SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 issue1Nuruddin Farah: Variations on the theme of returnTrajectories of radicalization and resilience in Nuruddin Farah's North of Dawn author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.60 n.1 Pretoria  2023

http://dx.doi.org/10.17159/tl.v60i1.15772 

BOOK REVIEWS

 

 

Doolhof.
Rudie van Rensburg.
Kaapstad: Queillerie, 2022. 320 pp.
ISBN 9780795802553.

Doolhof is die tiende Kassie Kasselman-dossier en jongste boek van Rudie van Rensburg. Van Rensburg het 'n indrukwekkende en vinnig groeiende oeuvre met titels wat bykans elke jaar, soms tot twee titels 'n jaar, verskyn. Hy is 'n oud-joernalis en deesdae gewilde en bekende skrywer. Hy skryf meestal misdaadfiksie maar het 'n aantal humoristiese romans oor Hans van Kraaienburg wat deel is van sy oeuvre.

Die ondertitel van Doolhof lui "ses verdagtes, ses motiewe om te moor". Dit is 'n ondertitel wat van toepassing is op een van die storielyne in die verhaal. Daar is inderwaarheid drie skynbaar onverwante stories wat vertel word. Die moord op oud-politikus en sakeman Armand Deysel is die grootste raaisel vir Kasselman en sy regterhand Rooi Els. Die sakeman is een aand vermoor terwyl die elektriese heining van sy woning nie werk nie. Vir 'n omstrede persoon soos Deysel is daar nie 'n tekort aan vyande nie. Vinnig is daar ses verdagtes op die lys, elkeen met 'n baie goeie rede om die moord te kon pleeg. Geld laat inderdaad die wiele van die (onder)wêreld draai en Kasselman en Els is vasgevang in 'n doolhof van doodloopstrate.

Vivian Thompson is 'n private speurder in Londen wat pas haar eie onderneming begin het. Gelukkig vir haar kom die skatryke Sir James Evans op haar webwerf af en kontak haar om 'n waardevolle familieskat op te spoor: die doolhof-halssnoer wat oupagrootjie Evans vir sy verloofde laat maak het. Ongelukkig maak Thompson die fout om die aandag van 'n berugte sindikaat se aandag te trek. Kort voor lank moet sy heeltyd oor haar skouer loer om seker te maak sy bly een tree voor die uitgeslape bende.

Waldo Smit is 'n loser. Hy het net 'n matriekkwalifikasie en nou is hy sy werk, sy geld en al sy besittings kwyt. Hy het te maklik in die kloue van 'n manipulerende vrou ingeloop wat hom van al sy besittings en waardigheid gestroop het. Hy is kwaad, kry skaam en kan slegs bekostig om in 'n kamer van iemand se vervalle huis te bly. In 'n desperate poging om iewers werk te kry loop hy by 'n boekwinkel in Loopstraat in Kaapstad in. Daar ontferm meneer Finkelstein hom 'n bietjie oor die gehawende man. Waldo probeer optimisties bly en om nie in sy ma se voetspore te trap en ook selfmoord te pleeg nie. Dit is egter nie so maklik nie. Dit is dalk al opsie wat vir hom oorbly. Tensy hy op een of ander wonderbaarlike manier 'n klomp geld erf.

Hierdie drie storielyne maak vir 'n storie wat spannend uitgebou word en 'n goeie pas handhaaf. Die skrywer strooi broodkrummels subtiel in die storie wat 'n mens lei om so half en half die storie bymekaar te sit, maar die boek lewer nie 'n voorspelbare einde nie. Eerder 'n bevredigende, byna gelukkige en vrolike einde. Dit bewys dat dit 'n lekkerleesmisdaadroman is-al is daar 'n moord en ongure karakters betrokke.

Soms kan dit voel of die leidrade bietjie maklik na vore kom, amper soos 'n episode van die TV-reeks CSI waar 'n lukrake, byna nuttelose brokkie inligting of objek lei na die ontdekking van 'n groter leidraad. Die karakters se probleme word ook meestal netjies opgelos en hulle beleef selfs groot geluk. Dit is miskien 'n bietjie te goed om te glo, maar nietemin doen dit nie afbreuk aan die roman se lekkerleesbaarheid nie en dit is maklik om verdiep te raak in die storie.

In die misdaadfiksie in Afrikaans is daar heelwat hoofkarakters wat interessant en boeiend is. Die karakters het later hulle eie reekse gekry en dit sorg vir 'n groot aanhang by lesers. Daar is Bennie Griessel, die hardgebakte speurder van Deon Meyer, en onlangs Ami Prinsloo, die vat-g'n-nonsens-nie joernalis van Irma Venter, om maar 'n paar te noem. Kassie Kasselman is nog so 'n bekende karakter. 'n Mens sal die hele reeks waarin hy voorkom moet lees om 'n beter idee van hom as speurder en karakter te kry. Hy het net 'n bietjie te ver van die hierdie storie gevoel, asof mens nie heeltemal 'n greep op hom kan kry nie. Dat hy 'n ervare speurder is wat 'n oog en intuïsie soos min van sy kollegas het, maak wel van hom 'n aangename karakter.

Die storie bevat verwysings na hedendaagse politiek, karakters wat swaarkry in die ekonomiese klimaat ná die pandemie en oomblikke van humor en skerpsinnige sêdinge (meestal van Dan Piedt, die navorser vir die Spookeenheid). Die boek se titel doen die storie se kinkels gestand. Doolhof bied 'n lekkerleeservaring wat lesers vasgenael gaan hou. Nes 'n mens dink alle hoop is verlore, lewer die doolhof 'n opening wat al die drade netjies aanmekaar bind.

Shawna-Leze Meiring

shawnaleze.meiring@gmail.com
Onafhanklike navorser
Kaapstad, Suid-Afrika
ORCID: https://orcid.org/0000-0001-5075-4677

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License