SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.64 issue1Voices carry: an archaeology of the Hervormd approachEcclesia reformata semper reformanda: die ongemaklike eis author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Bookmark

    HTS Theological Studies

    Print version ISSN 0259-9422

    Herv. teol. stud. vol.64 no.1 Pretoria Jan./Mar. 2008

     

    Om die horison te verken: Op soek na 'n eietydse homiletiese hermeneutiek

     

     

    C J A Vos

    Dekaan: Fakulteit Teologie, Universiteit van Pretoria

     

     


    ABSTRACT

    The exploration of the horizons: Searching for a contemporary homiletic hermeneutics
    In this article, the author takes up the Ricoeurian idea of a dual hermeneutic. The article emphasizes the need for critical homiletics, not only to make the invaluable and necessary recourse to a "hermeneutics of suspicion" but also moves beyond it to a "hermeneutics of recollection" that is sympathetic to religion. The concept of a second naiveté is also considered in relation to the dialectic between the two hermeneutical extremes.


     

     

    "Beyond the desert of criticism, we wish to be called again."

     

    1. INVALSHOEK

    In hierdie artikel word die hermeneutiese insigte van Paul Ricoeur vir die homiletiek ontsluit. Die hipotese is dat Ricoeur se hermeneutiek die homiletiek kan verryk. Die voorwaarde is egter dat Ricoeur se hermeneutiese grondlyne noukeurig gelees en krities geëvalueer moet word.

     

    2. 'N HERMENEUTIESE VERKENNING

    Hermeneutiek is sowel 'n wetenskap en 'n kunsvorm. Hierdie uitspraak kan op verskeie maniere teruggevoer word na moderne nadenke oor interpretasie - 'n proses wat begin het met F Schleiermacher en sy poging om betekenis te vind deur die peil van die gedagtes van die outeur wat die teks geskep het (Rossouw 1981:22-32). Ander persone het hierop voortgebou, en sluit in W Dilthey en M Heidegger (Rossouw (1981:42-55).

    Meer resente erfgenote van dié tradisie soos Hans-Georg Gadamer (1973) het gevra vir 'n dialektiek tussen die horisonne van die teks en die leser met versmelting as ideaal. Verder is daar die resepsie-kritiek wat Schleiermacher se oorspronklike gedagte geradikaliseer het by wyse van inversie deur die klem te plaas op die leser wat nie betekenis vind nie, maar skep (oor Iser en Jauss; vgl Vos 1991:10-12).

    Hoewel die Franse filosoof, Paul Ricoeur, aanklank vind by die leser-georiënteerde benadering van die hermeneutiese spektrum, is hy ongemaklik met die interinsieke subjektiwiteit wat met sulke benaderings geassosieer word. Daarom poog hy om op die rand van 'n dubbele afgrond te loop. Hy probeer tussen die Scyla en Charibdys deur te vaar (Thiselton 1992:344-350). Hierdeur kom 'n openheid tot stand vir byna alles wat die teks kan verwoord. Daarom is dit te verstane dat Ricoeur se hele filosofiese benadering gekenmerk word deur 'n voortgaande kreatiewe spanning tussen geloof en rede (Bien 1995:795). Sy toewyding aan die Christelike geloofstradisie word opsigself gereflekteer in sy hermeneutiese reise; in sy lojaliteit aan die sogenaamde Esprit beweging, en in sy belangstelling in die tekste van Emmanuel Mounier (Kearney 2004:137-138).

    Ricoeur se benadering is dat in die verstaan van beide geskiedenis en fiksie daar na die teks self gegaan moet word om die plot as gids te neem ten einde die ervaring onderliggend daaraan te verstaan. Dit bring mee dat daar geen metafisiese en epistemologiese gronde is waarop ons betekenis kan verifieer nie. Ricoeur probeer om hierdie posisie te verduidelik deur sy hermeneutiese fenomenologie (Greisch 2005:105-123; Kearney 2004:13-33).

    In dié verband beweer hy dat die hermeneutiek van die mens se verstaan beperk word deur sy rede se bevraagtekening van ervaring en deur laasgenoemde se pogings om die grense te transendeer deur die taal van simbole en metafore. Dit is ook duidelik uit Ricoeur se werk dat hy enige vorm van "funksionalisme" van die hand wys, insluitende fenomenologie, nihilisme en skeptisisme. By wyse van 'n interafhanklike dialektiek wat verder gaan as die meer meganiese modelle van Hegelianisme en Marxisme kan die self sigself verstaan en deur ander verstaan word in terme van lyding en morele aksies waarin dit sigself uitdruk (Bien 1995:796; Kearney 2004:13-33)

    Sedert die 1950's is Ricoeur se projek die bemiddeling in die konflik tussen die vele vorme van interpretasie binne die linguïstiek, hermeneutiek en literêre kritiek (Norris 1995:774). Baie van sy boeke het 'n teologiese dimensie, veral in daardie geskrifte van hom waarin hy die verband tussen denkskole probeer identifiseer en hulle voorlopers in die Joods-Christelike geloofstradisie uitwys (vgl Kearney 2004). As daar één tema is wat sy denke deursuur, is dit die siening dat alle interpretasie 'n dubbele (positiewe en negatiewe) hermeneutiek omvat. Dit is dan ook die hoofargument in sy bekende Freud and Philosophy (vgl Ricoeur 1970).

    Aan die een kant wys Ricoeur daarop dat psigo-analise die netwerk van betekenisse, motiewe en begeertes probeer peil ten einde diep in die lae van die onderbewussyn ware onderliggende gronde bloot te lê. Volgens Ricoeur wys Freud deur die kritiese perspektief 'n weg aan wat selfs bevrydend van aard is. Dit kom tot stand deur die verkryging van dieper selfkennis wat opsigself nuwe lewens- en betekenismoontlikhede navore bring (Ricoeur 1970; Thiselton 1992:344-350; Kearney 2004).

    Later sou Ricoeur dieselfde dubbelkantige potensialiteite in die ikonoklasme van denkers soos Marx en Nietzsche uitwys (Kearney 2004; Greisch 2005). Vanuit hierdie siening vloei sy eie dualistiese hermeneutiese konseptualisering voort. In dié artikel word daar hierop gefokus ten einde die waarde daarvan vir 'n homileties-bybelse hermeneutiek uit te spel.

    Paul Ricoeur onderskei twee vorme van hermeneutiek (Thiselton 1992:344-350; Kearney 2004:13-33, 76-78, 156; Greisch 2005:105-123):

    • Die hermeneutiek van suspisie - wat bedekte betekenisse en motiewe by beide skrywer en leser wil ontmasker.

    • Die hermeneutiek van geloof/rekolleksie/herwinning/ens, wat geloof veronderstel en simpatiek en oop staan vir die stem van die teks.

    Ricoeur se dubbele hermeneutiek verteenwoordig op sigself sy poging om hermeneutiek as beide wetenskap en kuns te behou sonder om aan een absolute voorkeur te gee. Volgens Ricoeur (1965:5) is dit die geval dat: "Hermeneutics seems to me to be animated by this double motivation: willingness to suspect, willingness to listen; vow of rigor, vow of obedience".

    In sy poging om die essensie van Ricoeur se dualistiese hermeneutiek saam te vat, reken Thiselton (1992:26):

    The first addresses the task of "doing away with idols," namely, becoming critically aware of when we project our own wishes and constructs into texts, so that they no longer address us from beyond ourselves as 'other'. The second concerns the need to listen in openness to symbol and to narrative and, thereby to allow creative events to occur 'in front of' the text, and to have their effect on us.

    Dit is hierdie hermeneutiek van "critical openness," en "suspicion and hope" waarop daar in die res van artikel gelet word. Daar word oor hierdie dualistiese hermeneutiek, waarvan die komponente onderskei, maar nie geskei kan word nie, se waarde vir die homiletiek besin.

    Ricoeur het self gereeld gepreek in die Kapel van die Universiteit van Chicago, en elders. Onder sy gepubliseerde homilië vind ons onder andere "Ye are the salt of the earth" (Ricoeur 1974:105-124), en "Listening to the parables of Jesus" (Ricoeur 1978:239). Ricoeur was ook die prediker by die eucharistie-diens waar Protestante en Katolieke verenig het te midde van die werkers- en studente-opstande op die 2e Junie 1968 in Parys. Die preek is gepubliseer in Mudge (1970:30-33) se vertaling, The crumbling walls.

    Ricoeur se opvatting oor suspisie stel die homileet in staat om die teks self aan die woord te stel. Erns met die meesters van suspisie help die homileet om te besef hoe suspisie oorvloei in 'n suspisie oor ideologie wat opsigself weer voortgaan na 'n suspisie van die homileet se eie ideologie versperrings. Op hierdie ironiese wyse kan 'n tweede naïwiteit ontwikkel wat die homileet se oë oopmaak om met 'n eie insig na die teks te kan kyk. Hiermee is 'n nuwe moontlikheid van Bybelse hermeneutiek vir die homiletiek gebore.

     

    3. RICOEUR SE DUALISTIESE BYBELSE HERMENEUTIEK

    3.1 Die hermeneutiek van suspisie

    In sy invloedryke publikasie, Freud and philosophy (1970) fokus Ricoeur op die drie sleutelfigure (Marx, Nietzche en Freud) van die twintigste eeu wat elkeen op sy eie manier gepoog het om die waarheid en die skyn te ontmasker en te demistifiseer (Dornisch 1975:17).

    Maar wat was dit in die denke van hierdie "meesters van die suspisie" wat Ricoeur so beïndruk het? Die antwoord op hierdie vraag is nie onbelangrik nie, aangesien dit duidelik was dat die suspisie wat hierdie figure beoefen het as grondlyne vir Ricoeur se eie hermeneutiek gedien het. Ricoeur (1974:156) het op hierdie vraag ingegaan en aangetoon hoe hierdie drie "meesters van suspisie" die betekenis van godsdiens probeer ontdek het deur valse en skynbetekenisse aan die kaak te stel. Maar wat het elkeen van hulle in die verband te sê gehad?

    Marx se analise van godsdiens het hom gelei tot die konklusie dat alhoewel religieë skynbaar besorg oor belangrike sake soos die transendente en persoonlike verlossing is, is hulle weinig meer as die "flight from the reality of in human working conditions" met die doel om "the misery of life more endurable" te maak (Ricoeur 1969:356). Religieë is op hierdie wyse niks anders nie as "the opium of the people" (Ricoeur 1975:29).

    Nietzsche se verstaan van die godsdiens as die opheffing van "weakness to a position of strength; to make weakness respectable", ontmasker die skynbare doel daarvan, naamlik om deur middel van 'n "slave morality", die lewe van swakkelinge meer uithoudbaar te maak deur deugde soos besorgdheid, hardwerkendheid, nederigheid en vriendelikheid op te hemel. Op hierdie wyse ontmasker Nietzsche godsdiens as die toevlug van swakkelinge (Ricoeur 1976:92).

    Freud analiseer godsdiens op 'n soortgelyke wyse: om "the real" van die "apparent" te skei. Waar godsdiens gesien is as 'n legitieme bron van troos en hoop in situasies wanneer die ondraaglike van die lewe mense konfronteer, is die eintlike waarheid dat godsdiens 'n illusie is wat op niks meer dui as die mens se onvolwasse behoefte na 'n kosmiese vader-figuur nie (Ricoeur 1976:105 e v).

    Ricoeur oordeel dat dit verkeerd sou wees om Marx, Nietzsche en Freud as meesters van "skeptisisme" te sien. Hoewel hulle veronderstelde opvattings ondermyn het, het al drie die weg gebaan na 'n meer egte woord, na 'n nuwe era van waarheid; nie net deur middel van 'n destruktiewe kritiek nie, maar ook deur die vinding van die kuns van interpretasie (Ricoeur 1976:73 e v, 99 e v)

    Elkeen van die meesters het, op sy eie manier, 'n valse bewussyn ontmasker, 'n valse verstaan van die "teks" (gemeenskap), deur 'n sistematiese kritiek van suspisie toe te pas. Die gevolg was dat die eintlike stand van sake ontmasker en ontbloot is. Op hierdie manier verteenwoordig al drie vir Ricoeur "three convergent procedures of demystification" (Ricoeur 1974:299).

    Vanuit die perspektief van Christelike spiritualiteit waarin die Bybel 'n onmisbare rol speel, moet erken word dat Ricoeur se idees van waarde is. Dit is net te maklik om, wanneer die Bybel gelees word, veral 'n teks wat baie bekend is, dit te doen met 'n rigiditeit van voorveronderstellings wat as 't ware die betekenis soos veronderstel in die volksmond vanselfsprekend daarin inlees.

    Die drie meesters van suspisie beklemtoon 'n sentrale aspek van hierdie kritiese evalueringsproses, naamlik dat suspisie moet geskied met 'n bipolêre fokus. Net soos Marx, Nietzsche en Freud in hulle eie kontekste die deelnemers (die gemeenskap in die geheel, of individue) en die sisteem (religie) gekritiseer het, só moet daar onthou word dat die dualistiese fokus van suspisie selfkritiek vereis. Suspisie moet ook op die self gerig word sodat daar indringend gevra word in hoe 'n mate ons bloot ons eie vooropgestelde idees in die teks terugprojekteer en nie meer kan sien wat werklik daar staan en voor ons oë lê nie (Ricoeur 1970:3).

