SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.59 issue3 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.59 n.3 Pretoria  2022

http://dx.doi.org/10.17159/tl.v59i3.12510 

RESEARCH ARTICLES

 

Die intellektuele geskiedenis van bruin intelligentsia: 'n herbesoek aan P. J. Philander (1921-2006)

 

The intellectual history of Coloured intelligentsia: Revisiting P. J. Philander (1921-2006)

 

 

Steward van Wyk

Professor in die Departement Afrikaans en Nederlands van die Fakulteit Kunste en Geesteswetenskappe, Universiteit van Wes-Kaapland, Bellville, Suid-Afrika. Sy navorsingsbelangstellings lê in Swart Afrikaanse skryfwerk en postkoloniale studies. E-pos: svanwyk@uwc.ac.za; https://orcid.org/0000-0003-4077-6770

 

 


ABSTRACT

The intellectual history of Coloured intelligentsia in the middle of the previous century is often characterised by a sharp division between moderates and radicals. The historiography of Coloured people is relatively limited but a few scholars have studied their intellectual formation against the background of historical circumstances, their specific biography and institutional operations. In this article I give a broad overview of the intellectual history and historiography of Coloured intelligentsia. I focus in more detail on the poet and educationist P. J. Philander. He is associated with the moderate grouping and characterised as a political gradualist who favoured steady and incremental changes in the political towards democracy. I argue for further engagement with the ideas and actions of the poet and propose that liberal sentiments in his life and work provide further and important perspectives. This would also explain his disenchantment with the apartheid regime and his consequent decision to emigrate to the United States of America where he pursued a long and illustrious career as an educator at a Quaker School in New York. I analyse two texts with an autobiographical purview to indicate these strands of liberal influence and thought.

Keywords: intellectual history, moderates, radicals, P. J. Philander, liberal fiction, autobiography, race.


 

 

Inleiding

In hierdie artikel bring ek 'n herbesoek aan die politieke denkbeelde soos dit vergestalt word in die lewe en skryfwerk van die Afrikaanse digter en opvoedkundige P. J. Philander (1924-2006). Daar is al aangetoon dat Philander in sy epos Zimbabwe polities-gematigde denke vertoon (Willemse, "Insularity and Ambivalence. The case of the South African Poet P. J. Philander's Epic Poem, Zimbabwe" 142). In hierdie artikel wil ek egter argumenteer vir 'n meervoudige perspektief in 'n verdere besinning oor Philander se denkbeelde en beweegredes. Ek voer aan dat die liberale denke en ingesteldheid as verklaring dien vir die onvermydelike wroeging en botsing van Philander met apartheid wat tot sy uiteindelike emigrasie aanleiding sou gee. Ek begin met 'n analise van die gefiksionaliseerde outobiografiese vertelling Rebunie (2000) en argumenteer dat Philander nie net bewustelik sekere liberale uitsprake gemaak het nie, maar ook in sy vormlik-tegniese hantering van sy stof tot die liberalisme aangetrokke was; hy maak dus gebruik van die konvensies van liberale fiksie. Vervolgens ondersoek ek 'n ongepubliseerde memorie met die titel "'n Soetsuurlemoen". Die keuse vir hierdie tekste met 'n outobiografiese strekking is omdat dit later in die digter se loopbaan gepubliseer is en insae bied in sy besinning oor die beweegredes vir sekere besluite. As sodanig bied dit dus meer direkte toegang tot sy denke en optrede as sy vroeër gepubliseerde gedigte.

Ek ondersoek Philander se denkbeelde onder andere oor ras. In gevalle waar ek verwys na die groep wat statutêr as "Kleurling" aangedui word, gebruik ek die hoofletter soos in die betrokke wetgewing. Vir ander kleurterme gebruik ek kleinletters en my voorkeur gaan uit na die neutrale term "bruin", behalwe in gevalle waar die konteks dit vereis om "Kleurling" en/of "Coloured" te meld wat in sodanige gebruik nie pejoratief of essensialiserend bedoel word nie.

 

Gematigdes vs. radikale: die politieke denkklimaat onder bruin intelligentsia in die 1960's

Die intellektuele geskiedskrywing van bruin intelligentsia in die vyftiger- en sestigerjare van die vorige eeu word gekenmerk deur uiteenlopende menings en skeiding tussen radikales aan die een kant en gematigdes aan die ander kant. Die Kaapse radikale groepering se manifes en optrede het boikot en verset teen apartheidstrukture behels en was gedryf deur nierassigheid en weerhouding van samewerking aan regeringstrukture, die sogenaamde non-collaboration. In sy studie oor een van die strukture binne hierdie groepering, die New Era Fellowship (NEF), wys Soudien (2) op die sentrale rol wat die bevraagtekening van rasdenke vir hierdie polities-intellektuele aktiviste ingehou het: "Not only did they seek to bring an end to mental slavery, they also committed themselves to building a new society in which all people could live with dignity". Soudien (34) wys ook op die uitdagings waarteen die radikale se idealisme te staan gekom het: "The enormity of what it was chasing after was almost too demanding. At every step of the way it had to deal with the weight of ruling class thinking-ruling-class thinking from the ruling class itself and ruling-class thinking reproduced from within the subordinate community as well". Hierdie laaste opmerking is subtiele kritiek op die denkbeelde van gematigdes en konserwatiewes.

Die gematigdes is geassosieer met gesprekke oor die kleurskeidslyne en deelname aan regeringstrukture. Die verskille tussen hierdie groeperinge is dikwels op die spits gedryf en het aanleiding gegee tot diep verdeeldheid in die bruin gemeenskap wat tot in die binneste kern van gesinne en gemeenskappe gevoel is. Willemse ("R. E. van der Ross (1921-2017)" 167) identifiseer die organisasies binne die groeperinge en skets die verdeling as volg:

In die bedompige wêreldjie van die Kaapse bruin elite was die slagordes opgestel tussen die radikale vleuel van die Teachers' League of South Africa (TLSA), die Non-European Unity Movement (NEUM) en hul "Tien Puntplan" enersyds, en die Teachers' Educational and Professional Association (TEPA), die Coloured People's National Union (CPNU) en later die South African Coloured People Organisation (SACPO), 'n assosiaat van die (African National) Congress-beweging en hul "Vryheidshandsves", andersyds. Die TLSA en sy bondgenote het in die openbaar 'n militante houding ingeneem, politieke boikotaksies (teen onder meer die destydse Departement van Kleurlingsake) georganiseer en mense wat nie hulle standpunte gedeel het nie, uitgekryt as "meelopers van apartheid" (collaborators en quislings).

Hy tipeer voorts die houding van gematigdes teenoor radikales en haal Van der Ross aan wat hulle "rejectionists" genoem het (167). Vir hulle was Van der Ross en sy geesgenote "Kleurling-nasionaliste" wat "Kleurling-eiesoortigheid" en "Kleurlingskap" (Colouredism) wou bevorder en dus na Verwoerd se pype sou dans. Van der Ross het dié karakterisering verwerp. Sy regverdiging vir sy benadering was dat sy gemeenskap op die rand uitgestoot was en hulle het kleuridentifikasie sonder stigma in hul organisasies en sportliggame gebruik. "Ek is 'n Kleurling", het hy uitdagend vir die radikales gesê, aldus Willemse ("Van der Ross" 167).

Relatief min studies is tot op hede aan die politieke denkbeelde van bruin intelligentsia gewy. Giliomee wys op die beperkte aantal studies oor die bruin Afrikaanse gemeenskap oor die algemeen: "Dit is een van die verstommende maar ook mees veelseggende verskynsels in die omvangryke nie-fiksie-literatuur in Afrikaans dat so min oor die bruin mense geskryf is" (xvi). Sedert Hattingh se oorsig in 1988 oor die klein groepie akademies-opgeleide bruin historici wat op hierdie terrein werksaam is, het sedertdien nie veel verander nie. As daar baie min oor die bruin gemeenskap geskryf is, is daar selfs minder oor die intellektuele geskiedenis van die groep geskryf.

Die vakgebied van intellektuele geskiedskrywing is in Suid-Afrika relatief onderontwikkeld en Vale (9) bevind dat daar min gronde is vir die term 'Suid-Afrikaanse intellektuele tradisies'. Die oorheersende denkbeelde word vanuit die Europese konteks oorgeneem en hier te lande aangepas-daarom die besluit deur Peter Vale, Lawrence Hamilton en Estelle Prinsloo om hul oorsig van dertien tradisies eerder die titel Intellectual Traditions in South Africa te gee. In sy slotopmerkings by die bundel essays wys Hamilton (342) ook op die leemte wat die bundel probeer vul: "to rectify a large lacunae in South African historiography: the fact that there has been so little intellectual history undertaken about South Africa". Vale benadruk die belang daarvan vir 'n volle begrip van Suid-Afrikaanse geskiedenis: "[O]nly by rethinking the ideas that made us can we reimagine our country" (Vale 5). Hierdie artikel deel die sentimente van die genoemde outeurs en wil 'n aantal denkbeelde onder bruin intelligentsia verder ondersoek. Hamilton (342-3) se verdere opmerkings oor 'n multi-dissiplinêre benadering tot intellektuele geskiedskrywing is van belang vir my werkswyse. In sy kritiese refleksie op die bundel wys hy op die oorwig aan individuele lewensgeskiedenisse asook sosiale en kulturele geskiedenis en te min analise van diskursiewe kontekste en geskille asook aan idees en denkbeelde wat deur uitleg en interpretasie van tekste en betoë ontbloot moet word.

Naas sy huldeblyk aan Richard van der Ross ('n opvoedkundige) gee Hein Willemse ('n letterkundige) die mees indringende oorsig oor die denke van die gematigdes. In verskeie artikels oor S. V. Petersen, Adam Small en P. J. Philander, onder andere, ondersoek hy die vorming van hierdie intelligentsia en die ontwikkeling van hul denke. Hy probeer naspeur hoe hul plattelandse Afrikaanse wortels 'n vormende invloed op hul denke oor identiteit, opvoeding, taal en gemeenskap uitgeoefen het. In sy huldeblyk aan Van der Ross bevind Willemse ("Van der Ross" 166) dat hy in wese 'n liberalis was, maar dat die eng Suid-Afrikaanse rasse-opset die moontlikheid van 'n universele identiteit uitgesluit het en Van der Ross genoop het om met die nosie van Kleurlingidentiteit om te gaan.

Soudien (7) sluit hierby aan wanneer hy opmerk dat Van der Ross in sy kritiek op die Kaapse Radikales hulle daarvan beskuldig dat hulle dweep met uitgediende Trotskiaanse ideologie en dat hulle gedryf word deur 'n afkeer in hul verraad teenoor hul Kleurlingidentiteit: "Van der Ross displays not just his animus towards the people he was writing about but also an implisit contempt for their betrayal of their 'coloured' identity" (7). Van der Ross het volgens hom ook nie waardering vir hul breër visie op bevryding van die globale stelsel van imperialisme nie.

Willemse se opmerking oor Van der Ross as liberalis is insiggewend vir my argument in hierdie artikel waarin ek liberale ondertone in Philander se werk aandui wat verdere perspektiewe op sy lewe en werk te berde bring. 'n Interessante toeval is dat die twee figure binne enkele dae van mekaar gebore is: Van der Ross op 17 November en Philander op 25 November 1921. Alhoewel hulle nie na aan mekaar was nie, het hulle mekaar vriendskaplik geken en professioneel was hulle lede van die gematigde onderwysersorganisasie TEPA. Beide was goed bevriend met S. V. Petersen en hulle al drie was toonaangewende figure in die kulturele en onderwysopset in die Kaapse Skiereiland in die sestigerjare. Ek wil die aanname maak dat die gematigde bruin intellektuele van hierdie tydvak min of meer ooreenstemmende denkbeelde gevorm het en dat hulle aangetrek is deur liberale waardes soos die regte en vryhede van die individu, die belangrikheid van opvoeding en kulturele verryking en die "oop gesprek" as middel om konflik op te los.

In sy N. P. van Wyk Louw-gedenklesing van 1986 haal Van der Ross (90) Louw aan met verwysing na die aantrekkingskrag wat liberalisme vir "nie-blanke" groepe inhou. Hy gee Louw gelyk ten opsigte van sy waarneming van 'n sekere tydvak (die vooroorlogse jare) maar dui op die toenemende radikalisering en wegdraai van liberalisme onder bruin intellektuele in die sestigerjare. Vir Van der Ross (94) is Louw se liberalisme ondergeskik aan sy taal- en kultuurgedrewe nasionalisme waarin Afrikaners en bruin mense saamgesnoer word, maar swart mense uitgesluit word. Hy bevind dat Louw liberaal was ten opsigte van sy houding teenoor Kleurlinge maar jeens swart mense moet daar anders geoordeel word. "Weens sy koppeling van volk, kultuur en taal, kom sy siening neer op apartheid", is kortom Van der Ross (95) se afleiding.

Die liberalisme in Suid-Afrika, soos ook elders in die wêreld, omvat uiteenlopende denkbeelde; dit wissel van sosiaal-demokrate tot konserwatiewes en alhoewel liberale idees wyd verspreid in die samelewing voorkom, kry hulle nooit genoegsame steun as 'n politieke groepering om 'n krag in die politieke arena te wees nie, aldus Friedman (31). Sy gevolgtrekking is dat "Clearly, the one form of liberalism does not necessarily imply the other" (31). In die plaaslike politiek blyk ras die toetssteen te wees wat teenstrydighede na vore bring. Friedman (36) voer aan dat "It would be misleading to exaggerate the differences between (the) forms of liberalism. There are significant commonalities [...] But liberalism is open to significantly divergent interpretations and different consequences flow from them [...] the centrality of race ensured that the dividing line between liberals was primarily their response to white racial domination". Die Kaapse liberale se ambivalente houding teenoor ras is deur nie-blanke groepe gesien as uitdrukking van 'n onderliggende kulturele meerderwaardigheid (Friedman 41). Dit kan ook verklaar waarom die Liberale Party en die Kaapse liberale nooit noemenswaardige aftrek onder bruin intelligentsia soos Philander en Van der Ross gekry het nie.

 

P. J. Philander se denkbeelde en politieke keuses

Oor Philander se denkbeelde en polities-gerigte keuses maak Willemse eweneens bevindinge wat strook met sy kommentaar oor Van der Ross. In sy artikel oor die digbundel Zimbabwe merk hy op dat Philander ten tyde van die skrywe van die epos kennis geneem het van die teenstrydige teorieë oor die ontstaan van die Zimbabwe-ruïnes maar besluit het op die Semitiese en antikwariese mite as intrige omdat dit sy uiteindelike tematiese bemoeienis gepas het, synde die opkoms en ondergang van 'n tegnologies-gevorderde samelewing wat deur sy eie beperkte waardesisteem gedoem was. Hiermee wou Philander kommentaar lewer op die apartheidsisteem wat eweneens deur dwalinge ten gronde sou gaan. Willemse ("Insularity" 141) argumenteer dat Philander met Zimbabwe wou heenwys na die mislukking van kolonialisme as gevolg van die koloniseerder se insulêre houding en onvermoë om by die Geskiedenis aan te pas en strategiese kompromieë aan te gaan. Philander wou hiermee waarsku teen die fundamentele ongelykheid van die koloniale stelsel en die noodsaak om die onafwendbare onderliggende konflik op te los.

Willemse lewer voorts kommentaar op Philander se polities-gerigte opstelling en keuses. Hy beskou Philander as 'n "political gradualist" wat die voordele en permanensie van kolonialisme besef, maar nog nie oortuig is van die gekoloniseerde se gereedheid om te regeer nie (142). Volgens hom is Philander 'n politieke gematigde in 'n omgewing wat ondubbelsinnige politieke keuses vereis en daarom kom hy oor as 'n weifelende intellektueel wat hom nie sover kan kry om die radikales se eis vir magsoorname en sabotasie te ondersteun nie. Terselfdertyd kan hy ook nie by die konserwatiewes se politieke gelatenheid inval nie, want dit sou hom afsluit en isoleer. Philander bevind hom dus in 'n onhoudbare posisie omdat aansluiting by die radikales aan die een kant en Afrikaners aan die ander kant nie 'n opsie was nie. Willemse se slotsom is: "In apartheid South Africa his intellectual and social, if not political, dilemma was that his linguistic kin repressed and separated him. He found political rejection and only limited cultural acceptance, mostly on the intellectual, dissident fringes of Afrikaner society" (143).

Met Willemse se analise en gevolgtrekkings is weinig fout te vind; dit val geredelik in by die beeld wat deur die radikales geteken is van gematigdes. In my analise van Rebunie en "'n Soetsuurlemoen" span ek egter die konsep van die liberalisme in om hierdie tekste te ontleed. Wat "'n Soetsuurlemoen" betref, gebruik ek bewustelik die term "memorie" wat Willemse aanwend in sy nawoord by die outobiografiese vertelling van sy ma, Catherine Willemse. In sy artikel, "Outobiografie en herinnering as verset in Adam Small se The Orange Earth" merk Willemse op: "om 'n lewensverhaal te vertel, is om erkenning aan daardie lewe te gee en so herinneringe van 'n bestaan te skep" (71). In 'n artikel met 'n verwante strekking verwys Willemse ("Identity, Place, Politics in the Auto/biographies of two South African Educators" 2) na die werk van Erszébet Barát en benadruk laasgenoemde se opmerking dat (outo)biografiese tekste diskursiewe handelinge is wat die verlede herkonstrueer ten einde begrip te kry van die self en ander en sodoende is die tekste 'n "'search for closure' or a process of plotting a meaningful trajectory out of and for one's life". Dit is inderdaad wat Philander in sy memorie en Rebunie probeer doen. Soos hieronder aangetoon word, gee Philander in die twee tekste dikwels konteks en motivering vir sekere besluite wat hy gemaak het en verklaar hy daarmee die beweegredes ten grondslag van sy intellektuele en persoonlike lewe.

 

Rebunie as liberale fiksie

Ek wil hier ietwat anachronisties te werk gaan deur die novelle te lees as verteenwoordigend van die vyftiger- en sestigerjare. Die verhaalgebeure speel weliswaar af in hierdie periode maar ook ten opsigte van styl en generiese konvensies sluit dit by hierdie periode aan. Alhoewel die novelle eers in 2000 gepubliseer is, toon dit trekke van die literatuur uit 'n ouer periode; dit is opmerklik dat die vyftigerjare in terme van periodisering deur literatore geëien word as die tydvak waarin Philander geplaas word. Willemse ("Oudmodiese vertelling wel histories belangrik" 17) merk insgelyks op dat die novelle "in terme van karakterisering, vertelstyl en vertelling oudmodies is en [...] sterk herinner aan ''n vervloë tydvak in die Afrikaanse letterkunde".

Indien 'n mens Kannemeyer se karakterisering van die prosa van die vyftigerjare as maatstaf neem, is dit opmerklik dat die Philander-tekste daarby inpas. Kannemeyer (35) tipeer die vyftigerjare as die era van die romanties-realistiese tradisie en die probleemroman waarin daar "'n vollediger voorstelling van die Afrikaanse maatskaplike werklikheid" en die verstedelikte Afrikaner voorkom en waarin die "nood van die bruin- en swartman aangrypender gestalte [.] vind". Dit is ook die begin van 'n swart Afrikaanse romantradisie met die werk van Arthur Fula en Eddie Domingo wat volg op S. V. Petersen se roman As die son ondergaan van 1945. Hierdie romans val in die Jim-comes-to-Joburg-tradisie met die tekening van 'n jongman wat aan die verleiding van die grootstad ten gronde gaan (kyk Willemse, Aan die ander kant: Swart Afrikaanse skrywers in die Afrikaanse letterkunde 126).

Ten opsigte van die lotgevalle van die karakter Kallie in Rebunie is daar raakpunte met Petersen, Fula en Domingo se karakters wat almal op 'n afwaartse spiraal van teenspoed is en óf aan geweld ten gronde gaan óf gered word deur ingryping buite hulself. Hierdie gegewe resoneer met die maatskaplike toestande in die bruin en swart gemeenskappe in die vyftigerjare waarin armoede, gebrek aan opvoedingsgeleenthede en beperkte opwaartse mobiliteit aan die orde was. Indiwidue was vasgevang tussen organiese, maar arm, statiese plattelandse gemeenskappe en lewenskragtige maar eweneens arm stedelike ruimtes.

Die tema van die indiwidu wat die armoedige omstandighede in 'n plattelandse omgewing wil ontkom deur beter opleidings- en werksgeleenthede in die stad te gaan soek, word ook in ander romans van die tyd aangeraak. Die ikoniese roman van hierdie era is ongetwyfeld Alan Paton se Cry the Beloved Country (1948) wat as die hoogtepunt van liberale fiksie in Suid-Afrika beskou word (Blair 12; Brown 108). Paton as eksponent van die liberalisme bied ook perspektiewe op Philander se intellektuele en politieke sentimente. Vergelyk Paton se bekende opgaaf van liberale waardes wat insiggewend is in die taksering van Philander: "a generosity of spirit, a tolerance of others, an attempt to comprehend otherness, a commitment to the rule of law, a high ideal of the worth and dignity of man, a repugnance for authoritarianism and a love of freedom" (Blair 3).

In Morphet (aangehaal in Blair 2) se tipering van drie tipes Engelse liberale skrywers is sy beskrywing van Paton as "backward looking Christian and traditional liberal, whose allegiance is to the rural and to religion" oorwegend meer van toepassing op Philander as wat sy beskrywing van Nadine Gordimer en J. M. Coetzee is. Philander is weliswaar baie minder Christelik en selfs godsdienstig uitgesproke maar liberale sentimente is onteenseglik aanwesig in sy skryfwerk. Vir sy eerste twee digbundels Uurglas en Vuurklip is hy geprys vir sy "trotse weergawe van die wel en weë van swart historiese persoonlikhede" (Gerwel 14) wat teen die onreg van koloniale stelsels veg en onwrikbaar staan by waardes soos vryheid, waardigheid en onafhanklikheid. Kyk ook Willemse ("Insularity" 133) se opmerkings oor die problematiek van beginselvaste indiwidu teenoor korrupte samelewing soos dit in Zimbabwe uitspeel.

'n Verdere raakvlak met liberale fiksie is Philander se voorliefde vir die nostalgiese en pastorale. Dit is reeds tekenend in die bekende beskrywend-liriese verse soos "Aand op Genadendal" en "Veldblomtuin by Caledon" waarin mooi landskaptekening geplaas word teen die onderliggende tema van verganklikheid en vervlietenheid. In die openingstonele van Rebunie het hierdie beskrywings ooreenkomste met die pastorale naturalisme soos blyk uit die ek-verteller se waarneming van die landskap wanneer die trein uit die stedelike omgewing vertrek op pad na die Noord-Kaap. Vergelyk die volgende beskrywing en die kwalik bedekte simboliek in die laaste sin.

Op die voorstede se winkel-, kantoor- en woonstelvensters flits die laat sonlig soos oogknippies verby tot by Bellville. Dan volg Kraaifontein se sinkplaatkrotte en daarna plaasarbeiders se hartbeeshuisies wat in die verte afsteek by graanboere se pronkhuise op spogplase tot by Kalabaskraal waar 'n krosie in die vooraand digby die spoorlyn hasie-aboel speel tot hulle moeder een roep. Dit lyk asof 'n stryery ontstaan en die volgende oomblik stamp die kleinste dogtertjie die gloeiende konka om. Toe haar toiings vlam vat, hardloop sy onder 'n plaat rooikransbome in, en na een gesamentlike noodkreet storm almal agter haar aan. Uit die huisie uit, haar ma ook. Die trein vertrek en laat 'n pikswart rouband oor die bruin buurt agter (8, my kursivering).

Nie net is dit 'n beskrywing van die landelike armoede van die jare vyftig nie, maar dit beskryf ook die uitsigloosheid en vasgevangenheid van die bruin werkersklas in dergelike omstandighede. In die novelle is dit veral Kallie wat nie onbewoë kan staan teenoor die armoede nie. Kyk byvoorbeeld na sy reaksie wanneer hy 'n huisie betree en die armoede sien: "Nog meer verslae sug Kallie en sê, 'Dan's dit dit wat ek geruik het? Hoe al ag stuks doodtevrede is om met wintervoete en al styf teen mekaar om die konka te sit, is 'n raaisel'" (85). Kallie se pogings om die nood te verlig, is egter gedoem en hy betaal die prys vir sy aksies om die toestande om te keer en die "ellende van Calvinia se buitewyke" (85) te verlig. Hierdie verhaalaspek korreleer met die kritiek teen liberale fiksie wat veral gemik was op die sentimentele tekening van 'n idilliese pastorale sfeer wat spruit uit ekonomiese naïwiteit oor die onderliggende kontradiksies van klasseuitbuiting (Chapman 231).

Ampie Coetzee (25) sluit hierby aan in sy tipering van die Afrikaanse literatuur van hierdie periode met die volgende opmerking: "Die meeste prosa van dié tyd is 'n voortsetting van die tradisie van die Afrikaanse prosa tot dusver: 'n refleksie van die realiteit sonder dat daar simboliese oplossings gebring kan word vir die groeiende kontradiksies in die maatskappy". Dit is literatuur waarin weinig vernuwing plaasvind en 'n kritiese bewustheid oor die sosiale onreg ontbreek.

Hierdie behoudende element belig 'n verdere kenmerk van die Suid-Afrikaanse liberale fiksie van die vyftigerjare, naamlik die tragiese element en die besef dat die indiwidu weerloos is teen die raspolitiek wat op 'n daaglikse basis uitspeel. Watson (31) verwys na Steiner se opmerking dat "Genuine tragedy is inseparable from the mystery of injustice, from the conviction that man is a precarious guest in the world where forces of unreason have dark governance". Philander het waarskynlik ook die magteloosheid om iets aan die stelsel te doen, ervaar en was eweneens vasgevang in die konvensies van liberale fiksie en die onvermoë daarvan om 'n kritiese blik op die samelewing te gee.

Kallie het vele goeie bedoelings: hy kritiseer die diskriminerende dooppraktyke van die Sendingkerk se Eerwaarde; hy skimp op die Susterbond wat leerders afrokkel sodat hulle eie getalle kan groei; hy behaal groot sukses met die groentetuin in die onvrugbare grond van die Hantam en voed sodoende die arm en honger gemeenskap; hy vertroetel 'n weggooi-hanslam wat later as pryswenner-ram opgeveil word; hy neem die swart weeskind Joseph aan en ondersteun hom sodat hy as onderwyser kan kwalifiseer. Ten spyte van hierdie edele optrede stuit hy teen die behoudende praktyke en vooroordele in die gemeenskap en haal die gramskap van magtige leiers op hom. Hierdie botsing het tot gevolg dat hy twee keer aangerand word en uiteindelik die dorp as liggaamlik-geskende verlaat.

Daar word implisiet 'n verband gelê tussen Kallie se uitdrywing en die betekenis van die bergnaam Rebunie. Rebunie is volgens oorlewering 'n sametrekking van "Ik roep je niet" ("Ek roep jou nie") met die konnotasie "Jy is nie welkom hier nie!" en word in die lot van Kallie verkonkretiseer (Hendricks en Van Wyk 60). Malan (2) wys daarop dat die vulkaankrater 'n vae metafoor word vir iets dreigends in die gemeenskap sowel as die "donker gat" waarin Kallie sou afdaal nadat hy wreed aangerand is. Resensente (Malan 2; Willemse, "Oudmodiese vertelling" 17) dui voorts op die parallel met die lotgevalle van Abraham Esau wat in 1901 met sy lewe geboet het toe hy hom tydens die Anglo-Boere-oorlog aan die kant van Engeland geskaar het en 'n bruin versetsbeweging teen die Boeremagte gelei het.

Die verteller laat geen twyfel dat die rasgebaseerde praktyke en vooroordele waarteen Kallie hom verset, 'n oormag is waarteen hy geen kans het nie: "Die doopstories gaan jou in die moeilikheid bring, Kallie" (85) asook "Wees versigtig. Soos enige gemeenskap is Calvinia s'n ook vol voos plekke. Sekere huise moet jy vermy" (87). Dit is die houding en uitsprake van die ek-verteller in hierdie novelle wat vervolgens ondersoek word vir meer insigte in die posisie van die liberaal.

In die spil van die gebeure is naas Kallie, ook die ek-verteller en fokalistor Piet. Dis wanneer mens noukeurig na Piet se vertelling en fokalisasie kyk dat afleidings gemaak kan word oor Philander se intellektuele disposisie wat oor jare eintlik onveranderd gebly het.

Die vertelling gee die geleefde ervaring (lived experience) van iemand wat die koue en wrede aangesig van apartheid eerstehands ervaar en rapporteer. Willemse ("Die memorie van Cathy Willemse (1925/6-2005), 'n nawoord" 120) verwys na sy moeder se memorie as "'n verhaal van besitname van 'n geskiedenis soos die verteller dit 'ervaar' het". Soudien (55) se rigtende vrae in sy ondersoek na die Kaapse Radikales het relevansie hier: "There was some powerful learning to be had in the lived examples of these interlocutors. How did their experiences of both having to think and live through social difference impact on the choices and decisions they made? How did they begin to explain themselves in their own lived space?". Insgelyks is ek hier geïnteresseerd in hoe Philander en sy geesgenote apartheid beleef het en hoe dit neerslag vind in sy meer persoonlike besinning daaroor.

Die vertelling begin reeds met 'n aantal insidente wat as 'klein apartheid' (petty apartheid) getipeer kan word. Die eerstepersoonsverteller Piet begin die vertelling met 'n relaas van sy vertrek uit Kaapstadstasie om 'n termyn as skoolhoof op Calvinia te begin. Saam met hom op die treinreis is sy nuutaangestelde assistent Kallie Carelse, 'n joviale, vurige jongman met deernis vir die armes en beginselvaste verset teen ongeregtigheid wat spruit uit sy politieke oortuigings wat hy onder invloed van die TLSA gekry het. Die verteller beskryf die rasseskeiding op die trein met 'n feitelike, afstandelike blik soos blyk uit die beskrywing van die blatante voorregte wat die wit passasiers het. "Vir wit passasiers is alle geriewe byderhand op die goed verligte perron: koffiekamer, koerantstalletjie, tabakkiosk, publieke telefoon, ruskamer" (10). Daarteenoor moet die nie-blanke passasiers in die donker sien kom klaar. Die verteller Piet neem 'n gelate houding in wanneer sy vriend Joe en die kondukteur Skipper uitvaar teen die erge diskriminasie en blatante onregverdigheid van apartheid en maak enkele sardoniese opmerkings: "Weer wit man se vuil politiek?" en "Vanselfsprekend 'n wit ploegbaas vir elke werkspan. Daarvoor is Poor White natuurlik in sy skik" (10).

Tussendeur is daar ook verwysings na die klein politiek van kerke en die gevaar dat die Nasionaliste die Kleurlinge se verwerping in die 1948-verkiesing op hulle gaan uithaal. Dis wanneer hulle oorstap op Klawer vir die tweede deel van die reis en die nie-blankes in 'n sleepwa vir diere ingeprop word, dat wrewel na vore kom. Wanneer sy reismaat nog voor die aanvang van die tog drie keer erge vernedering moet verduur, is dit vir Piet moeilik om te verwerk en kan hy kwalik sy misnoë onderdruk. In die eerste brief wat hy aan Alice skryf nadat hy op Calvinia aangekom het, verwys Piet na die vernedering van die tog op die sleepwa en meld dit as 'n rede om te emigreer: "Liefste, die skoen begin druk. Ons moet padgee uit hierdie ou landjie uit. Ek sal jou vertel van my eerste, en ek sweer, my allerlaaste reis van Klawer af op 'n sleepwa. Ek moenie oupa Daantjie napraat nie, maar dis waar wat hy sê, 'This country is going to the dogs'" (39).

