SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 número2Of libraries, books, and reading: A journey of meaning makingStephen Gray (1941-2020) índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Letterkunde

versão On-line ISSN 2309-9070
versão impressa ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.60 no.2 Pretoria  2023

http://dx.doi.org/10.17159/tl.v60i2.16916 

BOOK REVIEWS

 

Vuurvoël

 

 

Elmarie Viljoen-Massyn.
Kaapstad: Human & Rousseau, 2023. 271 pp.
ISBN 9780798183406.

Elmarie Viljoen-Massyn het reeds as digter in Nuwe stemme 6, New contrast en Stanzas gepubliseer. Sy betree die prosagenre met haar onlangse debuut, Vuurvoël, 'n roman waarin die tema van geheimenisse behendig in die veelvuldige spannende storielyne verpak en ontrafel word: "Vir mense wat deur hulle geheime verswelg word, lyk heuwels steiler en afstande langer-letterlik. Geheime word gehou, dit word 'n las wat op die skouers gedra moet word, wat die geheimhouer wil afgooi" (158).

Stella Mertens het brandende vrae waarmee sy Mark Dejongh, een van haar base by die kliniese-navorsingsorganisasie, Experior, wil konfronteer. Danksy Mark se vennoot se seun, Riaan Steytler, kom sy egter op veel meer af as waarop sy gereken het. Riaan is in die greep van 'n Serwiese dwelmkartel met die brutale klubbaas Branko aan stuur van sake. Die twee Kongolese broers, Alain en Eric, is ook in hul onderskeie hoedanighede nou betrokke by Experior én die kartel, en die skynbaar oninteressante kroegvrou by Rusty's Pub & Grill het eintlik 'n onheilspellende verlede. Die hoofstorielyn speel af vanaf 1 tot 13 Augustus 2019 in hoofsaaklik Bloemfontein, maar daar is ook 'n transnasionale element teenwoordig in die vorm van stede soos Brussel, Chicago, Kaapstad, Kinshasa en Ramsgate wat elk 'n spesifieke rol in die verhaal speel.

Die titel van die misdaadroman verwys interessant genoeg nie na die feniks in die Egiptiese, Griekse en Arabiese mitologie, soos wat 'n mens aanvanklik sou aanneem nie, maar eerder na die vuurvoël, oftewel die Zjar-ptitsa, wat in die Slawiese mitologie figureer. Dié voël word soos volg in die roman beskryf: "Die vuurvoël is 'n simbool van die begin van 'n lang of moeilike reis, of 'n skat wat moeilik is om te vind, of te behou as jy dit eers gevind het" (179). Hierdie mitologiese voël word ook direk teenoor die feniks, en op verrassende wyse ook die legendariese martelaar Jeanne d'Arc, opgestel. Die grootste verskil tussen die twee voëls is dat die feniks vasgevang is in 'n eindelose siklus van sterfte en herrysing, terwyl die vuurvoël nie aan hierdie siklus onderworpe is nie. Dit wil voorkom of Stella, as (getatoeëerde) beliggaming van die vuurvoël, probeer om die siklus van skisofrenie waarin haar moeder met die sogenaamde Chinese vuurpersoonlikheid vasgevang was, te verbreek. Hierdie persoonlikheidstipe word gekenmerk deur "warmte en entoesiasme" maar veroorsaak ook "aggressie, ongeduld, impulsiewe gedrag" en "te veel hitte kan branding veroorsaak, soos die negatiewe emosies van haat" (103). Dié beskrywing resoneer met die tragiese gebeure van Maart 2006 wat later in die roman aan bod kom. Stella se eie reis van (self) ontdekking is moeisaam, en die leser kan nie anders as om algaande empatie met haar te ontwikkel nie. Iets wat wel nie heeltemal met haar persoonlikheid strook nie, is Stella se romantiese/fisieke aangetrokkenheid tot Mark. Hierdie aangetrokkenheid voel geforseerd en minder geloofwaardig weens Mark se reuse-aandeel in Stella se traumatiese grootwordjare. Die roman sou na my oordeel selfs meer vaartbelyn wees sonder hierdie laag.

Van meet af aan is dit duidelik dat die gebeure in die roman voortsnel deur die 53 kort hoofstukke wat vinnig op mekaar volg en ongetwyfeld tot die spanning in die roman bydra. Omdat die hoofstukke dikwels op verskillende plekke en in verskillende, dog spesifieke, tydvakke afspeel, verg dit die leser se onverdeelde aandag om nie in die verhaalgegewens verlore te raak nie. Viljoen-Massyn wéét hoe om terugflitse as uitsteltegniek effektief aan te wend om spanning te skep, maar ook om die karakters se herinneringe aan die leser te openbaar. Sy slaag voorts daarin om werklike plekke en farmaseutiese instansies met fiksionele plekke en instansies te vervleg, wat ook tot die spanning bydra omdat die leser nie altyd weet wat werklik en wat fiktief is nie. Daar is wel 'n vrywaring aan die einde van die roman wat kan help om lesers ten opsigte hiervan te oriënteer.

Viljoen-Massyn bewerkstellig verder spanning deur die jukstaponering van medikasie en dwelms, geloof en bygeloof, etiek en korrupsie, liggaam en siel, siekte en genesing, lewe en dood, en dié wat het teenoor dié wat nie het nie. Onderliggend hieraan is komplekse ouer-kind-verhoudings wat deur byna al die karakters ervaar word. Wat aktuele kwessies betref, is dit veral die veelkantige probleem van onwettige immigrante wat opval. Branko verwoord die resultaat van hierdie eietydse dilemma baie duidelik wanneer hy aan Alain sê: "In ons eie land kan ons nie bly nie. In 'n ander land wil die mense ons nie hê nie. Om te oorleef is daar geen reguit pad vir ons nie" (88). Viljoen-Massyn skryf egter nie aan die leser voor hoe daar oor sekere kwessies gedink en gevoel moet word nie-veel eerder beskryf sy bloot dit wat almal daagliks in die nuus waarneem of aan eie liggaam beleef.

Benewens die vele mitologiese verwysings in die roman, is daar ook intertekstuele verwysings na die digters Sheila Cussons en Ingrid Jonker, sowel as die Belgiese digter Charlotte van den Broeck. Die hele roman is trouens geskoei op deeglike navorsing oor onder meer brandwonde en letsels, catch fétiche, die Demokratiese Republiek die Kongo, kliniese studies en die farmaseutiese bedryf, Serwië, skisofrenie en sielkunde, tatoes, uitsmyters en die vuurvoël. Omvattende navorsing lei uiteraard tot meer geloofwaardige karakters, ruimtes en gebeure, maar 'n ooraanbod kan steurend word wanneer dit die narratief belemmer. Die uitgesponne beskrywings van die Kongolese catch fétiche-voedoegevegte in hoofstukke 19 en 41, sowel as die uitgebreide verduidelikings van die werking van kliniese navorsing en farmaseutiese studies regdeur die roman, is voorbeelde hiervan.

Hoewel die verskillende spanningslyne die leser van die begin af meesleur en weldra opbou tot 'n hoogtepunt, kry 'n mens tog die indruk dat die ontknoping in die laaste hoofstukke té snel geskied. Wanneer daar heelwat tyd en aandag van die leser vereis word, behoort die einde 'n afgerondheid te toon wat myns insiens tot 'n mate hier afwesig is. Die probleem is nie soseer die oop einde nie, maar veel eerder die saamgepersde, selfs abrupte aanbieding daarvan.

Desnieteenstaande kan Vuurvoël beskou word as 'n fyn geweefde tydsdokument waarin die komplekse netwerk van onderlinge verbande en verhoudings die leser sal boei. Hierdie debuut vul voorts ook gapings in die Afrikaanse misdaadfiksie waarin die kompleksiteite van die hedendaagse farmaseutiese bedryf as onderwerp nog nie genoegsaam ontgin is nie. Uit hoofde van Viljoen-Massyn se nering as vryskuttaalpraktisyn vir onder meer uitgewers van literêre tekste, is dit vanselfsprekend dat die taalgebruik in en tegniese versorging van die roman van hoogstaande gehalte is.

Stefan van Zyl

drstefanvanzyl@gmail.com
Navorsingsgenoot: Nelson Mandela Universiteit
Pretoria, Suid-Afrika
ORCID: https://orcid.org/0000-0002-3276-9354

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons