SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.59 issue1Nuruddin Farah: Selected bibliographyFrom the Spice Islands to Cape Town: The Life and Times of Tuan Guru (Shafiq Morton) author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.59 n.1 Pretoria  2022

http://dx.doi.org/10.17159/tl.v59i1.13474 

BOOK REVIEWS

 

Kosmos en komete

 

 

Kaalwoorde/Ané Kotzé
Pretoria: LAPA, 2020. 104 pp.
ISBN 9780639606286.

kosmos en komete is die debuutbundel van Instagram-digter, Ané Kotzé, wat onder haar Instagramnaam, @kaalwoorde, publiseer. Volgens die bundel se agter-blad word haar sukses "toegeskryf aan haar toegan-klikheid" en dit is myns insiens dieselfde toegan-klikheid wat sorg vir haar groot getal volgelinge op sosiale media.

Met haar debuutbundel het sy haar poësie vanaf die skerm na die bladsy verskuif en sodoende deel geword van 'n internasionale groep digters wat op sosiale media beroemdheid verwerf en daar deur uitgewers raakgesien word, soos Rupi Kaur en Atticus.

Die omslag van die digbundel komplementeer die inhoud daarvan. Die beelde op die voorblad wys 'n halwe gesig en 'n halwe maan wat die kop van 'n mens vorm. Bo-op die maan staan 'n ruimtevaarder wat met sterre omring is. Hierdie beeld beklemtoon die deur-lopende temas van reis, insluitende figuurlike reise soos die soeke na self, die soeke na liefde, en ook fisiese reise waarin landskappe beskryf word. Dit beklemtoon ook romantiese fantasieë en "drome wat soos komete die ruimte ingestuur word" (104).

Die bundel is in twee gedeel. Die eerste deel van die bundel bevat oorspronklike gedigte, terwyl die tweede deel uit gewilde gedigte bestaan wat Kotzé reeds op Instagram geplaas het. Dit gee aanhangers van haar poësie dus die kans om iets nuuts en opwindends te lees, maar ook gemaklik te voel met dit wat sy reeds met hulle gedeel het.

Die gedigte in die bundel skram nie weg van die Instagrampoësie-kultuur nie, alhoewel dit nou op papier verskyn. Dera en Van Der Starre (5) beskryf Instagrampoësie as toeganklik en kort genoeg om in die blokkie van die Instagramplasing te pas. Die gevolg is dat Instagrampoësie gewoonlik kort en visueel baie aanloklik is. Kotzé vergestalt hierdie kenmerk in baie van die bekende gedigte wat sy op Instagram geplaas het en weer in die bundel opgeneem het, asook in die oorspronklike gedigte wat die leser vir die eerste keer in die bundel lees. Die openingsgedig is byvoorbeeld slegs ses reëls lank:

jy teken kosmosse in my

oop spasies asof jy

steeds glo dat daar iets

in my oor is wat

weer kan groei

of kan liefhê. (5)

Die lettertipe en tipografie in die bundel is tipies van Instagramgedigte. Daar word veral gebruik gemaak van die tikmasjienlettertipe wat gereeld in Instagram-gedigte gesien word (Dera & Van Der Starre, 5). Dit verleen ook 'n ouwêreldse, romantiese atmosfeer aan Kotzé se gedigte.

Verder maak sy gebruik van sketse om die visuele effek van Instagram te behou. Dit is interessant dat sy op haar Instagramprofiel nie van sketse of visuele beeide gebruik maak nie. Hierdie toevoeging bied dus vir die getroue @kaalwoorde-volgeling 'n nuwe ervaring met die lees van die boek.

Daar word ook verwysing gemaak na romanse en verliefdheid. Die alledaagse word verromantiseer om in te pas by die eenvoud wat die digter wil uitbeeld. "jy het die manier verander wat ek na die wolke kyk" (17) wys dat iets so gewoon soos wolke as metafoor gebruik word om te beskryf hoe liefde die spreker se perspek-tief verander het. Die spreker se taalgebruik reflekteer veral jong mense se spreektaal, maar ander sal "wat ek na" bloot as anglisisme beskou.

Verskeie gedigte handel oor 'n spreker wat haarself nie van 'n slegte situasie kan losmaak nie en daar is heelwat gedigte wat hierdie tema verken: "seer lyk na virewig / en virewig lyk na jou" (36), "ek weet my hart stuur nog vir jou / poskaarte van al my winters / al het jou adres lankal verander" (60) en "deesdae hoor ek nie meer / my asem bo syne nie / ek hoor skaars myself" (28). Hier beklemtoon sy die feit dat die liefde ook seer kan maak net soos wat dit verromantiseer kan word. Dit kan selfs 'n verhouding en die betrokke individue versmoor.

Die see is 'n belangrike motief in Kotzé se bundel en daar is etlike gedigte wat op verskillende maniere daarna verwys. In 'n gedig waarin die spreker probeer om Ingrid Jonker se selfdood te verstaan, sê sy dat "die golwe 'n lewende bewys is / dat ons gemaak is om te hardloop / na dit wat ons breek" (59). Die gebruik van die frase "lewende bewys" is ironies aangesien hierdie gedig handel oor selfdood. Die kontras tussen die lewe en dood word deur die gebruik van die see-motief in hierdie gedig verteenwoordig. Op soortgelyke wyse word die kontraste wat in onvoorspelbare en gebroke verhoudings kan plaasvind verken: ons hardloop na dit wat ons seermaak.

In "jy is mooi" (57) word die see egter in 'n posi-tiewer lig geplaas. Die titel van hierdie gedig is ook die eerste reël in die gedig: "op 'n manier wat die see onrustig maak". Deur aan die see-motief in hierdie gedig 'n positiewer konnotasie te gee, beeld Kotzé weereens uit dat iets wat ons kan seermaak ook die krag het om ons gelukkig te maak.

Baie van Kotzé se gedigte word as motiverings-gedigte geskryf, met selfverbetering as onderwerp. Hierdie soort gedigte spreek die leser direk aan as "jy" en "jou" en het die doel om die aangesprokene se self-beeld te verbeter, deur reëls soos: "jou foute maak jou mooi / jou trane maak jou mens / en jy is goed genoeg" (80) en "vier jouself / jou mooi, jou lelik / jou foute en jou sukses / vier wie jy is, wie jy word / en hoe ver jy al gekom het / jy verdien dit" (87).

Alhoewel Kotzé se gepubliseerde gedigte soort-gelyk is aan haar Instagramgedigte, neem dit die leser -interaksie weg vanuit haar skryfwerk. Kotzé se profiel is op só 'n manier geskep dat sy en haar skryfwerk toeganklik is vir die leser. Sy skryf ook "custom" ge-digte wat lesers en volgelinge by haar kan aanvra. Hierdie aspek gaan verlore by die gepubliseerde dig-bundel. Anders as op Instagram, sluit sy in haar bundel illustrasies in wat nie noodwendig altyd relevant is tot die inhoud van haar gedigte nie. Dit bied 'n interessante visuele ervaring, maar die minimalistiese effek wat sy op Instagram skep sonder die illustrasies, het 'n impak op die betekenis van haar gedigte wat hier verlore gaan. Die illustrasies is ook deur 'n ander kunstenaar gedoen waar internasionale Instagramdigters soos Rupi Kaur hulle eie illustrasies by hul digbundels insluit wat dit persoonliker maak in plaas daarvan om bloot illustrasies te gebruik ter wille van 'n visuele effek.

Kotzé se digbundel bevat verskeie temas waaraan haar Instagramvolgelinge gewoond is, maar daar is tog verskille, soos die illustrasies, wat die bundel van haar Instagrampoësie onderskei. Die temas is universeel en die leser behoort daarby aanklank te vind. Met die bundel nooi sy haar huidige volgelinge en nuwe lesers uit om deel te word van die Afrikaanse literêre wêreld en maak sy poësie vir alle lesers toeganklik.

Ilze du Plessis
u20795832@tuks.co.za
Universiteit van Pretoria
Pretoria, Suid-Afrika
ORCID: https://orcid.org/0000-0003-3579-7892

 

Geraadpleegde bronne

Dera, Jeroen & Kila van der Starre. "Instagram Poëzie in de Klas." Levende Talen Magazine no. 5, 2011, pp. 4-9.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License