SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 número2Different narration, same history: The politics of writing 'democratic' narratives in ZimbabweSouth goes East. South African literature at Volk & Welt índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Letterkunde

versão On-line ISSN 2309-9070
versão impressa ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.60 no.2 Pretoria  2023

http://dx.doi.org/10.17159/tl.v60i2.16604 

BOOK REVIEWS

 

Dwelm

 

 

Rudie van Rensburg.
Kaapstad: Queillerie, 2023. 351 pp.
ISBN 9780795802607.

Sedert Rudie van Rensburg presies tien jaar gelede gedebuteer het met Slagyster, het 'n groeiende getal lesers as 't ware verslaaf geraak aan sy werk. Lesers wag getrou vir hulle volgende Rudie van Rensburg-fix. Met die treffende klapskrif "Wraak is die dodelikste verslawing", is Van Rensburg se twaalfde misdaadroman, Dwelm, net die regte fix. Die titel is, soos heelwat van sy voriges, weer kort en kragtig. Net genoeg om 'n mens in te trek in hierdie roman uit die pen van een van die beste krimi-skrywers in Afrikaans.

In Dwelm ontvou 'n aantal storielyne, oënskynlik onverwant, jukstaposisioneel. Twee legendariese oudspeurders wat baie geliefd was onder hul kollegas, word uit die bloute vermoor. Met absoluut geen leidrade nie, word dit gerade geag om die Spookeenheid se hulp in te roep. Hoe op dees aarde kaptein Kassie Kasselman en sy kollega, sersant Rooi Els, hierdie saak gaan uitpluis, weet nugter.

Elders sit Marinda de Necker met 'n hengse dilemma. Haar broer, Dawid, se magsspeletjies is besig om hul familie-onderneming, Steen en Sement of te wel SES, na troebel waters te stuur. Sy jarelange manipulasie dryf haar ook persoonlik tot breekpunt en sy wil alle bande met hom verbreek. Vasgevang in sy web van slenters weet sy egter dit is makliker gesê as gedaan, want Dawid de Necker gee inderdaad nuwe betekenis aan die uitdrukking dark horse.

Terwyl kaptein Kassie Kasselman eerder meer tyd saam met sy aanstaande, Amelia, deur wil bring, duik daar 'n probleem op wat dreig om hom vir die eerste keer in sy loopbaan van stryk te bring. 'n Voorval waarby dwelms betrokke is skep vir hom 'n dilemma, want dit is nie net nog 'n misdaadstatistiek nie. Dwelms en georganiseerde misdaad gaan hand aan hand. Wat die euwel van dwelms betref behoort wetstoepassing genadeloos te wees. Nou kom Kassie egter voor 'n onmoontlike keuse te staan. Skielik is dinge nie meer wit en swart nie. Hoe en wanneer hy as geregsdienaar gaan toeslaan, sal gevolge hê vir mense vir wie hy lief is. Kassie Kasselman benodig die wysheid van Salomo, en tyd is nie aan sy kant nie.

As vaardige stilis wissel Rudie van Rensburg die verskillende storielyne op so 'n wyse af dat die roman met 'n raaiselelement die leser van meet af boei. Die tempo is onstuitbaar omdat daar nie vir 'n oomblik getalm word nie. Dinge gebeur vinnig met 'n broeiende onrustigheid wat die leser noop om te wonder of Kassie-hulle ooit hierdie saak sal kan oplos. Die resultaat is 'n blitsblaaier wat die leser nie kan neersit nie. Deurlopend klink die tergende vraag oor wie die sneller getrek het wat die lewe van twee onskuldige pensionarisse geëis het.

Die rede waarom misdaadfiksie se letterkundige waarde die afgelope jare meer gesag begin geniet, kan onder meer toegeskryf word aan die feit dat hierdie genre veel meer geword het as blote ontvlugtingsvermaak. Rudie van Rensburg se oeuvre getuig van 'n aktuele bewustheid wat resoneer met die talle vraagstukke van ons tyd. Met Ys (2018) is die kwessie van klimaatverandering knap onder die loep geneem. Vloek (2019) het die fenomeen van sistemiese korrupsie in Afrika onder die soeklig geplaas. Die euwel van dwelms en hoe maklik mense in hierdie bodemlose put van ellende ingesluk kan word, is die tema van Dwelm. Op die keper beskou, illustreer Dwelm hoe enige vorm van verslawing gevaarlik is. Wanneer die smagting om wraak te neem alle rasionaliteit en morele oorwegings elimineer, word dit opsigself 'n gevaarlike verslawing.

Nie alleen is dit Van Rensburg se verteltegniek wat sorg vir 'n boeiende leeservaring van sy oeuvre nie, karakterisering is 'n ewe belangrike element van 'n suksesvolle spanningsverhaal. Van Rensburg slaag daarin om deurgaans die menslikheid van sy karakters te behou. Dit is immers waarmee die leser in die eerste plek identifiseer. Om Hennie Aucamp by te haal, die karakters moet soos mens ruik.

Speurders Kassie Kasselman en Rooi Els voel vir getroue Van Rensburg-lesers al soos familie. Asof jy hulle hopelik toevallig iewers in Kaapstad kan raakloop. Regte mense met regte menslike uitdagings. Rooi staan op die punt om pa te word en die leser lag met simpatie oor wat dit van hom verg om sy geliefde Torretjie gelukkig te hou. Kassie se uitdaging is veel groter. Die liefde blom en groot dinge wink vir hom op die romantiese front. Niemand is egter immuun teen die tentakels van misdaad nie, 'n realiteit wat nou dreig om Kassie se verhouding met Amelia in die wiele te ry, weens haar seun se gebrek aan goeie oordeel.

Selfs die newe-karakters word nie in hierdie roman afgeskeep nie. Een van die karakters wat die aandag trek is ene Muis. Hierdie ou wat redelik laag op die misdaad-voedselketting funksioneer, bied vanuit 'n idiosinkratiese oogpunt iets wat my as leser veel plesier verskaf het. Met 'n filosofiese blik op die lewe is dit sy sêgoed waaraan 'n mens jou verkneukel. So laat hy hom oor die regstelsel uit as hy en 'n makker verhoorafwagtend is: "Where incompetence is prized, it is ever present. The employees of the South African courts give us real competitive advantage" (275).

As virtuose storieverteller het Rudie van Rensburg deurgaans in Dwelm 'n stewige greep op die verskillende storielyne. Voeg hierby die werklik slim uitgewerkte kinkels wat selfs die oplettende leser uitoorlê. Uiteindelik slaag van Rensburg meesterlik daarin om 'n trefseker whodunnit te boetseer wat nie alleen voldoen aan die verwagtings van hierdie genre nie, maar ook die leser van begin tot einde vasgenael aan die lees en raai hou.

Francois Bekker

coisbek@yahoo.com
Vryskutresensent
ORCID: https://orcid.org/0009-0005-1489-8493

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons