SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.59 issue1Race, Nation, Translation (Zoe Wicomb)Literature and the Law in South Africa, 191-2010 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.59 n.1 Pretoria  2022

http://dx.doi.org/10.17159/tl.v59i1.12753 

BOOK REVIEWS

 

Vier susters

 

 

Gerda Taljaard
Kaapstad: Penguin Random House, 2021. 272 pp.
ISBN 9781485904700

"Ons is almal skuldig aan die oorlog". So sê Sophié, die tweede van die vier susters van Broedersdraai in Magoebaskloof, aan die begin en weer aan die einde van Gerda Taljaard se vierde roman, Vier susters. Oorlog, skuld en medepligtigheid is belangrike deurlopende temas in dié roman wat afspeel in 1945 teen die agter-grond van die Tweede Wereldoorlog in Europa en die spanninge tussen Sappe en Natte in Suid-Afrika. Dit is 'n verhaal oor vier susters se liefde, en soms haat, teenoor mekaar en die huis waarin hulle grootgeword het.

Beatrice is die oudste suster, die passievolle een met die kunstenaarsiel wat nooit genoeg in haarself kon glo om 'n suksesvolle pianis te word nie. Nadat sy deur 'n ouer, getroude man verlei word, raak sy swanger en trou met die middelmatige Boas Putter om haar skande te versteek. Hulle woon in Johannesburg en word deel van die elite, maar nie genoeg deel daarvan dat Beatrice ooit werklik tuis voel nie. Wanneer Boas se hoedebe-sigheid bankrot speel, trek hulle terug na die familie-plaas en Beatrice raak 'n raakvatboer, sonder veel hulp van Boas af. Beatrice raak ook 'n doodsbedversorger: eers van beide haar ouers en daarna van haar man. Wanneer Boas na 'n lang lydingsproses te sterwe kom, verlang Beatrice na hom en voel skuldig omdat sy hom doodgewens het.

Die tweede suster is Sophié, 'n vrou wat haar lewe rig met syfers en logika. Sy trou met 'n volbloed-Nat Engelsman en lewe 'n lewe ver verwyderd van haar sus-ters. Met haar babadogtertjie keer sy na die plaas terug wanneer haar swaer te sterwe kom. Hier stamp sy en Beatrice heeltyd koppe oor die verlede. Sy sit aand na aand en briewe skryf aan haar man, Robert, briewe vol geheime wat sy nooit stuur nie.

Die jongste suster is Ivy. Sy wil 'n vry en onkonven-sionele lewe leef. Wanneer sy 'n traumatiese ervaring het aan die hand van 'n man wat sy gedink het 'n vriend is, raak sy by die Ossewabrandwag en die Stormjaers betrokke. Later berou sy haar keuses en dade en vlug na Broedersdraai met net die klere aan haar lyf.

Kietie, of Yingwe, is die swart suster wat Ma Baby aangeneem het nadat haar ma tydens haar geboorte gesterf het. Ivy en Kietie word saam-saam aan Ma Baby se bors gevoed. Kietie word saam met die ander drie susters in die huis groot, maar net totdat dit "onbe-taamlik" raak en die bure begin praat. Dan skuif sy na die buitekamer waar sy perfekte miniatuurhuisies maak om te verkoop. Haar geliefde, Kajafas, is Johannesburg toe om in die myne te gaan werk, en wanneer hy terugkom, is hy 'n mens sonder 'n siel en sonder die lig in sy oë wat Kietie so liefgehad het. Sy werk dag in en dag uit langs Beatrice op die plaas, is lief vir die grond en worstel met die wit mense se optrede teenoor haar, die swart optelsuster.

Wanneer die ontsnapte Italiaanse krygsge vangene, Domenico Valente, beseer op Broederstroom aankom, ontwikkel daar interessante verhoudings tussen dié man en die vier vroue, wat verdere spanning tussen die susters veroorsaak. Hulle versorg hom en hy skilder hulle. Op bladsy 243 vind die leser 'n wonderlike beskrywing van die man se insigryke skilderye van die susters teen die mure van sy kamer: Kietie word as 'n luiperd, 'n wilde kat, geskilder en die berge agter haar is deel van haar; Sophié word as verpleegster uitgebeeld, haar kop omring deur sterre, sonne en planete; Beatrice staan in haar begrafnisrok voor die huis wat Domenica op hoenderpote uitbeeld, met vlamme om haar roksoom; en Ivy word voor 'n tronkgebou geteken, deursigtig en verwater met 'n vis teen haar bors geklem. Elkeen van die susters word op hierdie manier met 'n element verbind: Kietie met die wilde aarde, Sophié met die uitspansel, Beatrice met vuur en Ivy met water. Elkeen met haar eie sterkpunte, maar ook haar eie seer.

Vier susters is 'n roman met 'n sterk feministiese inslag; van Beatrice wat weier om 'n gedienstige huisvrou te wees, Ivy wat worstel met haar seksualiteit en die vrouekarakters wat telkens as sterker as hul mans uitgebeeld word, tot die magie van die vroulike kragte van geboorte skenk, huishou en met grasie moor. Alhoewel die Dippenaar-susters se lewens hemelsbreed van mekaar verskil, is hulle verbind deur die huis wat self 'n karakter word in die verhaal. In die huis het elkeen van hulle haarself ontdek en het hulle geleer wat dit beteken om hul vrou te kan staan. Maar die huis hou ook elkeen ook op 'n ander manier gevange. Elke kraak en daklek word personifieer totdat dit voel asof die huis asemhaal en saam met die susters sug en huil. Kietie is amper so deel van die huis as die ouma se liefdesbriewe aan haar man wat in die mure van die huis ingemessel lê. Sy is 'n waarnemer van die oorlog tussen haar susters en ook van die effek wat die verskillende oorloë daar-buite op die gesin het.

Soos reeds genoem, is die oorlog 'n belangrike tema in die roman. Die verhaal lewer kommentaar op die oorlog: die vernietigende gevolgde daarvan, wat geslagte lank duur. So word die gevolge van die Boereoorlog op die Dippenaars in die vorm van 'n swart wolkagtige teenwoordigheid in die huis uitgebeeld. Maar hierdie donker ding simboliseer uiteindelik meer as net die een oorlog: dit verteenwoordig skuld en smart en die dood, beelde wat ook gedra word deur die skimmelhond wat eers vir Boas en later vir Ivy volg. Dit is egter nie net die fisiese oorloë wat die inwoners van Broedersdraai beïnvloed nie, maar ook die binne-oorloë tussen en ook binne-in elkeen van die susters. Elkeen het haar eie redes waarom sy gedoen het wat sy gedoen het. En elkeen moet met die gevolge van hul optrede saamleef, sowel as met die skuldgevoel wat daarmee saamkom.

Alhoewel daar afstande tussen die susters is, oor-win hul verbintenis aan mekaar uiteindelik wanneer hulle mekaar moet beskerm en gedwing word om saam te dra aan 'n verskriklike geheim. Die verhaalgebeure bereik 'n klimaks wanneer hulle die bewyse van die geheim moet versteek en 'n wekelange, deurdringende stortreën uiteindelik op simboliese wyse lig.

Vier susters is 'n aangrypende roman wat elemente van die plaasroman, die historiese roman, die idille en die briefroman bevat. Sophié se briewe aan haar man, sowel as Ivy se gedagtebriewe aan Grieta Wolff, gee die leser 'n intieme blik op die geskiedenis, maar ook op die binnelewens van die karakters. Die Tweede Wereldoorlog, die Ossewabrandwag, die Stormjaers en die Rooilissies is historiese gegewens wat nie algemeen as onderwerp vir Afrikaanse romans gebruik word nie, en dit skep 'n uiters interessante konteks vir die verhaal-gebeure. Taljaard se roman vertel 'n aangrypende verhaal wat die leser noop om hul eie familiegeskiedenis te oordink. Veral die seer dele wat steeds verswyg word, soos belig deur die motto van die roman uit The Summer Book van Tove Jansson: "At first, no one mentioned it. They had developed a habit, over the years, of not talking about painful things, in order to make them less painful. But they were very much aware of the house."

Janien Linde
janien.linde@nwu.ac.za
Noordwes-Universiteit
Potchefstroom, Suid-Afrika
ORCID: https://orcid.org/0000-0003-2361-8957

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License