SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.99 issue4 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


SAMJ: South African Medical Journal

On-line version ISSN 2078-5135
Print version ISSN 0256-9574

SAMJ, S. Afr. med. j. vol.99 n.4 Pretoria Apr. 2009

 

SAMJ FORUM
IN MEMORIAM

 

 

Johan de Beer

 

 

 

Dr. Johan de Beer is op 18 November 2008 op Somerset-Wes oorlede. Hy was 'n merkwaardige kollega wat die grootste deel van sy lewe aan die beoefening van doeltreffende gesondheidsadministrasie gewy en die hoogste sport bereik het.

Gebore in die distrik Somerset-Oos, het hy aan Boksburg Hoërskool gematrikuleer, en in 1951 die graad MB ChB aan die Universiteit van die Witwatersrand behaal. 'n Internskap in Bloemfontein is opgevolg deur 3 jaar algemene praktyk in Bethlehem, waarna hy op 29-jarige leeftyd aangestel is as Mediese Superintendent van Voortrekker Hospitaal, Kroonstad. In 1959 onderneem hy 'n buitelandse toer van 6 maande om die beginsels van hospitalisasie te ondersoek. Twee jaar later begin sy loopbaan in die staatsdiens toe hy as Adjunk-direkteur, Vrystaatse Hospitaaldiens, na Bloemfontein verhuis. Twee jaar daarna word hy bevorder tot Direkteur, en daar volg 8 jaar van energieke vernuwingsinisiatiewe in die Vrystaatse Hospitaaldiens. Hy was o.m. indringend betrokke by die gesamentlike aksie van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (nagraadse beplanningskomitee), Universiteit van die Vrystaat, en die Provinsiale Administrasie om 'n Geneeskunde Fakulteit vir die Vrystaat te beding. By die verkryging hiervan in 1969 het hy in tweeledige kapasiteit as Direkteur van die Hospitaaldiens en lid van die UOVS-raad 'n beslissende rol gespeel by die beplanning en vestiging van die Geneeskunde Fakulteit en die bou van die nuwe akademiese hospitaal. As waardering hiervoor het die Fakulteit in 2005 'n spesiale medalje aan hom oorhandig.

Met sy bevordering tot Sekretaris van Gesondheid in 1972 het Johan de Beer se toetrede tot die nasionale gesondheidsfeer begin. Oor die volgende l2 jaar was hy by vele deurslaggewende inisiatiewe betrokke, o.m. die promulgering van 'n nuwe gesondheidswet in 1977, die organiseer van 'n nasionale gesondheidsjaar in 1979, die instelling van 'n drieledige personeeldiensstaat (staat, provinsie, universiteit) by geneeskundefakulteite, die vestiging van gemeenskapsgesondheid as volledige spesialisme, en die uitskakeling van alle personeel-rassediskriminasie in die gesondheidsdienste. In 1980 word hy lid van die Kommissie vir Administrasie, en met sy bevordering tot voorsitter van hierdie Kommissie in 1984 word hy die staat se mees senior staatsamptenaar. Hierdie erkenning was inderdaad gepas en 'n beloning vir 'n lewe van volledig onbaatsugtige diens in staatsbelang. Johan het geweier dat enige staatsgebou of -struktuur ooit na hom vernoem word. Hy het in uiters moeilike tye die leisels oorgeneem, met die promulgering van 'n nuwe grondwet en instelling van die driekamer-parlement. In retrospek was hierdie 'n uiters belangrike oorgangsfase in ons land se ontwikkeling tot volle demokrasie, en was Johan die regte persoon op die regte tyd. Vertrou deur politici sowel as die amptenary, het hy tot sy uittrede in 1989 die staatsdiens verstandig gelei. Eretoekennings in die tyd ontvang, het ingesluit die Salusmedalje (goud), Eregenootskap (gemeenskapsgesondheid) van die Suid-Afrikaanse Kollege van Geneeskunde, en die Orde vir Voortreflike diens (goud).

Na sy aftrede het hy homself grotendeels uit die openbare lewe onttrek, maar was nog lid van o.m. die Kwotaraad vir Seevisserye, direkteur van maatskappye, en lid van die Pretoria-universiteitsraad. Ongelukkig het verergerende gesondheidsprobleme sy aktiwiteite begin beperk - veral rugprobleme wat tot verskeie groot operatiewe ingrepe gelei het. Mettertyd het hy hom gevestig in 'n rustige aftree-oord in Somerset-Wes, gekoester deur familie en vriende. Op die rype ouderdom van 80 jaar is hy na kardiale chirurgie oorlede.

Ons opregte meegevoel gaan uit na sy geliefde vrou Annalee, drie kinders, skoonkinders en kleinkinders.

 

François Retief

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License