SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.98 número3 índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


SAMJ: South African Medical Journal

versión On-line ISSN 2078-5135
versión impresa ISSN 0256-9574

SAMJ, S. Afr. med. j. vol.98 no.3 Pretoria mar. 2008

 

OBITUARIES

 

Johannes Daniel Visser

 

 

Krynauw Cilliers; Clyde Keevy; Etienne Theron

 

 

Jan Visser is op Keetmanshoop, Namibië, gebore en het op die plaas Klipoptel in die distrik Karasburg grootgeword. Sy eerste skool was 'n plaasskool, maar sy hoërskooljare het hy op Upington en later op Lady Grey (Oos-Kaap) deurgebring, waar hy op 16-jarige leeftyd matrikuleer. Na 'n jaar aan die Universiteit Stellenbosch, skryf hy by die Universiteit van Kaapstad in vir die graad MB ChB, wat hy in 1942 behaal.

Na sy internskap in Pietermaritzburg, en tydperke as mediese beampte en algemene praktisyn, begin hy as kliniese assistent in chirurgie aan die Universiteit van Pretoria onder professor Besselaar en dr. Carl Schulenburg, en verwerf die MCh-graad in Julie 1949.

In Oktober 1951 begin hy 'n privaat chirurgiese praktyk in Kimberley. Oor 'n periode van 27 jaar bewys hy hom hier as 'n besondere mens, geneesheer en chirurg wat by sy kollegas groot agting afdwing.

Jan Visser het 'n reguit pad met almal geloop, en met sy besondere talente, waaronder 'n mooi sin vir humor en respek vir menselewens, 'n gewaardeerde plek in die gemeenskap ingeneem. Hy word geken as 'n voortreflike diagnostikus en uitstekende chirurg wat altyd sy beste gegee het vir sy pasiënte. Hy was streng en gedissiplineerd in die teater, soos ouer verpleegsters kon getuig, en tegnies sekuur en deeglik. Eie gewin was van minder belang en sy pasiënte se welvaart het altyd voorrang geniet.

Akademies het hy met nuwe ontwikkelings op sy vakgebied tred gehou en, op grond van persoonlike kliniese navorsing en gevallestudies, verskeie voordragte by kongresse gelewer, o.m. oor 'Ware knoop in die derm' en 'Etiologie van die ranula'.

Met sterk leierseienskappe en onbaatsugtige naastediens, het hy en sy vrou Susan, wat hom deurgaans getrou bygestaan het, die burgemeesterspaar van Kimberley geword gedurende die eeufeesjare. As stadsraadslid en sterk Afrikaner het hy sy plek volgestaan en alle vlakke van die gemeenskap gedien.

In April 1978 verhuis hy na Bloemfontein en sluit aan by die Departement Chirurgie, Universiteit van die Vrystaat, waar hy met groot entoesiasme deelneem aan die akademiese bedrywighede en opleiding van voor- en nagraadse studente. Endoskopiese diagnostiek en terapie was sy spesiale belangstelling, en in hierdie nuwe veld doen hy baanbrekerswerk met die opleiding van nagraadse studente. Hy inisieer ook die eerste, indringende, endoskopiese gastroënterologiese prosedures in die Vrystaat.

In Bloemfontein is hy gewaardeer as 'n opregte, eerlike en toegewyde vriend en kollega en was vir almal rondom hom 'n besondere inspirasie. Hy was 'n sterk voorstander van die suiwer gebruik van Afrikaans en Engels deur kollegas en studente.

In 1991 tree hy af nadat makulêre degenerasie dit vir hom moeilik gemaak het om met akademiese werk voort te gaan. In 2000 verhuis hy en Susan na Pretoria. In 2007, na 'n kort siekbed, bereik hy die einde van 'n lang en vrugbare lewe.

Ons eer sy nagedagtenis: 'Stil broers - daar gaan 'n man verby'.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons