SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.58 número2Stephen Gray (1941-2020)Of Motherhood and Melancholia: Notebook of a Psycho-ethnographer índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Letterkunde

versão On-line ISSN 2309-9070
versão impressa ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.58 no.2 Pretoria  2021

http://dx.doi.org/10.17159/tl.v58i2.12294 

ONDERHOUD

 

Van pelgrims en planete: 'n Onderhoud met Ingrid Winterbach

 

 

Ingrid WinterbachI; Thys HumanII

ISy het al meermale die W. A. Hofmeyr-, die M-Net, die Universiteit van Johannesburg-, die Hertzog-prys en die eerste prys in die Groot Afrikaanse Romanwedstryd verower. Haar werk is in Engels, Nederlands en Frans vertaal
IIDoseer letterkunde in die Vakgroep Afrikaans en Nederlands, Skool vir Tale, Fakulteit Geesteswetenskappe van die Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika. Hy het sy proefskrif oor die werk van Ingrid Winterbach onder leiding van Willie Burger voltooi

 

 

Ingrid Winterbach se dertiende roman, Voorouer. Pelgrim. Berg. het in 2021 by Human & Rousseau verskyn. Thys Human het 'n paar vrae oor hierdie indrukwekkende roman aan haar gestel.

TH: Hoe en waar begin 'n nuwe roman vir jou? By 'n karakter, by 'n konsep; by iets wat jy lees of sien? Of dalk iets heeltemal anders? Wat was die vonk vir hierdie spesifieke roman?

IW: 'n Roman het gewoonlik verskillende beginpunte-nie altyd almal agterhaalbaar nie-maar hierdie roman het begin by Anne Carson se Plainwater, en meer spesifiek die onderafdeling "Kinds of Water". Dit het my so aangegryp! Ek het dit begin vertaal, en die vertaling het geleidelik deel begin word van 'n ontwikkelende romangegewe.

TH: Die roman is besonder aantreklik uitgegee. Ek sien Michiel Botha was verantwoordelik vir die minimalistiese, dog uiters treffende, bandontwerp (met hier en daar die behoud van visuele elemente van vorige romanvoorblaaie). Hoe sou die roman gelyk het as jy self die voorbladkunswerk moes verskaf, soos wat dit die geval was tot en met die verskyning van Niggie (2002)?

IW: Dis moeilik om te sê. Dis al so lank wat ek nie self met iets vorendag hoef te kom, soos in die geval van die Niggie- en Karolina Ferreira-voorblaaie nie. Ek sou miskien iewers 'n klein tekeninkie van 'n pelgrim ingebring het.

TH: Die roman het 'n buitengewone titel, Voorouer. Pelgrim. Berg., wat ook opvallend verskil van die titels van jou vorige romans. Waarom het jy uiteindelik juis op dié titel besluit?

IW: Ander titels wat ek oorweeg het, is Die voorouerlike ruim en Die voordeligste eienskappe vir pelgrims. 'Voorouer' en 'pelgrim' het dus uit die staanspoor in die titels geskuil, en toe min of meer daaruit voortgevloei.

TH: Soos in Klaaglied vir Koos en Die boek van toeval en toeverlaat (asook dele van Erf en Vlakwater) maak jy in Voorouer. Pelgrim. Berg. van 'n eerstepersoonsvertellergebruik-dieprulskrywer, Katerina Steenkamp. Maak 'n ek-verteller dit makliker of moeiliker om die onderskeid tussen die 'ek as skrywer' en 'ek as karakter' te handhaaf? Of is dié tipe verteller dalk juis 'n uitnodiging tot 'n tipe verbandlegging of vergelyking tussen skrywer en hoofkarakter?

IW: As daar aanvanklik 'n groter identifikasie met die gebruik van die eerstepersoonsverteller tussen die 'ek as skrywer' en die 'ek as karakter' is, raak dit gou opgehef tydens die skryf van die roman-die proses van fiksionalisering werk onmiddellik en genadiglik bevreemdend. Die feit dat die karakter hom/haarself dan in allerlei situasies bevind wat buite my as skrywer se ervaringswêreld val, bring verdere afstand tussen skrywer en karakter.

TH: Die laaste sin van die verhaalopsomming op die agterblad lees soos volg: "As skrywer, ten volle in beheer van haar medium, betree sy [dis nou jy] hier met groot waagmoed verrassend nuwe terrein!' Wat beteken vernuwing vir jou as skrywer/kunstenaar? Voel jy nie dat daar tans 'n buitensporig hoë premie op vernuwing as aanduiding van die gehalte van skryfwerk geplaas word nie? IW: Ek weet nie. Ek weet sowaar nie. Ek weet nie meer wat met vernuwing bedoel word nie.

TH: Distopiesefiksie is deesdae nogal en vogue in Afrikaans (dink: Koors, Wonderboom, Stof, In 'n land sonder voëls en Simoelégri). Hierdie tekste is dikwels post-apokalipties van aard in dié opsig dat die verhaalgebeure ná een of ander groot ramp afspeel (en ironies genoeg suggereer dat selfs die grootste rampe denkbaar oorleef kán word). Voorouer. Pelgrim. Berg. is eerder pre-apokalipties in dié sin dat algehele uitwissing nog op hande is. Wat is dit van die apokalips wat jou karakters (en dalk selfs jou as skrywer) fassineer?

IW: Volgens my is almal in die apokalips geïnteresseerd. En waarom nie?! Die apokalips, in welke vorm ook al (atoombomme, meteoriete, gammastrale, verskuiwende tektoniese plate, verskuiwingslyne, dag Zero's, ens) het al die elemente van 'n behoorlik vreesaanjaende, adrenaliengedrewe scenario: dis grootskaals, dit bied ekstreme spektakel, en dis lewensbedreigend-met die reële moontlikheid van 'n algehele uitwissing van die lewe op aarde. Daar was al ses groot uitwissings in die aarde se evolusionêre geskiedenis, waarom sou 'n sewende en verdere uitwissings nie moontlik wees nie?!

TH: Ten spyte daarvan dat Katerina Steenkamp om den brode 'n populêre wraakroman probeer skryf, het sy eintlik 'n baie wye lees- en kunsbelangstelling. In die loop van die roman verwys sy onder andere na Anne Carson se Plainwater, W. G. Sebald se The Emigrants, Edmund de Waal se The White Road, Lars von Trier se film, Melancholia, asook die kunswerke van Kerry James Marshall en George Gittoes. Resensente merk soms op dat jou romans verwikkeld is vanweëhierdie intertekstuele gesprekke. Wat hulle egter dikwels nié vermeld nie, is dat lesers geen kennis van hierdie kunstenaars/tekste hoef te hê om jou roman te verstaan of te geniet nie. Trouens, dis juis danksy jou roman dat die leser bekendgestel word aan hierdie wetenswaardige kunstenaars en hul werk.

Ingrid, soos Katerina, is jy 'n gretige leser, wat wyd en dikwels vreesloos lees. Ek kan my net voorstel dat jy voor en tydens die skryf van 'n nuwe roman onder die indruk van talle skrywers en tekste kom. Hoe besluit jy uiteindelik op die tekste (hier in die wydste sin van die woord bedoel) wat jy by jou roman insluit? Moet dit jou karakters interesseer? Moet dit jou as skrywer interesseer? Of dikteer die verhaal?

IW: Al skryf Katrina 'n populêre roman (pulpfiction, sê sy vir Vossie), beteken dit nie sy is 'n ongesofistikeerde leser nie. Sy is per slot van sake ook in die letterkunde opgelei, al het sy taalkunde doseer. Die tekste wat ek in 'n roman insluit, is tekste wat ek toevallig lees tydens die skryf van die roman. Toeval is dus merendeels die deurslaggewende faktor. Maar dan kan so 'n teks die verhaal rig-die manier dikteer waarop die verhaal verder ontwikkel.

Ek wil ook net byvoeg: skrywers is aasdiere, hulle roof, buit en plunder-hulle gebruik álles, álles waarop die oog val, wat die verbeelding aanspreek, wat moontlik bruikbaar is. Etienne Leroux het lank reeds gewaarsku dat hulle gewetenloos is, en dat hulle vir die onthalwe van die roman sonder skroom sal gebruik wat hulle nuttig vind.

TH: Heelwat kommentatore oor jou werk merk op dat jy jou as skrywer nie veel aan plot steur nie. Tog gebeur daar sovéél in jou romans. Waarom dié uiters aanvegbare oordeel oor jou romans, dink jy?

IW: Miskien het ek gewoon 'n ander opvatting van plot as die meeste kommentatore.

TH: Voorouer. Pelgrim. Berg. is 'n roman vol besonder onthoubare pelgrimkarakters. Sommige van dié pelgrims is voorouers. Sommige van hulle hou 'n berg stip in die oog, terwyl ander se oë heelwat meer dwalend is. Tog is dit selde pelgrims (suiwer) in die tradisionele sin van die woord (met ander woorde "reisigers op pad na 'n heilige plek; bedevaartgangers"). Wil jy dalk iets sê oor die belang van pelgrims in die roman?

IW: Die pelgrimmotief in Plainwater het my by die idee van pelgrims uitgebring. (Hoewel Anne Carson en haar metgesel soos bedevaartgangers op hulle Camino-staptog is, is haar interpretasie van wat 'n pelgrim is besonder verrassend!) Toe het ek gewoon geloop met die idee van pelgrims, en dit-soos Carson-na hartelus uitgebrei.

TH: Aan die hand van Katerina se eksman, sy vriend Alfred en die begenadigde minnaar, Jakobus Jonker, behels dié roman ook 'n interessante herbesoek aan of hertaksering van die tagtigerjare van die vorige eeu. Waarom die herontginning van juis dié berugte dekade? En, hoeveel het sedert die tagtigerjare in Suid-Afrika verander? Op watter wyses verskil die wêreld wat Katerina deur haar kombuisvenster betrag van die wêreld van die laat-tagtigerjare van die vorige eeu?

IW: Ek moes besluit hoe oud ek die karakter Katerina wil maak-nie te oud nie, en nie te jonk nie, so middelvyftigs. Sy moet dus in die sestigs gebore wees, en volwasse wees in die tagtigs. Terselfdertyd was die tagtigs die tyd waarin ek vir die eerste keer gepubliseer het-polities 'n besonder stormagtige tyd in ons landsgeskiedenis-'n oorgangstydperk, wat aanleding gegee het tot die Nuwe Suid-Afrika. Dit was interessant om hierdie tydperk in die roman te herbesoek, vanuit 'n agternaperspektief.

In die laattagtigs het 'n karakter by die venster uitgekyk en apartheid gesien. Nou kyk Katerina by haar kombuisvenster uit en sien sy die onveranderde uitsigloosheid van die armes.

TH: 'n Laaste moedswillige vraag: Watter tipe navorsing doen jy om so ingelig, oortuigend en onderhoudend oor chat sites en sekspoppe te kan skryf?

IW: Wat die chat sites betref, het ek sommer my eie reëls opgemaak, en wat die sekspoppe betref, is daar volop inligting (en veral foto's) op die internet.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons