SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.105 issue3The protracted TB struggle: SA ups the intensityTermination of pregnancy and children: consent and confidentiality issues author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


SAMJ: South African Medical Journal

On-line version ISSN 2078-5135
Print version ISSN 0256-9574

SAMJ, S. Afr. med. j. vol.105 n.3 Pretoria Mar. 2015

 

OBITUARIES

 

Alewyn Petrus Rossouw

 

 

Dit is met innige leedwese dat ek verneem het van Alewyn se dood. Op 27 Januarie 2015 sou hy 79 jaar oud geword. Alewyn kom vanaf Lydenburg, waar sy vader 'n gesinsdokter was. Sy moeder was 'n sjarmante dame vanaf Nederland, maar het goed hier ingeburger. Alewyn se ouer broer, Braam, was ook 'n algemene praktisyn en sy suster, Corrie, was getroud met ds. Punt Janson, wat later 'n parlementslid geword het.

Alewyn se ouers het op Graskop afgetree en ons het as koshuis-studente gereeld piesangs, lietsjies en pynappels vanaf hul plaas ontvang. Hierdie 'eksotiese' vrugte was 'n eienaardigheid vir ons Vrystaters met ons waatlemoene, pruime, kersies en perskes!

Alewyn was 'n briljante student. In sy eerste jaar het dr. B Cholnoky (plantkunde) rondgeloop met Alewyn se antwoordstel en verklaar: 'Hier is nou 'n papier', tewyl hy ander gewaarsku het: 'Menere, julle sal sak soos bakstene!'.

Die eerste ses jaar van ons studie het maar redelik roetinegewys verloop. Ek en Alewyn was kamermaats vir 'n hele aantal jare. Hy was besonder belese en kon interessant gesels oor etiek en filosofie. Hy was versot op O Henry en Damon Runyon se kortverhale en het later John Steinbeck bewonder en gelees.

Sy ware potensiaal het gou na sy huis-dokterjare te voorskyn gekom en hy het kliniese assistent in neurologie geword. Hy het baie hoofstukke in akademiese boeke geskryf, bv. saam met prof. Ben Meyer (fisiologie). Hy was 'n gesogte mentor vir kliniese assistente in neurologie. Sover ek weet, was hy die eerste magisterstudent wat hierdie graad met lof geslaag het by Pretoria se Fakulteit Geneeskunde. Ironies genoeg is hy gediagnoseer met motorneuronsiekte, wat hom gou afgetakel het.

Hy was vir baie jare in vennootskap met dr. C Guldenpfennig ('Pennie') en het betreklik onlangs sy kliniese deel van die praktyk vaarwel geroep. Daarna het hy waardevolle werk gedoen as kundige met betrekking tot medies-geregtelike neurologies-verwante gevalle.

Alewyn was 'n betroubare mens vir wie ek grenslose agting gehad het. Hy het onbaatsugtige diens aan sy medemens verskaf. Hy was ook minsaam, met 'n wonderlike humorsin.

Ons klasmaats, met wie ons op dieselfde verdieping in die mediese koshuis gebly het, sluit in Frik Booysen en Johan van Wyk, internasionaal bekende lewerchirurg. Johan was ook later hoof van die Departement Chirurgie by Tygerberg Akademiese Hospitaal.

Alewyn was getroud met Elna de Villiers en hulle het drie kinders gehad. Sy was oorspronklik 'n plaasnooi - ook uiters intelligent - en 'n steunpilaar in sy lewe.

Ons harte gaan uit na Elna, sy gesin en sy familie. Ons sal Alewyn nie vergeet nie.

Prof. Ben Smit
2de Laan 22, Melkbosstrand, Wes-Kaap, Suid-Afrika bensmit@sonicwireless.co.za

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License