SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.58 issue2Season of Crimson BlossomsLondon Cape Town Joburg author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.58 n.2 Pretoria  2021

http://dx.doi.org/10.17159/tl.v58i2.11637 

RESENSIES REVIEWS

 

Nêrens, Noord-Kaap

 

 

Mathilda Smit

Universiteit van die Vrystaat Bloemfontein, Suid-Afrika, SmitMi@ufs.ac.za ORCID: https://orcid.org/0000-0002-5207-3784

 

 

Nico Scheepers.
Pretoria: Protea, 2020. 59 pp.
ISBN 9781485310952.

Nico Scheepers debuteer in 2014 by die KKNK as dramaturg en regisseur met die produksie Wentel. Ander dramas uit sy pen is Amper, Vrystaat, Hemelruim, Rooivalk en Moedertaal.

Nêrens, Noord-Kaap is 'n waardige toevoeging tot Scheepers se reeds indrukwekkende oeuvre. Die produksie verower die prys vir die beste nasionale debuut by die Vrystaat Kunstefees, word vir drie kykNET-Fiës-tas benoem en wen ook die Fiësta vir beste ensemble-werk. Hierdie pryse en die lof wat die produksie verwerf is gegrond, aangesien Nêrens, Noord-Kaap wegbreek van die teaterkonvensies waarmee die algemene Afrikaanse dramaleser of teaterganger vertroud is. Die teks is poëties, modern en digverweef, maar terselfder-tyd lig en onopgesmuk; met sterk karakters en 'n interessante tematiek. Met 'n gestroopte aanbieding dring dit tot die hart van die teater deur en op eg persoon-like vlak word universele temas van grootword, (wit) manlikheid, grondeienaarskap, verlies en broederskap aangeraak.

Die dramateks is ook onlangs deur Scheepers tot televisiereeks verwerk. Dit begin in Augustus 2021 op kykNET speel. Die reeks bestaan uit 13 episodes, Saartjie Botha het as teksredigeerder opgetree en dit is deur Nagvlug Films vervaardig.

Die storie van beide die reeks en die dramateks handel oor drie uiteenlopende broers wat vir hul pa se sestigste verjaarsdag weer op hul geboorteplaas, Nêrens, bymekaarkom. Vir elke broer word die reünie 'n unieke uitdaging wat hom op verskeie vlakke uitdaag. Elkeen het sekere stereotiperende eienskappe, sodat die verhoudingsdinamiek tussen hulle 'n substraat van wit, Afrikanermanlikheid verteenwoordig. Hierdie konflik tussen die karakters dra by tot 'n span-ningslyn wat regdeur die teks loop.

Die oudste is Frans, verantwoordelik en met 'n groot pligsbesef. Hy is ongetroud en woon steeds op die plaas. Ronnie noem hom die "Appel van die Adendorff -oog" (19).

Ronnie, tipies rebelse middelseun, het verskeie mislukte verhoudings, probeer ophou rook en vergryp hom aan drank op die partytjie. Hy is ook die pa van Lourens (vernoem na sy oupa), wat die volgende generasie Adendorff-mans verteenwoordig. Hy is bekommerd oor die invloed wat Lourens se ma op hom het, en noem: "Ek's net worried oor my laaitie, man. Shannon het alles uit my uit behalwe die visitation rights, so elke tweede naweek is dit ek en Lourens, en dan probeer ek maar fix wat hulle besig is om op te fok" (18).

Die jongste seun, Andries, is avontuurlustig en kunssinnig. Hy is lankal weg van die plaas en reis en werk wêreldwyd as fotograaf (met sy ma se ou kamera). Andries is sy pa se gunsteling en word as die verlore seun terugverwelkom.

Die seuns se ma (Katja) kom oorspronklik van Nederland af en het 'n gekompliseerde koloniale verlede waarmee sy deur haar verskeie projekte met die plaaswerkers (onder andere die bou van die kerk) probeer vrede maak. Die halfgeboude kerk verteen-woordig hierdie verhoudings wat herstel moet word en word daarom 'n versoeningsruimte-eerstens, ver-soening tussen die plaaswerkers en die plaaseienaars en tweedens, as 'n manier om die pa se verhouding met sy seuns (en veral sy kleinseun, Lourens) te herstel. Aan die einde van die drama begin die oupa en sy kleinseun weer aan die kerk bou. Die Nederlandse woorde op die kerkgebou eggo hierdie sentiment van versoening, vrede en vreugde: "Ik bid dat de Heer je zegent en je voeten laat dansen" (57).

Die ruimtelike kontras tussen die ma se geboorteplek en die Noord-Kaapse milieu staan ook voorop. Die verskil tussen Nederland en die Noord-Kaap word soos volg beskryf: "Die dorpies daar is so naby aan mekaar, die grond kry nie kans om asem te haal nie. Maar hier by ons? In die Boesmanland, waar jy sterre in die veld sien lê? Dat is waar God komt slapen, Andries" (15).

Die teaterstyl van Nêrens, Noord-Kaap kan in verband gebring word met Jerzy Grotowski (21) se "arm teater" en is gestroop van die meeste dekor en rekwi-siete. Sodanige minimalisme vereis dat die akteurs meestal staatmaak op hul stemme en liggame om die gebeure weer te gee.

Een van die mees unieke eienskappe van dié drama is die manier waarop lang monoloë en kort, kragtige dialoog afwisselend gebruik word. Die drama bestaan meestal uit lang spreekbeurte waar karakters dikwels herbesin oor die verlede en ander noodsaaklike ekspo-sisie verskaf. Die spreekbeurte vervul ook soms die rol van neweteks/verhoogaanwysings en bevat soms ander karakters, wat nie op die verhoog verskyn nie, se woor-de of die beskrywing van hul aksies. Al die karakters praat in 'n herkenbare, moderne Afrikaans, tipies van die tyd en plek.'n Skrywersnota aan die begin van die teks neem veranderlikes in ag en laat vir die regisseur en/of akteurs plek om die teks subjektief te interpreteer.

Baie bewuste keuses is gemaak oor die musiek wat in die toneelteks figureer. In die eerste toneelaan-wysings word genoem dat musiek "spaarsamig gebruik" word en dat die "spesifieke liedjies [...] gekies is om inhoud en atmosfeer te belig" (9). Die musiekkeuses dra telkens by tot die tematiek en verklap iets van die karakters se kulturele agtergrond en grootwordjare.

Musiek van Dana Winner, 'n bekende Vlaamse sangeres, word gespeel wanneer die gehoor hul sitplek-ke inneem-moontlik 'n verwysing na die Nederlandse afkoms van die ma-karakter. Elders word ook verwys na Maaike Ouboter se "Dat ik je mis" (27).

The Lion King se "The Circle of Life" begin speel sodra die akteurs hul plekke inneem. Daar is ook later 'n aanhaling uit dié klassieke Disney-fliek as Ronnie praat oor sy deel van die plaas wat hy eendag gaan erf en dan vir sy seun gaan gee: "Maar ek sal nie verkoop nie. My deel gaan na Lourens toe. Eendag is alles syne. Alles. Everything the light touches'" (19). Die broers het waar-skynlik grootgeword met die film en die verwysings bring hul nostalgiese jeug in verband met vader-seun verhoudings en die "heerskappy" wat oorgedra word van een generasie na 'n ander.

Daar is ook verwysings na moderne Afrikaanse musiek soos "Die Vraagstuk" van die bekende klets-rymer, Jack Parow. Die lirieke van hierdie lied word byna in geheel tydens die partytjie aangehaal deur 'n besope Ronnie en dit word 'n deurlopende motief wat die probleme rondom die moderne samelewing en die uitdagings van die jonger Afrikaanse generasie oproep. "Die Vraagstuk" kan gesien word as 'n stem van die tyd en dui op die belangrikheid van die regte vrae vra om die regte antwoorde te verkry.

Die toneelstuk sluit af met Spoegwolf se lied, "Sambreeltjie". Die woorde en melodie van die lied eggo iets van die onopgeloste en gekompliseerde verhou-dingsdinamiek tussen die karakters.

My enigste kritiek is dat die slot van die drama effens gejaagd voorkom, maar dalk effektief die steeds moeilik-oorkombare trauma wat oor generasies heen strek suggereer, trauma wat as gevolg van toksiese manlikheid nie geverbaliseer kan word nie. Die karakters maak die oggend ná die partytjie asof daar nie regtig enige konfrontasie plaasgevind het nie en val weereens in die strik van begriploosheid as gevolg van gebrekkige kommunikasie. Die teks laat 'n diep indruk en kan gesien word as 'n kritieke, empatiese ondersoek na 'n eietydse (wit) Afrikaanse manlikheid, en suggereer die denkpatrone wat daaromtrent moet verander.

 

Geraadpleegde bron

Grotowski, Jerzy. Towards a Poor Theatre. Routledge, 1968.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License