SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 número2Tradition and subjectivities: Warri-related comedians and their artOf libraries, books, and reading: A journey of meaning making índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Letterkunde

versão On-line ISSN 2309-9070
versão impressa ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.60 no.2 Pretoria  2023

http://dx.doi.org/10.17159/tl.v60i2.17284 

BOOK REVIEWS

 

Ons skulde

 

 

P. P. Fourie.
Kaapstad: Queillerie, 2023. 263 pp.
ISBN 9780795710834.

In 2021 debuteer P. P. Fourie met 'n Hart is so groot soos 'n vuis, 'n bildungsroman wat handel oor 'n kind se trauma binne 'n disfunksionele gesinsopset waarin beide hy en sy ma onderwerp word aan sy alkoholis-pa se mishandeling. Hierdie temas van alkoholisme en gesinsgeweld keer terug in Fourie se tweede roman, maar waar 'n Hart is so groot soos 'n vuis op 'n literêr-abstrakte wyse met hierdie onderwerpe omgaan deur middel van gefragmenteerde vertellings, is Ons skulde 'n meer plotgedrewe, toegankliker raaiselroman.

Vanuit die staanspoor word die leser gekon-fronteer met vrae waarvoor daar tot heel aan die einde antwoorde gesoek word, sodat die spanning telkens breekpunt bereik, en 'n mens koorsagtig van hoofstuk tot hoofstuk lees om agter die kap van die byl te kom. Wie is die kind wat in die proloog in 'n motor vasgekeer is? Wat is die werklike rede vir Simon se selfdood? Hoe het Olivier verdwyn? Deur wie word Vera geteister?

Die antwoorde op hierdie vrae is nie voor die hand liggend nie en gevolglik moet die leser sy/haar lyf speurder hou om saam met die hoofkarakter die raaisel stukkie vir stukkie te ontrafel. Fourie het dus 'n uiters geslaagde raaiselroman geskryf-die gebeure is grotesk, misterieus en boonop wraakgedrewe. Net soos wat die teisteraar sy/haar misdade fyn beplan, het die skrywer ook moeite gedoen met dié roman se verwikkeling en onverwagse ontknoping, sonder om die leser met opset op onnodige afdraaipaadjies te lei.

Wanneer Emma Lindgren haar man Simon van haar buite-egtelike verhouding met een van haar medewerkers inlig, loop hy (letterlik) voor 'n bus in. Om klarigheid oor sy dood te kry, gaan strooi Emma sy as in Clarens, die plek waar hulle wittebrood twaalf jaar gelede was, en waar Simon se eksentrieke alkoholis-tante, Vera, in 'n ou sandsteenhuis woon. Emma gaan by Vera tuis en kom weldra agter alles is nie pluis nie. Elke jaar, op dieselfde datum, ontvang Vera 'n koevert met 'n raaiselagtige inhoud, waarna daar telkens iets makaber gebeur. Dié insidente eskaleer jaarliks in grusaamheid. Emma, Vera en Danie, 'n sagaardige weeskind wat Vera onder haar vlerk geneem het, probeer uitpluis wie vir hierdie dade verantwoordelik is, totdat 'n ysingwekkende gebeurtenis hulle tot stilstand ruk, en hulle noodgedwonge die polisie se hulp moet inroep. Dit is dus moontlik dat Fourie se teks ook as 'n speurroman gesien kan word, wat klassifiseerbaar is onder spanningslektuur.

Dieperliggend gaan dié roman oor die las van skuld, oor berou, boetedoening en vergifnis, maar ook oor onvergifnis en wraakgierigheid. Die boek se titel is geneem uit die Onse Vader, soos opgeteken in Matteus en Lukas: "[V]ergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe [...]", waarmee die roman dan ook afgesluit word. Die titel is 'n skulderkenning, 'n (ironiese) belydenis van sonde, 'n erkentenis van aandadigheid in die wêreld se boosheid, maar ook 'n versoek om vergifnis. Om oor jou skulde te bieg, is egter nooit eenvoudig nie, want die aard van "sonde" is kompleks. Wat gaan die gevolge van jou bekentenis wees? Vergifnis? Wraak? Of gaan die persoon teenoor wie jy bieg daardeur vernietig word? En: Wie het die reg om te besluit wat sonde is? Wie mag die eerste klip gooi?

Ons skulde se eerste hoofstuk word ingelei deur die stelling: "Emma Lindgren is 'n sondaar". Die leser word egter reeds in die roman se epigraaf voorberei op hierdie skulderkentenis, deur 'n aanhaling uit Nathaniel Hawthorne se Scarlet Letter (1850), 'n roman wat gaan oor 'n vrou se buite-egtelike verhouding met 'n geestelike by wie sy swanger raak. Gevolglik moet sy 'n geborduurde letter "A", wat vir "adultery" staan, op haar klere dra. Sy word derhalwe gebrandmerk as "sondares", 'n vrou wat 'n Godsman verlei het.

In Fourie se roman is dit Emma wat haarself as egbreker sien, terwyl Vera Steyn deur die dorpenaars as 'n owerspelige vrou gebrandmerk word. Vera, wat nog altyd op haar eie terme geleef het, "[b]evryd van die engheid en reëls en die maklike oordeel van ander [.]" (92), wys egter op die gemeenskap se dubbele standaarde, dat mans en vroue nie oor dieselfde kam geskeer word wanneer dit kom by ontrouheid nie: "Die blerrie hypocrites. Tweegesig-heiliges, sit Sondae in die kerk terwyl hulle eie lewens vol korrupsie en wreedheid is. As ek 'n man was, sou ek beskou word as 'n wáre man. Die mans in die dorp wat rondfok kry spelerige bynaampies. Koekdief de Jager. Ou Piet-Piel. Mense glimlag goedig oor hulle. Maar ek? Ek word Vera die slet" (92). Hierdie aanhaling illustreer dat vroue swaarder aan hulle skuldlas dra as mans, asook swaarder daarvoor gestraf word.

Die beperkinge waaraan die vrou (selfs vandag nog) onderwerp word, kom gedurig in Ons skulde onder loep. Emma voel sy is verplig om die "argetipiese rolle" (58) van treurende weduwee en berouvolle egbreker te speel, want dit word van haar as vrou verwag. Vera, wat spottenderwys na haarself as "net 'n mal ou tannie met 'n koekblik" (126) verwys, word deur die dorp gestraf omdat sy as vrou nie "met grasie" oud word nie: "[H]ulle behandel jou soos 'n omgewaaide plaaskakhuis.

Veral vrouens, veral wanneer ons ouer word. En as jy nie die feit dat jy oud word met sogenaamde grasie omhels nie, as jy nie jou eie onsigbaarheid aanvaar en sjarrap nie, dan word jy gestraf daarvoor dat jy durf ma aandring daarop om 'n individu te bly" (87).

As jong vrou word Vera as "histeries" gesien, en noudat sy oud word, word sy as 'n "mal ou teef" (106) beskou, iemand wie se pleidooie om na haar verdwene seun te gaan soek, deur die patriargale gereg geïgnoreer word. Hierdie tema van die ouerwordende vrou se "onsigbaarheid" word deur middel van Vera se (dikwels platvloerse) uitinge met sardoniese humor in Ons skulde hanteer, sodat dit nooit te swaarwigtig raak nie.

Danksy Fourie se atmosferiese milieubeelding word die Vrystaatse platteland helder voor die gees nab geroep. Gevolglik word die omgewing 'n psigologiese ruimte, 'n meespeler in die verhaal. Ons skulde is daarom hoogs verfilmbaar, met al die intertekstuele verwysings na musiek-Górecki se Symphony of Sorrowful Songs, Rimski-Korsakof se Antar, ensovoorts-as 'n soort "klankbaan" vir die roman.

Ons skulde is nie net 'n meesleurende spannings- fot verhaal wat die leser aan die raai hou nie, maar stem kyk jou ook tot nadenke oor die prys van wraaklus, die waarde van boetedoening en vergifnis, en die fiksie van belewenis en herinnering. Raaiselromans soos dié, met 'n boeiende plot, sterk karakterisering en literêre diepgang, is 'n welkome bydrae tot die Afrikaanse literatuur.

Gerda Taljaard-Gilson

gerdagilson@gmail.com
Onafhanklike navorser
Pretoria, Suid-Afrika
ORCID: https://orcid.org/0000-0003-4911-1150

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons