SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 issue1Like Family: Domestic Workers in South African History and Literature (Ena Jansen)Chinatown (Ronelda S. Kamfer) author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.60 n.1 Pretoria  2023

http://dx.doi.org/10.17159/tl.v60i1.16690 

HULDEBLYK

 

Dolf van Niekerk (1929-2022)

 

 

Willie Burger

Hoof van die Departement Afrikaans, Fakulteit Geesteswetenskappe aan die Universiteit van Pretoria, Pretoria, Suid-Afrika. Hy is 'n bekroonde navorser en boekresensent. E-pos: willie.burger@up.ac.za; https://orcid.org/0000-0003-1602-6996

 

 

In 2019 publiseer Dolf van Niekerk (in die jaar waain hy 90 jaar oud geword het) Legkaart van 'n jong lewe. Essays oor wat was en geword het by Protea Boekhuis. Die boek gaan nie, soos Elsa Joubert se Spertyd en Karel Schoeman se Slot van die dag-ook outobiografiese boeke wat deur gevestigde skrywers op 'n laat stadium van hulle lewens geskryf is-oor die oudwordproses en aftakeling nie. Die kort stukkies ("essays" is in baie gevalle nie 'n akkurate woordkeuse nie) is almal grepies uit sy jeug-herinnerings van toe hy sowat vier of vyf jaar oud was en sonder 'n eie ma grootgeword het, skoolherinneringe en sy universiteitservarings totdat hy op 21 as omroeper by die SAUK aangestel is.

Die herinnerings is nie noodwendig chronologies nie en skakel nie nou met mekaar nie-hulle bly los grepies, legkaartstukkies. Sommige is blote staaltjies (en daarom nie "essays" nie). Baie van die staaltjies sal ook waarskynlik slegs vir 'n ouer generasie lesers interessant wees. Iets van die temas, vertelwyse en denke, bly vassteek in 'n vervloë era.

Maar soms, hier en daar, word die stukkies meer as staaltjies, meer as herinnerings wat spaarsamig met die woorde vertel word. Dan roer die vertellings mens tot nadenke. Telkens is daar vertellings waarin Van Niekerk jou emosioneel oorweldig met alles wat nie gesê word nie.

Legkaart bied heelwat insig in Van Niekerk se skryfwerk en denke. Hy verduidelik hoedat sy eie skryfwerk eintlik die gevolg is van 'n soeke na "iets". Hierdie bewuswees van "iets", van 'n deel wees van 'n groter werklikheid, het hy al op vyfjarige ouderdom beleef. Hy sit uiteen hoedat hy hierdie ervaring probeer begryp het, hoedat die denke van Plato, Herakleitos, Kant, Nietzsche, Hegel, Van Wyk Louw en Dostojefski hom in sy soektog na begrip van daardie "iets" begelei het en hoedat hy dit verder ondersoek het deur self te skryf.

Op universiteit soek hy in die filosofie na antwoorde: "Die wysbegeerte prikkel my om verder te dink as die gegewe dinge. Iewers in my kop wil ek dat bewussyn die grond vir skepping is en nie bloot die vermoë om te dink en jou eie handelinge te ken nie". Dit is veral hierdie skeppingsdrang as deel van menslike bewussyn wat op boeiende wyse blootgelê word as belangrike grond vir menslike bestaan.

In een van die 48 kort essays waaruit Legkaart van 'n jong lewe bestaan, skryf Dolf van Niekerk oor boeke. Dit gaan spesifiek oor die boeke wat hy as kind gelees het en wat 'n groot vormende invloed op hom gehad het. Hy skryf dat hy in sy matriekjaar N. P. van Wyk Louw se bundel opstelle, Lojale verset (1939), gelees het. Van Niekerk skryf dat die boek vol "vreemde begrippe" was wat by hom "'n gevoel van ontoereikendheid en onvermoë om te verstaan" gewek het, maar dan vervolg hy: "Dit raak byna ondraaglik om alles in te neem en te probeer begryp. Jy bevind jou in 'n nuwe wêreld, verhewe bo jou klein verwysingsraamwerk. Oplaas dring dit tot jou deur jy is deel van 'n groter geheel, selfs 'n groter opset as jou land en jou mense."