Die oorwegend flegmatiese en gematigde Piet se enigsins fel reaksie wanneer die TLSA ter sprake kom, is opmerklik in die novelle en sluit aan by die beskrywing wat hierbo gegee is van die politieke landskap. Tekenend van die gematigdes se houding is sy skerp afwysende kommentaar op die TLSA se daadloosheid en geveindsheid. Oor hul onvermoë om die skrynende uitbuiting van plaaswerkers op te neem, merk hy op: "Ook met hulle peuter TLSA nie. TLSA is besig met bekpraatjies oor sogenaamde grootser sake" (15). Piet maak 'n punt daarvan om Kallie se voetvallery voor die blanke karakters Eerwaarde en Baas Koenie uit te wys en by implikasie die gebruik van die aanspreekvorm baas as tekenend van die linkses se valse, agteraf maniere te skets. Die verteller Piet assosieer hier met die negatiewe sentimente jeens die TLSA-groepering soos deur Van der Ross in sy outobiografie verwoord word en waarna hierbo in die inleiding verwys word. In die novelle vind Philander dus aansluiting by liberale opvattings by monde van die verteller Piet asook deur gebruik te maak van die konvensies van liberale fiksie én hy toon simpatie met die gematigdes se sentimente jeens ander groeperinge.

 

Die memorie "'n Soetsuurlemoen"

Betreklik min word in Philander se memorie "'n Soetsuurlemoen" oor die politiek van die dag en sy eie sentimente gesê. 'n Tema wat aansluit by Rebunie is die kerkpolitiek. Die spanning waaronder hy sy termyn as skoolhoof op Calvinia begin weens die ongelukkigheid wat die gemeenskap en spesifiek die Esau-familie gevoel het oor die proses met sy aanstelling, word vertel, so-ook die vyandigheid wat hy op Malmesbury kry van die NG-predikant omdat hy gedurf het om onafhanklik op te tree en die patroniserende Blanke hulp te weier.

Dit is onduidelik hoe lank Philander aan die memorie gewerk het en of dit bestem was vir publikasie. Dit is oorwegend anekdoties en word aangebied as skyfies van 'n soetsuurlemoen wat die soet en suur momente van Philander en in mindere mate sy gesin se verblyf op Caledon, Calvinia, Malmesbury, Kaapstad en New York dek. Die slotafdeling wat handel oor die vertrek na die Verenigde State van Amerika (VSA) begin met 'n kwatryn waarin die titel verklaar word:

Na 'n bietjie nektar hier en 'n bietjie daar

kom ek met suur- en soetigheidjies opgegaar

as wapens teen die galbitterste aalwyn

tot stilstand tussen die Sonora en Mojave woestyn.

Die memorie is oorwegend nostalgies en romanties en kom voor as 'n argief van gebruike en praktyke, 'n tekening van 'n vervloë landskap van veldblomme, geregte en ouwêreldse mense in 'n tyd van oorgang. 'n Voorliefde vir opstapeling en oorvloedige adjektiewe is kenmerkend van die styl in hierdie skryfstuk wat die indruk laat dat dit ook uit die vyftigerjare dateer. Alhoewel dit sketsmatig is, gee dit saam met Rebunie insigte in Philander se denke op gegewe periodes.

In die vyfde skyfie (afdeling) verwys Philander direk na die redes vir sy emigrasie na die VSA. Dit het onder andere te make met die implimentering van die Groepsgebiedewet en die herproklamering van Rondebosch tot Blanke woonbuurt wat tot gevolg sou hê dat hulle huis aan Blankes verkoop moes word en hulle 'n ander heenkome moes vind. Hy meld ook hulle ontnugtering om met die barsheid van Apartheid gekonfronteer te word na 'n uiters bevredigende besoek aan die VSA op uitnodiging van die USSALEP (United States South African Leadership Exchange Program).

Die opmars wat Philip Kgosana op 30 Maart 1960 na die parlement gelei het om te protesteer teen die Apartheidswette en daaropvolgend die verraad en brutale optrede van die polisiemagte wat die swart inwoners van Gugulethu en Langa vir weke in hongersnood ingeperk het, word beskryf. Philander beskryf die uitwerking van hierdie gebeure op hulle persoonlike lewens soos volg:

Eers na veertien dae het die swart man wat gewoonlik ons melk aflewer, opgedaag. Ek het van die ontbyttafel af opgestaan en hom teruggeroep na hy ons melkbottels neergesit het. Hy was al by die voorhekkie, maar het nader gekom tot op die voorstoep. Hy't aanhou oor sy maag bly vrywe en gesê dis asof 'n dier hom van binne af opvreet. Altjie het vir hom toebroodjies stoep toe gebring. Hy't dit soos 'n honger hond verorber. (22)

'n Voorval wat deurslaggewend was in Philander se besluit om te emigreer, is die tragiese omstandighede rondom die dood van Josef (Seffie) Human. Philander het Human leer ken terwyl hulle saam onderwys gegee het op Genadendal. Daar het hulle goeie vriende geword en hulle paaie het by meer as een geleentheid gekruis. In sy memorie skryf hy die volgende:

'n Tragiese voorval wat vir my besluit die deurslag gegee het om te emigreer, was die dood van Seffie, een van my getrouste vriende. Na jare van diens as hoofassistent van my in Malmesbury, later by die Hoërskool Belgravia in Kaapstad en ten slotte hoof van 'n Sekondêre skool in Bridgetown was hy skuldig bevind aan 'n geringe oortreding. Hy was opgesluit saam met 'n klomp deugniete en is deur hulle aangerand in die sel. Die volgende oggend toe hy onder borgtog sou vrygelaat word, was hy deur 'n staatsdokter hospitaal toe gestuur vir behandeling weens dodelike beserings.

Human se dood het die voorblaaie van die Kaapse dagblaaie gehaal. Onder die opskrif "Died after night in cell-police inquiry" berig die Cape Times op 3 Junie 1966 dat Human in 'n ongeluk met 'n vragmotor was en op die toneel gearresteer is op 'n klag van dronkbestuur. Hy is in die Athlone polisieselle aangehou en het reeds by sy aankoms gekla van maagpyn. Die volgende oggend het hy gesê dat hy oornag aangerand is deur 'n medegevangene. Nadat hy op borgtog vrygelaat is, het familielede hom na 'n hospitaal geneem waar 'n noodoperasie uitgevoer is. Hy het egter daarna beswyk.

Dit blyk dat die omstandighede rondom sy aanhouding en dood geheimsinnig is. Human het beswyk aan 'n geskeurde milt wat in daardie tye toe daar nog nie skanderingtoestelle vrylik beskikbaar was nie, moeilik was om te diagnoseer, aldus Philander se seun Peter, 'n afgetrede mediese praktisyn wat tans in Las Vegas woon (Philander en Van Wyk). Van die polisieondersoek het niks gekom nie; daar is aangevoer dat sy beserings vermoedelik deur die ongeluk veroorsaak is.

Hierdie voorval moes Philander geraak het, te meer omdat dit geskied in die week dat die Amerikaanse senator Robert Kennedy Kaapstad besoek op uitnodiging van die liberale studenteunie NUSAS (National Union of South African Students) en 'n heldeontvangs kry tydens 'n toespraak by die Universiteit van Kaapstad-'n klipgooi van die Philander-huis en waar sy twee jonger seuns aan die mediese fakulteit studeer het. Kennedy het op 6 Junie 1966 in sy sogenaamde "Day of Affirmation Address" met die titel "A Ripple of Hope" 'n ferm bevestiging van liberale waardes gegee:

This is a Day of Affirmation-a celebration of liberty. We stand here in the name of freedom. At the heart of that western freedom and democracy is the belief that the individual man, the child of God, is the touchstone of value, and all society, all groups, and states, exist for that person's benefit. Therefore the enlargement of liberty for individual human beings must be the supreme goal and the abiding practice of any western society.

Hierdie toespraak word algemeen beskryf as een van Kennedy se bestes en een van die uitstaande toesprake van die 20ste eeu. Hy het hom spesifiek tot jongmense gerig en hulle aangemoedig om beheer te neem oor die toekoms van die land en uitgediende dogmas uit te daag met verbeelding, wilskrag en avontuurlustigheid ("15 000 acclaim call to youth").

In dieselfde week berei Philander hom voor vir 'n huldeblyk by die begrafnis van Human, sy getroue vriend wat soos hy op 'n relatief jong ouderdom van veertig jaar reeds van die hoogste sporte in sy professionele lewe bereik het. Hy skryf daaroor die volgende:

Ek en Altjie het sy begrafnis bygewoon op Genadendal. Die kerkorrel het met elke gesang ons stemme laat saam bewe. In my paar woorde as deel van die diens het ek onder andere vertel van 'n mooi oomblik toe ek en hy een laatmiddag in die kloof op is en by die oerbron van die Baviaansrivier gerus het na 'n lang stap agter die nerinas aan. Ek het 'n klippie in die water gegooi en opvallend het hy op daardie tydstip een van sy geliefde verse van Opperman aangehaal: "Dit kring om jou, dit kring om my / en kringend gaan om jou en my / die tyd verby, die tyd verby" ("Soetsuurlemoen" 22-3).

Dit is opmerklik dat Philander die polities-gelade konteks van die tragiese gebeure onderspeel. In sy vertelling gee hy die insident 'n universele, onafwendbare dimensie. Hy vind sy vertroosting in estetisering deur die vers van Opperman aan te haal. Coetzee (29) se opmerkings oor Opperman se "estetisering" en "dehistorisering" van die spanninge en kontradiksies van sy tyd, is in hierdie verband stof tot nadenke.

Die faling van liberale denke en politieke partye om die erosie van bruinmense se politieke regte te voorkom asook die instelling van harde apartheidswette was 'n aanduiding vir Philander en baie van sy tyd- en geesgenote dat daar vir hulle nie meer 'n tuiste in Suid-Afrika was nie en daarom vind mens in hierdie periode die vlaag van emigrasie na Noord-Amerika en Brittanje. February (83) haal Es'kia Mphalele aan om skerp kritiek op die liberale te verwoord: "To the African, a liberal in the South African context meant [... ] 'a white man who believes in redressing political wrongs by constitutional means ... [who] accommodates himself to the legislative machinery in the hope that he can use the concession by which he came to occupy a certain position inside the machinery to persuade the oppressor to change heart'".

In Januarie 1961 het Philander en Alice na die VSA gereis op uitnodiging van die USSALEP en onder andere besoeke afgelê in Tucson, Pasadena, Chapel Hill, St Paul en New York. In sy verslag ("Report on Tour of the United States" 1) bedank hy hul gashere vir die gulhartige ontvangs en gasvrye verblyf aan huis. Hy verwys na "the Christian fellowship (and the) spirit of conviviality, goodwill and moral rectitude (where we) always felt happy and honored."

Philander se bewondering vir die Amerikaanse onderwysstelsel blyk duidelik uit die volgende aanhaling uit sy verslag: "The Amercan philosophy of life is nobly reflected in its approach to education. Theirs is that of an unshackled and fear-free mind rooted in exploring all talent. The hallmark of it all is a reciprocal responsibility of the student and the state which envisages a comprehensive education for every educable child regardless of race, colour or creed" ("Report" 3).

Hierdie liberale waardes en die hoë gehalte onderwys wat hy kon meemaak, was waarskynlik die aanleiding tot Philander se besluit om voelers uit te steek oor die moontlikheid om na die VSA te emigreer en sy onderwysloopbaan aldaar voort te sit. Wat dit vir hom maklik gemaak het was sy begeerte om van die apartheidswette weg te kom en om as ouerpaar met hulle seuns te herenig.

George het reeds nagraads met 'n Fulbright-beurs aan Harvard Universiteit studeer en Dennis was besig met sy residensie in Minneapolis. Peter was in sy vyfde jaar as mediese student aan die Universiteit van Kaapstad. Philander het geskroom om die bande met sy geboorteland en sy moedertaal te verbreek en die hunkering na Afrikaans sou hom tot sy einde bybly. In September 1969 emigreer hulle wel en vestig hulle in Locust Valley, Long Island in die staat New York.

 

Slot

In hierdie artikel het ek die intellektuele geskiedenis van bruin Afrikaanse intelligentsia van die vyftiger- en sestigerjare van die vorige eeu ondersoek. 'n Vertrekpunt was dat daar 'n skeidslyn getref word tussen gematigdes en radikale. Die gematigdes word dikwels uitgebeeld as opportuniste en meelopers van die apartheidsregering, terwyl die radikales as daadloos en geveinsd voorgestel word. In my oorsig van Willemse se studies wat die mees uitgebreide navorsing oor bruin Afrikaanse intelligentsia van plattelandse oorsprong is, het ek veral gefokus op die studies oor Richard van der Ross en P. J. Philander. Willemse bevind dat die twee figure gematigd is en gestadigde politieke hervorming voorstaan. Hulle het dus dikwels die genoemde verwyte en beskuldigings te beurt geval.

Ek het aangevoer dat daar verder gekyk moet word as die genoemde opposisie tussen gematigdes en radikale en dat liberalisme 'n verdere perspektief bied. Vervolgens het ek twee werke van Philander, 'n gefiksionaliseerde outobiografie en 'n memorie, nader bestudeer en ondertone van 'n liberale ingesteldheid in sy persoonlike en kreatiewe lewe ondersoek. 'n Verdere aspek van my argument was om die neerslag van die konvensies van liberale fiksie in die novelle uit te wys. Aan die hand daarvan het ek bevind dat Philander op gegewe tye liberale waardes geleef en geuiter het, maar dat selfs dit hom nie van die harde uitwerking van apartheid kon vrywaar nie en dat hy gevolglik op emigrasie besluit het en sodoende sy geliefde land en taal moes agterlaat.

 

Geraadpleegde bronne

"15 000 acclaim call to youth." Cape Times, 7 Jun. 1966, p. 1.         [ Links ]

Blair, Peter. "The liberal tradition in fiction." The Cambridge History of South African Literature, edited by David Attwell & Derek Attridge. Cambridge U P, 2012. http://hdl.handle.net/10034/624368.         [ Links ]

Brown, Duncan. "'That man Patton': The Personal History of a Book." Current Writing: Text and Reception in Southern Africa vol. 31, no. 2, pp. 107-15. DOI: https://doi.org/10.1080/1013929X.2019.1618088.         [ Links ]

Chapman, Michael. Southern African Literatures. Longman, 1996.         [ Links ]

Coetzee, Ampie. Letterkunde & Krisis. 'n Honderd jaar Afrikaanse letterkunde en Afrikaner- nasionalisme. Taurus, 1990.         [ Links ]

"Died after night in cells-police inquiry." Cape Times, 3 Jun. 1966, p. 5.         [ Links ]

February, Vernie A. Mind Your Colour. The "Coloured" Stereotype in South African Literature. Kegan Paul, 1991.         [ Links ]

Friedman, Steven. "The Ambiguous Legacy of Liberalism. Less a Theory of Society, More a State of Mind?" Intellectual Traditions in South Africa, geredigeer deur Peter Vale, Lawrence Hamilton & Estelle H. Prinsloo. U of Kwazulu-Natal P, 2014, pp. 29-50.         [ Links ]

Gerwel, G. J. "Van Petersen tot die hede-'n kritiese bestekopname." Swart Afrikaanse Skrywers. Verslag van 'n simposium gehou by die Universiteit van Wes-Kaapland, Bellville op 26-27 April 1985, geredigeer deur Julian F. Smith, Alwyn van Gensen & Hein Willemse. U Wes-Kaapland, pp. 9-20.         [ Links ]

Giliomee, Hermann. Nog Altyd Hier Gewees. Die storie van 'n Stellenbosse Gemeenskap. Tafelberg, 2007.         [ Links ]

Hamilton, Lawrence. "Conclusion: The Power of the Past. The Future of Intellectual History in South Africa." Intellectual Traditions in South Africa, geredigeer deur Peter Vale, Lawrence Hamilton & Estelle H. Prinsloo. U of Kwazulu-Natal Press, 2014, pp. 333-48.         [ Links ]

Hattingh, J. L. "Geskiedskrywing deur Bruines." Kronos: Southern African Histories vol. 13, 1988, pp. 41-56. https://www.jstor.org/stable/41056250.         [ Links ]

Hendricks, Frank & Steward van Wyk. Dilemma van die swart intellektueel. De Kat, Aug. 2000, p. 60.         [ Links ]

Kannemeyer, J. C. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 2. Academica, 1982.         [ Links ]

Malan, Lucas. "'n Soms onthutsende blik op geskiedenis van magsmisbruik." Rapport, 12 Nov. 2000, p. 2.         [ Links ]

Philander, P. J. Rebunie. Human & Rousseau, 2000.         [ Links ]

__________________. "Report on Tour of the United States." USSALEP-dokumentasie. Historical Papers Research Archive, U Witwatersrand, 1961.         [ Links ]

__________________. 'n Soetsuurlemoen. 2021. https://www.litnet.co.za/n-soetsuurlemoen-n-mem-oir-deur-pj-philander.         [ Links ]

Philander, Peter & Steward van Wyk. E-pos-korrespondensie. 5 Okt. 2021.         [ Links ]

"Robert Kennedy, American politician, speaks at the University of Cape Town about the racial inequality of apartheid." South African History Online. https://www.sahistory.org.za/dated-event/robert-kennedy-american-politician-speaks-university-cape-town-about-racial-inequality.         [ Links ]

Soudien, Crain. The Cape Radicals. Intellectual and Political Thought of the New Era Fellowship, 193os-196os. Wits U P, 2019.         [ Links ]

Vale, Peter. "Introduction: Of Ships, Bedraggled Crews and the Miscegenation of Ideas. Interpreting Intellectual Traditions in South Africa." Intellectual Traditions in South Africa, geredigeer deur Peter Vale, Lawrence Hamilton & Estelle H. Prinsloo. U of Kwazulu-Natal Press, 2014, pp. 1-25.         [ Links ]

Van der Ross, R. E. "Onvoldoende liberalisme." Die oop gesprek: N. P. van Wyk Louw-gedenklesings, geredigeer deur Willie Burger. Lapa, 2006, pp. 79-98.         [ Links ]

Watson, Stephen. "Cry the beloved country and the failure of Liberal Vision." English in Africa vol 9, no. 1, 1982, pp. 29-44.         [ Links ]

Willemse, Hein. Aan die ander kant: Swart Afrikaanse skrywers in die Afrikaanse letterkunde. Protea, 2007.         [ Links ]

__________________. "Die memorie van Cathy Willemse (1925/6-2005), 'n nawoord." Met 'n diepe verlange, Catherine Willemse. Human & Rousseau, 2006.         [ Links ]

__________________. "Identity, Place, Politics in the Auto/biographies of two South African Educators." Life Writing vol. 11, no. 2, 2014, pp. 231-46. DOI: https://doi.org/10.1080/14484528.2014.888607.         [ Links ]

__________________. "Insularity and Ambivalence. The case of the South African Poet P. J. Philander's Epic Poem, Zimbabwe." Research in African Literatures vol. 39, no.i, 2008, pp. 125-48. http://www.jstor.org/stable/20109563.         [ Links ]

__________________. "Oudmodiese vertelling wel histories belangrik." Die Burger, 4 Okt. 2000, p. 17.         [ Links ]

__________________. "Outobiografie en herinnering as verset in Adam Small se The Orange Earth." Tydskrif vir Letterkunde vol. 49, no. 1, 2012, pp. 70-81. DOI: https://doi.org/10.4314/tvl.v49i1.6.         [ Links ]

__________________. "R. E. van der Ross (1921-2017)." Tydskrif vir Letterkunde vol. 55, no. 1, 2018, pp. 166-9. DOI: https://doi.org/10.17159/2309-9070/tvl.v.55i1.4620.         [ Links ]

 

 

Submitted: 6 October 2021
Accepted: 14 April 2022
Published online: 18 September 2022

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License