SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.59 issue1Mogadishu as lost modern: In conversation with A Naked needleThe marathoner not yet at the finish line: Nuruddin Farah in Rome author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.59 n.1 Pretoria  2022

http://dx.doi.org/10.17159/tl.v59i1.12921 

RESEARCH ARTICLES

 

Alfred Schaffer, Shaka and transnationalism

 

 

Louise Viljoen

'n afgetrede dosent en navorser aan die Departement Afrikaans en Nederlands, Fakulteit Geesteswetenskappe, Stellenbosch Universiteit, Stellenbosch, Suid-Afrika. Haar navorsingsfokus is die Afrikaanse letterkunde, met spesifieke verwysing na postkolonialisme, geslagtelikheid, identiteit en transnasionalisme. E-pos: lv@sun.ac.za https://orcid.org/0000-0002-1748-9098

 

 


ABSTRACT

In this article, I read the Dutch poet Alfred Schaffer's volume of poetry Mens dier ding (Man animal thing) against the background of transnationalism. I employ transnationalism as critical or hermeneutic perspective and focus on the identity of the author, the themes worked out in the volume and the use of anachronism and metapoetical references as literary strategies in support of the transnational nature of the text. Reference is made to the way in which Schaffer's biography (his Dutch-Aruban descent, his movement between the Netherlands and South Africa, his views on poetry) facilitates a transnational reading of his volume Mens dier ding based on the history of the Zulu king Shaka as depicted in Thomas Mofolo's novel Chaka (published in 1925). The article also reads Mens dier ding against the background of the idea that transnational literature is a particular kind of literature that emerges at a specific point in history and deals with issues and themes associated with imperialism, colonisation, decolonisation and globalisation such as migration, displacement, cultural hybridity, identity, citizenship and the status of refugees. This reading is prompted by the fact that Schaffer displaces the historical Shaka to the present and eventually also represents him as an asylum seeker in an unnamed country. I discuss the volume's formal features, the transnational conversation with Mofolo's novel, the use of anachronism and the insertion of metapoetical elements in the text as literary strategies to deal with transnational issues such as migration, displacement, racial hierarchies, inequality and refugee experience.

Keywords: transnationalism, transnational literature, minor transnationalism, lateral transnationalism, anachronism, metapoetry, Alfred Schaffer, Mens dier ding, Thomas Mofolo, Chaka.


 

 

Inleiding

By die oorhandiging van die P. C. Hooft-prys aan Alfred Schaffer op 9 September 2021 verwys Ellen Deckwitz na sy bundel Mens dier ding van 2014 as 'n "vuurwerkbom [...] een mix van een geschiedenisboek en een lsd-trip" en sê sy dat dit 'n belangrike breuk met sy werk tot in daardie stadium verteenwoordig (Glorie). Die bundel Mens dier ding het inderdaad 'n verskuiwing en vernuwing in Schaffer se oeuvre gebring, onder andere deur die manier waarop dit nasionale grense oorgesteek het met die verwerking van die Suid-Afrikaanse historíese figuur Shaka (1787-1828) se lewensgeskiedenis, aan die hand van 'n roman oor sy lewe deur die Sotho-skrywer Thomas Mofolo. Die bundel oorskry ook nasionale grense deur die manier waarop dit omgaan met kontemporêre kwessies soos migrasie, vlugtelingskap, rassisme en dekolonisering. Hierdie artikel is 'n poging om Schaffer se bundel te plaas teen die agtergrond van die transnasionalisme en transnasionale letterkunde, en aan die hand daarvan sekere leesvoorstelle te maak.1

Transnasionalisme en die sogenaamde "transnational turn" het in die laaste twee dekades binne verskillende dissiplines na vore getree as 'n belangrike manier om te besin oor die impak wat bewegings oor nasionale grense heen binne daardie dissiplines het, alhoewel daar ooreenstemming is dat die wortels daarvan veel ouer is (Vandebosch en D'haen 3). Ingebed in die term "transnasionalisme" is die idee van 'n oorskryding van die grense van die nasie, wat veral verbind word met negentiende-eeuse idees oor die nasie. Presies hoe 'n mens die begrip "nasie" moet verstaan, is die onderwerp van heelwat debat.Jay wys daarop dat 'n nasie nie noodwendig ooreenstem met 'n staat nie: sommige nasies is staatloos, terwyl sommige state uit verskillende nasies bestaan-'n nasie is 'n kulturele kategorie en 'n staat 'n wetlike entiteit (12). Met verwysing na die etimologie van die Latynse woord "natio" en die werkwoord onderliggend daaraan, gee Morgan 'n verduideliking wat die klem laat val op 'n geografiese, kulturele en linguistiese verstaan van die begrip "nasie": "This verb carries the passive sense of being born into a place, time, group or race with its specific language, dialect and ethno-cultural attributes. Thus 'transnationalism' in a historical sense might incorporate this earlier and deeper sense of 'nation', and transnationalism in literature might be glossed more broadly as the textual evidence of those forces which compete with the sense of 'at homeness' of the literary voice, including geographical, cultural and linguistic identity-giving factors" (10). Transnasionalisme in die letterkunde behels dus ook oorskryding van die soort grense opgelê deur geografie, kultuur en taal, nie net van die nasie-staat nie.

Wiegandt wys daarop dat die konsep transnasionalisme literêre ondersoekers die geleentheid gee om bepaalde eienskappe van literêre tekste, hulle bemarking en resepsie, die identiteit van outeurs en literêre karakters te identifiseer wat nie noodwendig deur ander konsepte of benaderings belig word nie (1). Met verwysing na die antropoloog Vertovec se werk oor transnasionalisme verskaf hy ook 'n taksonomie van die transnasionale in letterkundestudie deur te verwys na ses kategorieë op grond waarvan tekste as transnasionaal geïdentifiseer kan word: (1) identiteit, waarvolgens outeurs, literêre bewegings of literêre karakters as transnasionaal geïdentifiseer word; (2) tema, waarbinne kwessies soos die lewens van diaporiese individue, migrasie of bewegings en gebeurtenisse oor nasionale grense heen beskryf word as transnasionaal; (3) estetika, wanneer literêre tekste en genres wat put uit estetiese vorme wat oor nasionale grense heen funksioneer, insluitende trans- en multilinguale werke, uitgewys word as transnasionaal; (4) resepsie, wanneer lesers nie noodwendig gekategoriseer word op grond van hulle nasionaliteit nie, maar volgens ander faktore soos gedeelde belangstellings, opvoedkundige agtergrond of 'n gedeelde lesersinstelling wat oor nasionale grense heen funksioneer; (5) bemarking, indien daar gefokus word op die bemarking van literêre tekste deur te wys op die transnasionale identiteit van die skrywers en/of karakters, die transnasionale aard van die temas of die transnasionale estetika van die betrokke werke; en (6) kritiese perspektief, wanneer literêre tekste gelees, geïnterpreteer en geklassifiseer word sonder inagneming van nasionale affiliasie (Wiegandt 2-3).

Hierdie bespreking van Alfred Schaffer se digbundel Mens dier ding sluit in verskillende opsigte aan by die kategorieë uitgewys deur Wiegandt. Dit sal uitgaan van die transnasionale as 'n kritiese perspektief en aansluit by Vandebosch en D'haen se opmerking dat transnasionalisme nie net 'n objek van studie is nie, maar ook 'n hermeneutiese perspektief wat die nasie as analitiese en organiserende kategorie in die letterkundestudie bevraagteken (1). Terselfdertyd sal die bespreking in ag neem dat die blote gebruik van die term transnasionaal die belangrikheid en relevansie van die nasionale impliseer. Wiegandt skryf dat die term transnasionaal juis erkenning gee aan die nasionale deur aan te dui dat iets of iemand die grense daarvan oorskry: "'Transnational' does not imply that nations no longer play a role, but recognises that nations remain decisive actors in a globalised world" (7). Asmann argumenteer eweneens dat die nasie nie weggedink word uit die transnasionalisme nie, maar eerder simbolies en polities herverbeel word: "They [nations] are imagined differently as inherently and externally relational, embedded and contextualised, always implicated in and partaking of larger processes and changes" (Assmann 547).

Met Wiegandt se taksonomie in gedagte sal hierdie bespreking verder ook fokus op die transnasionale identiteit van die skrywer asook die transnasionale tematiek en transnasionale estetika onderliggend aan die bundel. Wat die transnasionale tematiek betref, sal dit uitgaan van die standpunt dat Mens dier ding op verskillende maniere die tema van transnasionale beweging na vore bring. Jay argumenteer dat transnasionale letterkunde op twee maniere gekonsepsualiseer kan word. Aan die een kant kan die transnasionaliteit van letterkunde, met ander woorde die beweging van literêre tekste oor grense heen, gesien word as iets wat nog altyd bestaan het en waarvan die produksie, bewegings en resepsie bestudeer word om na te gaan wat sodanige tekste in staat gestel het om buite hulle historíese en geografiese oorspronge te beweeg. Aan die ander kant kan transnasionale letterkunde gesien word as 'n bepaalde soort letterkunde, wat op 'n spesifieke historiese moment na vore getree het en waarin daar sprake is van bepaalde temas en literêre tegnieke. Wanneer hy transnasionale letterkunde onderskei van wêreldletterkunde ("world literature") omskryf hy dit as volg: "In contrast, transnational literature is a particular type of literature, emergent at an identifiable historical moment and dealing, collectively, with a set of issues and themes associated with decolonization, globalization, postmodernity, and technology. Put another way, transnational literature is about the variety of forms of transnational experience produced by the convergence of these forces" (51). Omdat transnasionale letterkunde fokus op die sosiale, politieke, kulturele, ekonomiese en sosiale kragte wat gepaard gaan met imperialisme, kolonialisme, dekolonisering en globalisering, betrek dit 'n wye spektrum van kwessies en onderwerpe, waaronder migrasie, verplasing ("displacement"), ballingskap, die vloeibaarheid van letterlike en figuurlike grense, kulturele hibriditeit, identiteit en burgerskap, die status van vlugtelinge, ensomeer (52). Schaffer se Mens dier ding sou verder as 'n voorbeeld van transnasionale letterkunde gesien kan word as gevolg van die wyse waarop dit sommige van hierdie kwessies aanroer.

Verder ter sake by die lees van die Nederlandse digter Schaffer se bundel Mens dier ding oor die Suid-Afrikaanse historíese figuur Shaka en 'n skrywer uit Lesotho (vroeër Basotholand) se verwerking van hierdie historíese gegewens in 'n roman is die idee van "minor transnationalism", soos omskryf deur Lionnet en Shih. Hulle argumenteer ten eerste dat die transnasionale nie gebonde is aan die binêre opposisie tussen die lokale en die globale nie, maar dat dit kan voorkom bínne die grense van nasionale ruimtes (6). Die idee dat transnasionale bewegings ook binne nasionale grense kan uitspeel, vind 'n mens in talle omskrywings van die transnasionalisme (vergelyk Jay 10; Vandebosch en D'haen 4). Wat Suid-Afrika betref, is daar byvoorbeeld sprake van een Suid-Afrikaanse staat wat bestaan uit diverse rasse, etniese groepe, kulture, taalgroepe en letterkundes. 'n Transnasionale benadering sou dus bewegings tussen hierdie groepe (byvoorbeeld in die vorm van vertalings, uitruilings op die gebied van vorm en tema, intertekstuele gesprekke) kon akkommodeer en selfs fasiliteer. Morgan herinner 'n mens ook daaraan dat hierdie proses onderskei moet word van multikulturalisme in literêre studie wat verwys na werke wat binne 'n bepaalde land geskryf word deur outeurs van verskillende etno-kulturele agtergronde of immigrante-oorspronge, maar tog ingebed is in die raamwerk van 'n nasionale letterkunde (5). In dié geval is daar nie sprake van 'n bevraagtekening of selfs problematisering van die konsep nasie as 'n analitiese of organiserende beginsel nie.

Wat Lionnet en Shih betref, word die integrale rol wat minderheidskulture ("minor cultures") in die transnasionalisme speel, ontken as gevolg van 'n manier van dink oor die transnasionalisme wat steeds berus op binêre opposisies soos dié tussen die globale noorde en globale suide, ook tussen die dominante en die ondergeskikte (8). Hiervolgens word die transnasionalisme gesien as 'n vertikale beweging van die kleiner of minder gerekende kulture ("minor") na die groter en meer belangrike kulture ("major"), eerder as om ook ondersoek in te stel na die bewegings en netwerke tussen die kleiner kulture onderling. Volgens Lionnet en Shih is die logika van globalisering sowel sentripetaal as sentrifugaal in dié sin dat dit 'n universele norm veronderstel wat oor die wêreld versprei en ander kulture intrek om uiteindelik getoets te word aan daardie norm. Uiteindelik produseer dit 'n hiërargie waarin die sogenaamd universele (verbind met die groot kulture wat politieke, ekonomiese en kulturele mag het) hoër gewaardeer word as die lokale (verbind met die kleiner kulture wat nie oor daardie soort mag beskik nie) (5). Wat hulle betref, is die transnasionale ook 'n ruimte waarbinne uitwisseling en deelname tussen kleiner kulture kan plaasvind, sonder dat een van die groot kulturele sentrums in die globale Noorde tussen die twee kleiner kulture hoef te medieer (5).

Dit is opvallend dat Lionnet en Shih in hulle omskrywings van hierdie soort transnasionale verkeer gebruik maak van die term "minor", wat enersyds gelees kan word as normatief (in die sin van "minder belangrik" of "minder waardevol") en andersyds as beskrywend (in die sin van kleiner in omvang van die literêre veld, die aantal publikasies, die aantal lesers, ensovoorts). Hulle verwys ook vlugtig na die moontlikheid om die woord "minor" te lees as 'n verwysing na 'n "minor key" of mineursleutel, soos wat dit in die musiek gebruik word, wanneer hulle suggereer dat werke wat deel uitmaak van die uitwisselings tipies van "minor transnationalism" dikwels 'n "introspective and mournful tone" het en dalk die modus is waarin "the trauma of colonial, imperial, and global hegemonies as well as the affective dimensions of transcolonial solidarities continue to work themselves out" (21).2Teen hierdie agtergrond verkies ek om liewer-soos T'Sjoen en Linde-die term "laterale transnasionalisme" te gebruik. Die woord "lateraal" impliseer dat dié vorm van transnasionalisme 'n interaksie tussen verskillende klein letterkundes is en probeer daarmee afstap van die idee dat daar in essensie 'n hiërargie bestaan tussen groot ("major") en klein ("minor")-sonder om te ontken dat die veronderstelling van so 'n hiërargie deur die groot imperiale en koloniale sentrums van die wêreld 'n historiese gegewe is wat tot vandag toe gevolge het vir dié in die eertydse kolonies. Myns insiens sou die interaksie tussen Nederland en Suid-Afrika as 'n vorm van laterale transnasionalisme gesien kon word omdat beide die Nederlandse en die Suid-Afrikaanse literêre velde as klein beskou sou kon word. Alhoewel Nederland in vroeër tye groot politieke, ekonomiese en kulturele mag gehad het, word dit tans nie meer beskou as 'n groot speler in die wêreldrepubliek van die lettere nie. 'n Mens dink hier aan D'haen se enigsins wrang opmerking dat die Nederlandstalige letterkunde onder die "minor literatures" van Europa tel, naamlik literature wat min globale blootstelling kry teen die agtergrond van 'n haas oorweldigende Anglo-globalisme (8). Die Nederlandse outeur Schaffer se interaksie met 'n Suid-Afrikaanse onderwerp en 'n Suider-Afrikaanse roman kan myns gelees word as 'n voorbeeld van bogenoemde soort laterale transnasionalisme.

Mens dier ding is 'n bundel van uitsonderlike digtheid, kompleksiteit en subtiliteit wat tot 'n hele spektrum van ondersoeke en lesings sou kon lei. My eie lesing van die bundel word bepaal deur my gebruik van die transnasionalisme as kritiese perspektief en ook deur my geplaastheid as (Suid-)Afrikaanse literêre ondersoeker. My fokus val in hierdie artikel op die identiteit van die digter, die ontstaansproses en die teks, in dié sin dat ek nagaan in watter mate die digter transnasionaal geplaas is, die ontstaan van die teks beïnvloed is deur transnasionale bewegings en die teks self getuig van 'n transnasionale ingesteldheid, tematiek en estetika. Ek sal dus stilstaan by die Schaffer-biografie, die transnasionale gesprek met Mofolo se roman Chaka asook die gebruik van anachronismes en die metapoësie as literêre strategieë wat die transnasionale aard van die bundel te ondersteun. Verdere ondersoeke sou gedoen kon word na die transnasionale bewegings van die bundel deur te fokus op die verskillende vertalings van die bundel (tot op datum is dit in Afrikaans, Frans en Engels vertaal), die resepsie van die verskillende vertalings binne hulle bepaalde kontekste en die manier waarop die vertaalde teks opgeneem word in ander literêre sisteme deur lesers en ander skrywers.

 

Transnasionalisme en die Schaffer-biografie

Wat 'n transnasionale lesing van Mens dier ding betref, sou 'n mens-sonder die 'psigologisering' waarteen Franssen (19) waarsku-kon begin by Schaffer se biografie. Hy verwys by geleentheid na homself as 'n Nederlands-Arubaanse digter oftewel "Dutch-Aruban poet" (vergelyk die bio-nota by Schaffer, "'A reflection of a reflection': Notes on representational and ethical possiblities in Thomas Mofolo's Chaka"). Schaffer se vader was 'n Nederlander, sy moeder 'n boorling van die eiland Aruba ('n Karibiese eiland wat sedert 1636 'n Nederlandse besitting is), waarvandaan sy in die vyftigerjare na Nederland gegaan het om daar as verpleegkundige te werk (De Jong). In 'n gesprek met Willem Anker in 2015 verwys Schaffer na sy familiegeskiedenis as "'n geskiedenis van velkleur, tuis wees en ontuis voel, migrasie, die Karibiese eilande" (Anker en Schaffer), 'n gegewe wat hy later poëties ondersoek in sy bundel wie was ik. strafregels van 2020.3

Schaffer is verder ook 'n skrywer wat beweeg tussen sy geboorteland Nederland en Suid-Afrika waar hy tans woon. Hy kom in 1996 na Suid-Afrika om aan die Universiteit van Kaapstad te studeer waar hy in 2002 'n PhD verwerf met 'n proefskrif oor representasies van die argetipiese adolessent en jong man in literatuur uit Nederland, Afrika en ander wêrelddele. Hierna word hy dosent in Nederlandse letterkunde aan dieselfde universiteit tot met sy terugkeer na Nederland waar hy vanaf 2005 tot 2007 as fondsredakteur werk by die uitgewery Cossee en vanaf 2007 tot 2010 by die uitgewery De Bezige Bij. In 2011 keer hy weer terug na Suid-Afrika waar hy doseer aan die Universiteit van Stellenbosch (vergelyk die onderhoud met De Jong). Daar is dus nie net sprake van die transnasionale beweging van die skrywer tussen Nederland en Suid-Afrika nie, maar ook-soos wat die fokus van sy doktorale studie getuig-van 'n belangstelling in die literatuur van Suider-Afrika, Afrika en die groter wêreld naas dié van Nederland.

Ook belangrik vir 'n begrip van die transnasionale invloede in Schaffer se werk is die impak wat die verblyf in Suid-Afrika op sy opvattings oor poësie gehad het. In die Hans Groenewegen-lesing, gelewer in Gent in 2019, sê hy dat 'n mens die bystelling van sy denke oor die poësie "niet los kan zien van de urgente, Zuid-Afrikaanse leefomgeving die anders is dan die waarin ik opgroeide" ("Op de rug gezien" 7). Hy vertel in dieselfde lesing dat sy eie voorkeur vir 'n hermetiese poësie, veral gemoeid met die ontginning van taal, op losse skroewe te staan gekom het na 'n poësie-voorlesing in die Kaapse woonbuurt Delft waartydens 'n vrou 'n gedig oor die verkragting van haar dogter voorgelees het. Veral treffend vir hom was die feit dat sy juis die medium van die poësie gekies het om 'n intiem persoonlike ervaring te verwoord (12). Tesame met sy vertaling van die werk van Afrikaanse digters soos Ronelda Kamfer lei die ervaring in Delft hom daartoe om in hierdie lesing om te gaan met die moontlikheid dat poësie 'n ambagtelike taalproduk is, wat tegelykertyd persoonlik mag wees én betrokke by die dringende realiteite wat die digter omring (28). Hy verwys in hierdie verband ook na uitsprake van H. H. ter Balkt en Antjie Krog (41).

Schaffer verwys ook na die impak van Suid-Afrika op sy werk in gesprekke rondom die toekenning van die P. C. Hooft-prijs. Op 'n vraag of hy homself as 'n geëngageerde digter beskou en watter rol Suid-Afrika daarin speel, antwoord hy: "[Zuid-Afrika] heeft mijn blik op poëzie en het leven radicaal veranderd. Zonder Zuid-Afrika en mijn werk en collega's daar-altijd in een andere taal aan het werk zijn, alleen dat al-zorgt ervoor dat je anders tegenover je moedertaal komt te staan. En dan ook nog in een land dat nou niet Frankrijk of Italië of Amerika is.

Het is iets heel anders, hoewel de Westkaap wel veel Europese invloeden heeft. Je komt daar op straat zoveel verschillende talen tegen, zoveel contrasten tussen hoe mensen leven in de wereld. Dat doet iets met je als mens, en dat doet vervolgens ook iets met je als schrijver" (Glorie). Dit blyk dus dat die blootstelling aan die dringende maatskaplike probleme van Suid-Afrika asook die voortdurende kontak met ander tale as Nederlands 'n impak op sy skrywerskap het: nie net lei dit tot 'n betrokkenheid by die werklikheid buite die poësie nie, maar ook 'n nuwe soort bewuswording van sy eie taal. Elders maak hy die opmerking dat die skryf van poësie in Nederlands en die doseer van Nederlandse letterkunde 'n manier is waardeur sy band met Nederland behoue bly (Glorie).

Hieruit blyk dit dat transnasionale beweging en transnasionale bemoeienisse by wyse van spreke ingebed is in Schaffer se biografie, sy poëtikale opvattings en poëtiese projekte. Dit verskaf 'n verdere motivering om sy bundel Mens dier ding as 'n voorbeeld van transnasionale letterkunde te lees.

 

Die transnasionale en intertekstuele gesprek met Mofolo

Schaffer se keuse om 'n digbundel oor 'n prominente figuur uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis te skryf, is 'n duidelike manifestasie van 'n digterskap gewortel in 'n transnasionale gevoeligheid. 'n Belangstelling in letterkundes oor nasionale grense heen blyk reeds uit sy doktorale proefskrif, getitel "De geschiedenis van een jonge god: mythe, primordialiteit en de representatie van de archetypische adolescent en jonge man in werken uit die moderne Afrikaanse literatuur en de wereldliteratuur" waarin werke uit Europa, Afrika, Japan en die VSA aan bod kom. Reeds in hierdie proefskrif bespreek Schaffer die Sotho-skrywer Thomas Mofolo se roman Chaka (voltooi in 1909, gepubliseer in 1925-vergelyk Sandwith 472), tesame met die Afrikaanse digter D. J. Opperman se gedigreeks "Shaka" uit sy debuutbundel Heilige beeste van 1954, om aan te toon dat die Shaka-figuur gesien kan word as verteenwoordigend van die universele argetipe verteenwoordig deur die Griekse God Apollo. Winkler wys daarop dat "de vergelijking over landsgrenzen" moontlik gemaak word deur Schaffer se oortuiging dat 'n literêre werk pas geslaagd is wanneer dit 'n tydlose of universele laag ontsluit, 'n "sublieme primordialiteit" aanboor.

Schaffer se terugkeer na die historíese figuur Shaka en Mofolo se roman Chaka met die skryf van Mens dier ding staan veel sterker in die sfeer van die transnasionalisme as die argetipiese benadering daarvan in sy proefskrif. Hierdie teks waarin 'n Nederlands-Arubaanse skrywer in gesprek tree met 'n Suider-Afrikaanse Sotho-skrywer word naamlik geskryf en gepubliseer in 'n tyd waarin die nadruk op die soort omstandighede wat met die transnasionale letterkunde, soos omskryf deur Jay, geassosieer word veel sterker is as tevore. In die tyd wat die bundel geskryf, gepubliseer, bekroon en bestudeer word, is daar veral in Europa sprake van 'n krisis rondom migrante en vlugtelinge. Wêreldwyd is daar ook 'n steeds sterker bewuswording van die effekte van rassisme (vergelyk die #Black Lives Matter-beweging wat in 2013 in die VSA begin), 'n besondere gevoeligheid rondom ekonomiese ongelykheid as een van die gevolge van kolonialisme (vergelyk Suid-Afrikaanse bewegings soos #RhodesMustFall, #OpenStellenbosch en #FeesMustFall in 2015 en 2016) en oproepe om 'n hernude proses van dekolonisering, veral van universiteite in Afrika. In 2021 sê Schaffer in 'n onderhoud met Laura de Jong dat hy in Mens dier ding oor 'n swart personasie wou skryf omdat hy vind dat dit te min in die Nederlandse poësie gebeur, ook omdat kwessies soos rassisme en swart-wit-verhoudings tot in daardie stadium nie so prominent was in sy bundels nie (De Jong).

Beide die historíese Shaka en Mofolo se roman Chaka was al die onderwerp van verskillende vorme van transnasionale appropriasie en verwerking. Ten spyte van die feit dat Mofolo gekritiseer is omdat hy homself as Basothoskrywer aangematig het om oor die Zulu-koning Shaka te skryf (vergelyk Krog 12-3), kan sy roman gesien word as 'n vorm van laterale transnasionalisme wat die grense tussen twee grondgebiede, etniese en taal-groepe oorskry het. Wanneer Sandwith skryf oor die publikasie-, vertalings- en resepsiegeskiedenis van Mofolo se roman aan die hand van paratekstuele gegewens, verwys sy ook na hierdie bewegings as transnasionaal: "There is thus an important transnational element to its successive restaging as it moves within and across national boundaries and reading circuits" (472). Vassilatos beskryf op haar beurt Franstalige Afrika-skrywers se verwerking van Mofolo se roman as 'n gesprek tussen periferieë: "not between metropole and peripheries but within the peripheries, no matter how removed historically and culturally from one another they appear" (165). Sy lê veral klem op Leopold Senghor se epiese gedig Chaka, gepubliseer in die bundel Éthiopiques van 1956, waarin hy die Shaka-figuur 'n draer van sy filosofie van négritude maak deur Mofolo se roman te herskryf en Shaka op poëties-anachronistiese wyse voor te stel as 'n martelaar vanweë die kolonialisme waaraan Afrika onderwerp is (164-6). Wylie skryf op sy beurt in Savage Delight. White Myths ofShaka (2000) oor die manier waarop wit skrywers dié Zulu-koning geapproprieer en gestereotipeer het in hulle uitbeeldings van hom.

Gesien die ryk voorgeskiedenis van verwerkings van beide die Shaka-geskiedenis en Mofolo se Chaka is dit nie vreemd dat Schaffer eksplisiet vir homself rekenskap gee van sy eie omgang met die Shaka-figuur en Mofolo se roman nie. Hy erken dat hy veel verskuldig is aan Mofolo (waarvan hy die Afrikaanse vertaling deur Chris Swanepoel eerder as die bekende Engelse vertaling deur Daniel Kunene gebruik het) ("'Reflection of a reflection'" 151). Hy noem sy eie teks 'n kreatiewe verwerking ("creative adaptation") van die Mofolo-teks, getransponeer na 'n ander tyd en aangevul met 'n hele spektrum van ander verwysings (149). Nie net word Shaka se lewensgeskiedenis gefiksionaliseer en verplaas na die hede nie; hy word ook in 'n bepaalde stadium in die teks 'n asielsoeker gemaak in 'n vreemde land. Laasgenoemde skuif toon in welke mate Schaffer homself besighou met die transnasionale tematiek van migrasie, vlugtelingskap, ontheemding, ballingskap en beweging oor grense heen.

Die mees opvallende struktuurelement in die bundel is die afwisseling tussen die 47 gedigte waarin die verhaal van Shaka vertel word (elk van hierdie gedigte begin met die eerste reël in hoofletters) en die 43 "dag(droom)"-gedigte wat genommer is vanaf 12.868 teruglopend tot by 0. Die "Sjaka"-gedigte is breedweg gebaseer op Mofolo se roman. Hulle is ook vormlik en stilisties hoogs gevarieerd (daar word gebruik gemaak van ongewoon lang titels, die briefvorm, onderhoude, gesprekke, 'n grap, 'n Twitter-verslag oor 'n hofsaak, 'n tv-speletjie). Verder is daar sprake van speelse en komiese elemente in hierdie gedigte, sy dit dan gekleur met 'n donker-ironiese aanslag. Die "dag(droom)"-gedigte is stilisties veel meer eenvormig, maar bevat 'n element van die surrealistiese en beskryf op die oog af ervarings van vervreemding, disoriëntering en benouing deur 'n ek-spreker wat waarskynlik Sjaka is. Opvallend van die bundel is dat Schaffer die meer gebruiklike spelling van die naam Shaka verander na Sjaka wat volgens hom verwys na die tipies-Nederlandse seunsnaam Sjaak ("'Reflection of a reflection'" 155). Om hierdie rede sal ek die skryfvorm "Sjaka" gebruik wanneer ek verwys na die karakter in Mens dier ding, maar-ooreenkomstig die Afrikaanse woordelys en spelreëls se voorskrifte in verband met eiename uit Afrikatale-die skryfvorm "Shaka" wanneer ek na die historíese figuur en die karakter in Mofolo se roman verwys.

Die bundel begin met twee gedigte wat die leser daarop voorberei dat dit hier sal gaan oor die Sjaka-figuur as beide koning en asielsoeker. Die eerste gedig is getitel "EEN ZWARTE MAN GEWAPEND MET EEN SPEER HEEFT GISTERAVOND TIJDENS HET SPITSUUR VOOR ONTSTELTENIS GEZORGD. BREEDUIT GING HIJ OP DE SNELWEG LIGGEN. EEN WEG DIE NOTA BENE DWARS DOOR DE VERBLIJFPLAATS LOOPT VAN DEZE MAN" (7).4 Die gedig roep assosiasies met Afrika op vanweë die verwysing na die spies ("speer") wat in die daaropvolgende gedig bevestig sal word deur die verwysing na die historiese figuur Shaka. Die man in hierdie gedig se handeling suggereer enersyds 'n daad van protes, andersyds die handeling van iemand wat desperaat is, onder die invloed van drank of dwelms of dalk geestesongesteld en gevul met selfmoordgedagtes. Terugskouend gelees is die feit dat hy "verward en aggressief" reageer wanneer hy in hegtenis geneem word, veelseggend ten opsigte van figuur wat ons in die daaropvolgende teks gaan ontmoet: hy is tegelyk die verwarde, gedeprimeerde en hallusinerende asielsoeker en die magtige, gewelddadige Zulu-koning.

Die tweede gedig, getitel "HARDE FEITEN RONDOM SJAKA DAT WIL ZEGGEN HARDE FEITEN RONDOM MIJ" (8-12), bevestig die identiteit van die swart man as Sjaka en verskaf ook 'n grondplan vir die bundel wat gaan volg. In die eerste plek bied hierdie gedig vir ons die sogenaamd "harde feite" in verband met Sjaka, die buite-egtelike seun wat die Zulu-koning geword het deur in verskillende strofes na die verloop van sy lewe te verwys. Tweedens word daar in ander strofes verwys na die alternatiewe identiteit van Sjaka wat hierdie bundel ten tonele sal voer, naamlik dié van vlugteling of asielsoeker wat per boot uit Afrika aankom in 'n ongeïdentifiseerde land waarin hy 'n rigtinglose lewe lei. Ook van kardinale belang vir die lees van die bundel is die feit dat sommige strofes in hierdie gedig beklemtoon dat hierdie (trouens enige) voorstelling van Shaka bevraagteken kan word vanweë die gebrek aan historiese feite in verband met hom (vergelyk "Op van alles en nog wat ben ik gebaseerd / niet op die waarheid", strofe 1) en die feit dat mense geneig is om hulle eie idees op hom te projekteer ("Ik ben een projectiescherm, een zwarte krijger / met een donkerbruine huid en doorschijnende ziel", strofe 3). Dit word verder onderstreep deur die feit dat Sjaka sy eie spieëlbeeld as volg beskryf: "Wat zie ik als ik kijk in de spiegel? Een golvende reflectie / van een reflectie van een reflectie. / Ik noem dit het Droste-effect / u noemt het Symboliek" (strofe 24). Die verwysing na die Droste-effek (oftewel mise en abyme-effek), tesame met verwysings na die verfilming van bepaalde gebeure, bevestig dat die leser hier te doen het met 'n refleksie of fiksionalisering wat berus op ander refleksies en fiksionaliserings tot in die oneindige toe. Hierdeur word die leser van meet af aan bewus gemaak dat dit hier gaan om 'n artefak, 'n kreatiewe produk wat nie herlei kan word tot 'ware' feite nie, maar tog kommentaar kan lewer op 'n bepaalde werklikheid.

Gaan 'n mens Schaffer se kreatiewe aanpassing van Mofolo se roman na, blyk dit dat hy in 'n groot mate die hoofmomente van Mofolo se gefiksionaliseerde weergawe van Shaka se lewe volg. Van elkeen van die hoofstukke is daar 'n korresponderende, maar ook duidelik verskillende gedig gemaak (met daartussen 'n aantal "Sjaka"-gedigte wat nié noodwendig met 'n spesifieke moment in Mofolo se roman verbind kan word nie). Op hierdie manier bied Schaffer sy lesers die geleentheid om die belangrikste momente in Shaka se lewe mee te maak in die loop van die bundel. Onder hierdie momente tel byvoorbeeld die volgende: die ontmoeting tussen Senzanghakona en Nandi wat lei tot die buite-egtelike geboorte van Shaka; die verwerping van Nandi en Shaka deur Senzanghakona en die gevolglike afknou van Shaka deur die ander kinders; Shaka se ontmoeting met die waterslang wat voorspel dat hy sal regeer; die aanval op Shaka deur sy halfbroers en sy besluit om te vlug; Shaka se ontmoeting met die toordokter Isanusi wat hom behandel met medisyne om hom voor te berei vir die koningskap en meedeel dat dit sy opdrag is om dood te maak sonder genade; Shaka se aansluiting by die leërs van Dingiswayo en sy sukses as kryger; Shaka se ontmoeting met sy twee helpers Ndlebe en Malunga; Shaka se ontmoeting met sy geliefde Noliwa; Shaka se opvolging van sy vader Senzanghakona as kaptein; Shaka se opvolging van Dingiswayo as koning; Isanusi se oorreding van Shaka om sy geliefde Noliwa te offer aan sy ambisie en die skep van 'n nuwe naam vir die nasie; die doodmaak van Noliwa deur Shaka; Shaka se bloeddorstige en gewelddadige veldtogte; Shaka se onredelike eise aan sy onderdane en sy wrede teregstellings van hulle; die dood van Shaka se moeder Nandi; Shaka se pynlike drome en die verdwyning van sy handlangers Malunga en Ndlebe; die ontstellende drome waarin Shaka sy lewe herleef; en die moord op Shaka deur sy halfbroers Dingana en Mhlangana.

Die noukeurige navolging van Mofolo se roman, gekombineer met 'n uitermate kreatiewe transponering van die gegewens na 'n kontemporêre konteks, stel Schaffer in staat om 'n beeld op te bou van 'n komplekse figuur, wat uiteindelik deur sy magslus, bloeddorstigheid en innerlike konflikte (beliggaam in die teenwoordigheid van die toordokter Isanusi en sy twee helpers) gedryf word tot op die punt waar hy om die lewe gebring word. Een moontlike interpretasie van Schaffer se herskrywing sou kon wees dat die vertelling van Shaka se opkoms en val as diktator, aangevul met sy uitbeelding as asielsoeker, ook iets wil sê oor transnasionale magsverskuiwings (van diktator na asielsoeker), die psigologiese impak van migrasie, die nasleep van die wêreld se geskiedenis van kolonisering en die ongelykhede meegebring deur globalisering. Dit mag wees dat die bundel ook 'n verrekening is van Schaffer se omgang met 'n komplekse stel gegewens: sy eie dubbelsinnige posisie as Nederlander wie se moeder afkomstig was uit Aruba, sy kennismaking met 'n Suider-Afrikaanse teks deur 'n swart skrywer wat self oor 'nasionale' of etniese grense beweeg het om sy roman te skryf, die intensiteit waarmee rassekwessies in die Suid-Afrikaanse letterkunde aan bod kom en sy behoefte om 'n swart karakter ten tonele te voer binne die Nederlandse konteks.

 

Die gebruik van anachronismes

Die Nederlandse resensent Gert de Jager skryf in sy resensie van Mens dier ding heel gunstig oor die gebruik van anachronismes in die bundel, maar noem dit ook 'n ouderwetse motief en een van die eenvoudigste literêre procédés denkbaar: "dit soort anachronisme verwacht je bijSalman Rushdie of bijoperaregisseurs uit de provincie-niet bij een vooraanstaand Nederlands dichter". Laasgenoemde opmerking sluit aan by die bekende binêr-hiërargiese teenstellings tussen sentrum en marge ("provincie"), Europa en kolonie, groot kulture en klein kulture. Hierteenoor is dit my indruk dat Schaffer juis die anachronisme gebruik om die grense wat deur hierdie binêre patrone veronderstel word te deurbreek en te ondermyn. Dit is een van die literêre strategieë wat die transnasionale verplasing van 'n Suid-Afrikaanse koning wat geheers het aan die begin van die negentiende eeu na kontemporêre Nederland moontlik maak, terwyl dit ook die gegewe vir Nederlandse lesers bevatlik en aantreklik maak. Tesame met die insluiting van verwysings na tekste uit die wereldliteratuur, verwysings na 'n wye spektrum van kontemporêre verskynsels en die gebruik van vorme geïnspireer deur nuwe tegnologieë (byvoorbeeld televisie en Twitter) maak dit deel uit van dié soort poëtika wat put uit estetiese vorme wat funksioneer oor nasionale grense heen en deur Ramazani in Transnational poetics beskryf is.

Schaffer wys self uit dat die gebruik van anachronismes een van sy belangrikste werktuie is. Volgens hom is dit 'n eties-verantwoordelike manier om met beide die historíese figuur Shaka en die Mofolo-roman om te gaan. Eerder as wat daar die pretensie is om hierdie figuur en teks te deurgrond, word hy verplaas na 'n nuwe konteks om daar herverbeel te word in 'n poging om iets te verstaan van die kompleksiteite van beide die hede en die verlede. Boonop beklemtoon dit die gemaaktheid ("artificiality") van die nuwe teks en hou dit die 'vertaling' van die gegewe en vroeër teks te alle tye sigbaar vir die leser ("'Reflection of a reflection'" 148). Schaffer meen ook dat die gebruik van anachronismes hom toelaat om te reflekteer oor die diskoerse van swart teenoor wit, inheems teenoor uitheems en om Shaka uiteindelik te verander in 'n asielsoeker in Nederland, verlöre in 'n Westerse konteks waarin vreemdelinge dikwels as 'onwettig' beskou word al was hulle magtige of despotiese leiers in hulle eie konteks ("'Reflection of a reflection'" 157).

Alhoewel die anachronismes dwarsdeur die teks gebruik word, noem ek slegs enkele voorbeelde wat aangewend word om die groei van Sjaka se geweld en roem uit te beeld. In "WANNEER IS HET BEGONNEN AL DIE STEMMEN IN ZIJN HOOFD" (30-1) lê Sjaka lomerig in sy hangmat en dink hoedat hy kan doodmaak wie hy wil, terwyl die Schaffer-ekwivalent van die toordokter Isanusi, sy "splinternieuwe sidekick / met een koel glas ijsthee" gereed staan, soos "een soort butler". Terselfdertyd word 'n verwysing na die Westerse letterkunde gebruik om te verwys na Sjaka as Faust wat 'n ooreenkoms met die duiwel gesluit het. In "BLOEDDORST HOE ZIET DAT ERUIT" (35-7) word Sjaka se veldslae vergelyk met die dophou van 'n voetbalwedstryd in 'n stadion ("Oorlog voeren of een voetbalwedstrijd kijken in het stadion / voor Sjaka is het één pot nat / hetselfde gejuich en geschreeuw, dezelfde liederen"). Terwyl die "Afrikaanse zomer rilt" hang daar 'n walm bo die "van bloed doordrenkte steppe", totdat die "sterspeler" Sjaka uiteindelik soos 'n voetballer in die kleedkamer sit, "(f)lesje water in de hand, handdoek om de nek" (36). In "EN ZO LEERT SJAKA LIEGEN" (43) word daar vertel hoe sy roem as kryger sodanig versprei dat hy die allure van 'n hedendaagse beroemdheid ("celebrity") verkry: "Sjaka's faam verspreid zich als een virus. / Sjaaltjes posters mokken pennen buttons-/ de merchandise draait op volle toeren". Sjaka se troonopvolging word in "KLEINE GREEP UIT DE LOGISTIEKE FEITEN ROND DE TROONWISSELING" (62) beskryf met behulp van gegewens uit berigte oor die kroning van Willem Alexander as Nederlandse koning in 2013 (vergelyk Monna), enersyds om te suggereer dat mag en magsvertoon alomteenwoordig is, andersyds om vergelykings op te roep tussen die kroning van 'n Afrika- en 'n Europese koning.

Soos reeds aangedui, is die grootste gedeelte van die bundel gebaseer op Shaka se lewe soos gefiksionaliseer in Mofolo se roman en tree die idee van Shaka as asielsoeker eers aan die einde van die bundel sterker op die voorgrond. Naas die ruim gebruik van anachronismes word daar ook verwys na ruimtes waarin die historiese Shaka hom nooit bevind het nie, soos byvoorbeeld 'n stad met 'n grag (130), die "Centraal Station" in 'n ongenoemde stad (131) en 'n kantoor waar asielsoekers gespreek word (125). Die verplasing van een ruimte na 'n ander herinner aan die term analokalisme in die komparatiewe reg, waar dit gebruik word vir die ongeregverdigde oordrag van 'n regskonsep van een plek na 'n ander waar dit nie toepaslik is nie (vergelyk Vanderlinden, aangehaal in Moréteau 189). In die geval van 'n kreatiewe teks soos Schaffer se bundel word die 'ongeoorloofde' verplasing in ruimte egter produktief gemaak om sekere spannings na die voorgrond te bring. Die verplasing van Shaka van die posisie van Zulu-koning in Suid-Afrika na dié van asielsoeker in Nederland suggereer historiese prosesse soos die kolonisering van Afrika en die nalatenskap daarvan in verskynsels soos ekonomiese en politieke vlugtelingskap.

Soos reeds gesê, word die idee van Sjaka as asielsoeker reeds in die eerste twee gedigte van die bundel geopper. In "HARDE FEITEN RONDOM SJAKA DAT WIL ZEGGEN HARDE FEITEN RONDOM MIJ" (8-12) sê Sjaka: "Om mijn verhaal te doen kwam ik per boot uit Afrika / een kleine boot met heel veel mensen". 'n Mens sou dit dalk ook kon lees as 'n verwysing na die Zulu-koning wat die transnasionale oorgang na 'n Nederlandse digbundel maak om daar deur 'n Nederlandse digter tot spreke gebring te word. Die beeld van Sjaka as vlugteling word hierna eers weer in "VERZOEKNUMMERS?" (122) geopper wanneer daar verwys word na Sjaka wat in 'n ry staan vir 'n visum en uiteindelik een koue aand by 'n haweloods staan en onderhandel voordat hy homself op 'n dobberende bootjie op die golwe bevind.

Kort hierna volg 'n reeks van vyf kort gedigte, "SJAKA'S AZIELZOEKERSNACHTMERRIE" (124-8) waarin Sjaka as ek-spreker vertel hoe hy die proses van aansoek om asiel ervaar. Die gedigte is klein vinjette wat die situasie van 'n asielsoeker teken: die onseker aankoms, die ontkenning van enige status in die land van herkoms en die lang wagperiodes; die 'veroordeling' tot vryheid in "Vrije Beperkte Locatie" (wat eintlik beteken dat jy gerepatrieer gaan word); die verlies van mag wat 'n vlugtende diktator ervaar; en die ironiese omkering van die begrippe siekte en genesing in 'n nuwe omgewing.5 Alhoewel daar reeds in die derdelaaste gedig in die bundel, "VADER EN MOEDER. N. HALFBROERS" (139), vertel word hoe Sjaka sterf ("Daarna is Sjaka los") en sy liggaam later in die veld gevind word, teken die laaste gedig in die bundel iemand wat die noodlyn bel om hulp te vra omdat hy nie verder kan nie ("'Ik ben op'"). Die bundel eindig dus met die suggestie dat Sjaka in die vreemde aan sy einde kom.

Schaffer se transnasionale bundel oor Shaka bring 'n Suid-Afrikaanse historiese figuur onder die aandag van sy Nederlandse lesers (ook die lesers van die verskillende vertalings wat daarop volg). Sy anachronistiese bewerking van die Mofolo-teks vestig die aandag op die pynlike en problematiese aspekte van transnasionale verplasings soos vlugtelingskap, ballingskap en asiel (onder andere die magsverwisselings wat dit meebring, die pertinente fokus op ras en die rassisme wat daaruit kan voortspruit, die psigologiese aftakeling en selfvermindering wat dit kan inhou vir diegene wat dit ervaar). In die geheel gesien teken Schaffer 'n komplekse prentjie van transnasionale beweging. Aan die een kant is dit iets wat vir hom persoonlik 'n kreatiewe inspuiting was, sy blik op die poësie verander het, 'n element van groter betrokkenheid in sy oeuvre bewerkstellig het, die emosionele lading van sy werk geïntensiveer het en dit groter reikwydte gegee het. Aan die ander kant is die historiese figuur wat hy hier teken 'n gewelddadige en bloeddorstige diktator wat uiteindelik deur omstandighede omskep word in 'n verwarde, getormenteerde en eensame asielsoeker.

 

Metapoëtiese momente in die bundel

Vervleg met die "Sjaka"-gedigte is die uitgebreide reeks "dag(droom)"-gedigte. Laurens Ham lees dit in sy resensie as "scènes uit Sjaka's leven door zijn eigen ogen". 'n Leser wat reageer op Ham se interpretasie in die kommentaar-seksie onderaan die aanlynweergawe van die resensie vra in 'n soort ope vraag of die "dag(droom)"-gedigte nie ook 'n biografíese en meta-element bevat in dié sin dat dit gelees kan word as die "gedurende jaren verzamelde droomnotities" van die digter Schaffer nie en of dit nie die dier- en dingwording in die bundel beskryf vanuit die perspektief van die digter en van die poësie self nie. Dié lesersreaksie open myns insiens 'n interessante perspektief. My eie reaksie is enersyds dat daar onweerlegbare getuienis is dat die "dag(droom)"-gedigte inderdaad die perspektief van die Sjaka-figuur verteenwoordig, heel waarskynlik van die kloustrofobiese omgewing waarin hy hom bevind as asielsoeker. Andersyds is my gevoel dat daar, onderliggend aan hierde interpretasie-moontlikheid, ook 'n selfrefleksiewe en metapoëtiese element in hierdie gedigte ingebou is sodat 'n mens dit eweneens kan lees as die gewaarwordings van die digter wat besig is om die bundel oor Shaka te skryf. As sodanig kan dit gesien word as deel van die literêre strategie wat die transnasionale beweging tussen Suid-Afrika en Nederland of Europa fasiliteer.

'n Lesing van dié reeks gedigte in die bundel as waarnemings deur die Sjaka-figuur word ondersteun deur die feit dat drome en dagdrome 'n belangrike rol speel in die Mofolo-teks waarop Mens dier ding steun. Vroeg in Mofolo se roman word die seun Shaka deur 'n toordokter behandel met middels om hom veglustig te maak, waarna hy 'n onblusbare begeerte het om te veg en onophoudelik daarvan droom. Kunene se vertaling van die Mofolo-roman verwys na sy drome én dagdrome hieroor: "He dreamed about it at night when he was sleeping; he dreamed about it during the day, with his eyes open" (14). Verder speel pynlike drome en nagmerries 'n belangrike rol in Mofolo se voorstelling van die laaste gedeelte van Shaka se lewe. Hoofstuk 24 is getitel "Painful dreams" en vertel hoedat Shaka in die laaste dae van sy lewe geteister word deur drome oor sy eie lewe en deur angsdrome van hoe hy doodgemaak word, terwyl hoofstuk 25 drome beskryf waarin Shaka sy lewe herleef en nagmerrieagtige visioene sien van almal wat hy self doodgemaak en laat doodmaak het. Dit mag wees dat die prominente rol van drome en dagdrome in Mofolo se roman 'n prikkel was vir die "dag(droom)"-gedigte in Mens dier ding. 'n Mens sou kon redeneer dat die digter daarmee die Sjaka-figuur se innerlike lewe wou weergee, maar dan op so 'n manier dat die ouktoriële instansie én die leser as 't ware sigself daarin kan projekteer. Schaffer sê verder in 'n onderhoud dat die bundel eintlik begin vorm aanneem het rondom die skryf van die "dag(droom)"-gedigte: "Ik schreef een aantal dagdromen vanuit een heel claustrofobische setting: geen jij en ik, maar alleen een interne monoloog. Ik speelde al langer met het idee een keer een bundel te maken rond Shaka Zoeloe, maar bij het negende gedicht dat ik schreef, dacht ik: ik heb iets beet, dit zou Shaka's stem kunnen zijn" (aangehaal in Mertens). Omdat hulle getipeer word as drome of dagdrome het die gedigte 'n byna surrealistiese sfeer waarin die klem veral val op benouende ruimtes, gevoelens van verwarring, vervreemding, paranoia, selftwyfel en selfhaat. Die feit dat die gedigte vanaf 12.868 terugtel tot 0 suggereer 'n regressie, wat in hierdie geval die aftakeling van die ek-figuur tot by 'n nul- of sterfpunt verteenwoordig.

Daar is sekere elemente in hierdie reeks gedigte wat die Sjaka-figuur, in beide sy inkarnasie as diktator en asielsoeker, oproep en bepaalde gemoedstoestande weergee. Ek lig slegs enkele voorbeelde uit om my stelling te motiveer. In "dag(droom) # 12.292" (20) verwys die ek-figuur na sy fisieke ongemak, maar ook daarna dat hy op iets wag wat hom in staat sal stel om rustig te slaap, sonder enige spoke, of om op die strand te gaan wandel. Kom hy egter by die strand, is die see weg en staar hy "een afgrijzelijke diepte in / een rottende, onmetelijke bodem" (wat 'n mens laat dink die ravyn waarin Mofolo se Shaka afkyk om almal te sien wat hy doodgemaak het, vergelyk die Kunene-vertaling 163-4). Die gedig "dag(droom) # 5.106" (44) praat van 'n "klassieke shoot-out" tussen die ek-spreker en homself: hy staan aan die een kant van 'n betonvlakte asook aan die ander kant, maar dan "de uitgelekte en verkouden versie" van homself wat lyk soos die "albinosmurf die uit De Smurfs werd geknipt". Die suggestie van 'n innerlike tweestryd en verlies aan (rasse-)identiteit tree hier na vore. In "dag(droom) # 4.349" (55) sien die ek-spreker 'n pragtige vuur wat versprei deur die duine en gooi hy alles wat hy bymekaar kan raap in die vlamme, "geil van doelloze begeerte", 'n moment wat herinner aan Mofolo se Shaka wat as deel van sy oorlogstaktiek brande gestig het om die vyand in sy arms te dryf (63-4). In hierdie geval sê die ek-spreker dat daar van hom net 'n "spoor van as en zwartgeblakerd gras" sal oorbly. Ook hier is daar suggesties van 'n verlede waarin geweld 'n soort erotiese genot verskaf het, ook van die vlugtigheid van die menselewe in die onduidelike spore wat selfs 'n veelbesproke figuur soos Shaka agterlaat.

Ander gedigte in hierdie reeks suggereer weer deur die beelding 'n verband met die ek-figuur as asielsoeker. In "dag(droom) # 4.260" (58) beskryf die spreker hoedat hy met 'n suurstofmasker op sy gesig deur struike kruip na 'n hoofweg waar hy sien dat die "kruispunt" ontruim is en die hekke dig gesluit (miskien 'n grenspos?). In 'n latere gedig, "dag(droom) # 2.109" (75) vertel die spreker dat hy elke oggend sy ewebeeld sien: "een grauwe oceaan met hier en daar een bootje / of een drenkeling die zwaait alsof hy onverwachts op televisie is", beelde wat die Sjaka-figuur se vertrek per boot en die beeld van vlugteling-migrante oproep. Hy vertel ook dat hy dié oggend deur bosse geloop het, "echt alleen / als mens als dier als ding". Die bundeltitel Mens dier ding word meestal gelees as 'n verwysing na die diktator-slagter se regressie van menslikheid tot brutale dierlikheid en uiteindelik ongevoelige dinglikheid. Omdat die bundel Shaka egter ook uitbeeld as asielsoeker sou dit 'n buite-perspektief op die asielsoeker, die onwettige vreemdeling ("illegal alien") of swart persoon as nie menslik nie, maar eerder dier of ding, kon verteenwoordig. 'n Ander gedig wat sinspeel op iemand wat homself drywend en ontheemd voel, is "'nieuwjaar'-dag(droom) # 1.354" (80) waarin die spreker vanaf sy piepklein balkon 'n anker in die grond gooi omdat hy "geen schijn van kans het teen het straatgewoel" (amper asof die straatgewoel soos 'n onstuimige see is). Wanneer hy na middernag half wakker word, sien hy hoe die skynsel van die dorp agter die horison verdwyn en die anker heen en weer swaai, wat die indruk skep dat die gebou waarin hy hom bevind, besig is om weg te dryf van die dorp. Die beeld van 'n drywende boot op water en die agterlaat van 'n dorp, roep weer eens 'n beeld van die migrant of vlugteling ter see op, ook van die drywende doelloosheid van die asielsoeker se bestaan- transnasionale beweging en die psigologiese implikasies daarvan vasgevang in 'n surrealistiese beeld.

Die laaste groep van die "dag(droom)"-gedigte teken die beeld van 'n persoon wat in 'n ekstreme randposisie, asof aan die uiteinde van sy lewe, verkeer. Die spreker beskryf sy eie situasie as dié van iemand wat vassit in 'n draaideur (98), wat lê en hyg na asem langs 'n swembad met sy liggaam vol "mieren, spinnen, pissebedden" (101) of op 'n berugte bergpas wat bly styg en styg (111). Beelde van afhandeling, opruim en vertrek kom ook voor: hy dra sy besittings uit sy huis na die straat, maar staan dan beteuterd daar (120); hy sit in 'n vertreksaal gevul met digte mis (123), sy koffers staan in die portaal, die kaste is leeg en die vensters gesluit (129), hy maak hom gereed om te vertrek met 'n rugsak waarin daar water, kos, droë klere en 'n handvol koeëls is (138). Daar is ook sprake van liggaamlike aftakeling: sy spiere is verlam (123), hy kry nie die lepel by sy mond nie (135), hy is honger en dors in 'n helder-verligte en hittige landskap met die skrikwekkende gevoel dat hy ineens kan verdwyn (136). In die laaste van hierdie reeks gedigte, "dag(droom) # 0" (140), bevind hy hom, "dronken van vermoeidheid na alles wat ik heb vernietigd", in 'n oerbos met sonverbrande bome, waar hy "brokke mens, gebarsten of gesmolten", tussen die stamme en struike sien. In hierdie vreesaanjaende ruimte bid hy terwyl die sirenes aanswel: "Ik zocht naar U maar vond geen tegenstand." Dié slotreël suggereer dat die Sjaka-figuur as vegter gekondisioneer is om teenstand te verwag; wanneer dit nie daar is nie, voel hy of hy niks gevind het nie. Die reeks "dag(droom)"-gedigte eindig dus met gevoelens van teleurstelling en verydeling, terwyl die onheilspellende klank van sirenes steeds nader kom.

Alhoewel die bundel oënskynlik oor Sjaka as diktator én asielsoeker handel, is daar tog-soos reeds gesê-momente in beide die "Sjaka"-gedigte en die "dag(droom)"-reeks wat geïnterpreteer kan word as metapoëties. Dit is veelseggend dat Sjaka in "POGING TOT EEN INTERVIEW" (99-100) vir 'n onderhoudvoerder sê sy bydrae tot die lewe is: "Rijm en ritme. Ritme en Rijm. Simmetrie". Hierop vra die onderhoudvoerder: "U belichaamt poëzie?". Alhoewel dit na pure spelery mag lyk voordat Sjaka uitgevra word na sy wandade, word die idee van die Sjaka-figuur as digter of selfs as die beliggaming van poësie tog hier geopper in 'n speelse en vlugtige meta-moment. In "HIER KUN JE MET HET BLOTE OOG NIET KOMEN" (132-4) lyk dit asof Sjaka in 'n gesprek is met 'n amptenaar, wat sy vrae moet beantwoord en dalk oor hom toesig hou. Belangriker as die vrae is die amptenaar se opmerking dat Sjaka homself steeds beter uitdruk ("Het moet gezegd, je komt steeds beter uit je woorden"), waarop Sjaka antwoord dat die "autocue" hom help. Die amptenaar se antwoord hierop ("Autocue, autobahn, auctorieel...") roep die idee op dat die Sjaka-figuur in die bundel deur 'n ouktoriële stem (of digter) voorgesê word wat om te sê. Sjaka gaan verder om te sê dat daar inderdaad stemme is wat rondom hom speel en dalk vir hom wil dikteer wat om te sê. Hy brei uit deur te sê dat dit byna is om soos deur "een gigantische hangar" te dwaal "te midde van een koor van theatrale echo's" wat 'n "enorme lus" rondom hom vorm, al kan hy nie sing nie. Metapoëties gelees kan dit verwys na die situasie van 'n digter wat beïnvloed word deur die stemme wat rondom hom opklink in 'n soort nimmereindigende lus ("loop"), al voel hy homself onmagtig om te skryf. Dit sou kon sinspeel op die situasie van 'n transnasionale digter wat byna soos 'n asielsoeker dwaal deur oorweldigende groot ruimtes waarin hy voorgesê word deur 'n koor van uiteenlopende stemme uit verskillende dele van die wêreld, nie net dié van sy omgewing nie.

Dieselfde soort meta-element vind 'n mens in die slotgedig "'ALARMCENTRALE, ZEG HET MAAR'"(141) waarin gesuggereer word dat Sjaka homself in extremis bevind en die alarmcentrale (noodlyn) bel. Op die eerste vlak kan dit gelees word as 'n noodoproep deur die asielsoeker Sjaka wat hulp nodig het, maar nie goed gehoor kan word nie. Op die meta-poëtiese vlak sou dit geïnterpreteer kon word as 'n digter wat vir die leser vra: "'Ontvangt u mij'" (hoor jy my, verstaan jy my?). Dit is 'n vraag wat nuwe betekenis kry binne die konteks van die transnasionale letterkunde: daar is 'n onsekerheid of die teks, wat elemente uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis verplaas na 'n Nederlandse ruimte, verstaan sal word. Die beller (Sjaka of die digter) bevind hom in 'n "lastige situatie", maar kan nie vir die persoon aan die noodlyn of vir die leser duidelik maak presies wat dit is nie. Die hakkelende gesprek, onderbreek deur 'n slegte verbinding en moeilike omstandighede, eindig wanneer die beller sê: "Ik ben op". Gelees op die metavlak, eindig die bundel dus met die suggestie dat die digter (net soos Sjaka) dit nie meer kan volhou nie en die bundel moet afsluit. Die verwysings na die moeite om kontak te maak en dinge wat verhinder dat die boodskap duidelik deurkom, sou heel goed van toepassing gemaak kan word op die maak van transnasionale poësie. Die metapoëtiese element in die bundel wil dit dus onder die leser se aandag bring dat hierdie bundel'n haas onmoontlike poging behels om oor nasionale grense heen die kompleksiteite van 'n historiese figuur soos Shaka en die omvang van die transnasionale tematiek van vlugtelingskap, asiel en die ontreddering wat dit meebring onder woorde te bring in 'n bundel gerig aan lesers wat dit moontlik nie sal verstaan nie.

 

Konklusie

My doelstelling met hierdie artikel was om Alfred Schaffer se digbundel Mens dier ding teen die agtergrond van die transnasionalisme te lees. Om hierdie rede is daar uitgegaan van die transnasionalisme as kritiese of hermeneutiese perspektief. Schaffer se bundel is benader as 'n teks wat 'n uitdaging rig aan pogings om die nasie of die nasionale as 'n analitiese of ordenende kategorie te gebruik deur die wyse waarop dit oor nasionale grense heen beweeg. Met verwysing na Wiegandt se taksonomie van dié elemente wat lei tot die identifikasie van literêre tekste as transnasionaal is daar gefokus op identiteit, tema en estetika. Daar is ondersoek ingestel na die transnasionale elemente in die Schaffer-biografie, temas soos migrasie, verplasing en vlugtelingskap in Mens dier ding wat daarvan 'n voorbeeld van transnasionale letterkunde (soos omskryf deur Jay) maak en estetiese strategieë soos die gebruik van anachronisme en metapoëtiese elemente wat die transnasionaliteit daarvan ondersteun.

Daar is dus gefokus op die evokatiewe en subtiele wyse waarop Schaffer, in 'n laterale eerder as vertikale oorskryding van grense, in gesprek tree met 'n Suider-Afrikaanse roman oor die historiese figuur Shaka om deur middel van anachronismes 'n greep te kry op die manier waarop mag in die geval van 'n diktator ontplooi en uiteindelik tot 'n val kom. Terselfdertyd roep die anachronistiese voorstelling van Shaka as 'n asielsoeker in 'n land, wat volgens bepaalde aanduidings Nederland is, ook die spanninge teweeg gebring deur Europa se kolonisering van gebiede soos Afrika, die voortslepende rasse-en klasse-hiërargieë wat dit meegebring het, die ekonomiese ongelykheid in die wêreld en die verskillende vlugtelingkrisisse waarmee die wêreld te kampe het, na die voorgrond. Veral aangrypend is die wyse waarop die psigologiese trauma veroorsaak deur hierdie verskynsels gesuggereer word deur die surrealistiese, nagmerrieagtige sfeer van die "dag(droom)"-gedigte in die bundel. Ten slotte is daar ook gekyk na die wyse waarop 'n metapoëtiese element in die bundel ingebou word om iets weer te gee van die komplekse situasie waarbinne 'n transnasionale digter hom bevind, blootgestel aan en beïnvloed deur 'n byna oorweldigende aantal estetiese en ander invloede uit die groter wêreld. Ten spyte van die slot se suggesties dat die digter oorweldig word deur die haas onhanteerbare kompleksiteit van die gegewe wat hy onder woorde probeer bring, is Mens dier ding 'n merkwaardige voorbeeld van hoe produktief en insiggewend die laterale interaksies tussen verskillende nasionale ruimtes en literêre velde kan wees.

 

Aantekeninge:

1 . In hierdie verband bou ek voort op werk wat reeds gedoen is oor transnasionale bewegings tussen die (Suid-)Afrikaanse en Nederlandstalige letterkundes deur Viljoen ("Die rol van Nederland in die transnasionale beweging van enkele Afrikaanse skrywers" en "''n Postkoloniale Umweltkas': die vraag na 'n transnasionale poëtika in Afrikaans met verwysing na Marlene van Niekerk se Kaar"), T'Sjoen en Linde. Vergelyk ook De Jong oorJ. M. Coetzee se gebruik van Kaapshollands in sy vroeë werk as 'n vorm van transnasionalisme.

2 . Hulle siening in hierdie verband is waarskynlik gekleur deur Deleuze en Guattari se hantering van die begrip "mineure" in hulle invloedryke werk, Kafka: Pour une littérature mineure van 1975, waarin hulle Kafka se werk oor klein letterkundes bespreek. Tuckerova wys daarop dat Deleuze en Guattari se keuse vir die term "littérature mineure" ("mineurletterkunde" in Afrikaans, "minor literature" in Engels) verband hou met Marthe Robert se 1954-vertaling van "kleine Literatur" in Kafka se teks as "littérature mineure" in Frans (439).

3 . Die verwysing na velkleur kom ook ter sprake in 'n artikel wat Schaffer in 2018 in Stilet publiseer: "een opvallend kenmerk van de huid is de kleur. dankzij huidskleuren kan de mens zich in verschillende klimaten handhaven" (vergelyk Schaffer "een opvallend kenmerk van de huid is de kleur").

4 . Bladsynommers verwys na die eerste uitgawe van Mens dier ding in Nederlands, gepubliseer in 2014.

5 . Vergelyk die inligting gegee op die webwerf van die Nederlandse Ministerie van Justitie en Veiligheid se Dienst Terugkeer en Vertrek.

 

Geraadpleegde bronne

Anker, Willem & Alfred Schaffer. "Oor pypdrome, anachronismes en ander ongemakke." LitNet. 1 Apr. 2015. https://www.litnet.co.za/oor-pypdrome-anachronismes-en-ander-ongemakke.         [ Links ]

Assmann, Aleida. "Transnational Memories." European Review vol. 22, no. 4, 2014, pp. 546-556. DOI: https://doi.org/10.1017/S1062798714000337.         [ Links ]

De Jager, Gert. "Knorrende beesten." Neerlandistiek. Online tijdschrift voor taal-en letterkunde. 15 Mei 2015. https://neerlandistiek.nl/2015/05/knorrende-beesten/.         [ Links ]

De Jong, Laura. "'Poëzie komt het dichtst in de buurt van hoe wij denken en associëren.' Interview met Alfred Schaffer." De Volkskrant Boeken. 27 Aug. 2021. https://www.volkskrant.nl/cultuur-media/alfred-schaffer-poezie-komt-het-dichtst-in-debuurt-van-hoe-wij-denken-en-associeren~b2dc0a8d/.         [ Links ]

De Jong, Marianne. "'Ystervarken's gat' en 'porcupine hole': Kaapshollands in die vroeë romans van J.M. Coetzee as transnasionalisme. Stilet vol. 23, no. 2, 2011, pp. 1-27.         [ Links ]

D'haen, Theo. "Major histories, minor literatures, and world authors." CLC web: Comparative literature and culture vol. 15, no. 5, 2013, pp. 2-9. https://docs.lib.purdue.edu/clcweb/vol15/iss5/9/.         [ Links ]

Glorie, Ingrid. "Alfred Schaffer ontvangt P. C. Hooftprijs: 'Zonder Zuid-Afrika zou ik nu een totaal andere dichter zijn.'" Voertaal, 14 Sep. 2021. https://voertaal.nu/alfred-schaffer-ontvangt-p-c-hooftprijs-zonder-zuid-afrika-zou-ik-nu-een-totaal-andere-dichter-zijn/.         [ Links ]

Franssen, Gaston. "Een gesprek met de lezer. Het werk van Alfred Schaffer." Dichters van het nieuwe millenium. Nederlandse en Vlaamse poëzie in de 21e eeuw, geredigeer deur Jeroen Dera, Sarah Posman & Kila van der Starre. Vantilt, 2016, pp. 19-28.         [ Links ]

Jay, Paul. Transnational literature: the basics. Routledge, 2021.         [ Links ]

Krog, Antjie. "Die verkleurmannetjie(s) op Shaka: 'n Vergelyking tussen D.J. Opperman en Thomas Mofolo." Tydskrif vir Letterkunde vol. 47, no. 2, 2010, pp. 5-18. DOI: https://doi.org/10.4314/tvl.v47i2.60620.         [ Links ]

Linde, Janien. "''n Pouse tussen oorsprong en bestemming': Heterochronisiteit en laterale transnasionalisme in Marlene van Niekerk se Gesant van die mispels en In die stille agterkamer. LitNet Akademies vol. 16, no. 3, 2019, pp. 186-212. https://www.litnet.co.za/n-pouse-tussen-oorsprong-en-bestemming-heterochronisiteit-en-laterale-transnasionalisme-in-marlene-van-niekerk-se-gesant-van-die-mispels-en-in-die-stille-agterkamer/.         [ Links ]

Lionnet, Frangoise & Shu-mei Shih. Minor transnationalism. Duke U P, 2005.         [ Links ]

Mertens, Dieuwertje. "'Ik vroeg me nooit af of het wel poëzie is.'" Het Parool, 28 Jan. 2014.         [ Links ]

Mofolo, Thomas. Chaka. vertaal deur Daniel P. Kunene. Heinemann, 1981.         [ Links ]

________.Tjhaka, vertaal deur Chris Swanepoel. Tafelberg, 1974.         [ Links ]

Monna, Janita. "'Nu kan ik ook over mijn moeder schrijven'. Interview met Alfred Schaffer." Trouw, 18 Jan. 2020.         [ Links ]

Moréteau, Olivier. "The words of comparative law." Journal of International and Comparative Law vol. 6, no. 2, 2019, pp. 183-208. https://digitalcommons.law.lsu.edu/faculty scholarship/447/.         [ Links ]

Morgan, Peter. "Literary transnationalism: A Europeanist's perspective." Journal of European Studies vol.47, no. 1, 2017, pp. 3-20. DOI: https://doi.org/10.1177/0047244116676685.         [ Links ]

Nederlandse Ministerie van Justitie en Veiligheid. Dienst Terugfceer en Vertrek. https://www.dienstterugkeerenvertrek.rn/het-terugkeerproces/verblijfslocaties/vrijheidsbeperkende-locatie.         [ Links ]

Pienaar, Hans. "The poetics of Shaka as modern asylum seeker." Business Live. 3 Feb. 2021. https://www.businesslive.co.za/life/books/2021-02-03-the-poetics-of-shaka-as-modern-asylum-seeker.         [ Links ]

Ramazani, Jahan. A transnational poetics. U of Chicago P, 2009.         [ Links ]

Sandwith, Corinne. "History by paratext: Thomas Mofolo's Chaka." Journal of Southern African Studies vol. 44, no. 3, 2018, pp. 471-90. DOI: https://doi.org/10.1080/03057070.2018.1445355.         [ Links ]

Schaffer, Alfred. "De geschiedenis van een jonge god: mythe, primordialiteit en de representatie van de archetypische adolescent en jonge man in werken uit die moderne Afrikaanse literatuur en de wereldliteratuur." Proefskrif. U Kaapstad, 2002. https://open.uct.ac.za/handle/11427/6937.         [ Links ]

________. "een opvallend kenmerk van die huid is die kleur. dankzij huidskleuren kan de mens zich in verschillende klimaten handhaven." Stilet vol. 30, no. 1&2, 2018, pp. 228-44.         [ Links ]

________. Man animal thing. Vertaal deur Michele Hutchinson. Eyewear, 2021.         [ Links ]

________. Mens dier ding. De Bezige Bij, 2014.         [ Links ]

________. Mens dier ding, vertaal deur Zandra Bezuidenhout. Human & Rousseau, 2018.         [ Links ]

________. "Op de rug gezien." Derde Hans Groenewegen lezing. Poëziecentrum, 2019.         [ Links ]

________."'A reflection of a reflection': Notes on representational and ethical possiblities in Thomas Mofolo's Chaka" Tydskrif vir Letterkunde vol. 53, no. 2, 2016, pp. 147-60. DOI: https://doi.org/10.17159/tvl.v.53i2.12.         [ Links ]

T'Sjoen, Yves. "Charl-Pierre Naudé en Gert Vlok Nel in Nederland en Vlaanderen: Laterale transnationale bewegingen van Afrikaanstalige schrijvers naar Nederlands en Engels." Tydskrif vir Geesteswetenskappe vol. 55, no. 1, 2015, pp. 111-22. DOI: http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2015/V55N1A8.         [ Links ]

Tuckerova, Veronika. "The archeology of minor literature: Towards the concept of the ultraminor." Journal of World Literature vol. 2, no. 4, 2017, pp. 433-53. DOI: https://doi.org/10.1163/24056480-00204007        [ Links ]

Vandebosch, Dagmar & Theo D'haen. "Introduction." Literary transnationalism(s), geredigeer deur Dagmar Vandebosch & Theo D'haen. Brill, 2019, pp. 1-11.         [ Links ]

Vassilatos, Alexia. 2016. "The transculturation of Thomas Mofolo's Chaka." Tydskrif vir Letterkunde vol. 53, no. 2, 2016, pp. 161174. DOI: https://doi.org/10.17159/tvl.v.53i2.13.         [ Links ]

Viljoen, Louise. "Die rol van Nederland in die transnasionale beweging van enkele Afrikaanse skrywers." Internationale Neerlandistiek vol. 52, no. 1, 2014, pp. 3-26. DOI: https://doi.org/10.5117/IN2014.1.VILJ.         [ Links ]

________. "''n Postkoloniale Umweltkas': die vraag na 'n transnasionale poëtika in Afrikaans met verwysing na Marlene van Niekerk se Kaar." LitNet Akademies vol. 14, no. 3, 2017, pp. 133-65. https://www.litnet.co.za/n-postkoloniale-umweltkas-die-vraag-na-n-transnasionale-poetika-afrikaans-aan-die-hand-van-marlene-van-niekerk-se-kaar/.         [ Links ]

Winkler, Marieke. "'Ik heb me nog nooit zo bevrijd gevoeld!' Over het lezen van Mens Dier Ding van Alfred Schaffer." Dietsche Warande en Belfort no. 1, 2015, pp. 108-12.         [ Links ]

Wiegandt, Kai. "Introduction: The concept of the transnational in literary studies." The transnational in literary studies. Potential and limitations of a concept, geredigeer deur Kai Wiegandt. De Gruyter, 2020, pp. 118.         [ Links ]

Wylie, Dan. Savage delight. White myths of Shaka. U of KwaZulu-Natal P, 2000.         [ Links ]

 

 

Submitted: 10 December 2021
Accepted: 24 February 2022
Published: 8 April 2022

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License