SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 issue1Race, Nation, Translation (Zoe Wicomb)Literature and the Law in South Africa, 191-2010 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.60 n.1 Pretoria  2023

http://dx.doi.org/10.17159/tl.v60i1.15974 

BOOK REVIEWS

 

 

Sanctum.
Joan Hambidge.
Pretoria: Protea Boekhuis, 2022. 100 pp.
ISBN 9781485313403.

Sanctum is die jongste toevoeging tot Hambidge se gepubliseerde digterskap van byna veertig jaar. Elke digter se werk beskik oor spesifieke eienskappe wat veral in 'n voortgesette en produktiewe oeuvre duidelik naspeurbaar is. In terme van die Hambidge-oeuvre en haar nuutste bundel is dit ook nie anders gesteld nie. Weereens is sprake van digterlike gesprekke, 'n netwerk van intertekstuele verwysings, herhalende temas soos jeugervarings, die dood, reis en digterskap asook die beoefening van minder bekende digsoorte en versvorme. Met verwysing na laasgenoemde herskep sy haar digterlike repertoire opnuut met die insluiting van vorme soos die redondilla en katauta. As bonus is daar ook 'n bedrewe vertaling van Sylvia Plath se "Morning Song" en C. P. Kavafy se "The City". Dit is verblydend om te sien dat Hambidge toenemend haar hand aan literêre vertaling waag. Sy beskik beslis oor die taalsensitiwiteit en digterlike gereedskap vir dié uitdagende taak.

Nog 'n belangrike kenmerk van Hambidge se poësie wat opnuut ter sprake kom, is die soeke na dinge en mense wat verlore geraak het op die lewensreis. Dié soektog is nou verbind aan gesprekke met afgestorwe digters, vriende en familiefigure. 'n Skitterende voorbeeld van respekvolle huldiging is "Die Tao swyg" (14) waarin die spreker in gesprek tree met Petra Müller, een van vele digters teenoor wie Hambidge haar eerbied betuig. Die slotstrofe is 'n slim toespeling op Müller se bundel Om die gedagte van geel (2012): "Net een beeld, een footage behoef ek nou: / geen kanola voor oestyd in Swellendam" (15).

In ander verse soos "Repatriasie van pyn" (50) en "Ruie tuin" (65) hinder die futlose oorname van frases en bundeltitels, asook die opstapeling van verwysings. Soms voel ek gefrustreerd omdat Hambidge nie intertekstuele verwysings spaarsamiger en op 'n weldeurdagte wyse benut nie. Kwaliteit is waardevoller as kwantiteit en soms behels poësie meer as 'n intertekstuele spel. 'n Veel beter aanwending van verwysings is aanwesig in ekfrastiese verse soos "Velazquez": Las Meninas" (92) waarin die verwysings digterlik verwerk word om 'n spesifieke invalshoek op die kunstenaar en kunswerk te bewerkstellig. Hambidge het haar reeds onderskei as 'n gedugte beoefenaar van beeldpoësie. Haar digterlike interpretasie van Marilyn Monroe-foto's is maar één voorbeeld.

Ek vind Hambidge se gekondenseerde en gestroopte verse veel beter as haar digterlike pakhuise. Dikwels beskik dié soort gedigte oor groter emosionele slaankrag vanweë 'n streng minder-is-meer-benadering. 'n Paar voorbeelde uit haar oeuvre is onder meer "Westdene" uit Palinodes (1987), "Lyftaal" uit Verdraaide raaisels (1990) en "Foto: man wat val" uit Ruggespraak (2002). 'n Goeie voorbeeld van só 'n gesnoeide vers in Sanctum is "Geestelike eskarp"-'n digterlike gesprek met Johann Lodewyk Marais-waarin die spreker haar jeuglandskap herbesoek. Dié gedig getuig van funksionele strofebou, woordekonomie en 'n treffende beeld in die slotstrofe: "Onvermeld: / die sipresse / langs ons huis/dood se posmeesters" (26).

Die terugkering na die verlede om sin te maak van die hede is opvallend in Sanctum. Die verlede, teenswoordige en toekomstige funksioneer nie as losstaande eenhede nie, maar is deurlopend vervleg. Dit geld vir die aanwesigheid van ontslapenes in drome en die geweld van eenvoudige herinneringe: "'n Tirannie van die Verlede / word 'n oop-breek in die Hede" (49).

In 'n groot mate verteenwoordig die bundel 'n bestekopname van die spreker se lewe. Die gedig "Stansas" (78) is tekenend van dié werkswyse en kan as 'n soort digterlike outobiografie beskou word. 'n Komponent hiervan behels dan ook selfrefleksie oor 'n nuwe lewensfase. Dit word goed in die gedig "Pensionaris" belig en veral hoe taal en 'n terugblik op die verlede verweef is met huidige selfbewussyn: "Maar so is dit nou: vandag amptelik 'n pensionaris: / retraitée soekend na woorde vir die nuwe IS" (77). Dié soort digterlike bestekopname is volop in die Hambidge-oeuvre en herinner aan soortgelyke gedigte van Eybers en Krog-dink byvoorbeeld aan Krog se "ouma"-gedigte en verse oor die menopousale vrou in Verweerskrif (2006).

'n Ander aspek wat opval is dat verskillende betekenisassosiasies van heiligheid op verskeie maniere uitgebou word. Die sanctum-motief word deurlopend as 'n funksionele bindingselement benut. Die spreker beskou verskillende ruimtes as heilige plekke-die verlede, reisbestemmings en veral die digkuns wat in die gedig "Totem" (37) tot 'n tempel verhef word:

Net die allergroot verhouding

met die groot aktiewe woord

daardie tempel staangemaak in Tristia

maak nog sin tot die dood

ons skei-leser, jy of u. (37)

Die soeke na heilige plekke word vir die spreker 'n obsessie wat baie te make het met die ontwrigtende Covid-tydperk. Siekte lei nie slegs tot liggaamlike disfunksie nie, maar kring uit na alle vlakke van die menslike bestaan, insluitende perseptuele belewing van ruimte en tyd. Dié aspek word oortuigend verwoord in "Google Earth" waar die spreker virtuele herbesoeke bring aan die plekke waarheen sy eens op 'n tyd gereis het: "Nou in Covid-tyd / word reis 'n herinnering / 'n virtuele direktief" (33). Ander Covid-gedigte is "Bethlehemster" (41), "Covid-prosodie" (43) en "Grievable lives: Mournable bodies" (45). Dié siekteverse sluit aan by die uitmuntende "Illness as metaphor" (62) asook ander voorbeelde van mediese poësie in die Hambidge-oeuvre soos "By 'n besoek aan die oogarts" uit Bitterlemoene (1986), "Die Anatomieles van dr. Tulp (1632)" en "Outopsie" uit Matriks (2015) en die aantal Covid-gedigte in Nomadiese sterre (2021). Hambidge lewer voldoende bewys dat sy ook goeie mediese gedigte kan skryf en dit is 'n tematiese landskap wat sy gerus verder kan verken.

Ek is wel minder beïndruk met sommige liefdesverse soos "Abandonment" (20), "Eenoog" (31), "Cabeza de Lobo" (40) en "Kodeks" (42), omdat hier minder sprake is van afronding en dieselfde patroon oor en oor voorkom. Die geliefde word gevind, verloor en weer in 'n kuberruimte, gedig, hotelkamer of wereldstad teruggevind. Die speker verdwaal telkens in 'n donker labirint van aanwesigheid/afwesigheid en ongefokusde oordaad. Die liefde neem tog 'n duisend vorme aan, maar Hambidge se verse oor die liefde bereik dikwels 'n impasse. "Inuïet-gedig" (55) is wel 'n uitsondering en beskik oor dieselfde mate van beheersing as die uitstekende liefdesverse in Ewebeeld (1997).

Soos altyd is Hambidge se lykdigte voortreflik- 'n digsoort wat sy deurlopend vernuftig en vanuit verskeie perspektiewe beoefen. Weereens beïndruk lykdigte soos "Die man van God versus die hand van God" (84) en "Johan van Wyk (1956-2022)" (88) deur funksionele verwysings en 'n delikate balans tussen intellek en emosie.

Sanctum is 'n skaflike bundel ten spyte van 'n paar gebreke. Dit is veral 'n bundel waarin gesprekvoering met mense en dinge voorop staan-mededigters, ontslapenes, literêre tradisies en die aktuele wêreld. Die belangrikste diskoers is egter met die ouerwordende self.

Neil Cochrane

cochrni@unisa.ac.za
Universiteit van Suid-Afrika
Pretoria, Suid-Afrika
ORCID: https://orcid.org/0000-0001-7630-0585

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License