SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.59 issue1Nuruddin Farah: A pas de deux across The World Republic of LettersNuruddin Farah: Selected bibliography author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.59 n.1 Pretoria  2022

http://dx.doi.org/10.17159/tl.v59i1.13299 

BOOK REVIEWS

 

Nomadiese sterre

 

 

Joan Hambidge
Pretoria: Protea Boekhuis, 2021. 81 pp
ISBN 9781485312635

Die jongste digbundel van Joan Hambidge is kontem-platief van aard soos blyk uit die openingsgedig: "So teen hierdie latenstyd 'n terugkeer / na konflik onver-werk; / daardie onthoue en afranselinge opdat jy anders was" (11). Die spreker neem bestek op van onder meer die volgende aspekte van haar lewensreis: psigososiale ontwikkeling as queer kind, haar literêre bydrae en die rol van ontslape geliefdes. Die belewing van die queer kind is vir my die boeiendste aspek, omdat die queer leser sy of haar ervarings kan meet aan spesifieke in-houde wat Hambidge aksentueer. In dié opsig tree Hambidge-soos dikwels in haar oeuvre-in gesprek met breër teoretiese diskoerse. Betreffende haar literêre representasies van queer jeug is daar skakels met die teoretiese insigte van onder meer Eve Kosofsky Sedgwick en Kathryn Bond Stockton.

Die vertroue in astrologiese lotsbestemming word herhaaldelik in die bundel bevestig en kom veral daarop neer dat die spreker en haar ouers se saligheid lankal in die sterre geskryf is. Dié aspek word op 'n intelligente manier beklemtoon deur Hambidge se astrologiese kaart agterin die bundel. Dit vorm 'n aanvullende in-terpretasiesleutel en sluit nou aan by die ontginning van populêre kultuur in die Hambidge-oeuvre. In haar populêre skatkis kan jy enigiets te wagte wees- parfuumadvertensies, onderbroekmodelle, handelsname en 'n hele paar toeristeaanloklikhede. Hambidge se geboortekaart (soos voorberei deur die astroloog, Tracy Shaw) sluit goed aan by die idee van beweeg-likheid en verandering wat deur die bundeltitel beklemtoon word.

Die sprekers in Hambidge se digkuns is in murg en been rustelose swerwers (verlore siele in hul nood, aldus H. A. Fagan). In die gedig, "Nomaad", vorm die nomadiese ingesteldheid deel van die spreker se nadenkende perspektief: "Te lank uit en tuis sodat die self soos die gedigte / altyd op soek was na nuwe, on-begonne weivelde" (38). Tog verteenwoordig Nomadiese sterre meer as besinning. Gedigte soos "Bome" en "Swart swaan" dui op aflegging van die aardse bestaan. Dit is deesdae vir Hambidge 'n geval van "cutting down to size" (44).

Hambidge is bekend vir die skryf van metapoësie. Die digproses in haar volle kompleksiteit bly 'n te-matiese obsessie en vergestalt weereens in 'n gedig soos "Hierdie is nie 'n liefdesvers nie" (17). Die ironie is dat hierdie vers-oor-'n-liefdesvers steeds 'n liefdesvers bly, afgesien van die spreker se voorbehoude en ontkenning. Gedigte soos "Wanneer jou analis sterf" (63), "Ek skryf my potlood stomp" (64) en "Ars poetica II" (67) is verdere voorbeelde van gedigte oor die digkuns as 'n kreatiewe proses. 'n Oorspronkliker variasie op hierdie bekende tema is "Prosopopeia", waarin die digter as 'n koggelmander voorgehou word wat "koggel-koggel uit die vergeetboek / van onthou" (68) en "swart deelte-kens / uitspoeg teen die wit muur" (69). Slim woordspel en verrassende beelde soos dié is volop in Hambidge se jongste werk. Daar is aansienlik minder te bespeur van ou hebbelikhede soos onsinnige motto's, oordadige intertekstuele verwysings en geykte woorde. Die snoeiskêr se lemme is skerper en uiteindelik lei dit tot beter verse.

Soos dikwels in haar oeuvre, tree Hambidge in die vorm van palinodes in gesprek met mededigters. 'n Geslaagde voorbeeld is "Ignatia bid vir haar orde" (18)-'n dubbele toespeling op Van Wyk Louw en Breytenbach. 'n Ander voorbeeld is "Die groot Tempel" waarin sy die gevestigde raadpleging met haar digtersvriend, Johann de Lange, voortsit. Sy verwys byvoorbeeld na hom as "my toeverlaat en praatpendant" (65). Die Amerikaanse digter, Wallace Stevens, tree ook as gespreksgenoot op.

Twee interessante gedigte is "Nag" (28) en "Lamp-paal" (29), wat beide getuig van Hambidge se bedrewen-heid met vaste versvorme soos die kwatryn en haikoe. Hierdie voorbeelde beklemtoon dat trefseker woorde-konomie en streng vormdissipline steeds 'n plek in kon-temporêre poësie het. Hambidge was nog nooit skrik-kerig om te eksperimenteer met ongewone digvorme nie. Haar weergawe van 'n paradelle in "Die ongedanste dans" (73) dui op waagmoed. 'n Paradelle is 'n parodie van die villanelle-'n relatief ingewikkelde digvorm. 'n Parodie hiervan verg verstegniese kennis en 'n sin vir vermaak-twee vaardighede waaroor Hambidge sonder twyfel beskik. Meer nog is haar paradelle ook 'n eerbetuiging aan Breyten Breytenbach-'n woordskilder wat bekend is vir eiesoortige kaperjolle.

Hambidge is 'n gedugte optekenaar van verlies. Die lykdigte oor medeskrywers in die vierde afdeling is 'n hoogtepunt en veral "Gisela Ullyatt (1977-2020)" trek die aandag. Ullyatt se debuutbundel, Die waarheid oor duiwe (2020), verskyn kort voor haar dood aan kanker. In haar lykdig bring Hambidge hulde aan hier-die belowende digter en bied insigryke kommentaar oor die rol van digkuns in die verwerking van verlies.

Die slotafdeling, "Witbank-blues", bestaan uit tien gedigte wat gesamentlik 'n mini-outobiografie en 'n familiegeskiedenis van 'n middelklasgesin vorm. Die sinvolle gebruik van verwysings na musieksnitte, popkultuur, kinderspeletjies en sosiopolitieke omstan-dighede verstewig die outentieke representasie van 'n sensitiewe eenkantkind se ervarings gedurende die 1960's en 1970's. Die dele oor die jong spreker se sosiale aweregsheid en antinormatiewe seksualiteit lewer veral 'n belangrike bydrae tot 'n sterker outobiografiese be-wussyn in die Afrikaanse queer poësie. Kritiese genderkommentaar vorm ook deel van die spreker se optekening van haar queer jeug: "Haar kwispelende tong verlos my vir ewig en altyd van ringe / en kondome met 'n man op 'n meerdoelige, onrustige dubbelbed" (81). Die representasie van queer jeugervarings is 'n aspek van Hambidge se oeuvre wat meer aandag verdien. Dieselfde geld haar gedigte oor psigoanalitiese kwessies insluitend dié waarin sy diskoerse voer met en oor psigoanaliste en hulle families. 'n Goeie voorbeeld hiervan is "Jung aan Emma Jung" (13).

Hambidge se nuutste toevoeging tot haar uitgebreide digoeuvre getuig van bevredigende afronding. In 1985 was dit 'n hartskrif, maar nou is dit 'n deur-winterde onthouboek. Uiteraard met 'n massakoor van stemme en stemminge tussenin.

Neil Cochrane
cochrni@unisa.ac.za
Universiteit van Suid-Afrika
Pretoria, Suid-Afrika
ORCID: https://orcid.org/0000-0001-7630-0585

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License