SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.59 issue3 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.59 n.3 Pretoria  2022

http://dx.doi.org/10.17159/tl.v59i3.14319 

ESSAY

 

Die teks as 'n etiese aanspraak

The text as an ethical claim

 

Willie Burger

Hoof van die Departement Afrikaans, Fakulteit Geesteswetenskappe aan die Universiteit van Pretoria, Pretoria, Suid-Afrika. Hy is 'n bekroonde navorser en boekresensent. E-pos: willie.burger@up.ac.za

 

 

1.

'n Voormalige kollega van Hein Willemse en my in die Departement Afrikaans by UP, Annette Jordaan, wou eendag baie ernstig by Hein weet wat van die "liefhebbende leser" word in hierdie tyd waarin benaderings wat spruit uit die Kritiese Teorie oorheersend aan universiteite geword het. Hein het lekker gelag daaroor, soos hy ook op 'n keer halfspottend gereageer het op my opmerking in die teekamer, dat ek 'n bepaalde boek "mooi" gevind het.

Om boeke vir die lekker te lees, vir die liefde van lees, kan studente op hul eie gaan doen, of mense kan in leeskringe met mekaar daaroor gesels, was min of meer Hein se mening. Aan die universiteit bedryf ons nie 'n liefhebbery nie, het hy verduidelik, ons lees nie vir die lekker nie, ons is besig met die akademiese ondersoek van literatuur.

Die akademiese ondersoek van literatuur behels vir Hein veral die kritiese ondersoek van die magsverhoudings wat in literatuur en die bestudering van literatuur waargeneem kan word. Literêre werke moet in konteks gelees word; in die konteks van die omstandighede wat hulle verskyning moontlik maak, wat hulle resepsie bepaal en wat aan hulle spesifieke posisies in die literatuurgeskiedenis besorg. Willemse lees literêre tekste immers op die spoor van Fredric Jameson op "simptomatiese" manier. Simptomatiese lesings, volgens Jameson, behels 'n vooronderstelling dat tekste mistifiseer of onderdruk en is daarom op soek na 'n verborge betekenis agter die voor-diehand-liggende betekenis: "Interpretation proper [...] always presupposes [...] at least some mechanism of mystification or repression in terms of which it would make sense to seek a latent meaning behind a manifest one and rewrite the surface categories of a text in the stronger language of a more fundamental interpretative code" (45). Die doel van só benadering is om die "politieke onbewuste" van die teks bloot te lê.

In hierdie opsig is Willemse dus 'n volgeling van die "meesters van agterdog", Freud en Marx, wat hulle bemoei met die simptome, die oppervlak, die oënskynlike, met die doel om soos 'n goeie speurder raak te sien wat hieragter lê.1 Hierdie kritiese benadering verg 'n individu wat literêre- en kulturele tekste (kunswerke, populêre kultuur, akademiese navorsing, kulturele gebeurtenisse, verskillende sosiale praktyke) agterdogtig benader en sistematies aandui hoedat daar 'n kontras bestaan tussen wat hierdie verskynsels (wetend of onwetend) voorgee om te wees en wat hulle werklik is. Willemse dui telkens in sy navorsing aan hoedat praktyke soos normering van Afrikaans as taal, die geskiedenis van Afrikaanse literatuur en gepaardgaande kanoniseringsprosesse, asook die Afrikaanse literatuurkritiek slegs oënskynlik "normale" praktyke is, en hoedat hulle eintlik in diens staan van bepaalde magsverhoudings, met name die ondersteuning van Afrikaner-nasionalisme en van 'n wit middelklas.2 Hy wys voortdurend normalisering en alle vorme van hegemonie af en veroordeel die fetishering van die kunswerk. Sodoende sluit Willemse aan by die paradigma van literatuurstudie wat wêreldwyd in taaldepartemente teen die einde van die vorige eeu oorheersend geword het (soos onder meer Rita Felski aandui in The Limits of Critique) en het hy ook 'n bydrae gelewer om die studie van die Afrikaanse literatuur te bevry van die houvas van die teksinterne kritiek wat tot in die 1980's (en daarna) oorheersend in Departemente Afrikaans was.

Annette Jordaan se kommer oor die "liefhebbende leser" het onder meer uit hierdie kwynende aandag aan teksinterne kritiek ontstaan, want sy het aangevoel dat die agterdogtige lees van tekste nie ruimte laat vir lesers wat lief is vir boeke nie, dat daar nie meer plek vir lesers se individuele reaksie op literêre tekste is nie. Hierdie kommer word ook op 'n ander manier gedeel deur teoretici soos Hans Ulrich Gumbrecht wat pleit vir die "teenwoordigheid" van die teks, Best en Marcus wat "surface reading" voorstel en Toril Moi wat die onderskeid tussen oppervlak en "diepte" ontken.

Aanvanklik wou ek in hierdie essay aandui hoedat Willemse in sy loopbaan deurlopend normalisering, hegemonie en fetishering afwys met veral klem op die wyse waarop hy dit doen ten opsigte van literatuurgeskiedenis en literatuurkritiek. My skryfwerk wou nie vlot nie want ek kon dit nie regkry om uitsluitlik op Willemse se werk te fokus nie. Met die lees van elke artikel of boek hoor ek al hoe meer sy stem, hoor ek hom praat. Ek het besef dat die twaalf jaar wat ek saam met Hein in 'n departement gewerk het, 'n groter invloed op my gehad het as sy werk wat ek lees; dat sy teenwoordigheid in die gang, in die seminaarkamer, in vergaderings en in die teekamer, 'n teenwoordigheid in my denke geword het wat my meer as wat enigiets wat hy geskryf het, beïnvloed het.

Hierdie teenwoordigheid van die outeur se stem wanneer mens sy werk lees, is 'n probleem wanneer jy 'n artikel vir 'n akademiese tydskrif wil skryf. Die taboe op die mens agter die boek het ons immers reeds van die New Critics se kant af gekry-veral van Whimsatt en Beardsley se afwysing van die "intentional fallacy". Andersyds het die poststrukturalisme ook later outeursintensie afgewys en die subjek, die outeur, met die taal self vervang en die outeur dood verklaar. Telkens het die stem van die outeur, van die mens agter die boek, in my gedagtes bly klink terwyl ek Hein se werk lees. En die stem wat ek hoor het my laat voel dat die woorde in die tekste wat ek lees nie laat reg geskied aan wat Hein sê en leef en uitstraal in sy persoonlike teenwoordigheid nie.

Hoewel ek oor Willemse se werk wou skryf, het die manier waarop hy agteroor kan leun in sy stoel, sodat dit byna lyk asof hy langs sy neus op jou neerkyk, telkens ingemeng. Ek kan nie anders nie as om sy rustige, afgemete manier van praat te hoor wanneer ek sy boeke en artikels lees. Die probleem is egter dat dit nie bly by die hoor van die woorde van die boek of artikel in sy stem nie, maar dat ek veel meer hoor as wat daar geskryf staan. Hein se stem is soveel sterker, sê soveel meer as wat ek in sy werk lees.

Die bewustheid van sy stem herinner aan die teoretiese debat oor die primêre aard van skrif, aan Derrida se omkeer van die bevoorregting van spraak bo skrif, aan die Westerse voorkeur vir die sigbare woord bo die hoorbare woord. Adriano Cavarero redeneer in For More than One Voice: Towards a Philosophy of Vocal Expression (2005) dat spraak in die Westerse denke "ge-devokaliseer" is: spraak word losgemaak van die spreker en geabstraheer tot die klanklose dimensie van denke. Dit plaas die woord in 'n domein waar dit nie meer uit 'n keel van vlees kom nie. In die Westerse denke (ten minste sedert Kant en Descartes) "praat" denke nie en die abstrakte denke, losgemaak van stem, kry voorkeur. Losgemaak van die stem, redeneer Cavarero word die indruk geskep dat denke toegang het tot "die waarheid"-'n enkele waarheid. Denke verkies 'n enkele waarheid en probeer om andersheid te bowe te kom. Stem, hierteenoor, is nie abstrak nie maar altyd reeds liggaamlik, dra spore van beliggaming. Cavarero redeneer (soos Mladen Dolar in Voice and Nothing More) dat aandag aan die stem die singulariteit van beliggaamde bestaan erken, terwyl denke wat losgemaak word van die stem, 'n abstraksie word. Stem bevestig implisiet 'n menslike verhouding (13). Praat is vir Cavarero altyd 'n handeling in die wêreld wat tot onvoorsiene gevolge lei. Die denke word te geredelik beskou as vas, as waar. Spraak is onvoorwaardelik relasioneel. Spraak maak ook 'n aanspraak dat 'n mens moet luister en reageer. Ek besef dat hierdie debat veel komplekser is en dat mens ook oor geskrewe tekste dieselfde argument kan voer-dat dit 'n aanspraak op die leser maak en reaksie vra, maar met die lees van Hein se werk het iets van hierdie ervaring van stem my opgeval-dat sy geskrewe werk nie heeltemal sy manier van dink en handel weerspieël nie, omdat sy stem nie volkome deur die geskrewe teks weergegee word nie. Hoewel ek nie heeltemal met Cavarero se argument saamstem nie, is dit tog waar dat die geskrewe woord iets kan inhou van 'n vasgelegdheid, dat skrif self 'n vorm van normalisering en bevestiging is, terwyl die gesprek die denke oper hou. Die gesprek laat meer ruimte vir vrae, vir 'n ander formulering, vir nog 'n stem. Die gesprek kan eintlik meer tentatief as die geskrewe woord wees wanneeer die gesprek op Hein se manier gevoer word.

Een van die redes waarom gesprek met Hein so 'n diep impak maak, is omdat hy nie monoloë voer nie, omdat hy nie deklameer nie, nie in doseermodus verval soos so baie ander akademici nie. Hein se vermyding van die doseermodus het dikwels tot groot frustrasie onder sy studente gelei en jaarliks het ek met rye studente voor my deur te kampe gehad wat kom kla het oor prof. Willemse se klasse. Hulle weet nie wat aangaan nie want hy gee nie inligting nie, hy gee artikels wat hulle moet lees en dan moet húlle vrae daaroor klas toe bring. En jaarliks, ná al die bohaai en trane, is daar altyd die studente wat aan die einde van Hein se kursus erken dat hulle meer geleer het in daardie module as in enige ander.

Hein se vrae is egter nie bloot agterdogtig en ondermynend nie. Dikwels is dit ook aanmoedigend, vrae wat jou aanspoor om 'n idee verder op te volg, om jou vasgeloopte gedagtes in 'n ander rigting te stuur. Eendag skryf Hein vir my in 'n e-pos nadat ek 'n keurverslag oor 'n artikel wat vir publikasie voorgelê is aan hom teruggestuur het: "Hierdie keurverslag is te goed om tussen keurder en redakteur te bly." En toe moedig hy my aan om die verslag uit te brei en 'n artikel daaruit te maak.

Omdat Hein eerstens 'n luisteraar is, is hy ook voortdurend oop vir verandering, vir nuwe idees. Selfs wanneer ek weet hy verskil radikaal van wat ek skryf of sê, konfronteer hy my nie met 'n ander siening nie, tree nie toe tot die gesprek met 'n pasklaar, beter idee nie. Hy vra eerder 'n paar vrae oor my idee, vind meer uit waar ek vandaan kom en waarheen ek mik hiermee.

In die akademiese milieu is goeie luisteraars dun gesaai. Miskien het dit te doen daarmee dat dosente té gewoond daaraan is om voor klasse te staan en praat. Of dalk het dit te doen met die universiteitstelsel waarin elkeen vervaard probeer om 'n loopbaan te bou deur so vinnig as moontlik so veel as moontlik te publiseer en daarom nie tyd het om na kollegas te luister of hulle werk te lees nie. Hein het altyd tyd om te luister. En om te lees. Groot was my verbasing toe hy 'n rubriek van my wat in Vrouekeur verskyn het opneem in die geskiedenis van UP se Departement Afrikaans wat hy saamgestel het (Onverdrote vlyt). Ek het nie eens geweet dat hy bewus was van wat ek in daardie populêre tydskrif geskryf het nie.

Dit is geen wonder nie dat Hein aansluiting vind by denkers van die Karribiese eilande. Soos wat Edouard Glissant die idee van kreolisering bo suiwerheid, van risomatiese denke bo penworteldenke verkies (290), is Hein voortdurend oop vir ander stemme, nóg stemme, en luister hy deeglik. Glissant skryf dat mense in 'n saamgestelde gemeenskap telkens hulle eie verhale moet vertel en na mekaar moet luister, omdat hulle nie 'n enkele agtergrond en afkoms deel soos mense in 'n atavistiese gemeenskap nie (289). Iets van hierdie ingesteldheid is altyd in Hein se gesprekke teenwoordig. Hy is altyd bereid om te luister en te vertel. Hy het byvoorbeeld sy studente nooit as groep behandel nie maar as individue. Ons was altyd verstom om agter te kom hy ken (voor enigiemand anders in die departement) die studente, en hy weet dinge van studente wat die res van ons nie eens vermoed het nie.

Hein se ingesteldheid om in gesprekke te luister en vrae te vra, toon aan hoedat die kritiese denke vir hom 'n handeling is, nie 'n produk nie, hoedat hy nie by voorbaat 'n bepaalde kritiese posisie inneem as die hoogste, vaste horison waarvandaan alles uit die hoogte beoordeel word nie-Marxistiese insigte as "ultimate semantic precondition for the intelligibility of literary and cultural texts" soos wat Jameson dit in The Political Unconscious (60) stel. In gesprek was dit altyd duidelik dat Hein veel oper staan om te luister, veel tentatiewer is om te verwoord. Dit is juis hierdie ingesteldheid wat Hein se "kritiese" uitgangspunte veel meer maak as voorspelbare reaksies vanuit 'n teoretiese hoek. En ek wil hiermee nie enigiets wat Hein geskryf het afmaak as minder belangrik nie. Allermins! Maar sy ingesteldheid teenoor denke blyk duideliker uit gesprek. En dit is daarom dat ek, ook wanneer ek sy werk lees, sy stem hoor.

 

2.

Hein se ingesteldheid op fyn luister en versigtig praat het my baie dinge geleer, maar meer as enigiets deur hom of deur enigiemand ander wat ek gelees het, het dit my bewus gemaak van die witheid van my denke. Ja, natuurlik het ek al jare en jare gelees aan postkoloniale teorie, aan Foucault se omgaan met die vervlegtheid van mag en kennis en het ek op 'n manier kognitief my beperkte greep hierop gehad dekades voordat ek vir Hein as kollega leer ken het. Maar die saamwerk met Hein het my veral daarvan bewus gemaak dat ek veel meer beskroomd moet wees-ook oor hierdie moeisaam-verworwe kennis van my. Want 'n kognitiewe greep kan so maklik 'n blinde greep wees. Dit kan so maklik kennis wees wat nie in gesprek tree nie, denke wat vasgelê is; denke wat "die waarheid" word en nie meer in gesprek is nie, wat onbewus word van waar dit vandaan kom en daarom ook nie meer kan luister nie.

Jess Row skryf in White Flights (2019) dat sy eie ondersoek van die Amerikaanse literatuur onontkombaar aan die komplikasies van sy eie rasidentiteit verbind is. Sy lewe as 'n wit skrywer en die manier waarop hy, sonder dat hy ooit daarvan bewus was, geleer het om "witheid" te representeer en met witheid te identifiseer, het al sy werk bepaal, terwyl hy salig onder die indruk was dat hy 'n "vrye verbeelding" het-dat sy verbeelding en denke nie ingeperk word deur sy witheid nie. Die implikasie van hierdie uitgangspunt dat die eie verbeelding en denke "vry" is, is natuurlik dat swart skrywers (of vroueskrywers, of gay skrywers of enige ander groep skrywers) se verbeeldings ingeperk word deur húlle identiteit-dat hulle nie anders kan nie as om die wêreld ás 'n swart skrywer te ervaar en te representeer nie, terwyl 'n wit skrywer die wêreld "neutraal" of "ten volle" ervaar en beskryf. Hoewel ek aanvaar het dat vroue of swart skrywers of gay skrywers se identiteite hulle skryfwerk en reaksies op die wêreld beïnvloed, was dit altyd baie moeilik om my eie ervaring van die wêreld nie hierteenoor as 'n "neutrale" belewenis te beskou nie. Kognitief het ek begryp dat my ervaring eintlik 'n spesifieke wit, heteroseksuele en middelklaservaring is, maar ek het dit iewers diep binne-in op onbewaakte oomblikke as die "neutrale" ervaring bly beskou, waartoe ander beskouings eintlik net toevoegings is.

Willemse het eens 'n lesing in Iowa begin deur te verwys na die situasie waarin hy gevorm is-hoedat sy rasklassifikasie deur die vorige regering bepaal het waar hy kon skoolgaan, woon en studeer. Hy het dit noodsaaklik geag om al hierdie inligting te gee, voor hy sy perspektief op die Afrikaanse literatuur aanbied. (Soortgelyk aan Glissant se verduideliking dat dit noodsaaklik is vir elke individu in 'n saamgestelde gemeenskap om hulle eie stories te deel omdat hulle nie dieselfde funderingsmite deel soos in atavistiese gemeenskappe nie.) Dit het my laat besef dat ek nooit daaraan sou dink om só te begin met 'n beskrywing van my eie klassifikasie as wit en die implikasies daarvan sou uitspel nie, want ek het aanvaar-sonder om ooit daarvan bewus te wees, dat ek uit 'n neutrale posisie oor die Afrikaanse literatuur skryf, 'n vrye posisie.

Hein het nooit opnuut probeer om uitsluiting teoreties aan my te verduidelik nie. Hy het meestal net vrae gevra in reaksie op enigiets wat ek geskryf of gesê het. Dikwels het ek in die vaart van my eie betoog die vraag sommer haastig beantwoord sodat ek kon aangaan met my argument en nie toegelaat dat my aandag deur sy vraag afgelei word nie. En dan eers later, in die trein op pad terug huis toe, of selfs 'n paar dae of 'n week later, het die implikasies van sy vraag my getref. Terwyl ek heelwat later sit en skryf of lees, hoor ek sy effens heserige stem, dan weerklink die rustige vraag weer in my kop. Dan eers het ek gesien hoedat ek al weer salig onder die indruk van my "vrye verbeelding", my "neutrale posisie" was, onbewus daarvan hoedat my eie denke ingeperk is deur my identiteit, deur my witheid, my middelklas-status, my heteroseksualiteit, my opleiding aan 'n konserwatiewe "wit universiteit" in die 1980's.

Die onderrig in Afrikaanse letterkunde wat ek gedurende die 1980's ontvang het was, soos Willemse dit eens beskryf het "wesenlik die letterkunde van wit Afrikaanse skrywers" en ook "'n letterkunde wat hoofsaaklik deur wit Afrikaanse kritici en literatore beskryf en gekanoniseer" is (Aan die ander kant: Swart Afrikaanse skrywers in die Afrikaanse letterkunde 11). Die kanon waarin ek opgelei is, was met die uitsondering van Adam Small, heeltemal wit. Nieteenstaande het ek die geskiedenis van Afrikaans en die letterkunde in Afrikaans soos dit aan my voorgehou is, as "vry" ervaar. "Ons" het mos vir Brink en Breytenbach en Krog as bewys van hoe vry ons denke is-juis soveel wyer en vryer as die beperkte, eng, konserwatiewe beskouings van diegene wat hierdie skrywers as vyande van "die volk" beskou. Eintlik, so het dit vir my gevoel, is die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde 'n geskiedenis van dissidente-Marais, Leipoldt, Louw, Rabie, Brink, Breytenbach, Joubert, Krog. Die "adversary within" waaroor Cope geskryf het, het my altyd trots laat voel. Dit het my laat voel ek staan in hierdie tradisie van "vry-denkers". Die afwesigheid van swart Afrikaanse skrywers in my opleiding het vir my soos 'n "natuurlike verloop van sake" voorgekom-soos Willemse aandui (Ander kant 155).

Grootgemaak op 'n dieet van literêre waardebepaling wat grootliks gegroei het uit 'n modernistiese estetika waarin die klem val op tegniese vernuf, simboliek, kompleksiteit, intertekstuele verwysings, vernuwing en oorspronklikheid, het ek die Afrikaanse literatuur waarin ek onderrig is, as vanselfsprekend aanvaar. Die literêre waardes in die tradisie van die New Critics aan die een kant en 'n bewondering van dissidente Afrikanerskrywers aan die ander kant, het met gemak saambestaan in die 1980's kurrikulum. My dosent, T. T. Cloete het enersyds 'n verslag vir die Broederbond opgestel oor die gevaar wat André Brink en Breyten Breytenbach vir die volk inhou, maar andersyds het hy sy "plaasvervangende leesstrategie" op Breytentenbach se gedigte met verwondering aan ons verduidelik.

Toe Willemse in 1984 gesê het dat die Afrikaanse letterkunde as Afrikaner-letterkunde in wese "diametraal tot [hom] staan" ("Die skrywerskap van Patrick J. Petersen" 269) en dat dit "uitsluitlik" die "pennemonument van Afrikaner-skrywers" geword het, was ek besig met Afrikaans II en my grootste bekommernisse was of my tennisraket betyds gesnaar sal wees voor Saterdag se wedstryd en of die meisie skuins voor my in die klas sal "ja" sê. Toe ek na die verskyning van Hostel, 'n boek wat Hein oor sy studentedae saamgestel het, die skrynende verskil tussen ons studente-ervarings opper, hoe banaal my universiteitsbelewenis is in vergelyking my sy ervarings, begin Hein dadelik om te verduidelik dat ek moet onthou dat dit my omstandighede was, dat ek nie skuldig moet voel nie want ek was die produk van 'n omgewing en 'n tyd.

 

3.

Juis weens die verskil in ons agtergronde, die feit dat ek my verstand gekry het in 'n akademiese veld met 'n sterk navorsingstradisie wat, soos Willemse dit beskryf het ("Skrywerskap" 271), op onuitgesproke manier die taal, literatuur en kulturele praktyke van wit sprekers en skrywers behels het, terwyl hy hiervan uitgesluit is, is dit te wagte dat ons benaderings tot literatuur ook sal verskil.

Hoewel ons albei in die literatuurteorie onderlê is en die poststrukturalistiese benaderings tot literatuur ons altwee se beskouings deurtrek, het daar by my altyd, benewens die hermeneutiek van agterdog, tog ook iets van daardie "bewondering van die pennemonument" agtergebly. Moontlik omdat Hein in ieder geval homself vervreemd van die Afrikaanse literatuur gevoel het, was dit vir hom dalk makliker om, soos van 'n kritiese benadering vereis word, heeltemal "buite" die teks te staan. Ek het (dalk juis as "ingeslote" leser) altyd op 'n manier ook 'n bewonderende leser, onder die ban van die "roerende effek" wat 'n teks op my het, gebly. Vir my het dit egter nooit om die "pennemonument" van Afrikaanse skrywers gegaan nie, ek het graag enige boeke uit die wêreldliteratuur gelees om meegevoer te raak daardeur, ek het altyd gelees op die manier wat deur die kritiese teorie beskou word as 'n naïewe manier van lees, die individuele boek "persoonlik" ervaar eerder as produk van groter sosiale en politieke horison. Ten diepste het ek altyd 'n "liefhebbende leser" gebly, 'n leser wat volgens die kritiese beskouing steeds met 'n babelaas van die humanisme belas is.

Aan die een kant het ek akademies geleer om literatuur te lees as kulturele produkte wat in 'n historiese konteks geplaas moet word en waarin mens uiteindelik kan aandui hoedat hierdie tekste en hulle resepsie medepligtig is aan die uitsluiting en onderdrukking van sekere groepe of individue. Voorts het ek gepoog om aan te dui hoedat sekere tekste juis ondermynend is ten opsigte van die heersende magsverhoudings-byvoorbeeld hoedat die ondermyning van meesterverhale deur postmodernistiese tegnieke bydra tot die ondermyning van die patriargie of nasionalisme of rassisme. Soos talle ander akademici het ek gevoel dat ek hierdeur 'n bydrae lewer om studente bewus te maak van onreg in die gemeenskap en gedink dat ek eintlik 'n bydrae lewer tot die aankweek van 'n kritiese bewussyn onder studente. Dit het my in my werk laat glo.

Aan die ander kant het ek ook, ten spyte van die agterdog van Foucault dat 'n mens nooit buite die diskoers kan staan nie, bly glo dat kunswerke, soos Milan Kundera dit gestel het, teen die barrikades van ons denke kan skop en dit vir ons moontlik maak om tóg ander aspekte van ons bestaan te kan ontdek, aspekte van ons bestaan onder woorde kan bring waaraan ons nog nie tevore gedink het nie (174-5). Gevolglik het ek 'n bewondering vir die kunswerk behou-en as mens bietjie sinies daarna wil kyk, kunswerke beskou as bronne van wysheid. Ek het in my binnekamer aanhou lees omdat ek betower is deur woorde se vermoë om my te kan wegvoer na ander plekke, na ander wêrelde.

