SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.59 issue3 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.59 n.3 Pretoria  2022

http://dx.doi.org/10.17159/TL.V59I3.12301 

RESEARCH ARTICLES

 

'n Geskiedenis van Afrikaans as kerktaal: van altaar tot kansel

 

A history of Afrikaans as language of the Church: from altar to pulpit

 

 

Anastasia de Vries

Lektor in Afrikaans vir taalpraktyk en Nederlandse letterkunde in die Departement Afrikaans en Nederlands, Fakulteit Kunste en Geesteswetenskappe, Universiteit van Wes-Kaapland, Bellville, Suid-Afrika. E-pos: adevries@uwc.ac.za; https://orcid.org/0000-0001-5610-443X

 

 


ABSTRACT

This contribution shines a critical light on the representation of Afrikaans as a language of the Church in external histories about the development and advancement of the language, inclusive histories particularly. It seems the history of Afrikaans within a Christian or Church context has escaped the critical attention which since the 1970s created awareness of the politicisation of and silences in the history, and the way in which the history is documented. Therefore, the history of Afrikaans as a language of the Christian faith is still told from an exclusively white Reformed perspective and held as a 20th century phenomenon, despite research pointing to its usage in the Moravian Church (Genadendal) in the 18th century and the Anglican Church in the 19th century. Though various denominations are included in so-called inclusive histories, it is done in a manner that suggests the dominance of the white Reformed Churches. These conclusions were primarily drawn from a content analysis of two inclusive histories, subjecting them to the same penetrating, sceptical questions of decades ago, focused primarily on the representation of Afrikaans as a language of the Church. For this purpose, the inclusive histories were analysed within the framework of poststructuralist tendencies which shifted the focus to historiography as a function of power, a meaning-making practice and history as a construct, not a reconstruction of the past. As such it creates space to imagine alternatives to the dominant discourse. To this end, the attention is drawn to the mobilisation of Afrikaans in the Roman Catholic Church since the 1820s as an alternative history of a spoken Afrikaans praying at the altar long before it was formalised and allowed to ascend the pulpit in the Reformed Churches since 1916.

Keywords: history of Afrikaans, church history in South Africa, Anglican Church, Roman Catholic Church, liturgical language.


 

 

Inleiding

Die demokratisering van Suid-Afrika in 1994 het onder meer verreikende gevolge meegebring vir geskiedskrywing, in die besonder die optekening van die geskiedenis oor die Afrikaanse taal. Sedertdien word toenemend wegbeweeg van 'n wit-gesentreerde, verdelende taalgeskiedenis wat ander op grond van hul ras, kleur of geloof uitsluit, nader aan 'n geskiedenis waarin die bydraes van diverse sprekers tot die wording, ontwikkeling en bevordering van Afrikaans gesamentlik of inklusief betrek word.

Van dié "regstellende perspektief", soos Carstens en Raidt (867) daarna verwys, getuig veral die 21ste-eeuse geskiedskrywings wat aanspraak maak op inklusiwiteit of gemeenskaplikheid. Tersaaklik is Van Oort se 2008-doktorale navorsing oor 'n gemeenskaplike perspektief op die ontwikkelingsgeskiedenis van Afrikaans, wat die weg gebaan het vir studies soos Lawrence et al. se Afrikaansmetodiek deur 'n nuwe bril wat in 2014 verskyn het en Carstens en Raidt se Die storie van Afrikaans-uit Europa en van Afrika, Deel 1 en Deel 2 in onderskeidelik 2017 en 2019.1

Binne die bestek van 'n artikel is dit onmoontlik om volledig rekenskap te gee van die korpus teikengerigte studies wat in bogenoemde inklusiewe Afrikaanse taalgeskiedenisse verreken kon word. Daarom word volstaan met enkele verwysings na navorsers wat ryklik tot dié korpus bygedra het. Onder hulle is L. T. du Plessis, Christo van Rensburg en Hein Willemse wat hulle al in die 1980's begin bemoei het met veral die weglating van bruin Afrikaanssprekendes se bydraes tot die geskiedenis van Afrikaans. Hul navorsing is mettertyd aangevul deur onder andere Hugo in 2009 en in 2016, Wannie Carstens en Michael le Cordeur.

Hierby tel verskeie ondersoekers wat aangetoon het dat die verskrifteliking van Afrikaans al van die negentiende eeu af op geloofsvlak aandag gekry het. Onder diegene wat op die Bo-Kaap gefokus het, is Fritz Ponelis en Achmat Davids, terwyl onder andere Ronnie K. Belcher en Jac Conradie hulle toegespits het op taalgebeure op Genadendal en Du Plessis byvoorbeeld die Paarl. In die herwaardering van die invloed van tale soos Khoi, Maleis en Portugees op die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaans het veral Van Rensburg 'n leidende rol gespeel.

Hul wye verskeidenheid teikengerigte taalhistoriese ondersoeke wat vanaf 2008 inklusief byeengebring kon word, bewys eerstens hoe grondig uitsluiting uit die Afrikaanse taalgeskiedenis weens ras, kleur, kultuur of geloof (veral met betrekking tot die Moslemgeloof) al herbeskou is. Tweedens weerspieël dit die groot vordering wat sedert die 1980's met navorsing op die genoemde vlakke gemaak is, ongeveer 'n dekade nadat die Afrikaanse taalgeskiedenis onderwerp is aan indringende vrae oor die wyses waarop die geskiedenis gedokumenteer is en die krities-analitiese aandag op die verpolitisering van en die leemtes in die Afrikaanse taalgeskiedenis toegespits is.2

Die vrae waarmee hierdie bydrae gemoeid is, is of die representasie van die Afrikaanse taalgeskiedenis in 'n Christelike of kerkgenootskaplike opset aan dieselfde kritiese herbeskouing onderwerp is wat moontlike leemtes kon blootlê en op hul beurt ruimte kon skep vir nuwe, alternatiewe sienings van in die besonder die geskiedenis van Afrikaans as kerktaal. Carstens en Raidt se Die storie van Afrikaans (Deel 2), is egter die enigste van bovermelde drie inklusiewe taalgeskiedenisse waarin die geskiedenis van Afrikaans as Christelike godsdiens- of kerktaal aan die orde kom (Carstens en Raidt 241, 244-5, 314, 386, 404 en 148, 350, 358, 405, 425, 520, 523-4, 576 en 578).

Hierin bevestig die navorsers "Afrikaans is vandag steeds stewig gevestig as kerktaal in Suid-Afrika, nie net in die tradisioneel Hollandse [Gereformeerde of sogehete suster-] kerke nie, maar ook in ander denominasies, soos die Apostoliese Geloofsending in Suid-Afrika (AGS), die Volle Evangelie Kerk (VEK), die Verenigende Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika (VGK), [.] die Rooms-Katolieke Kerk, die Anglikaanse Kerk, etlike charismatiese kerkbedienings, en andere" (Carstens en Raidt 405).

Hoewel hulle diverse kerkgenootskappe bytrek wat voorheen weggelaat is uit 'n eksklusief wit Gereformeerde geskiedenis oor Afrikaans as kerktaal, gee hul geskiedskrywing egter kwalik blyke van 'n historiese aanloop tot die "stewige" vestiging van die Afrikaanse taal in kerkverbande anders as die Gereformeerde Kerke. Trouens, die bewyse van diverse Christelike bydraes tot die geskiedenis van Afrikaans as kerktaal is beperk tot die 20ste eeu. Tog verskil hul insluiting van verskeie kerke se bydraes van vroeëre taalgeskiedskrywings wat by uitstek gemoeid was met die rol van die Gereformeerde Kerke in die vestiging van Afrikaans as kultuur-, skryf-, onderwys- en kerktaal.

Dit geld byvoorbeeld P. J. Nienaber se Die geskiedenis van die Afrikaanse Bybelvertaling van 1934 en E. C. Pienaar se Die triomf van Afrikaans uit 1943 tot by onder meer J. C. Steyn se Tuiste in eie taal wat in i980 gepubliseer is. Dié bronne is enkeles van die veles wat in Carstens en Raidt (403-2i; 285-42i) met betrekking tot "Afrikaans as kerktaal" en "Afrikaans in die 20ste eeu: woelinge en stryd-Afrikaans word ampstaal" teruggevind word.

Van dié bronne word in die volgende afdeling betrek by 'n kritiese herbeskouing van die representasie van die Afrikaanse taalgeskiedenis in 'n kerkopset in meer resente, inklusiewe geskiedskrywings met die doel om die leemtes hierin te identifiseer. Die fokus is op die eksterne geskiedenis van Afrikaans wat gaan om die bestudering van die geskiedenis van Afrikaans se ontwikkeling onder invloed van onder meer sosio-historiese gebeure en politieke ontwikkelings. In taalkundige terme word dit gewoonlik verstaan as "taalgeskiedenis", in teenstellling met die interne geskiedenis of die "diachroniese" of "historiese taalkunde" wat gerig is op die ontwikkelings wat die Afrikaanse taalstruktuur met verloop van tyd ondergaan het. Laasgenoemde is geensins van toepassing op hierdie bydrae nie. Eerder word die eksterne geskiedenis van die Afrikaanse taal, hoofsaaklik op Suid-Afrikaanse bodem en veral binne 'n kerkopset of Christelike geloofsverband, vooropgestel.

In terme hiervan gaan die aandag hoofsaaklik uit na Deel 2 van Carstens en Raidt se Die storie van Afrikaans en Ponelis se artikel Standaardafrikaans en die Afrikaanse taalfamilie wat albei rekenskap gee van diverse Christelike instellings se bydrae tot die bevordering van Afrikaans as kerktaal. Die rede is dat dié bronne die indruk wek dat die Afrikaanse taalgeskiedenis al sodanig in heroënskou geneem is dat (van) die leemtes deur teikengerigte navorsing op kerkvlak gevul kon word, sodat soos met kleur en ras, 'n inklusiewe representasie van die taalgeskiedenis moontlik gemaak is.

Dog, in albei is nouliks sprake van die historiese paaie wat vóór die 20ste eeu in en deur die diverse ander kerkgenootskappe uitgetrap is in die mobilisasie en bevordering van Afrikaans as kerktaal. Die problematiek waarmee hierdie bydrae gevolglik gemoeid is, is die representasie van alle kerkverbande as 'n 2oste-eeuse ontwikkeling in die geskiedenis van Afrikaans as kerktaal. Ten opsigte hiervan word in dié bydrae primêr gefokus op die Rooms-Katolieke Kerk (voortaan ook afwisselend RKK of Katolieke Kerk) waar die altaar, nie 'n kansel nie, sentraal staan. Die sentraliteit van 'n altaar is ook kenmerkend van die Kerk van die Provinsie Suider-Afrika (beter bekend as die Anglikaanse Kerk), wat in dié bydrae betrek word.

Kennelik is iets van Afrikaans in 'n 2oste-eeuse Katolieke Kerk al in die breër openbare domein bekend, gegewe die handjievol artikels wat in akademiese tydskrifte en die Afrikaanse media opgespoor kon word. Hierby kom ook die enigste doktorale studie tot nou toe oor Afrikaans in 'n Katolieke konteks, te wete Dirk Jan Gomes se 'n Ondersoek na die wenslikheid en noodsaaklikheid van 'n Katolieke woordeskat in Afrikaans wat in 1962 voltooi is. Sy hoofstuk oor die geskiedenis van die Katolieke Kerk in Suid-Afrika is later verwerk tot Voortrekkers vir God, wat 'n geskiedenis van die Katolieke Kerk in Suid-Afrika vertel.

Soos in die afdeling "Die representasie van Afrikaans in Katolieke verband" uitgewys word, konsentreer ook dié bronne hoofsaaklik op 2oste-eeuse taalgebeure in die Katolieke Kerk met betrekking tot die Afrikaanse taal. Omdat veel hiervan al in die Afrikaanse taalgeskiedenis opgeneem en daarom as amptelik erken word, word die 20ste eeu hier buite rekening gelaat. Hierdie bydrae wil op geen manier die (wan-)opvatting bekragtig dat Afrikaans eers van die 20ste eeu in die RKK begin figureer het nie. Derhalwe word gekonsentreer op kennis wat beskou kan word as 'n historiese aanloop tot 2oste-eeuse Afrikaanse taalgebeure in 'n Katolieke konteks, maar wat tot nou toe nie in die Katolieke kerkgeskiedenis of die Afrikaanse taalgeskiedenis weerspieël word nie. Dié kennis is nog grotendeels opgesluit in onder meer die geskiedenisse van bisdomme, gemeentes en die briewe en dagboeke van missionarisse wat opgespoor is in 'n bestekopname van wat beskikbaar is oor Afrikaans in die RKK.

In die geval van die Anglikaanse Kerk word die aandag opnuut gevestig op 'n doktorale studie deur Jonathan Luke Stubbs oor Afrikaanssprekendes, Nederlands en Afrikaans in die Kerk van die Provinsie Suider-Afrika in die 19de eeu, wat al 1989 verskyn het. Tot nou toe het sy navorsing nog net by Ponelis inslag gevind en is die bedoeling nie om Stubbs se navorsing te herkou nie, maar om aan te toon wat Ponelis gedoen het om op grond van dié bestaande kennis 'n moontlike model vir 'n alternatiewe geskiedenis van Afrikaans as kerktaal na te laat.

Vervolgens word die ondersoek van die bestaande kennis oor die geskiedenis van Afrikaans as kerktaal gekoppel aan 'n poststrukturalistiese vooropstelling van die problematiek van representasie. Jean-Jacques Lyotard (7) konseptualiseer dit as die "politiek van representasie" en Johannes Vorster (602) as "[r]epresentasionalisme, gevoed deur 'n rigiede identiteitspolitiek en afkomstig uit 'n essensialistiese werklikheidsbeskouing [...]". Dit skakel met poststrukturalistiese-en verwante postmoderne en postkoloniale- denkrigtings waarvolgens mag aan taal toegeken is om nie slegs kennis oor te dra nie, maar dit te maak of te skep. Van belang vir die artikel is die uitwerking van die poststrukturalisme op die terrein van die geskiedenis in terme waarvan dit moontlik geword het om representasies van die geskiedenis te bevraagteken. Kortliks kom dit daarop neer dat historici in staat gestel is om krities te besin oor hoe geskiedenis geskryf word en rekenskap te gee van die stiltes in geskiedskrywings as 'n vorm van diskoers waarin verswyging as 'n strategie gebruik word om die verlede te konstrueer.

Onderliggend hieraan is die insig dat die geskiedenis nie slegs betekenisdraend is nie, maar dat "[g]eskiedskrywing [...] ten diepste 'n sinskeppende [of betekenisskeppende] aktiwiteit [is] wat ten nouste met ons verstaan van en oordeel oor die verlede saamhang" (Lategan 197). Dit gaan om die besef dat die skryf van geskiedenis nie 'n herkonstruksie van die verlede is nie, maar 'n konstruksie, 'n magskonstruk (Ankersmit 203; Cohen 66). Daarom weerspieël die tekste van die geskiedenis nie die werklikheid nie, maar gee slegs toegang tot 'n werklikheid wat hulle tot stand help bring het (Ankersmit 203; Pieters 277). Die saaklikheid of objektiwiteit wat aan historiese feite toegeskryf word, word dus bloot versin (Harmsen 32).

Hierdie insigte het die aandag gevestig op 'n skrywende hand wat die seleksie, kombinasie, interpretasie en verklaring van historiese dokumente, en die representasie van die data bepaal, wat verswyging (oop plekke of leemtes) in die hand kan werk (De Certeau 34). Vanuit 'n postkoloniale oogpunt is dit juis dié leemtes of oop plekke wat ruimte skep om alternatiewe sienings van die geskiedenis te verken. Daarom moet die verbeelding in 'n volgende stap gerig word op wat 'n alternatief kan wees met die doel om 'n kritiese bewustheid te skep dat sodanige alternatiewe weliswaar bestaan (Mbembe 36). Vanuit dié teoretiese vertrekpunte word die inhoud van die eksterne geskiedenis van die Afrikaanse taal vervolgens eerstens krities-analities ondersoek ten einde die leemtes of oop plekke in die historiese mobilisering van Afrikaans tot kerktaal te identifiseer. Terselfdertyd word in gedagte gehou dat dié ondersoek ook die verborge aannames in bestaande of ingeburgerde historiese verslae aan die lig moet bring (Flowerdew 17).

Tweedens word aan die hand van bovermelde kwalik ontginde bronne 'n alternatiewe siening van die Afrikaanse kerktaalgeskiedenis uit 'n Katolieke perspektief gebied met die bedoeling "om de maatschappelijke communicatie te verbeteren ten gunste van minderheden en zwakkere groepen" (Montessori, Schuman en De Lange 19). Wesseling (13-4) praat van 'n "future-oriented interest in the past". In die onderneming word van die standpunt uitgegaan dat om ('n alternatiewe siening van die) geskiedenis te skryf is om verbande te lê tussen gegewens wat op sigself onverwant en niksseggend is, dit in 'n narratiewe struktuur te orden en sodoende sin of betekenis daaraan te gee (Lategan 198). Die geskiedenis baat immers weinig by "het samenballen en vergelijken van losse groepshistories" (De Jong 15).

Sodanige alternatief wil nie 'n streep deur die bestaande Afrikaanse kerktaalgeskiedenis trek nie, maar wil dít aan die lig bring wat nog onopgeteken en onverreken is met die oog op 'n meer genuanseerde, gelykwaardiger representasie van die geskiedenis van Afrikaans as kerktaal. Volgens Jenkins bestaan daar per slot van sake nie slegs een interpretasie van historiese gebeure nie, maar is verskeie, ewe geloofwaardige alternatiewe sienings moontlik (Jenkins ii8). Wat in die verlede gebeur het, kan tog nie verander word nie, maar "[h]oe ons hierdie gebeure verstaan en watter sin ons daaruit maak, kan egter wel verander" (Lategan 197, oorspronklike kursivering; sien ook White 393).

 

Die representasie van die Afrikaanse taalgeskiedenis in kerkverband

Volgens Ponelis het daar "[t]ot diep in die negentiende eeu [...] geen Afrikaanse kultuurtaal bestaan nie. Afrikaans was toe net 'n omgangstaal: dit was 'n spreektaal sonder skryftradisie wat glad nie as voertaal in die onderwys, die kerk of die reg gebruik is nie" (Ponelis, "S. J. du Toit en die kultivering van Afrikaans" 23, my kursivering). Die aansporing tot 'n bewustheid dat die spreektaal ook godsdienstaal kon wees, was Arnoldus Pannevis se pleidooi in 1872 vir 'n Afrikaanse Bybelvertaling wat blykbaar "die Woord van God vir die bruinmense verstaanbaar sou maak" (Raidt, Afrikaans en sy Europese verlede 248).

Uiteindelik was dit egter nodig om juis die wit sprekers van Afrikaans van die spreektaal se "hoër" waarde te oortuig en is die Genootskap vir Regte Afrikaners (GRA) in 1875 gestig, gerig op "sowel die sosiale as linguistiese prosesse om Afrikaans tot kultuurtaal te omskep" (Ponelis, "Kultivering van Afrikaans" 23). Dit was die begin van 'n doelbewuste proses wat nie slegs die vertaling van die Bybel in Afrikaans beoog het nie, maar ook die uitbouing van die spreektaal tot 'n skryftaal wat gebruik kon word vir die sogenaamde hoër funksies, 'n proses wat in die geskiedenis verbind sou word aan 'n eerste en tweede taalbeweging.

Dit was egter ook die begin van wat Carstens en Raidt (207) noem "die tragiese verstrengeling wat 'n eeu later tot groot nadeel van Afrikaans sou lei. Die nuwe taalbewussyn en taalstrewe was ná 1875 amper eksklusief gekoppel aan die wit Afrikaanssprekendes, [.] terwyl die stimulus tot die proses juis die bruin mense was." Nie slegs is laasgenoemde saam met kerkgenootskappe anders as die wit Gereformeerde Kerke uitgesluit by die eerste amptelike Bybelvertaling wat in 1933 verskyn het, maar van hulle is ook geen spoor in die historiese aanloop tot die proses nie. Volgens Esterhuyse (11) was dit 'n tyd toe "die taalbegrensende verklarings van die Genootskappers [saamgeval het] met 'n periode in die Afrikaanse kerkgeskiedenis waartydens die Afrikaner ook sy godsdiens eksklusief en begrensend ervaar."

Veral die ouer geskiedskrywings, soos Pienaar se Die triomf van Afrikaans, 'n produk van 1943, of Nienaber se Die geskiedenis van die Afrikaanse Bybelvertaling, wat in i934 verskyn het, getuig hiervan met hul eksklusiewe fokus op die rol van die drie Gereformeerde Kerke in die uitbouing van Afrikaans van spreektaal tot kultuurtaal. Dié prentjie verander ietwat by die verskyning van Carstens en Raidt se Die storie van Afrikaans-uit Europa en van Afrika, Deel 2 waarin die bydraes van diverse kerkgenootskappe tot die geskiedenis van Afrikaans as kerktaal opgeneem is, maar die vraag is of dié diversiteit die perspektief verander het waaruit 'n inklusiewe kerktaalgeskiedenis vertel word.

Meer as twee dekades tevore voer Ponelis aan die dominant wit, Gereformeerde perspektief waaruit die Afrikaanse kerktaalgeskiedenis nog vertel word, kan daaraan te wyte wees dat "[o]or die geskiedenis en die gebruik van Afrikaans in die volle spektrum van kerkgenootskappe met sterk Afrikaanse lidmaatskap [...] bloedweinig navorsing gedoen" is (Ponelis, Standaardafrikaans 60). Dit verklaar egter nie hoekom bestaande navorsing soos dié oor byvoorbeeld die gebruik van Afrikaans in die Anglikaanse Kerk sedert die 19de eeu tot nou toe nie in die Afrikaanse taalgeskiedenis, en spesifiek 'n gemeenskaplike Afrikaanse kerktaalgeskiedenis neerslag gevind het nie.

Hoewel Ponelis (Standaardafrikaans 59) al in 1998 die lig op i9de-eeuse kerktaalgebeure skyn, lig sowel hy as Carstens en Raidt (418-9) egter hul veelgeskakeerde kerktaalbydraes toe met dokumentêre bewyse wat in die 20ste eeu geproduseer is, 'n tydperk wat gewoonlik verbind word met die wit Gereformeerde Kerke en 'n tweede taalbeweging om Afrikaans onder meer as onderrig-, kerk-en uiteindelik ampstaal erken te kry. Blykbaar veronderstel die "regstellende perspektief" waarna Carstens en Raidt (867) verwys weliswaar die insluiting van diverse kerke in die vestiging van Afrikaans as kerktaal, maar opvallend genoeg nog begrens deur 20ste-eeuse taalgebeure wat aan die wit Gereformeerde Kerke gekoppel kan word.

Daarom is hul fokus opvallend genoeg hoofsaaklik op geskrifte soos gesangboeke en liturgiese tekste wat in dié tyd in diverse kerke, waaronder die Anglikaanse en Katolieke Kerke, geproduseer is. Ponelis (Standaardafrikaans 59) vermeld byvoorbeeld die Afrikaanse gesangboek vir die Anglikaanse Kerk en 'n versameling liturgiese tekste wat in i925 gepubliseer is. Hierby noem hy die Rooms-Katolieke Sakramentarium (die Altaarmissaal of liturgiese boeke vir gebruik by die altaar) wat eers in i989 in Afrikaans verskyn het, sonder vermelding dat ouer weergawes bestaan. In Raidt ("Afrikaans as liturgietaal" 272) se analise van die Afrikaans in die i989-vertaling van die Katolieke Sakramentarium vergeleke met die Afrikaans in die Anglikaanse Kerk se liturgiese boeke, verwys sy na 'n 1960-uitgawe van voorgenoemde.

Opmerklik word liturgiese tekste wat gebruiklik is in die Anglikaanse en Rooms-Katolieke Kerke egter deur Carstens en Raidt buite rekening gelaat. So byvoorbeeld sit hulle ná die eerste Psalmberymings en liedboeke in Gereformeerde kringe sedert 1920 dieselfde soort tekste uiteen wat tussen 1947 en 2005 in ander kerke verskyn het (4i9-20). Die Afrikaanse gesangboek vir die Anglikaanse Kerk (i925) waarna Ponelis verwys het, verskyn nie in hierdie chronologie nie.

Hoewel diverse kerkgenootskappe dus verteenwoordig word in Carstens en Raidt en Ponelis (Standaardafrikaans 59-60) se geskiedenis van Afrikaans as kerktaal, word dit op 'n wyse aangebied wat steeds die dominansie van die Gereformeerde Kerke te kenne gee. Dit gaan in die eerste plek om die opsigtelikheid waarmee konkrete, skriftelike bewyse vir die ontwikkeling van Afrikaans in alle kerke in die 20ste eeu gekonsentreer word. Hiermee word die indruk gewek dat die Afrikaanse taal eers in die 20ste eeu deur alle ander kerkgenootskappe, nes die susterkerke, as kerktaal in gebruik geneem is. Tweedens word alle dokumentêre bewyse, liedboeke en Psalmberymings, afgestem op die Gereformeerde godsdiensbeoefenings, ter uitsluiting van liturgiese literatuur wat 'n ander beoefening van die Christelike geloof veronderstel, soos dié van die Anglikaanse en Katolieke Kerke.

Hierdie begrensing van die Afrikaanse kerktaalgeskiedenis wek die indruk dat ander interpretasies van dié geskiedenis onmoontlik is. Dit gee blyke van wat Willemse in Aan die ander kant beskryf as 'n "eiendomlike verhouding" tussen die wit Gereformeerdes en die Afrikaanse taalgeskiedenis, sowel as die "onsigbare begrensinge van die verhouding" tussen die res en dié geskiedenis (51 en 61). In dié opsig verskil die sogenaamde inklusiewe kerktaalgeskiedenis nie veel van ouer werke soos Volk en taal in Suid-Afrika deur S. P. E. Boshoff in 1921 of W. Kempen se hoofstuk "Afrikaanse taalaktiwiteit" (in Taalkundige opstelle, saamgestel deur P. J. Nienaber in 1965) waarin die perspektief noodwendig wit en Gereformeerd is nie.

Byvoorbeeld, sowel Ponelis (Standaardafrikaans 60) as Carstens en Raidt (70, 82,119-20, 279, 310-1, 449, 902) maak gewag van die taalgebeure in die 18de eeu op die Morawiese sendingstasie Genadendal met betrekking tot onder meer die taalsituasie en Carstens en Raidt ook op die ontwikkeling van die spreek- en skryftaal. Laasgenoemdes noem egter "[d]ie geskiedenis van plekke soos Genadendal [.] word ook nie behoorlik verreken in geskiedenisse oor Afrikaans nie" (Carstens en Raidt 902).

Tog sou dit kon, en kon dit 'n stap gewees het tot 'n alternatiewe siening van die geskiedenis van Afrikaans as kerktaal vanuit die spreektaal in die 18de eeu, 'n Afrikaanse kerktaalgeskiedenis met die Genadendal-Afrikaans in die Morawiese Kerk as vertrekpunt. In die inlei van sy bydrae by 'n Komvandaan-seminaar van die Afrikaanse Taalraad in 2019 verwys Conradie juis na die sendingstasie as "[v]an regstreekse belang vir Afrikaans". Hy sluit sy aanbieding oor "Afrikaans, Nederlands en die Morawiese Kerk" af met: "Dit is ook nou nodig dat wyer kennis geneem word, deur al die sprekers van Afrikaans in die land, watter ontwikkelinge op Genadendal plaasgevind het, en dat die klem nie net op die sogenaamde Eerste en Tweede taalbewegings val nie" (Conradie, s. p., my kursivering). Dit is moontlik, het Ponelis in 1998 op grond van bestaande navorsing oor Afrikaans as kerktaal in die Anglikaanse Kerk aangetoon. In sy oorsig van die geskiedenis van Afrikaans as godsdienstaal sluit Ponelis "afgesien van die NG Kerk en die gereformeerde kerke onder andere ook die Anglikaanse, die Apostoliese Geloofsending, die Baptiste-, die lndependente, die Metodiste-, die Morawiese, die Rynse, die Volle-Evangelie-, en die Pinkster-Protestantse Kerk" in (Standaardafrikaans 59).

In enkele sinne verplaas hy die aandag na i9de-eeuse taalgebeure in die Anglikaanse Kerk. Hy wys uit dat Afrikaans "[i]n die NG Kerk [.] pas in die tweede dekade van hierdie eeu [1900's] van die kansel af gehoor is", terwyl dit "in die Anglikaanse Kerk reeds veel vroeër op die voorgrond getree" het (59). Eers reken hy Afrikaans is al teen die i850's gebruik "[a]s kanseltaal [sic] in die Anglikaanse Kerk [.] naas Engels en Nederlands" (59). Dié datering wysig en vervaag hy selfs in 'n verwysing na Du Toit wat ten tyde van die GRA se beywerings "heel waarskynlik nie ten volle bewus [was] van die gebruik [.] van Afrikaans in die Anglikaanse kerk vanaf 1880, dalk selfs vroeër nie (Ponelis, "Kultivering van Afrikaans" 25, my kursivering).

Die belang van sy artikel is dat Ponelis met sy fokus op die Anglikaanse Kerk bewys het 'n ander voorstelling van die kerktaalgeskiedenis kan herbedink word, vanuit die Afrikaanse spreektaal, maar anderkant 'n taalstryd of taalbewegings om dit erken te kry. Dis 'n geskiedenis waarin die Afrikaanse omgangstaal, "ongekultiveerd" of gekleurd soos dit was, al in die 19de eeu welkom by die altaar was voordat dit in die 20ste eeu die kansel kon bestyg. Dis die einste spreektaal wat ironies genoeg volgens Ponelis "[t]ot diep in die negentiende eeu [...] net 'n omgangstaal [was]: [...] wat [onder meer] glad nie as voertaal in [...] die kerk [...] gebruik is nie" (23, my kursivering).

Ondanks sy voorbeeld van 'n alternatiewe siening, lyk dit of die Afrikaanse taalgeskiedenis in kerkverband nog gebuk gaan onder die juk van genoemde taalbewegings en taalstryd en daarom nog uit 'n dominant Gereformeerde perspektief vertel word. Derhalwe herinner die Afrikaanse taalgeskiedenis in kerkverband nog aan 'n verslag van ene W. A. Visser 't Hooft oor sy besoek aan Suid-Afrika in 1952. In dié verslag, aangehaal in Lombard (2) en wat hier woordeliks aangebied word, skryf die besoeker dat daar min plekke in die wêreld is

in which one can find such a strong alliance and symbiosis of Church and people as one finds among the Afrikaners. This is, of course due to the very obvious reason that in their whole history the Afrikaners have been accompanied and formed by their Church. During the days of danger it was the Church which consoled. The Church maintained the cohesion of the people at the time when it was impossible to maintain any political cohesion. The Church was the guardian of the language. (Lombard 2, my kursivering)

Behalwe dat selfs 'n inklusiewe kerktaalgeskiedenis steeds deur die susterkerke begrens word, spreek dit ook van "'n eenselwigheid: dieselfde gesaghebbendes, dieselfde voorbeelde, dieselfde interpretasie. Die wydverspreide oorname van outoriteite vestig die indruk dat geen ander voorstelling van die geskiedenis moontlik is nie" (Willemse 47, my kursivering). Om 'n enkele voorbeeld te noem: die onbetwiste herhaling van die eerste preek in Afrikaans as die een wat in 1914 op Stellenbosch deur ds. Tobie Muller gelewer is (Carstens en Raidt 404, oorgeneem uit Hugo 71).