Hierdie woorde resoneer iewers in my. In my eie matriekjaar was Dolf van Niekerk se roman, Die son struikel (1960), vir ons voorgeskryf. Dié boek, met sy modernistiese vertelwyse waarin tye oor mekaar skuif, waarin gebeurtenisse uit die verlede steeds indring in Diederik se hede en waarin Diederik worstel met sy onvermoë om tuis te voel in die lewe, was vir my ook vol vreemde begrippe en het 'n gevoel van ontoereikendheid en onvermoë om te verstaan by my gewek.

Die son struikel is 'n boek waarop generasies Afrikaanse skoolkinders grootgeword het. Dit was waarskynlik vir die meeste 'n vreemde leeservaring, moeilik, duister. Maar vir my my (wat die roman as buitestander in 'n vreemde dorp se skoolkoshuis gelees het) en baie ander was dit die een van die eerste boeke wat jou laat besef het dat romans nie net stories is nie maar boeke wat jou laat dink op ander maniere, wat jou op verhelderende wyse laat bemoeienis maak met ruimtes van taal en idees en ervarings waaraan jy oor die algemeen nie blootgestel word nie, 'n wêreld wat veel groter is as my skool, my kerk, my mense, my land.

Diederik se eensaamheid, sy onvermoë om op enige plek in te pas, om nie 'n tuiste te kan vind in godsdiens, politiek of in sy volk nie, het egter in my, en sekerlik talle ander jong lesers, iets wakker gemaak van 'n eksistensiële angs en 'n bevraagtekening van die maklike antwoorde wat ons Christelik-nasionale onderwys aangebied het.

Ook Skrik kom huis toe het sekerlik op menige jong leser 'n blywende indruk gelaat, terwyl die bewaringstema wat deesdae sentraal in literatuurondersoek staan, reeds jare in Van Niekerk se werk teenwoordig is, eintlik al sedert hy in die laat-1950's by landbou betrokke geraak het as omproeper vir Landbouradio. Sy proefskrif in die filosofie het ook oor omgewingsbewaring gegaan: Bewaring as sedelike prinsipe in die Suid-Afrikaanse bodembenuttingsituasie: 'n Kultuurfilosofiese studie. Hiermee, en die manier waarop omgewingsbewustheid neerslag in sy werk vind (dink veral aan Koms van die hyreeh), was hy 'n voorloper.

Uiteindelik word Van Niekerk (ten onregte) hoofsaaklik as die skrywer van Die son struikel onthou, 'n sestigerroman wat die eksperimentele grepe van die modernisme aangewend het, waarin tye oor mekaar skuif en die grens tussen individuele bewussyn en werklikheid soms moeilik onderskeibaar is. Dalk is dit vir so lank voorgeskryf omdat dit een van die groot prestasies van die Sestigerskrywers was wat "veiliger" was as Brink of Leroux se werk waarin die seks of politiek veel sterker op die voorgrond gestaan het. Maar dit maak nie saak nie, want dit was en is 'n uitstekende roman waarin Van Niekerk menslike bestaan bedink het teen die agtergrond van geskiedenis en samelewingsbande. Hierin, soos in al sy ander werk, blyk 'n sensitiwiteit en deernis met die mensdom, 'n fyn waarnemer wat 'n mens sommer oor die broosheid van die mens laat huil terwyl hy jou verwysingsraamwerke verruim.

Erkenning

Hierdie huldeblyk is gebaseer op 'n resensie van Legfcaart van h jong lewe. Essays oor wat was en geword het wat op 26 Julie 2019 in Vrouekeur gepubliseer is.

 

Geraadpleegde bron

Van Niekerk, Dolf. Legkaart van 'n jong lewe. Essays oor wat was en geword het. Protea, 2019.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License