    Beide pole van suspisie - suspisie oor die sisteem wat die teks se gesag erken en oor die self wat in die sisteem identiteit kry - is nodig vir 'n eerlike lees van die teks. Ricoeur is dus besig om ons te herinner aan die realiteit van die hermeneutiese sirkel. Ons moet die teks krities en met suspisie benader, nie net omdat dit deur mense geskryf is nie, maar juis sodat ons dit kan hoor en waardeer en sodat ons eie voorverstaan en sekerhede ons nie verblind vir die waarheid nie.

    Met hierdie idees vind ons onsself in die midde van die tweede vraag wat Ricoeur opper in sy filosofie van getuienis. Aan die eenkant, kan ons as postmoderne skriflesers onsself sien as deel van die geskiedenis van die tradisie wat van die begin af aan die werk was. Gebeure en die betekenis daarvan word gedurig opnuut geaktualiseer deur die invoeging van interpretatiewe kategorieë wat vorige afgeskeepte trajekte in die tradisie aktiveer. Hierdie herevaluasies moet self opnuut onder die soeklig geplaas word om te kan verstaan op watter manier die goddelike fluisterstem daarin gehoor kan word.

    Die vraag wat deur die hermeneutiek van suspisie gevra word, is of ons die self tot die nodige mate tersyde kan stel om die Skrif opsigself te kan hoor eerder as om deur die skemas van dogmas oor die aard, inhoud en gesag van die Skrif deur ons ideologieë en kulturele tradisies gepredisposisioneer te word om bloot ons ideologie op die teks af te druk. Ons vind in die Bybel 'n kontra-aanspraak wat daarop aandring dat ons gedurig ons eie wil tot mag dekonstrueer deur die besef van ons neiging tot projeksie. Op hierdie manier doen ons afstand van ons "effort to exist and desire to be" in terme wat ons voortdryf na 'n nuwe wêreld van "freedom in the light of hope" (Ricoeur 1974:6).

    Ons kom na die teks met ons eie voorveronderstellings. Op 'n sekere manier hoor ons die oproep om te lees, maar ons kan nie goed luister nie omdat ons die eintlike vrae vergeet het wat in die eerste plek aanleiding gegee het tot die skep van die Bybelse teks. Hierdie illusie dat ons eie "stem" en dié van die Skrif identies is, is niks anders nie as die geleefde gestalte van die "eerste naïwiteite".

    In ons hermeneutiese omgang met die teks moet ons steeds die krag van die mitologiese as verstaanhorison verreken (vgl Kearney 2004:118-124; Vos 2007:19-21). Hierteenoor is daar die werklikheid van ons alledaagse voorveronderstellings en kulturele bepaaldheid.

    Ricoeur ontwikkel die idee van die belang van die kritiese verstaan van die teks. Die doel is nie, soos dit kan lyk, om geloof te vernietig nie, maar juis om die weg daartoe te ontsluit. As ons die motiewe van die 19e eeuse historiese kritiek sien as 'n poging om die Bybel te bevry van dogmaties-kerklike eksegese, kan ons Ricoeur sien as iemand wat dieselfde proses wil verfyn deur die Bybel te bevry van kultuur-gebonde subjektiewe interpretasies en van fundamentalistiese objektiverende verstaan. Ricoeur se oogmerk is om die Bybel self aan die woord te laat kom en alle vorme van buikspraak te ontmasker (Kearney 2004:20, 130).

    'n Hermeneutiek van suspisie is onmisbaar en beskerm die een wat dit toepas van selfmisleiding. Maar opsigself is dit nie genoegsaam nie, want 'n konsekwente deurvoering van die hermeneutiek van suspisie lei tot 'n suspisie oor suspisie wat opsigself aanleiding gee tot wat Ricoeur noem die moontlikheid van 'n "second naivete" (Ricoeur 1974:xxii). Meer nog, die verkryging hiervan vra ook dan self 'n nuwe hermeneutiek om die hermeneutiek van suspisie aan te vul. En hierdie as 't ware post-kritiese hermeneutiek word dan die "hermeneutiek van herwinning/rekolleksie/geloof genoem. Daar word nou hieraan aandag gegee.

    3.2. Die hermeneutiek van rekolleksie/herwinning/geloof

    Die aanhaling aan die begin van die artikel verwoord die begeerte en sug wat aanleiding tot hierdie hermeneutiese teenpool gegee het. Die verwysing self kom aan die einde van Paul Ricoeur (1969:349) se The symbolism of evil voor. Dis is dieselfde verlange wat Thiselton (1992:26) noem: "the need to listen in openess to symbol and to narrative and thereby to allow creative events to occur "in front of" the text, and to have their effect on us."

    Paul Ricoeur se verwysing na 'n "tweede naïwiteit" maak dit moontlik om wel anders, maar weer belang te hê by die geloof nadat die eerste naïwiteit verloor is. Vir Ricoeur is die hermeneutiek van suspisie onmisbaar, maar beslis nie alles nie. Inteendeel, dis die een kant van 'n twee snydende swaard wat opsigself 'n snit moet maak in ons bevooroordeeldheid sodat ons die doel van die interpretasieproses kan bereik. En wat is hierdie doel? Dit is die ervaring van die leser wanneer hy of sy in "a world in front of the text, a world that opens up new possibilities of being" beland (Ricoeur 1974b:6; vgl ook Kearney 2004:29-33).

    Op hierdie wyse word die kringloop voorlopig voltooi: van ons aanvanklike naïewe fasinering met tekste waarbinne die getuienis bewaar is in poiesis (kreatiwiteit), deur die kritiese dissiplines wat ons help om afgodery en dogmatistiese lesings te vermy, na die post-kritiese moment wanneer ons begin om te getuig van die agterweë laat van die soort bewussyn wat ons eie lewens impliseer in die wêreld voor die teks.

    Die dubbele hermeneutiek gaan hand aan hand met die verkryging van 'n tweede naïwiteit. Dit is eintlik niks anders nie as die resultaat en gevolg van die hermeneutiek van herwinning.

    Stated briefly, "first naivete" signifies the human subjects enmeshment with the symbolic/mythic foundations of the surrounding culture. "Critical distance" signifies the human subjects use of interpretive structures to create distance from mythic symbol systems. 'Second naivete' signifies the human subjects interpretive stance, informed by the use of critical models, open to the depth of symbolic meaning. Second naivete is the tension sustained between first naivete and critical distance.

    (Morrison 1993:1)

    Waar 'n hermeneutiek van suspisie daarop gerig is om 'n filosofiese interpretasie te wees wat die valsheid en outentieke aard van die diskoers wil ontmasker om die ware grondslae bloot te lê, is dit anders met 'n hermeneutiek van rekolleksie wat die gevolg is van 'n tweede naïwiteit. Laasgenoemde veronderstel die waarheid en legitimiteit van die teks se boodskap en probeer om die sin en geldigheid daarvan te handhaaf en te verdedig teen die suspisie van die kritici (en die kritiese self). Met ander woorde, 'n hermeneutiek van herwinning impliseer 'n suspisie oor suspisie wat ons terugbring na 'n vergete en bedekte betekenis wat suspisie alleen misgekyk of geïgnoreer het (Ricoeur 1974).

    Die hermeneutiek van herwinning is 'n manier om na die boodskappe wat inherent in die teks is, te luister. Op hierdie manier kan die teks opnuut gehoor word omdat dit 'n "stem" of spreekbeurt gegun word. Dit help die leser op die pad na verwondering en om die varsheid en andersheid van die boodskap in al sy volheid te ontsluit.

     

    4. HOMILETIESE UITSIG

    Die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria staan in 'n lewende tradisie wat erns met die verstaan en uitleg van tekste gemaak het. Daarom vier die Fakulteit Teologie op dié wyse die honderd jarige bestaan van die Universiteit van Pretoria. Met die oog op dié tradisie en die voortsetting daarvan open Ricoeur se hermeneutiese denke vergesigte vir die homiletiek en alle ander dissiplines wat met tekste werk en tekste laat werk.

    Vanuit die perspektief van Christelike spiritualiteit waarin die Bybel 'n onmisbare rol speel, is Ricoeur se sieninge van waarde. Dit is net té maklik om wanneer die Bybel gelees word, veral 'n teks wat baie bekend is, dit te doen met 'n rigiditeit van vooronderstellings wat as 't ware die betekenis soos veronderstel in die volksmond vanselfsprekend daarin te lees.

    Wanneer die teks die vraag of die veronderstelde betekenis inderdaad die geldige betekenis is en in hoe 'n mate dogmatiese eksegese die betekenis projekteer en persoonlike ideologie dit dekodeer, is suspisie 'n vereiste. Slegs op hierdie manier kan rekening gehou word met die kompleksiteit van interpretasie, die mens en groepe se wil-tot-mag, en kan verhoed word dat ons die teks laat buikspreek en so 'n afgod daaruit rekonstrueer.

    As lesers van ons tyd te midde van 'n pluraliteit van aansprake tot legitieme interpretasies en ver verwyderd van die Bybelse kultuur-historiese ruimte, is daar vir ons geen alternatief as een van die hermeneutiek van suspisie nie. Ons moet nie kritiek vermy nie, maar daardeur beweeg om 'n tweede naïwiteit te bereik omdat die eerste naïwiteit dikwels neig tot 'n subtiele vorm van afgodery wanneer ons God en die teks na ons eie beeld skep.

     

    Literatuurverwysings

    Bien, J 1995. Paul Ricoeur, in Robert Audi et al, The Cambridge Dictionary of Philosophy, 975-976. New York: Cambridge University Press.         [ Links ]

    Dornisch, L 1975. Symbolic systems and the interpretation of Scripture: An introduction to the work of Paul Ricoeur. Semeia 4, 1-22.         [ Links ]

    Gadamer, H-G 1973. Wahrheit und Methode. Tübingen: Mohr.         [ Links ]

    Greisch, J 2005. Philosophische Hermeneutik "more gallico demonstrate", in Hennigfeld, J & Jansohn, H (eds), Philosophen der Gegenwart, 105-123. Darmstadt: Wissenschaft Gesellschaft.         [ Links ]

    Kearney, R 2004. On Paul Ricoeur: The owl of Minerva. Hampshire: Ashgate.         [ Links ]

    Morrison, B T 1993. Rollo May's psychotherapy related to Paul Ricoeur's language philosophy. Unpublished article.         [ Links ]

    Mudge, L S 1970. The crumbling walls. Philadelphia, PA: Westminster.         [ Links ]

    Norris, C 1995. Ricoeur, Paul, in Honderich, T et al, The Oxford Companion to Philosophy, 774-775. New York: Oxford University Press.         [ Links ]

    Ricoeur, P 1965. History and truth. Northwestern University Press.         [ Links ]

    Ricoeur, P 1966. Freedom and nature: The voluntary and the involuntary, tr by E V Kohak. Evanston, IL: Northwestern University Press,         [ Links ]

    Ricoeur, P 1969. The symbolism of evil, Boston, MA: Beacon.         [ Links ]

    Ricoeur, P 1970. Freud and philosophy. New Haven, CT: Yale University Press.         [ Links ]

    Ricoeur, P 1974. Ye are the salt of the earth, in Stewart, D & Bien, J (eds), Political and social essays by Paul Ricoeur, 105-124. Athens, OH: Ohio University Press.         [ Links ]

    Ricoeur, P 1974. The conflict of interpretations: Essays on hermeneutics. Evanston, IL: Northwestern University Press.         [ Links ]

    Ricoeur, P 1976. Interpretation theory: Discourse and the surplus of meaning. Fort Worth, TX: Texas Christian University Press.         [ Links ]

    Ricoeur, P 1978. Listening to the parables of Jesus, in Reagan, C E & Stewart, D (eds), The philosophy of Paul Ricoeur. Boston, MA: Beacon.         [ Links ]

    Rossouw, H W 1981. Wetenskap, interpretasie, wysheid. Port Elizabeth: Universiteit van Port Elizabeth.         [ Links ]

    Thiselton, A C 1992. New horizons in hermeneutics. Grand Rapids, MI: Zondervan.         [ Links ]

    Vos, C J A 1991. 'n Vlammende lied: Metateoretiese en prakties-teologiese grondslae van die homiletiek. Pretoria: Universiteit van Pretoria.         [ Links ]

    Vos, C J A 1996. Die volheid daarvan, 1 en 11. Pretoria: RGN Uitgewers.         [ Links ]

    Vos, C J A 2005. Theopoetry of the Psalms. London: T&T Clark.         [ Links ]

    Vos, C J A 2007. Preaching the language of hope, in Vos, Cas J A, Hogan, Lucy L, Cilliers, Johan H (eds). Preaching as a language of hope. Pretoria: Protea Book House.         [ Links ]