SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.59 issue3 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.59 n.3 Pretoria  2022

http://dx.doi.org/10.17159/tl.v59i3.14087 

ESSAY

 

Om die "ruimland [...] van nuuts af oop [te] bou": 'n Woordjie oor Hein Willemse

 

 

Frank Hendricks

Emeritus professor, verbonde aan die Departement Afrikaans en Nederlands, Fakulteit Kunste en Geesteswetenskappe, Universiteit van Wes-Kaapland, Bellville, Suid-Afrika. As Afrikaanse taalkundige spesialiseer hy in sintaksis, variasietaalkunde en naamkunde. E-pos: fhendricks@uwc.ac.za

 

 

Om 'n woordjie oor Heinrich Stephen Samuel Willemse, alombekend as Hein, by geleentheid van sy aftrede te kan rep, is inderdaad 'n grootse voorreg.

My verbintenis met Hein gaan ver terug. Ek het in die vroeë neëntien-tagtigerjare met hom kennisgemaak toe hy aangestel is as letterkundedosent in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Ekself is kort tevore, in Julie 1979, as dosent in Afrikaanse taalkunde aangestel. Toe ek hom vir die eerste keer in die gang van ons departement gewaar, was hy geklee in 'n overall waarvan ek die kleur al vergeet het. 'n Dosent in 'n overall? Natuurlik was ek geskok, want ek was, in navolging van kollegas Tony Links en Dries Sinclair, behoorlik ge-coller en ge-tie. Later sou dit vir my duidelik word dat hy deur die dra van 'n oorpak sy heelhartige identifikasie met die werkersklas, met arbeiders, uit die staanspoor te kenne wou gee.

'n Besondere moment toentertyd was toe Hein op 23 Julie 1981 my kantoor binnestap en my glimlaggend verras het met 'n eksemplaar van sy digbundel Angsland wat pas by BLAC Publishing House verskyn het. 'n Vierreëlgediggie in dié bundel en die fragment uit die werk van die Nigeriese romansier en akademikus Chinua Achebe wat Hein voor in die bundel as epigraaf aangesny het, het my reeds met die eerste lees van die bundel getref:

ons moet hierdie ruimland

waar mensheid verwar word,

opbreek

en van nuuts af oopbou.

(Angsland 17)

I will make my offering at the feet of my lovely Mother:

I will rebuild her house, the holy places they raped and plundered, and I will make it fine with black wood, bronzes and terra-cotta. (Chinua Achebe)

Hierdie gediggie, in kombinasie met die sitaat uit Achebe se werk wat intertekstueel daarop inspeel, sou terugskouend geïnterpreteer kon word as Hein se credo aan die begin van sy professionele loopbaan-'n loopbaan wat by die Universiteit van Wes-Kaapland begin het en sedert die jaar 2000 by die Universiteit van Pretoria voortgesit sou word. Die loopbaan wat Hein vir homself voorsien het, sou mettertyd veel meer inhou as bloot die doseer van en navorsing oor die Afrikaanse letterkunde. In aansluiting by gemelde gediggie en sitaat sou hy hom van meet af met groot élan verbind tot diens aan Suid-Afrika, sy Moederland-nie alleen ten opsigte van die "opbreek" van die apartheidregime nie, maar veral ook ten opsigte van die vestiging van 'n nuwe orde wat, wat hom betref, gekenmerk sou word deur die "oopbou", die omskepping van ons land tot 'n "ruimland" waarin "mensheid" nie "verwar" word nie maar waarin die menswaardigheid van almal, veral ook dié van mense wat maatskaplik, polities en ekonomies gemarginaliseer is, erken en verreken sou word. Hierdie grootse taak sou hy aktivisties aanpak want hy sou ander naderroep en aanspoor om ywerig mee te doen: ja, nie hy alleen nie, maar hy en ander-óns-"moet hierdie ruimland [...] opbreek en [...] oopbou"!

Tydens sy professionele loopbaan van ongeveer veertig jaar sou Hein se credo op 'n voortreflike en benydenswaardige wyse verwerklik word. In samehang met sy skerp intellek, meesterlike redeneervermoë en vaardigheid om insigte in Afrikaans sowel as Engels op 'n raak wyse te verwoord, sou sy diens in die teken staan van deeglikheid, genuanseerdheid, vernuwing en transformasie.

Vele dinge omtrent Hein kom in my op:

Tydens sy diensperiode aan die UWK het hy nie op die departementshoof gewag om projekte te inisieer nie. As selfgedrewe persoon sou hy meermale die leiding neem in sake ten bate van ons departement en ons vak. In dié verband onthou ek sy leiersrol ten opsigte van onder meer herkurrikulering, die vestiging van 'n navorsingskultuur in ons departement en die inisiëring en beplanning van vaksimposia en die latere teboekstelling van die verrigtinge. Op grond van sy noeste vlyt om akademiese aktiwiteite te dryf, het personeellede hom agteraf 'n slawedrywer genoem.

Die bevordering, ondersoek en boekstawing van Swart Afrikaanse skryfwerk geniet hoë prominensie by Hein, soos onder meer blyk uit sy mederedakteurskap van publikasies soos Swart Afrikaanse Skrywers, Die reis na Paternoster en 'n Vlag aan die tong waarin verslag gedoen word oor die eerste, tweede en derde Swart Afrikaanse skywer(s)simposia wat onderskeidelik in 1985, 1995 en 2005 gehou is; sy opneem in die herfsuitgawe van Tydskrif vir Letterkunde in 2012 van referate gelewer tydens 'n simposium oor die lewe en werk van Adam Small wat op 7 Oktober 2011 by die Universiteit van Wes-Kaapland gehou is; asook sy 2021-publikasie van die werk Ons het [...] ver versit waarin gedigte en toesprake van Patrick Petersen, asook enkele onderhoude met Petersen en 'n essay deur homself oor die skrywerskap van Petersen opgeneem is.

Hein se aanbieding op uitnodiging van die N. P. van Wyk Louw-gedenklesing in 2016, sy bekleding van die leerstoel Zuid-Afrika: talen, literaturen, cultuur en maatschappijaan die Universiteit van Gent in 2017/2018, sy optrede as besoekende dosent by verskillende Suid-Afrikaanse en internasionale universiteite oor die jare heen, sy dienstermyn as president van die International Society for the Oral Literatures of Africa (ISOLA) en sy diens as direksielid van Naspers is aanduidend van die hoë aansien wat hy nasionaal en internasionaal geniet.

Sy joernalistieke rubriekbydraes en gedetailleerde huldeblyke/terugblik-tekste oor persone soos Danny Titus, Cecyl Esau en Ampie Coetzee getuig van sy uitgebreide kennis van en/of insig in mense, plaaslike, nasionale en wêreldgeskiedenis asook politieke, ekonomiese, kulturele en religieuse aangeleenthede.

En so kan ek aangaan ...

Wat 'n verstommende rekord! Wat 'n toonbeeld van diensbaarheid! Wat 'n verrykende aanwins!

Hein se oomblik van aftrede het aangebreek. Maar soos ek hom lees, sou sy aftrede nouliks 'n uittrede, 'n wegstap kon wees. Ek reken: sy stem en die sleutelbord van sy rekenaar sal nog lank gehoor word. Die tekens is reeds daar.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License