SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.101 issue12 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


SAMJ: South African Medical Journal

On-line version ISSN 2078-5135
Print version ISSN 0256-9574

SAMJ, S. Afr. med. j. vol.101 n.12 Pretoria Dec. 2011

 

CORRESPONDENCE

 

Afrikaanse geneeskunde-literatuurargief op Tygerberg

 

 

Aan die Redakteur: Tygerbergers vir die Behoud van Afrikaans in die Klaskamer (TBAK) is 'n studentevereniging op die Tygerbergkampus van die Universiteit van Stellenbosch (US). TBAK is 'n nie-politiese, nie-rassige organisasie wat die saak van Afrikaans namens studente op Tygerberg aanvoer. TBAK woeker binne 'n veranderende kampusomgewing wat betref taalsake en is trots om deel te kan wees van 'n kampus wat seer sekerlik die mees geïntegreerde universiteitskampus in Suid-Afrika is!

Hoewel TBAK ook 'n waghondfunksie verrig en gereeld met kampusleiers in gesprek tree oor sake wat met taal verband hou, fokus ons veel eerder op praktiese, inklusiewe projekte wat Afrikaans op alle terreine hier bevorder. TBAK vertaal klas- en studienotas, hou rondetafelgesprekke en het selfs vanjaar die kunstenaar Chris Chameleon genooi om vir Tygerberg te kom wys wat daar in Afrikaans steek!

Een van die projekte waarmee ons besig is, is die stigting van 'n Afrikaanse mediese literatuurargief. Die gedagte is om 'n visueel aantreklike, rustige area binne die US-Gesondheidswetenskappebiblioteek te skep, waar studente in die teenwoordigheid van die magdom Afrikaanse mediese literatuur wat oor die jare gepubliseer is, kan ontspan, kuier of studeer. Die area sal toegerus wees met boekrakke en vertoonkaste vir boeke, artikels, foto's of spesiale versamelings, sowel as 'n rekenaar waarop gedigitaliseerde kopieë van skaars of spesiale materiaal gestoor sal word.

Ons is op soek na Afrikaanse boeke, artikels, klasnotas, foto's, korrespondensie - basies enigiets wat met mediese Afrikaans verband hou. Ons weet dat baie van hierdie materiaal op die solders of boekrakke van medici stof vergader en ons wil dit besonder graag beskerm. Niemand is seker hoeveel Afrikaanse gesondheidswetenskappe-handleidings daar al gepubliseer is nie, maar daar is baie, en ons is van plan om kopieë van elkeen in die hande te kry!

Indien u ons op enige wyse kan help, deur die donasie van boeke of ander materiaal, verwysings na ander gesondheidswerkers wat kan help of enige ander ondersteuning, tree asseblief met ons in verbinding. Ons onderneem om enige materiaal wat geskenk word met die uiterste respek te hanteer en ook om volle erkenning aan skenkers te gee.

Om betrokke te raak, kan u TBAK kontak by tbak@sun.ac.za of direk in verbinding tree met die projek-koördineerder, Pieter-Paul Robbertse, by 076 824 5565. Ons sien uit daarna om van u te hoor!

 

Jasper van Zyl
Namens TBAK-bestuur 2011/12
tbak@sun.ac.za

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License