SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 número1Trajectories of radicalization and resilience in Nuruddin Farah's North of DawnChronology: Nuruddin Farah índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Letterkunde

versión On-line ISSN 2309-9070
versión impresa ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.60 no.1 Pretoria  2023

http://dx.doi.org/10.17159/tl.v60i1.15736 

BOOK REVIEWS

 

 

Eugene.
Kirby van der Merwe.
Kaapstad: Human & Rousseau, 2022. 253 pp.
ISBN 9780798182645.

Kirby van der Merwe is bekend as digter, joernalis, kortverhaalskrywer, asook outeur van die roman Klapperhaar slaap nie stil nie (1999). Ná verloop van meer as twee dekades verskyn sy tweede roman getiteld Eugene (2002), wat in 2023 die Eugène Marais-prys vir prosa verower.

Die gebruik van 'n eienaam as titel is treffend aangesien hierdie naam die leser binne die Suid-Afrikaanse sosio-politieke konteks aan omstrede figure soos die oud-polisiekolonel Eugene de Kock (wat aan die berugte Vlakplaas verbonde was), asook die voormalige leier van die regs-ekstremistiese Afrikaner Weerstandsbeweging, Eugène Terre'Blanche, herinner. Naas die titel word die leser se nuuskierigheid deur middel van die manlike figuur wat op die voorplat verskyn, geprikkel, om meer omtrent die Eugene-karakter te wete te kom.

In die roman versinnebeeld die fiktiewe Eugene-karakter vanuit 'n politieke verwysingsraamwerk presies die teenoorgestelde politieke ideologie as sy voorafgenoemde naamgenote. Simbolies dra die hoofkarakter se naam gewig aangesien sy vriend Alan se een broer, Huey, Eugene se naam met Pink Floyd se lied "Careful, careful, careful with that axe, Eugene" (98) assosieer. Laasgenoemde assosiasie aktiveer vrae rondom temas in die roman naamlik moord, vriendskap en verlies.

Die boeiende verhaal fokus op Eugene, 'n welbelese joernalis wat tydens die sestiger- en sewentigerjare in die Boland grootword. Sy liefde vir boeke en die gedurige soeke na kennis kom vroeg in die roman aan bod wanneer hy in standerd vyf 'n eksemplaar van Leo Tolstoy se magistrale War and Peace by 'n klasmaat se huis steel. Weer eens is Van der Merwe se verwysing na die spesifieke roman veelseggend aangesien oorlog en geweld as temas tydens die apartheidsjare, maar ook met die aanbreek van 'n demokratiese bestel in 1994 sterk in die roman figureer.

Die narratief word in ses afdelings deur middel van 'n raamvertelling aangebied. Deur middel van tydspronge tussen die hede en verlede word Eugene se lewensverhaal soos spreekwoordelike legkaartstukke fragmentaries aanmekaargesit. Van der Merwe se fyn waarnemingsvermoë as joernalis is opvallend in die beeldryke vertelswyse waarop veral Eugene se kinderdae beskryf word. Hy slaag daarin om dié tydvak (1960-76) in Suid-Afrika se geskiedenis op onderhoudende en besonder geloofwaardige wyse aan te bied. Verskeie aspekte soos die kleredrag, taalgebruik, verwysings na handelsmerke asook geskiedkundige gebeure gee gestalte aan die karakters se lewe binne die konteks van 'n pynlike tydperk vir talle gemarginaliseerde groepe in Suid-Afrika se verlede.

Alhoewel die narratief vanuit 'n reeds volwasse agternaperspektief aangebied word, is dit interessant om Eugene-as-kind se siening op die ruimte waarin hy homself bevind het, te lees. Dit herinner sterk aan Jeanne Goosen se karakter, Gertie, in haar novelle Ons is nie almal so nie (1990) en die wyse waarop die leser die wêreld van die storie vanuit 'n onskuldige en naïewe kinderverteller se perspektief waarneem. "Kampong Boland, 1960's-1970's" kan myns insiens as een van die interessantste afdelings in die roman beskou kan word. Met tye voel dit vir die leser asof die verteller hom of haar in 'n tydskapsule terug in die verlede neem op soek na die antwoorde op verskeie vrae waarmee die leser in die roman gekonfronteer word. Van der Merwe se kleurryke vertelswyse slaag egter daarin om die leser deurentyd aan die raai te hou.

Eugene se karakter is egter meer kompleks as dit wat op die figuurlik gesproke oppervlak sigbaar is. Vanuit 'n psigologiese raamwerk slaag Van der Merwe daarin om die leser enduit te laat kopkrap oor Eugene se psigiese toestand wat veral sterk na vore tree nadat hy deur 'n vigilante-dominee en 'n paar boere in die Oos-Vrystaat aangerand word. Hierdie gebeurtenis in Eugene se lewe laat vrae ontstaan oor sy rol as vryheidsvegter tydens die onstuimige sewentiger- en tagtigerjare in die stryd teen die apartheidsregering. As gemarginaliseerde figuur word Eugene se karakter simbolies van talle Suid-Afrikaners se ervaring van onderdrukking en die ontmensliking wat op gewelddadige en psigologiese wyse deur die apartheidsregime toegepas is.

Die gebruik van 'n bobbejaan as metafoor vir Eugene se geestestoestand dui daarop dat hy moontlik breinskade opgedoen het weens die aanranding, maar aktiveer ook die idee dat dit weens trauma of skuldgevoel as spreekwoordelike uitlaatklep gebruik word om met sy hede en verlede te versoen. Dit is opvallend dat Eugene se bobbejaan telkens sy verskyning maak wanneer hy in nood verkeer hetsy fisiek of geestelik van aard. Tonele waarin hy verneder word wanneer hy met 'n tuinslang agter in 'n voertuig natgespuit word, dui op die gruweldade waaraan talle politieke vryheidsvegters blootgestel is.

Op vernuftige wyse slaag die verteller daarin om gestalte te gee aan die hoofkarakter se ervarings, maar skep tegelykertyd twyfel by die leser rondom die karakter se fiksionele wêreld teenoor sy verbeeldingswereld. Wat is werklik en wat is moontlik verbeel weens die effek wat trauma en skuldgevoel op Eugene as karakter uitgeoefen het? Op dié wyse word Eugene se verhaal die verhaal van 'n getraumatiseerde individu wie se geestesgesondheid met tye die leser tussen feit en fiksie, werklikheid versus die realiteit, asook trauma versus moontlike skisofreniese gedrag laat wonder.

Die slot van die roman is myns insiens bot. Alhoewel die narratief op verrassende wyse afgesluit word, het dit dié leser met 'n gevoel van onvergenoegdheid gelaat. Heel moontlik het die skrywer doelbewus die slot op so 'n wyse beplan dat dit die leser met meer vrae laat omtrent die misterieuse Eugene-karakter. Ten spyte van laasgenoemde opmerking is Eugene 'n boeiende roman en 'n welkome toevoeging tot Kirby van der Merwe se literêre oeuvre. Dit is een van daardie tekste wat die leser sonder twyfel tot nabetragting stem.

Dewald Koen

Dewald.Koen@mandela.ac.za
Nelson Mandela Universiteit
Gqeberha, Suid-Afrika
ORCID: https://orcid.org/0000-0003-0781-4915

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons