SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.59 issue1Anxiety and influence in Nuruddin Farah and younger Somali writersNuruddin Farah: Variations on the theme of return author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.59 n.1 Pretoria  2022

http://dx.doi.org/10.17159/tl.v59i1.9466 

RESEARCH ARTICLES

 

Gewete, transformasie en herinnering op die Rooiplein

 

Conscience, transformation and memory on the Red Square

 

 

Karin van Marie

Professor in die Departement Publiekreg, Fakulteit Regte van die Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, Suid-Afrika, waar sy Regsfilosofie doseer. Haar navorsing is gemoeid met vrae aangaande die moontlikheid van transformasie en die rol daarvan in kritiese regsleer. E-pos: vanmarlek@ufs.ac.za; https://orcid.org/0000-0002-7798-0962

 

 


ABSTRACT

In this article, I rely on a number of theoretical approaches to reflect on the possibility of the transformation of universities, in particular the University of the Free State (UFS). A starting point is the role of public space in a transforming society with emphasis on universities as public spaces. A 'site of conscience' approach, namely an approach to public space that endorses a critical and active engagement with the past to reflect on enduring injustice, is followed to reflect on the Red Square (the nickname derived from the red brick with which the 'President's Square' was built), a prominent space on the campus of the UFS. Suggestions on how the space can be re-interpreted are considered. "Reconciliation" as featured in the work of Hannah Arendt and "Reflective nostalgia" (Boym) are relied on to contemplate the potential of the Red Square as a space of transformation and as a space of conscience. The potential of reconciliation to create a shared world that makes a plural cohabitance possible is considered. I am not arguing that reconciliation could or should take place but that conversations on what reconciliation may entail could be of value. Reflective nostalgia embraces the ambivalence of belonging and provides for multiple homes. I suggest the idea of reflective nostalgia as a possible way by which the past and figures from the past can be remembered in a critical way as it discloses multiple narratives and embraces conflicting perspectives.

Keywords: university, public space, space of conscience, transformation, reflective nostalgia, University of the Free State.


 

 

Inleiding

'n Aantal idees is belangrik vir die argument wat ek ontwikkel in hierdie artikel:

Eerstens, dat openbare ruimtes 'n sentrale rol kan speel in die transformasie van 'n samelewing (Young, "Impartiality and the Civic Public: Some Implications of Feminist Critiques of Moral and Political Theory" 56). Daarmee saam, dat die transformasie van die breër konsep van publieke ruimte ook van belang is. Die stad, en daarmee saam die idee van 'n stadslewe, kan bevorderlik wees vir die omarming van verskille en heterogeniteit in openbare ruimte(s) (Young, Justice and the Politics ofDifference 226).

Tweedens, dat die verlede, hoe daarmee omgegaan en hoe dit uitgebeeld word, belangrik is vir die proses van transformasie. In hierdie opsig is 'n "site of conscience"-, oftewel gewetensruimtebenadering nuttig. Dit plaas die fokus op spesifieke historiese gebeure wat tot menseregteskendings gelei het ten einde die ongeregtigheid daarvan te beklemtoon en 'n bewuste omgaan met die verlede aan te moedig. Alhoewel narratiewe van herinnering gewoonlik gebonde is aan 'n gegewe plek en tyd, word daar toenemend meer ondersoek ingestel na transnasionale herinnering. Transnasionale herinnering behels onder andere dat herinneringsprojekte verby die grense van die nasiestaat moet strek deur globalisering of universalisering van herinnering te ondersoek (Sierp en Wüstenberg 322). Alhoewel my fokus in die artikel op die Universiteit van die Vrystaat (UVS) en die Rooiplein as gewetensruimtes is, en nie op transnasionale herinnering as sodanig nie, maak die rol wat gewetensruimtes in die internasionale konteks speel wel moontlikhede vir transnasionale herinnering oop. Ek verwys in die artikel byvoorbeeld na die voormalige rektor van die UVS wat studenteleiers op reise na Pole en Duitsland gestuur het om te gaan leer hoe daardie lande en gemeenskappe omgaan met ongeregtighede uit die verlede. Deel van die transformasie van die universiteit behels myns insiens om krities met nasionalisme om te gaan en die moontlikhede wat transnasionalisme bied as alternatief te oorweeg.

Derdens, dat die universiteit as publieke ruimte kan bydra tot transformasie maar self ook transformasie moet ondergaan. Die verhouding tussen universiteite en die stede waarin hulle geleë is, is in hierdie opsig interessant. Kaapstad en Makhanda, tot onlangs nog Grahamstad, toon byvoorbeeld spore van Britse kolonialisme; Johannesburg dié van kapitalisme; en Stellenbosch, Pretoria en Bloemfontein dié van Afrikanernasionalisme. Hierdie stede, soos die universiteite wat binne hulle ontstaan het, reflekteer 'n geskiedenis van rasse-ongelykheid (Mbembe 29; Mamdani 68).

Teen die agtergrond van transformasie en met behulp van 'n gewetensruimte-benadering ondersoek ek die gedagte dat die universiteit bedink kan word as 'n ruimte met 'n gewete, wat herinnering en etiese verantwoordbaarheid weerspieël. Ek fokus op die UVS en spesifiek die ruimte wat bekend staan as die Rooiplein, waar die standbeelde van M. T. Steyn (die sesde en laaste president van die voormalige Republiek van die Oranje Vrystaat) vanaf die oprigting daarvan in 1929 tot so onlangs soos Junie 2020, en dié van C. R. Swart (apartheidpresident, 1961-1967) vanaf oprigting in 1991 tot en met 2016, gestaan het. Die amptelike naam van die plein is Presidentsplein, maar dit het nooit posgevat nie: die plein staan bekend as die Rooiplein (of Rooi Plein), waarskynlik te wyte aan die rooi bakstene waarmee dit gebou is (Universiteit van die Vrystaat 196). Beide die standbeelde van Steyn en Swart staan in die teken van 'n sekere nasionalistiese ingesteldheid en is opgerig met die oogmerk om 'n spesifieke geskiedenis en herinnering te eer, tot uitsluiting van ander.

 

 

Verder bedink ek die rol wat die Rooiplein kan speel in die transformasie van die universiteit as openbare ruimte en as plek van onderrig, maar ook in die transformasie van Bloemfontein as stad. Hoe kan die universiteit en die stad krities omgaan met nasionalisme en gesprekke aangaande transnasionalisme betree? Kan gesprekke rondom versoening en refleksiewe nostalgie 'n rol speel?

Dat openbare protes aangeteken word teen standbeelde as manifestasies van 'n verlede van onreg wat steeds voortduur, is nie 'n nuwe verskynsel nie. Openbare ruimtes, monumente, gedenktekens, straatname en ander openbare kulturele merkers is al sedert die middel-1990s deel van die openbare diskoers. Die kwessie van standbeelde op universiteitskampusse, en daarmee saam die oproep na dekolonisering van universiteite, het nuwe dryfkrag gekry met die protesaksies teen die standbeeld van Rhodes op die kampus van die Universiteit van Kaapstad (UK) in 2015 (Knudsen en Andersen 239).

Sulke betogings is egter nie tot Suid-Afrika beperk nie. Regoor die wêreld word daar toenemend aandag geskenk aan simbole van die verlede wat nog staande bly. In die afgelope twee jaar, na aanleiding van die moord op George Floyd in die VSA, is onder die vaandel van #Blacklivesmatter aangedring op die "val" van veral standbeeide wat figure uit die verlede wat groot onreg gepleeg het, eer. Kwessies rakende ras, mag en hoe dit verbeeld word, word al hoe meer deel van die transnasionale diskoers.

Die standbeeld van Rhodes op die kampus van die UK, soos die standbeelde van Steyn en Swart op die kampus van die UVS, is verwyder. Wat egter vir my interessant is, is die ruimte wat agtergebly het ná die verskuiwing. Wat simboliseer dit wat agterbly? Wat is die moontlike betekenisse van die voetstuk in die geval van Rhodes of in ander gevalle die landskapsargitektoniese ruimtes wat oorbly ná standbeelde verskuif is?

Ek fokus op die Universiteit van die Vrystaat en spesifiek die ruimte wat bekendstaan as die Rooiplein. Die UVS het 'n lang en moeilike geskiedenis van onder andere uitsluiting en rassisme. Vanaf die vroeë 1990s is vele pogings aangewend om die universiteit te transformeer. Die landswye studentebetogings van 2015 téén die stadige pas van transformasie en blywende sosio-ekonomiese ongelykheid, en vir dekolonisering het ook afgespeel op die kampus van die UVS (Van der Merwe en Van Reenen 1). Die kwessie rondom die standbeeld van M. T. Steyn het toe reeds onder die loep gekom. Die standbeeld is ná 'n lang proses van raadpleging in Junie 2020 van die Rooiplein verwyder , waarna dit verskuif is na die Oorlogsmuseum in Bloemfontein.

Die vraag wat dan volg, is: Wat is die betekenis van die spasie wat agterbly op die kampus van die UVS ná die verwydering van Steyn op die Rooiplein? Ek verwys hier onder na 'n erfenisstudie wat onderneem is oor die vraag rondom wat gedoen moet word met die standbeeld van Steyn. 'n Taakspan het 'n dokument saamgestel aangaande die herinterpretasie van die Rooiplein. Die verslag onderstreep die proses van herinterpretasie van die Rooiplein wat moet plaasvind. Ek bespreek die voorstelle hieronder.

Die artikel ontvou soos volg: ek begin deur te besin oor die belang van publieke ruimte(s) vir die proses van transformasie en daarmee saam die transformasie van publieke ruimtes. Ek kyk ook na wat 'n gewetensruimtebenadering behels. Daarna besin ek oor die universiteit as publieke ruimte en die belang van die transformasie daarvan, ook met verwysing na pogings om die UVS te transformeer vanaf 2010. Ek sluit af met die verwydering van die standbeelde van Steyn en Swart en die moontlikhede wat die Rooiplein voortaan kan inhou vir transformasie, etiese besinning en pedagogie.

 

Publieke ruimtes, transformasie en gewetensruimtes

Die vraag oor hoe met publieke ruimtes, insluitende museums, monumente en gedenktekens, omgegaan behoort te word, het vanaf die middel-negentigs baie aandag begin kry in Suid-Afrika as deel van 'n (her)besinning wat publieke geskiedenis en geheue betref. Internasionaal het museumkundiges hulself verbind tot groter insluiting tydens die oprig van museums. Ook in Suid-Afrika is gesprekke gevoer oor hoe museums en alle publieke ruimtes met die land se gelaagde geskiedenis en sosiale erfenis sou kon omgaan (Coombes 7). Die verrigtinge van die Waarheids- en Versoeningskommissie en die spesifieke openbare aard daarvan het 'n belangrike rol gespeel in die proses om te herbesin oor herinnering en geskiedenis in publieke Suid-Afrikaanse ruimtes. Coombes (10) wys op twee historiese perspektiewe rakende die publieke sfeer wat binne die Suid-Afrikaanse konteks na vore gekom het. Aan die een kant is daar die poging om nuwe gemeenskaplike nasionale geskiedenisse te skep, en aan die ander om eerder aandag te gee aan individuele stories. Die taak van museums is om hierdie perspektiewe op die geskiedenis en hoe dit onthou word, te bemiddel. Openbare ruimtes kan derhalwe 'n belangrike rol speel in die skep van 'n deelnemende demokrasie en aktiewe burgerskap soos onderskryf deur die Grondwet. Die fokus in hierdie artikel is spesifiek op gewetensruimtes.

Die Internasionale Koalisie van Gewetensruimtes (International Coalition of Sites of Conscience) is in 1999 in die VSA gestig. Die organisasie verteenwoordig Gewetensruimteorganisasies van dwarsoor die wêreld. (Sevcenko en Russel-Ciardi 9; Steele et al. 6) Die sentrale oogmerk van die koalisie is om krities te besin oor die rol wat museums kan speel in die uitbou van demokratiese ideale. Voorbeelde van museums wat as gewetensruimtes funksioneer, sluit in die "Workhouse" in die Verenigde Koninkryk; die Martin Luther King Nasionale Historiese Ruimte in die VSA en die Distrik Ses-museum in Kaapstad. Die koalisie beskryf hul gemeenskaplike uitgangspunt as volg: "We hold in common the belief that it is the obligation of historic sites to assist the public in drawing connections between the history of our sites and its contemporary implications. We view stimulating dialogue on pressing social issues and promoting democratie and humanitarian values as a primary function" (Sevcenko en Russel-Ciardi 10).

Getrou aan hierdie oogmerk beskou die lede van die koalisie dit as hul taak om gemeenskapsdeelname aan besinning oor kontemporêre kwessies aan te moedig. Geskiedkundige ruimtes en die rol wat hulle kan speel in die bevordering van demokrasie, spesifiek as sentrums van publieke dialoog, is sentraal tot die werk van die koalisie. Die stigterslede gee toe dat daar nie enige konsensus is oor wat presies 'publieke dialoog' en 'publieke deelname' beteken nie, maar beskou dit as fundamentele boustene van demokrasie. Sevcenko en Russel-Ciardi (11) besin in hierdie opsig oor die mate waartoe sekere museumkundiges skepties staan teenoor 'politiek'. Hulle siening is dat politiek, omskryf as die "often conflicting interrelationship between people in a society" (11), fundamenteel is tot die uitbou van 'n demokratiese kultuur en demokratiese prosesse. Dat daar nie-eenstemmigheid bestaan oor die geskiedenis, is iets waarvoor gewetensruimtes plek kan maak deur verskillende mense met verskillende sienings byeen te bring om hul persoonlike ervarings van die geskiedenis te deel. Die omgaan met die geskiedenis is ook daarop gemik om die verlede met die hede in gesprek te bring. Die Koalisie van Gewetensruimtes het 'n verskeidenheid programme op die been gebring wat publieke gesprekvoering en deelname kan aanmoedig. Die Distrik Ses-museum gebruik byvoorbeeld die gebeure rondom die gedwonge verskuiwings van die verlede ten einde kontemporêre kwessies aangaande ras onder die loep te neem. Die feit dat die Grondwetlike Hof op Constitution Hill opgerig is, op die perseel van die Ou Fort waar politieke gevangenes in die verlede gehuisves is, onderstreep die belang daarvan om die onregte van die verlede te onthou in die proses om 'n nuwe demokrasie te skep. Van die uitdagings wat die oprig van gewetensruimtes inhou, sluit die volgende in: die huiwering van hoofrolspelers om moeilike geskiedenisse te konfronteer, die afwesigheid van ondersteuning van die regering, en die kompleksiteite rondom versoening tussen slagoffers en oortreders (13).

Gewetensruimtes word dus verstaan as plekke van herinnering-museums, geskiedkundige terreine en gedenktekens-wat die geskiedenis interpreteer met verwysing na plek, wat programme skep wat dialoog aangaande dringende sosiale kwessies stimuleer, wat humanitêre en demokratiese waardes bevorder, en wat geleenthede vir publieke samewerking skep (Cuéllar en Milosevic).

Steele et al. (1) noem dat gewetensruimtes nie slegs daarmee gemoeid is om die verlede te onthou nie, maar ook om maniere te bedink om die uitdagings van die toekoms te konfronteer. Gewetensruimteorganisasies probeer om die uitwissing van historiese onregte te verhoed en staan krities teenoor die skep van amptelike geskiedenisse wat 'n enkele, gemeenskaplike geheue afdwing. Só 'n benadering tot die verlede wil dit nie slegs onthou nie, maar poog om geheue aktief in te span om onreg wat in die hede voortduur, te konfronteer. Die outeurs onderstreep ook die belang van 'n veelheid van weergawes van die verlede en die hede, en hoe dit op spesifieke ruimtes van toepassing is. Die idee onderliggend aan gewetensruimtes is dat hulle deel vorm van breër strategieë van herstel (7).

Gewetensruimtes speel 'n belangrike rol in die proses van genesing deur tegelykertyd die beperkinge van formele regsprosesse uit te wys en ook aan te vul. Met die oprig van die Distrik Ses-museum in Kaapstad was lede van die gemeenskap byvoorbeeld aktief betrokke. Die oorspronklike kaart van die area wat die onderste vloer van die museum beslaan, is gebruik as 'n bewys in die geregtelike proses van restitusie wat ingestel is (Steele 10). Die spesifieke eis om restitusie was nie suksesvol nie, juis as gevolg van botsende narratiewe en eise in en van die gemeenskap. Die museum en die herinneringe wat dit vergestalt, speel 'n belangrike rol in die erkenning van trauma en ongeregtigheid en kan selfs 'n rol speel in die bou van 'n beter toekoms.

Alvorens ek fokus op die universiteit as publieke ruimte en moontlike gewetensruimte met spesifieke verwysing na die UVS, wil ek daarop wys dat die konsep van gewetensruimtes nie in die eerste plek binne 'n teoretiese of akademiese konteks ontstaan het nie, maar eerder afkomstig is vanaf museumpraktyk. Museumpraktisyns het naamlik geworstel met hoe omgegaan behoort te word met botsende weergawes van die verlede en in baie gevalle ook botsende opinies aangaande die voortduur van die ongeregtighede van die verlede. Daar sou argumenteer kon word dat die werk van Pierre Nora (7-24) en spesifiek sy formulering van "les lieux de memoire," oftewel "plekke van onthou", as teoretiese inspirasie gedien het vir die werk aangaande gewetensruimtes. Nora (8) tref 'n onderskeid tussen geheue ("real memory") en geskiedenis. Hy argumenteer dat geskiedenis, wat die opskryf van feite behels, geheue ongedaan maak en selfs uitwis. Hy beskryf geheue soos volg: "life, borne by living societies founded in its name." (8). Geheue verander ook deurlopend en sluit die dialektiese spel tussen om te onthou en te vergeet in. Geskiedenis behels prosesse van rekonstruksie wat altyd problematies en ook onvoltooid is (8). Verder koppel hy geheue aan die hier en nou en geskiedenis aan die verlede. Laasgenoemde hou veral verband met 'n siening van gewetensruimtes as gerig op die hede en toekoms eerder as die verlede.

Wat ek ondersoek, is tot watter mate universiteitsruimtes, insluitend die geboue en standbeelde en kunswerke, as gewetensruimtes beskou kan word. En indien wel, of dit die rol wat universiteite kan en behoort te speel in die transformasie van die samelewing en die bou van demokratiese burgerskap kan versterk, terwyl dit tegelykertyd pedagogiese praktyke kan verdiep.

 

Universiteite as publieke ruimtes en gewetensplekke

In Suid-Afrika is universiteite gevestig as uitbreidings van die koloniale en later die apartheidsverbeelding. Mamdani (70) merk op dat die moderne Afrika-universiteit 'n produk was en steeds is, nie van pre-koloniale instellings nie, maar van die koloniale moderniteit. Die moderne koloniale universiteit is in Afrika geskep met die aanvanklike doel om die Europese model te reproduseer en gevolglik om studente voort te bring wat 'n metropolitaanse kultuur kon bevorder. Universiteitsargitektuur boots óf koloniale grootsheid na, óf versinnebeeld apartheid se ruimtelike beplanning en maatskaplike manipulasie. En natuurlik weerspieël diegene wat by universiteite werk, dieselfde.

Studenteproteste het prominent geword toe studente by die UK die verwydering van die standbeeld van die kolonialis Cecil John Rhodes geëis het. Hierdie protes was nie slegs gemik teen die nalatenskap en erfenis rondom Rhodes nie, maar ook teen die mate waartoe hierdie nalatenskap, een van uitsluiting en rassisme, voortgesit word. Achille Mbembe (29) begin 'n betragting van die begrip "dekolonisering" deur die kwessie van die Rhodes-standbeeld op te roep. Hy stel dit ondubbelsinnig dat só 'n standbeeld geen plek op die kampus van 'n universiteit het nie; net soos ander simbole, prente of beelde wat figure wat die menslikheid van swart mense negeer het, verteenwoordig. Ons moet hier ook bedag wees op projekte wat in die naam van wetenskap en navorsing die kultuur, liggame en nalatenskap van eerste nasies en gekoloniseerde mense, toeëien. Navorsing oor die intellektuele geskiedenis van Suid-Afrika ontbloot al hoe meer die aandadigheid van universiteite in die aktiewe ondersteuning van die apartheidsbeleid (Eloff, "Afrikaner Nationalism, Apartheid and the Perversion of Critique" 175).

Om terug te keer na beelde, afbeeldings en simbole wat koloniale en apartheidsfigure en nalatenskappe vier: een siening is dat dit alles sonder twyfel verwyder moet word. 'n Ander is dat mens dalk 'n terrein-vir my doeleindes 'n kampus-kan diversifiseer, deur nie dít wat 'n sekere geskiedenis simboliseer te verwyder nie, maar eerder nuwe simbole van helde van die vryheidstryd daar by te voeg of geboue te hernoem na alternatiewe historiese figure. Ek verwys hieronder na só 'n voorstel wat oorweeg is in die konteks van die gesprekke aangaande die standbeelde van Steyn en Swart op die Bloemfonteinkampus. 'n Moontlike probleem met hierdie benadering is dat dit daartoe kan lei dat hierdie simbole gehanteer word asof hulle op gelyke voet geskiedenisse verteenwoordig, sonder om voortdurende nalatenskappe van uitsluiting en marginalisering uit te daag. Daar kan ook vanuit 'n gewetensruimteperspektief gevra word wat met al hierdie standbeelde en ruimtes gedoen behoort te word. Selfs wanneer die beelde verwyder is, bly die ruimtes agter. Hoe kan hierdie ruimtes herverbeel word?

 

Transformasie op en van die UVS 2010-2020

Die Universiteit van die Vrystaat, soos baie ander hoëronderwysinstellings in Suid-Afrika, het 'n lang en troebel geskiedenis van uitsluiting, rassisme en patriargie. Sedert die vroeë 1990's was daar al baie pogings om te transformeer, party meer suksesvol as ander. My doel is nie om 'n volle geskiedenis van die instelling te gee nie. Ek plaas die kollig op enkele transformasieprojekte vanaf 2010.

In 'n hoofstuk waarin hy reflekteer aangaande die verandering van simbole op kampusse vanuit die perspektief van 'n betrokke leier, verwys oud-rektor van die UVS, Jonathan Jansen (120) na 'n skrywe wat hy in Maart 2010 aan die hele universiteitsgemeenskap gestuur het waarin hy lede uitgenooi het om hul siening aangaande die standbeeld van President Steyn te gee. Sy vraag was of dit beter sal wees om die standbeeld te verwyder of om eerder ander ruimtes op kampus te gebruik om nuwe simbole op te rig en sodoende vir 'n veelheid van geskiedenisse plek te maak. Jansen het 'n aantal uiteenlopende reaksies op sy boodskap ontvang: Een siening was dat die standbeeld 'n argitektoniese ramp is en dat niks anders met die standbeeld moet gebeur as om dit te skuif nie. 'n Ander was dat die standbeeld moet skuif omrede dit 'n eensydige weergawe van die geskiedenis weerspieël. En 'n verdere voorstel was dat die standbeeld van Steyn van sy voetstuk gehaal moet word en op die grond geplaas word en 'n standbeeld van Moshoeshoe aan die ander kant van die plein opgerig moet word om sodoende 'n gesprek tussen die twee figure en geskiedenisse te ontsluit.

Jansen identifiseer vier uiteenlopende reaksies op die kwessie rondom die skuif van die Steyn-standbeeld en van standbeelde en gedenktekens in die algemeen. Die eerste een beskryf hy as 'n "rassistiese" reaksie komende van wit mense wat verontwaardig was oor die voorstel om 'n standbeeld van Moshoeshoe in gesprek met Steyn op te rig. Jansen (123) verwys na berigte en sienings wat in Die Volksblad verskyn het wat spreek van 'n bepaalde vrees dat die Afrikaner se plek en identiteit in gevaar is. 'n Tweede reaksie is een van "uitwissing" wat die posisie voorstaan dat alle uitbeeldings van 'n wit geskiedenis verwyder word. Die derde posisie, beskryf deur Jansen as 'n "realistiese" een, onderskryf die idee van 'n gedeelde verlede en dat erfenis dít juis moet vergestalt; dat ons nie die verlede kan wegwens nie. Die laaste posisie behou die status quo, met ander woorde, niks verander nie omdat daar belangriker aangeleenthede is waaroor ons ons moet bekommer.

Jansen (124) merk op dat simboliese herstel 'n sentrale rol speel in die proses van transformasie. Hy beskryf die veranderinge wat die leuse en die wapen van die universiteit ondergaan het. Die leuse, In Deo Sapiente Lux (In God is die lig van wysheid), is byvoorbeeld verander na In Veritate Sapientiae (In waarheid is die lig van wysheid) ten einde die leuse los te maak van 'n uitsluitend religieuse betekenis. Die wapen wat die Suid-Afrikaanse oorlog en die Bybel vergestalt het, is vervang met 'n boek wat kennis simboliseer en 'n mieliekop wat getrou is aan die Vrystaatse landboubedryf en landskap.

In September 2009 het die universiteit befondsing gekry van die Loteryverspreidingsfonds om kunstenaars af te vaardig om kunswerke op kampus op te rig as deel van die transformasie van kampusruimtes. Sestien kunswerke is op verskillende plekke op kampus opgerig en sluit onder andere die volgende in: "Thinking stone" deur Willem Boshoff wat op die Rooiplein geplaas is, "Seeds" deur Brett Murray, "Unity is power: Let us be united" deur Noria Mabasa, "Walking Fish" deur Thomas Kubeyo en "Bull Rider" deur Willie Bester.1

Ander stappe wat geneem is om die universiteit te transformeer, is die oprig van 'n Instituut vir Versoening en Sosiale Geregtigheid, die naamsverandering van 'n aantal koshuise en die instel van 'n verpligte module wat kwessies soos ras en identiteit takel.Jansen (129) verduidelik dat dit belangrik was vir die universiteitsgemeenskap om te besin oor die moontlikheid van 'n progressiewe standpunt aangaande die verandering van kampusruimtes as alternatief tot die blote verskuiwing van beelde en simbole van die verlede. Hy het byvoorbeeld studenteleiers op 'n toer na Pole en Duitsland gestuur sodat hulle insig kon kry in hoe daardie lande ná die Tweede Wereldoorlog met vraagstukke rondom die verlede omgaan. Sodoende het Jansen die moontlikheid vir die ontwikkeling van 'n transnasionale perspektief moontlik gemaak. 'n Ander inisiatief wat krities met die verlede en spesifiek standbeelde en simbole van die verlede in Bloemfontein omgegaan het, was Cigdem Aydemin se "Plastic Histories"-projek wat die standbeelde van Steyn en Swart in helder pienk fluoresserende plastiek toegedraai het. Die fisiese uitstalling het gepaard gegaan met 'n sosiale media-uitstalling wat die stemme van swart digters en skrywers met die visuele uitbeeldings gejukstaponeer het.

Jansen verduidelik dat openbare universiteite volgens hom plekke moet wees waar 'n veelheid van narratiewe gehuisves kan word. Hy verwoord sy siening van die rol wat universiteite in die samelewing moet vervul, soos volg: "Universities, after all, are places where the commonplace is questioned, but also spaces where learning informs activism beyond merely removing, replacing, or relocating what we do not like" (131). Hy verwys na voorstelle wat gemaak is om 'n standbeeld van Bram Fischer op te rig op die Rooiplein om in dialoog te tree met die standbeeld van C. R. Swart. (Die standbeeld van Swart het voor die gebou wat die Regsfakulteit huisves, gestaan.) So 'n dialoog sou volgens Jansen nie net die verskille tussen mense soos Swart en Fischer onderstreep het nie, maar sou ook kritiese omgang met die reg en erkenning van die rol wat die reg kan speel in bevryding en transformasie, aangemoedig het.

Op 23 Februarie 2016, as deel van nasionale betogings by universiteite, het protesterende studente op die Bloemfonteinkampus die beeld van Swart omgestamp. Soos hierbo genoem, was die universiteit reeds besig met gesprekke oor die voortbestaan al dan nie van die standbeeld. Jansen (132) merk op dat met die aanvang van #RhodesMustFall by die UK, die stadige maar sekere verandering wat aan die gang was by die UVS, oorgeneem en ontspoor is deur die breër beweging. Die 2016-betogings op die Bloemfonteinkampus is aan die gang gesit deur gebeure tydens 'n rugbywedstryd op Shimlapark toe werkers, in 'n poging om die wedstryd stop te sit, deur toeskouers aangeval is. Die Maandag ná die gebeure het studente op die Rooiplein vergader en is hernude protes aangeteken teen die simbole van die verlede op kampusruimtes. Die Swart-standbeeld is tydens hierdie protes aan die brand gesteek en afgebreek. Ironies genoeg is die standbeeld deur Willie Bester wat opgerig is deur die Loteryprojek om kampusruimtes te transformeer, ook aangeval. Na konsultasie is die standbeeld van Swart geskenk aan die Voortrekkerbeweging. Aanvanklik het 'n aantal granietblokke agtergebly as herinnering van die Swart-standbeeld en die struwelinge rondom die beeld, asook as simbool van voortdurende ongeregtigheid. In 2020 is hierdie blokke gewoon verwyder. Die vraag is waarom juis dit gedoen is, eerder as om die ruimte te bewaar as simbolies van historiese belang en verantwoordbaarheid.

Gedurende Maart 2018 het die universiteit begin met 'n proses om verskillende sienings in te win oor wat om met die beeld van Steyn te doen. 'n Spesiale taakspan is op die been gebring en 'n erfenisimpakstudie is van stapel gestuur. Die studie het vier moontlikhede oorweeg: 1) retensie; 2) verskuiwing na 'n ander plek op kampus; 3) herinterpretasie van die beeld sonder om dit te verskuif; en 4) verskuiwing vanaf kampus na 'n ander ruimte. Die spesiale taakspan, op sterkte van die impakstudie, het tot die gevolgtrekking gekom dat die enigste werkbare oplossing was om die standbeeld te skuif na die Oorlogsmuseum in Bloemfontein. Dit is belangrik om te onthou dat die standbeeld in 1929 deur die Afrikaner Studentebond opgerig is met die doel om Steyn as simbool van Afrikanernasionalisme te eien. Eloff verwys hier na die historikus Hobsbawm se opvatting van "invented tradition" wat ook op die oprigting van die Steynbeeld van toepassing is. Die argument word gemaak dat die standbeeld opgerig is ten einde 'n baie spesifieke ideologie en politiek van die tyd, naamlik (Afrikaner) nasionalisme, te dien (Eloff, "Want die Broeders het dan só besluit"). Van nader beskou blyk dit dat sommige van die sienings van mense wat die verskuiwing van die standbeeld teëgestaan het en die uiteindelike verskuiwing daarvan berou, 'n sekere nostalgie vir Afrikanernasionalisme blootlê . Die aanbeveling dat die standbeeld skuif na die Oorlogsmuseum maak ander interpretasies van Steyn moontlik-interpretasies wat hom dalk selfs kan bevry van so 'n nasionalistiese houvas. Steyn kan byvoorbeeld onthou word as iemand wat aanvanklik gekant was teen die oorlog en 'n bepalende rol gespeel het in die onderhandelinge vir vrede. Die Oorlogsmuseum beeld die lyding van swart én wit Suid-Afrikaners tydens die oorlog uit. Steyn en sy standbeeld kan selfs as teenvoeter vir Britse kolonialisme en imperialisme gelees word (Report Special Task Team on the M. T. Steyn Statue).

In November 2018 het die Raad van die UVS ingestem dat die standbeeld van die voormalige president verwyder word. Die standbeeld het egter bly staan tot Junie 2020. Die universiteit is vanaf 2019 besig om die area voor die Rooiplein te rekonstrueer deur onder andere die gras uit te haal en met gruis te vervang en vele inheemse plante aan te plant. Mens kan net wonder of die ruimte ontwikkel gaan word as 'n ruimte wat krities met die verlede, hede en toekoms omgaan. Tot watter mate kan 'n gewetensruimtebenadering, soos hierbo bespreek, van waarde wees?

 

Die Rooiplein-herinterpretasie, nostalgie, en oordeel

Hoe kan die Rooiplein en die oop ruimtes wat agtergebly het ná die verskuiwings herinterpreteer en herskep word? Wat is die verhouding tussen die Rooiplein en ander ruimtes op kampus insluitende die kunswerke wat opgerig is met die Lotto-gelde, die voormalige Reitzkoshuis en Shimlapark?2 Kan hierdie ruimtes op 'n betekenisvolle manier ontwikkel word sodat dit 'n rol kan speel in die pogings om te transformeer? Wat is die verhouding tussen hierdie ruimtes en pogings om 'n institusionele kultuur en akademiese kurrikulum op die been te bring wat deur menseregte en transformasie begrond word? Die Erfenisimpakstudie verwys na die ruimte wat agterbly ná die verskuiwing van Steyn as 'n "ontologiese gaping" wat as 'n plek van dialoog en konsultasie herontwerp kan word.

In 'n 2021-dokument, "Re-interpretation of the Presidentsplein (Red square)", word voorstelle gemaak vir hoe die UVS op 'n kreatiewe manier die ruimte kan herinterpreteer; herverbeel en herapproprieer (1). Die dokument word beskryf as 'n oefening in erfenisbestuur wat beoog om diversiteit, inklusiwiteit en sosiale geregtigheid op die Bloemfonteinkampus te bewerkstellig. Op hierdie stadium is die status van die dokument van 'n ondersoekende aard ten einde institusionele prosesse te aktiveer. Die konsepte van "inceptual thinking" en "inceptual awareness" word gebruik om die voorstelle toe te lig. Na aan die einde van die dokument word die idee van "inceptual thinking" omskryf met verwysing na die Duitse filosoof Martin Heidegger. Heidegger het "inceptual thinking" beskryf as 'n manier om voorbereid te wees op die waarheid van syn; as 'n manier waarop die menslike subjek getransformeer kan word as die skepper en die bewaarder van 'n gegewe plek. Hy gebruik die idee van "emplacement" om die gedagte oor te dra dat mense hulself vanuit die staanspoor in 'n ruimtelike en temporale situasie van sorg bevind (48). Die steun op Heidegger en "inceptual thinking" bied riglyne oor hoe die dokument gelees behoort te word: die gedagte is dat, eerder as wat die dokument gesien moet word as 'n konkrete riglyn, dit beskou moet word as voorstelle wat 'n nuwe denkwyse kan inspireer (49). Die dokument word voorgehou as 'n poging om dialoog aan te wakker rondom die potensiaal van die Rooiplein en dit is nog nie deur lede van die universiteitsgemeenskap, personeel en studente bespreek nie. Ek gee kortliks die kern van die voorstelle weer voor ek twee ander teoretiese invalshoeke bespreek wat 'n gewetensruimtebenadering kan ondersteun.

Die beginpunte vir die dokument is dat 1) die huidige realiteite van hoe Suid-Afrikaners en die universiteitsgemeenskap poog om deelnemende demokrasie, nasiebou en sosiale kohesie op die been te bring, verteenwoordig moet word; 2) ideale opvattings van deelnemende demokrasie wat nog nie bereik is nie, verteenwoordig moet word; 3) artistieke ruimtes wat die kulturele verbeelding kan aanmoedig deur 'n veelheid van stories of gedeelde geskiedenisse te vertel, ontsluit moet word en 4) die ruimte onderrig, leer, kritiese denke, navorsing en gemeenskapsgedrewe navorsing in navolging van die universiteit se visie moet aanmoedig. Die UVS se Geïntegreerde Transformasieplan (Integrated Transformation Plan-ITP) word gebruik as uitgangspunt vir die voorstelle vir die herinterpretasie van die Rooiplein. Twee ander idees wat die dokument onderlê, is ubuntu en sorg. Die huidige rektor, Francis Petersen, het met sy aanstelling twee skuiwe gemaak om sy termyn te onderskei van dié van sy voorganger. Een daarvan is die omarming van 'n etiek van sorg en om dit deel te maak van die alledaagse praktyke by die UVS. Of die projek om die konsep van "sorg" deel te maak suksesvol gaan wees, is nog 'n ope vraag. Aangesien die goeie voorneme tans slegs in die vorm van 'n "Charter" bestaan (wat heel moontlik net nog 'n dokument gaan wees wat iewers stof gaan vergader), twyfel ek aan die sukses daarvan. Met laasgenoemde stelling wil ek nie die gees waarmee die gedagte van sorg aanvanklik geopper is in twyfel trek nie, maar ervaring leer dat niks 'n goeie idee meer kan kortwiek as wanneer dit in die hande van burokrate en funksionarisse met bepaalde agendas beland nie. Om ubuntu met sorg te verbind kan 'n interessante akademiese ondersoek behels, mits dit met die nodige kompleksiteit benader word en geen eenvoudige vergelykings en assimilasie plaasvind nie. Die ander skuif het te doen met die wegbeweeg van die sterk tema van versoening in die vorige bedeling na 'n fokus op menseregte en sosiale geregtigheid. Weereens bevraagteken ek nie die dringendheid en belang van menseregte en sosiale geregtigheid nie, maar ek voer wel aan dat 'n sekere verstaan van versoening van waarde kan wees vir die voortdurende proses om die universiteit as publieke ruimte te transformeer.

Die voorstelle in die dokument is gebaseer op 'n "deep mapping" (11) wat gedoen is van die Rooiplein om nuut te dink oor die karakter van die ruimte en opper moontlikhede oor hoe die universiteit die Rooiplein vir demokratiese doeleindes kan herbedink. Die Rooiplein is die primêre seremoniële ruimte van die UVS. Dit is in die vorm van 'n U en word aan die lang kante omring deur geboue; na die Ooste lê die middestad van Bloemfontein en na die Weste is die Swart Berg by Thaba 'Nchu op 'n helder dag in die verte sigbaar. Die dokument verwoord die siening dat die Rooiplein die potensiaal het om as 'n simboliese ruimte die hele Mangaung-metro byeen te bring (11). Hierdie perspektief maak interessante gesprekke oop tussen byvoorbeeld die stad en die universiteit, asook die spanning tussen die stedelike en die landelike ruimtes wat op hul beurt gesprekke rondom demokrasie, maar ook die kurrikulum en navorsing, kan verryk. Die dokument verwys na 'n tyd toe die hoofgebou as't ware in die middel van 'n veld gestaan het, en benader die oop ruimte wat voor die gebou ontstaan het ná die verskuiwing van Steyn se standbeeld as 'n moontlike ruimte waarin die aanvanklike vryheid en oopheid van die ruimte teruggebring kan word (20).

Die dokument opper die vraag hoe die geweld waarmee die standbeeld verwyder is, herinterpreteer kan word (29). Een moontlikheid is die bou van 'n Kgotla in die ruimte voor die Regsgebou wat soortgelyk aan die een by die Vryheidspark in Pretoria 'n gesprek rondom geregtigheid, onderhandeling en inklusiwiteit kan aktiveer.3

'n Derde monument op die Rooiplein, benewens die standbeelde van Steyn en Swart, is die monument wat die 1938-Eeufeesviering van die Groot Trek gedenk. Hierdie monument staan weliswaar nog duideliker as die ander twee in die teken van Afrikanernasionalisme en is, soos in die dokument opgemerk word, nie te versoene met die huidige waardes van die UVS nie. Herinterpretasie van hierdie monument sal moeilik wees. Die dokument verwys verder na Brenda Schmahmann se beskrywing van Willem Boshoff se "Thinking Stone" as 'n "anti-monument" omdat dit nie verhewe is nie, en mense uitnooi om daarop te sit en daaraan te vat (36). Hierdie idee van 'n "antimonument" is myns insien in pas met wat met gewetensruimtes beoog word, naamlik dat dit mense aktief uitnooi om te besin oor die ruimte en die geskiedenis wat daar afgespeel het.

In die dokument word aangevoer dat dit vanuit 'n Erfenisperspektief nie bevredigend genoeg is dat daar bloot oor die ruimte waar die Steyn-standbeeld gestaan het, geplavei is nie. Die oop ruimte moet beter benut word, en die plek waar die standbeeld voorheen gestaan het, moet ook gemerk word. Vanuit 'n gewetensruimteperspektief kan ook aangevoer word dat die ruimte op só 'n manier benut moet word dat dit die verlede, hede en toekoms op 'n sinvolle manier met mekaar in gesprek bring. Om kuns in te span om sodanige gesprekke te ondersteun, is 'n algemene metode wat gevolg word in gewetensruimtes. Die dokument oorweeg in hierdie opsig die moontlikheid om litema-patrone op die plaveisel voor die hoofgebou aan te bring. Litema is 'n estetiese gebruik eie aan Sotho-kultuur (45). Die Europese gebruik om koper Stolpersteine in die bestaande plaveiselstene aan te bring voor huise waar Jode gedurende die Joodse volksmoord ontvoer is, word voorgestel as iets wat nageboots kan word. Nog 'n voorstel is om die naam van die Rooiplein te verander na Kgotleng (50).4

Jansen (137) beëindig die hoofstuk waarin hy reflekteer oor die transformasie van kampussimbole op 'n kritiese en dalk selfs bekommerde noot. Hy merk op dat versoening, en spesifiek menslike versoening, in die visie van die UVS opgeneem is en dat die missie gefokus is daarop om in alledaagse praktyke die waarde van menslike saamwees en solidariteit binne die konteks van sosiale en historiese skeidings te demonstreer. Die opvoedkundige visie wat hy ondersteun is een waar woede ("rage") deur rede oorwin word en waar institusionele "krisis" 'n geleentheid vir leer moet bied. Hy spreek kommer uit dat gedeeltes van die uitwissingsreaksie ("erasure trope") ook moontlikhede vir versoening en kreatiewe dialoog uitgewis het. Jansen onderstreep die feit dat voortdurende ongelykheid sosiale kohesie strem, en is bekommerd daaroor dat opvoeding tans faal om transformasie te bewerkstellig. Daar sou geargumenteer kon word dat die UVS vanaf 2010 besig is om die potensiaal van gewetensruimtes op die Bloemfonteinkampus te ontgin. Die vraag is of die huidige projek van herverbeel genoeg ondersteuning sal kry om die proses suksesvol voort te sit.

Die Rooiplein en spesifiek die oop ruimtes waar die standbeelde van Steyn en Swart gestaan het, bied 'n veelheid van interpretasies. Gegewe die geskiedenis van die universiteit, die stad van Bloemfontein en die provinsie waarin dit geleë is, lê die spore van die verlede diep. Die ruimte kan met vrug (verder) ontwikkel word tot 'n plek met 'n gewete, 'n plek waar vele herinneringe teenwoordig kan wees, een van (be)rou wat geeste van die verlede, hede en toekoms verwelkom.

Ter afsluiting opper ek graag twee teoretiese perspektiewe wat sou kon bydra nie net tot die proses van herinterpretasie van die Rooiplein nie, maar ook tot die transformasie van die universiteit in die algemeen, veral vanuit 'n gewetensruimteperspektief. Die eerste is politieke denker Hannah Arendt se klem op versoening; en die tweede is Svetlana Boym se formulering van reflektiewe nostalgie. Roger Berkowitz (1-16) let op die sentrale rol wat versoening speel in hoe Arendt haar siening van politieke aksie verwoord en veral haar gedagtes rondom die geskiedenis en oordeel. Haar Denktagenbuch (Denkedagboek) begin met 'n refleksie oor die las wat die wandade van die verlede op ons skouers plaas (Arendt, Denktagenbuch 3). Dit is belangrik dat ons in die hede begrip het vir en ook gekonfronteer word met wat in die verlede gedoen is, en ook erken wat enige een van ons in staat is om te doen (Berkowitz 1). In haar verslag oor die verhoor van Nazi-leier Adolf Eichmann vra Arendt of versoening met die wandade van die verlede wenslik is of nie (2). Berkowitz merk op dat die oordeel wat Arendt (Eichmann in Jerusalem 277-9) vel nie daarmee te make het of Eichmann in wese goed of sleg is nie, maar eerder of versoening met die ideologiese wêreld waarin Eichmann leef, moontlik is. Sy voer aan dat dit nie moontlik is nie, vanweë Eichmann se verwerping van menslike pluraliteit en waardigheid. Vir Arendt is die doel van oordeel om ons te help om die wêreld beter te verstaan. Oordeel verteenwoordig volgens haar die kern van politieke aksie. Oordeel skep as 't ware 'n gedeelde wêreld (Berkowitz 2). Vergifnis en wraak moet onderskei word van versoening; eersgenoemde twee konsepte beweeg in die sfeer van straf, waar laasgenoemde oordeel voorveronderstel (3). Radikale boosheid is vir Arendt presies dit waarmee nié versoen kan word nie. Hoe ons die vraag rakende versoening beantwoord, is bepalend daarvoor of ons 'n gedeelde wêreld tot stand kan bring of nie. George Kateb (165) beklemtoon ook die sentrale rol wat versoening gespeel het in Arendt se teorie van politieke aksie (sien ook Berkowitz 3). Volgens hom sien Arendt versoening as 'n nodige reaksie op die vervreemding en wrokkigheid van ons tyd. Om met die wêreld soos dit daaruitsien te versoen, is 'n teenvoeter tot die strewe na perfeksie wat vir Arendt (The Human Condition 2-3) nie net 'n ontkenning van pluraliteit en tydelikheid verteenwoordig nie, maar ook die oorsprong van totalitarisme (Kateb 4). Versoening het die vermoë om 'n gedeelde wêreld te skep waarin 'n pluraliteit van mense kan saamleef. Die moontlikheid om nie met 'n bepaalde wêreld te versoen nie, bied die geleentheid om ook telkens opnuut 'n nuwe wêreld te skep.

Myns insiens het gesprekke rondom versoening 'n plek in die transformasie van die universiteit, veral vanuit 'n gewetensruimteperspektief. Die proses om die Rooiplein te herverbeel kan met vrug gesprekke rondom versoening insluit. Dit beteken nie dat versoening moet plaasvind nie, maar dat oorweging geskenk moet word aan wat versoening sou kon behels, of dit moontlik is of nie, en welke wêreld (her)verbeel kan word vanuit so 'n perspektief.

In 'n werk waarin sy besin oor die toekoms van nostalgie, tref Boym (xiv) 'n onderskeid tussen restoratiewe en refleksiewe nostalgie. Sy reageer krities op 'n omskrywing van nostalgie as geskiedenis sonder skuld; as 'n manier om persoonlike verantwoordelikheid te ontwyk. Sy wys daarop dat nostalgie nie net die hunkering na 'n ander plek is nie, maar ook na 'n ander tyd. As mens teruggaan na die oorsprong van die woord, beteken 'algia' 'hunkering' en 'nostos' die terugkeer na 'n tuiste. Die hunkering is dit wat mense deel en aan mekaar verbind, maar die terugkeer is dit wat mense verdeel. Die gevaar van nostalgie is derhalwe dat dit kritiese denke ontmoedig. Sy steun op die gedagte van die "off-modern" wat 'n kritiese omgaan met moderniteit sowel as tradisie behels. Vir haar is nostalgie gefundeer in die onmoontlikheid van 'n terugkeer na die verlede. Restoratiewe nostalgie is afhanklik van aansprake op die waarheid, wil tradisie herstel en word geassosieer met nasionalisme en eng konserwatiewe godsdienstigheid. Daarteenoor ondersteun reflektiewe nostalgie die ambivalensie van hunkering en van behoort. Dit omarm 'n veelheid van tuistes. Die idee van 'n reflektiewe nostalgie kan 'n manier wees waarmee die verlede en sekere figure en gebeurtenisse van die verlede op kritiese wyse onthou word; dit kan die weergee van 'n veelheid van narratiewe ontsluit en botsende perspektiewe toelaat. Monumente en museums en amptelike erfenisterreine poog dikwels om die verlede geheel en al te rekonstrueer en het 'n geïdealiseerde weergawe van die verlede tot gevolg. 'n Meer reflektiewe benadering gaan gepaard met 'n "unintended memorialism" wat toelaat dat die verlede en geskiedenis anders ervaar kan word; "affectively, as an atmosphere, a space for reflection on the passage of time" (15). Soos die geval is met versoening, kan 'n benadering van reflektiewe nostalgie 'n sinvolle manier wees om die Rooiplein as gewetensruimte te bedink binne die konteks van 'n transformerende universiteit.

Die abstrak waaruit hierdie artikel ontstaan het, is geskryf as voorstel vir 'n referaat tydens 'n kongres gemoeid met die tema van 'Ontlaering', wat spesifiek gefokus het op transnasionalisme en die rol van pedagogie. Alhoewel die artikel klem plaas op die universiteit en spesifiek die UVS se Rooiplein as gewetensruimte, is dit ook 'n poging om met die konsep van 'ontlaering' om te gaan. Hoe ons as lede van 'n universiteitsgemeenskap die verlede onthou en daarmee omgaan, kan óf die laer enger trek, of lei tot ontlaering. Ou en nuwe nasionalismes kan beskerm en opnuut gevestig word, of ons kan daarvan wegbreek. Transformasie staan myns insiens lynreg teenoor die voorsetting van ou of die skep van nuwe laers en nasionalismes. Dit dring aan op die problematisering van sulke laers en bied voortdurende weerstand daarteen. Om die universiteit, insluitend die groter intellektuele projek, te bedink as gewetensruimte kan transformasie op en van die universiteit bevorder.

 

Aantekeninge

1 Ander werke is "Tree of Knowledge" deur Strijdom van der Merwe, "Philosopher's Circle" deur Jaco Spies en andere, "Melodiya Matsha" (Die geboorte van ritme) deur Patrick Kagiso Mautloa en sewe beeldwerke deur AzwiFarwi Ragimana.
2 'n Aantal studente wat inwoners was van Reitz, 'n voormalige manskoshuis het 'n video gemaak vir 'n kultuuraand waarin werkers se reg op waardigheid aangetas is. Die werkers het kompensasie ontvang van die universiteit en die koshuis is toegemaak, maar die vraag oor hoe hierdie insident rasseverhoudinge en toekomstige sukses van sosiale kohesie/ samehorigheid op kampus skade aangedoen het, bly staan. Vir meer aangaande die insident sien Van der Merwe en Van Reenen (5-38).
3 'n Kgotla is 'n openbare vergadering. By die Vryheidspark in Pretoria is the Lekokgotla deel van die Isivivane, naamlik die spirituele rusplek vir deelnemers aan die vryheidstryd wat gebou is rondom die uMlahlankosi-boom en die Lesaka, die begraafplaas. Sien Re-interpretation of the "Presidentsplein' (Red Square) 32.
4 Kgotleng is afgelei van die woord kgotla wat verwys na 'n openbare vergadering, 'n gemeenskapsraad of 'n tradisionele hof in 'n Sothodorp. Die voorstel om die plein Kgotleng te noem is om die ideaal van die universiteit as 'n ruimte vir deliberasie te eer (Report on the Re-imagination ofthe 'Presidentsplein' [Red Square] 50).

 

Geraadpleegde bronne

Arendt, Hannah. Denktagenbuch. Piper, 2016.         [ Links ]

______________. Eichmann inJerusalem: A Report on the Banality ofEvil. Penguin, 1963.         [ Links ]

______________. The Human Condition. U of Chicago P, 1958.         [ Links ]

Berkowitz, Roger. "Bearing Logs on our Shoulders: Reconciliation, Non-reconciliation, and the Building of a Common World." Theory and Event vol. 14, no. 1, 2011, pp. 1-31.         [ Links ]

Boym, Svetlana. The Future of Nostalgia. Basic, 2011.         [ Links ]

Coombes, Anne E. Visual Culture and Public Memory in a Democratic South Africa. Wits U P, 2004.         [ Links ]

Cuéllar, Julieta & Sophia Milosevic Bijleveld . "Memory and Education: Innovative Approaches as Sites of Conscience" Sites of Conscience. sitesofconscience.org/wp-content/uploads/2017/07/Memory-and-Education-Innovative.         [ Links ]

Eloff, René. "Afrikaner Nationalism, Apartheid and the Perversion of Critique." Acta Academia vol. 46, no. 3, 2014, pp. 175-95.         [ Links ]

______________. "Want die Broeders het dan só besluit" Rapport 19 Jul. 2020. https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/aktueel/want-die-broeders-het-dan-so-besluit-20200718.         [ Links ]

Jansen, Jonathan. "'It's not even past': Dealing with Monuments and Memorials on Divided Campuses." Troubling Images: Visual Culture and the Politics of Afrikaner Nationalism, edited by Brenda Schmahmann, Frederico Freschi & Lize van Robbroeck. Wits U P, 2020, pp. 119-39.         [ Links ]

Kateb, George. Hannah Arendt: Politics, Conscience, Evil. Rowman & Allanheld, 1983.         [ Links ]

Knudsen, Britta Tim & Casper Andersen. "Affective Politics and Colonial Heritage, Rhodes must Fall at UCT and Oxford." International Journal of Heritage Studies vol. 25, no. 3, 2018, pp. 239-58.         [ Links ]

Mamdani, Mahmood. "Between the Public Intellectual and the Scholar: Decolonization and Some Post-independence Initiatives in African Higher Education." Inter-Asia Cultural Studies vol. 17, no. 1, 2016, pp. 68-83.         [ Links ]

Mbembe, Achille. "Decolonizing the University: New Directions." Arts & Humanities in Higher Education vol. 15, no. 1, 2016, pp. 29-45.         [ Links ]

Murris, Karen. "#Rhodes must fall: A Posthumanist Orientation to Decolonising Higher Education Institutions." South African Journal of Higher Education vol. 30, no. 3, 2016, pp. 274-94.         [ Links ]

Nora, Pierre. "Between Memory and History: Les lieux de mémoire." Representations no. 26, 1989, pp. 7-24.         [ Links ]

Report on the Re-imagination of the 'Presidentsplein' (Red square). U Vrystaat. Jun. 2021.         [ Links ]

Report Special Task Team on the M. T. Steyn Statue. U Vrystaat. 26 Okt. 2018.         [ Links ]

Sierp, Aline & Jenny Wüstenberg. "Linking the Local and the Transnational: Rethinking Memory Politics in Europe." Journal of Contemporary European Studies vol. 23, no. 3, 2015, pp. 321-9.         [ Links ]

Steele, L. et al. . "Parramatta Female Factory Precinct as a Site of Conscience: Using Institutional Pasts to Shape Just Legal Futures." University of New South Wales Law Journal vol. 43, no. 2, 2020, pp. 1-36.         [ Links ]

Sevcenko, Liz & Maggie Russel-Ciardi. "Sites of Conscience: Opening Historic Sites for Civic Dialogue-Foreword." The Public Historian vol. 30, no. 1, 2008, pp. 9-15.         [ Links ]

Universiteit van die Vrystaat. From Grey to Gold. The First 100 Years of the University of the Free State. Universiteit van die Vrystaat, 2006.         [ Links ]

Van der Merwe, J. C. & Dionne van Reenen. Transformation and Legitimation in Post-aparthnd Universities: Reading Discourses from 'Reitz. Sun Media, 2015.         [ Links ]

Young, Iris Marion. "Impartiality and the Civic Public: Some Implications of Feminist Critiques of Moral and Political Theory." Feminism as Critique: On the Politics of Gender, edited by Seyla Benhabib & Drucilla Cornell. Polity, 1987, pp. 56-76.         [ Links ]

______________. Justice and the Politics of Difference. Princeton U P, 1990.         [ Links ]

 

 

Submitted: 27 January 2021
Accepted: 6 July 2021
Published: 10 May 2022

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License