Ek laat my geredelik op sleeptou neem deur boeke. Ek verwonder my steeds daaroor dat ek betrokke kan raak by 'n wêreld wat nie my eie is nie, dat ek emosioneel aan sekere boeke heg en hulle saam met my trek van huis tot huis en weer uitpak en oopslaan en oorweldig word deur herinnerings. lewers in my bly ek glo soos Anne Michaels dat die groef van ritme ons denke kan verlê (162); bly ek vashou aan sekere boeke wat my troos, en glo dat ander boeke iets binne-in my laat skuif. Ek hou van daardie gevoel dat mens 'n nuwe idee self ontdek wanneer 'n metafoor skielik vir jou sin maak, wanneer jou verstand bollemakiesie moet slaan om onversoenbare dinge in jou verbeelding bymekaar te kry. Al hierdie redes waarom ek in die eerste plek van kleins af onversadigbaar boeke lees, het egter iets geword waaroor ek in die akademie skaam geword het. Ek wonder dikwels wat dit is wat my so laat voel, so laat heg aan boeke, wat my weer en weer 'n nuwe roman laat optel en lees. En dan verwonder ek my aan Hein wat nooit so opgewonde 'n boek by my sal aanbeveel nie. En daarom is ek versigtig om my oor my positiewe leeservarings uit te spreek. Sulke positiewe ervarings verraai iets van 'n medepligtige leser, 'n naïewe leser, 'n leser wat nie wakker loop vir die wyse waarop kulturele praktyke ons mislei nie.

Julian Barnes se boek, Nothing to be Frightened of (2008) begin met hierdie woorde oor geloof: "l don't believe in God, but l miss him. That is what l say when the question is put. I asked my brother, who has taught philosophy at Oxford, Geneva and the Sorbonne, what he thought of such a statement, without revealing that it was my own. He replied with a single word: 'Soppy'" (1). Op my bekentenis dat ek ook 'n "liefhebbende leser" is, verwag ek Hein se antwoord om te wees: "Soppy". Dit is immers nie waaroor die akademiese ondersoek van literatuur gaan nie. Regte wetenskapsbeoefening kyk eerder na feite, watter boeke wanneer en waar uitgegee word, wie hulle vertaal, wie hulle voorskryf, wat die verkoopsyfers is, hoe wyd hulle versprei. My ervarings van emosionele hegting, van troos en ontsteltenis en ontnugtering, kan ons los vir die leeskringtannies, vir verliefde skooldogters en ander romantiese siele wat (onbewus van hulle eie vertrekpunte en vasgevang in hulle naïwiteit) eintlik nog in die ban van 'n "soppy" humanisme vasgevang is. Of dalk kan 'n mens dit los vir sielkundiges? As jy só wil lees, reduseer jy literatuur tot selfhelpboeke, of soos Thomas Pavel eens geskryf het, loop mens die gevaar om te dink literatuur "smokkel met wysheid" (84).

lewers in die agtergrond hoor ek Hein se laggie oor Annette se begrip van die "liefhebbende leser".

ln my gedagtes stoei ek met Hein hieroor. Ek stem natuurlik heeltemal saam met die kritiese lees van tekste, met sy aandrang op kontekstualisering, historisering en die blootlê van die magsverhoudings agter die tekste. Hierdie agterdogtige beskouings vanuit genderstudie of postkoloniale teorie is kragtig en voed die gevoel dat ons vakgebied nuttig is, dat ons regtig 'n kritiese ingesteldheid aan ons studente oordra, 'n soort linksleunende politieke bewustheid en dat ons sodoende betrokke is by verandering wat die samelewing verbeter. Ons durf ook nie ophou om dit te doen nie.

Maar ek wil tog waag om te vra, waarom demonstreer ons die werking van mag juis aan die hand van literêre tekste? Waarom word hierdie tekste so ernstig opgeneem dat hulle soveel aandag kry? Want as hulle sentraal staan in literatuurgeskiedenisse, in die kanon, en as verduidelik word hoedat hierdie kanon en geskiedenis sekere magsverhoudings weerspieël, hoedat die kanon en die geskiedenis gevorm word deur uitsluiting en insluiting en tot voordeel van 'n bepaalde groep, en ons die tekste ontluister, waarmee laat dit ons? 'n Gedekonstrueerde klomp tekste en geskiedenis van twyfelagtige waarde omdat dit spruit uit vooroordele? Ek wil vir Hein vra waarom hy dan die moeite doen om Patrick Petersen se gedigte bymekaar te sit en uit te gee? Dit gaan tog oor meer as om bloot aan te toon hoedat sy gedigte eens uitgesluit is deur die Afrikaanse literatuursisteem, deur die uitgewers en die akademici? Natuurlik is dit belangrik om aan te toon, maar die gedigte self vra tóg ook aandag? En die feit dat hy hulle die moeite werd ag om te bespreek, te bewaar, is aanduiding daarvan dat hy die gedigte self tóg ook waardeer?

Dit mag natuurlik wees dat 'n pendulumswaai ons weggeneem het van 'n uitsluitlike fokus op teksinterne kritiek, dat die kritiese teorie tot so mate in verset teen die teksinterne kritiek en die houvas van die New Criticism gekom het dat dit eintlik 'n bespotting daarvan gemaak het en in die proses iets verloor het. Want die kontekstuele lees van tekste het dikwels soveel op die konteks gefokus dat mens nie regtig nodig het om die tekste te lees nie -as jy alleen maar die omstandighede van 'n teks se publikasie kan nagaan, kan jy al genoeg daaroor sê. Of andersins word die teks by voorbaat gemeet teen 'n bepaalde opvatting van in- en uitsluiting wat sig op 'n hoër of vaster morele vastrapplek bevind-'n teorie uit die sosiale wetenskap (al is dit nie wat Jameson in die oog gehad het met 'n simptomatiese lees nie).

In die proses van ons kritiese lees het ons inderdaad van die liefhebbende lesers vergeet, dink ek dikwels, al hoor ek Hein se skeptiese laggie. My aandrang om verwonderd te kan staan voor 'n teks, om fyn uit te pluis hoedat 'n teks sekere effekte bewerkstellig, om te ondersoek hoedat die teks boei om emosioneel 'n impak te maak, word deur Hein met stilte beantwoord. Kán ek nog skerm vir 'n waarderende lees sonder om 'n fetish van die teks te maak? Impliseer 'n waarderende lees van 'n gedig wat vir my "mooi" is, 'n roman wat my "roer", noodwendig dat dit 'n naïewe lees is en dat dit daarom kop in een mus is met die handhawing van die status quo? Durf ek my entoesiasme oor 'n teks wat my roer aan my studente oordra, of loop ek die gevaar om naïewe lesers van hulle te maak? Is dit nie dalk my taak om studente opgewonde te maak oor die woorde van 'n gedig of 'n roman nie? Hoe kan ek dit doen as ek nie positief oor 'n teks is nie? Moet ek hoop hulle word lesers iewers by hulle huise sodat ons hulle net kan leer krities dink oor die tekste?

Terwyl ek met hierdie gedagtes worstel hoor ek die hele tyd Hein se stem, sy vrae wat my laat voel ek beywer my vir naïwiteit en kweek studente wat die kanon bewonder en sodoende die hegemonie ondersteun. Dan lees ek weer Willemse se N. P. van Wyk Louw-gedenklesing ("N. P. van Wyk Louw deur die oë van Adam Small") en dit word duidelik dat Willemse 'n fyn leser is, 'n waarderende leser van Small se gedig. Dit word duidelik dat sy kritiese ingesteldheid glad nie veroorsaak dat hy nie self 'n deeglike stipleser is nie. Die fyn aandag wat Hein aan tekste gee is nie bloot 'n metode wat hy inspan ten einde krities te kan ondersoek nie. Sy fyn lees van tekste getuig van dieselfde ingesteldheid wat hy teenoor mense het en wat hy in gesprekke openbaar. Op dieselfde manier waarop hy luister na studente, na kollegas, ook na diegene wat radikaal van hom verskil, lees Hein ook. En dan vra hy eerlike vrae, nie vanuit 'n hoë morele posisie of 'n vertrekpunt wat reeds vooraf ingeneem is nie. Sy vrae is gerig op 'n beter verstaan van die teks self. En hy lees met deernis, soos wat hy ook my banale universiteitsdae in 'n tyd toe die land gebrand het met deernis beskou.

Geleidelik begin ek wonder of my en Hein se beskouings werklik so radikaal van mekaar verskil wanneer dit by die leespraktyk kom. Want soos Moi verduidelik is daar nie regtig in die literatuurondersoek 'n "metode" in die wetenskaplike sin van die woord nie en die politiek van literêre kritiek lê nie regtig in die metode nie (191). Eintlik is die enigste ondersoekmetode van die literatuurkritiek om te lees. Dit is wat ons almal in die eerste plek moet doen. Dit maak nie saak of mens 'n teoretiese vertrekpunt uit die postkoloniale teorie, die genderstudie, psigoanalise, formalisme of marxistiese teorie het nie, in die eerste plek moet mens die teks lees. Dit is wel waar dat sommige kritiese lesers dalk literêre tekste met hul agterdogtige benadering nie werklik deeglik lees nie-soos wat ook dikwels blyk uit talle artikels waarin op voorspelbare wyse voorafbepaalde kritiek gelewer word sonder blyke van 'n erkenning van die stem van die teks. Maar Hein Willemse is nie een van hulle nie. Hy gee versigtig aandag aan die individuele teks, altyd bewus daarvan dat die individuele nie onafhanklik is nie, maar ingebed in 'n baie groter sosiale en uiteindelik politieke werklikheid.

Soos die stem van 'n ander 'n aanspraak op 'n mens smaak om te luister-en soos Hein met soveel geduld na mense om hom luister, en vrae vra, gee hy ook fyn aandag aan die tekste wat hy lees. Hy behandel tekste met respek, soos wat hy mense met respek behandel, deur in die eerste plek deeglik te lees. Hy vra vrae aan die teks, soos van sy gespreksgenote. Hierdie erkenning van die individu en van die individuele teks getuig van waardering. Op die manier is Hein ook 'n "liefhebbende leser".

So 'n erkenning aan 'n teks kan, soos in die geval van erkenning aan 'n mens, nie in 'n groep gedoen word nie. Ek kan nie al die boeke uit 'n era of vanuit spesifieke geledere oor een kam skeer nie. Ek kan nie een verhaal maak oor al die tekste nie. Elke teks maak 'n unieke in individuele aanspraak op die leser, dring aan op 'n reaksie, en ek moet telkens weer reageer, erkenning gee. Ek verbeel my ek kan Hein se instemming hieroor hoor-op sy manier natuurlik nie bloot instemming nie, maar 'n herverwoording, wat al weer 'n bietjie verder gaan en nog 'n moontlikheid oopmaak, want hy sal hierdie individuele aanspraak uiteraard, soos Jameson geleer het, historiseer.

Erkenning begin nie in agterdog nie, skryf Moi. Erkenning mag wel tot die gevolgtrekking kom dat agterdog nodig is. Erkenning weerstaan egter die positivistiese model van kennis en sekerheid. As mens se verhouding met die teks een van erkenning is, gaan dit nie bloot oor kennis van die teks nie-maar erkenning gaan verder, dit eis 'n respons, 'n handeling, en daardie handeling is self-openbarend (208).

Die aanspraak wat Hein se stem op my maak, spruit uit die wyse waarop hy erkenning gee aan individuele tekste (en aan individue). Selfs al lei hy die individuele reaksie terug na die politieke en die mag wat die individuele handeling moontlik maak, lei dit nie by hom tot 'n triomfantlike onthulling van die verborge werkings van kapitalisme of nasionalisme sonder waardering vir die individuele teks nie want hy gee erkenning gee aan individuele tekste, aan elke mens se storie, hy gee om vir mense en vir die literatuur.

 

Eindnote

1 Die term "meesters van agterdog" is aanvanklik deur Paul Ricoeur gemunt om te verwys na Freud, Marx en Nietzsche (35).
2 Willemse spreek hom herhaaldelik uit oor die geskiedenis van Afrikaans en veral sy werk om Achmat Davids (The Afrikaans of the Cape Muslims) se navorsing uit te gee het die aandag help vestig op die herkoms van Afrikaans wat nie slegs Germaanse wortels het nie. ln onder meer Aan die ander kant, in sy bydrae tot Perspektief & Profiel oor buitekanonieke praktyke en die hoofstuk in die Companion to African Literature, "The Afrikaans Expressions of the Powerless and Subjugated" skryf Willemse oor die geskiedenis van die Afrikaanse literatuur. Een van die voorbeelde waar hy die Afrikaanse literatuurkritiek indringend ondersoek, is die artikel "Tokkelossie, ''n Boesman, outa Hendrik' en ontkennende close readings."

 

Geraadpleegde bronne

Barnes, Julian. Nothing to be Frightened of. Jonathan Cape, 2008.         [ Links ]

Best, Stephen & Sharon Marcus. "Surface Reading: An Introduction." Representations vol. 108, no. 1, 2009, pp. 1-21. https://www.jstor.org/stable/1o.1525/rep.2009.1o8.1.1.         [ Links ]

Cavarero, Adriana. For More than One Voice: Towards a Philosophy of Vocal Expression. Stanford U P, 2005.         [ Links ]

Davids, Achmat. The Afrikaans of the Cape Muslims, geredigeer deur Hein Willemse & Suleman E. Dangor. Protea, 2010.         [ Links ]

Dolar, Mladen. Voice and Nothing More. MIT P, 2007.         [ Links ]

Felski, Rita. The Limits of Critique. Chicago U P, 2015.         [ Links ]

Jameson, Fredric. The Political Unconscious. Narrative as Socially Symbolic Act. Routledge, 2002.         [ Links ]

Glissant, Edouard. "The Unforeseeable Diversity of the World." Beyond Dichotomies: Histories, Identities, Cultures, and the Challenge of Globalization, geredigeer deur Elisabeth Mudimbe-Boyi. U of New York P, 2002, pp. 287-95.         [ Links ]

Gumbrecht, Hans Ulrich. Production of Presence: What Meaning Cannot Convey. Stanford U P, 2004.         [ Links ]

Kundera, Milan. Testaments Betrayed. Faber & Faber, 1996.         [ Links ]

Michaels, Anne. Fugitive Pieces. Bloomsbury, 2008.         [ Links ]

Moi, Toril. Revolution of the Ordinary. Chicago U P, 2017.         [ Links ]

Pavel, Thomas. Fictional Worlds. Harvard U P, 1986.         [ Links ]

Ricoeur, Paul. Freud and Philosophy: An Essay in Interpretation. Yale U P, 1970.         [ Links ]

Row, Jess. White Flights. Graywolf, 2019.         [ Links ]

Willemse, Hein. Aan die ander kant: Swart Afrikaanse skrywers in die Afrikaanse letterkunde. Protea, 2007.         [ Links ]

__________________. "Die skrywerskap van Patrick J. Petersen." Ons het [...] ver versit: Gedigte-toesprake-onderhoude, deur Patrick J. Petersen. abrile doman, 2021, pp. 263-302.         [ Links ]

__________________. "N. P. van Wyk Louw deur die oe ' van Adam Small." LitNet Akademies vol. 14, no. 3, 2017, pp. 166-89. https://www.litnet.co.za/np-van-wyk-louw-deur-die-oe-van-adam-small/.         [ Links ]

__________________. "Tokkelossie, ''n Boesman, outa Hendrik' en ontkennende close readings." Literator vol. 29, no. 3, 2008, pp. 57-73. DOI: https://doi.org/10.4102/lit.v29i3.125.         [ Links ]

Willemse, Hein (red.) Hostel. Autobiographical Narratives of the 1975-1980 University of the Western Cape Student Generation. abrile doman, 2018.         [ Links ]

Willemse, Hein & Tercia Klopper. Onverdrote vlyt. 'n Geskiedenis in beeld van die Departement Afrikaans, Universiteit van Pretoria, 1908-2020. Abrile doman, 2020.         [ Links ]

Wimsatt, W. K. & M. C. Beardsley. "The Intentional Fallacy." The Verbal Icon, geredigeer deur W. K. Wimsatt. U P of Kentucky, 1954, pp. 3-18.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License