SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.101 número9Establishing liability for harm caused to patients in a resource-deficient environmentCommunicable disease epidemiology and control: a global perspective. 3rd ed índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


SAMJ: South African Medical Journal

versão On-line ISSN 2078-5135
versão impressa ISSN 0256-9574

SAMJ, S. Afr. med. j. vol.101 no.9 Pretoria Set. 2011

 

FORUM
IN MEMORIAM

 

Benjamin Spangenberg (1924 - 2011)

 

 

 

Ben Spangenberg is op 9 Januarie 2011, op 86-jarige ouderdom, skielik oorlede as gevolg van 'n miokardiale infarksie. Hy het die laaste 21 jaar van sy lewe in Kokanje in Nylstroom (Modimolle) gewoon.

Ben is op 12 Julie1924 in Paul Roux in die Vrystaat gebore, waar sy vader burgemeester was. Sy skoolloopbaan het begin in Kimberley, waar sy suster 'n verpleegsuster was. Hy matrikuleer in 1943 aan Grey Kollege in Bloemfontein.

Hy studeer aan die Universiteit van Pretoria en in 1949 behaal hy die MB ChB-graad - een van die tweede groep dokters wat aan hierdie inrigting die graad voltooi. Sy huisdokterjaar word verdeel tussen Duiwelskloof en Barberton, waarna hy die Diploma in Volksgesondheid met lof behaal voordat hy sy nagraadse studie in radiologie aan die Universiteit van Pretoria voortsit onder professor S F M Oosthuizen. Hy kwalifiseer in 1962 as radioloog en praktiseer daarna saam met drr. Chris Rabie en Willy Frank in Klerksdorp.

Later sluit dr. Hugo Hallatt, sy eertydse vennoot as algemene praktisyn in Petrusburg, asook drr. Piet Pieterse en Gerrit Bosman, by die praktyk aan. Uit hierdie praktyk het Ben se seun Albert, Chris Rabie se seun Jaap, Piet Pieterse se seun Willie, en Willy Frank se seun Jeremy hulle ook later as radioloë bekwaam.

Hierdie praktyk het 'n baie wye gebied bedien - radiologiese dienste vir privaat en staatspasiënte in staatshospitale vanaf Klerksdorp tot Lichtenburg en Mafikeng in die noordweste, Wolmaransstad in die weste, en Potchefstroom en Carletonville in die ooste. Die buite-areas is minstens een keer per week besoek deur een van die vennote en die praktyk het ook radiologiese dienste verskaf aan Klerksdorp Provinsiale Hospitaal.

Ben praktiseer in Klerksdorp as privaat radioloog vanaf 1963 tot 1989, waarna hy aftree en verhuis na Kokanje by Nylstroom waar hy tot en met sy dood woon. Na sy aftrede - tot op 76-jarige ouderdom - het hy steeds voortgegaan om op 'n sessie-basis radiologiese dienste te verskaf aan die staatshospitale in Warmbad en Nylstroom.

Gedurende sy loopbaan het hy voortdurend 'n intense belangstelling in radiologie behou en het hy die geweldige groot tegnologiese ontwikkeling in die veld beleef, vanaf fluoroskopiese ondersoeke tot mammografie, sonografie, rekenaartomografie en MR. Dit was vir hom opwindend om elke keer die nuwe tegnologie te bemeester.

Hy was bekend vir sy belangstelling in motors en meganiese dinge en was ook aktief betrokke by die ontwerp en uitbreiding van X-straal afdelings in verskeie hospitale in die streek.

Sy positiewe benadering tot die lewe was 'n groot inspirasie vir baie en hy sal altyd onthou word vir sy opgeruimde geaardheid en kwinkslae. Een van baie gesegdes wat direk met sy beroep verband hou, was 'n aanhaling uit die aanhef van een van sy radiologiehandboeke: 'Many a diagnosis is missed, not by not knowing what is in the book, but by not taking a look'.

Hy was 'n legende in die radiologie-wêreld en 'n wonderlike groot boom wat 'n groot skadu gegooi het.

Hy is in 1950 getroud met Gertruida Petronella Gezina Snijman (Truida). Sy is op 43-jarige ouderdom oorlede aan kanker. Uit die huwelik is vier kinders gebore: Johan (chirurg, Welkom), Albert (radioloog, Pretoria), Linda (tandarts, Potchefstroom) en Ben (meganiese ingenieur, Secunda).

In 1971 is hy getroud met Helena Catharina Venter (Elna) in wie hy 'n hegte lewensmaat gehad het. Vir ons sal sy nagedagtenis voortleef en was dit 'n voorreg om hom as eggenoot en vader te ken.

 

Johan Spangenberg, Albert Spangenberg, Linda du Toit, Ben Spangenberg en Elna Spangenberg

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons