SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 número1Anxiety and influence in Nuruddin Farah and younger Somali writersNuruddin Farah: Variations on the theme of return índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Letterkunde

versión On-line ISSN 2309-9070
versión impresa ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.60 no.1 Pretoria  2023

http://dx.doi.org/10.17159/TL.V60I1.15668 

BOOK REVIEWS

 

 

Bot.
Carien Smith.
Kaapstad: Tafelberg, 2022. 160 pp.
ISBN 9780624092872.

Carien Smith se kortverhaalbundel het onlangs die UJ-debuutprys (2023) gewen. Smith dra haar debuut Bot (2022) op aan alle medereisigers in die sesde massauitwissing-die leser word welkom geheet tot sy eie afsterwe. Reeds met die eerste kortverhaal "Trein" word die leser geneem na Valhalla, die volmaakte samelewing sonder hedendaagse (oftewel toekomstige) probleme. Dit is die "Finale oplossing" (14) om die mens uit sy ellende te red. Net soos 'n ander finale oplossing, bevind die ek-verteller haar nie by die poorte van 'n veilige hawe nie, maar sy is vasgekeer in 'n kajuit met geslote vensters en die verstikkende reuk van amandels. Wees gewaarsku dat die kortverhale grotesk-aangrypend is, en sonder hoop.

Die kortverhaalbundel is 'n versameling van reise, onder meer geografies, filosofies, biologies en tegnologies. Die leser word saam met die verskillende ek-vertellers op reis geneem. Kwessies oor kuns, progressie en menslikheid word deurgaans aan die leser geopper. Bot is die bot mens, die natuur wat bot, en die robot. Elke kortverhaal is soos 'n episode van Black Mirror-die mens se bestaan word bevraagteken en die klimaks van die verhaal laat die leser in angs worstel, enige lafenis is slegs 'n illusie.

Carien Smith is besig met haar doktorale studies rondom die epistomologie en etiek van klimaatsverandering, en dié is temas wat sterk aanwesig is binne die verskillende narratiewe en beelde van moontlike toekomste. Ander tematiese aspekte wat ook ondersoek word, sluit onder meer die volgende in:

die rol en mag van sosiale media, die verbrokkeling van die familiestruktuur, eiebelang teenoor menslikheid, die afwesigheid van empatie, die oorheersende rol wat tegnologie in die mens se daaglikse lewe speel, totalitarisme, eugenetika, kloning, virtuele realiteite, kunsmatige intelligensie, die mens se afhanklikheid van tegnologie, klimaatsverandering, vlugtelinge, die verwoesting van die natuur, die genetiese manipulasie van diere, biotegnologie, eutanasie, geweld, solastalgie, en konflik tussen dit wat wettig is en dit wat moreel is. Wat is die verskil tussen 'n mens en 'n bewuste of gevoelige robot? Waar begin die een en waar eindig die ander? Hedendaagse krisisse en tegnologiese moontlikhede is die speelgrond waarop bogenoemde temas uitgespeel word in 'n bloeddorstige apokalips-bingo.

Die gruwel word verdoesel met die prag van die bundelomslag. Die konflik tussen die natuur en tegnologie word beklemtoon. Dit dui op die bevordering van die een ten koste van die ander. Die verhale word mooi verpak, maar die inhoud is beklemmend. Dit speel ook in op die idee van 'n perfekte samelewing: dit lyk mooi van buite, maar dit is 'n vervalste en oppervlakkige beeld. Dit is slegs vir 'n klein groep 'n utopie.

Bot is wetenskapfiksie op sy beste. Alhoewel sommige verhale afspeel in 'n futuristiese Suid-Afrika, is die verbeelde samelewing herkenbaar vir die hedendaagse leser. Krisisse in die hede word geëkstrapoleer: dit is 'n waarskuwing vir wat moontlik mag gebeur indien die krisisse nie opgelos word nie. Smith verweef wetenskapfiksie met magiese realisme. Aan die een kant is die speling tussen wetenskapfiksie en magiese realisme prikkelend en dit skep interessante scenario's wat die leser dompel in 'n filosofiese foltering. Aan die ander kant verbreek die magiese realisme die bereidwilligheid van die leser om die ongeloofwaardige (naamlik die futuristiese uiteensetting) as gebeurlik te aanvaar. Die geloofwaardigheid van die toekomstige moontlikhede word belemmer met die wete dat sommige verskynsels beperk is tot fantasie (die magiese). Ten spyte hiervan is die vermenging van hierdie twee uiteenlopende genres fassinerend.

Daar word deurgaans in die bundel gebruik gemaak van verskillende vroulike ek-vertellers van 'n verskeidenheid ouderdomme, van tieners tot 'n ouma, selfs 'n robot. Die verskillende ek-vertellers gee 'n beknopte, maar veelseggende blik op vroulike ervarings en die verskillende rolle wat sy deur haar leeftyd vervul. Só word daar ook kritiek gelewer op die verwagtinge wat op vroue geplaas word. Die leser word meegesleur en die spanning bou op maar die kruks van die verhale bring telkens geen verligting nie. Die leser word gelaat met 'n opbou van energie, 'n mislukte veg-of-vlug respons omdat hierdie spanning nie verwerk is nie. Lesers is tog medereisigers en die ek-vertelling maak die leser deel van die chaotiese samelewing. Almal is aandadig aan die volgende massa-uitwissing, ons is die Antroposeen wat ons eie menswees en wêreld se ondergang gaan veroorsaak.

Soos die meeste distopiese werke speel Bot met die idee van die verlede. Die toekomste uitgebeeld in die kortverhale weerspieël gebeurtenisse uit wat herkenbaar is. Geskiedenis word herwin. Daar is skeiding tussen verskillende groepe. Die skeiding is nie weens ras nie (alhoewel rasseskeiding nie totaal uitgewis is nie). Mense word verdeel volgens hulle (skynbare) perfektheid of die rykdom wat hulle besit. Daar is 'n groot gaping tussen dié wat 'n gemaklike lewe van oorvloed geniet en dié wat veg om oorlewing. In "O2" is dit die mense in privatopieë wat suurstof en inentings kan bekostig, en die res word uitgesluit en ingesluk in 'n toksiese wêreld, onbeskermd teen die elemente. In "Laemens" woon die ryk en byna perfekte mense in die veilige Koepeldorp (Stellenbosch), terwyl die arm en defekte mense buite plak. Hulle is proefkonyne in eksperimente om enige afwykings uit die menslike DNS te verwyder. Daar is 'n kastestelsel, eugenetika is belangrik en mense word deur bio-ingenieurs verbeter. Slegs die bes-aangepaste mense mag voortbestaan. Hierdie evolusie is "God se plan" (49).

Die tema van mense wat God speel, kom deurgaans in die bundel voor. In die slotverhaal, "god die Robot" kom mense per trein na die goddelike rykdom van die Robot en moet hulleself oorgee aan hierdie nuwe tegnologiese heerskappy. Dit is interessant om die eerste en laaste verhaal saam te lees. Die sestien kortverhale skakel nie aan mekaar nie, maar tog is daar 'n verbintenis tussen die vertellers en samelewings wat nie neergepen kan word nie. Die eerste en laaste verhale (naamlik "Trein" en "god die Robot") maak die verhale siklies van aard, en dit laat die leser vir oulaas in 'n toestand van skok, veral met die twee laaste paragrawe van die slotverhaal.

Bot laat die leser 'n tuimeltrein van emosies beleef. Dit forseer hulle om oor hulle menswees te dink, maar ook die mens se posisie in die groter raamwerk. Die stryd tussen natuur en tegnologie word op die voorgrond geplaas en dit verg 'n reaksie van die leser. Indien die noodkreet geïgnoreer word, sal Suid-Afrika se toekoms donkerder as haar verlede wees. Soos gesuggereer in "Fel" sal daar in die toekoms klimaatsvlugtelinge wees, moord sal gepleeg word vir drinkwater, en geweld van onbeskryflike wreedhede is die norm.

Waar postapartheid Suid-Afrika die Waarheids-en-Versoeningskommissie ingestel het om geregtigheid te herstel, sal daar in die toekoms 'n Nasionale Klimaatswaarheid-en-Versoeningskommissie wees om oor die misdade in die klimaatskrisis te oordeel. Die kommissie kan nie die mense red nie, dit is 'n leë seremonie en weerspieël die president se leë woorde in die slotparagraaf. Die aanslae duur voort. Bot, en alle slagoffers van die Antroposeen, spook by jou.

Carmi Britz

carmibritz@sun.ac.za
Universiteit Stellenbosch
Stellenbosch, Suid-Afrika
ORCID: https://orcid.org/0000-0002-7202-8024

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons