SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 issue2Narrating the Ugandan nation in Mary Okurut's The Invisible WeevilTradition and subjectivities: Warri-related comedians and their art author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.60 n.2 Pretoria  2023

http://dx.doi.org/10.17159/tl.v60i2.17283 

BOOK REVIEWS

 

Geheim van die gruwelsand

 

 

Zirk van den Berg.
Kaapstad: Kwêla Boeke, 2023. 279 pp.
ISBN 9780795710346.

Barrabas Dawid Nel-beter bekend as Barra-bevind hom in sy ou skoolvriend, luitenant Hennie Koorts, se Windhoek'polisiekantoor. Dit is 1942 en die polisie is reeds 'n paar weke op soek na Barra. Hy is 'n 26-jarige diamantsmokkelaar, maar die polisie is nie op soek na Barra vir sy smokkelary nie. Barra word aangekla vir die verkragting en moord op Mynie Tredoux. Eindelik terug na maande in die Namib-woestyn, het hy homself aan Koorts oorgegee met 'n storie oor gruwelgedaantes wat uit die sand oprys, verwek deur twee Nazi-wetenskaplikes wat in samewerking is met kolonel Jaap van Arkel, tweede in bevel van die Suidwes-polisie.

Geheim van diegruwelsand is die nuutste "skop-skiet-en-wonderstorie" deur skrywer Zirk van den Berg. Met 'n oeuvre ryk aan misdaadromans, en 'n geskiedenis met misdaadverslaggewing, skryf Van den Berg 'n spanningsverhaal wat die leser meesleur deur die opwindende spel van verskeie genres. In hierdie roman beweeg die verhaal van Barra Nel met gemak tussen riller- en misdaadfiksie na wetenskapsfiksie-verweef met 'n liefdesverhaal.

Die eerste leidraad aan die leser dat hierdie nie net 'n gewone misdaadsroman is nie, word bekendgemaak wanneer Barra Nel "vir byna die volgende uur worstel [...] met die outydse Engels in Frankenstein" (12). Frankenstein gee nie net die leser die nodige leidraad nie, maar skep funksioneel die afwagting van dreigende monsters wat Barra, en die wereld om hom, geheel en al kan vernietig.

Die oorhoofse milieu van hierdie roman is die Namib-woestyn. Die woestyn word uitgebeeld as 'n geharde, geïsoleerde ruimte waar daar min lewe is. Dít is hoekom die Duitse prof. Grohmann die Namib uitgesoek het om sy eksperiment van mimikules (molekules wat lewende organismes naboots) te toets. Die mimikules sal later, indien Grohmann suksesvol is, gebruik word deur die Nazi's om die bomskade in Rusland om te keer, sodat Duitsland landskappe wat vernietig is, weer kan bewoon.

Die historiese feitlikheid in hierdie roman is egter nie van ware belang nie-nog minder die sukses van Duitsland in die oorlog. Geheim van die gruwelsand gaan eerder oor Barra en Hedda. Hedda is die beeldskone assistent van Grohmann. In ruil vir sy stilte oor haar betrokkenheid by 'n ondergrondse weerstandsbeweging, moet Hedda vir Grohmann ondersteun op allerlei maniere-nie net in sy laboratoriumtent nie, maar ook om ontslae te raak van die seksuele frustrasie wat hy in die laboratorium opbou. Hedda-aanvanklik die stereotipiese femme fatale-word vinnig onthul as die hulpelose slagoffer wat Barra heldhaftig moet red.

Barra ken die woestyn. Dit is daarom dat hy die teiken van Jaap van Arkel se Nazi-samewerking met Grohmann is: hy weet hoe om die duine uit te ry, ken die woestyn se geheime insekte, besef die aard van die Namib se verwoestende storms, en kan bowenal die woestyn oorleef. Die woestyn is egter nie altyd vir Barra die verwoestende, onbekende en vreesaanjaende ruimte wat dit vir Hedda en die leser is nie. Die woestyn is immers waar Barra skuil, waar hy homself en sy geliefde Hedda vind, en waar hy kan oorgee aan sy wellus vir Hedda.

Zirk van den Berg se roman is veelomvattend. Die verbintenis tussen mens en niemenslike, sowel as die uitbeelding en metaforiese beskrywing van die milieu wat letterlik 'n lewe (en fisiese figuur) van sigself word, is ryp vir analise binne verskeie velde, soos die ekokritiek en die postkoloniale ekokritiek.

Wat egter uitstaan is die moontlike interpretasie van die roman vanuit die psigoanalise. Teen die einde van die roman met die uiteindelike konfrontasie tussen Jaap, Barra, Hedda en die mimikules, boots Hedda vir Barra na. Die dubbelspel van wat byna weerspieelende karakters blyk te wees, bring psigoanalitiese konsepte soos dié van die ego en superego na vore. Die vroulike minnaar wat nou die manlike self word, kan ook met 'n psigo-feministiese lens geanaliseer word.

Verder is die komiese, hoewel met tye vulgêre, nabootsing van die abjekte (byvoorbeeld met die mutasie van mens tot ontlasting) ideaal vir analise binne abjekteorie, veral uit die oogpunt van Julia Kristeva se Powers of Horror (1980). Nie net is daar sprake van die mens wat ontlasting word nie, maar daar is ook deurgaans verwysing na die verrotting van liggame. Die manier waarop Van den Berg die abjekte beskryf, met die vermoe om die léser te walg en terselfdertyd te laat lag, herinner aan die merkwaardige taalspel in Mariene van Niekerk se Triomf (2004).

Geheim van die gruwelsand is taalkundig 'n plesier om te lees, met dialoog wat vloei en taalgebruik wat skeppend en komies is. Die karakterontwikkeling en beskrywing van die milieu betrek die leser. Die plot is ingrypend en die temas en genre bied vele moontlikhede vir literêr-teoretiese analise.

Delia Rabie

deliarabie@gmail.com
Universiteit van Pretoria
Pretoria, Suid-Afrika
ORCID: https://orcid.org/0000-0002-4477-6447

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License