SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.100 issue4Measles in antiquity and the middle agesLouis Frederik Coetzee (1940 - 2009) author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


SAMJ: South African Medical Journal

On-line version ISSN 2078-5135
Print version ISSN 0256-9574

SAMJ, S. Afr. med. j. vol.100 n.4 Pretoria Apr. 2010

 

FORUM
IN MEMORIAM

 

Christoffel Petrus (Staff) Pauw (09/05/1947 - 16/03/2009)

 

 

Staff Pauw, soos hy algemeen bekend was, is onverwags op 16 Maart 2009 oorlede.

Hy is op 9 Mei 1947 gebore in Plumstead as die tweede van drie kinders. In 1965 matrikuleer hy aan die Hoërskool Punt in Mosselbaai, waar sy vader skoolhoof was.

Na 'n diensplig-jaar as militêre loteling begin hy geneeskunde studeer aan die Universiteit van Stellenbosch waar hy 'n inwoner van Wilgenhof-manskoshuis was. Nadat hy gekwalifiseer het, werk hy eers as huisdokter en later as mediese beampte in o.m. Tygerberg, Paarl, George en Eben Dönges hospitale.

Staff is in 1975 getroud met Vivien Reyneke, en hulle het drie dogters gehad - Jeanne, Nina en Christelle.

In 1979 word Staff 'n vennoot van drr. Alan Blyth en Johan Uys se algemene praktyk in Ladismith. Hy was toe reeds 'n gryskop en het die wysheid van die grysheid gehad. Sy mensekennis, mediese vaardighede en jarelange ondervinding het hy graag gedeel. Staff was 'n dokter van die 'ou skool'. Hy kon alles doen - van narkose tot chirurgie tot obstetrie. Hy was die een vir wie ons in moeilike situasies geraadpleeg het vir hulp en raad. Hy het 'n voorliefde gehad vir chirurgie en het menige inguïnale breuke herstel, karpale tonnelsindrome geopereer, hidrosele gedreineer, mangels uitgehaal, frakture geplaat en keisersnitte gedoen.

Staff se pasiënte was vir hom besonder belangrik. Elke bevalling wat hy gehanteer het, het hy opgeteken en jare later die kinders (toe al volwassenes) gebel op belangrike verjaardae. Deeglikheid was nog 'n kenmerk van Staff. Hy het nie halwe werk geduld nie, en wee jou as daar spelfoute in jou notas was of jou handskrif onleesbaar was! Hy was 'n toegewyde dokter, en vir baie pasiënte was hy ook hul vriend en vertroueling.

Staff het van jongs af uitgeblink in sport, en rugby en krieket gespeel vir Wilgenhof en Medies.

Tot in sy vyftigerjare het hy nog vir die Ladismith-dorpspan krieket gespeel, maar toe die wilgerlat vir golfstokke verruil en ook in golf uitgeblink. Staff se ander groot liefde was filatelie - hy het 'n omvattende versameling seëls opgebou. Hy was vir 19 jaar voorsitter van die beheerliggaam van Hoërskool Ladismith.

Kort na sy 60ste verjaardag in 2007 het Staff besluit om 'af te tree' en Suid-Afrika tydelik vir Kanada te verruil om in Creston, BC, by 'n algemene praktyk aan te sluit. Selfs in die verre vreemde het Staff vinnig diep spore getrap en baie pasiënte en dorpenaars se lewens aangeraak.

Staff was op besoek in Suid-Afrika vir sy dogter, Nina, se troue toe hy 'n stil diep-veneuse trombose opgedoen het - waarskynlik vanweë die lang vlug - en 'n pulmonale embolus tot sy skielike dood gelei het.

Ons groet 'n toegewyde kollega en goeie vriend. Aan Vivien, Jeanne, Christelle, Nina en Gert - ons diepe meegevoel met jul verlies.

 

Jaco Denkema
Pieter Blignaut

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License