SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.59 issue3 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.59 n.3 Pretoria  2022

http://dx.doi.org/10.17159/tl.v59i3.13286 

RESEARCH ARTICLES

 

Vanden vos Reynaerde se transformasie tot Reinaard die Jakkals

 

Vanden vos Reynaerde's transformation into Reinaard die Jakkals

 

 

Nerina BosmanI; Jan StanderII

IVErbonde aan die Departement Afrikaans, Fakulteit Geesteswetenskappe, Universiteit van Pretoria, Pretoria, Suid-Afrika. Sy fokus in haar navorsing op konseptuele metafore in Afrikaans en op die Afrikaanse aanspreeksisteem. E-pos: nerina.bosman@up.ac.za; https://orcid.org/0000-0003-3023-9568
IIWas 'n prokureur met 'n besondere belangstelling in Afrikaans en veral die Middeleeuse Vanden vos Reynaerde, onder andere vanweë die hofsaak wat die kern van die epos vorm

 

 


ABSTRACT

The legacy of the Middle Dutch epic Vanden vos Reynaerde and the many ways in which we still see traces of Reynaert the fox and his companion, Iesegrim the wolf, in Afrikaans, are discussed in this article. The indestructible fox gets a second life under the Southern Cross, perhaps most notably in the many tales about Jackal and Wolf which are well known as part of a shared oral heritage by white and Khoi speakers of Afrikaans. Our focus is not these stories, however, but rather the following question: does the Reynaert of the epic indeed live on in Afrikaans literature? We argue that the epic itself and its literary heritage has not received as much attention as did the stories of the sly jackal and the gullible, even dim-witted, wolf. These extremely short stories do not exhibit the carefully planned structure, sharp social commentary and ruthless exposing of human weaknesses as does the epic. In our opinion, the only text in which the medieval epic itself functions as intertext, is in the brilliant adaptation by Eitemal. Eitemal created a story which is in many ways so different from the Dutch Reinaert, that it truly is a story written on African soil. In the Eitemal text, the sly fox becomes a typical Afrikaans crook-and what's more, he is a villain who is not foreign to modern readers due to his essentially human character. In Reinaard die Jakkals the intrepid, extremely cruel but also clever fox lives on.

Keywords: Vanden vos Reynaerde, Reinaard die Jakkals, translation, Eitemal, Jakkals en Wolf.


 

 

Inleiding

Die Afrikaanse wel en wee van Reinaert die vos en sy metgesel, Iesegrim die wolf, kom in hierdie artikel aan bod. Die vos het as't ware 'n tweede lewe op Afrikabodem kom voer, baie soos wat Hellinga oor die onverwoesbare aard van sy Vlaamse voorvader skryf:

Nog altijd sluipt Reynaert, de felle rode, door de velden van Vlaanderen. Hij steelt er zijn kippen en klein wild, ergert boer en jachtopziener, en glipt weg, vol slimme streken, als hij gejaagd wordt, tot bewondering ook van zijn vervolgers. Men houdt van hem en noemt hem een rakker. Men vertelt verhalen van hem, veel verhalen en sterke verhalen, die als ze waar zijn hem eren en die hem ook eren als ze niet waar zijn en dat is nogal eens het geval. Hij leeft in het veld en hij leeft daar onder de mensen. Hij leeft ook in de literatuur, in de hoofden en harten van literatoren en lezers. Ja, lezers! (353)

Ook Lulofs (59) se opmerking moedig ons aan om spoor te vat langs Reynaert se kronkelende weë: "Dat spoor van Reynaerdus, Renard, Reinhart, Reynaert en Reynke voert ons langs vele ongekende plaatsen die de moeite waard zijn nader te beschouwen, hoe kronkelig de paden ook zijn die hij gekozen heeft".

Meer onlangs wys ook Parlevliet (118) daarop dat die vos (of is dit eerder die epos self?) baie afstammelinge het: "Both English and Dutch literature are still haunted by his wit, his warped sense of humour and his wickedness".

Hierdie Reynaert oor wie die skrywers dit het, is die hoofkarakter in een van die merkwaardigste letterkundige werke van die Middeleeue, Vanden vos Reynaerde, 'n diere-epos uit die dertiende eeu (Van Oostrom 467). Dit is die lewenskragtigheid van die ou Reinaertverhale wat ons noop om 'n invalshoek te kies wat effens anders is as wat in die Afrikaanse literatuur betreffende die bekende Jakkals-en-Wolf-verhale gekies is. Die vraag in hierdie artikel is: leef die Reinaert van die epos inderdaad nog voort in ons letterkunde en in die hoofde en harte van lesers in Suid-Afrika?

In die artikel word betoog dat, alhoewel die Reinaertverhale onder andere hier te lande voortleef in Afrikaanse stories oor Jakkals en Wolf, die epos as sodanig nie genoeg (of nie die regte) aandag gekry het in die reeds omvangryke versameling artikels oor die vos/jakkals nie. Ons toon aan dat daar in die Afrikaanse Jakkals-en-Wolf-verhale min tekens is van die epos met sy sorgvuldige struktuur, skerp sosiale kommentaar en genadelose aan-die-kaakstelling van (menslike?) swakhede. Volgens ons is die enigste Afrikaanse verhaal waarin daar sprake is van die Middeleeuse epos self as interteks, die diere-epos van Eitemal, Reinaard die Jakkals, 'n Afrikaanse diere-epos.

 

'n Afrikaanse jakkals

Vanden vos Reynaerde was in die twintigste eeu nie onbekend aan studente wat Afrikaans en Nederlands aan Suid-Afrikaanse universiteite studeer het nie.1Reynaert, die sluwe, die wrede, die onverskrokke anti-held, dien klaarblyklik as onuitputlike inspirasie vir opeenvolgende generasies lesers, literatore, regskenners, vertalers en herskeppers van die teks. Om in die eenentwintigste eeu hierdie klassieke werk in die (Suid-) Afrikaanse konteks as 't ware af te stof en weer te bekyk, sal miskien vir studente en dosente hier te lande interessant wees.

In Suid-Afrika, 'n hele paar eeue nadat die epos geskryf is, maak die vos (of is dit nou 'n jakkals?) 'n twintigste-eeuse buiging in D. J. Opperman se gedig "Vloervelletjie":

Ek was al moeg

om in hotel en kroeg

net waar ek in Europa kom

by kneg of boer

ons saak te stel,

toe tussen Gent en Naarden

my voete op die vloer

warm druk in die hare

van 'n rooijakkalsvel,

die Vos Reinaerde!

In dié gedig uit die bundel Dolosse van 1963 is daar duidelike intertekstuele verwysings na die epos. Die spreker, veral geestelik uitgeput, vind in 'n Europese hotelkamer tussen Gent en Naarden troos in die vel van 'n rooihaarjakkals op die vloer.2 In die vreugdevolle uitroep-die Vos Reinaerde!-herken die spreker 'n ou vriend, miskien ook 'n geesgenoot. Die tydsgewrig waarin die gedig geskryf is, die jare sestig toe Suid-Afrika, en met name die Afrikaners, soos die jakkals vervolg word en voor die wêreldhof in Den Haag gedaag word, dien as agtergrond en konteks. In "Vloervelletjie" ontkom die vos aan die vervolging van die hof deur na Suid-Afrika te vlug en hom hier tuis te maak:

Hy skreef sy oë

En spits sy snoet

deur koue appelboorde

en kapok by Otterloo

en draf die lang voetpaadjie

verby Egipte, Libië

tot 'n hygende rooi tongetjie in die skadu

van 'n renosterbossie

In die Karoo.

Baie is reeds geskryf oor die verband tussen die Reynaertverhale en die Jakkals-en-Wolfverhale, waar die vos, ten spyte van sy metamorfose tot 'n ander spesie- die Europese rooivos is vulpes vulpes; die Afrika-jakkalse behoort tot die genus canis-in baie opsigte tog maar dieselfde ou skelm rooibaard gebly het. Ons wil nie die diskoers hier herhaal nie en wil ook nie bydra tot die gesprekke wat dikwels oor die orale aard van die Jakkals-en-Wolfverhale of oor toe-eiening van Khoi-verhale as behorende tot die Afrikaanse verhaalskat handel nie. Die aandag is veral gefokus op die vos en die wolf (en ander dierekarakters) van die Middeleeuse epos.

Ter wille van volledigheid en om die vele misdade van die vos aan te toon (en ook om hier en daar raakpunte met van die Jakkals-en-Wolf-stories duidelik te maak) word die verhaal, soos wat dit gestalte kry in Vanden vos Reynaerde, kortliks opgesom.

 

Vanden vos Reynaerde: die verhaal

Die verhaal sentreer om die pogings van 'n aantal antropomorfiese diere om die booswig, die vos Reynaert, voor die hof van koning Nobel die leeu te daag, met die doel dat hy verhoor en gevonnis moet word vir al sy wandade. Reynaert is maar sku vir die hof en ontduik die eerste twee dagvaarders (Bruun die beer en Tybeert die kat) op sy unieke listige manier (verse 518-1323).3

As gevolg van Bruun se eie vraatsigheid en swakte vir heuning, neem Reynaert hom na 'n boomstam met 'n bynes vol heuning waarin die timmerman Lamfreyde twee wíe geslaan het om die boomstam in twee te kan kloof. Sodra die gulsige Bruun sy kop en twee voorpote by die spleet ingedruk het om die heuning by te kom, haal die geslepe Reynaert die wíe uit sodat die beer in die stam vasgeklem word. Bruun word deur die timmerman Lamfreyde en ander dorpsbewoners goed toegetakel. Hy is lelik beseer wanneer hy sy kop en pote uiteindelik uit die stam uittrek en die bloed loop hom af. Die beer ontsnap deur in die rivier te duik en wanneer hy later op die oewer lê, verlustig Reynaert hom in Bruun se leed en spot hom genadeloos oor sy kaal, bebloede kop.

Ook Tybeert word deur sy eie lus vir muise in 'n lokval gelei en in die pastoor se skuur word hy in 'n strik gevang. Nie net Tybeert delf die onderspit nie. Martinet, die pastoor se seun, word wakker van Tybeert se geskree en maak sy vader en moeder wakker. Die "pape" (die priester) wil kaal soos wat hy uit die bed gespring het, die kat met sy vrou se spinrok (die stok waarop die wol, wat op die spinwiel of spintol gespin moet word, eers gedraai word) toetakel. In die chaos wat volg, spring die vervaarde kater met kloue en tande tussen die pastoor se bene in. Die pastoor verloor sy "klokke" in die geveg en ook sy "ding" val op die grond, tot verdriet van sy vrou, wat vrees dat hy hierna nie meer lus sal wees vir die liefdespel nie. Vol leedvermaak lag Reynaert só oor ander se pyn dat sy agterent open en 'n harde wind hom ontglip (vergelyk Burm en Van der Merwe 59 se aantekening by verse 1285-7):

Hi louch dat hem bachten scorde

Ende hem crakede die taverne

Hierna oortuig die derde dagvaarder, die das Grimbeert (Reynaert se neef en regsverteenwoordiger), sy oom om wel na die hof te gaan. Reynaert wil nou ook sommer by Grimbeert bieg, sodat hy aflaat kan kry. Hy erken dat hy allerlei wandade gepleeg het teenoor Bruun en Tybeert en dat Cantecleer die haan ook baie van hom moes verduur (hy het Coppe die hen en ook 11 kuikentjies doodgebyt). Die maniere waarop hy die wolf lsengrijn voortdurend bedrieg en laat ly het, is miskien die bekendste verhale (en ons vind hulle dan ook terug in Afrikaanse navertellings). In slegs drie reëls (verse 1505-7) vertel Reynaert byvoorbeeld van die visvangs op die ys en in verse 1508-605 volg die verhaal waar Reynaert die wolf deur 'n gat in die pastoor se skuur laat ingaan. lsengrijn vreet so baie dat sy buik te groot is om weer uit te kom. Hy word deur die pastoor en ander mans betrap wat hom bont en blou slaan. As biegvader gee Grimbeert die vos veertig houe met 'n takkie (verse 1675-6).

Bewend daag Reynaert dan uiteindelik by die hof op, waar hy terstond, nadat formele klagtes gelê is, skuldig bevind en ter dood veroordeel word. Terwyl lsengrijn, Bruun en Tybeert die galg oprig, en Reynaert alleen met die koning en koningin agterbly, vertel die listige vos 'n verhaal van skatte en verraad. Volgens Reynaert het sy eie vader, saam met lsengrijn, Bruun, Tybeert en Grimbeert, duistere planne gesmee teen koning Nobel met die doel om Bruun op die troon te kry. Hiervoor het hulle 'n groot skat vergader. Reynaert agtervolg sy vader na 'n geheime byeenkoms tussen die vier en steel op sy beurt die skat. Sonder die skat stort die komplot teen die koning in duie, maar, vertel hy verontwaardigd aan die koning, hy wat Reynaert is, word as sondebok voorgehou!

Die koning en koningin is die ene ore en baie geïnteresseerd in die skat. Reynaert bied aan om die plek waar die skat weggesteek is, bekend te maak as die koning hom sou vrylaat. Die koning spreek Reynaert dan ook dadelik vry en neem vervolgens vir Tybeert, Bruun en lsengrijn gevange. Die besondere wrede Reynaert (vers 2842) se oomblik van wraak het nou aangebreek en in 'n gebaar van uiterste sadisme vra hy die koningin om hom 'n pelgrimstas en skoene te gee, wat onderskeidelik uit die pels op die rug van Bruun die beer en die pote van lsengrijn en sy vrou Hersint, gesny moet word.

Reynaert vertrek hierna op 'n sogenaamde pelgrimstog na Rome, maar word eers na sy burg Maupertuus begelei deur Cuwaert die haas en Belijn die ram.

In die burg onder die grond vermoor Reynaert vir Cuwaert terwyl Belijn buite wag (hy, synde 'n ram met horings, kan nie in die gat onder die grond inkruip nie). Onder voorwendsel dat daar 'n brief in die tas is, stuur Reynaert Belijn met die tas, wat inderwaarheid Cuwaert se kop in het, terug na koning Nobel. Reynaert vlug dan met sy gesin na 'n wildernis.

Wanneer die tas by koning Nobel oopgemaak word, begryp die koning nie alleen dat hy gruwelik bedrieg is nie, maar ook dat hy as koning sy eer verloor het en sy getroue dienaars, Bruun die beer en lsengrijn die wolf, verraai het vanweë die listige vos se liegstories. "Die coninc stond in drouven zinne", lees ons in vers 3383. Koning Nobel is verslae; sy koningskap self is nou in gevaar.

Op hierdie punt gryp Firapeel die luiperd in met 'n voorstel om die mag van die koning te herstel. Hy stel voor dat Nobel Bruun en lsengrijn om versoening vra deur Belijn die ram as offer aan te bied. Reynaert en sy verwante word voëlvry verklaar. Die verhaal eindig op 'n ironiese noot: "sconinx vrede" is wel bereik, maar teen 'n hoë prys.

 

Jakkals en Wolf: van volksboek en kinderboek tot inheemse diere-verhale?

ln die titel van hierdie artikel word gesinspeel op die nalatenskap van die vos-'n verdere lewe, as't ware. ln hierdie afdeling word gekyk na een van die maniere waarop daar sprake is hiervan.

ln die gevarieerde Suid-Afrikaanse orale diereverhaalskat is die Jakkals-en-Wolf-verhale bekend en baie is ook reeds daaroor geskryf (vergelyk byvoorbeeld Coetzee; Du Plessis; Nienaber en Nienaber; De Jong; Eitemal; Van Rensburg). In hierdie verhale is die vos (nou in die gedaante van 'n Suid-Afrikaanse rooijakkals) en die wolf (soms as Europese wolf en soms as Suid-Afrikaanse hiëna) die hoofspelers. Soos in die Reynaert is dit die wolf wat telkens bedroë daarvan afkom as die jakkals eers met hom klaar is. In die Afrikaanse stories, redelik kort van omvang, dra die antropomorfe diere nie hulle beroemde Germaanse name Reynaert of lsengrijn nie-hulle is bloot Jakkals en Wolf. Daar is ook min ander dierekarakters in vergelyking met die epos. Die belangrikste gebeure in die epos, wat om die hofsitting sentreer, is ook nêrens ter sake nie. Is die epos dus inderdaad die oorsprong van ons Jakkals-en-Wolf-verhale?

Die Reinaertverhale-oor bronne gepraat

Stander gee 'n oorsig oor die lang en ryke orale tradisie wat die teks van Vanden vos Reynaerde in die Middeleeue voorafgegaan het. Bouwman en Besamusca (175) wys wel daarop dat dit besonder moeilik is om te bepaal wat die verhouding tussen mondelinge oorlewering en literêre tradisie is, maar Willem, die skrywer van die Reinaert, het ten minste 'n gedeelte van die Oudfranse tekskorpus Roman de Renard goed geken en gebruik in sy epos, sê hulle. Volgens Lulofs (25) lyk dit wel asof die Reinaert nie teruggaan tot Germaanse tye en verhale wat deur die volk verder vertel is nie.

Ook in Suid-Afrika hou liefhebbers van diereverhale hulle besig met 'n besinning oor die oorsprong van die inheemse jakkals-en-wolf-verhale. ln publikasies deur Bleek, Von Wielligh, Coetzee, Nienaber en Nienaber, Grobbelaar, Eitemal, De Jong en Van Rensburg, waar die aard en oorsprong van die Afrika- (en/of Afrikaanse) dierestories die onderwerp van besinning is, word problematiese aspekte van die oorgelewerde en opgetekende verhale bespreek. Terugkerende temas in hierdie besprekings is die aard van die verhale, verinheemsing, die waarskynlike Europese oorsprong asook die idee van 'n eie, eg-Afrikaanse verhaalskat.

Ook Verster is op soek na die oorsprong van die Jakkals- en-Wolfverhale in Afrikaans, maar besluit dat die vos van die Reinaert nie die voorganger is van die jakkalskarakter in die Afrikaanse verhale nie. Volgens Verster is daar 'n veel langer tradisie betrokke by die Jakkals-en-Wolf- stories, naamlik dié van vermenslikte dierekarakters in ou fabels en sprokies (443, 446).

Van der Vyver fokus op 'n noukeurige ontleding van die verhale self en Van Niekerk lig die probleem van kulturele appropriasie deur wit Afrikaanssprekers van én die Jakkals-en-Wolf-stories soos vertel deur Khoi-Khoin sprekers én Von Wielligh se Dierestories uit.

Daar is wesenlike verskille tussen die Jakkals-en-Wolf-verhale en Vanden vos Reynaerde. Die epos is 'n baie spesifieke en unieke weergawe van eeue-oue verhale, en ook 'n weergawe wat stewig geanker is in 'n bepaalde tyd en plek (Lulofs; Van Oostrom).

Die vraag bly dan tog hoe sekere van die bekende Reinaertverhale (die visvang op die ys, die wolf wat in boer se kraal vassit wanneer hy hom ooreet) wel deel begin uitmaak het van die orale skat van Afrikaanse dierverhale.

Volks- en kinderboeke

Die kwessie van bronne, oorlewering en kulturele appropriasie van spesifiek daardie Afrikaanse verhale wat vandag nog herkenbaar herlei kan word tot Vanden vos Reynaerde (of miskien eerder tot die verhale wat in sogenaamde volks- en kinderboeke gevind kan word) verg noukeurige ondersoek wat ver buite die omvang van hierdie artikel is. Ons volstaan met 'n paar opmerkings oor moontlike verklarings vir die spore van Reynaert in die Jakkals-en-Wolfverhale.

Suid-Nederlandse volksboeke (sedert die 17de eeu in omloop) of kinderboeke waarin die Reinaertverhale oorvertel word, vorm volgens 'n paar kommentatore blykbaar die brug waarlangs die verhale as't ware saam met Jan van Riebeeck, (of miskien ook veel later, nadat die Kaap onder Britse bewind kom), in die Kaap aankom.4

Grobbelaar (652) verwys na die "goedkoop volksboeke" wat na die ontwikkeling van die boekdrukkuns die epos onder die "volksmassas" versprei het. Grobbelaar en ander verwys miskien na die soort volksboeke wat in Debaene gelys word en wat ook later verwerk word na kinderboeke.

Parlevliet toon aan hoe Reynard sy weg tot in Engelse en Nederlandse kinderboeke gevind het, selfs al was hy 'n opperste, wrede skurk en nie werklik geskik as kinderheld nie. Volgens Parlevliet (110) was dit hierdie kinderboeke wat Reynaard se stories lewendig gehou het in Brittanje. lndien die Engelse kinderboeke wel in Suid-Afrika bekend word na die Britse besetting van Kaap de Goede Hoop, verklaar dit nog nie hoe die verhale in die monde van (Afrikaanse) Khoisprekers oorvertel is nie.

Dit lyk asof Eitemal, De Jong en ook Van Rensburg nie twyfel aan die manier waarop die Reinaertstories uiteindelik deel begin uitmaak van die Khoi-verhaalskat betreffende spesifiek die Jakkals en Wolf nie. Van Rensburg (2) eggo Eitemal en konstateer onomwonde dat Reynaert hom van die begin van die Europese aanwesigheid aan die Kaap "onder die Suiderkruis bevind het". Hy beland volgens Van Rensburg tussen die skutblaaie van die volksboeke, vervolgens in die kinderkamers en vandaar vind hy sy pad na die "strooise" waar hy hom tuismaak "daar waar om die buitevure gesit is en lekker vertel is" (3).

Daar is 'n stewige versameling Suid-Afrikaanse tekste waarin van die verhale oor Reynaert (en hier moet 'n mens wyer kyk as slegs na die epos) oorvertel word, te veel om in die bestek van hierdie artikel te noem (vergelyk byvoorbeeld die korpus tekste wat deur Van der Vyver ontleed word). Die lys begin by Bleek se versameling en eindig by die herhaaldelike uitgee van kinderboeke, soos Grobbeaar se 2011-uitgawe Jakkals en Wolf.

Coetzee (1940) wys onder andere op die verhaal van die siek leeu waar jakkals daarvoor sorg dat wolf se vel afgestroop word. Hierdie verhaal word deur Bleek en ook deur Du Toit (in Ons Klyntji) opgeneem, maar verskyn so lank terug as die 10de eeu in die Ecbasis Captivi.5 Dié verhaal kom eeue na die Ecbasis ook in gruwelik gewysigde vorm voor in Vanden vos Reynaerde, waar Bruun se vel en lsengrijn en Hersinde se voete afgestroop word-nou nie om die koning te genees nie, maar om Reinaert van 'n pelgrimstas en skoene te voorsien. Tog is Bouwman en Besamusca (175) "vrijwel zeker" dat Willem nie die oorspronlike fabel sou geken het nie.

Coetzee (i960) is nie, soos Eitemal en Van Rensburg, oortuig daarvan dat Vanden vos Reynaerde die "bron" sou wees van die Afrikaanse diereverhale nie. Hy wys op opvallende verskille tussen die Afrikaanse volksverhale en die epos en besluit op grond van dié verskille dat die Afrikaanse verhale nie teruggaan tot die epos nie, maar dat ons eerder in die verhale 'n naklank sien van die Middeleeeuse volksoorlewering

Soos Coetzee, verwys Grobbelaar (651) ook na die Ecbasis Captivi (en met name ook na die verhaal van die siek leeu) maar hy wys daarop dat die groot stryd tussen die vos en die wolf vir die eerste keer in die Ysengrimus uitgebeeld word. In die Ysengrimus kry die diere vir die eerste keer name: Ysengrimus, die wolf, is die draer van die ysterhelm of ystermasker, en Reinardus, die vos, is "baie hard". Ook Grobbelaar wys daarop dat Vanden vos Reynaerde nie noodwendig die "bron" van die Jakkals-en-Wolf-verhale is nie.

Op grond van die Bleek- en Von Wielligh-versamelings lyk dit asof daar wel "egte" Afrika-diereverhale is met geen Europese spore nie-met name verhale van die Khoi-Khoin en die San. Omdat die Middeleeuse Reinaert klaarblyklik in Nederlandse kinderboeke populêr was, kan daar miskien met taamlike sekerheid aangeneem word dat die Europese vos met al sy streke, wreedheid en leedvermaak voortleef in die Afrikaanse Jakkals-en-Wolf- verhale, en dat Reynard sy lêplek hier kom kry en inheems geword het. As ons egter die teks van Vanden vos Reynaerde wil hoor naklink in Afrikaans, sal ons ons ore op 'n ander manier moet spits.

 

Vertaling en hertaling: die vos op skrif

Na ons wete is daar drie Afrikaanse weergawes van die Middeleeuse Reinaertepos: 'n letterlike, rymende vertaling van C. de Jong (1983), die 2013-vertaling deur Daniel Hugo van Henri van Daele se Reinaart de vos: De felle met de rode baard en Eitemal se hertaling Reinaard die jakkals (1981).

De Jong vertaal Vanden vos Reynaerde (Reinaert i) in paarrym, sover die Afrikaans dit toelaat. So lui die verse waarmee die dramatiese gebeure open, (verse 41-7):

Dit was in die mooie Pinkstertyd.

Bos en weiveld wyd en syd

Was met frisgroen blare versier.

Nobel die koning het al die diere

Uitgenooi om hofwaarts te tou,

Waar hy luisterryk hofdag wou hou

Met goeie geluk tot sy grote lof.

Wat sy vertaling betref, was De Jong se bedoeling om die "Vlaamse kleur" van die Reinaert te behou: "Ek beoog om die Middelnederlandse, Europese sfeer van die 'Reinaard' in 'n vertaling in Afrikaans te behou, het die eiename slegs in die geval van enkele byfigure gewysig, die vos nie in 'n jakkals verander nie en slegs af en toe suiwer Suid-Afrikaanse woorde en uitdrukkings, soos moan ('kla') indaba, kraal en jakkalsdraai, gebruik" (32).

Die dierkarakters behou hulle Germaanse name en Reinaert se woning heet Maupertuis. Die vertaling is, vanweë rymdwang en om so na as moontlik aan die Middeleeuse teks te bly, soms baie vreemd. De Jong gee wel dikwels verklarende aantekeninge by sy vertaling, soos by leenmanne, baard, 'n jaar en 'n dag, Dieu vous saut, ribaud en baie ander vreemde terme of woorde (maar nie, byvoorbeeld by heuningmede-vers 2177-nie). Na vers 1265 voeg hy twee verse in "om die obsene teks-wat deur die digter beknop gehou is-vir die hedendaagse leser te verduidelik" (65):

Hy spring die paap tussen die bene

En hy trek uit hom die ding

Wat hy tussen sy bene vind

ln die beursie sonder naat,

Waarmee die man die luiklok slaat.

Daar is plek-plek lomp vertalings. Pancer, die bewer, vra die koning:

Heer koning, laat u ongewreek

Dat diere u vrede so snood breek?

As u nie vonnis soos u leenmanne wys,

Sal die diere u kinders misprys

Hierna wel oor menige jaar!

Die volgende is byvoorbeeld baie moeilik te verstane (die koning beskuldig Reinaert dat hy Kriekeput versin het):

Dit tref Reinaard onaangenaam.

Hy word vies en hy sê:

"ja, ja.

Koning u is daaraan netso na

As van Keulen tot die maand Mei" (reëls 2636-40)

De Jong slaag wel daarin om die aanvangsletter van die slotreëls (reëls 3461-69) as akrostigon (BY WILLEME) te behou. Sy vertaling is waardevol-dit laat die Middelnederlandse teks verstaanbaar klink vir Afrikaanse lesers en sy inleiding bied op beknopte maar deeglike wyse agtergrond tot die Middeleeuse epos.

ln 2013 verskyn die Afrikaanse vertaling, deur Daniel Hugo, van Henri van Daele se prosabewerking van sowel Willem se epos, as verdere verhale van Reinaert wat in ongeveer 1375 as Reynaerts historie (die sogenaamde Reinaert II), verskyn: Reinaard die vos. Die wrede een met die rooi baard.

Van Daele het met sy oorvertelling jong lesers in die oog en hy vertel vinnig en vlot. Sonder om na die outeur, Willem, te verwys, begin die verhaal prosaïes en nie met die welluidende rymende openingsverse van die oorspronklike teks nie: "Dit is lente en die hele wêreld is groen. Tydens Pinkster besluit Nobel, die leeu wat die koning van die diere is, om sy hof byeen te roep". 'n Mens mis die ritme en rym van die oorspronklike teks, maar wie die Middeleeuse verhaal wil lees, kry 'n getroue weergawe. Van Zyl (209) spreek in sy resensie van Hugo se vertaling die versugting uit: "Mag daar geen geslag Afrikaansstudente en liefhebbers verbygaan sonder kennismaking met hierdie vos nie".

 

Eitemal: Reinaard die Jakkals, 'n Afrikaanse diere-epos

Die kollig val in die res van die artikel op Eitemal (die skryfnaam van W. J. du Preez Erlank). Sy hertaling, herdigting of herskepping van Vanden vos Reynaerde neem 'n besondere plek in die (Suid-) Afrikaanse Reinaertgrafie in. Hierdie werk is, soos sy Middelnederlandse voorganger, die verhaal van antropomorfe diere.

Eitemal probeer om die rymende paarrrym van die oorspronklike teks te behou. Sonder om na Willem te verwys, begin hy:

Dit was op 'n dag in die Pinkstertyd,

die bome en struike was wyd en syd

bedek met 'n groen blarekleed.

Nobel, die leeu, het almal laat weet

dat, hy, aan die wet van die land getrou,

sy jaarlikse hofsitting wou hou

vir sy ryk tot groter eer en lof. (Eitemal 15, 16)

Aan die einde van Eitemal se epos lees ons:

Toe die katte soos die stille bekruip

uit vier windrigtings nader sluip,

opklouter, en oor die mure spring

en Reinaard se tuiste binnedring

met die juigkreet van veroweraars,

het holoog-vensters hul aangestaar.

Reinaard en syne het verhuis

Na 'n land vér onder die Suiderkruis.

Rob Antonissen (op die agterblad van die 1981-teks) beskryf sy leerservaring as volg:

Ek het jou Reinaard terdeë geniet. Dit is terselfdertyd getrou genoeg aan die Middelnederlandse teks (met sy menigvuldige heerlikhede) én 'n Afrikaanse herdigting "in sy eie reg" (met al die prikkelende Suid-Afrikaanse terloopsies).

Een van die besondere aantreklikhede is m.i. juis hierdie paradoks: dat die Suid-Afrikaanshede 'n uitsonderlike verrassingswaarde kry deurdat hulle so amper vanselfsprekend uit die Vlaamse konteks voortspruit én daarop inprik.

Dit is 'n kragtoer wat jy reggekry het: dié raak herberyming, die ryk tepasbring van Afrikaanse (aardse!) idiomasie, die kompakte segging dwarsdeur.

ln sy reeds genoemde lesing gee Van Rensburg 'n uitstekende en uitvoerige lesing van Eitemal se diere-epos. Van Rensburg dui op verskillende aspekte van Eitemal se teks in 'n antwoord op die vraag wat hy self stel: Hoe het Eitemal in die transponeringsproses gevaar? Die antwoord op dié vraag word vanaf bladsy 12 tot 39 aangebied. Die nuuskierige leser word aanbeveel om gerus hierdie uitgebreide analise self te lees. Ons bespreek ook die Eitemal-epos taamlik volledig-om belangstelling in die Middeleeuse epos te wek aan die een kant, maar ook omdat die teks tog waarskynlik onbekend is aan 'n jonger geslag lesers.

Volgens Van Rensburg is Eitemal, met sy herskepping van die Vlaamse Reinaert, gekonfronteer met formidabele uitdagings. Hy moes die Reinaert as't ware oorplaas na 'n twintigste-eeuse landskap en beskawing wat baie verskil van sy "land van herkoms".6 ln 'n sekere sin begin sy verhaal daar waar die Middeleeuse epos ophou-by die mislukte poging van die "katteleër" om Reinaert te arresteer. Die "land ver onder die Suiderkruis" (i20) is klaarblyklik 'n verwysing na Suid-Afrika, net soos Opperman se renosterbossie in die Karoo, maar Eitemal gebruik 'n ander tipies Suid-Afrikaanse landskap, die Wes-Transvaal, as Reinaert se nuwe tuiste.

Anders as wat die geval is met die Jakkals- en-Wolf-stories, volg die Eitemal teks die verhaallyn van die oorspronklike epos. Die hofsaak teen Reinaert (wat nooit ter sprake kom in enige J akkals-en-Wolf-storie nie) bly die hoofgebeurtenis. Maar, alhoewel die verhaallyn breedweg ooreenstem met dié van Vanden vos Reynaerde, is daar ook verskille wat lei tot 'n tipies (Suid)-Afrikaanse verhaal. Met genoeg hekeling en spot lewer die teks kommentaar op die toe heersende politieke sfeer (ongeveer die jare sestig en sewentig van die vorige eeu) en die landskap soos wat dit geteken word, is herkenbaar Suid-Afrikaans. Daar is talle voorbeelde van verplaasliking of transponering in Eitemal se teks. Ons lig net 'n paar uit. Reinaard, die "volbloed vaderlander", tree by Raadsvergaderings op:

waar ons alles open met gebed

en as ons klaar ge-amen het,

[...]

nog die strydpunt wen met 'n mokerhou

of met 'n sarsie vrot tamaties,

en sluit met boerewors en sosaties. (29)

Onstuimige politieke vergaderings wat met gebed geopen word en met die sing van die volkslied afgesluit word, verligtheid en verkramptheid as politieke en ideologiese ingesteldhede, die rol van die Ossewabrandwag in die beplanning van 'n republiek; Krugermiljoene, publikasiebeheer en sensorskap-dit alles dui duidelik op Suid-Afrika en ook op die ou Suid-Afrika onder 'n Nasionale Party bewind, 'n goeie 50 of meer jaar gelede. Daar is byvoorbeeld verwysings na destydse apartheidsobsessies soos ontug en 'n "suiwer" ras. So kla lesegrim die jakkals aan van ontug:

Toe ek my militêre diens moes doen,

het hy op 'n dag my vrou gesoen

en haar beken in my eie huis.

"Ek sit met 'n spul halfnaatjies tuis,

en moet 'n balk in my wapen voer,

Want my apartheid is in sy moer." (18)7

lesegrim stap weg, nadat die skare "Ontug" geskree het, en die siende basterkinders lei die "blinde suiweres" (in wie se oë Reinaard bowendien ook "gefluit" het) uit. Die woorde polisiestaat, vryheidsvegter, voëlvryverklaring, dagvaarding en lasbrief skets 'n bekende Suid-Afrikaanse hofomgewing en woorde en frases soos kweperlat, biltong en mossie maar man is slegs verstaanbaar in 'n Afrikaanse konteks. Die verafrikaansing is ook te sien in die name van sommige diere: Taaiman, die ratel en Skrophier, Skropdaar (die hoenderkinders van Kanteklaar, die haan).

Wanneer die koning Bruin en Iesegrim in ere herstel, spreek hy hulle as volg aan:

Iesegrim, jy het veel vir jou land gedoen:

ek slaan jou tot Ridder van die Skoen.

Jou, Bruin, beklee ek meer gepas

met die Ridderorde van Adam Tas,

wat ons eerste vryheidsvegter was. (119)

Die verwysing na die tas en skoene wat vir Reynaert gemaak is van Bruin se vel en die wolf en wolfin se pote, is duidelik.

Van Rensburg toon aan hoe Eitemal vryelik gebruik maak van aspekte van die Afrikaanse politieke, en in mindere mate, letterkundige milieu. Om 'n paar voorbeelde aan te haal: Reinaard oorreed die beer, Bruin, om vir hom (Reinaard) perd te speel na aanleiding van die beroemde Roelandslied. Reinaard omskep die Roelandslied in 'n Afrikaanse variasie:

"Ek is die jokkie, ek is die chep,

wat ry in die bere-hendikep." (40)

Hedendaagse lesers sal nie noodwendig die verwysing hier snap nie. Dit is 'n parodie van die "Lied van die bokke se klok", geskryf na aanleiding van die besoek aan Suid-Afrika vroeg in die 1960's van die swaardrinkende Victor Carpio en sy genoot, Martinus de Alva, spesiale gesante van die VN, om die Suidwes-Afrikaanse dispuut te probeer beredder (Van Rensburg 32). Eintlik was die titel van die lied wat ter sprake was, "Gif in die koffie", 'n verwysing na Carpio wat gepoog het om sy ietwat vreemde uitlatings te blameer op die vergiftiging van sy koffie; vermoedelik deur die Suid-Afrikaanse owerhede. Van Rensburg (34 en verder) beskryf hierdie toneel as een van "speelse anachronisme" en "baldadigheid" en wys op nog baie voorbeelde van verplaasliking. Wanneer Bruin gehawend na die koning se hof terugkeer, en Nobel die rede voer, word die spot gedryf met die "volksredenaars" van voor 1994, bykans uitsluitlik van die Nasionale Party en Afrikaanse volks- en kulturele organisasies:

Hy staan, soos die stilte voor die storm;

sy selfbeheersing is enorm.

Hy roep elke ridder by sy naam

volgens sy adelstand en faam,

prins, hertog, graaf, burggraaf, baron,

die dapperste dapperes onder die son,

en hy spreek hulle toe in die ridderhal

met die gloed en die vuur van 'n Eitemal.

Hy het in sy spiets 'n hoogte behaal

wat 'n spreekwoord geword het in ons taal:

"Te wapen, blom van ons adeldom!

En, kom ek om, so kom ek om!" (48)

Nie net word daar na die destydse Suid-Afrikaanse politiek verwys nie, maar Eitemal self word deel van die verhaal-verplaasliking by uitstek. Daar is nog vele sulke voorbeelde; onder andere die beskrywing van Bruin, lesegrim en Tibert wat hardloop om die galg vir Reinaard se teregstelling op te rig, as hulle gaan:

oor springhaasgate en trassiebos

wat jou skielik pootjie en skielik los. (81)

Nog 'n voorbeeld waar die Vlaamse landskap omskep word in 'n tipies Suid-Afrikaanse omgewing is die beskrywing van die haan, Kanteklaar, se oggendkraai:

ln die voordagvroegte as hy

sy wekroep slinger deur die lug,

kom dit van sewe bulte terug.

As dan op talle boereplasies

pondokke, struike en murasies

die ander hane wakker word

en krete dunnerig uitstort,

het iedereen van hulle mooi

gedink hý kraai die more rooi. (29-30)

Ons kom ook bekende verhale teë soos dié van Bruin wat vasgeklem word in 'n boomstam (39 en verder) en Jakkals en Wolf in boer Van der Merwe se skaapkraal (66 en verder).

Hier en daar word wel afgewyk van die Middeleeuse epos, soos waar lesegrim die wolf vertel van die oorlog tussen die vlieënde en lopende diere (17).

Die personasies is antropomorfe diere wat enersyds kan praat en slim of dom kan optree en redeneer en vuilspeel, maar andersyds getrou bly aan hulle diere-aard, soos ook die diere in die Middeleeuse voorganger. Sommige name word deur Eitemal oorgesit in eie Afrikaanse skeppings, soos Taaiman die ratel, maar nie almal nie. lesegrim, Bruin, Tibeert, Cuwaard, Belyn en Bruin hou hulle oorspronklike name.

Daar is ook tekens van regsformalisme in dié teks, soos in die Middeleeuse Reinaert. So spreek lesegrim die koning aan by die begin van sy formele klagtes teen Reinaert:

O, groot Koning, magtige Heer,

in naam van edelheid en eer,

in naam van die reg, deur u genade,

hoor my skande en my skade: (16)

Ook in sy omgang met Afrikaans verskaf die Eitemalteks baie leesplesier. Volgens Eitemal self het hy die "boersheid en volksaardige realisme" (12) van die oorspronklike teks probeer behou in sy sprankelende vertaling, wat besonder maklik in Afrikaans lees. Waar De Jong so na as moontlik aan die oorspronklike teks probeer bly, praat al wat dier is in die Eitemalweergawe 'n gemaklike, eietydse Afrikaans. Ons kan slegs 'n paar voorbeelde hier aanhaal. lesegrim het byvoorbeeld die volgende te sê oor Reinaard, die skelm met die roesrooi baard:

As u hom skiet gee, vat hy áls,

Want hy is 'n veelgat-jakkals. (16)

Nadat 'n klomp perdebye, omgekrap deur Reinaard, lesegrim in sy "senter" gesteek het, het lesegrim

[...] gekrul onder die ellend

van 'n toegeswelde fondament

(as hy) agter die bossies 'n windjie laat. (17)

Grimbeert ('n sogenaamde "oomsêer" van Reinaard) lewer so 'n roerende pleidooi ter verdediging van sy oom dat selfs die koning (so wie so 'n karakter wat hom maklik laat oorreed deur wie ook al) daardeur geraak word:

Die koning was diep aangedaan;

in sy linker-geeloog blink 'n traan.

Hy praat toe, sonder koningsbrul,

en sê hy is met dank vervul

Dat in sy ryk so 'n onderdaan .

Toe kraai bo die bult 'n hoenderhaan (29)

Op hierdie punt kom Kanteklaar die haan met groot vertoon aangesit in die begrafnisstoet van sy dogter Adelheid wat deur Reinaard doodgebyt is. Almal vergeet natuurlik toe terstond van Grimbeert se orasie:

Toe sê die koning bitsig: "Das,

jou oom, die kluisenaar, die vas

nou lank genoeg op sý manier!

[.]

nog voor die end van hierdie jaar

word opgehang aan die hoogste tak

ons ryk se grootste skobbejak. (33)

Grimbeert is glad en vinnig met die tong. Hy spreek lesegrim aan:

"Meneer lesegrim, maar u praat twak

en nie soos 'n kenner van sy vak.

[.]

U's nie met ons regspraak hier bekend nie,

U's geen advokaat se agterent nie." (20)

Die koning eis hierop: "Orde! Vra om vergiffenis!" waarop Grimbeert blitsvinnig reageer: "Ekskuus, Meneer lesegrim, u is" (21).

"Boertige realisme" met al die skunnighede van die Vlaamse teks is daar volop; met bowendien 'n skuins verwysing na die "Vlaglied / Oranje, Blanje Blou" wat deur einste Eitemal na aanleiding van die Duitse "O Deutschland hoch in Ehren" geskryf is:

Maar Tibeert seil met bek en klou

so reg van voor in sy mikstok in

om daar te sterwe of oorwin,

en byt en skeur ten einde raad

die pastoor se beurs oop langs sy naat,

dat sy linkerghoen val op die grond.

Gelukkig was geen brak daar rond! (54)

Die gevolg is dat die pastoor voortaan "die bruilofslied met een klok lui" (55).

Ook die volgende toneel, waar die pastoor se vrou Bruin met haar pan (en nie 'n spinstok nie) toetakel, verskaf 'n mens plesier:

Die kostersvrou trek weg haar rok,

voordat sy met haar braaipan swaai

en hom klapáng met bliklawaai

plat op sy neus. Die pastoor se drel

doof altaarkerse in sy agterstel.

Bruin voel hy gaan die stryd verloor

Met die knyp van agter en koes van voor. (43)

Van Rensburg wys op die manier waarop Eitemal elke dier vir ons teken. So sien ons vir Grimbeert, die regsgeleerde, wie se oupa "progressief-liberaal" en "baie vry in sy teel en taal" was:

Grimbeert smaal met snor en lip.

As hy 'n stert had, sou hy dit wip.

Sy houding, toe hy agtertoe draf

was duid'lik: Ek vee my aan julle af. (28)

Elders in die teks sis Grimbeert deur sy linkersnor (27). Bruin die beer se wegstap word só beskryf:

Toe Bruin gegroet het en wegdraf,

toe lyk dit amper sy broek sak af,

want hy is mos so lag gespits. (34)

Die tipiese jakkalsgewoonte om met sy stert sy spore dood te vee, word ook genoem (27).

Die laaste woord oor die Eitemal teks kom Van Rensburg toe: Uit alles is dit meer as duidelik: Reinaert se verhuising na die land "vér onder die Suiderkruis" was inderdaad die geval van Vlaamse ekspansie, nie 'n begewing in 'n diaspora nie. 'n Vlaming, Willem, het in die laaste dekade van die twaalfde eeu iets so kragtigs in die lewe geroep dat dit tot agt eeue later nog 'n lewenskragtige telg in 'n ver land kon afwerp (42).

 

Slotsom

Wat Reinaert se verdere lewe in Suider-Afrika betref, is daar baie om te vertel. In die Afrikaanse (orale) diereverhaalskat is daar tekens van "egte" Afrika-diereverhale met geen Europese spore nie, asook verhale wat duidelike ooreenkomste toon met Germaanse en met name Middeleeuse diere-sprokies, wat op hulle beurt weer teruggaan na 'n nog ouer Latynse verteltradisie (soos byvoorbeeld oorvertel in die fabels van Esopus en die Ecbasis Captivi) en Oosterse verhale (soos die Pantjatantra). Maar Eitemal het met sý weergawe van die Reinaert 'n verhaal geskep wat sodanig anders is as die Nederlandse Reinaert, dat dit op eie voete kan staan as 'n verhaal uit Afrikabodem. ln die Eitemal-teks word die slinkse vos 'n tipiese Afrikaanse skelm-en wat meer is, hy is 'n skurk wat vanweë sy wesenlik menslike karakter nie vir moderne lesers vreemd is nie. Hierdie Reinaard, geskep deur Eitemal, kan beskou word as 'n unieke nalatenskap van die Middeleeuse epos.

Ons sluit af: Lank lewe die jakkals, ons het die vlymskerp satire in elke tydsgewrig nodig!

 

Erkenning

Hierdie artikel is gedeeltelik gebaseer op Jan Stander se M.A.-tesis ("Letterkunde en die reg in die Middeleeuse epos Vanden vos Reynaerde met spesifieke verwysing na die Suid- Afrikaanse regstelsel") wat in 2018 aan die Universiteit van Pretoria, Pretoria, Suid-Afrika, voltooi is. Prof. Nerina Bosman was die studieleier.

 

Eindnote

1 Ons volg die spelling van die titel soos deur Van Oostrom gebruik. Daar sal ook ter afwisseling na die epos verwys word as "die Reinaert". Die naam van die vos word as Reynaert aangedui; die Afrikaanse jakkals is Reinaard.
2 Volgens Kannemeyer (277) slaap Opperman en sy vrou tydens 'n Europese besoek in i957 by die skoonouers van Opperman se broer. ln hulle slaapkamer het hulle 'n jakkalsvel as vloermat.
3 Die teksverwysings is na die uitgawe van Burm en Van der Merwe, uitgegee na die Comburgsche Handskrif.
4 Na aanleiding van Parlevliet lyk dit nie onmoontlik dat die verhale ook in Engelse kinderboeke in Suid-Afrika bekend kon word nie.
5 Die Ecbasis Captivi ("Die ontsnapping van 'n gevangene"), 'n ou diere-epos, is tussen 930 en 940 n. C. deur 'n Franse monnik in Latyn geskryf. Dit word in 1834 deur Grimm ontdek en word beskou as die begin van die diere-epos in Wes-Europa.
6 Ons is dank verskuldig aan die keurder wat aangetoon het dat ons ook sou kon verwys na Venuti se werk oor domestisering. Ons insiens is Van Rensburg se aantoon van verplaasliking in die teks genoeg.
7 Ons is bewus daarvan dat daar woorde in die Eitemal teks is wat aanstoot gee. Hierdie woorde is egter deel van die politieke klimaat waarteen Eitemal inskryf.

 

Geraadpleegde bronne

Bleek, W. H. I. Reynard the fox in South Africa: or, Hottentot fables and tales / chiefly translated from original manuscripts in the library of Sir George Grey by W. H. 1. Bleek. Trübner, 1864.         [ Links ]

Bouwman, André & Bart Besamusca. Reynaert in tweevoud Deel I. Van den vos Reynaerde. Bert Bakker, 2002.         [ Links ]

Coetzee, Abel. Die verhaalskat van Ons Klyntji. (1896-1906). Voortrekkerpers, 1940.         [ Links ]

__________________. "Enkele ooreenkomste en verskille in die Reinaert-jakkasverhale." Tydskrif vir volkskunde en volkstaal vol. 6, no. 4, 1960, pp. 6-11.         [ Links ]

De Jong, C. Van Reinaard die vos (Reinaard 1). Ingelei en vertaal uit die Middeleeuse Nederlands. Hulst, 1983.         [ Links ]

Du Plessis, l. D. "Die bydrae van die Kaapse Maleier tot die Afrikaanse kultuur." Kultuurgeskiedenis van die Afrikaner, geredigeer deur P. de V. Pienaar & C. M. van den Heever. Nasionale Boekhandel, 1968, pp. 80-4.         [ Links ]

Eitemal. Reinaard die jakkals: 'n Afrikaanse diere-epos. Perskor, 1981        [ Links ]

Grobbelaar, Pieter Willem. "Die volksvertelling as kultuuruiting met besondere verwysings na Afrikaans." Proefskrif. U Stellenbosch, 1981. http://hdl.handle.net/10019.1/64614.         [ Links ]

Hellinga, W. Gs. "Het laatste woord is aan Firapeel". Maatstaf vol. 6, 1958, pp. 353-73.         [ Links ]

Kannemeyer, J. C. D. J. Oppermanen Biografie. Human & Rousseau, 1986.         [ Links ]

Lulofs, Frank. Van den vos Reynaerde. Walters-Noordhoff, 1983.         [ Links ]

Nienaber, P. J. & G. S. Nienaber. Die Afrikaanse dierverhaal: Die dier-tema in die Afrikaanse prosaletterkunde. Nasionale Boekhandel, 1962.         [ Links ]

Opperman, D. J. Dolosse. Nasionale Boekhandel, 1963.         [ Links ]

Parlevliet, Sanne. "Hunting Reynard: How Reynard the fox tricked his way into English and Dutch children's literature." Children's literature in education vol. 39, 2008, pp. 107-20. DOl: https://doi.org/10.1007/s10583-008-9062-z.         [ Links ]

Stander, Jan Frederick. "Letterkunde en die reg in die Middeleeuse epos Vanden vos Reynaerde met spesifieke verwysing na die Suid-Afrikaanse regstelsel." M. A.-tesis. U Pretoria, 2018. http://hdl.handle.net/2263/72046.         [ Links ]

Van Daele, Henri. Reinaard die vos. Die wrede een met die rooi baard, vertaal deur Daniel Hugo. Protea, 2013.         [ Links ]

Van der Vyver, Corné. "Patroonmatighede in die struktuur en algemene inhoud van Afrikaanse Jakkals-en Wolf-trieksterverhale." M.A.-tesis. Noordwes-U, 2014. http://hdl.handle.net/10394/12206.         [ Links ]

Van Niekerk, Jacomien. "Afrikaans stories of Jackal and Hyena: Oral and written Traditions." Tydskrif vir Letterkunde vol. 55, no. 3, 2018, pp. 80-95. DOl: https://doi.org/10.17159/2309-9070/tvl.v.55i3.5511.         [ Links ]

Van Oostrom, F. P. Stemmen op schrift. Nederlandse literatuur en cultuur in de Middeleeuwen. Bert Bakker, 2006.         [ Links ]

Van Rensburg, F. l. J. Van Vlaamse vos tot Afrikaanse jakkals. J. M. Missak Sentrum, 1983.         [ Links ]

Van Zyl, Wium. "Reinaard die vos, die wrede een met die rooi baard (Henri van Daele, vertaal deur Daniel Hugo)." Tydskrif vir Letterkunde vol. 51, no. 2, 2014, pp. 208-9. DOl: https://doi.org/10.4314/tvl.v51i2.30.         [ Links ]

Verster, F. P. 'n Kultuurhistoriese ontleding van pikturale humor, met besondere verwysing na die werk van T. O. Honiball. Proefskrif. U Stellenbosch, 2003. http://hdl.handle.net/10019.1/53521.         [ Links ]

Von Wielligh, G. R. Boesman-Stories. Deel 1, Mitologie en legendes. De Nationale Pers, 1919.         [ Links ]

__________________. Boesman-Stories. Deel 11. Dierstories en ander verhale. De Nationale Pers, 1920.         [ Links ]

 

 

Submitted: 13 February 2022
Accepted: 1 June 2022
Published online: 18 September 2022

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License