SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 issue1Perceiving precarity and extremism in Nuruddin Farah's North of DawnNuruddin Farah: A pas de deux across The World Republic of Letters author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.60 n.1 Pretoria  2023

http://dx.doi.org/10.17159/tl.v60i1.15559 

BOOK REVIEWS

 

 

Hou jou oë oop.
Brian Fredericks.
Kaapstad: Human & Rousseau, 2022. 296 pp.
ISBN 9780798182744.

Brian Fredericks se Hou jou oë oop, sy debuut as romanskrywer, is 'n voortsetting van die temas in As die Cape Flats kon praat-die kortverhaalbundel waarmee hy in 2020 as skrywer gedebuteer het en wat met die K. Sello Duiker-gedenkprys bekroon is. Die lewe op die Kaapse vlakte, armoede, geweld, dwelms en nommerbendes word weer betrek, maar hierdie keer is daar 'n sterker fokus op identiteitspolitiek.

Hou jou oë oop is die verhaal van Ricardo wat in Athlone saam met sy ma, broer en suster leef. Die negentienjarige Ricardo se grootste begeerte is om te gaan studeer en iets te maak van sy lewe, anders as sy suster Tracy wat in 'n verhouding met die bendeleier Capone is, en sy broer Anton wat deel is van die struggle teen Apartheid. "Hier moet ek wegkom. Dis my plan" (14), sê Ricardo oor sy ambisie om uit sy omgewing van geweld en armoede te ontsnap, woorde wat herinner aan dié van Tiemie in P. G. du Plessis se drama Siener in die Suburbs (1971): "Ek wil nie hier bly nie. Ek wil nie hierdie lewe hê nie. [...] Ek wil van geweet wees" (26).

Die eerste deel van die roman begin in 1985 waar Ricardo in die tuin van die Prinsloos in Constantia gaan werk om geld te spaar vir UWK, want "[e] ducation kan my 'n platform gee om rêrig weg te kom" (98). Maar dan sterf sy broer in die struggle, en kort daarna sy ma, en dan begin Ricardo se drome ontspoor. Deel twee van die roman speel af in 1997, en van die ambisieuse Ricardo wat "matriek met A's geslaag" (66) het, is daar min oor: "In dié tyd begin ek drink en rondslaap met verskillende vroumense. Beweeg van een werk na die ander. Koppel met vrinne wat net naweke in die smokkeljaart sit" (136). Later het hy geen keuse as om agter in die jaart van Capone te gaan bly nie.

Wanneer Ricardo die enigmatiese Luigi ontmoet, lyk dit of daar uiteindelik 'n uitkoms vir hom is wanneer hy 'n beurs ontvang om by Luigi se College of Knowledge te studeer, maar dan dwing Capone hom om by sy kriminele aktiwiteite betrokke te raak, en Ricardo se lewe verander radikaal. In die derde deel van die roman wanneer Ricardo in Drakenstein-gevangenis by 'n tronkbende ingelyf word, dink mens aan Adam Small se gedig, "Die Here het gaskommel": "die dice het verkeerd gaval vi' ons / daai's maar al".

Ricardo gaan sit egter nie in sak en as oor die manier waarop die dice vir hom geval het nie, maar erken aan homself dat hy sy oë van die "goal" (284) afgehaal het: "[.] ek het myself geketting aan opinies van mense [...]. Mense wat nie vir my as persoon gesien het nie, [...] net my velkleur [...]. Ek is vir jare as niks minder as 'n negative stereotype gesien nie. Die ergste van alles is, ek het dit alles entertain" (293).

Ricardo is deur verskeie karakters gewaarsku om sy oë oop te hou en die realiteit te aanskou (16, 74, 185), wat die titel as motief in die roman laat funksioneer. Dit is egter eers tydens die slot van die roman waar Ricardo vir die eerste keer gehoor gee aan hierdie waarskuwing en sy situasie in aanskou neem. Die selfinsig waartoe dit Ricardo laat kom, wys op die kwessie van identiteitspolitiek wat Fredericks in die roman ondersoek. Dit geskied grotendeels deur middel van bruin identiteit wat geobjektiveer word.

Adriaan, seun van die Prinsloos, noem byvoorbeeld aan Ricardo: "Kleurlinge fassineer my. [...]. Julle hele geskiedenis. Daar's 'n soort aura rondom julle." (69). Adriaan versoek dan ook om vir Ricardo te teken vir 'n kunswerk. Waar "toi-toi, die necklacing [.], swartes wat in aanhouding doodgaan. Skoolkinders wat in die strate doodgeskiet word" (113), deel is van die harde realiteit op die Kaapse Vlakte waarvan Ricardo wil wegkom, gebruik Adriaan dit as "vrugbare stof vir sy kuns" (113).

Al wil die twee UWK-vrouestudente stem gee aan die weerloses en daarom versoek dat Ricardo hulle deur Athlone begelei sodat hulle foto's kan neem en onderhoude met mense kan voer, objektiveer hulle ook bruin mense. Luigi is eweneens besig om die maatskaplike omstandighede van bruin mense op die Kaapse Vlakte uit te buit vir sy eie politieke redes (286).

Een van Ricardo se onderwyser het destyds verklaar, "Ek's nie 'n kleurling nie" (73). Volgens die onderwyser is die woord "kleurling" 'n vloekwoord, 'n naam wat die regering op bruin mense afforseer. Hierdie sentiment sluit aan by die storie oor die jazz-groep wat Ricardo se pa destyds in Distrik Ses begin het, wat musiek gemaak het "[o]or hoe jou velkleur jou ambition kan stop" (88). Ricardo besef uiteindelik dat hy toegelaat het dat sy velkleur sy ambisie kelder, deurdat hy ingegee het tot die stereotipe rondom bruin identiteit. Wanneer hy met 'n tandeborsel die 26-tatoeëermerk op sy duim uitbrand (293), maak hy dit duidelik dat hy nie langer gaan toelaat dat sy velkleur (of sy omstandighede) in die pad van sy drome en ambisie staan nie.

Hierdie slotgedeelte aktiveer die sirkelstruktuur van die roman. Wanneer die maatskaplike werker vir Ricardo vra waarom hy in die tronk is, begin hy sy storie-die roman wat die leser pas gelees het- aan haar te vertel (294). Die sirkelstruktuur se oop einde word uiteindelik ook simbolies van Ricardo se deursettingsvermoë, en dat hy ten spyte van sy verslaentheid, steeds vasklou aan sy drome en ambisie: "Ek hustle my hele lewe lank, ek's nog nie klaar nie" (256).

Dit is jammer dat Ricardo se wispelturige gebruik van taalregisters en die feit dat sy perspektief nie deurgaans sterk genoeg deurkom nie, die eerstepersoonsvertelling soms belemmer. In die enkele hoofstukke waar bendeleiers as vertellers optree en in tronktaal oor die nommerkultuur praat, word die fokus insgelyks verloor en haper dit die vertelling as karakterroman.

Ten spyte hiervan is dit interessant om te sien hoe Fredericks se roman aansluit by veral P. G. du Plessis se Hertzogprysbekroonde drama, Siener in die Suburbs (1971), deurdat beide tekste die mens se verhouding met sy omgewing ondersoek, asook die futiele wyse waarop daar uit troostelose omstandighede ontsnap probeer word.

Aan die einde van 2022 is die Jan Rabie en Marjorie Wallace Skrywersbeurs vir 2023 aan Fredericks toegeken op grond van 'n voorstel vir 'n beoogde roman in fragmente oor 'n vergange gemeenskap waar die lewens van mense van diverse kleure, kulture en herkomste verweef was. Hierdie verhaalopsomming herinner sterk aan A.H.M. Scholtz se bekroonde Vatmaar (1995). Ek hou my oë oop om te sien op watter eiesoortige wyse Fredericks ook met hierdie ikoniese Afrikaanse teks in gesprek gaan tree.

Frederick Botha

frederick.botha@spu.ac.za
Sol Plaatje Universiteit
Kimberley, Suid-Afrika
ORCID: https://orcid.org/0000-0002-5815-8308

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License