SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.59 issue1Nuruddin Farah and Somali cultureReflecting back, projecting forward: A conversation with Nuruddin Farah author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.59 n.1 Pretoria  2022

http://dx.doi.org/10.17159/tl.v59i1.13275 

ONDERHOUD

 

Die soeke na 'n onbegrensdheid van verbeelding: 'n Onderhoud met Alfred Schaffer

The quest for a limitlessness imagination: An interview with Alfred Schaffer

 

Alfred SchafferI; Alwyn RouxII

I'n digter en poësievertaler. Hy is dosent in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch, Stellenbosch, Suid-Afrika E-pos: aschaffer@sun.ac.za https://orcid.org/0000-0002-0297-5472
II'n dosent in literatuurwetenskap en kreatiewe skryfkuns aan die Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap, Kollege vir Geesteswetenskappe, Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria, Suid-Afrika. E-pos: erouxap@unisa.ac.za https://orcid.org/0000-0003-4591-3746

 

 

Alfred Schaffer het in 2021 die P. C. Hooftprys vir poësie gewen. Sy versamelbundel, zo heb ik u lief: allegedichten tot nu toe (2021) het in September 2021 by De Bezige Bij verskyn. Alwyn Roux het 'n aantal vrae aan hom gestel.

AR: Eerste, wil ek graag weet hoe dit voel om die P. C. Hooftprys te wen. Dit moet sekerlik ongelooflik gewees het? Sal jy asseblief'n voëlvlug gee van die aangeleenthede waarby jy betrokke was sedertdien jy die nuus ontvang het dat jy die prys gewen het?

AS: Toe hulle my bel om te sê ek het dié prys ontvang, was ek veral verbaas. Hoogs verbaas. Die blydskap en dankbaarheid het daarna gekom. Om kuns te bekroon is 'n ou tradisie, maar die onmeetbaarheid van kreatiewe uitings-wat kom in aanmerking, waarom, wie is die persone wat die keuses maak en selekteer-maak dat dit tot in hoë mate onvoorspelbaar is. Ek het werklik geen rede gehad om te kla nie; my werk is dikwels genoeg bekroon en kry genoeg aandag in Nederland en België, selfs al bly ek momenteel nie in die taalgebied waarbinne my werk gelees word nie, maar hierdie oeuvreprys is tog van 'n ander orde, en iets wat ek regtig nie kón verwag nie.

Uiteraard het die toekenning gekom in 'n tyd dat die wêreld in isolasie was, so baie uitnodigings vir optredes was aanlynoptredes. Skryfopdragte, vertaal- en slypskole, werk in opdrag, onderhoude, daar was baie aanvraag, al kon ek nie al die aansoeke inwillig nie. Ondanks Corona was ek drie keer oorsee-in Junie vir Poetry International, toe in September vir radio- en televisie-onderhoude en die uitreiking van die prys, en in November vir 'n workshop met jong skrywers en vir 'n ete met die Nederlandse koningspaar en 'n selekte groep Nederlanders uit allerhande sektore (wetenskap, sport, kuns). En daar was die pragtige huldeblyk tydens die Tuin van Digters in Wellington-nog so 'n verbasende en ongelooflike eer.

AR: Hoe het dit gebeur dat jy poësie begin skryf het? Was daar 'n spesifieke impetus daarvoor? Ook: Was daar enige ander genres wat jy oorweeg het en moontlik nog sal oorweeg?

AS: Om belang te stel, verg blootstelling. Blootstelling word net vrugbaar as jy die gevoel kry dat jy iets in jouself wakker maak wat wakker gemaak moes word. Ek is mal oor beeldende kuns, maar blootstelling aan beeldende kuns het my nog nooit laat verlang om dit self uit te probeer nie. Met poësie was dit anders; nie omdat ek die gevoel gehad het dat ek op 'n ekshibisionistiese wyse my gevoelens moes ontbloot nie, maar omdat ek onbewustelik gevoel het dat poësie 'n kunsvorm is waarin daar, meer nog as in die roman, geëksperimenteer kan word met die wees en nie-wees, met die onwetendheid van en bekendheid met die wêreld. Die onverstaanbare kan jy as onverstaanbaar uitwys, wat in feite in teenspraak is met mekaar. Soos 'n Escher-skildery kon jy die ongerymde presenteer sonder dat jy dit kon of wou oplos. Dit is uiteraard 'n heel spesifieke siening van wat poësie vir my is. Daar is baie ander poëtikas moontlik, maar dit is die aspekte wat ek herken het as konsepte waarmee ek wou speel.

AR: Jy het op 26 Mei 2021 'n uitsonderlike lesing by die aanlyninisiatief Samespraak aangebied oor jou eie werk, getiteld "Van binnen naar buiten / Van buiten naar binnen. Van Opkomst tot strafregels". Kan jy asb. aandui wat die titel van dié lesing beteken, met spesifieke verwysing na die evolusie van jou werk?

AS: Dit is iets wat met die jare al hoe meer na vore gekom het: die min of meer onvermybare selfkennis as dit kom by jou eie werk en werkswyse, juis omdat jy in talle onderhoude oor jou werk moet vertel, of omdat jy in artikels of resensies oor jou werk lees. Ek werk, hoewel al hoe meer met 'n plan, tog hoogs intuïtief, en ek kom agter dat praat oor my eie werk bots met die vryheid om nie te weet nie, en met die permanente staat van onwetendheid. Ek het dus nie gevoel dat my lesing 'n bydrae kon lewer nie, omdat ek nie van buite af na my werk kan kyk nie. Die enigste oplossing was om 'n verhaal te vertel wat skryf koppel aan die anxiety of influence, en die soeke na 'n bepaalde onbegrensdheid van verbeelding, wat in my geval sterk gelyk loop met die verblyf in verskeie lande en plekke in my lewe vir 'n langer tyd. Ek het dit gekoppel aan die ontwikkeling van my skryfwerk, gesien deur die bril van 'n maker. 'n Verhaal wat strek van die eerste boek, Zijn opkomst in de voorstad (2000), tot die mees onlangse wie was ik. strafregels (2020). Ek het in feite die verhaal vertel wat ek al oor die ontwikkeling van my werk gehoor en gelees het-dat dit beweeg van 'n taal-eksperimentele poësie na 'n vorm van poësie wat binne die narratief plek maak vir verwysings na die politieke en maatskaplike realiteit. Maar dit was om met 'n selfiekamera deur 'n spieëlpaleis te stap-baie verwarrend.

AR: zo heb ik u lief: alle gedichten tot nu toe (2021) is jou pasverskene versamelbundel wat die laaste twintig jaar van jou digkuns omvat. Diépragbundel het by De Bezige Bij verskyn. By die terugkyk, is daar 'n sekere bundel (of bundels) wat vir jou uitstaan? Waarom? Geniet jy dit meer om "van binnen naar buiten" of "van buiten naar binnen" te skryf?

AS: Die bundel was 'n wens, én 'n geskenk van my uitgewer. Ek was self effens huiwerig, ook weer omdat ek nie te veel gekonfronteer wil word met wat ek gedoen het in die verlede nie. Gelukkig kon ek self die ontwerper kies, die fantastiese Michael Snitker, en kon ek kies vir 'n groot, stewige paperback, maar met 'n sagte band. So 'n boek met 'n harde band sou te veel gevoel het na 'n grafsteen. Ek moes toe ook weer deur al my digbundels lees, en hoewel ek sien dat die gedigte uiteraard nie volmaak was nie, was ek tog tevrede daarmee. Ek het wel plek-plek dinge aangepas, of reggemaak, dit kon ek nie help nie. Wat bundels betref het ek nie darlings nie, maar ek is wel bly met die klein digbundel Postuum. Een lofzang (2016) wat nou in die versamelbundel opgeneem is. Dit was 'n bibliofiele uitgawe in 'n klein oplae, maar nou is dit ingepas by die ander bundels, en dit het 'n spesiale plek in my ontwikkeling, omdat ek ná Mens dier ding regtig geworstel het om poëties van daardie bundel los te kom. Ek glo nie dat ek 'n voorkeur het om van binne na buite, of van buite na binne te skryf nie. Wat ek wel agterkom, is dat ek dit momenteel geniet om nie sommer net 'n klomp los gedigte te publiseer nie, maar om te werk met 'n narratief wat (nie te dwingend nie) deur die bundel loop. Ook hou ek op die oomblik van poëtiese navorsing doen en oplees oor en rondom die temas waaroor ek wil skryf, terwyl ek in die verlede veral by die enkele beeld, frase, of reeks van sinne begin het.

AR: Jou werk is die eerste maal in Afrikaans in Kom in, dit vries daar buite (2013) soos vertaal deur Daniel Hugo by Protea Boekhuis bekendgestel. Daarna is jou bundel Mens dier ding (2014) deur Zandra Bezuidenhout in Afrikaans vertaal. Laasgenoemde vertaling het in 2018 by Human & Rousseau verskyn. Hoe sou jy sê verskil Schaffer in Afrikaans van Schaffer in Nederlands?

AS: Daaroor kan ek nie so baie sê nie. Al wat ek kan sê is dat dit my roer as ek die Afrikaanse weergawes hóór, asof Afrikaans my moedertaal is, wat hoegenaamd nie die geval is nie. Toe Antjie Krog by die uitreiking van die P. C. Hooftprys van my werk uit wie was ik. strafregels gelees het, in haar eie Afrikaanse vertaling, het dit my getref, asof ek vir die eerste keer in aanraking durf kom met die affektiewe prosesse wat agter die tekste steek. Uiteraard kan Antjie ook die telefoonboek lees en daarvan 'n meesterwerk maak, maar dit was nie net haar pragtige voordrag nie-dit was ook omdat dit in Afrikaans was.

AR: Jy is self ook 'n vertaler van onder andere Ronelda S. Kamfer se werk in Nederlands. Op watter wyse beïnvloed Schaffer die vertaler Schaffer die digter?

AS: Daaroor kan ek dalk met 'n bietjie meer afstand praat. Die vertaling van Ronelda se uitsonderlike werk-wat nou ook regtig momentum kry in Nederland, met baie, en baie goeie, resensies-maar ook van ander digters soos Antjie Krog, Charl-Pierre Naudé en Marlene van Niekerk, het my onbewus baie dinge geleer oor wat ek met poësie wil probeer en bereik. Om te vertaal is die mees intense vorm van lees, en in die algemeen is lees van baie en baie uiteenlopende poësie die beste opleiding denkbaar. So, om te vertaal, is om 'n opleiding te kry in poësie lees, verstaan en skryf-'n opleiding op die vlak van Harvard of Cambridge. Ook die kennisoordrag van vertaal na jou eie werk is weer iets wat mens nie kan vang, voorspel of meet nie, gelukkig, maar ek weet heel goed dat dit my laat herbesin oor my eie formulerings, beelde, wyses van kommunikeer, sowel binne die gedig as met myself.

AR: Mens dier ding is veral deur diegeskiedkundigefiguur van Shaka Zoeloegeïnspireer. Wat is die fassinasie met dié historíese figuur wat oorgesypel het tot die skryf vangedigte in 'n moderne idioom? Ek haal aan: "Sonder ekstase of assegaai is Shaka soos Borges. / 'n Blinde digter" (29).

AS: Toe ek die roman Chaka, An Historical Romance [deur Thomas Mofolo] lees vir my PhD aan die Universiteit van Kaapstad, was ek stomgeslaan. Die uitbeelding, die seggingskrag, die charismatiese figuur van Shaka wat gaandeweg 'n verandering ondergaan wat onomkeerbaar is. Geskiedenis gemeng met mitologie en metaforiek: wat 'n kragtoer. Veral die feit dat dit 'n swart skrywer was, was vir my fassinerend, omdat die kontekstualisering van die historíese figuur, selfs in die televisiereeks uit die jare 80, veral bekend geword het binne 'n wit, antropologiese denke. Mofolo was nie 'n Zoeloe-man nie, en boonop 'n Christen, dus ek verstaan daar is 'n spesifieke toeëiening wat plaasvind en wat gekritiseer kan word. Maar steeds is daar 'n empatie wat baie sterk deurkom, en dit het my geïnteresseer. Ek wou in die Nederlandse poësie 'n swart karakter inbring, en skryf oor manlikheid, degenerasie, en mitevorming. Die herskryf van sekere hoofstukke uit Mofolo se roman was 'n goeie oefening om die aspekte bymekaar te kry. In feite is Mens dier ding my mees eksperimentele werk; ek wou wegbeweeg van die dinge wat ek reeds ontgin het in die eerste bundels, maar het nie mooi geweet hoe nie. En toe gebeur dit. Dit het soos 'n risoom vanself begin groei en ontwikkel, en ek het net saamgewerk in die proses. Dit was 'n genot om aan die boek te werk, 'n dierbare tyd. My vrou en ek en my dogter was pas terug in Suid-Afrika en het in Seepunt gaan bly, en tussen al die nuwe lewe en aanpassings en uitdagings het die boek gebeur.

AR: Opvallend is die invloed van die Nederlandse digter Nachoem M. Wijnberg op jou werk. Ek dink veral aan die langer titels van jou gedigte en die langer versreëls met 'n sterk narratiewe aanslag. Sal jy asseblief vertel van jou affiniteit vir Wijnberg se poësie? Is daar ander belangrike invloede op jou werk van ander digters wat jy graag sal wil vermeld?

AS: Ek is steeds gek na Nachoem se gedigte, maar sy invloed geld veral my beginjare. Die lang titels is ook nie soseer van hom of van 'n ander digter (Rodaan Al Galidi doen dit byvoorbeeld ook) nie, maar kom voort uit digreëls wat ek nie in die teks kon inpas nie, en toe bo die gedigte uitprobeer. Wat invloed betref het Anne Carson 'n groot rol begin speel, weens haar volkome vryheid wat betref vorm en intertekstualiteit. Toe ek Wijnberg se werk vir die eerste keer lees, het die atipiese seggingskrag my getref, die afgetrokkenheid daarvan. Op 'n manier het ek gevoel dit is poësie wat nie net liriese ontboesemings is nie, maar vorme van ondersoek na sisteme, denkwyses, verhoudings tussen mense en kulture, en dan in 'n taal wat nie juis poëties lyk nie. Hoewel die beste poësie my in hoë mate geraak het van die begin af, was poësie nog altyd in baie gevalle vir my 'n groot aanstellery. By Wijnberg het ek iets gevind wat diametraal anders was as aanstellery. Deesdae word ek veral deur ander kunsvorme gevoed, soos films, boeke, nuus, artikels.

AR: Noudat jy reeds 'ngeruimte tyd in Suid-Afrika woonagtig is-jy het die eerste maal in 1996 na Suid-Afrika verhuis vir 'n tydperk van tien jaar en in 2011 weer na Suid-Afrika teruggekeer-sal jy dit oorweeg om in Afrikaans te skryf?

AS: Ek het al daaraan gedink, en as 'n eksperiment sou ek dit seker ooit kon probeer, maar dit sou tog voel asof ek geblinddoek skaatsry op 'n bevrore meer. Om te leef tussen tale is klaar verwarrend, dus om in een taal te bly oefen om so goed as moontlik werk te lewer, voel vir my na die mees gesonde uitweg.

AR: Wat het aanleiding gegee tot jou aanvanklike verhuising na Suid-Afrika?

AS: Ek het gestudeer aan die universiteit van Leiden, en het daar 'n ekstra kursus gevolg in Suid-Afrikaanse letterkunde, waar ons tekste gelees het van Brink, Van Heerden en Coetzee. Suid-Afrika was in die jare tagtig nog 'n verbode onderwerp by die huis, met my swart ma en my wit pa wat begaan was met die lot van swart Suid-Afrikaners hier. Toe ek studeer in die jare negentig was die atmosfeer uiteraard anders, en toe daar 'n moontlikheid is om 'n aantal maande te studeer in Kaapstad, het ek die kans gegryp. Ek het 'n ruk in Parys gebly, op die Antille, my pa en ma het op baie plekke gebly, so ek was gewoond aan vertrek. Ek het verlief geraak op die vrou wat nou my eggenote is, en dan was daar die asemrowende stad, Kaapstad, en die Departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit van Kaapstad, met sy ongelooflike warmte en kollegialiteit, sy informele omgang met mekaar in kombinasie met intellektuele denke-'n unieke plek en tyd. Al dié aspekte het my daar gehou tot ná my doktorsgraad, terwyl die plan was om net drie maande te bly. Ek het 'n fantastiese mentor gehad in prof. Henning Snyman, 'n besondere intellektueel en hartlike, nederige mens.

AR: Sedert 2011 is jy as dosent verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch. Hoe moeilik is dit om jou akademiese met jou digtersloopbaan te versoen?

AS: Dit het sy uitdagings, maar dit was maar dieselfde in Nederland toe ek as redakteur by De Bezige Bij en by Cossee gewerk het, terwyl ek ook skrywer is. Ek sou kon kies om net vryskut te werk, daar is genoeg wat ek nou moet wegwys, maar ek hou van kontak met mense, deel wees van die samelewing, en werk met studente. Ag, die lewe is so onvoorspelbaar, so mens kan nie sê waar jy is oor vier of vyf jaar nie.

AR: Jy het reeds talle letterkundige pryse verower, wat onder andere die Jo Peters-Poësieprys, die Hugues C. Pernathprys, die Jan Campertprys, die Ida Gerhardtprys en die P. C. Hooftprys insluit. Na aanleiding van jou ontvangs van die P. C. Hooftprys het die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek (SAVN) 'n driejaarlikse erelesing in jou naam aangekondig. Hierdie pryse en erelesing dui op die groot belang van jou digterlike stem, nie net in die Lae Lande nie, maar ook in Suid-Afrika. Ek wil graag weet wat literêrepryse vir jou persoonlik beteken.

AS: Ek onthou dat die drie pryse vir Mens dier ding (die Awater Poësieprys, die Paul Snoekprys en die Charlotte Köhler-prys) baie beteken het, soos ook die terugvoer van lesers en resensente. Die skryfproses was een groot improvisasie, en dus baie leersaam. Toe dit klaar is, was ek egter hoogs onseker of die baie partikuliere genot ook sou werk, en ek was onseker oor watter tipe boek dit was. Ek het gevoel ek het myself met die vorige boek, Kooi uit 2008, in 'n hoek in geskryf, ek was nie seker of ek nog kon skryf nie, of ek dit nog wou. Dus er stond iets op het spel. Die bevestiging was dus mooi. Pryse en institusionele erkenning doen iets met hoe mense jou sien, en met jou plek in die rangorde, sou jy in sulke dinge belangstel, en ek doen nie. Pryse gee geen sekerheid of gemoedsrus by elke nuwe poging wat jy onderneem nie. Op sulke momente, wanneer jy opnuut begin met iets kreëer waar niemand op wag nie, waarvan jy nie eers weet wat die uitkoms gaan wees nie, staan jy heeltemal aan die begin.

AR: 'n Laaste (voorspelbare) vraag: Waarheen nou? Is daar 'n nuwe bundel aan die broei? En akademies?

AS: Akademies is ek besig met enkele artikels, met klasgee, en met een semester se werk in Gent. Nuwe poësie, kreatiewe werk skryf, dit is 'n ander ballgame. Baie moeilik om te voorspel waar dit heen gaan. Maar dit is wat dit avontuurlik en opwindend maak. Ek het nie op die oomblik baie tyd om te skryf nie, maar ek het wel 'n idee, 'n rigting, daar is iets besig om te broei.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License