Tog skryf onder andere P. J. Nienaber in Hier Is Ons Skrywers! Biografiese Sketse van Afrikaanse Skrywers oor ds. Daniël Pieter Rossouw, oupa van die oorlede uitgewer Leon Rousseau, wat in Afrikaans gepreek en "nog verder gegaan [het] as wat 'n evangeliedienaar in daardie dae geoorloof was: Hy het die eerste preke in Afrikaans [vanaf 10 Januarie 1879 tot ongeveer 1884] in die gehate Patriot geskryf onder die titel 'Evangeli in di Volkstaal'" (351).

Die aspekte wat hier uitgelig is, laat dit lyk of die geskiedenis van Afrikaans in 'n kerk- of Christelike geloofsopset nog aan dieselfde indringende, kritiese vrae van die 1970's onderwerp moet word, nie net oor wie tot nou in die geskiedenis uitgesluit is nie. Dit is belangrik, maar dit vereis ook vrae oor hoe met bestaande historiese literatuur omgegaan word en 'n kritiese bewustheid van wat ons doen wanneer ons die geskiedenis "maak" en dat die geskiedenis nie net betekenisdraend is nie, maar ook betekenisskeppend. Veral belangrik is die vraag oor of en hoe die Afrikaanse taalgeskiedenis, veral in kerkverband, soos Benjamin (248) dit stel, "teen die grein in" vertel kan word, 'n kerktaalgeskiedenis wat krities bewus is van die "soort verstaan van die verlede wat daardeur veronderstel en oorgedra word" (Lategan 198).

Dit gaan om Conradie (s. p.) se taalgeskiedenis waarin "die klem nie net op die sogenaamde Eerste en Tweede taalbewegings val nie", maar die aandag ook uitgaan na die "valorisering en institusionalisering van die waardes van die gedomineerde kulturele praktyke" (Willemse 28). Laasgenoemde het betrekking op die Morawiese en Anglikaanse Kerke waaroor navorsing van vóór die 20ste eeu al bestaan. Oor die Katolieke Kerk is nog net kennis oor 20ste-eeuse taalbedrywighede in die openbare domein beskikbaar.

Met dié problematiek is hierdie bydrae gemoeid, naamlik die representasie van Afrikaans in 'n Katolieke konteks as 'n 20ste-eeuse laatkommer. Die vraag is of daar 'n alternatiewe siening bestaan en of in die Katolieke kerkgeskiedenis sprake is dat Afrikaans al 'n langer pad as die 20ste eeu geloop het? Hoe het dit dan gekom dat Afrikaans, in die woorde van Carstens en Raidt (405) "steeds stewig gevestig" is in die RKK? Die kwessies word agtereenvolgens aan die orde gestel met 'n verkenning van hoe Afrikaans in 'n Katolieke konteks voorgehou word ter inleiding.

 

Die representasie van Afrikaans in Katolieke verband

Afrikaans is vandag inderdaad steeds stewig gevestig in die Rooms-Katolieke Kerk. In twee van die 29 Katolieke bisdomme of kerkstreke is Afrikaans die dominante kerktaal, te wete die bisdomme Oudtshoorn en Keimoes-Upington, en in minstens tien ander, waaronder die bisdomme Port Elizabeth en Queenstown, is dit een van die kerktale. Van die ongeveer 3,8 miljoen Katolieke in die land word die aantal Afrikaanssprekendes op meer as 300 000 geraam. In 2017 het 'n studie deur die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Internasionale en Vergelykende Politiek getoon dat die Afrikaanse Katolieke tussen 2006 en 2013 toegeneem het en van 12% in 2009 tot 24% in 2013 verdubbel (Kotzé en Loubser 5).

Waar en wanneer is die historiese grondslag vir die stewige vestiging van Afrikaans in die RKK gelê? Te oordeel aan die oorwegend Engelse Katolieke kerkgeskiedskrywing is dit juis in die 20ste eeu dat die bevordering van Afrikaans vir Katolieke gebruik sigbaar geword het. Onderliggend hieraan is 'n oënskynlik ingeburgerde opvatting dat "[t]he nascent [sic] Afrikaans language did not become part of the experience of the Catholic Church" (Law 68).

Denis (i47) stel dit as 'n feit dat die Katolieke Kerk in die i9de eeu 'n byna eksklusief Engelse instelling was. Selfs in die enigste doktorale studie in Afrikaans tot nou toe oor die RKK kom Dirk Jan Gomes tot die gevolgtrekking dat die Afrikaanse Katoliek tot die 1930's Engels as kerktaal moes gebruik omdat daar in die Kerk "voorlopig geen plek vir Afrikaans ingeruim is nie" (Gomes, Katolieke woordeskat 29).

Gomes se datering van Afrikaans in die Katolieke Kerk hou waarskynlik verband met die i930's toe die religieuse orde waartoe hy behoort het, die Dominikane, begin werk het aan Afrikaans vir Katolieke gebruik. Tog weerspreek hy homself omdat hy wel in sy studie die Duitse priesters byhaal wat al vroeg in die i920's literatuur begin produseer het vir die oorwegend bruin Afrikaanse Katolieke in Oudtshoorn en omstreke (29).

Die handjievol artikels wat opgespoor kon word in akademiese tydskrifte en die Afrikaanse media gee boonop kwalik insig in 'n Katolieke geskiedenis van Afrikaans voor die 20ste eeu en werk op die oog af eerder mee om Afrikaans in 'n Katolieke konteks as 'n 20ste-eeuse ontwikkeling te posisioneer. So byvoorbeeld vestig Raidt ("Die agtste deel van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal" 215) bloot die aandag op die Tweetalige Kerkwoordeboek wat in 1970 deur die RKK uitgegee is in haar bespreking van die Katolieke terme in Gomes se studie wat uiteindelik in i99i in die agste deel van die Woordeboek van die Afrikaans taal (WAT) tereggekom het. Sy verwys sonder veel omhaal of uitleg na die "heel besondere bydrae van die Katolieke, veral van bruin Afrikaanssprekendes", tot die groei en verryking van die Afrikaanse taal (271-2 en 280).

Behalwe dat Katolieke historici geen plek aan Afrikaans in die geskiedenis van die Kerk voor die twintigste eeu toeken nie, toon die Katolieke kerkgeskiedenis dieselfde eentonige, onbetwiste herhaling van bestaande navorsing en interpretasies as die Afrikaanse taalgeskiedenis met betrekking tot die geskiedenis van Afrikaans as kerktaal. In resente geskiedskrywings soos Anthony Egan se Church, colonialism and mission-two hundred years of Catholicism in South Africa en The shaping of South African Catholicism wat in 2017 en 2018 verskyn het, kon niks nuuts gevind word wat nie al in John Brady se Trekking for souls (1952) of William Brown se magistrale 1960-werk The Catholic Church in South Africa-From its Origins to the Present Day gedokumenteer is nie.

Selfs Engelse dagboeke en geskrifte van biskoppe en missionarisse wat daarop dui dat die historiese aanloop tot die vestiging van Afrikaans as kerktaal in die Katolieke Kerk verder strek as die 20ste eeu, is tot nou toe nie in die Katolieke kerkgeskiedenis opgeneem nie. Die stiltes rondom Afrikaans in die Katolieke Kerk voor die 20ste eeu spreek van die aandadigheid van Katolieke historici aan die leemtes betreffende die representasie van die RKK in die geskiedenis van Afrikaans as kerktaal. Gevolglik word 'n alternatiewe siening van dié representasie hieronder onderneem met gebruikmaking van bogenoemde gemarginaliseerde dokumente. Hier word geen aanspraak op omvattendheid gemaak nie, en die bevindings word gewoon verkennend aangebied as bewyse dat die Afrikaanse spreektaal al in die 19de eeu as kerktaal in die Katolieke Kerk gebruik is.

 

'n Historiese aanloop tot Afrikaans as kerktaal in die Katolieke Kerk

Saam met Jan van Riebeeck se koms na die Kaap op 6 April i652 het 'n geloofsverbod op alle gelowe en kerkverbande behalwe die Gereformeerde geloofsoortuigings gegeld. Vir Rooms-Katolieke was dit 'n tyd toe hulle gemarginaliseer is in 'n politieke konteks onder 'n Calvinistiese hegemonie (Bate 6).

lnligting oor dié tyd in die lewe van die Katolieke Kerk is skraps. Van Katolieke aan die Kaap tussen 1652 en 1795 word in die Katolieke historiografie slegs vaagweg melding gemaak. Brady (114) praat van "fairly numerous" Katolieke en Brain ("Moving from the Margins to the Mainstream: the Roman Catholic Church" 195) bevestig bloot dat daar voor 1795 wel Katolieke aan die Kaap was. Die laaste tyd kom daar uit Gereformeerde kringe navorsing wat daarop wys hoe divers die Kaapkolonie, in weerwil van die geloofsverbod, in werklikheid op religieuse vlak was.

Beyers verwys byvoorbeeld in sy artikel oor die verhoudinge tussen Christene en Moslems in die 17de en 18de eeue na Jode, Hindoes, Boeddiste, Metodiste, Rooms-Katolieke, Lutherane en volgelinge van inheemse gelowe, al was hulle "inhibited or outlawed by colonial policy" (5). Dit sou egter 172 jaar duur voordat 'n Katolieke priester in 1822 toegelaat is om hom in Suid-Afrika te vestig en 'n biskop, Raymond (Raymund) Griffith eers 16 jaar later, in 1838.

Saam met dié biskop kom sy optekening van pogings om die Afrikaanse spreektaal as kerktaal in die Katolieke Kerk te vestig. Griffith se waarnemings oor en houding teenoor Afrikaans is opgeteken in sy dagboeke en briewe wat in die argief in die Katedraal van St. Mary's in Kaapstad bewaar word. Van die briewe en dagboeke is later deur die kerkhistorikus Joy Brain uitgegee as The Cape Diary of Bishop Griffith. Hieruit blyk dat hy al binne 'n maand begin soek het na 'n priester wat Nederlands kan praat omdat net 'n Belg of Nederlander volgens hom die "awful [sic] first language of this colony [wat hy duidelik herken as nie meer Nederlands nie]" sou kon aanleer (Brain, The Cape diary of Bishop Griffith 1837-1839 107; Denis 86).

Griffith en sy kollegas en opvolgers se bemoeienis met die omgangstaal of -tale hou volgens Vilhanová-Pawliková verband met die missionêre denke in veral die 19de eeu dat die missionarisse hulle soveel moontlik stroop van die kulturele elemente, in die eerste plek hul taal, wat hulle van die plaaslike mense kan onderskei: "Missionaries were requested to overcome language difficulties by devoting their spare time to the study of local African languages and by approaching the Africans in their own language minimize cultural misunderstandings and distinctions between themselves and their potential converts" (Vilhanová-Pawliková 62, my kursivering).

Hoewel Latyn tot ongeveer 1965 in die liturgie gebruik is, is die plaaslike omgangstale wel in onder meer die homilie (preek), kategismus, gebede en vir onderrig in die skole gebruik. Brown noem byvoorbeeld terloops dat 'n Nederlandse priester, Theodor Wagenaar, eers in 1824 na die destydse Port Elizabeth, Uitenhage en omliggende gebiede kon vertrek om daar na Afrikaanse Katolieke om te sien nadat nog 'n Engelse priester in die Kaap aangekom het (10). Tog blyk hieruit dat die stewige vestiging van Afrikaans as kerktaal in die Katolieke Kerk al in die 1820's begin het.

Wagenaar is in 1835 terug na sy geboorteland en is eers in 1849 opgevolg deur drie ander Nederlandse priesters, Jacobus Hoendervangers (wat diep spore in die destydse Transvaal, Vrystaat en Oos-Kaap getrap het), Josef de Sany en J. van Cauwelaert. Hulle moes hier veral na die sielesorg van Afrikaanse Katolieke kom omsien (Gomes, Voortrekkers 20), wat Afrikaans in 'n Katolieke konteks nog stewiger veranker het. Vandag bestaan in hierdie streke nog van die sterkste Afrikaanse Katolieke gemeentes in die Oos-Kaap.

Al in 1841 wys Aidan Deveraux, wat in die distrik George as priester aangestel is, op die belang van Afrikaans vir die Katolieke missie. Vanuit George moes hy onder meer ook Knysna, Mosselbaai, Langkloof, Oudtshoorn en omliggende gebiede bedien waar Afrikaans tot nou toe steeds die dominante Katolieke kerktaal is. So byvoorbeeld het Deveraux voor sy vertrek Nederlandse Katolieke kategismusse vir sy nuwe gemeentes aangekoop wat verlore geraak het toe hul skip by Algoabaai op die rotse geloop het (Brown 28). Dit is juis dié "Hollandse" kategismus wat Griffith volgens Gomes (Voortrekkers 33) in i840 uitgegee het. Van belang is hoe Deveraux se skrywes 'n besef weerspieël van hoe belangrik die Afrikaanse spreektaal vir sy geloofsuitvoerings is. In 1842 skryf hy in sy dagboek: "I feel a great deficiency in not being able to speak or preach in the language (Lotz s. p., my kursivering).3 Sy wens om Nederlandse priesters na die Afrikaanse Katolieke te bring is bewaarheid toe Hoendervangers en sy span in 1849 in die Oos-Kaap aankom. Deveraux het werk hiervan gemaak toe hy tot biskop in die Oos-Kaap gewy is.

Ná vele pleidooie van Griffith vir 'n Nederlandse priester om in die gebied in en om die Kaap te werk, kom een eers in Julie i852 aan, Pieter van Ewijck, maar hy is teen i856 terug Nederland toe en vandaar na Curacao (Monteiro i64). Die saak vir Afrikaans in die Wes-Kaapse Katolieke Kerk sou eers momentum kry toe James O'Haire, 'n Ierse priester, in 1863 in die Kaap aankom. Dié geskiedenis staan opgeteken in sy dagboek wat in 1877 uitgegee is as Recollections of twelve years' residence as a missionary priest: viz., from July 1863 to June 1875 in the Western District of the Cape of Good Hope, South Africa. Dit bevat ook die briefwisseling tussen hom en biskop Thomas Grimley, wat vir Griffith in i862 opgevolg en die eintlike dryfkrag agter die mobilisasie van Afrikaans as Katolieke kerktaal geword het.

O'Haire is by sy aankoms na Malmesbury in die Wes-Kaapse Swartland gestuur om 'n parogie te stig. In sy dagboek skryf hy oor 'n praktyk wat Afrikaans in dié tyd regdeur die Katolieke Kerk sou rugsteun: priesters wat in skole of met die hulp van kinders die Afrikaanse taal aanleer. O'Haire se "leermeester" was die 13-jarige Edmund Keating wat hom moes help om die "indispensible patois of the country" te bemeester sodat hy later met sy "little knowledge of Dutch" die Katolieke van Malmesbury tot in die Paarl, Wellington, Stellenbosch, Klapmuts en Tulbagh kon bereik (O'Haire 150-9, my kursivering). Toe hy na Oudtshoorn en omstreke oorgeplaas is, skryf hy oor hoe hy op sy reise deur die kerkstreek selfs by die Khoi-Khoi hulp en kos kon vra omdat hy hul taal kon praat (240-2).

Tien jaar later begin nog 'n vertakking van Afrikaans se Katolieke geskiedenis met die aankoms op Springbok van Franse missionarisse van die Society for Africa Missions (SMA, afkorting van hul naam in Latyn: Societas Missionum ad Afros) uit Lyons. Onder hulle was vader Gaudeul wat eers 'n sendingstasie naby Springbok stig en later in i875 die voormalige Rynse sendingstasie op Pella oorneem. Eers teen einde i882, by die aankoms van sy opvolger, Jean Marie Simon, die man wat die eerste Noord-Kaapse biskop sou word, kry mens te hore hoe Gaudeul die Katolieke Kerk daar in en deur Afrikaans gevestig het. Uit optekenings in Simon se dagboek, wat uit Frans vertaal en in 1959 uitgegee is as Bishop of the Hottentots, skryf hy met bewondering oor Gaudeul wat met min inspanning en werk die plaaslike tale "Dutch of Africa" en Engels soos sy moedertale aangeleer het vir gebruik in die kerk en skool (Simon 28). Later skryf Simon dat veral die kinders 'n groot rol gespeel het in sy taalvaardigheid (36). Hy skryf oor hoe hy sukkel om Hollands aan te leer, "especially the Dutch spoken in Africa which is very different from the language spoken in Holland" (37-8).

Toe die katedraal op Pella op i5 Augustus i895 gewy word, skryf Simon oor sy eerste Afrikaanse preek (86). Op i April i898 keer hy terug uit Frankryk waar hy tot biskop gewy is en hy maak 'n punt daarvan om te vermeld dat hy by sy terugkeer na Pella in Afrikaans op sy verwelkoming reageer het sodat almal hom kon verstaan (i22). Uit dié kort oorsig kan die mobilisering van die Afrikaanse spreektaal as kerktaal vir Katolieke gebruik tot die vroeg 1820's herlei word, 'n geskiedenis wat nog in die marges van die Katolieke kerkgeskiedenis en die geskiedenis van Afrikaans as kerktaal lê. Tog skep dit saam met bestaande navorsing oor Afrikaans in ander kerkverbande 'n moontlikheid vir die herbedinking van die geskiedenis van Afrikaans as kerktaal, vir 'n alternatiewe of nuwe kerktaalgeskiedenis wat nie beperk of bepaal word deur 'n eerste en tweede taalbeweging, 'n taalstryd of die ontwikkelingsgeskiedenis van die Afrikaanse skryftaal nie.

In die slotbeskouings word hierby aangesluit in 'n besinning oor wat sodanige nuwe geskiedenis van Afrikaans as kerktaal kon behels.

 

Slot: Alternatief, inklusief en gelykwaardig

Die verhaal van Afrikaanssprekendes wat vanaf i875 van hul taal se waarde oortuig moes word, is nie die volle geskiedenis van Afrikaans as kerktaal nie. Dis net een kant van die storie. Hiermee word die winste van die taalstryd of die taalbewegings of bestaande geskiedskrywings nie geringskat of misken nie. Eerder wil 'n geskiedenis vertel word wat naas die taalbewegings en taalstryd bestaan, 'n geskiedenis van die Afrikaanse spreektaal wat byvoorbeeld al in die i9de eeu by die altaar verwelkom is, soos navorsing oor die Anglikaanse Kerk in i989 uitgewys het, lank voordat dit op die kansel toegelaat is. Hierby kom 'n geskiedenis van Afrikaans wat al teen i824 in die aanbiddingsplekke (en toebehorende skole) van die Katolieke Kerk behoed en bewaar en gevestig is toe nog op die spreektaal neergesien is.

Hier is die stof vir 'n alternatiewe geskiedenis van Afrikaans as kerktaal vanuit die spreektaal in die 18de en 19de eeue tot en met die geskiedenis van die eerste en tweede taalbewegings, nie net kosmeties inklusief of gemeenskaplik ingereken nie, maar gelykwaardig, ewekansig. Dit is 'n kerktaalgeskiedenis wat die mobilisering van die Afrikaanse spreektaal in die i8de en i9de eeue (albei kante, die stryd en die stille beywerings vir die taal) saam met die 20ste-eeuse taalbeweging en die 20ste-eeuse bydraes van diverse kerkgenootskappe insluit.

Sodanige alternatiewe kerktaalgeskiedenis sou die gebeure op Genadendal en onder meer in die Anglikaanse en Katolieke Kerke op dieselfde manier verglans as dié wat aan die susterkerke en die taalbewegings gekoppel word. Dit verg anders dink, andersom dink, teen die grein in doen, veral met bestaande navorsing wat inderwaarheid die ingeburgerde representasie van die geskiedenis van Afrikaans as kerktaal bevraagteken. Anders bly navorsing oor die geskiedens van Afrikaans in die eie Kerk bloot net 'n nuwigheidjie, hier en daar 'n aanhaling of 'n verwysing in 'n voetnota.

Dit verander niks aan die ingebakte halwe storie nie.

 

Eindnote

1 Die storie van Afrikaans bestaan uit twee dele. Deel i het in 2017 verskyn en vertel die 'Europese verhaal' van Afrikaans-dit bestaan grotendeels uit Edith Raidt se Afrikaans en sy Europese verlede (met enkele aanpassings, volgens die redakteurs). Deel 2, wat in 20i9 verskyn het en waarna ek deurgaans in my artikel verwys of daaruit aanhaal, vertel die 'Afrika-verhaal' en is saamgestel of oorvertel uit 'n magdom bestaande bronne deur 'n wye verskeidenheid skrywers. In die voorwoord word bloot genoem dat in hul [Carstens en Raidt se] strewe om die "geheelprentjie" van Afrikaans se geskiedenis in 'n enkele omvattende, oorkoepelende bron "nog duideliker te maak" hulle "talle [bestaande] bronne gebruik en wel op 'n verskeidenheid wyses" (Carstens en Raidt s. p.). Albei outeurs se name verskyn op albei boeke.
2 In Pieterse (52-3) is 'n omvattende bespreking van die kritiese studies wat ongeveer twee dekades voor sy i994-studie oor die verpolitisering van en leemtes in die taalgeskiedenis verskyn het.
3 'n Transkripsie van dié dagboek deur W. J. G. Lotz word by die parogie van Sts. Peter en Paul op George bewaar.

 

Geraadpleegde bronne

Ankersmit, Franklin R. De navel van de geschiedenis. Over interpretatie en historische realiteit. Historische Uitgeverij, 1990.         [ Links ]

Bate, Stuart. "One mission, Two Churches." The Catholic Church in Contemporary South Africa, geredigeer deur Joy Brain & Philippe Denis. Cluster, 1999.         [ Links ]

Benjamin, Walter. Illuminations, vertaal deur Harry Zohn & geredigeer deur Hannah Arendt. Penguin, 1973.         [ Links ]

Beyers, J. "Beyond denial and exclusion: The history of relations between Christians and Muslims in the Cape Colony during the 17th-18th centuries with lessons for a post-colonial theology of religions." HTS Teologiese Studies / Theological Studies vol. 72, no. 1, 2016, pp. 1-10. DOI: https://doi.org/10.4102/hts.v72i1.3117.         [ Links ]

Boshoff, S. P. E. Volk en Taal van Suid-Afrika. De Bussy, 1921.         [ Links ]

Brady, John E. "History of the Church in South Africa." The Catholic Church and Southern Africa: A series of essays, geredigeer deur Fr. Agathangelus. Catholic Archdiocese Cape Town, 1951.         [ Links ]

Brain, Joy. "Moving from the Margins to the Mainstream: the Roman Catholic Church." Christianity in South Africa: A political, social and cultural history, geredigeer deur Richard Elpick & Rodney Davenport. David Philip, 1997, pp. 195-201.         [ Links ]

__________________. The Cape diary of Bishop Griffith 1837-1839. Southern African Catholic Bishops' Conference, 1998.         [ Links ]

Brown, William. The Catholic Church in South Africa: From its Origins to the Present Day. Burns & Oates, 1960.         [ Links ]

Carstens, W. A. M. & Michael le Cordeur (reds.). Ons kom van vêr: Bydraes oor bruin Afrikaanssprekendes se rol in die ontwikkeling van Afrikaans. Naledi, 2016.         [ Links ]

Carstens, W. A. M. & Edith Raidt. Die storie van Afrikaans-uit Europa en van Afrika. Protea, 2019.         [ Links ]

Cohen, Sol. Challenging Orthodoxies. Towards a New Cultural History of Education. Representation of History in the Linguistic Turn. Peter Lang, 1999.         [ Links ]

Conradie, Jac. "Afrikaans, Nederlands en die Morawiese Kerk." Litnet, 2019. https://www.litnet.co.za/atr-komvandaan-seminaar-2019-afrikaans-nederlands-en-die-morawi-ese-kerk/.         [ Links ]

De Certeau, Michel. The writing of history. Columbia U P, 1988.         [ Links ]

De Jong, Otto J. Geschiedenis der Kerk. G. F. Callenbach, 1992.         [ Links ]

Denis, Philippe. The Dominican Friars in Southern Africa. Brill, 1998.         [ Links ]

Esterhuyse, Jan. Taalapartheid & Skoolafrikaans. Taurus, 1986.         [ Links ]

Flowerdew, John. Critical discourse analysis in historiography: the case of Hong Kong's evolving identity. Palgrave Macmillan, 2012.         [ Links ]

Gomes, Dirk J. 'n Ondersoek na die wenslikheid en noodsaaklikheid van 'n Katolieke woor-deskat in Afrikaans. Proefskrif. U Witwatersrand, 1962.         [ Links ]

__________________. Voortrekkers vir God. Pretoria: Katolieke Afrikanersentrum, s. a. Harmsen, Gerrit J. Inleiding tot de geschiedenis. Ambo, 1968.         [ Links ]

Hugo, Daniel, red. Halala Afrikaans. Protea, 2009.         [ Links ]

Jenkins, Keith. Why History: Ethics and Postmodernity. Routledge, 1999.         [ Links ]

Kotzé, Hennie & Reinet Loubser. "Religiosity in South Africa: Trends among the public and elites." Scriptura, vol. 116, no. 1, 2017, pp. 1-12. DOl: https://doi.org/10.7833/116-1-1287.         [ Links ]

Lategan, Bernard "Nuwere ontwikkelinge op die gebied van die geskiedskrywing: 'n Geleentheid vir herbesinning na 350 jaar van gereformeerdheid?" Scriptura vol. 80, 2002, pp. 197-205.         [ Links ]

Law, Lois. An analysis of the socio-political role of the Roman Catholic Church in contemporary South Africa. M.A.-tesis. U Kaapstad, 1991. http://hdl.handle.net/11427/17060.         [ Links ]

Lawrence, Donovan, et al. Afrikaansmetodiek deur 'n nuwe bril. Van Schaik, 2014.         [ Links ]

Lombard, R. J. J. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk en rassepolitiek met spesiale verwysing na die jare 1948-1961. Proefskrif. U Suid-Afrika, 1974.         [ Links ]

Lotz, W. J. G. From the Diary of Fr. Aidan Devereux and His Successors. 2003.         [ Links ]

Lyotard, Jean-Francois. "Tomb of the intellectual." Political Writings: Jean-Francois Lyotard, geredigeer deur Bill Readings, vertaal deur Bill Readings & Kevin P. Geiman. UCL P, 1993.         [ Links ]

Mbembe, A. "Decolonizing the university: New directions." Arts & Humanities in Higher Education vol. 15, no. 1, 2016, pp. 29-45.         [ Links ]

Monteiro, M.E. Gods predikers: Dominicanen in Nederland (1795-2000). Verloren, 2008.         [ Links ]

Montessori, Nicola Montesano, Hans Schuman & Rob de Lange. Kritische discoursanalyse. De macht en kracht van taal en tekst. ASP, 2012.         [ Links ]

Nienaber, P. J. Die geskiedenis van die Afrikaanse Bybelvertaling. Nasionale Pers, 1934.         [ Links ]

__________________. "Rossouw, ds. P. D." Hier Is Ons Skrywers! Biografiese Sketse van Afrikaanse Skrywers. Afrikaanse Pers, 1949. pp. 351-2.         [ Links ]

O'Haire, James. Recollections of twelve years' residence as a missionary priest : viz., from July 1863 to June 1875 in the Western District of the Cape of Good Hope, South Africa. Dublin: M. H. Gill, 1877.         [ Links ]

Pienaar, E. C. Die triomf van Afrikaans. Nasionale Pers, 1946.         [ Links ]

Pieterse, H. J. "Taalpolitiek en 'Alternatiewe Afrikaans'". Proefskrif. U Suid-Afrika, 1994. http://hdl.handle.net/10500/15785.         [ Links ]

Pieters, Jurgen. "Van oude dingen, de zaken die voorbijgaan. Het New Historicism en de paradigmawissel in het historisch literatuuronderzoek." Tijdschrift voor Literatuurwetenschap vol. 4, 1996, pp. 276-88.         [ Links ]

Ponelis, Fritz. "S. J. du Toit en die kultivering van Afrikaans." Di Koningin fan Skeba, of Salomo syn oue goudfelde in Sambesia, deur S. J. Du Toit. Africana, 1998, pp. 23-31.         [ Links ]

__________________. Standaardafrikaans en die Afrikaanse taalfamilie, Annale 1. Universiteit van Stellenbosch, i998.         [ Links ]

Raidt, E. H. "Afrikaans as liturgietaal." Tydskrif vir Geesteswetenskappe vol. 31, no. 4, 1991, pp. 271-81.         [ Links ]

__________________. Afrikaans en sy Europese verlede. Van Schaik, 1991.         [ Links ]

__________________. "Die agtste deel van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal." Lexikos vol. 3, 1993, pp. 215-26. DOI: https://doi.org/10.5788/3-1-1108.         [ Links ]

Simon, J. M. Bishop for the Hottentots. African memories: 1882-1909. Benziger, 1959.         [ Links ]

Steyn, J. C. Tuiste in eie taal. Tafelberg, 1980.         [ Links ]

Stubbs, J. L. Afrikaanssprekendes, Nederlands en Afrikaans in die Kerk van die Provinsie Suider-Afrika: 'n verkenning van taalgebruik in die Anglikaanse Kerk in Suider-Afrika. Proefskrif. U Kaapstad, 1989.         [ Links ]

Van Oort, Ronel. Die ontwikkelingsgeskiedenis van Afrikaans: 'n inklusiewe perspektief en implementering in 'n lesreeks. Proefskrif. Noordwes-U, 2008. http://hdl.handle.net/10394/2106.         [ Links ]

Vilhanová-Pawliková, Viera. "Christian missionary enterprise in Africa. A synonym for 'cultural imperialism'?" Asian and African studies vol. III, no. 4, 2002, pp. 49-68.         [ Links ]

Vorster, Johannes. "Die probleem van representasionalisme en die moontlik-hede van retoriek(e) van die lyf ter oorweging vir 'n gesonder gemeenskap." Tydskrif vir Geesteswetenskappe vol. 55, no. 4, 2015. pp. 601-17. DOI: http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2015/v55n4a7.         [ Links ]

Wesseling, Elizabeth. Writing history as a prophet. Postmodernist innovations of the historical novel. John Benjamins, 1991.         [ Links ]

White, Hayden. "Historical Emplotment and the Problem of Truth." The Postmodern History Reader, geredigeer deur Keith Jenkins. Routledge, 1997, pp. 392-6.         [ Links ]

Willemse, Hein. Aan die ander kant: Swart Afrikaanse skrywers in die Afrikaanse letterkunde. Protea, 2007.         [ Links ]

 

 

Submitted: 14 September 2021
Accepted: 6 April 2022
Published online: 18 September 2022

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License