SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 issue1Male 'Somaliness' in diasporic contexts: Somali authors' evaluative evocationsPerceiving precarity and extremism in Nuruddin Farah's North of Dawn author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.60 n.1 Pretoria  2023

http://dx.doi.org/10.17159/tl.v60i1.15823 

BOOK REVIEWS

 

 

Die kapokdokter.
François Loots.
Kaapstad: Umuzi, 2022. 162 pp.
ISBN 9781415211106.

In 1816 stap ene dr.James Barry die Kaap de Goede Hoop aan wal. Teen hierdie tyd is die Kaap al lankal 'n kolonie van die magtige Britse Ryk en lord Charles Somerset dien as goewerneur. As dokter in die Britse Leër maak Barry vinnig opgang, veral ná sy aankoms in die Kaap en weens sy goeie verhouding met goewerneur Somerset. Dit is hierdie tydperk van die werklike dr. James Barry se lewe wat as kweekvywer dien vir François Loots se nuutste historiese roman, Die kapokdokter.

Loots het met twee van sy vroeëre romans, Rooi Jan Alleman (2012) en Die diepblou see (2017) die lewens van onderskeidelik Bram Fischer en Jan Hofmeyr herverbeel, en in 'n Spook in die huis (2019) betrek hy ook figure uit die veelbesproke Anni Dewani-saak van jare gelede. In my resensie van Die diepblou see het ek dié roman as grootliks geslaagd beskou, al het ek die outeur se gekose styl en herhalende gebruik van sekere beelde steurend gevind (Fourie). Nietemin, in die geval van Hofmeyr het ons te make met 'n belangrike geskiedkundige figuur wat jammer genoeg grootliks in die vergetelheid verdwyn het, en Die diepblou see staan steeds as beskeie korrektief hierop. Van dr. James Barry kan egter nie gesê word dat hy 'n geskiedkundige randfiguur is nie, aangesien sy verhaal reeds sedert enkele jare ná sy dood mense fassineer. Om maar een ou en een nuwe voorbeeld te noem: Charles Dickens publiseer in 1867 'n kortverhaal oor Barry, "A Mystery Still", en selfs die plaaslike uitgewer Book Dash het so onlangs as 2014 nog 'n kinderboek, The Cottonwool Doctor, oor Barry se lewe uitgegee. Wat Loots se roman wel laat uitstaan, is dat dit vrygestel is in 'n tyd waarin daar opnuut heftige gesprekke gevoer word oor gender, genderidentiteit, die patriargie en genderkonstruksie. Soos met Fischer en Hofmeyr se verhale die geval was, kan die geskiedenis alleen nie die narratiewe gapings oor Barry se lewe vul nie, en die outeur verbeel dus iets as antwoord hierop.

Baie lesers sal waarskynlik reeds in breë trekke van Barry se lewe bewus wees. Gedurende sy nadoodse ondersoek is bevind dat sy geslag eintlik vroulik was- hy is later geïdentifiseer as 'n persoon gebore Margaret Bulkley-en die dokter wat die ondersoek uitgevoer het, het verder vermoed dat hy op 'n stadium selfs 'n kind in die wêreld gebring het. (Ek verwys deurgaans in hierdie resensie na dié figuur se identiteit as manlik, met die gepaste voornaamwoorde, aangesien sy eie persoonlike dokumente daarop dui dat Barry verkies het om as 'n man geken te word.) Terwyl hierdie opspraakwekkende saak vroeër jare waarskynlik meestal beskou sou word binne die raamwerk van die patriargie en die beperkings wat daardeur op vroue geplaas is, is dit haas onmoontlik om Loots se roman buite die eietydse gesprek rondom genderidentiteit te situeer. Die leser word immers aanvanklik bekendgestel aan die protagonis, 'n man, dr. James Barry, maar later in die roman leer ons dat Barry net een gedeelte van 'n persoon is, en dat die ander ene, 'n vrou, Margaret heet.

Dit is dan nie verbasend nie dat hierdie spanning tussen die uiterlike aanbieding van Barry as 'n man, enersyds, en sy biologiese geslag as vrou, andersyds, vir die narratiewe spanning in die roman sorg-en dit word meestal behoudend aangebied. Dr. Barry as militêre geneesheer is voortvarend en selde op sy mond geval, altyd maar alte bewus van ander se waarneming van sy klein hande, hoë stem en jeugdige voorkoms. Wanneer ons uiteindelik voorgestel word aan Margaret, sien ons iemand wat miskien meer terughoudend as Barry is, maar ook hiérdie skeiding vervaag soos die verhaal vorder en ons meer oor Margaret se verlede leer.

Soos Dan Sleigh se 1795 (2016) is Loots se roman geskoei op navorsing oor die Kaap gedurende die koloniale tydperk, en anders as wat die geval is met geskiedkundige tekste wat handel oor 'n figuur soos Barry bied Die kapokdokter 'n boeiende, byna lewende blik op die dag-tot-dag bestaan van mense in dié kolonie. Dit is veral die spanning tussen die koloniale administrasie onder lord Somerset en die bestaande "Hollandse" magstrukture aan die Kaap waarin Barry verwikkel raak. Die outeur slaag daarin om uit te brei oor die details van Barry se werksaamhede as mediese inspekteur aan die Kaap (én sy werk as alledaagse geneesheer) sonder dat die leser verveel of vermoei word. Die hoofkarakter se energieke persoonlikheid en drif maak dit geloofwaardig dat hy hom oor allerlei dinge sou bekommer-van die kleiner probleme soos die stryd om die bedrywighede van kwaksalwers met hulle rate te beperk, tot die sistemiese kwessies soos die onmenslike behandeling van gevangenis in die Kaap se tronke-en sodoende ontkom die roman aan daardie achilleshiel van historiese romans wat die leser enduit verveel met oordrewe beskrywings van banaliteite wat dalk geskiedkundig noemenswaardig mag wees, maar verhalend liefs aan historici en hulle geskrifte oorgelaat moes word.

Soos reeds genoem, is die roman duidelik geskryf met 'n sekere bewustheid van eietydse gesprekke rondom gender. En hoe trakteer 'n mens dan literêr 'n figuur soos dr. James Barry? 'n Voorspelbare benadering sou vereis dat die fokus van die roman sou val op die skepping van James Barry as persona as 'n gevolg van die onderdrukking wat vroue indertyd ervaar het. Barry se lewensverhaal sou vertel kon word as 'n voorbeeld van weerstand teen hierdie onderdrukking, en terselfdertyd ook as hartseer voorbeeld van die drastiese stappe wat vroue moes doen om 'n soort geslagsgelykheid te bewerkstellig. Die minder voorspelbare aanpak sou wees om Margaret/Barry se genderidentiteit op 'n minder eenvoudige wyse aan te bied. Wat as Margaret se skepping van James Barry nie net was om bo haar stand as vrou in die 18de en 19de uit te styg nie, maar ook omdat sy diep ongemaklik gevoel het met die idee van 'n gekonstrueerde "vroulikheid"? Daar is elemente van albei benaderings in Die kapokdokter. Veral deur Barry se behandeling van sekswerkers en swanger vroue word sy diep ongemak verraai jeens aspekte van 'n vrou se (en sy eie) liggaamlike ervaring van die wêreld, en tegelykertyd bied dit ook 'n (onvoltooide) betragting oor die idee van 'n sogenaamde essensiële vrouwees. Hier word iets uit sy verlede opgediep wat Barry se knapheid as verloskundige verduidelik. Maar hierdie idee word myns insiens nie in betekenisvolle en volgehoue diepte uitgewerk nie, net soos daar net aan die oppervlak geraak word wat betref hierdie karakter se seksuele en emosionele begeertes en drange- waarskynlik omdat die roman meestal ingestel is op die dokter se bewustheid van die beperkte wyse waarop hy met sy wêreld kan omgaan, en weliswaar net ongeveer twaalf jaar van sy lewe dek.

Met Die kapokdokter bied Loots aan die leser 'n leesbare en genotryke roman, en die besluit om Barry se jare in die Kaap te gebruik as die historiese agtergrond vir die romangebeure (met enkele terugblikke na die karakter se grootwordjare, wat redelik spaarsamig gebruik word) het 'n meer gefokusde teks as sy vorige werke tot gevolg. Terwyl daar seker nog heelwat gesprek gevoer kon word oor die dalk verspeelde geleenthede af en om verdere diepgang en vernuwing te bewerkstellig spoo oor die hoofkarakter se genderidentiteit, bied die vir s roman tog 'n interessante blik op die enigmatiese dr. Thom James Barry se lewe. Uiteindelik slaag Die kapokdokter daarin om 'n gekonsentreerde blik op Barry se lewe te skets sonder dat dit in engheid, verveligheid of lastige een t stilistiese toertjies verval.

Reinhardt Fourie

fourir@unisa.ac.za
Universiteit van Suid-Afrika
Pretoria, Suid-Afrika
ORCID: https://orcid.org/0000-0003-1292-8140

 

Geraadpleegde bron

Fourie, Reinhardt. "Die diepblou see (Francois Loots)." Tydskrif vir Letterkunde vol. 55, no. 1, 2018, pp. 200-2. DOI: https://doi.org/10.17159/2309-9070/tvl.v.55i1.4285.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License