SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.58 issue2If You Keep DiggingSeason of Crimson Blossoms author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.58 n.2 Pretoria  2021

http://dx.doi.org/10.17159/tl.v58i2.11263 

RESENSIES REVIEWS

 

Duimnaelsketse.

 

 

Rickus Ströh

Noordwes-Universiteit Vanderbijlpark, Suid-Afrika Rickus.Stroh@nwu.ac.za ORCID: https://orcid.org/0000-0001-8388-6983

 

 

Johann de Lange.
Gansbaai: Naledi, 2020. 111 pp.
ISBN 9781928518679.

In 2020 laat Johann de Lange twee bundels die lig sien, naamlik Die meeste sterre is lankal dood en Duimnaelsketse. Laasgenoemde is sy veertiende bundel (of vyftiende, afhangende watter een van die twee bundels 'n mens eerste tel) en die tweede bundel waar die digter slegs van die kwatryn as digvorm gebruik maak. Duimnaelsketse kan beskou word as 'n opvolg van sy eerste kwatrynbundel, Weerlig van die ongeloof (2011), vanweë die gedeelde temas in die twee bundels, en die verwys-ings na gedigtitels in die 2011 bundel.

Die voorblad is 'n afdruk van Christiaan Diedericks se kunswerk "Play with me". Soos met die ander twee De Lange-bundels wat met 'n Diedericks-werk op die voorblad pronk, is dit hier die eerste sleutel tot die lees van die bundel. Bekende temas in De Lange se oeuvre word met die voorblad geak-tiveer, te wete die visuele, voyeurisme, liggaamlikheid en (gay) seksualiteit. Die visuele, en veral die blik op die manlike liggaam, word in die kunswerk beklemtoon: die blik van die figuur op die ontkledende se geslag (met behulp van rooi pyle) en laasgenoemde se blik op die leser. Die frase "play with me" versier die voorste figuur se hemp en benadruk die objektivering van die manlike liggaam.

Die titel, Duimnaelsketse, is die tweede sleutel wat die leser in ag moet neem. 'n Duimnaelskets is 'n vinnige, kort, impromptu skets, maar kan ook in die tegnologiese jargon verwys na 'n kleiner weergawe van 'n groter grafiese afbeelding (in Engels 'thumbnail'). Die titel word tweeledig en ironies aangewend. Dit verwys indirek na die kwatryn as kort digvorm wat inhoudelik net soveel gewig dra as ander digvorme; en tweedens skakel dit hierdie bundel met De Lange se vorige bundels. (In Die algebra van nood [2009] tref ons 'n gedig-siklus aan met die titel "Duimsketse" [21] en in Stil punt van die aarde [2014] "Duimsketse by die vier seisoene in Kaapstad" [44-5]). Die titel is ironies omdat De Lange se kwatryne inderdaad nie vinnige, impromptu sketse is nie, maar eerder getuig van uitnemende digterlike tegniek en woordspeling. Dit is verder ook interessant dat 'n meerderheid van die kwartyne die rymskema abcb het. Dit wil voorkom asof De Lange besig is om hier sy eie stempel op dié digvorm af te druk.

Tematies word die bundel weldeurdag uiteengesit deur die kwatryne in ses afdelings te verdeel, elk met 'n oorhoofse tema wat aansluit by die hooftema wat regdeur die afdelings waargeneem kan word, naam-lik die digter se besinning oor 'n leeftyd wat aan die verbygaan is en die naderende dood. Die openings-kwatryn, "Deure" (3), wat geskryf is na aanleiding van Charles Tomlinson se gelyknamige gedig, stel die toon vir die bundel:

Daar is twee deure in een raam:

Een aansig na lamplig gekeer,

& die ander een na die maan.

Ons gaan deur deure heen, & weer.

Die deur word hier simbolies vir die sikliese aard van die lewe, en word veral in ooreenstemming met die Christelike tradisie beskou as 'n deurgang tot 'n openbaring en toegang tot 'n hoër wesenlikheid (Chevalier en Gheerbrandt 423-4).

Daar is kwatryne oor die kunste, insluitende woordkuns, beeldhouwerk, skilderkuns en die uitvoerende kunste. "Marlene Dietrich" (6) is 'n goeie voorbeeld van die kwatryn wat ingespan word om 'n visuele "optelvers" daar te stel:

Die blou engel sing wrang van lewe & dood.

Met die refrein, silwer kollig op die veloer,

gly die hermelyn van skouers wit & mals

soos brood, & sterf in 'n hopie op die vloer.

Die visuele word verder in die bundel verken met ver-al die oog op die natuur in die tweede afdeling van die bundel, en insgelyks ook met die blik op die manlike liggaam. Vergelyk in hierdie geval hoe die sonbaaier -figuur uit vorige bundels weer sy verskyning maak in "Drie baaiers" (70), "Op die rotse" (80) en "Sonbaaier" (85). Alhoewel liggaamlikheid en die belewing van die

seksuele bekende temas is in De Lange se werk, word dit deur 'n nuwe lens beskou, veral waarneembaar in die volgende kwatryn (71):

Hier aan die einde van dae,

sonder rent boys of wi-fi,

sonder 'n zol of 'n naai,

het ek net in riemruk 'n behae.

Hierdie gedig moet saam met die kwatryn op die volgende bladsy gelees word, met die titel "Fantas" (72), waar die spreker "aan die einde van dae" slegs mastur-basie en sy verbeelding het om die seksuele begeerte na die manlike liggaam te bevredig, en slegs op gerugte leef wat deur die seebries van Sandy Bay af gebring word ("Prêt-à-porter" 83).

Die intertekstuele gesprek met ander digters word in hierdie bundel ook voortgesit, waarvan Boerneef (I. W. du Plessis) se "Die berggans het 'n veer laat val" die prominentste is. Dit word as uitgangspunt geneem vir die kwatryn "Brand" (13) oor die vernietigende brande by Wupperthal in 2018, en weer vir "Spekulum" (55). Ander figure uit die literêre wêreld word betrek: met die "Die weduwee Viljee" (48) word Opperman en Hambidge bygehaal omdat laasgenoemde in haar bundel Indeks (51-6) Opperman se pastiche voortsit deur nuwe en jonger digters se styl na te boots. De Lange maak in sy vers gebruik van die Persiese kwatryn, 'n vorm wat Opperman in Afrikaans vervolmaak het, om die intertekstuele verband te versterk. "WAT" (58) bring hulde aan drie groot skrywers wat onlangs ges-terf het, naamlik Aucamp, Cloete en Small.

Afgesien van die intertekstuele spel met ander digters se werk, tree De Lange ook in gesprek met sy eie werk. "Selfportret op 60" (104) kan as opvolg van die kwatryn "Digter op 50" (68) uit Weerlig van die ongeloof beskou word. Dit is bykans 10 jaar sedert die laasgen-oemde verskyn het, en in dié vers reflekteer die digter op die verouderende liggaam en digterskap. Lees ook die vers "Arme ou lyf" (29) wat hierby aansluit.

Die besinning oor die dood en verganklikheid neem 'n baie persoonlike en donker draai in die laas-te afdeling van die bundel, ironies getiteld "Dood is 'n werkwoord". Hier verwoord die digter die bewusword-ing van sy eie verganklikheid, en die naderende dood of stilwording van die skryfdaad. Die kwatryn "Dusketyd" (95) beklemtoon dit met 'n sombere en dringende toon:

Nou gaan dié grys digter rus,

voorlopig nog ongekis.

Ek trek tot onder my ken

die vóórlaken van die mis.

Met hierdie bundel bevestig De Lange sy plek as een van die voorste kwatrynskrywers in Afrikaans en maak hy ten volle gebruik van die kwatryn as "gedig in sy eie reg [wat] op sy beste 'n bepaalde lewenshouding of -aanvoeling op pakkende, pregnante, epigrammatiese wyse tot uitdrukking bring" (Grové & Viljoen).

 

Geraadpleegde bronne

Chevalier, J. & A. Gheerbrant. The Penguin Dictionary of Symbols. Penguin, 1996.         [ Links ]

Grové, A. P. & H. Viljoen. "Kwatryn." Literêre terme en teorieë. Jun. 2018. www.litterm.co.za./index.php/k/103-kwatryn.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License