SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 issue1Chronology: Nuruddin FarahSol Plaatje: A Life of Solomon Tshekisho Plaatje (Brian P. Willan) author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.60 n.1 Pretoria  2023

 

BOOK REVIEWS

 

 

Op pad na Moormansgat.
Chris Karsten.
Kaapstad: Human & Rousseau, 2022. 480 pp.
ISBN 9780798183222.

Aanhangers van Chris Karsten se misdaadverhale weet teen hierdie tyd watter interessante dinge gebeur wanneer hy sy hand aan geskiedkundige materiaal slaan. Sy jongste boek, Op pad na Moormansgat is gebaseer op ware verhale, dié van die berugte bendeleier Billy Foster en dié van die Boeregeneraal Koos de la Rey, teen die agtergrond van die Rebellie van 1914 in Suid-Afrika. Alhoewel die roman ryklik put uit hierdie ware verhale, beklemtoon Karsten dat alle geskiedskrywing onderhewig is aan interpretasie, met die aanhaling van J. M. Coetzee "a history is nothing but a certain kind of story that people agree to tell each other", wat hy as een van die roman se motto's gebruik.

Die eerste verhaallyn word op 'n breë palet geskilder deurdat dit begin met die ontleding van 'n "kiekie" wat geneem is toe die hoofverteller Helena 'n baba was. Dit was kort ná 'n polisieman (wat ironies genoeg bekend was as 'n besonder swak skut) genl. De la Rey se lewe by 'n padblokkade beëindig het met 'n skoot wat vir Helena se pa, die bendeleier Billy Foster, bedoel was. Die verhaal verloop nie chronologies nie en strek tot in 1937.

Hoewel die politieke onrus en noodlottige botsings tussen Afrikaners van 1914 bekend is, staan die leser steeds gefassineerd wanneer genl. De la Rey op 'n amper deus-ex-machina-manier verlos word uit die dilemma wat hom in die gesig staar: hoe om te weier om deur die Britse magshebbers in die dreigende oorlog in Europa gedwing te word sonder om bloedvergieting en broedertwis onder sy volk aan te moedig.

Die generaal se vrou, Nonnie, spreek sy tweestryd só uit: "Ag, Koos het niet nodeloos aan my geseg dat die toekoms vir hom so donker syn dat hy aan God gesegd had: Heere neem my, maar dink aan my Volk en wys vir hulle die weg ten goede aan. Ag, en toe kom dit soo dat hy werklik op soo 'n wonderbare wyse weg geneem word." (458). Sy het egter vriende en familie aan die kant van die koloniale regering én van die rebelle. "[...] die een is vir my so dierbaar as die ander een en ek sien nog aan geen kant lig en ons weet niet aan welke kant die lig sal skyn."

Die verwoesting van vroue- en kinderlewens, opstalle en vee tydens die Anglo-Boereoorlog was immers nog so vars in die geheue, soos Het Volk-redakteur Harm Oost dit roerend stel: "[...] die Empirerowers in Londen wil hê die Unie moet in Duitswes 'n landroof gaan uitvoer, en Lewies Botha en Slim Jannie [Smuts] sê goed, ons sal dit gaan doen. Maar ons, die patriotte, ons geheue is lank en bitter. Dis net 12 jaar en ons wonde het nog rowe. Die einste Kakies het ons Boere van hul grond verja, hulle plase gestroop en verskroei" (421).

Die tweede verhaallyn, wat die eerste afwissel, is dié van Billy Foster, 'n belowende fotograaf, maar heethoofdige seun van Ierse immigrante, wat in 'n reeks vinnige rykwordskemas telkens met die gereg bots omdat hy glo die lewe skuld hom voorspoed en rykdom. Hy en sy vrou, Peggy, raak voortvlugtig in 1914, juis toe die politiek in Suid-Afrika onstuimig raak. Bekend as die berugte Fosterbende met 'n klomp moorde op Billy se kerfstok, word hulle in 'n grot in Kensington, Johannesburg, vasgetrek en laat Helena as baba agter.

Haar oupa John het baie kleinkinders, maar Helena, wat eers net Baby genoem word, is die spesiale kindskind-"by gemis aan Billy, wat Oupa se spesiale kind was, en sy hart versplinter het" (31). Vir haar gee hy 'n verkleurmannetjie present, maar sy druk die diertjie onder 'n baksteen dood omdat hy nie regtig van kleur kan verander soos die grootmense belowe het nie. Dit is 'n sinspeling op die kind wat dit later ook nie regkry om haar pa se nalatenskap af te skud nie.

'n Betekenisvolle simbool in die roman is die voël, die sakaboela, wat telkens as 'n soort gewete verskyn en stip na haar kyk, die eerste keer net nadat Baby die verkleurmannetjie verbrysel het (31-2). Sy onthou haar tant Cissy het kort daarna vertel 'n engel het haar ouers kom haal, maar Baby het geglo dis nie 'n hemeling met wit vlerkies wat buite die grot gewag het waar die polisie haar ouers vasgetrek het nie, maar die sakaboela. Sy sê sy het geweet: "Daar by die koppie het hy geduldig op 'n struik gewag, stil met sy stip ogies, reg om Peggy se siel vir die hemel te gaan onderskep sodra dit uit die grotbek gesweef kom. Vir Billy s'n sou hy nie ook krag en tyd gehad het nie, dié sou maar verlore moet gaan" (33).

Uit vrees vir die gemeenskap se herinnering aan haar berugte pa, word die dogtertjie, 'n eenkantkind, in haar vyfde jaar uit Johannesburg Grahamstad toe geneem na verlangse familie van haar ouma. Hier kry sy by 'n liefdevolle gesin vir die eerste keer 'n regte naam: Helena Breitenbach. "Ons wou jou die merk van Kaïn spaar" (28), bieg haar tant Cissy 18 jaar later.

Op haar beurt bots Helena ook met die gereg ná 'n reeks ongelukkige verhoudings met dieselfde soort mans as wat haar oorlede pa was. Haar laaste vryer, Andries du Plessis, lei haar as sy handlanger in misdaad in. Uit Helena se voorafgaande liefdesgeskiedenis voel die leser dit is 'n katastrofe wat gewag het om te gebeur. Sy glo haar pa se gene bepaal haar lotgevalle en dit bring die oeroue vraag na vore: wat speel die bepalende rol in 'n mens se lewe, oorerwing of omgewing? Andries se onwettige goudtransaksies lei tot vyf moorde waarvoor hy uiteindelik boet, terwyl Helena ná 'n paar dae in die tronk en ondervraging vrygelaat word.

As volwassene het Helena 'n obsessie om alles moontlik oor haar herkoms uit te vind en dit in haar "memoriebundels" op te teken. Amper aan die einde van haar speurtog gee sy 'n digbundel met 'n stertveer in vir Isak Heyns, die polisieman wat Andries se misdade ondersoek en tot wie sy aangetrokke voel. Helena hou op pad Lichtenburg toe in die veld stil met haar motor, waar sy ontsenu word deur die sakaboela. Die voël staan weer in die teken van die doodsengel en dit dui moontlik daarop dat sy besig is om haar greep op die lewe te verloor. Hulle kyk mekaar aan en sy vra die voël waarom hy haar agtervolg (304).

Dit sou sinvol wees as Helena se besoek aan genl. De la Rey se graf op Lichtenburg beter gemotiveerd is, maar die skrywer laat dit aan die leser oor om uit te werk wie uitgebeeld word "in die hol oë van daai bronsbeeld met die groot baard en die haakneus" (308). Wanneer Helena haar verhaal aan die borsbeeld op die graf vertel het, sê sy "sal hy verstaan hoekom hy so 'n groot deel van my verlede is, miskien die heel grootste deel" (308). Karsten erken in 'n radio-onderhoud met Ilse Salzwedel in die RSG-radioprogram Skrywers en boeke dat daar baie min biografiese feite oor Helena is en dat hy hom hier grootliks tot fiksie moes wend.

Afgewissel met die twee verhale is dié van Isak Heyns en sy ouers wat die lotgevalle van Afrikaners voor, tydens en ná die Anglo-Boere-oorlog uitbeeld. Sy pa Segrys, oud en afgetakel, was 'n hensopper wie se redenasies met sy agterryer, Tapiwa Mahlangu (Tappies), soms vir komiese afleiding sorg. Isak beskou sy pa as deel van die arm en swakker klas wat aan die hoogs aansteeklike siekte luiheid ly. "Hy sien die beeld van Sitman, die meeldiaken met sy ongebleekte bedelsloop, die man wat sit waar hy sit, die elfde plaag onder diesulkes-willoos, vol ingebeelde kwale, vyand van alle vaste werk" (115).

Die drie lang afdelings Stemme van oorlog, Stemme van Protes en Laaste stemme waarin baie rolspelers figureer soos politici, 'n kampdokter, 'n Britse sersant, 'n Boerekryger, Emily Hobhouse, genl. De la Rey se vrou en dogter, Sol Plaatje, koerantredakteurs en 'n Moslemwinkelier, se waarnemings en interaksie met genl. De la Rey, werp lig op die geliefde generaal se persoonlikheid.

Tog doen die uitvoerigheid van hierdie figure se kommentaar en briewe afbreuk aan die romanmatigheid van die onafwendbare sameloop van die gebeure. Die nou reeds welbekende belewenisse in die konsentrasiekampe lyk of dit ingesluit is ter wille van die skrywer se uitvoerige navorsing. 'n Korter weergawe van die gebeure rondom die mynopstande en die rebellie sou wel funksioneel wees, want dit het direkte betrekking op genl. Beyers se noodlottige verontagsaming van die padblokkade wat sy passasier, genl. De la Rey se dood veroorsaak.

Karsten het meer as 100 geskrifte geraadpleeg, onder meer joernale, argiewe, koerante, tydskrifte, uittreksels en verslae van ondersoeke. Hy vertel in die genoemde radioprogram dat hy hierdie magdom navorsingsresultate moes verwerk en uiteindelik nie verder kon of wou sny aan sy manuskrip nie. Hy verdedig sy stelling deur te sê dat elke karakter met 'n doel in sy verhaal ingesluit is. Só byvoorbeeld is Tappies se rol om te wys dat die Boere die Mapokkers van hulle grond beroof het net soos Brittanje die Boere-republieke beroof het.

Die werk van ongeveer 'n dekade, soos vertel deur Karsten in die onderhoud, getuig van sy noukeurige navorsingsingesteldheid wat ook sy misdaadromans kenmerk. Die soms argaïese woordgebruik en woordeskat word funksioneel gebruik in Op pad na Moormansgat-selfs die roman se titel is ontleen aan 'n gedig van C. Louis Leipoldt.

Kritiek kan uitgespreek word teenoor die algehele afwesigheid van aanhalingstekens in die dialoog. Dit skep verwarring en bemoeilik die leesproses onnodig. Op pad na Moormansgat is egter steeds onteenseglik 'n meesterlike vermenging van fiksie en geskiedenis in die hande van 'n skrywer wat sy spreekwoordelike storie ken.

Elkarien Fourie

elkarienfourie@gmail.com
Onafhanklike navorser
Franschhoek, Suid-Afrika
ORCID: https://orcid.org/0009-0004-8980-4394

 

Geraadpleegde bron

Karsten, Chris & Ilze Salzwedel. "Skrywers en boeke 4 Januarie 2023." RSG. 4 Jan. 2023. https://www.rsg.co.za/rsg/omny/skrywers-en-boeke-4-januarie-2023/.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License