolis, MN: Fortress.         [ Links ]

Malina, B J & Pilch, J J 2006. Social-science commentary on the letters of Paul. Minneapolis, MN: Fortress.         [ Links ]

Moltmann, J 2006. Weiter Raum: Eine Lebensgeschichte. Gütersloh: Gütersloher Verlaghaus.         [ Links ]

Moltmann, J [2006] 2008. A broad place: An autobiography, tr by M Kohl. Minneapolis, MN: Fortress.         [ Links ]

McDonald, L M 1995. The formation of the Christian biblical canon. Revised & expanded edition. Peabody, MA: Hendrickson.         [ Links ]

NHKA 1985. Kerk en Wêreld 2000. Pretoria: KITAL.         [ Links ]

NHKA 2004. Kerkorde van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika. Pretoria.         [ Links ]

NHKA 2007. Agenda van die 86ste Algemene Kerkvergadering. Pretoria.         [ Links ]

Pelser, G M M 1991. Die tweede Korintiërbrief as getuienis van apostel en evangelie in krisis en versoening, in Roberts, J H et al (reds), Teologie in konteks: Opgedra aan Prof A B du Toit, 219-247. Halfway House: Orion.         [ Links ]

Pretorius, A 2007. Katolieke kolos. Beeld (By). 26 Oktober 2007, bl 6-7.         [ Links ]

Rieger, J 2007. Christian theology and empires, in Pui-lan, K, Compier, D H & Rieger, J (eds), Empire and the Christian tradition: New readings of classical theologians, 1-13. Minneapolis, MN: Fortress.         [ Links ]

Ryken, L, Wilhoit, J C, Longman III, T (eds) 2000. s v Boast. Dictionary of Biblical Imagery. Downers Grove, Ill: InterVarsity.         [ Links ]

Tarn, W & Griffith, G T [1927] 1966. Hellenistic civilisation. 3rd ed. Reprinted. London: Edward Arnold.         [ Links ]

Tomlin, G 2004. Shapers of Protestantism: Martin Luther, in McGrath, A E & Marks, D C (eds), The Blackwell Companion to Protestantism, 40-52. Oxford: Blackwell.         [ Links ]

Volf, M 1998. After our Likeness: The church as the image of the Trinity. Grand Rapids, MI: Eerdmans.         [ Links ]

Watson , F 1984. 2 Cor. x-xiii and Paul's painful letter to the Corinthians. JThS 35, 324-346.         [ Links ]

Watson, D F 2003. Paul and boasting, in Sampley, J P (ed), Paul in the Greco-Roman world: A handbook, 77-100. Harrisburg, PA: Trinity Press International. (A Continuum imprint.         [ Links ])

Webster, J 2004. Shapers of Protestantism: Karl Barth, in McGrath, A E & Marks, D C (eds), The Blackwell Companion to Protestantism, 83-95. Oxford: Blackwell.         [ Links ]

Welborn, L L 1995. The identification of 2 Corinthians 10-13 with the "Letter of Tears". NT 37, 138-153.         [ Links ]

Windisch, H [1924] 1970. Der Zweite Korintherbrief. Neudruck der Auflage 1924, hrsg von G Strecker. 9. Auflage. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.         [ Links ]

Zmijewski, J 1978. Der Stil der paulinische "Narrenrede": Analyse der Sprachgestaltungin 2 Kor 11, 1-12,10 als Beitrag zur Methodik von Stilundersuchungen neutestamentlicher Texte. Cologne: Peter Hanstein. (BBB 52.         [ Links ])

Zizioulas, J D 1985. Being as communion. London: Darton, Longman & Todd.         [ Links ]

 

 

* Johan Buitendag, Adjunk-Dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria (UP) en professor in Dogmatiek en Christelike Etiek, is die vorige Voorsitter van die Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) en voorsitter van die redaksie van HTS Teologiese Studies.
1 Kyk Moltmann ([2006] 2008:252).
2 Naas Jürgen Moltmann, wat die konfessionele kring buite die Reformatories-ekumeniese sirkel om betref, verkies ek om juis Hans Küng, gevierde professor emeritus in ekumeniese teoloog van Tübingen, uit te sonder. Sy doktorale proefskrif was 'n epiese poging om die dekrete van die Konsilie van Trente (1563) te versoen met die insigte van Karl Barth oor die eeue-oue twispunt van "geregverdig deur geloof alleen" en in die proses 'n appèl op die RKK gemaak om ook te reformeer. Professor Küng is tans die President van die Global Ethic Foundation in Duitsland/Switserland. Hy het in 1996 as hoogleraar en direkteur van die Institute for Ecumenical Research aan die universiteit van Tübingen geëmeriteer. Pous Johannes XXIII het hom vanaf 1962-1965 aangestel as die offisiële teologiese konsultant (peritus) van die Tweede Vatikaanse Konsilie. Omdat hy die RKK se leer van die "onfeilbaarheid van die Pous" (sedert 1870) ernstig bevraagteken het en veral die optredes van pous Johannes Paulus II sedert 1978 as "verraad" op die Tweede Vatikaanse Konsilie beskryf het (Küng [2001] 2003:190-196) bestempel het, het hy hom die gramskap van dié kerk op die hals gehaal. Dit het uitgeloop het op die intrekking van sy lisensie (missio canonica) as Rooms-Katolieke teoloog in 1979. Sy gewete het hom egter geen ander keuse gelaat nie, skryf hy in sy Memoirs n a v Thomas Moore wat nie voor die druk van Koning Hendrik Vlll wou swig nie. Vandag word toenemend in die RKK na sy insigte geluister en is die verhouding tussen hom Joseph Ratzinger, sy eertydse kollega en vriend en vandag Pous Benedictus XVI, vinnig aan die herstel. In 'n onderhoud met André Pretorius (2007:6-7), sê Küng die merkwaardige: God is groter as verandering: die Christelike openbaring is in sy essensie onveranderlik, maar die belewenis en begrip daarvan maak voorsiening vir verandering. Vanweë ons swakheid kan die kerk nie anders as om juis voortdurend te reformeer nie. Vir die antwoord op die vraag "watter kerk het 'n toekoms?", kyk Hans Küng (2003:203-204).
3 Graham Tomlin (2004:41) verwys soos volg na wat Martin Luther se siening hieroor was: "[F]or Luther the notion that Jesus' human life and nature expressed perfectly the nature of and heart of God. The incarnation, as God's gift of Christ to us, to be received by faith, is a true expression of the heart of God as turned towards humanity in love and favour. It reveals once and for all the innermost heart and will of God, not as the demanding judge, but as the generous giver. It is how we know what God is like ... Because Luther could not conceive of any separation between Christ's divine and human nature, this gift could not be thought of as just a spiritual thing, but it had to take embodied form, just as in the incarnation. Hence, Luther thought of God's approach and availability in very physical forms."
4 Hierdie is 'n bygewerkte weergawe van die openingsrede van die 68ste Algemene Kerkvergadering van die NHKA, gehou op 23 September 2007 in die Aula (UP) voor die afgevaardigdes en gaste deur die uittredende voorsitter, prof J Buitendag. Die Skriflesing was 2 Korintiërs 10:1-18 en die fokus was op verse 3-4 en 17-18: Natuurlik leef ons in 'n menslike liggaam, maar ons voer nie die stryd met menslike wapens nie. Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Maar die Skrif sê: "Hy wat roem, moet in die Here roem." Die man wat die proef deurstaan het, is nie die een wat homself prys nie, maar die een wat deur die Here geprys word.
5 Die Hervormde Dosenteraad van UP het 'n memorandum oor die volkskerk as advies aan die Algemene Kommissie uitgebring wat opgeneem is in die agenda van die 68ste Algemene Kerkvergadering (ble 343-348). Op bladsy 344 word gestel: Ons stem egter met die Kommissie van die 67ste Algemene Kerkvergadering heelhartig saam dat die NHKA op grond van eie teologiese worsteling en nadenke in die jongste tyd op sinodale wyse behoort te erken dat (1) 'n Bybels-teologiese regverdiging van 'n politieke ideologie soos Apartheid nie aanvaar kan word nie en (2) die begrip volkskerk in eietydse apostolaat en kerkwees agterhaal is. Hiermee word die opregte bedoelings van voorgangers nie ontken nie.
6 Dit het inderdaad ook tydens die pas afgelope Algemene Kerkvergadering op Donderdag, 27 September 2007, gebeur dat die meerderheid (51%) van die Kerk teen die volkskerk-ordereël besluit het, maar dat dit vanweë die verskansing daarvan, nié uit die Kerkorde verwyder kon word nie.
7 Kyk byvoorbeeld Barth ([1935] 1964:121); Küng ([1968] 1978:269); asook Kärkkäinen (2002:79).
8 Die betrokke artikel lui: Ons glo aan een, heilige, algemene en apostoliese kerk. Met dit as maatstaf vir die ekklesiologie in sistematies-teologies sin van die woord, is die kostelike voorstelle in die Agenda oor erediensvernuwing nié ter sprake gemaak nie. 'n Volledige ekklesiologie van die NHKA sal natuurlik hierdie element ook moet verreken.
9 Mark Harding (2003:231) stel dit soos volg: "Rhetorical conventions were, of course, well known, and were occasionally satirized." Tarn & Griffith ([1927] 1966:281) verwys weer soos volg na die verband tussen retoriek en die teater: "For some reason rhetoric intoxicated Greeks; it took the place filled to-day by cheap journalism and the cinema; men flocked to rhetorical displays as to a theatre."
10 Spesifiek in verwysing na 2 Korintiërs 10, lewer Windisch (1970:316) die volgende kommentaar: "Die Eigenart des Abschn. besteht sonach darin, daß P. mit einem Male eine seinem Wesen fremde 'Rolle' übernimt, die des 'n arren', besser des närrischen Prahlers und Ausschneiders im Mimus. Die 'Torheit' besteht darin, daß er ... vor seiner Gemeinde Komödie zu spielen und den Gemeindesaal zur Theaterbühne macht ... Daß P. den Mimus selbst gesehen und daß er von ihm gelernt hat, scheint mir nicht unmöglich. Nur unterscheidet er sich vom echten Mimus darin, daß seine Rolle von bitterem Ernst getragen ist, und daß sie echt ist. Er spielt die Rolle des 'Paulus' selbst ...."
11 Bruce Malina & John Pilch (2006:156) skryf in hulle sosiaal-wetenskaplike kommentaar op die Paulus-briewe soos volg na aanleiding van 2 Korintiërs 11:16-20: "Paul once again takes up his satiric self-designation as 'fool', that is, as a shameless person, a person without honor. His point is that the Corinthians have in fact accepted true fools and put up with their shameless and dishonorable behavior. If they are willing to accept shameless fools, Paul can play that role as well. However, his sense of honor ('he is too weak' in v 21) does not allow him to go all the way in this role. He cannot enslave, deceive, put on airs, and insult as his opponents have done to the Corinthians! The passage is a heavy put-down both of his opponents and of the Corinthians who have taken those insulting opponents seriously" (my beklemtoning).
12 Kyk hiervoor http://www.cannes-online.com/Anglais/masqueuk.html (01/11/07).
13 Le Siécle de Louis XIV (1751) deur François-Marie Arouet (alias Voltaire).
14 Vir 'n relatief volledige en populêre weergawe van die verloop van Konstantyn se lewe, kyk Constantine I, in Wikipedia, The Free Encyclopedia. http://en.wikipedia.org/w/index.php?title=Constantine-I&oldid=177751951
15 Eusebius, Life of Constantine. Introduction, translation and commentary by Averil Cameron & S G Hall (Oxford, 1999); Eusebius, Vita Constantini 1.26f, anonymous translation, Nicene and post-Nicene fathers of the Church, Series 2, 1 (1890). New York, reprint, Grand Rapids, MI: Eerdmans (1961); vgl MacMullen & Lane (1992:262-264).
16 Karl Barth se siening is diep gewortel in sy oortuiging dat, soos John Webster (2004:88) dit stel, "the Christian faith is concerned with both God and humanity; his [Barth's] protest was against the distortions introduced by making the first term [i.e. "God" - J B] a function of the second [i.e. "humanity" - J B], thereby allowing the human factor to acquire axiomatic status." Hierdie voorrang wat God bó wêreld moet hê, dit wil sê herskepping bó skepping, die "bloed van Christus" bó die "bloed van mense", word vêrder soos volg deur Webster (2004:88-89) gekontekstualiseer: "By way of response, Barth sought to develop a theology of God's relation to humanity in which the twin foci (God and creatures) were retained but redefined and related in an entirely different way. His primary resource for constructing such a theology was the Reformed tradition, which came to expression in the exegetical, doctrinal and confessional texts of Calvin and his successors."
17 Kyk die uitstekende bespreking deur Robert Funk (1964:167-180) van die eweneens uitstekende eksegese deur Rudolf Bultmann (1947) van 2 Korintiërs.
18 Kyk die toepassing van die "hipoteseverdelingsteorie" ten opsigte van vyf moontlike fragmente waaruit 2 Korintiërs bestaan, in Malina & Pilch (2006-133-176); asook die indeling van 2 Korintiërs in drie fragmente deur Pelser (1991:219-247).
19 "The style is vivid and emotional: pleading and paraenesis, biting irony and bitter sarcasm, threat and condemnation go hand in hand. The tone is both apologetic (self-defense vis-à-vis the faithful of Corinth) and indirectly polemical (attack against the opponents, the intruders). Moreover, Paul's way of reasoning in these chapters has paradoxical, if not contradictory features" (Lambrecht 1999:158).
20 Barrett (1973) bied 'n uitstekende oorsig van die debat oor hierdie perikoop.
21 Tomlin (2004:42) verwys soos volg na Luther se verstaan van iustitia externa versus aliena: "To be sure, the believer is subsequently transformed by the power of grace and in the practice of good works, but this has nothing to do with justification, which is achieved solely by the alien righteousness of Christ. While all scholastics from Aquinas to Scotus to Biel held that salvation was granted as a result of the performance of various kinds of meritorious works (though all agreed that such works could only be performed with the help of God's grace), Luther broke from this system of merit altogether."
22 Kyk hiervoor Cantor, N F 2003. De zwarte dood; hoe de pest de wereld veranderde. Kampen: Agora; Ziegler, P 1970. The Black Death. Harmondsworth: Penquin Books.
23 Tydens die 68ste Algemene Kerkvergadering is geen van die genoemde vyf beskrywingspunte aanvaar nie, maar vir "verdere studie" verwys. Die volgende AKV (2009) sal gevolglik weer daaroor moet handel.
24 Met hierdie paragraaf het die preek afgesluit. Die openingsparagraaf het by punt 2 ("Maskers en Identiteit") begin.
25 Vergelyk ook die Heidelbergse Kategismus, Vraag & Antwoord 54.