SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 issue1Nuruddin Farah: A pas de deux across The World Republic of LettersNuruddin Farah: Selected bibliography author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.60 n.1 Pretoria  2023

http://dx.doi.org/10.17159/tl.v60i1.15771 

BOOK REVIEWS

 

 

Moederland.
Madelein Rust.
Kaapstad: Human & Rousseau, 2022. 333 pp.
ISBN 9780798183192.

Die skrywer Madelein Rust is bekend vir haar spanningsverhale, veral die topverkoper Malan & Coetsee-reeks, wat onder meer Monstersaad (2015), Bloedlyn (2016) en Moordhuis (2017) insluit. Met haar jongste roman, Moederland (2022), spits Rust haar egter toe op die genre van toekomsfiksie.

Moederland is 'n postapokaliptiese roman wat afspeel in 2070, ná die Derde Wêreld Oorlog en twee burgeroorloë Suid-Afrika se stede in puin gelê het. In die nuwe slimstede soos Xïn Xianggang (voorheen Bloemfontein), woon die elite en die Chinese en Russiese kaders in relatiewe weelde, terwyl gewone burgers op die platteland uitgelewer word aan hongersnood, gewelddadige bendes en die elemente. Nuwe wetgewing plaas 'n verbod op swangerskap sonder 'n regeringspermit en pasgebore babas wat onwettig aan die lewe geskenk word, word summier genadedood toegedien deur middel van 'n Medi-Bot.

In Moederland ontmoet ons die 27-jarige Jenesis Baron. As enigste kind van Jericho Baron, die skatryke uitvinder van die drakoniese regime se vreesaanjaendste tegnologie, is Jenesis 'n lid van die bevoorregte elite. Veilig in haar vergulde kou, hou Jenesis haar besig deur rubrieke te skryf wat die huidige regime se lof besing. Enige ongure gerugte van magsvergrype deur die regering word blindelings deur haar as fopnuus en samesweringsteorieë afgemaak.

Toe Jenesis egter onwettig geboorte skenk aan 'n tweeling en deur Generaal Ben Wagner van die regering se Gewapende Magte gedwing word om toe te kyk hoe haar kinders aan die Medi-Bot uitgelewer word, begin die skille van haar oë afval. Na die moord op haar pasgebore babas, gaan soek Jenesis die pa van haar kinders, professor Adam Bormann, by die universiteit op. Hier word sy onverwags vasgevang in 'n gewelddadige studente-optog en word gevolglik betrokke by 'n groep ondergrondse rebelle wat die huidige bewind omver wil werp.

Só begin Jenesis se missie van wraakneming en bevryding.

In die tradisie van spekulatiewe fiksie, verweef Moederland elemente van die kritikus Darko Suvin se konsep van die 'novum'-die 'nuwe ding' of 'punt van verskil' wat wetenskapfiksie van konvensionele letterkunde skei-en van hedendaagse regte wêreldkwessies (Roberts 6).

In Moederland se toekomstige Suid-Afrika kry ons te doen met tegnologiese nuwighede soos robotsoldate, kunsmatige intelligensie, hologramme, hommeltuie en eksoskelette wat soldate meganies versterk. Hierdie 'nova' word slim aangewend om kommentaar te lewer op die huidige stand van ons samelewing, in ooreenstemming met een van die spekulatiewe fiksie-genre se kenmerkende stylfigure: waarskuwing deur middel van ekstrapolasie.

Die trajek van die verval van die beskawing word aan die begin van die roman deur middel van grepe uit fiktiewe media-berigte vir lesers geskets. Rust volg die drade van huidige globale wêreldkrisisse tot hul mees vreesaanjaendste moontlike gevolge. Kwessies soos korrupsie en magsvergrype in die Suid-Afrikaanse regering, Rusland se ekspansionistiese optrede in die Oekraïne, China se betrokkenheid in Afrika, die Covid-19 pandemie en die anti-vaksinasie beweging word onder die loep geneem.

Veral interessant is Moederland se behandeling van omgewingskwessies soos aardsverwarming en die broosheid van die natuur. In 'n onderhoud met Sarie, vertel Rust hoe haar navorsing tydens die skryf van die roman haar oor en oor gelei het tot die kwessie van die verwoesting van ons planeet: "Om die boek te skryf het ek 'n enorme hoeveelheid tyd bestee aan navorsing oor toekomskundiges se voorspellings, en die een ding wat oor en oor voorgekom het, was die kwesbaarheid van ons planeet en die skade wat ons elke sekonde aanrig."

Moederland kan as 'n eko-distopie of klimaatsfiksie (ook bekend as 'cli-fi') beskryf word. Die Suid-Afrika van 2070 is 'n onherbergsame woestynland, die natuurlike omgewing onherroeplik verwoes deur die aardgas-emissies van WOIII se oorlogsmasjiene.

Nou verweef met die ekologiese tema is dié van moederskap, wat ook in die titel van die roman weerspieël word. Dit is moederskap, hoe vlugtig óók al, wat Jenesis tot die besef dwing dat alles nie pluis is met die regering wat sy eers so sterk ondersteun het nie.

In teenstelling met Ben Wagner en die regime se verwoestende onderdrukking van die land en sy mense, word die beskermsdrang en krag van die moeder gekoppel aan die hoop op die herstel van 'n vrugbare landskap en demokrasie. Jenesis, die moederfiguur, die Joan d'Arc van die rewolusie, sal (soos haar naam aandui) 'n nuwe begin vir haar mense oopveg.

Ten slotte is Madelein Rust se Moederland 'n uitstekende bydrae tot die groeiende genre van Afrikaanse spekulatiewe fiksie. Die roman worstel met groot kwessies, maar lesers wat bekend is met Rust se spanningsverhale kan gerus wees dat Moederland oorgenoeg van haar kenmerkende humor, aksie-belaaide storielyne en intrige bevat.

Elzette Steenkamp

elzette.steenkamp@gmail.com
Onafhanklike navorser
Kaapstad, Suid-Afrika
ORCID https://orcid.org/0009-0004-1884-329X

 

Geraadpleegde bron

Roberts, Adam. Science Fiction. Routledge, 2000.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License