SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.59 issue1Chronology: Nuruddin FarahSol Plaatje: A Life of Solomon Tshekisho Plaatje (Brian P. Willan) author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.59 n.1 Pretoria  2022

http://dx.doi.org/10.17159/tl.v59i1.12706 

BOOK REVIEWS

 

Swatland

 

 

Ashwin Arendse
Kaapstad: Kwela, 2021. 61 pp
ISBN 9780795710070

Ashwin Arendse se debuutdigbundel, Swatland, bevat 'n versameling van vryeversgedigte wat hoofsaaklik in Malmesbury, waar die digter grootgeword het, afspeel. Die bundel kan dus as outobiografies van aard beskou word, want dit strook met ware lewensgebeure en er-varinge uit die digter, sy familie, vriende en gemeenskap se lewens.

Die titel van die bundel is gepas en funksioneel, want dit is duidelik uit die inhoud dat die spreker trots is op sy herkoms en die ervaringe wat hom help skep het tot die mens wat hy vandag is. Hy skryf sonder skaam en sentiment oor sy ervaringe in die Swartland en dus lees die bundel soos 'n ode aan sy geboorteplek en sy mense.

Die bundel open met 'n aangepaste aanhaling uit die drama Marat/Sade (1963) deur Peter Weiss en hierin word 'n deurlopende tema in die bundel, ongelykheid, aangespreek:

Don't be deceived when our Revolution has been finally stamped out and ... they pat you paternally on the shoulder and say that there's no inequality worth speaking of and no more reason for fighting. Because if you believe them they will be completely in charge in their marble homes and granite banks, from which they rob the people of the world under the pretence of bringing them culture.

Die motto sê dalk ook iets van die belangrikheid daarvan om jou persoonlike waarheid en realiteite vas te pen, sodat jou storie en geskiedenis nie uit die perspek-tief van ander hoef vertel te word nie.

Aan die begin van die bundel is daar ook 'n aanhaling uit Pokémon, die Japannese animasiereeks (anime), en dit verklap dalk iets oor die generasie waarvan Ashwin deel uitmaak. Pokémon was een van die bekendste animasiereekse van die vroeë 2000's. Die verwysings na animasie is veral gepas omdat die bundel soos 'n coming of age-storie lees-die leser volg die jong spreker vanaf sy dae in Malmesbury as skoolkind, en dan later na Stellenbosch, as student. Dit herinner my aan 'n ge-dig uit Ryan Pedro se digbundel pienk ceramic hondjies (2020) waarin die belangrike rol wat anime in die lewens van veral jong seuns se lewens speel sowel as die escape wat dit vir hulle bied, beskryf word. Seuns uit hierdie generasie identifiseer sterk met veral die hoof-karakters in anime-reekse soos Pokémon en Dragon Ball Z, want dit gee vir hulle die nodige selfvertroue. Pedro verwoord dit goed wanneer hy skryf hoedat jong seuns:

hulle koppe blond gedye en vol visions

van met gebalde vuiste vlieg in die rigting

van villians wat van ver kom

om hulle te challenge en

hulle full potential te unlock; (23)

In Swatland leer ken ons karakters soos die spreker se ma, stiefpa, oupa, ouma, vriende in Malmesbury en Stellenbosch, Pappa Klasie, Jennifer, Angelo wat hom van sy selfoon beroof het en selfs sy perd, Ameerah. Almal kleurvolle en soms snaakse mense wat die Swartland, soos ervaar word deur bruin mense, vir ons lewendig maak. Die spreker se pa is afwesig, maar dis veral sy verhouding met sy oupa waarby ek aanklank vind. Baie kinders op die Vlaktes word grootgemaak deur hul grootouers. Die sterk band met en liefde wat die spreker vir sy oupa het word saamgevat in die laaste gedig "Blackletter" (60):

No matter what,

op my grafstien moet daa staan

in italics, inne Blackletter font:

Gebore innie Swatland

dood in liefde

onne sy oupa se vlerk. (61)

In die openingsgedig "Liberty life" (9), deel die spreker hóé hy graag eendag sal wil sterf. Hy wil hê dat sy ma uit sy dood moet baat sodat sy haar skuld ten volle kan afbetaal. Dit is duidelik dat die spreker lief vir sy ma is. Sy grootste hoop vir haar is 'n sorglose bestaan sonder sukkel, daarvoor is hy bereid om met sy lewe te betaal. In hierdie gedig leer ons ook dat die spreker dalk 'n hegte breë familie het wat mekaar in tye van nood uithelp en ondersteun. Die anties en uncles leen vir sy ma geld en hulle sal haar ook kan troos as hy die dag moet sterf. In die slotreëls staan geskryf hy weet sy ma het:

[...] bgoes en sustes

op wie se skoue sy kan hyl

wanne sy oppe dag haa laitie mis.

Die bundel is in tipiese Kaaps geskryf, maar met die uitsondering van die gebruik van die bry-klank wat tipografies met 'n g-simbool in die teks voorgestel word. Met die insluiting van die bry-klank, druk Ashwin sy eie unieke stempel af op die Afrikaanse letterkunde. Dit is verfrissend en 'n welkome toevoeging tot die literêre landskap. Interessant genoeg is daar nie 'n totale afwesigheid van die "r"-klank nie, selfs wanneer die spreker aan die woord is. Die "r"-klank word by beide Afrikaans en Engelse woorde gebruik. In die gedig "Blou gobot" (10) is daar byvoorbeeld die Engelse woorde "Crying", "recipe" en "target" en by "Ndodas" (13) is daar die Afrikaanse woorde "karre", voowaare" en "byrie". Dis nie duidelik waarom sekere woorde die bry-klank bevat en ander nie.

Hier en daar is daar woorde en frases wat dalk as streeksterme beskou kan word omdat dit nie noodwendig gebruik word deur 'n groot aantal lede van die Kaapse taalgemeenskap nie. In die gedig "Phantom of the Oprah" (42) sê die spreker byvoorbeeld:

Vanne paa jaa geliede af is my tanie se slaapkame die beste plek om laitie te mos.

'n Meer algemene term vir masturbeer in Kaaps is "skommel", en hier gebruik die spreker die frase "laitie te mos" en later in die gedig "laitie weggesmyt" in die plek daarvan. Dis 'n bewys daarvan dat Kaaps van streek tot streek kan verskil en sekere woorde uniek aan 'n streek mag wees. Dis goed so ook, dit verbreed en verryk Kaaps as variëteit.

Tematies sluit die bundel aan by vorige werke wat in Kaaps geskryf is. Hoewel die gebeure nie op die Kaapse Vlakte afspeel nie, bly die maatskaplike euwels soos armoede, huishoudelike geweld, mishandeling, dwelm- en alkoholmisbruik, ensovoorts dieselfde. Die tematiek in die bundel sluit sterk aan by kontemporêre manlike swart stemme soos dié van Nathan Trantraal en Ryan Pedro. Hierdie drie se werk is elkeen uniek, maar dit lees asof dit in gesprek met mekaar is. 'n Absolute vreugde en belewenis. In die gesprek deel hulle stories oor veral die toxic mans in hul lewens, die meisies op wie hulle verlief was op skool, die handelsmerke wat as merkers van identiteit vir hulle dien, die huishoudelike geweld wat hulle al aanskou het, die musiek, boeke, speletjies en TV-programme wat 'n indruk op hul lewens gemaak het, hulle ma's en oumas en die mense in hul gemeenskappe.

In die gedig "Jentwo (I choose you)" (23) skryf Ashwin byvoorbeeld oor 'n meisie by die skool:

Jennifer wassie light-skinned coloured innie klas.

Jennifer het altyd klompie burkies gehad

wat om haa gecircle et soes daai

"Ggeased Lightin"-naies, as hulle

die bombshell begin harass met hulle song and dance.

[.]

Jennifer het oppe te jong ouderdom

gelee hoe om hard to get te speel.

Tienie tyd toe sy oppie hoëskool land

was Jennifer al moeg van nuu sê.

Dit het dadelik herinner aan die gedig "Esprit" uit Nathan Trantraal se Chokers en survivors (2014) waar hy ook oor 'n meisie in sy gemeenskap skryf:

Riefka het vroeg gelee

dattie way na 'n man se hart

dee haa mag is.

Sy wasse druggie op dêtien

enne prossie op vyftien.

Riefka wasse mooi meisie.

Ammel was mal oo haa oë

wat somtyds blou was

en somtyds groen. (16)

In Swatland word die belangrike tema van toxic masculinity aangeroer in die gedig "Ndodas" (13). Die stereo-tipe wat glo mans mag nie huil nie, kom hier na vore. Die spreker gaan op 'n kamp met sy vriend, die vriend se pa en ander ouer mans. Die vriend se pa deel 'n kwes-bare storie met sy vriende:

Fokkol te doen met fokkol,

Begin hy ytpak oo sy failed suicide attempt vie jaa geliede.

Daa val 'n doodse stilte soortgelyk

anne moment of silence virrie mense

wattie mee saam ôs issie.

Terwyl Marco se pa tgy beslyt of hy

moet claim it wasse joke,

bas alle anne daddies yt vannie lag

en call hom 'n toetie. (15)

Dit herinner aan die gedig "pienk ceramic hondjies" (53) van Ryan Pedro waar die mans ook so lag en lag bo-oor die getjank van die hond, Rex, en die "sobs" van die spreker.

Die deurlopende tema van ongelykheid, rassisme (in veral klein dorpies), klassisme en wit voordeel kom sterk na vore in Swatland in gedigte soos "Blou gobot" (10), "Kassieman" (17), "Boerentwinnag" (19), "Swatland" (29), " Wicked keeper" (33) ,"Oubaas se honne" (40) "Dennis the Menace" (50) en "Is altyd lente in Stellenbosch" (51). Verder is daar vele meer om te ontgin in hierdie opwindende debuutbundel. Die lees van die bundel was soos om geld in 'n baadjie se sak te kry waarvan jy vergeet het. Dit was heeltyd daar, jy moes net jou hand in die sak steek.

Swatland is eerlik, snaaks en roerend geskryf. Dit trek die leser in die leefwêreld van die spreker in en laat jou regop sit. Ashwin Arendse se stem is so vars soos sy bry-klank in die Afrikaanse letterkunde en daar kan met opgewondenheid uitgesien word na sy bydrae in die toekoms.

Shirmoney Rhode
shirmoneyrhode@gmail.com
Universiteit van Wes-Kaapland
Kaapstad, Suid-Afrika
ORCID: https://orcid.org/0000-0002-1012-5830

 

Geraadpleegde bronne

Trantraal, Nathan. Chokers en survivors. Kwela, 2014.         [ Links ]

Pedro, Ryan. pienk ceramic hondjies. Kwela, 2020.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License