SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 número1This mournable body (Tsitsi Dangarembga)All the Places (Musawenkosi Khanyile) índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Letterkunde

versión On-line ISSN 2309-9070
versión impresa ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.60 no.1 Pretoria  2023

http://dx.doi.org/10.17159/tl.v60i1.16753 

HULDEBLYK

 

Dolf van Niekerk (1929-2022)

 

 

Joan Hambidge

'N bekende Afrikaanse digter en akademikus. Sy is navorsingsgenoot aan die Universiteit van Kaapstad, Kaapstad, Suid-Afrika. E-pos: joan.hambidge@uct.aaa

 

 

I

Daar was maar één Dolf van Niekerk. Veelkantige skrywer, filosoof en vriend. By sy huis het ek tweekeer gesmul aan sy vrou se heerlike osstert-gereg.

Dolf was romanskrywer én digter. Mens-sonder-fieterjasies.

Sy dood was 'n enorme verlies. Ons het mekaar gereeld gebel en veral 'n humoristiese vriendskap gedeel. Oor die eensaamheid van die skryfproses en hoe takserings verdwyn, maar die boek bly staan. As digter was ek vol bewondering vir sy gestroopte verse, veral oor die Karoo. Min woorde met enorme trefkrag.

Daar is twee boeke wat ek weer en weer besoek: Legkaart van 'n jong lewe en Splintertyd.

II

In my jeug was daar so 'n lelike bruin boek in ons dorpsbiblioteek met die titel Herinnering se wei. Dit is 1966 uitgegee. Hoe wonderlik was hierdie jeugherinneringe nie wat my na skrywers se ervarings vervoer het. En my gelei het na hulle boeke.

In 2013 het Leti Kleyn en Riana Scheepers 'n opvolg saamgestel met die uitstekende titel Spoorvat. In 2019 publiseer Dolf van Niekerk, 'n gesoute en bedrewe, veelkantige skrywer, Legkaart van 'n jong lewe.

Die jeug of herinneringe aan jeugervarings het 'n vormende invloed op 'n skrywer se psige. Die Pools-Joodse psigoanalis Alice Miller meen jy moet 'n pynlike jeug herleef sodat jy dit kan besweer. Die uwe is van mening: dit is nooit te laat om 'n gelukkige jeug oor te hê nie; om die bekende stelling effens aan te pas.

'n Legkaart is 'n puzzle. Party mense (soos skrywers) het eindelose geduld om die verskillende stukkies in mekaar te pas; ander het nie. Hierdie boek gee dan sulke stukkies weer wat 'n mens telkens kan inpas by 'n gedig, jeugverhaal of dramateks.

Van Niekerk het 'n doktorsgraad in die filosofie behaal. In Legkaart daar dan dikwels verwysings na Nietzsche, Dostojefski, Van Wyk Louw, en ander denkers. Terselfdertyd word sekere stukkies van 'n legkaart vir die leser gegee uit die beskeie jeug soos 'n kind wat vals beskuldig word van diefstal of per ongeluk 'n suster se pop beskadig. Hierdie sketse het my opnuut na Miller se The drama of the gifted child (1978) teruggeneem. Hierin beweer sy: "Experience has taught us that we have only one enduring weapon in our struggle against mental illness: the emotional discovery and emotional acceptance of the truth in the individual and unique history of our childhood."

Die voortydige dood van sy moeder, 'n moeilike stiefmoeder, sy andersheid as jong kind, hul armoede, oorloë en ander onsekerhede wat die jong gemoed kwel, word in hierdie onthouskrif onder die loep geneem. Soms neem hy jou na gedigte wat jy nou anders vertolk; ander kere is dit 'n stuk Boeregeskiedenis of die Voortrekkers se manier van doen. Daar is ook humor.

'n Mens het dus twee stemme tegelykertyd aanwesig. Die onskuldige kind wat deur die wyse en terugkykende (en vergewende) skrywer bekyk word. Van Niekerk is outobiografies aan die woord en wat hy nie vertel nie, kan die leser self invul. Of uit sy fiksie byvoeg.

Hy vang 'n vervloë era vas en hierdie leser moedig almal aan om hul herinneringe of memories op te teken sodat niks verlore gaan nie, om met Hennie Aucamp saam te praat. Jy kan net wees wie jy is, en jy is wat jy word, meen Van Niekerk. Die boek karteer in 48 sketse en essays sy lewensloop van vyf tot twintig jaar. Maar deur die ouer skrywer opgeteken. Die dubbelperspektief van die memoir of herinneringsteks is immers bekend, tegelyk karakter en verteller. Die koshuislewe, die gespook om geld te kry vir studies, die vriendskap met G. A. Watermeyer, die meisie wat 'n blaar pos aan die ouer Dolf, is so helder weergegee dat dit 'n mens altyd sal bybly.

Die betekenis van briewe in "Posjong" is 'n hoogtepunt soos die aanhoor van D. F. Malherbe. Wie kén vandag nog die verskil tussen bo-dorp en onderdorp? Of President Steyn se uitspraak dat die veroweraar se taal van mense slawe maak? Ons lees hoe die vader gedwing is om uniforms te maak anders verloor hy sy werk. Smoelneukers, leiwater, vandisiekrale, skotige-begrippe wat 'n ou vergange wêreld aktiveer. Nes byname (Hansie Grootskrik of oom Johnnie Botter-by-die-vis).

Die impak van die Tweede Wereldoorlog word helder vertel, soos die jong kind se voortdurende blootstelling aan siekte en die dood. Rasverskille kom eweneens aan bod en so gelees, is die boek 'n historiese dokument. Sou kinders byvoorbeeld soveel mog deurmaak vandag?

Edenburg word 'n argetipiese dorp. Hier is die lewendes en dooies en die skrywer se teks bewaar. Hierna keer hy telkens terug.

Die digter praat saam: "Die ou jaar is 'n geliefde, 'n bêreplek vir die smart. En die hartseer oor sy einde is 'n bymekaarkomplek vir al die ander verdriet."

Proust het met 'n madeleine-koekie sy assoisiasies losgemaak; Dolf van Niekerk doen dit met 'n kerfie biltong. Alles keer in sy tekste in siklusse terug.

Die voorblad is aangrypend mooi met die jong, maar terselfdertyd ou, wyse mensie op die voorblad saam met die sibbe.

Mag niks verlore gaan nie en mag almal ouer as sestig hul herinneringe opteken.

III

Dolf van Niekerk se 2021-bundel Splintertyd (Imprimatur) was 'n belangrike bundel in 'n tydsgewrig gekenmerk deur Angs, Onsekerheid, 'n volledige nuwe bestaan, wat in Maart 2020 aangebreek het. Grendeltyd het, soos ons almal weet, op alle vlakke sy tol geëis. Mense is ingeperk in hierdie versplinterde tyd en veral digters het skerp gereageer op hierdie inperking. Splinter is immers ook 'n werkwoord (afsplinter) en die vele assosiasies word deur hierdie titel oopgemaak.

Van Niekerk is 'n gerekende prosateur en digter. Van sy bundels is Karoosange (1975), Dubbelster (1996), Nag op 'n kaal plein (2006), Lang reis na Ithaka (2009), Bleek planeet (2013), en Portrette in my gang (2015) is van die bundels uit Dolf van Niekerk se pen. En op sy 90ste verjaarsdag verskyn Berigte uit die skemerland ook by Imprimatur.

Die digter is ook 'n filosoof en in sy gedigte vind ons dan sterk besinnings oor die mens se lot. "Skaduwoord" is 'n sentrale vers:

Ek wou liefde onder woorde bring

soos die HAT, nuanses

van toegeneentheid tot plante,

diere, mens en God, vibrasies

van die brein en hart.

Ontsê hiervan sal die mens

iets soos liefde versin

in sy verlange na versoening,

onbewus van tye waar

liefde en haat verstrengel was;

dors na 'n bries van liefde

met die laaste onsekerheid

voor ewigheid. (Splintertyd 25)

Die dood is 'n "inwonende aanwesigheid", skryf die digter, ingeperk ook deur siekte waar reën die suising word van iets anders:

Middernagreën

Middernagreën, maar dis geen reën.

Dié suising is een bed ver, of is dit my suurstofmasker,

'n drupspoor op my huis se dak in tye van 'n ou normaal,

se glo 'n Hoër Hand bepaal die reën. (Splintertyd 31)

In die volgende vers word Sartre se die-hel-is-ander-mense aangespreek: Hel is nie nadoods,

hel is 'n virus van die aarde

Hel is nie nadoods, hel is 'n virus van die aarde,

ontspring uit kweekgrond vir hebsug en haat.

Waar liefde en waarheid weerstand bied, muteer hy

in variante van lewensagterdog, ondergrawing

en verdagmaking-tas die siel aan en verban

die wese na ewige kwarantyn binne die self. (Splintertyd 46)

IV

Linda Hutcheon & Mario J. Valdés voer 'n gesprek oor nostalgie, 'n begrip wat 'n terugkeer én pyn in sig dra. Ons kan terugkeer na 'n ruimte, maar tyd kan ons helaas nooit weer terugvind nie. Ons lees:

Nostalgia, in fact, may depend precisely on the irrecoverable nature of the past for its emotional impact and appeal. It is the very pastness of the past, its inaccessibility, that likely accounts for a large part of nostalgia's power-for both conservatives and radicals alike. This is rarely the past as actually experienced, of course; it is the past as imagined, as idealized through memory and desire (Hutcheon en Valdés 31).

Wanneer ons die verse deur die oë van Hutcheon lees, is die ingeboude ironieë opvallend. Die woord nostalgie beteken sowel 'n terugkyk as pyn; 'n geïdealiseerde, opgemaakte wêreld wat aanklop by Van Wyk Louw se Nuwe verse, 'n bundel met gestroopte verse.

Dié nag het nie ure nie

Dié nag het nie ure nie, elke uur is nag; oorlewing wankel op die grens van lig en duisternis; uitweg neig na nag terwyl 'n kakofonie suising in die brein begelei van êrens na nêrens, nêrens na êrens waar nag en dag gebore word. (Splintertyd 50)

Dit is ook 'n bundel van liminaliteite en oorgange: dag na nag, lewe na dood, siekte en herstel met die poësie wat alles registreer. Die pragtige voorblad-met die handskrif van die digter-is tekenend hiervan. Hierom word alles 'n "dubbeldag" in 'n pynlike binnereis. Plato se grot is ook hier aanwesig wat die dubbel-kyk aktiveer.

Die digter-as-filosoof dink geweldig na oor die mens se verbintenis met die kosmos en die ewige soeke na sin:

Ek vors bestaan en wese na

Ek vors bestaan en wese na,

die wese van wees

in die labirint van ewige dinge;

of alles oplaas saamvloei

in Is en Is deel is van syn,

sinoniem vir die Romein

se sistere, omvorm tot eksisteer;

staan tussen nou en ewigheid,

'n pendulum in tyd

van kosmiese wordingsdrif. (Splintertyd 15)

Die bundel is laatwerk en die gesprek met Elisabeth Eybers is tersaaklik, want daardie digter het oor ouderdom, siekte en die sin-van-die-lewe uitsonderlik goed gedig. Wat verál vir die speurende leser opvallend sal wees, is die self-palinodes en vele gedigte wat terugkeer na bestaande verse in 'n proses van self-kanonisering.

Twee tye

Een en twintig jaar,

op die drumpel van die onbekende

en ongekaarte weë,

met drif om woord by idee te bring,

toe gesproke taal

'n ompad word vir die gedig; ná sewentig jaar en baie gedigte

in een en twintig dae van gedwonge kwarantyn

-vrees dat praat pandemie word-

soek ek steeds na die groot idee

en 'n volmaakte woord. (Splintertyd 17)

V

Dubbelster : Dubbelportret

Dolf van Niekerk (1929-2022)

Die dood immer 'n toeskouer

in jou lewe op jou lang reis

na Ithaka. Vele portrette

van geliefdes met berigte

uit jou strak skemerland.

Hoe sal ek jou nou opsom

tot klarigheid finaal kom?

Dat alles wat jy skryf gestroop

en sonder fieterjasie was,

nes legkaarte ingepas?

Dood se siklusse-'n posjong

met swart briewe-ervaar

jy as jong kind toe jou moeder sterf.

'n Jong meisie versend 'n blaar

in 'n onthouboek gepars.

Dalk tog eerder my dubbelkyk:

of/of , én/én, dan/nou ...

saamgevoeg soos 'n spreuk:

Draai jou gesig na die son

en die skaduwee val agter jou.

Nou vlieg jy saam met die albatrosse

teen die skemer wat sy geheime verklap,

wég van hierdie skelet van 'n vers:

op mý moeder se verjaarsdag, 'n lament

vir jou meester van die allegorie-van-elke-dag.

Joan Hambidge

 

Erkenning

Hierdie huldeblyk is gedeeltelik gebaseer op resensies wat ek op die blog Woorde wat weeg gepubliseer het.

 

Geraadpleegde bron

Hutcheon, Linda & Mario J. Valdes. "Irony, Nostalgia, and the Postmodern: A Dialogue." Poligrafías. Revista de Literatura Comparada no. 3, 2000, pp. 29-54. DOI: https://doi.org/10.22201/ffyl.poligrafias.2000.3.1610.         [ Links ]

Van Niekerk, Dolf. Bleek planeet. Protea, 2013.         [ Links ]

_____________. Legkaart van 'njong lewe. Essays oor wat was en geword het. Protea, 2019.         [ Links ]

_____________. Spintertyd Imprimatur, 2021.         [ Links ]

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons