SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.59 issue1A nation of narratives: Soomaalinimo and the Somali novelMale 'Somaliness' in diasporic contexts: Somali authors' evaluative evocations author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.59 n.1 Pretoria  2022

http://dx.doi.org/10.17159/tl.v59i1.8977 

RESEARCH ARTICLES

 

Relasionele ontologie en posthumanistiese subjektiwiteit in Pieter Odendaal se poësiedebuut

 

Relational ontology and posthuman subjectivity in Pieter Odendaal's poetry debut

 

 

Janien Linde

Senior lektor in die vakgroep Afrikaans en Nederlands, Fakulteit Geesteswetenskappe, Noordwes Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika. Haar navorsing handel oor relasionaliteit, performatiwiteit, identiteit en postkritiek. E-pos: janien.linde@nwu.ac.za; https://orcid.org/0000-0003-2361-8957

 

 


ABSTRACT

In Pieter Odendaal's debut, asof geen berge ooit hier gewoon het nie (as if no mountains ever lived here), the poet expands the complex question "re mang?" (who are we?) into an important theme and utilises it as a structural element by building the different sections of the volume around various conceptions of 'us'. In this article, I argue that Odendaal's poetry should be read in terms of relational ontology, seeing as relationality and interconnectedness are important themes in the text. The poetry creatively introduces a posthumanist way of looking at subjectivity and intersubjectivity. The text problematises the position of humankind on earth and in the larger universe, and asks questions regarding the basic ways in which we understand the concept of 'us', our existence and the ways in which we relate to every other inhabitant of the planet (human or non-human; living or non-living). In the process the Cartesian view of humankind is deconstructed and the human's ontological position is decentralised. Everything on earth is placed on equal ontological footing as part of a never-ending network of interactions, associations, and influences. This kind of posthumanist and relational ontological thinking is foregrounded throughout asof geen berge ooit hier gewoon het nie. I analyse this foregrounding in poems which explore the following themes and topics: interpersonal relationships between people that experience life differently because of differing backgrounds (but also between family members and lovers); the relationship between humans and nature (in the broadest sense of the word); time, and the inevitability of finitude and death that connects everything; and the difficulty of dialogue aimed at finding justice, reconciliation, acceptance and appreciation, by means of a realisation of posthuman interdependence.

Keywords: relational ontology, posthuman subjectivity, relationality, asof geen berge ooit hier gewoon het nie, Pieter Odendaal, Rosi Braidotti, Bruno Latour.


 

 

Inleiding

Die volgende ontologiese uitgangspunte is die fokus van hierdie artikel: posthumanisme en die relasionaliteit wat alles op aarde verbind. In die huidige tydsgewrig word die onvermydelike verbintenisse tussen alles op aarde skerp in die kollig geplaas. Die mens se verhouding met (en invloed op) die natuur en ook onderling word tans aan indringende (self)ondersoek onderwerp as gevolg van globalisering, natuurrampe, die COVID-19-pandemie, dreigende globale onstabiliteit as gevolg van Rusland se aanvalle op Oekraïene, en massas interpersoonlike kommunikasie wat deur die media moontlik gemaak word. Relasionaliteit, interverbondenheid en die uitdagings wat daarmee saamgaan, word toenemend fel in reliëf gebring. Te midde van die globale polities-sosiale, ekologiese, ekonomiese en tegnologiese kompleksiteite en uitdagings van die kontemporêre oomblik, raak dit toenemend belangrik om krities te dink oor wie 'ons' is, of besig is om te word.

Pieter Odendaal se bekroonde debuutbundel asof geen berge ooit hier gewoon het nie (2018) het hierdie vraag reeds in 2018 poëties verwoord. Odendaal is deel van 'n groep jong debuutdigters wat in die laaste paar jaar bundels publiseer wat die grense van die Afrikaanse poësie- en taalgemeenskap noemenswaardig verskuif, 'n groep wat onder andere Lynthia Julius, Jolyn Phillips en Ryan Pedro insluit. Al vier die digters vra in hul poësie boeiende, dog uiteenlopende, vrae oor die konsep van 'ons', beide in die Suid-Afrikaanse konteks, maar ook meer globaal. In hierdie artikel voer ek aan dat Odendaal se poësie 'n spesifieke verstaan van intersubjektiwiteit, en ook individuele subjektiwiteit, voorhou aangesien verhoudings en interverbondenheid (die idee van 'ons') sterk op die voorgrond is. Verbandhoudend hiermee is daar 'n sterk posthumanistiese ingesteldheid in die bundel te bespeur. Vir die doel van hierdie artikel steun ek op die filosoof en feminis, Rosi Braidotti se konsep van posthumanistiese subjektiwiteit. Daarmee saam word 'n relasioneel-ontologiese benadering (aan die hand van Bruno Latour se gedagtes daaroor) gebruik om insig te verkry in die manier waarop Odendaal se poësie die mens as Kartesiaanse sentrum van die heelal desentreer.

Die eerste en laaste afdelings van die bundel dra die titel "re mang?" Die vraag 'wie is ons?' is 'n belangrike tematiese en strukturele rigtingwyser in die bundel. Met hierdie vraag word die konsep van 'ons' op die voorgrond geplaas en geproblematiseer. Alhoewel sommige van die gedigte vanuit sterk subjektiewe perspektiewe geskryf is, is dit van die eerste gedig af duidelik dat 'ons' in die bundel 'n baie wyer konsep is as slegs die persoonlike. In sy resensie skryf Herschelle Benjamin: "omdat (die bundel) uit die pen van 'n wit jongman kom, sal ons seker aanneem dat dit nog 'n kwetsende vraag na die geykte 'Wie is die Afrikaner(s)?'" is. Dit is egter duidelik dat Odendaal nie hoofsaaklik met hierdie vraag gemoeid is nie; hy vra immers in Sotho (eerder as in Afrikaans): "re mang?" (Benjamin). Volgens Benjamin is die vraag eerder wie ons as Suid-Afrikaners is. In haar resensie skryf Louise Viljoen (157) dat die bundel vertel van "'n spesifieke persoon se ervarings in 'n bepaalde sosiopolitieke konteks en tydsgewrig", maar dat Odendaal die verse plaas "teen die groter agtergrond van die planeet en die geskiedenis van die kosmos". Sy beskryf die bundel as "een van die belangrikste toetredes tot Suid-Afrikaanse poësie in 2018" (157), 'n bundel wat "bewus is van die sosiale, politieke en omgewingsvraagstukke waarmee Suid-Afrika en die groter wêreld te kampe het". In 'n onderhoud verduidelik Odendaal die titel, wat ook die heel laaste versreël in die bundel is, soos volg: "(T)he title speaks to a particular way of being in this world" (Odendaal, Meyer en Enslin).

Dit gaan dus oor meer as die subjektiewe, die plaaslike en selfs ook die menslike. asof geen berge ooit hier gewoon het nie handel nie bloot oor 'n soeke na identiteit, in die subjektiewe sin van die woord, nie. Die vraag 'wie is ons?' sny veel dieper, tot op die been van 'wie is ons as mense?\ 'wie is ons as bewoners van die aarde?\ 'wie, en wat, is ons?', en 'hoe moet ons dink oor die woord ons'? Die bundel is 'n problematisering van hoe ons as mense onsself en ons posisie op aarde tot dusver beskou het. Die bundel vra vir 'n nuwe manier van menswees, en van ons-wees, in die wêreld; "a particular way of being in this world". In die proses verwoord Odendaal 'n manier van dink oor menslike intersubjektiwiteit wat gegrond is op 'n relasionele ontologie en 'n posthumanistiese etiek wat die mens desentraliseer as heerser oor die heelal en hom/haar op gelyke voet plaas met alles anders wat bestaan.

Vervolgens word die teoretiese uitgangpunte van die artikel, naamlik posthumanistiese subjektiwiteit en relasionele ontologie bespreek aan die hand van die werk van Rosi Braidotti en Bruno Latour. Daarna word hierdie begrippe bespreek soos dit manifesteer in spesifieke gedigte in Odendaal se bundel. Die bespreking sentreer rondom die volgende onderwerpe: postkolonialisme en relasionele ontologie, ekokritiek en posthumanisme, en eindigheid, familie en "lovers". Laastens analiseer ek die veelseggende slotgedig "wegraak" met die doel om aan te voer dat Odendaal sy eie beskouing van posthumanistiese subjektiwiteit en relasionele ontologie poëtikaal verwoord in asof geen berge ooit hier gewoon het nie.

 

"(O)ns klim uit onsselwe uit": relasionele ontologie en posthumanistiese subjektiwiteit

Odendaal se bundel is opgedra aan sy "medestryders", en die motto deur die digter Keorapetse Kgositsile ("may we / turn here / or return there / where a fractured rhythm from / the distant past moves us") beklemtoon ook die kollektiewe idee van 'we' en 'us'. Dit veronderstel 'n 'ons' wat saam terugkeer na 'n gedeelde verlede. Die motto bring verder twee ander belangrike tematiese merkers na vore, naamlik geplaastheid en tyd, idees wat beide ook in die titel na vore kom met verwysing na 'hier', en die spesifieke tydsaanduiding. Odendaal verduidelik self wat hy in die titel bedoel met 'hier':

"Hier" is die Boland in die eerste plek, omdat dit daar is waar ek rêrig vir die eerste maal saam met berge gewoon het. Maar "hier" is ook Suid-Afrika en ons geskiedenis van afmoor, afpen en tuismaak. Laastens is "hier" ook die planeet soos sy nou daar uitsien-troebelblou van al die vuiligheid wat ons agterlaat (Odendaal, Meyer en Enslin).

Die bundel plaas dus die kollig op 'n 'ons' wat binne 'n sekere tydsgewrig op 'n sekere plek leef. Maar soos die bovermelde resensies aandui: die bundel het geensins in hierdie opsig 'n afgesonderde of afgebakende fokus nie. Odendaal se bundel ondersoek die woordjie 'ons', maar posisioneer dit binne 'n globale relasioneel-ontologiese konteks.

Die eerste belangrike vraag wat die bundel vra, is (soos reeds genoem) "re mang?" (wie is ons?). Die woord 'ons' impliseer inherent relasie. Daar kan nie 'n 'ons' wees sonder meer as een 'ek' nie. Binne die huidige oomblik, wat as laat-kapitalisme bekendstaan, het onwikkelings in die natuurwetenskappe, sosiale wetenskappe, digitale inligtingtegnologieë, asook die studie van ekologiese sisteme, 'n omwenteling gebring rondom wat as die basiese eenheid van menswees (die 'ek', of 'die mens') verstaan word. Die filosoof en feminis, Rosi Braidotti, se idees rondom wat sy "kritiese posthumanisme" (vergelyk Braidotti, "Posthuman Critical Theory") noem, is in hierdie opsig verhelderend en relevant. Braidotti ondersoek in haar werk spesifiek posthumanistiese subjektiwiteit binne die tradisie van denkers soos N. Kathleen Hayles, Donna Harraway, Karen Barad en Elisabeth Grosz. Posthumanisme toon onder andere raakpunte met die Nuwe Materialisme (vergelyk Van der Tuin en Dolfijn 97) en ekofeminisme (vergelyk Estéves-Saá en Lorenzo-Modia 132) aangesien dit dominante hiërargiese subjekformasies problematiseer, alternatiewe representasies van subjektiwiteit voorstel en aktief bou aan 'n affirmatiewe, materialistiese en beliggaamde verstaan van die werklikheid.

Posthumanisme kan beskryf word as 'n filosofie wat breedweg daarop gefokus is om alternatiewe maniere van leef te verbeel wat skop teen die grense van bestaande definisies (hoofsaaklik bepaal deur Klassieke, Renaissance-en Verligtingdenke) van die konsep 'Mens'.1 Denkers wat deel vorm van die posthumanistiese wending voer aan dat bestaande idees beperk is wat betref wie en wat daardeur in- en uitgesluit word, en dat dit nodig is om nuwe maniere te kry om oor die mens se teenwoordigheid en invloed op aarde te besin (Braidotti, "Critical Posthuman Knowledges" 85). In The Posthuman (2013) beskryf Braidotti die posisie waarin die mensdom sigself tans bevind as "the post-human predicament": Ons kan onsself nie meer 'mense' noem nie, omdat dit nou al goed duidelik is dat sommige mense hulself nog nooit werklik 'mense' kon noem nie, aangesien hulle uitgesluit is uit die normatiewe definisie van die woord 'mens' (Posthuman 1). Hierdie mense kon dus nog nooit deel voel van 'n breë gemeenskap van 'ons as mense' nie. Die klassieke idee van die mens is vir eeue lank beskou as die universele ideaal van en maatstaf vir wat 'n mens moet wees. Braidotti (Posthuman 13) beskryf dit soos volg: "Leonardo da Vinci's Vitruvian man. An ideal of bodily perfection which [...] doubles up as a set of mental, discursive and spiritual values". Die mens, as embleem van die Humanisme van die Antieke Tye sowel as van die Italiaanse Renaissance, het die eindelose vermoë en verpligting om homself en die mensdom as geheel te bevorder, 'n proses wat rasioneel en teleologies ingegee is. Hierdie spesifiek manlike, Eurosentriese model (met al die ander normatiewe merkers wat daarmee saamgaan) stel nie net aan individue nie, maar ook aan kulture, sekere standaarde van beskawing waaraan voldoen moet word, anders is hulle nie ten volle mens nie (13, 15). In die naam van hierdie ideaal van beskawing is ander kulture en lande onderwerp aan kolonialisme en uitbuiting, geregverdig deur die dialektiek van self en ander waar die andersheid van die ander gelykgestel is aan minderwaardigheid. Die self is gelykgestel aan bewussyn, universele rasionaliteit en selfregulerende etiese optrede, terwyl die ander benader is as "sexualised, racialized and naturalized" (15); blote lywe wat óf 'gered' moet word, óf maar weggooibaar ("disposable") is. Teenkanting teen hierdie wêreldbeskouing eggo deur Odendaal se hele bundel, en is veral duidelik in die protesgedigte in die laaste afdeling van asofgeen berge ooit hier gewoon het nie.

Braidotti noem dat hierdie proses van "de-centring 'Man'" (2) tot uiteenlopende (angstige) reaksies lei wat sy beskryf as "a political economy of nostalgia and paranoia on the one hand, and euphoria or exaltation on the other" (9, vergelyk ook Ferrando 26-32). Aan die een kant is daar die voorstanders van antihumanisme wat, aangevoer deur vrees, oortuig is dat die mens die oorsaak is van alle probleme, dat die mens inherent 'n bose vernietigings-en verbruikersdrang het en dat uitwissing ons voorland is. So 'n manier van dink is nie gemik op daadwerklike verandering nie, maar eerder op bewaring van die status quo en oorlewing (Braidotti, Posthuman 9). Aan die ander kant is daar die humaniste wat grootskaalse en snelle ontwikkelinge op tegnologiese, mediese en landbouterreine voorstaan solank dit tot voordeel is van die mens, en moontlik kan lei tot onsterflikheid. Braidotti (2) verwoord die spektrum van posthumanistiese ontwikkelinge soos volg: "playful experimentations with the boundaries of perfectibility of the body, [.] moral panic about the disruption of centuries-old beliefs about human 'nature' or [...] exploitative and profit-minded pursuit of genetic and neural capital". Wat die uiteinde van hierdie tipe ontwikkelinge sal wees, is nog onduidelik. Die punt wat Braidotti maak, is dat ons nou reeds in 'n posthumanistiese wêreld leef waar die mens sigself nie meer sonder meer die Kartesiaanse middelpunt van die heelal kan noem nie.

Braidotti (2) argumenteer dat die posthumanistiese kondisie funksioneer op grond van wat sy noem die sosiaal-konstruktivistiese nosie van die natuur-kultuur-kontinuum (2). Hiervolgens word die werklikheid verstaan in terme van onderskeidende binariteite, naamlik dié van die gegewe (die natuur) en die gekonstrueerde (kultuur). Om só oor die werklikheid te dink, veronderstel dat alles wat nie natuur is nie, funksioneer aan die hand van mensgemaakte en histories gekonstrueerde sosiale meganismes wat identiteite, instellings en praktyke rig en beïnvloed. Waar 'natuur' ongeskonde en buite menslike beïnvloeding staan, word 'kuituur' verstaan as die nimmereindigende geneigdheid van die mens om te wil beheer en kategoriseer. Gevolglik is selfs dit wat as 'natuur' beskryf word, nie kwytgesteld van die invloed van 'kultuur' nie. Braidotti is van mening dat hierdie nie 'n produktiewe manier van dink is nie, omdat dit die mens altyd as heerser in die sentrum van alles plaas: "This insight into the socially bound and therefore historically variable nature of social inequalities paves the road to their resolution by human intervention through social policy and activism" (3). Die mens bly steeds in beheer.

Volgens Braidotti (3) is hierdie benadering, wat gebaseer is op onproduktiewe binêre opposisies, tans besig om vervang te word deur 'n nie-dualistiese verstaan van die natuur-kultuur-interaksie. Só 'n verstaan verwerp dualisme en beklemtoon eerder die "self-organising (or auto-poietic) force of living matter" (3). Volgens haar het snelle ontwikkeling op die gebiede van die wetenskap en die tegnologie tot gevolg dat die grense tussen die kategorieë 'natuur' en 'kultuur' vervloei en minder absoluut raak, met die gevolg dat die konsepte, metodes en politieke praktyke wat ons tans gebruik om die werklikheid mee te verstaan, in heroorweging geneem moet word (3). 'Natuur' en 'kultuur' is nie die enigste binêre opposisie wat deur Braidotti se posthumanisme afgebreek word nie. Volgens haar word alle identiteitsmerkers wat op binariteite gegrond is, ongedaan gemaak as 'n mens risomaties en prosesmatig oor identiteit en subjektiwiteit dink (96). Die gevolg is dat subjektiwiteit, en daarmee saam intersubjektiwiteit, nooit vas is nie; dit is altyd in "a process of becoming" (194) as gevolg die eindelose hoeveelheid interaksies met, en beïnvloeding deur, al die magte in die heelal.

Die "particular way of being in the world" wat Odendaal in sy bundel uitbou, weerspieël Braidotti se idee van 'n 'posthumanistiese subjektiwiteit': 'n beliggaamde (en dus materialistiese), ingebedde (gelokaliseerde) vorm van aanspreeklikheid, gebaseer op 'n sterk gevoel van kollektiwiteit, relasionaliteit en gevolglike gemeenskapvorming (49).

Posthumanistiese subjektiwiteit verstaan identiteit as gelokaliseer en beliggaam, maar ook altyd in 'n proses van vloei. Braidotti ("Critical Posthuman Knowledges" 83-4) verduidelik dat haar eie posthumanistiese denke sterk beïnvloed is deur Gilles Deleuze se "monistic neomaterialist philosophy" wat alle materie benader as een groot eenheid wat intelligent is en die vermoë het om ditself te organiseer. Dit is dus "autopoietic", wat beteken dat dit die vermoë het "to enter modes of relation, to affect and be affected" (84). "Simultaneously critical and creative, posthuman thought pursues the actualization of intensive or virtual relations" wat voortdurend "nomadic interconnections" vorm, verduidelik Braidotti (84). Braidotti se idee van posthumanisme en posthumanistiese subjektiwiteit toon dus 'n duidelike relasionele onderbou. Vir die doel van hierdie artikel verbind ek Braidotti se posthumanistiese subjektiwiteit met wat Graham Harman ("The Importance of Bruno Latour for Philosophy" 31) Bruno Latour se 'relasionele ontologie' noem. Harman, wat deur Rita Felski ("Introduction" 3) bestempel word as "one of the most lucid explicators of Latour", verduidelik Latour se niereduksionistiese en objekgeoriënteerde filosofie soos volg:

Every human and nonhuman object [...] stands by itself as a force to reckon with. No actor, however trivial, will be dismissed as mere noise in comparison with its essence, its context, its physical body, or its conditions of possibility. Everything will be absolutely concrete; all objects and all modes of dealing with objects will now be on the same footing. (Harman, Prince of Networks: Bruno Latour and Metaphysics 13)

As relasionele ontologie só verstaan word, is dit duidelik dat een van die sterk uitgangspunte wat dit onderlê, besorgdheid of omgee is. Relasionele ontologie word onderlê deur die doelwit "to allow various objects in the room to express themselves by offering them as much attention and care as possible" (Felski, "Comparison and Translation: A Perspective from Actor-Network Theory" 749). Die relasionele gaan dus hand aan hand met die altruïstiese en empatiese: 'n besorgdheid oor en voortdurende onderhandeling met die ander om die ander se staanplek in die werklikheid te verseker.

In Latour se oë is die wêreld 'n reeks onderhandelinge tussen 'n diverse versameling van objekte en magte, waaronder mense. Soos Braidotti voer Latour aan dat die wêreld nie soomloos verdeel kan word in die twee voorafbepaalde uiterstes van natuur teenoor kultuur (die samelewing) nie (Harman, Prince of Networks 13). In hierdie wêreld, "[n]othing can be reduced to anything else, nothing can be deduced from anything else, everything may be allied to everything else" (Latour, in Harman, Prince of Networks 13). Latour se idees rankende relasionele ontologie is wyd in sy werk versprei en nie op een plek duidelik geformuleer nie. Harman se Prince of Networks: Bruno Latour and Metaphysics is 'n seminale sintese van Latour se werk oor netwerke en relasionaliteit. Volgens Harman (14-5) is Latour se filosofie gebaseer op vier sentrale idees. In die eerste plek argumenteer hy dat alles wat in die heelal bestaan, verstaan moet word as 'aktante' (waarna Harman ook as 'objekte' verwys). Van die harde objektiewe werklikheid, tot arbitrêre sosiale magte-alle entiteite is, metafisies gesproke, op dieselfde vlak. "With this single step, a total democracy of objects replaces the long tyranny of human beings in philosophy", skryf Harman ("Importance of Bruno Latour" 36). Tweedens kan niks herlei of gereduseer word tot iets anders nie; alles is gelyktydig konkreet en onafhanklik op sigself, én voortdurend in interaksie met alles anders. Dit bring die derde idee na vore: aangesien niks na of tot iets anders herlei of gereduseer kan word nie, moet daar 'vertaalwerk' gedoen word om te bepaal wat die verhoudings tussen dinge is, terwyl dinge ook steeds onafhanklik funksioneer. En laastens: alle objekte bestaan altyd in relasie tot mekaar. 'n Aktant word versterk deur verbintenisse (alliansies) en assosiasies, en verswak as dit geïsoleer word. Niks is inherent sterker of meer werklik as iets anders nie; alle aktante se potensiële kragte is eenders, demokraties en nie reduseerbaar tot 'n enkele essensie nie: "a thing is defined solely by its effects and allowances rather than by a lonely inner kernel of essence" (Harman, Prince of Networks 75). Latour se filosofie ontneem op posthumanistiese wyse die mens van die magiese oormag oor die wêreld; die vermoë om dit in die lewe te roep deur denke of taal. Hy gee aan alle aktante (objekte) dieselfde vermoë om te kan "relate and assemble" (75). Hoe meer aktante met mekaar te doen kry, hoe meer werklik raak hulle (80) en hoe groter is die potensiële invloed wat hulle op mekaar kan hê.

Dit bring ons terug na Braidotti: posthumanistiese subjektiwiteit verwerp individualisme, maar ook die relativisme en nihilisme waardeur (post)moderniteit gekenmerk word (Braidotti, Posthuman 49). Dit stel 'n interverbondenheid tussen die self en die ander (wat die nie-menslike en nie-lewende insluit) voor wat die versperrings verwyder wat deur selfgesentreerde individualisme daargestel is (49-50). Posthumanistiese subjektiwiteit is verder nie gewortel in 'n reaktiewe wederkerige interafhanklikheid in die aangesig van gedeelde bedreigings nie, maar eerder 'n bevestigende verbintenis wat die subjek posisioneer binne die natuurlike en ongehinderde vloei van verbintenisse met meervoudige andere (50). Dit eggo Latour se relasionele ontologie: alles op aarde is nie bloot in verhouding met mekaar omdat ons skielik voor dieselfde bedreiginge te staan kom nie; ons is in verhouding omdat ons (alles en almal) op dieselfde ontologiese voet is. Ons kan mekaar bloot toevallig beïnvloed, maar wedersydse beïnvloeding is nooit eenvoudig of ongekompliseerd nie. Belangrik is ook Braidotti se aandrang dat posthumanistiese subjektiwiteit nie begrond is in een of ander geïdealiseerde, toekomstige oomblik nie, maar in die "real-life, world-historical conditions" waarmee ons met dringendheid gekonfronteer word in die kontemporêre oomblik (83). Briadotti se konseptualisering van posthumanistiese subjektiwiteit word uiteindelik gekenmerk deur 'n etiek wat gebaseer is op relasie en interafhanklikheid in die hier-en-nou (95).

 

Posthumaninstiese subjektiwiteit en relasionaliteit in Odendaal se gedigte

Die gedigte in asof geen berge ooit hier gewoon het nie kan met vrug aan die hand van Latour se relasionele ontologieë gelees word met behulp van Braidotti se 'posthumanistiese subjektiwiteit'. Odendaal se bepeinsinge oor die vraag "re mang?" word vervolgens ondersoek deur 'n aantal gedigte uit die bundel te analiseer. Ek poog ook om die groot tematiese lyne van die bundel uit te wys aangesien Odendaal myns insiens 'n sterk persoonlike filosofie rondom relasionaliteit en posthumanisme in die bundel uitbou. Vir hierdie doel word die bundelbespreking in drie onderafdelings ingedeel: die oorvleuelings tussen postkolonialisme en 'n relasionele ontologie wat in die gedigte na vore kom; hoe Odendaal se ekokritiese gedigte posthumanistiese eienskappe vertoon; en hoe eindigheid voorgehou word as 'n relativerende en gelykmakende element in die gedigte oor die digter se familie en "lovers". Laastens word die slotgedig "wegraak" (112) ontleed as samevattend van Odendaal se digterlike filosofie in asof geen berge ooit hier gewoon het nie.

Postkolonialisme en relasionele ontologie

Die gedigte in die eerste afdeling van Odendaal se bundel verteenwoordig volgens Viljoen (115) "'n soeke na 'n identiteit wat die saamwees met ander sal akkommodeer". Die bundel open met twee gedigte wat van die begin af 'n relasionele en postkoloniale aanslag daarstel. Dié twee gedigte, "die aand toe die see gesing het" (Odendaal 13) en "reaching shore" (15), vorm 'n tweetalige gesprek waartydens Suid-Afrika (en by implikasie ook die hele wêreld) se problematiese geskiedenis van onderdrukking en slawehandel metafories voor die oë van die leser uitspeel. "die aand toe die see gesing het" begin met die woord "ek", maar verskuif baie vinnig na die perspektief van die "generasies stilgemaaktes" wat uit die see verrys "al die pad / terug tot by autshumao" (13). Die beeld wat in die gedig geskep word is een van 'n bevoorregte jongman uit 'n spesifieke agtergrond wat op 'n spesifieke plek (Bloubergstrand) gekonfronteer word met die gevolge van eeue se Eurosentriese (en ook humanistiese) onderdrukking van die ander: "ons verswelg mekaar / die grond krioel van ons / die aarde sweet geweld", "galstories stroom uit hul onafgehandelde lywe / die see sidder van betekenis" (13).

Daarna volg die Engelstalige gedig "reaching shore" (15) waarin die verwagte vergelding wat in die eerste gedig geïnsinueer is, nie plaasvind nie. In plaas daarvan word die "ons" se "lifeless skins" soos "wetsuits" uitgetrek en eenkant op 'n hoop gegooi soos "washed-out kelp" sodat hulle saam langs die vuur kan gaan sit om warm te word. Die gedig spreek van 'n uitnodiging en 'n behoefte om ongehinderd na mekaar se stories te luister ("shake our ears clean")-om mekaar op dieselfde ontologiese vlak te ontmoet, sonder dat die ongeregtighede van die verlede ontken word. Die ek-figuur in die Engelstalige gedig word nie met 'n spesifieke ras- of velkleurmerker beskryf nie, wat beteken dat opposisies gebaseer op ras, soos swart teenoor wit, op relasioneel-ontologiese wyse ondermyn word. Die verskille tussen die spreker en aangesprokene word egter nie genegeer nie, maar empaties erken, soos die volgende reëls duidelik maak:

let me not think that I understand

what water means to you

simply because I have also swum

different currents

have brought us here

Alhoewel die gedig spreek van 'n strewe na gemeenskaplikheid, is dit duidelik dat só 'n gemeenskaplikheid nie bereik sal word sonder moeilik gesprekke en 'n proses waardeur hulle saam deur die vuur gesuiwer word nie. Daar moet dus 'n moeisame proses van vertaling plaasvind voordat die onregte van die verlede en die verskille tussen hierdie menslike aktante uitgewis sal kan word. Daarom is dit ook doeltreffend dat hierdie twee gedigte in twee verskillende tale weergegee word. Taal en die rol wat dit in moontlike versoening kan speel, is immers 'n belangrike deurlopende teenwoordigheid in die bundel. Dit wat mense verskillend maak en wat historiese ongelykhede tussen mense tot gevolg gehad het, word deur Odendaal se skerp sosiale kommentaar oopgekrap en alternatiewe word voorgehou:

never mind the stories that battle between us

never mind our lifeless skins lying in heaps

like washed-out kelp

never mind our wet words

and the inadequacies of night

the fire will change all of that

Gedigte soos die bogenoemde bevat beelde van beliggaming, geplaastheid en subjektiwiteit: 'n postkoloniale subjektiwiteit wat streef daarna om sigself en ander buite Eurosentriese, humanistiese idees van die self op relasionele wyse op gelyke voet te benader. Dit is egter duidelik dat hierdie ideaal nie in 'n land soos Suid-Afrika sonder moeite gerealiseer sal kan word nie. Die interaksies tussen die onreduseerbare menslike aktante is moeisaam en daar is 'n lang pad van wedersydse beïnvloeding en vertaling wat gestap sal moet word om die bemagtigende assosiasies daar te stel wat deur Latour se konsep van 'n demokratiese relasionele ontologie voorgestel word. Die laaste reëls van "fragmente" (110-1) spreek steeds 'n huiwerende versugting uit na 'n eenwording, deur middel van die volgende diepsnydende vrae:

[...] ek wonder

of ons ooit volledig mekaar se klere sal aantrek

in volkleur deur mekaar se oë sal sien

volslae die ritme van saamasem sal deel

Ekokritiek en posthumanisme

Die ekokritiese gedigte in die tweede afdeling van die bundel getuig eweneens van 'n relasionele ontologie deurdat alle materie daarin op posthumanistiese wyse benader word as aktante met agentskap. Daarbenewens word die invloed van die mens op die aarde in die antroposentriese era beeldryk verwoord. "Die toon van die gedigte in hierdie afdeling het inderdaad 'n dringendheid genoodsaak deur die mens se disrespek vir en verinnewering van die planeet en sy nie-menslike inwoners", skryf Viljoen (155). Daar is inderdaad só 'n antihumanistiese ingesteldheid teenwoordig in gedigte soos "Hong Kong Internasionaal" (33), "terug die bos in (vriende is stapgenote)" (47-8) en "aan 'n bewoner in 2050" (37-8).

Laasgenoemde gedig is 'n direkte aanklag teen die mens: "hierdie tye leer ons om unprecious / oor spesies en duursaamheid te wees", "kyk, ons kanse lyk nie great nie" (37), en "ons is uitgeplug uit die lewens-amp [...] ons het ons rûe op die liglewe / waarom ons wentel / gedraai" (38). Die gedig skets die mens as die probleem, en ons verslaafdheid aan gemak en die verbruikerskultuur as dít wat ons afsny van en ongevoelig maak teenoor die res van die bewoners van die aarde. Daar is 'n duidelike relasionele ontologie wat uitgebou word in die gedig wanneer die spreker verduidelik hoe elke sel in 'n mens se lyf "'n jaartparty" van organismes is wat dit vir ons moontlik maak om ons voedsel te verteer, en uiteindelik self "mens word". "Ons is die musiek wat ons help uitdoof" skryf hy en skets die familiebande wat ons het met goggas en diere.

In die daaropvolgende gedig "sal ek die uitspansel" (39-40) word konneksies op mikroskopiese vlak uitgebou tot 'n lofsang vir die heelal waarin die mens relativeer word deurdat die spreker beskryf hoe "ons lig" en "ons dae" "nes die son se ontploffings / reeds môre koud sal wees" (39). Ons wat onsself hooghartig sien as "die meesters van materie" wat dink dat ons "die geheimenis van vuur verstaan". Alles, van 'n nebula, sterrestelsels, heliumeiers, tot die "ons" in die gedig, is deel van die DNS van die heelal, alles op dieselfde ontologiese vlak. Die laaste drie strofes van die gedig is egter 'n waarskuwing met twee dele: wat gaan van ons word as ons die aarde vernietig? En: ons is maar steeds gebonde aan tyd en die melkweg sal ons uiteindelik vergeet. "waar hou ons op / en waarmee moet ons ophou?", is die veelbetekenende vraag in die laaste twee reëls wat oorspoel in die volgende gedig "die aarde is 'n klein ritseling vlerke (cutting up Rimbaud during COP23)" (41-2) waarin 'n liefdesvers aan die aarde vermeng word met protesuitsprake oor aardverwarming.

'n Deurlopende tema in hierdie afdeling is hoe die aarde buite die menslike begrip van tyd bestaan. In die gedig "as jy agteruit swem" (44) word vertel hoe die tyd verbygegaan het terwyl die oervis, die selakant, rustig in die dieptes van die oseaan gewoon het. Die mens het "boontoe geswem / ons afgedroog en lug op die land gaan soek" terwyl die selakant "laag bly lê [het] en gewag [het] vir die see om te bedaar". Die laaste strofe is 'n versugting om meer soos die wyse ou selakant te wees:

leer ons om in die donker te leef soos jy

om sonder spreiligte en skares klaar te kom

sodat ons snags as ons slaap

kan leer om weer die gesuis

van mekaar se elektriese drome te lees

Odendaal se ekokritiese gedigte talm nie vir lank by 'n antihumanistiese vrees vir uitwissing nie. Dit gaan verder deur die mens uit die sentrum te haal en hom/haar gelyk te stel aan alle lewende en nie-lewende dinge op aarde. Dit konstrueer 'n beeld van 'n posthumanistiese subjektiwiteit wat gesetel is in aanspreeklikheid, maar wat ook gebaseer is op 'n sin van kollektiwiteit, relasionaliteit en gemeenskapvorming-met alles op aarde, nie net mense nie. Die 'ons' wat Odendaal in die gedigte skep is 'n kosmos van "planetêre skeppers" (31) wat alles deel vorm van die netwerk van aktante wat mekaar van die begin van tyd af (en lank nadat die mens dalk uitgesterf het) oor en weer beïnvloed. Latour skryf: "Things in themselves lack nothing" (in Harman, "Importance of Bruno Latour" 36). Die natuur is nie afhanklik van die mens om dit te red nie, want ons gaan ook vergaan. Die aarde en die natuur gaan voort en sal voortgaan sonder die mens. Ons hoef onsself nie te verhef tot die beskermers nie, en ons hoef ook nie onsself te sien as die almagtige vernietigers van die aarde nie. Ons is nie so belangrik nie. Ons is wel van die aarde afhanklik vir ons voortbestaan, en so word die bordjies op posthumanistiese wyse verhang. Ons moet ons eie subjektiwiteit eerder beskou in terme van 'n relasionele ontologie: ons is op dieselfde vlak as alles anders op aarde. Net soos wat mense plante nodig het om te oorleef, gebruik plante die koolsuurgas wat ons uitasem sodat hulle kan leef. Die eerste gedig in die afdeling verwoord hierdie filosofie duidelik: "hulle uitasem is ons in" (Odendaal 31-2). Die mens word hier uit die perspektief van die plante uitgebeeld as "bloot bye wat woorderig zoem / verplasings van lug wat hulle / met die wind verwar". Mag "alles weer woud word", skryf die digter, sodat ons die poësie kan sien wat bome skryf.

Eindigheid, familie en "lovers"

asof geen berge ooit hier gewoon het nie bevat gedigte wat handel oor die gesin en familielede, "lovers" en die relatiwiteit van tyd. Die "ons" in die afdeling "voor ons deurskynend word" is 'n persoonlike en duidelik subjektiewe 'ons': "Oupa Piet", "my voorouers", "my ouers", "ma", "pa", "my sussie", en 'n "ek" wat sukkel met depressie. In die aanvangsgedig (51) is al hierdie persone "om my: [...] in die hemele van my brein". Hulle is ingeweef in die wêreld in en die spreker dra hulle op sy gesig "sodat hulle wat nie meer is nie / hulself deur my oë / in die wind kan ken". Die spreker is onlosmaaklik deel van sy voorouers net soos hulle deel is van hom, selfs op molekulêre vlak. In gedigte soos "die see glim soos" (53-4), "skielik spring ek 20 jaar terug" (55) en "vir my ouers" (56) word die spreker se liefde vir en verbintenis met sy ouers op intieme wyse uitgebeeld, gepaardgaande met 'n besef dat sy ouers ook eens jonk was, foute gemaak het, en laterhand ook uitgelewer is aan die verbygaan van tyd. Die turbulente verlede van Suid-Afrika wat in die bundel aan bod kom, word ook in hierdie gedigte opgehaal, met verwysings na hoe verskillende Suid-Afrikaners Versoeningsdag ("16 Desember 2009" [52]) ervaar, en die sielkundige nagevolge van die grensoorlog ("noord-namibië" [57]).

'n Prominente tema wat in die bundel na vore kom, is tyd, en om uitgelewer te wees aan tyd. Eindigheid is uiteindelik die lotsbestemming van alles. Hierdie besef relativeer subjektiwiteit, maar beliggaam en bed dit ook in die huidige oomblik in. Die 'ek' is beide deel van niks en van alles, deel van die verbygaan van tyd, maar ook buite tyd: "ons" lê "vir 'n asem lank soos seeskuim" (68), skryf die spreker. In "die eerste helfte van die jaar is weg" (68), word die verbygaan van tyd uitgebeeld deur die proses van "deurskynend word / en wegsyfer / en van mekaar vergeet" (68). 'Ons', alles en almal, is onderworpe aan die verbygaan van tyd en ons almal staar oneindigheid in die gesig. Dit is iets wat alles gelykmaak en op dieselfde ontologiese voet plaas.

Soos vroeër in hierdie artikel genoem, is 'n belangrike uitgangspunt van Braidotti se posthumanisitiese subjektiwiteit die verskuiwing vanaf 'n sosiaal-konstruktivistiese verstaan van die natuur-kultuur-kontinuum, na 'n nie-dualistiese verstaan daarvan. Sy bou hierdie subjektiwiteit op die idee van die selforganiserende stukrag van alle lewende materie (Posthuman 3). Braidotti argumenteer dat lewende materie (waarvan mense deel is) nie meer verstaan en gekategoriseer (behoort te) word in terme van die dualistiese nosie van binariteite en verskille nie, maar dat dit eerder risomaties en prosesmatig benader moet word (96). Alles is altyd in 'n proses van wording, altyd besig om vertaal te word en nuwe assosiasies (of relasies) te skep, soos Latour dit sal verduidelik. So 'n proses is ook eties verantwoordbaar: "A relational recognition of similitude [...] fulfils the ethical need in this globalised world for a social model that is not determined in terms of difference, division, and binaries" (Van der Merwe 290).

Een van die belangrikste temas wat in die liefdesgedigte in Odendaal se bundel na vore kom, is grense: die bestaan, oorsteek en afbreek van grense en kategorieë wat mense van mekaar skei. In die gedig "some jocks have tutus" (Odendaal 77) word spesifiek melding gemaak van die grense van manlikheid wat vir die digterspreker geskep is deur die skoolseuns wie se name hy "soos spoelklippe" in sy sak dra. Die gedig is 'n uitbeelding van die digterlike persona se weerstand teen die kategorieë waarin mense hom geplaas het, maar ook die grense wat hy self gestel het ("ek het my met dieselfde asem / geteken en uitgevee"), omdat hy onseker was oor die proses waardeur hy besig was om homself te word. Die grensloosheid, onbepaaldheid en nie-dualisme van seksualiteit en genderbelewing loop soos 'n fyn draad deur die hele afdeling getiteld "as al my lovers". In sommige van die gedigte is die geliefde se geslag byvoorbeeld doelbewus onduidelik. In die aanvangsgedig (71) van die afdeling word daar spesifiek melding gemaak van "al my lovers", "die boys en girls, die poets en musos". Wat al hierdie mense saambind, is nie 'n vasgestelde genderbelewing of seksuele voorkeur nie, maar die feit dat hulle almal hierdie een persoon se "lovers" was. Hulle word saamgebind deur herinneringe, deur sy lyf wat "tussen hulle heupe verstrooi lê", maar ook deur die "beauty [.] wat lynreg deur hul harte loop".

Romantiese liefde veroorsaak dat mense deel raak van mekaar, figuurlik, maar ook letterlik, soos verken in "ek skryf hierdie gedig" (75-6). In hierdie gedig kies die spreker om die gedig aan sy Engelse geliefde in Afrikaans te skryf omdat hy nie seker is of hy wil hê die geliefde moet dit lees nie. Tog wil die ek "die grense van jou lyf soos rivierwalle" met sy hande uitkalwe, en voel die ek "na meer as materie as ek jou bedink / ek loop oor my buitelyne". Alhoewel die verhouding klaarblyklik beëindig is, was daar 'n tyd wat die liefde die grense tussen hulle laat wegval het sodat hulle soomloos in "simbiose" saambestaan het. 'n Soortgelyke gevoel word geskets in die gedig "how quickly stars turn to ash" (86). Alhoewel die gedig die verhaal vertel van 'n mislukte verhouding, het die twee persone in die gedig vir 'n rukkie hul werklikhede met mekaar gedeel: "the lines between us blurred as if our bodies already knew / they would soon learn to echo each other".

"wegraak" (II2)

Die vraag "re mang?" loop regdeur die bundel as 'n goue draad wat die relasies en hiërargieë tussen mense en geliefdes, maar ook tussen menslike en nie-menslike aktante, ondervra en problematiseer. Dit is egter duidelik dat die gedigte in die bundel nie noodwendig 'n klinkklare antwoord op hierdie vraag bereik nie. 'n Moontlike manier om die vraag te benader, word egter wel deur die loop van die bundel uitgebou, en word verwoord in die enigmatiese slotgedig "wegraak" (112). In die gedig word 'n "ons" uitgebeeld wat "êrens buite mcgregor" in die berge gaan stap. Die geologiese geskiedenis van die berge en valleie waar hulle hulself bevind, word op die voorgrond geplaas. Wanneer hulle op 'n koppie gaan sit en die mistigheid van die drywende wolke bo-oor die berge beweeg, voel dit vir die spreker asof alles platgevee word. In die proses ervaar hy 'n posthumanistiese (selfs prehumanistiese) relativering van die "ons" (en die "ek"): "ons klim uit onsselwe uit / en asem die reukloosheid van waterdamp in / ons word uitgevee" (122). Dis asof alles skielik tydloos raak, en selfs asof tyd agteruit beweeg na 'n era toe alles plat en gelyk was, "asof geen berge ooit hier gewoon het nie".

Die slotgedig skep 'n beeld van hoe relatief al die hiërargieë en groeperinge is waarin die mens die heelal so graag verdeel. 'Ons' as mense gaan uiteindelik uitgevee word deur die verbygaan van tyd en ons eie verganklikheid, en daarom is dit nodig om uit onsself uit te klim en ons regmatige plek in die werklikheid in te neem. As ons nie besef dat ons "sonder skoon grond, lug en water eenvoudig sal vrek" nie en dat "ons altyd fundamenteel geborge aan Pachamama (Moeder Aarde in Quechua) bly" (Odendaal, Meyer en Enslin) nie, gaan die aarde ons uitvee. Maar 'n vrees vir uitsterf en 'n angstige drang na oorlewing behoort nie ons enigste oorwegings in hierdie verband te wees nie. Posthumanistiese subjektiwiteit gaan immers nie daaroor om te doen wat vir die mens voordelig is nie, maar om die idee van die mens as middelpunt van die heelal te ondermyn. Deur middel van 'n posthumanistiese etiek wat gebou is op relasionaliteit en intersubjektiwiteit is dit dalk net moontlik om in die komplekse kontemporêre oomblik mensheid op 'n nuwe manier te definieer wat ou hiërargieë en binariteite afbreek tot voordeel is van alles op aarde.

Die gedigte in asof geen berge ooit hier gewoon het nie bied vir die leser 'n ander beeld van die werklikheid en van die idee van 'n 'ons' te midde van die globale onstuimigheid wat nou al so deel is van ons bestaan. Die 'ek', wat die vraag 'wie is ons?' vra, staan in die bundel altyd in 'n verhouding tot 'n 'ons', en daardie 'ons' is nooit absoluut en duidelik afgebaken nie. Die 'ons' is groter en wyer as velkleur, kultuur, klas, geslag, gender, of selfs spesie. Dit is 'n groot inklusiewe en akkommoderende 'ons' waarin alle lewende, nie-lewende, menslike en nie-menslike objekte (of aktante, om Latour se woord daarvoor te gebruik) op gelyke ontologiese voet beskou word. Die 'ons' in die bundel is gelyktydig beliggaam en ingebed, en ook vloeiend en altyd in 'n "process of becoming" (Braidotti, "Posthuman Critical Theory" 26). Die menslike bestaan en subjektiwiteit word voordurend deur Odendaal gerelativeer deur die verbygaan van tyd, die oerwysheid van die aarde, die vloeiendheid van identiteit en die strewe na 'n akkommoderende saambestaan.

Die idee van posthumanistiese en relasionele subjektiwiteit is nie 'n onrealistiese, idealistiese en romantiese idee van menslikheid nie. Dit is 'n filosofie wat die kompleksiteite van die interaksies tussen al die aktante in die heelal in ag neem. Die interaksies tussen objekte (veral mense) word altyd verstaan binne spesifieke materiële en gelokaliseerde (maar ook geglobaliseerde) kontekste, met al die uitdagings wat daarmee saamgaan. Die kwessies wat in die verskillende afdelings in Odendaal se bundel aan bod kom, beeld hierdie realiteite duidelik uit. Alhoewel ooreenstemming rondom die idee van 'n 'ons' moeisaam bereik kan word en soms selfs onmoontlik lyk, is relasionaliteit 'n bestaanswerklikheid. Dit is slegs deur die pynlike proses van vertaling (soms in die vorm van protes en geweld) wat die assosiasies wat tussen dinge bestaan, duideliker en meer gedefinieerd raak. Dan vervloei dit weer en is dit nodig om die proses van voor af te begin. Vir hierdie rede is dit uiters sinvol om die mens te sien as bloot nog 'n deel van die posthumanistiese "process of becoming", eerder as die middelpunt van alles. Braidotti verwoord dit soos volg: "I see the posthuman turn as an amazing opportunity to decide together what and who we are capable of becoming, and a unique opportunity for humanity to reinvent itself affirmatively, through creativity and empowering ethical relations, and not negatively, through vulnerability and fear" (Posthuman 195). Deur vreesloos, sonder angs vir uitwissing en sonder bybedoelings "uit onsselwe (te klim)" soos Odendaal (122) dit stel, en toe te laat dat 'n uitgediende verstaan van "ons" uitgevee word, raak dit moontlik vir die mens om vir sigself 'n nuwe antwoord te formuleer op die vraag "re mang?".

 

Slot

In hierdie artikel is Pieter Odendaal se debuutbundel, asof geen berge ooit hier gewoon het nie, bespreek binne die kader van posthumanistiese subjektiwiteit en relasionele ontologie. Vir hierdie doel is Rosi Braidotti se werk oor posthumanisme betrek as denkraamwerk wat mensgemaakte hiërargieë afbreek en die mens desentreer as die Kartesiaanse middelpunt van die heelal. Om die argument verder te verfyn, is Bruno Latour se relasionele ontologie betrek om aan te toon hoe verweef die verhoudinge tussen alle dinge (of aktante) op aarde is, en dat alles onvermydelik 'n invloed op mekaar het. Odendaal se bundel is binne hierdie konteks bespreek deur aandag te gee aan spesifieke gedigte waarin sy eie interpretasie van relasionaliteit en posthumanisme poëtikaal verwoord. Dit is gedoen deur spesifiek te fokus op gedigte waarin Odendaal postkoloniale en ekokritiese uitgangspunte in verband bring met posthumanisme en relasionaliteit. Die tema van eindigheid en die gelykmakende invloed van tyd het ook onder die loep gekom as uitdrukking van die relasionele. Laastens is die slotgedig van die bundel, "wegraak" ontleed om aan te toon hoe die "ons" waarna in die vraag "re mang?" verwys word, vir Odendaal 'n allesomvattende begrip word wanneer die hiërargieë tussen dinge afgebreek word en die mensdom ditself nie meer sien as in beheer nie, maar as deel van alles anders in die heelal.

 

Aantekening

1 Braidotti skryf "Man" met 'n hoofletter om te verwys na hoe Klassieke, Renaissance- en Verligtingdenkers die mens as middelpunt van die heelal beskou het.

 

Geraadpleegde bronne

Benjamin, Herschelle. "Asof geen berge ooit hier gewoon het nie deur Pieter Odendaal: 'n resensie". LitNet. 20 Sep. 2018. https://www.litnet.co.za/asof-geen-berge-ooit-hier-gewoon-het-nie-deur-pieter-odendaal-n-resensie/.         [ Links ]

Braidotti, Rosi. "Critical Posthuman Knowledges." The South Atlantic Quarterly vol. 116, no. 1, 2017, pp. 83-96. DOI: https://doi.org/10.1215/00382876-3749337.         [ Links ]

______________. "Posthuman Critical Theory." Critical Posthumanism and Planetary Futures, geredigeer deur D. Banerji & M. R. Paranjape. Springer, 2016, pp. 13-32.         [ Links ]

______________. The Posthuman. Cambridge: Polity, 2013.         [ Links ]

Estévez-Saá, M. & M. J. Lorenzo-Modia. "The Ethics and Aesthetics of Eco-caring: Contemporary Debates on Ecofeminism(s)." Women's Studies vol. 47, no. 2, 2018, pp. 123-46. DOI: https://doi.org/10.1080/00497878.2018.1425509.         [ Links ]

Felski, Rita. "Comparison and Translation: A Perspective from Actor-Network Theory." Comparative Literature Studies vol. 53, no. 4, 2016. pp. 747-65. DOI: https://doi.org/10.5325/complitstudies.53.4.0747.         [ Links ]

______________. "Introduction". Latour and the Humanities, geredigeer deur Rita Felski & Stephen Muecke. Johns Hopkins U P, 2020, pp. 1-27.         [ Links ]

Ferrando, Francesca. "Posthumanism, Transhumanism, Antihumanism, Metahumanism, and New Materialisms: Differences and Relations." Existenz vol. 8, no. 2, 2013, pp. 26-32. https://existenz.us/volume8No2.html        [ Links ]

Harman, Graham. Prince of Networks: Bruno Latour and Metaphysics. Re.press, 2009.         [ Links ]

______________. "The Importance of Bruno Latour for Philosophy." Cultural Studies Review vol. 13, no. 1, 2007, pp. 31-49. DOI: https://doi.org/10.5130/csr.v13i1.2153.         [ Links ]

Odendaal, Pieter. asof geen berge ooit hier gewoon het nie. Tafelberg, 2018.         [ Links ]

Odendaal, Pieter, Naomi Meyer & Liné Enslin. "asof geen berge ooit hier gewoon het nie: 'n onderhoud met Pieter Odendaal". LitNet. 25 Okt. 2018. https://www.litnet.co.za/asof-geen-berge-ooit-hier-gewoon-het-nie-n-onderhoud-met-pieter-odendaal/.         [ Links ]

Taljard, Marlies. "Resensie: asof geen berge ooit hier gewoon het nie (Pieter Odendaal)". Versindaba. 13 Sep. 2018. https://versindaba.co.za/2018/09/14/resensie-asof-geen-berge-ooit-hier-gewoon-het-nie-pieter-odendaal/.         [ Links ]

Van der Merwe, Joanette. "Notes Towards a Metamodernist Aesthetic." Proefskrif. Noordwes U, 2017. http://hdl.handle.net/10394/25443.         [ Links ]

Van der Tuin, Iris & Rick Dolphijn. "The Transversality of New Materialism." New Materialism: Interviews and Cartographies, geredigeer deur Rick Dolphijn & Iris van der Tuin. Open Humanities, 2012, pp. 93-113.         [ Links ]

Viljoen, Louise. "Asof geen berge ooit hier gewoon het nie." Tydskrif vir Letterkunde, vol. 56, no. 1, 2019, pp. 154-7. DOI: https://doi.org/10.17159/2309-9070/tvl.v.56i1.6306.         [ Links ]

 

 

Submitted: 5 October 2020
Accepted: 10 February 2022
Published: 9 May 2022

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License