SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.100 número2Partial flap avulsion following refractive surgeryTshimbi Mathivha (October 1961 -December 2009) índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


SAMJ: South African Medical Journal

versión On-line ISSN 2078-5135
versión impresa ISSN 0256-9574

SAMJ, S. Afr. med. j. vol.100 no.2 Pretoria feb. 2010

 

SAMJ FORUM
IN MEMORIAM

 

Teomar Heyl (15 Januarie 1931 12 September 2009)

 

 

Op 12 September 2009 sterf Teo Heyl na 54 jaar se toewyding aan akademiese geneeskunde en privaat praktyk, en eindig 'n tydperk waarin hy diep spore in die dissipline dermatologie getrap het.

Teo matrikuleer aan die Hoër Volkskool, Heidelberg, Transvaal. In 1955 behaal hy die graad MB ChB aan die Universiteit van Pretoria, in 1963 die graad MMed (Derm) aan die Universiteit van Stellenbosch, en in 1969 die graad MD - ook aan die Universiteit van Stellenbosch - met 'n proefskrif oor die genealogie van lipied-proteïenose in Suid-Afrika. In 1963 werk hy by die Zuidwal Ziekenhuis in Den Haag, Nederland, en in 1964 is hy 'n kliniese assistent by die St John's Hospital for Diseases of the Skin, Londen. Van 1965 tot 1969 is hy lektor en senior lektor in die Departement Dermatologie, Universiteit van Stellenbosch. Van 1970 tot 1979 is hy in privaat praktyk in Pretoria. In 1979 word hy professor en hoof van die Departement Dermatologie van die Mediese Universiteit van Suidelike Afrika (MEDUNSA) en in 1987 word hy benoem as dekaan van die Fakulteit Geneeskunde van hierdie Universiteit. Teo beklee albei poste tot 1992.

Hierna tree hy weer toe tot privaat praktyk in Pretoria en van 1993 tot 1996 is hy konsultant-dermatoloog by 1 Militêre Hospitaal. Vanaf 1996 tot 2000 is hy konsultant-dermatoloog by Grantham Hospital en die United Lincolnshire Hospital Trust. Hy word benoem as ere-tutor in dermatologie aan die Mediese Fakulteit, Universiteit van Leicester.

Na sy terugkeer na Suid-Afrika beoefen hy deeltyds privaat praktyk met dr. Hardy de Beer van Pretoria. In 2002 is hy vir 'n tydjie locum by die United Lincolnshire Hospital NHS Trust.

Teo was baie lief vir sy vakgebied en lewer 'n waardevolle bydrae tot die ontwikkeling van die departemente dermatologie aan die Universiteit van Stellenbosch en MEDUNSA, waar hy voor- en nagraadse studente oplei en 'n belangrike rol speel in my vorming as dermatoloog. Hy was lid van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, en van die Dermatologiese Vereniging van Suid-Afrika, waar hy 10 jaar op die Uitvoerende Komitee gedien het, waarvan 2 jaar as president. Hy was ook 'n buitelandse lid van die British Association of Dermatologists en die Dowling Club, en 'n Fellow of the Royal Society of Medicine, Londen.

Teo lewer 'n aktiewe bydrae by oorsese kongresse en die jaarlikse kongresse van die Dermatologiese Vereniging van Suid-Afrika, asook by verskeie simposiums en lesings aan algemene praktisyns. So lewer hy meer as 19 referate. Hy het ook 26 artikels geskryf in die SAMJ en in internasionale dermatologie-joernale. Hy was gasredakteur vir volumes 31 en 32 van Medicine SA. Hy en ek publiseer in 1991 die eerste dermatologie-handboek in Afrikaans in Suid-Afika - Dermatologie vir Suider-Afrika (Butterworths, Durban). Die boek is ook in Engels gepubliseer - Dermatology for Southern Africa.

Hy was 'n baie vriendelike mens met 'n kalm geaardheid en het sy professie met groot onderskeiding gedien. My 43-jarige vriendskap met hom het waarlik my lewe verryk.

Hy was getroud met Diane (née De Villiers) wat hom op 26 Oktober 2007 ontval het. Ons meegevoel gaan uit na die kinders Jan, Genee, Liane, en kleinkinders.

 

Edgar Swart

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons