SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.58 número2VervlegAsleep Awake Asleep índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Letterkunde

versão On-line ISSN 2309-9070
versão impressa ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.58 no.2 Pretoria  2021

http://dx.doi.org/10.17159/tl.v58i2.12203 

RESENSIES REVIEWS

 

As die Cape Flats kon praat

 

 

Earl Basson

Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie Kaapstad, Suid-Afrika, earlrayb@yahoo.com, ORCID: https://orcid.org/0000-0001-8181-4775

 

 

Brian Fredericks.
Kaapstad: Human & Rousseau, 2020. 228 pp. ISBN 9780798180917.

Brian Fredericks se kortverhaalbundel, As die Cape Flats kon praat, is 'n eerlike en aangrypende vertelling van die daaglikse bestaan op die Cape Flats. In die nege kort-verhale verken Fredericks verskillende sosiale kwes-sies (soos bendegeweld, armoede en verslawing) waarteen mense op die Cape Flats daagliks stry.

Die bundel se titel is ontleen aan James Baldwin se roman If Beale Street Could Talk (1974). In If Beale Street Could Talk verken Baldwin die ingewikkelde en intieme aard van swart romantiese liefde en swart gesinsliefde teen die agtergrond van sosiale ongereg-tigheid (Woubshet). Op 'n soortgelyke wyse vertel Fredericks hier van die ingewikkelde liefdes- en fami-lieverhoudings op die Cape Flats te midde van uitdagende omstandighede. Fredericks lewer ook kommentaar op die geweld wat ons ons eie geliefdes, hetsy romanties of bloedverwant, aandoen. Die titel van die bundel is dus uiters funksioneel, want aan die een kant kontekstualiseer dit die bundel as geheel en aan die ander kant "hoor" lesers hoe individue soos Galiema Sim-son ("Moenie mense judge nie"), families soos Christine en haar kinders ("Die cowboy") en gemeenskappe soos Elsiesrivier ("Moenie mense judge nie") "praat" oor die maatskaplike kwessies wat hulle teister.

Die eerste kortverhaal, "Die drie musketeers", is 'n fiktiewe hervertelling van die Hannah Corne-lius-moordsaak. Michael, 'n sukkelende vryskutjoer-nalis, ontvang 'n boodskap van Angelo, 'n vriend uit sy kinderjare. Angelo vertel vir Michael dat sy jonger broer, Emile, beskuldig word van die moord op Jessica Leigh. Hy vra Michael om vir Emile in die tronk te be-soek en uit te vind of hy werklik die moord gepleeg het. Soos die verhaal ontvou, word die besonderhede van die ingewikkelde verhouding tussen die broers onthul. Die verhaal verloor egter trefkrag weens 'n onduide-like fokus-dit wissel vanaf Michael se verhoudings met sy werk, meisies en sy familie tot die onverwagse reünie van vervreemde broers teen die agtergrond van 'n moordsaak. Die verhouding tussen Angelo en Emile is dig verweef met komplekse temas soos ras, klas en proksimiteit tot witheid. 'n Ruimer verkenning van dié verhouding sou tot 'n meer boeiende leeservaring lei.

Fredericks se vermoë om geloofwaardige karakters te skets en moeilike verhoudings raak te skryf blink veral uit in die uitsonderlike verhale "Die cowboy" en "Die vierhoeke".

In "Die cowboy" sien Nigel hoe sy ma, Christine, finansieel sukkel. Hy vra sy ma uit oor waar sy pa is, aangesien hy hom vyf jaar laas gesien het. Christine antwoord op 'n grappige wyse en sê: "Jy weet mos jou pa dink hy's 'n cowboy, my kind. Hy't die bosse in gehardloop en nie weer teruggekom nie" (147). Nadat Nigel uiteindelik sy pa opspoor, verdwyn sy pa wéér en Nigel keer verslae terug huis toe. Fredericks dui hier op hoe gereeld pa's hulself van hul verantwoordelikheid teenoor hul kinders onthef. Die gesprek tussen Christine en Nigel aan die einde van die verhaal is hartroerend en getuig van Fredericks se vermoë om 'n realistiese stem aan sy karakters te gee.

"Die vierhoeke" is 'n treffende karakterstudie en ontstellende verhaal oor 'n pa wat sy seun in die tronk moet gaan besoek. Michael ontvang 'n oproep van Stacy, die ma van sy kinders, waartydens sy hom laat weet dat iets fout is met sy seun, Johnny, en dat hy Pollsmoor toe moet gaan om vas te stel wat fout is. Met die verloop van die verhaal kry die leser dieper insig oor wie Michael is en oor sy lewe as 'n lid van die 26-bende. Een van die hoogtepunte hier is die insluiting van Sa-bela-die taalregister wat voorheen hoofsaaklik deur die Nommersbende in die tronk gebruik is. Dit is uitdagend om die dialoog in Sabela te volg, juis omdat Sabela 'n anti-taal is. 'n Anti-taal word gedefinieer as die taalgebruik van 'n anti-samelewing. Halliday (570) omskryf 'n anti-samelewing as 'n samelewing wat binne 'n groter samelewing gestig is. 'n Anti-samelewing word geskep as 'n doelbewuste alternatief tot die hoofstroomsamelewing en funksioneer as 'n vorm van weerstand teen dié samelewing. Die anti-taal is 'n belangrike hoeksteen van 'n anti-samelewing, want dit word gebruik om lede tot dié samelewing te hersosialiseer (575).

In die konteks van die verhaal verteenwoordig die bendekultuur in die tronk die anti-samelewing en van nuwe gevangenes word verwag om Sabela aan te leer om in die samelewing geïnisieer te word. Aan die einde van die verhaal volg 'n aweregse mooi gesprek tussen Michael en Johnny. Michael gee vir Johnny (kommer-wekkende) advies oor hoe om by die tronksamelewing in te pas. Uit die gesprek is dit duidelik dat Michael omgee oor die welstand van sy seun, maar uiteindelik getuig dit van 'n pa wat diep vasgevang is in 'n kul-tuur van geweld en wie se ambisies binne die vierhoeke gesterf het en weer gebore is.

Ondanks die verskeie uitdagings wat die mense op die Cape Flats in die gesig staar, durf hulle steeds om te droom; om hoop te hê. In die verhaal "Moenie mense judge nie" lewer Galiema Simson 'n roerende ge-tuienis aan die gemeenskap van hoe sy deur 'n groep bendes verkrag is (103-7). Ná die voorval het sy haar skoolloopbaan voltooi en 'n nuwe werk gekry, waar sy met gemeenskappe werk wat met kwessies soos ben-degeweld sukkel. In "Baksteen vir baksteen" word die hoofkarakter uit die tronk vrygelaat en hy keer terug huis toe. Nadat die karakter vomeer, as gevolg van sy angsversteuring, troos sy ma hom. Die ma is opgewon-de dat hy tuis is en sê dat hy nou haar probleme gaan uitsorteer. Dit lyk asof sy ma se verligting vanweë sy tuiskoms hom laat voel asof hy iewers nodig is. Daarop antwoord hy: "Ek sal alles nou uitsort" (227).

As die Cape Flats kon praat is nie maklik om te lees nie, maar dit is nodig dat dit gelees word. Soms hou jy jou asem op; ander tye moet jy net eers die kortverhaalbundel toemaak om asem te skep. Dit is 'n oor-weldigende leeservaring wat waarskynlik 'n aantal lesers ongemaklik sal laat. Maar dit is juis wat As die Cape Flats kon praat so treffend maak-Fredericks skryf hier oor 'n amper distopiese of vervalle samelewing. Dit is 'n wêreld wat jou vriende, kollegas, leerders of huishulp daagliks ervaar. Om dit te erken, beteken jy moet jou eie gemak ontwrig. So, ons kyk weg. Of ons maak die kortverhaalbundel toe. Nietemin praat die Cape Flats voort.

 

Geraadpleegde bronne:

Halliday, Michael. "Anti-Languages." American Anthropologist vol. 78, no. 3, 1976, pp. 570-84. DOI: https://doi.org/10.1525/aa.1976.78.3.02a00050.         [ Links ]

Woubshet, Dagmawi. "How James Baldwin's Writings About Love Evolved." The Atlantic. 9 Jan. 2019. https://www.theatlantic.com/entertainment/archive/2019/01/james-baldwin-idea-of-love-fire-next-time-if-beale-street-could-talk/579829/.         [ Links ]

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons