SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.58 issue2Of libraries, books, and reading: A journey of meaning makingStephen Gray (1941-2020) author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.58 n.2 Pretoria  2021

http://dx.doi.org/10.17159/tlv58i2.11123 

RESEARCH ARTICLES

 

Voorgevoelens, vertolkings en verklarings: resepsie van 'n 19de-eeuse Ixam-kum

 

Premonitions, interpretations, and explanations: Reception of a 19th century Ixam kum

 

 

Luan Staphorst

'n navorsingsassistent verbonde aan die Leerstoel: Kritiese Studies in Hoër Onderrig Transformasie, Nelson Mandela Universiteit, Gqeberha, Suid-Afrika. E-pos: luan.staphorst@mandela.ac.za https://orcid.org/0000-0003-4676-4498

 

 


ABSTRACT

Although the field of Bushman studies has seen a number of different disciplines being drawn upon to address key questions, the textual material of the Bleek and Lloyd archive is still relatively understudied. Studies which do approach this material, however, tend to do so through an anthropological and/or archaeological lens, with literary analysis often marginalized. This article, through taking account of considerations of the reception theories developed in literary studies, criticises the various interpretations of a 19th century |xam language kum, or narrative. Originally published in Specimens of Bushman Folklore (1911), the kum "Bushman presentiments", concerning an enigmatic experience narrated by ||kabbo, has led to six distinct interpretations-some of which are in conversation with one another in various ways, but they nevertheless offer differing views. Through a critical review grounded in literary folkloristics and reception theory, the article argues for renewed interest in and study of the kum "Bushman presentiments". It is argued that future studies need to be based on three factors: disciplinary foregrounding, linguistic analysis, and comparative reading. These three factors, the article concludes, are the most glaring limitations of the existing interpretations, and if taken into consideration they could lead to a proliferation of insight into the kum.

Keywords: Ixam, ||kabbo, Bleek and Lloyd, Bushman studies, comparatism, disciplinarity, kukummi, literary folkloristics, linguistic analysis, reception theory.


 

 

Inleiding

Tussen 18 Februarie en 20 Maart 1873 is 'n opspraakwekkende kum, oftewel narratief, deur die Ixam-man ||kabbo aan Wilhelm Bleek en Lucy Lloyd oorgelewer. In 'n opname wat oor 70 manuskripbladsye strek, verskaf ||kabbo 'n oorsig van een van die mees enigmatiese ervarings wat onder die Ixam beleef is. Dié teks is in Specimens of Bushman Folklore (1911), die eerste bundel gepubliseerde |xam-materiaal, ingesluit, en is deur die redakteurs Lucy Lloyd en Dorothea Bleek van die titel "Bushman Presentiments" (voortaan "Presentiments") voorsien. Die misterieuse aard van die vertelling, ten minste soos dit deur Lloyd en Bleek gelees is, word gereflekteer deur die feit dat hierdie teks in die afdeling "Boesmangebruike en -bygelowe" in Specimens of Bushman Folklore geplaas is. Dit het sedertdien legendariese status in Boesmanstudies bereik, asook in breër kringe waar gedeeltes daarvan veral deur aanhalings, vertalings, en in digvorm lewend gehou word (vergelyk Krog, Mede-wete 45; die agterblad van Krog, Met woorde soos met kerse; Markowitz 62; Moran, Representing Bushmen: South Africa and the origin of language 128-47; Twidle 19; Von Wielligh, Versamelde Boesmanstories 2 78-80; Watson, Return of the Moon: Versions from the /Xam 49; Watson, "Variations on Four |xam and !kun Themes" 175). Die gewildheid daarvan word moontlik slegs geëwenaar deur Diälkwain se treursang, "The Broken String". En, soos die geval is met die treursang oor die gebreekte snaar (vergelyk Solomon, "Broken Strings: Interdisciplinarity and IXam Oral Literature" 26), geniet "Presentiments" ook verskeie interpretasies.

Hierdie artikel gaan vervolgens krities om met dié telkens uiteenlopende interpretasies van "Presentiments", ook bekend as "Boesman-voorgevoelens" (vergelyk Krog, Met woorde 37), en my kritiese beskouing daarvan is begrond in die literêre volkskunde en resepsieteorie. Hierdeur word gepoog om die insigte wat in die verskeie interpretasies geleë is, op te som, asook om vas te stel hoe moontlike verdere studies daar kan uitsien. Die kum "Presentiments" word gevolglik eerstens gekontekstualiseer en opgesom, waarna die ses bestaande studies daarvan krities bespreek word. Laastens word die leemtes in die bestaande studies uitgelig, en gewys hoe toekomstige bestudering van dié fassinerende vertelling benader kan word.

Voor ek verder gaan, wil ek my benamingskeuse motiveer. Bewus van die voortdurende brandpunt waarin die kwessie van benaming sigself bevind (vergelyk Barnard ix; Ellis, "Ons is Boesmans" 120; Ellis, "Simulacral" 496; Raper 168; Wright 16), word 'Boesman', in 'n neutrale sin, in hierdie artikel bo 'San' verkies. Dit is in navolging van die voorkeur daarvoor onder teenswoordige Boesmangroepe in Suid-Afrika (Grant 157; Kruiper en Bregin 4), asook in ooreenstemming met die benaming in die Bleek en Lloyd-argief.

Verder van belang is dat die term Boesman in die benaming van die studieveld Boesmanstudies ("Bushman studies") voorkom, met dié artikel wat diskursief deel van hierdie veld is. Alhoewel enkele navorsers in meer resente besprekings na "|xam-studies" verwys (Van Vuuren, "Op die spoor van Boesman-letterkunde" 162; Wessels, "The /Xam Narratives of the Bleek and Lloyd Collection: Questions of Period and Genre'" 27 en "New directions in /Xam studies: some of the implications of Andrew Bank's Bushmen in a Victorian world: the remarkable story of the Bleek-Lloyd collection of Bushman folklore" 69), is dit slegs met verwysing na navorsing wat uitsluitlik op die |xam-materiaal in die Bleek en Lloyd-argief gefokus is. Selfs dié navorsers, egter, gebruik oorwegend die benaming "Boesmanstudies" (Van Vuuren, A Necklace of Springbok Ears 82, "'n Besinning oor die benadering tot 'n uitgestorwe kultuur: die /Xam koloniale argief" 160 en "'A song sung by the star !gaunu, and especially by Bushman women': the blossoming of the uintjieblom" 324; Wessels Bushman Letters 22), siende dat dit die oorkoepelende veld is waarin |xam-studies as sodanig aangetref word, asook die standaardbenaming vir die interdissiplinêre studieveld wat die geskiedenis en kultuur van die Boesmans as 'n kollektiewe groepering bestudeer (Barnard ix; Moran, "Specimens of 'Bushman' studies" 46; Wright en Weintroub 435-6). Vanweë dié interdissiplinariteit, word |xam-materiaal dikwels in verhouding tot die narratiewe materiaal van ander Boesmangroeperings bestudeer-iets wat ook met betrekking tot bogenoemde studies in dié artikel die geval is. Iets soos "egte", "suiwer" |xam-studies bestaan dus bykans glad nie, en Boesmanstudies bly daarom die naam vir die oorkoepelende studieveld en die sentrale verwysingspunt in studies soos hierdie.

Dat die benaming "Boesman" dalk net 'n té problematiese geskiedenis in Afrikaans het, is egter moeilik betwisbaar (vergelyk Willemse 57), en die gepaste endoniem, Ixam, word dus waar moontlik verkies. Aan die ander kant: Om die benaming "Boesman" deurgaans met "|xam" te verruil, impliseer dat die navorser aan inlegkunde skuldig sal staan waar dit studies betref waar narratiewe van Boesmans as 'n kollektiewe groepering, eerder as die |xam in die besonder, ondersoek word. Die benaming "Boesman" kan daarom nié vermy word nie.

Hierbenewens word die term 'Khoisan', oftewel 'Khoesan', vermy. Alhoewel 'n erkende naam vir 'n taalgroepering wat deur klapklanke gekenmerk word (vergelyk Du Plessis, "The Khoisan Languages of Southern Africa: Facts, Theories and Confusions" 33; en Jones 55), is dit vir die eerste maal in 1928 deur die Duitse volkekundige Leonhard Schultze-Jena (211) gebruik, met verwysing na 'n sogenaamde 'ras'-groep bestaande uit die 'Khoi' en 'San'. Tot watter mate dit 'n aanvaarbare beskrywing is, is aanvegbaar; dit is wel bekend dat dit min aanklank by teenswoordige groepe, insluitend Namas, Damaras, en Ju|'hoansi-wat as buitestanders kollektief as 'Khoesan/Khoisan' benoem word-vind (vergelyk Suzman xii). Daarom word dit nie in hierdie studie gebruik nie.

Verder word die |xam-ortografie wat deur Bleek en Lloyd in Specimens of Bushman Folklore gebruik is, gevolg. Volgens dié ortografie word die dentale en laterale klapklanke as | en || weergegee, en nie / en // nie. Daarby word 'n Romeinse letter by eiename slegs as 'n hoofletter gebruik indien dit nie op 'n klapklank volg nie: k in | |kabbo word vervolgens nie met 'n hoofletter geskryf nie, maar D in Diälkwain wel. Ten spyte van dié motivering word die gebruike van ander navorsers in direkte aanhalings onveranderd gelaat.

 

Uitgangspunte: literêre volkskunde en die resepsieteorie

Alhoewel die Ixam as 'n groepering lank reeds die aandag van navorsers in verskeie velde en dissiplines-veral die volkekunde, en later die antropologie-geniet, is die grootste enkele beskikbare bron betreffende hul geskiedenis, kuns, en sienswyses, die Bleek en Lloyd-argief, nog oorwegend in duisternis gehul. Dit is, in die woorde van Roger Hewitt-die eerste navorser buite die Bleek en Lloyd-familie wat die materiaal met intensie bestudeer het-'n "verseëlde koevert" (Hewitt, "Eine Ethnographische Skizze der /Xam | An Ethnographic Sketch of the /Xam" 33, alle vertalings uit Engels is my eie). Dié verseëldheid is grootliks om historiese redes: vir bykans 90 jaar is die argiefinhoud deur slegs drie persone-Wilhelm Bleek, Lucy Lloyd, en Dorothea Bleek-bestudeer. Studies wat wel onderneem is, beide deur hierdie oorspronklike navorsers asook die eerste generasie wat op hulle gevolg het, is in die volkskunde begrond.

Die volkskunde verwys na die bestudering van kulturele artefakte-hetsy volksverhale, volkskuns, of selfs volksweerkunde-in verhouding tot die kultuur waarin daardie artefak geskep is. Die bestudering van mondelinge tradisies, en spesifiek 'mondelinge literatuur', oftewel 'oratuur', maak deel van die volkskunde uit (vergelyk Opland 320). Omrede die klem op die bestudering van 'n artefak binne kulturele konteks val, is die volkskunde histories as hulpwetenskap vir, onder andere, volkekunde ingespan (vergelyk Coetzee 1-24). Die volkekunde, soms etnografie genoem, is beide 'n onderdeel, asook voorloper, van kontemporêre antropologie, en die fokus val op die afbakening en bestudering van 'volke'. Dit is in die strukturalisme begrond, maar waar die volkskunde die studie van kulturele artefakte behels, het die volkekunde die totaliteit van die 'volk' as ondersoekterrein.

Volkskundige ondersoek van mondelinge tradisies is grootliks met die uitken en vergelyking van 'volksverhaaltipes' (folk tale types) gemoeid, en dus, soos die volkekunde, in die strukturalisme begrond-met rigiede klassifikasiesisteme as raamwerk (vergelyk Schmidt Catalogue en /Xam Bushman Traditions vir voorbeelde van dié klassifikasiesisteem in verhouding tot die |xam mondelinge tradisie). Die Aarne-Thompson-Uther-indeks, wat uit verhaaltipes van regoor die wêreld saamgestel is, is die invloedrykste klassifikasieraamwerk in hierdie verband (Dundes 195). Ruimte vir 'oper', 'vryer' interpretasie binne dié raamwerk is daar-ten minste op historiese vlak-nie. Verder word die gebrek aan 'teorie' in die volkskunde telkens met jammerte bejeën; daar word gereeld oor teoretiese ontwikkeling in die dissipline geargumenteer (vergelyk Fine; Haring). Daarom is die toepassing van raamwerke uit die literatuurwetenskap in die bestudering van mondelinge tradisies grootliks afwesig, ten spyte van die potensiaal om artefakte in daardie tradisies as letterkunde te beskou, en dus as sodanig te bestudeer. Die gevolg is dat artefakte uit mondelinge tradisies selde, indien enigsins, krities buite die konteks van 'n kultuurgerigte, oftewel antropologiese, ondersoek bespreek word.

Dié verbintenis tussen die opgetekende mondelinge materiaal in die Bleek en Lloyd-argief en die antropologie is nie 'n vreemde of eiesoortige verskynsel binne Boesmanstudies in die breë nie. Pippa Skotnes (234) bejeën byvoorbeeld die stand van rotskunskritiek in die 1990's met spyt-"[d]ie veld van San skilderkunsstudies het binne die dissipline van oudheidkunde wortelgeskiet"- en plaas dit teenoor die potensiaal van rotskuns om in kunsgeskiedenis 'n tuiste te vind. Die 'kuns'-gesentreerdheid van die Ixam kultuurskat, wat hul rotskuns en mondelinge tradisie insluit, is dus telkens onderbeklemtoon in antropologiese ondersoeke wat die hulpwetenskappe volkskunde en oudheidkunde, oftewel argeologie, as uitgangspunte gebruik. Op hierdie wyse het die bestudering van kukummi-die meervoud van kum-'n historiese skakeling met die volkekunde en die antropologie (vergelyk Guenther, Tricksters and Trancers: Bushman Religion and Society 126-45; Hewitt, Structure, Meaning & Ritual in the Narratives of the Southern San 44-223; en Lewis-Williams Myth and Meaning: San-Bushman Folklore in Global Context 33-46).

Helize van Vuuren word gevolglik die eerste letterkundige wat die tekste in Specimens of Bushman Folklore bestudeer toe sy hulle in die 1990's onder oë neem. Wyle Michael Wessels, nog 'n literator, lewer tussen die laat 2000's en die 2010's verdere bydraes. Aangesien dit hoofsaaklik slegs dié twee navorsers is wat die tekste vanuit literêre perspektief benader, is dit te verwagte dat ons letterkundige insigte in die aard van, en die dinamiek tussen, die materiaal nog skraal is. Hierom argumenteer Anne Solomon ("Broken Strings" 27 en "'People Who are Different': Alterity and the /Xam" 335) sedert die laat 2000's ten gunste van 'n literêre wending in Boesmanstudies.

Soos duidelik sal word deur die verloop van die artikel, is daar waarde in 'n literêre analise van die argiefmateriaal. Dié studie gebruik egter literêre volkskunde as uitgangspunt. Die literêre volkskunde is 'n benadering wat mondelinge tradisies ondersoek deur teoretiese raamwerke, buiten dié in 'n tradisioneel-volkskundige studie, te betrek. Die aard van mondelinge tradisies word sodoende steeds erken-veral wat die kulturele gesitueerdheid daarvan in tyd en ruimte betref-maar die analise betrek ook insigte uit die tradisionele literatuurwetenskap, beide die algemene en die vergelykende aspekte daarvan. Dit is 'n "interpretatiewe raamwerk wat op die basiese ooreenkomste tussen volkskundige teorieë en leser-resepsiesteorie geskoei is" (Stahl). In dié studie word spesifiek die literatuurwetenskaplike raamwerk van resepsieteorie ingespan.

Resepsieteorie is die ondersoek na die wisselwerking tussen teks en leser. Dit verteenwoordig nie 'n enkele, "eenduidige, afgebakende benadering" as sodanig nie, en dit is dus "veel eerder [.] 'n oorkoepelende begrip wat 'n verskeidenheid metodes insluit" (Rossouw 427). Die besondere benadering wat in dié artikel gevolg word, is een wat op die kruispunt(e) tussen die begrippe artefak, konkretisering, en estetiese objek fokus. Die terme artefak en estetiese objek is deur die Praagse strukturalis Jan Mukafovsky (295) gemunt, en verwys na die 'lewe' van 'n kunswerk wat tweevoudig van aard is. Die eerste 'lewe' van 'n literêre kunswerk is as materiële produk, as artefak. Vir die artefak om betekenisvol te wees, moet dit egter 'n tweede 'lewe' aanneem-deur waargeneem, oftewel 'gelees', te word.

Die leser staan nooit neutraal teenoor die waargenome, oftewel die 'geleesde', artefak nie: "die prisma waardeur 'n [kuns]werk waargeneem word [...] verander die estetiese objek" (Mukafovsky 295). Die wisselwerking tussen waarnemer en artefak, wat van laasgenoemde 'n estetiese objek maak, word konkretisering genoem (vergelyk Bisschoff 235). Daar kan soveel estetiese objekte uit 'n enkele artefak geskep word as wat daar lesers is.

Naas die konsepte artefak, konkretisering, en estetiese objek, is die begrippe verwagtingshorison en oop plekke van belang. Verwagtingshorison verwys na die "literêre en historiese kulturele agtergrond [...] waarmee lesers tekste benader" (De Jong 568). Die leser het vooropgestelde verwagtings van enige bepaalde artefak voordat die betrokke artefak gekonkretiseer word tot estetiese objek. Die "literêre en historiese kulturele agtergrond" van die leser is dáárdie belangrike element wat gedifferensieerde konkretisering moontlik maak. Die ander element is die leerstellen, of oop plekke, wat by die artefak teenwoordig is. Die 'invul' van die oop plekke deur elke leser behels die proses van gedifferensieerde en individuele konkretisering van die artefak tot estetiese objek. Dit is daardie momente in die kunswerk waar die leser se aktiewe rol in die begrip van die kunswerk as geheel sterk inwerk op die artefak. Voorbeelde van die 'invul' van oop plekke sluit in die "oorgang van een vertelsituasie na 'n ander, wanneer nuwe personasies of handelinge ingevoer word, of wanneer iets nie volledig uitgewerk is in die teks nie" (Rossouw 428).

Siende dat die artikel nie 'n diepgaande bespreking van die kum as fokus het nie, is die opsomming in die volgende afdeling bloot 'n skets, 'n kort oorsig wat net hooftrekke weergee. Hierin word die gesitueerdheid van die vertelling uitgelig-nie alleen binne die konteks van die Ixam mondelinge tradisie nie, maar binne die konteks van die oorleweringsdinamiek wat tussen ||kabbo, Bleek, en Lloyd uitgespeel het. Vele studies het reeds op die hoogs artifisiële aard van die Bleek en Lloyd-optekeningsruimte gelet (vergelyk Hall "Earth and Stone: Archaeology as Memory" 185 en "The Proximity of Dr Bleek's Bushman" 143; Lewis-Williams Stories that Float from Afar: Ancestral Folklore of the San of Southern Africa 29-32; en Watson Return 19), maar selde word dié ruimte erken as belangrik vir die begrip van die materiaal as sodanig, asook hoe dié begrip kan bydra tot die bestudering van 'n betrokke narratief. Die kum vorm die artefak, in resepsieteoretiese terme, wat deur die ses geïdentifiseerde interpretasies tot spesifieke estetiese objekte gekonkretiseer word. Wat volg, is 'n opsomming van die artefak, "Presentiments", waarna die ses estetiese objekte krities ondersoek sal word.

 

"Presentiments": 'n artefak in konteks van die Bleek en Lloyd-opnames

Die inhoud van die bykans 13 000 bladsye wat die Bleek en Lloyd-argief beslaan, is moeilik afbakenbaar in Westerse teoretiese raamwerke. Die Ixam het een begrip gehad, kum-met die meervoud kukummi-wat na, onder andere, "stories, praatjies, geskiedenis, nuus" (D. F. Bleek 106) verwys. Die vele betekenisonderskeidings hierin vervat beteken dat die leser van kukummi, veral kritiese lesers, versigtig met beskrywings van die 'aard' of 'essensie' daarvan moet omgaan. Terwyl 'folklore', 'mite', of 'verhaal' telkens as ekwivalente van die term kum gebruik word, argumenteer Wessels (Bushman Letters 32-9, "/Xam Narratives" 25-46) dat dit meer gepas is om kukummi as diskoerse te lees-vervleg met kwessies van mag, verteenwoordiging en ruimte.

Dit is verder belangrik om op die volle prentjie rakende die gesitueerdheid van die vertellings in die Bleek en Lloyd-argief te let, aangesien dit optekenings is wat deur Bleek en Lloyd bemiddel, vertaal, en neergeskryf is. Die optekenings in 'n huis in Mowbray, in koloniale Kaapstad, verskaf insig in die mondelinge tradisie van die Ixam. Die optekenings moet egter nie onkrities as die eweknie van die mondelinge tradisie, soos onder die |xam uitgedruk, beskou word nie. Die proses van oorlewering, vertaling, en transkripsie in 'n kunsmatige storievertelruimte in Kaapstad-ver verwyderd van die ruimte van die vuur waar stories spontaan onder die |xam gedeel is in |xam-ka-!au, oftewel Boesmanland in die Noord-Kaap-het 'n besliste invloed op die opgetekende tekste in die Bleek en Lloyd-argief uitgeoefen (vergelyk Bank 72-101; Guenther "Attempting to Contextualise /Xam Oral Tradition" 83; James 16; en Van Vuuren "Die mondelinge tradisie van die /Xam en 'n herlees van Von Wielligh se Boesman-Stories (vier dele, 1919-1921)" 30-1). Alhoewel daar beperkte bronne beskikbaar is om die presiese prosesse van ondervraging, vertelling, vertaling, en uiteindelike neerpenning vas te stel, kan daar wel telkens insiggewende gevolgtrekkings gemaak word deur noukeurig met die beskikbare bronne om te gaan. Hier wil ek dus 'n kort skets van die inhoud, asook vorm, van die vertelling "Presentiments", soos dit in die 1911-publikasie verskyn het, verskaf.

"Die Boesmans se briewe is in hul lywe. Hulle (die briewe) praat, hulle beweeg, hul maak hul (die Boesmans se) lywe beweeg" ("Presentiments" 331). Só word die narratief ingelei met 'n beskrywing van die 'briewe' ("letters") soos deur die |xam ervaar. Dié ervaring is nie net bepaald lyflik in gevoel nie, maar lyflik in verloop: "Hulle (die Boesmans) beveel die ander om stil te wees; 'n man is geheel-en-al stil, wanneer hy voel dat sy lyf binne klop" (331; vertaling van ||kabbo se woorde uit "Presentiments" is my eie.).

Na aanleiding van die geklop maak die kloppende dus ander |xam om hul stil, beveel ander om stil te wees en te luister na die geklop. Hoekom? Omrede dié geklop of kloppings as waarheid geag word, teenoor drome, wat "vals spreek, (want) dit is ('n ding) wat mislei." Die 'presentiment' is dit "wat die waarheid praat; dit is waardeur die Boesmans vleis kry (of raaksien), wanneer dit geklop het" (331). Soos wat uitgewys sal word in die bespreking hier onder, is dít die dominante siening wat 'n raamwerk vir die lees van die kum skep: "Presentiments" as verbind tot die jagtog, en die gebruike en gelowe daaromheen.

Die volgende stelling is myns insiens ewe belangrik, maar word minder aangehaal en bespreek: "Die Boesmans neem die aankoms van mense daardeur waar. Die Boesmans voel 'n geklop wanneer ander mense aan die kom is" (333). Dié deel funksioneer as 'n tipe inleidende opsomming, 'n verheldering van die begrip presentiments wat so gereeld in die vertelling aan bod kom. Só 'n inleiding is tiperend van llkabbo se vertelstyl. Hewitt (Structure, Meaning & Ritual 194) verduidelik dat narratiewe nooit met 'n toneelopset-beskrywing open nie; amper altyd open hulle met 'n bondige stelling wat lyk om ontwerp te wees om aandag te trek en onmiddellik belangstelling aan te wakker.

Wat volg wil ek as episodes beskryf-'n reeks sketse, oftewel beknopte beskrywings, wat nie noodwendig verhaalmatig op mekaar volg nie, maar eerder 'n meer impressionistiese beeld van die omvang en rykwydte van die klop-ervaring verskaf. In die eerste episode gewaar die verteller kloppings op dieselfde plek op hul lyf as waar hul vader 'n ou wond het: "die kloppings voel dat die ou man stap, sy liggaam beweeg" (333). Die verteller kom tot die gevolgtrekking dat sy vader aan die kom is, en stuur daarom sy kinders na die kruin van die nabygeleë koppie om sy aankoms waar te neem. Die kinders, wat aanvanklik nie die "kloppings" glo nie, bevestig uiteindelik die gevoel. Soos die vader sê: "Ek wou gehad het julle moet sien dat hy regtig aan die kom is. Want julle het my voorgevoel, wat die waarheid spreek, weerspreek" (333).

Episode twee, die langste episode, handel oor die springbokjag, met die verteller wat met lang beskrywings die spesifieke belewing van "kloppings", genaamd springboksensasies, uitbeeld. Vir vollediger begrip: Springboksensasies ("springbok sensations", in "Presentiments" 333) verwys na 'n vorm van mimesis wat die |xam ervaar, beide op die jagveld asook daarbuite. Die jagter beleef dieselfde 'gevoel' as die springbok, maar nie slegs tydens die jagtog nie. Dit is ook die ervaring wanneer daar 'n springbok waargeneem word wat sy oor krap, of sy horings teen 'n klip skuur. Die kern is dus die sensasies van springbokke wat die |xam aan eie lyf ervaar. Die grootste verskil tussen episodes Een en Twee is dat waar die |xam slegs 'n geklop op die plek van die wond van die vader aanvoel, daar nou kloppings op verskeie plekke ervaar word: langs ribbes en agter rugblaaie.

Terwyl dié twee episodes direk op mekaar volg, volgens die geredigeerde teks, verskyn daar drie verdere episodes wat saam weergegee word in 'n voetnoot. In die eerste van hierdie kamees word beskryf hoe die Ixam 'n volstruis se naderkoms aanvoel wanneer die volstruis sy eie nek krap; die Ixam voel 'n sensasie "op dieselfde plek waar die volstruis krap" (337). Hierop volg 'n enkele sin waarin die ervaring met die naderkoms van die volstruis geëggo word: wanneer die springbok naderkom, en sigself krap met eie horing en hoef, "dan voel die Boesman die klopping" (337). 'n Laaste kamee is dié van die vrou met 'n slinger oor haar skouer: "Wanneer 'n vrou wat weggegaan het terugkeer huis toe, die man wat daar sit, voel in sy skouers die riem waarmee die vrou se kind oor haar skouers geslinger is; hy voel die sensasie daar" (337).

Daar is 'n laaste voetnoot van belang. Op die eerste bladsy in die gepubliseerde weergawe ("Presentiments") word 'n paragraaf uit Bleek se 1875-verslag aan die Kaapse Parlement ingesluit, waarin oor die aard van hierdie optekening kommentaar gelewer word. Betekenisvol is dat dié deel woordeliks uit die kum se eerste manuskripbladsy kom. In die transkripsieproses het Bleek en Lloyd hul notaboeke in twee verdeel: die recto-blad is gevul met die Ixam en die Engelse vertaling, en die verso-blad is gehou vir notas. Dié sisteem is vir die navorser van bykans onskatbare waarde, siende dat die inligting wat op verso-bladsye ingesluit is, gebruik kan word om die andersins duistere optekeningsproses te help verhelder-veral wat die verloop van die verhaal betref, en hoe inligting later ingevoeg is. Só weet ons byvoorbeeld dat die drie bespreekte kamees op 'n latere stadium ingevoeg is, nadat die twee sentrale episodes oorvertel is.

Verder van belang is dat dié insetsels ook telkens opsommings is van gesprekke tussen Bleek, Lloyd, en die I xam-en nie, soos op die recto-bladsye die geval is, redelik direkte optekenings nie. Dit is teen hierdie agtergrond wat die genoemde voetnoot gelees moet word-||kabbo het heel moontlik op 'n latere stadium vir Bleek en Lloyd meer inligting verskaf, en die presentiment-ervaring as 'lerings' ("teachings") beskryf. Die Ixam wat nie na die lerings luister nie, kan in die moeilikheid beland. Langs dié voetnoot is 'n verdere opsommende poging om die "Presentiments" te probeer verklaar: aldus ||kabbo ("Bushmen Presentiments") is daar !gwe wat die Ixam ontvang, met dié !gwe wat soortgelyk is aan briewe wat boodskappe van elders bring.

Wat dié opsomming van die kum "Presentiments" uitwys is dat dit verskeie 'oop plekke' besit. Daar is twee sentrale episodes, met 'n kort opsomming van die Voorgevoel'-fenomeen wat die spil van die vertelling vorm. Benewens die moontlikheid om een of die ander van die twee episodes te oorbeklemtoon, is daar verder enkele voetnote. Die drie voetnote is kort sketse wat as verdere voorbeelde van die 'voorgevoel'-fenomeen beskou kan word, en 'n laaste voetnoot verskaf insig in hoe ||kabbo die fenomeen aan Bleek en Lloyd verduidelik het. Die gevolg is dat, alhoewel die kum om 'n enkele fenomeen sentreer, die struktuur van die gepubliseerde weergawe as byna fragmentaries van aard beskryf kan word-en daarom bied hierdie narratief 'n gunstige omgewing vir uiteenlopende konkretiserings.

'n Sielkundegerigte lesing

Een van die eerste denkers om die vertelling te bespreek, was Nobelpryswenner Elias Canetti. In 'n beskrywing van die mens se inherente vermoë om te transformeer, wend Canetti hom tot "Presentiments". Hy argumenteer dat, alhoewel almal die vermoë om te transformeer besit, "dit gebruik en as vanselfsprekend ag", dit tog "een van die grootste raaisels" bly, en min mense besef die waarde van die potensiaal tot transformasie (Canetti, "Vorgefühl und Verwandlung bei den Buschmännern | Presentiment and Transformation among the Bushmen" 101). Canetti se skryfwerk, veral sy magnum opus, Masse und Macht, is gemoeid met die sielkunde betreffende die mens as enkeling, asook die mens in groepsverband. Sy bespreking van "Presentiments" kan dus binne hierdie sielkunderaamwerk verstaan word. Ten einde die reeds genoemde "groot raaisel" van sielkundige transformasie te begryp, argumenteer Canetti dat ons ons na Bleek en Lloyd se Ixam-optekenings, "ons mees waardevolle rekord van ons vroeë menslikheid" ("Vorgefühl" 101), kan wend. Alhoewel Canetti se gelykstelling van die |xam met "vroeë menslikheid" aanvegbaar is, bly sy insigte met betrekking tot die teks belangrik.

Sy bespreking van "Presentiments" laat blyk dat hy dit lees as 'n verhaal van "kenmerkende tekens" oftewel "kentekens". Dié kentekens, soos die wond van die ou man, die rugblaaie van die springbok, of die kop van die volstruis, ag Canetti ("Vorgefühl" 106-7)) as die mees kenmerkende deel van daardie bepaalde persoon of dier. Die |xam ken dus sy pa aan sy wond, of 'n spesifieke springbok aan die dier se bebloede kuit. Hierdie kennis gebruik die |xam om vervolgens sterk assosiasies tussen die kenteken van die persoon, en die plek van die kenteken op die lyf, te skep. Kentekens is gevolglik 'n node van verbintenis, en die verbintenis bring 'n tipe transformasie mee: "Die lyf van een en dieselfde Boesman kan in opeenvolging die lyf van sy pa, van sy vrou, van 'n volstruis en van 'n springbok word" (Canetti "Vorgefühl" 107).

Alhoewel dié as 'n insiggewende lees van "Presentiments" beskou kan word, selfs baanbrekend van aard, is daar 'n belangrike deel van die narratief wat Canetti nie aanraak nie-||kabbo se opmerking oor die moontlik noodlottige gevolge indien mens nie na ervarings luister nie. Die afwesigheid van 'n bespreking van hierdie kwessie wil ek uitlig in direkte verband met Canetti se twyfelagtige hantering van die begrip transformasie, of eerder, sy moontlik gebrekkige begrip daaraan. Daar word nie 'n juiste definisie van transformasie verskaf nie, en alhoewel hierdie ontbrekende verklaring nie sy lees van die kum onklaar of ongedaan kan maak nie, moet 'n mens vra wat die rede of motivering sou kon wees vir dié 'transformasies' wat die |xam onderling ervaar het.

Die naaste wat Canetti aan 'n antwoord hiervoor kom, word gevind in sy bespreking van die |xam in verhouding tot die jagtog ("Vorgefühl" 107-8). Maar dan, waarom word die ou vader en dié se wond genoem? Die ou vader se wond het niks met die jagtogmotief te make nie. Die verteller vertel bloot hoe hy 'n krieweling voel op die plek van die wond van sy vader, 'n krieweling wat hom noop om sy mede-|xam in te lig oor sy vader se aankoms. Indien die suksesvolle verloop van die jagtog die primêre beweegrede vir die transformasies is, is daar geen rede vir dié transformasie van die verteller na sy vader nie. Wanneer ons dié vraag teenoor Canetti se lees van "Presentiments" plaas, tesame met die vraag oor sy verswyging van ||kabbo se opmerking oor die gevolge van nié na die kloppings te luister nie, word ons met meer vrae as antwoorde gelaat.

'n Wetenskapgerigte lesing

In The Art of Tracking: the Origin of Science, 'n teks met klassieke status in Boesmanstudies, antropologie, en evolusionêre biologie, om enkele velde te noem, verskaf Louis Liebenberg die eerste omvattende ontleding van die opgetekende inligting omtrent jag en spoorsny onder Boesmangroeperings. Liebenberg (41-8) gaan ook 'n stap verder, en argumenteer dat dié kennis sentraal staan in die mens se ontwikkelingsgeskiedenis, en dat dit as die wesentlike oorsprong van wetenskaplike kennis en kuns gelees kan word. Hy stel 'n raam voor met behulp waarvan drie bepaalde vorms van spoorsny onderskei kan word.

Die eerste, eenvoudige vorm van spoorsny behels bloot die volg van die ooglopende: spore, afdrukke van diere se liggame in die veld (in sand, grond, modder ensovoorts), en ander duidelik waarneembare tekens. Dié benadering vereis nie veel kennis of insig nie, en gunstige natuuromstandighede wat die bewaring van die fisieke tekens van diere se teenwoordigheid bemoontlik, is tot voordeel van die uitkenningsproses van hierdie spore en tekens. Hiernaas is daar sistematiese spoorsny: "die sistematiese verkryging van inligting van tekens, tot 'n gedetailleerde aanduiding van wat die dier besig was om te doen en waarheen dit op pad was" (Liebenberg 29). Liebenberg beskryf sistematiese spoorsny as meer verwikkeld; beide eenvoudige en sistematiese spoorsny verg egter minder inspanning as die laaste vorm van spoorsny-spekulatiewe spoorsny. Hierdie tegniek behels die vermoë om "diere se handelinge vooruit te loop" (107); om diere se bewegings te antisipeer. Dié antisipasie word verbind aan identifikasie: die spoorsnyer span sy kennis van die dier se gedrag in om met daardie dier te identifiseer, en sodoende word "'n denkbeeldige roete" (107) gevolg, eerder as wat tekens gevolg word.

Die belang van dié onderskeiding lê daarin dat spoorsny nie as simplistiese en algemeen aanvaarde gegewe voorgehou word nie en dat hierdie praktyke nie uitgebeeld word as misties en onverklaarbaar nie. Spoorsny word as 'n bepaalde geletterdheid beskou. Spoorsnyers is spesifiek geletterd in die jagveld as 'n semiotiese sisteem; hierdie geletterdheid kan verskeie vorme aanneem en wisselende bevoegdhede veronderstel (Tomaselli en Grant 191).

Liebenberg tref verder ook onderskeid tussen wetenskaplike kennis en sogenaamde onwetenskaplike kennis. Hy plaas "Presentiments" in die tweede kategorie, saam met omtrekswaarneming ("peripheral perception"), waarseggery, toorkuns wat die jagtog beïnvoed, mite, en geloof. Dié tipe kennis hou nie verband, aldus Liebenberg (93), met "direkte sintuiglike waarneming en rasionele denke" nie. Hy skep gevolglik 'n "kennis"-raam met behulp waarvan die kennis van spoorsnyers en die diepgaande aard daarvan erken kan word. Hy plaas, naas spoorsny, in hierdie "kennis"-raam ook ander, sogenaamde 'onwetenskaplike' kennis wat, só argumenteer hy, onder die Boesmans gevind kan word.

Liebenberg se vertolkings van "Presentiments" as 'n kum waarin onwetenskaplike, irrasionele en mistieke kennis lê is egter, myns insiens, ongenuanseerd. Liebenberg vind in "Presentiments" 'n onverklaarbare en duistere vorm van kennis en beskou hierdie bron nie bestuderenswaardig nie. Waar Canetti se siening op die sielkunde gerig is, is Liebenberg se siening op wetenskaplikheid gerig-met "Presentiments", volgens sy mening, as 'n voorbeeld van sogenaamde 'onwetenskaplike' kennis.

'n Jagkunsgerigte lesing

In 2004 het Jeremy Hollmann die verskeie grammatiese studies en volkskundige besprekings wat Dorothea Bleek in die vroeë 1900's oor materiaal in die Bleek en Lloyd-argief gepubliseer het, in 'n enkele bundel saamgebind. Hierdeur is aan beide Bleek se studies, asook die kukummi daarin vervat, 'n nuwe geleentheid vir kennisname gebied in 'n tyd van hernude aandag aan die Ixam en hul erfenis. Hollmann het egter nie bloot die tekste saamgebind nie, maar kommentaar daarop gelewer. Met verwysing na "Presentiments" argumenteer Hollmann dat "diere verlengings van mense se sintuie was [en dat] deur die gedrag van diere waar te neem, die Ixam die limiete van hul eie sintuiglike waarnemings oorskry het". Hierdeur, gaan Hollmann voort, kon die |xam die sintuie van ander dierspesies meelewend ervaar (66). Dié beskouing som grootliks die sienings op van hulle wat ek die simpatiek-georiënteerde denkskool noem-hulle wat "Presentiments" vertolk en iewers tussen Canetti en Liebenberg se beoordelings plaas.

Die idee van die 'simpatieke' kan na een van die grondleggers van die volkskunde en antropologie, James George Frazer, teruggevoer word. Frazer (15) argumenteer dat sogenaamde 'primitiewe' kulture en samelewings se wêreldbeskouings grootliks in magiese denkraamwerke begrond is, en dat dié magiese denke met die begrip 'simpatieke toorkuns' verbind kan word. Simpatieke, oftewel nabootsende, toorkuns sluit enige aktiwiteit in wat ooreenkomste tussen voorwerp(e) en wese(ns) gebruik om 'n magiese verbintenis tussen daardie voorwerp(e) en wese(ns) te skep, met die doel om een of die ander te beheer (15-6). Die onderliggende logika is dus dat "enige effek bewerkstellig kan word deur na te boots" (15). Alhoewel die term aanvanklik op 'toorkuns' van toepassing was, word dit tans met verwysing na enige nabootsende gebruik ingespan (vergelyk Guenther, Human-Animal Relationships in San and Hunter-Gatherer Cosmology, Volume I: Therianthropes and Transformation 231). Die simpatiek-georiënteerde denkskool benader dus "Presentiments" met die oog op die vasstel van simpatieke verbintenisse, oftewel imitatiewe (nabootsende) gebruike. Anders as Liebenberg, wat "Presentiments" as 'n bron van 'onwetenskaplike' kennis lees, beskryf hulle "Presentiments" juis as wetenskaplik. Soos by Canetti, is daar klem op die transformatiewe aard van ervarings. Die simpatiek-geöriënteerde denkskool se benadering kan dus tot 'n mate as 'n voortbou op die reeds besproke vertolkings van "Presentiments" gelees word.

Die belangrikste verskil tree in met die klem op die nuwe animisme wat ten grondslag van hierdie soort interpretasie lê. Die nuwe animisme, soos dit in die geval van die 'ou" animisme was, is 'n antropologiese teorie wat 'vroeë mense' of jagterversamelaarsgemeenskappe beskryf as in besit van 'n lewensbeskouing waarin veral mistieke verbintenisse tussen mens en niemens gedy. Een van die kernidees, volgens dié teorie, is 'n 'pan'-jagterversamelaarsbewussyn waarin alles, insluitend lewende en nielewende materie, verborge sielelewens besit.

Die nuwe animisme het veral in die afgelope dekade 'n beduidende invloed op Boesmanstudies uitgeoefen, en kan as die dominante raamwerk vir die bestudering van die Ixam, hul lewenswyses, en hul kultuurgoedere soos dit tans daar uitsien, geag word (vergelyk Guenther Human-Animal vii; Low 164; McGranaghan 674). Die Boesmans, binne dié raamwerk beskou, bevind hulself in 'n bepaalde intieme verhouding met diere wat gejag word, sodanig só dat die jagter sy posisie verruil vir dié van hul prooi. Die verbintenis word as somaties asook verstandelik beskou (Guenther "'The Eyes are No Longer Wild, You Have Taken the Kudu into Your Mind': the Supererogatory Aspect of San Hunting" 4), met die jagter wat met die dier verenig deur in die spoor daarvan te hardloop (6). Die gevolg is dat die kloof tussen mens en niemens vervaag, met die identiteit van jagter en prooi wat vervaag. Dié tipe 'instemming' van die jagter skep 'n gevoel van "simpatie [...] met die dier wat agtervolg word " (Bennum 359). Belangrik, egter, is dat die 'instemming' steeds 'n jagtegniek bly-"een wat die jagter toelaat om besluite gebaseer op die mees subtiele inligting wat hy ooit geleer het, te neem" (359). Dié somaties-verstandelike eenwording is dus funksioneel. Die transformasie van die self is tydelik, ten einde 'n suksesvolle jagtog te voltooi.

Die belang van 'n jagkunsgerigte lesing is dat dit 'n nuwe beskouing van "Presentiments" impliseer-een waarvolgens hierdie narratief nie mistieke of 'onwetenskaplike' kennis openbaar nie; dit openbaar eerder iets van die proses waardeur mens-niemens-inlewing kan plaasvind, en waardeur 'n simpatieke verhouding tussen die mens en die dier uitgebeeld word. Die aanhangers van die simpatiek-georiënteerde denkskool maak myns insiens die fout om dié ervaring van inlewing/eenwording slegs met die mens-dier-verhouding in verband te bring, en daardeur bloot die funksionele uit te lig. Daar is ander episodes in die kum waar dieselfde ervaring op mens-mens-interaksie van toepassing is. Teenoor Canetti se gerigtheid op sielkunde, en Liebenberg se gerigtheid op wetenskap, kan dié lesing as antropologies in begronding beskou word, gegewe die klem op die antropologiese teorie van simpatieke verbintenisse tussen jagter en prooi.

'n Rotskunsgerigte lesing

'n Vierde lees van "Presentiments" is een wat dit verbind met rotsskilderkuns. José Manuel De Prada-Samper ("Strokes in Rock and Flesh: Presentiments, Rock Engravings and Landscape in ||kabbo's place"; "'The Pictures of the Ixam People are in Their Bodies': Presentiments, Landscape and Rock Art in ||kabbo's Country") argumenteer dat 'n radikale nuwe lees van "Presentiments" nodig is, een wat die teks verwyder van die reeds besproke spoorsny-en jagtogtradisie. Gevolglik begin De Prada-Samper deur terug te keer tot die begrip !gwe, wat as briewe en boeke vertaal is in Specimens of Bushman Folklore. Terwyl die gebruik van hierdie begrip in die kum van "Presentiments" geensins op dubbelsinnigheid van betekenis dui nie, en geen betekenisonsekerheid daar rondom gereflekteer word nie, verskyn dit in ander kukummi waar wel lig op verdere betekenismoontlikhede gewerp word. Die belangrikste hiervan is 'n kort nota wat deur Ihanlkass'o, | |kabbo se skoonseun, mondelings aan Lloyd oorgelewer is in verband met H. C. Schunke se kopie van die Ezeljagdspoort-rotsskuns: "Die reën se ||kerri-si!kauξ [duisendpoot] is groot; hulle wat ek in die prent gesien het" (Lloyd se Engelse vertaling van die |xam-woorde is aangehaal deur De Prada-Samper ("Pictures" 229); die vertaling uit Engels is my eie).

Hier is "!gwe" deur Lloyd, in die oorspronklike notaboek, vanuit |xam na Engels as picture ("prent)" vertaal, en De Prada-Samper gebruik dit as beginpunt vir 'n nuwe begrip van wat "Presentiments" moontlik beteken. Vervolgens lees die opening van "Presentiments": "Die Boesmans se prente is in hul liggame". Om weer na |han|kass'o se beskrywing terug te keer: "prent" verwys nie na enige beeld nie, maar spesifiek na rotskuns. Die prente in die |xam se liggame, redeneer De Prada-Samper ("Pictures" 232-4), is nie enige beeld nie, maar hul rotskuns. Die vraag ontstaan nou: Wat is die moontlike waarde van dié insig? De Prada-Samper argumenteer dat die rotskuns van die Boesmans nie bloot as kuns gelees word nie, maar as transformatiewe toorkuns, oftewel simpatieke toorkuns (soos in die vorige afdeling beskryf): iets waardeur "die bewegings van wild" beheer en beïnvloed word ("Pictures" 237). Volgens hierdie siening word beelde wat die |xam oproep op rotse in die landskap ingegraveer en geskilder. Die "prente" word dus oorspronklik geskep om daardie bepaalde beelde te bewaarheid. Die |xam se skilderwerke word 'n vorm van toekomskuns, iets wat 'n magiese verbintenis tussen die skilder en 'n toekomsvisie smee. Soos genoem, is die logika van simpatieke toorkuns een wat die klem op imitasie plaas: enige effek kan teweeggebring word deur daardie effek na te boots. Die skilder van jagtonele op rotswande is binne die rotskunsgerigte leesraamwerk só 'n imitasie van 'n beplande jagtog, met die geloof dat die geskilderde beeld die uiteindelike fisieke gebeurtenis sal beïnvloed en selfs bepaal.

Daar is, myns insiens, drie uitdagings verbonde aan dié interpretasie. De Prada-Samper neem eerstens nie die konteks van die gesprek van ||kabbo met Bleek en Lloyd in ag nie, naamlik dat eersgenoemde besig was om Bleek en Lloyd te onderrig in die ervaring van "presentiments" en die begrip van !gwe. Hy vergeet dus een van die mees kardinale oorwegings wat met die bespreking van mondelinge tradisies in gedagte gehou moet word, naamlik dat "die teks [...] die tekens van sy oriëntasie na 'n gehoor (dra)" (Barber 27). Dat !gwe ook na "prente" kan verwys, soos blyk uit Ihan+kass>o se kommentaar op die Ezeljagdspoortrotskuns, is nie te betwyfel nie, maar om | |kabbo se verklaring van die verbintenis tussen !gwe en "briewe", soos die vertaling in "Presentiments" daar uitsien, met 'n betekenisvereenselwiging tussen !gwe en die rotskuns te vervang, is myns insiens 'n groot sprong om te maak.

Tweedens moet in ag geneem word dat De Prada-Samper se idee van transformatiewe toorkuns aanklank by David Lewis-Williams se transteorie van die Boesmanrotskuns vind-'n teorie waar rotskuns, en die skepping daarvan, as verweefd met gebruike van die sjamaan beskou word. Alhoewel dit 'n dominante siening in rotskunsstudies is, is daar vele argumente wat hierdie beskouing oortuigend weerlê (vergelyk Solomon "Writing San Histories" 99). Derdens is daar weereens 'n afwesigheid van die verwysing na die mens-mens verhouding, en die mate waartoe die transformatief-simpatieke toorkuns op daardie verhouding toepaslik is. Alhoewel De Prada-Samper se idees vernuwend is, is daar-teen die agtergrond van ons huidige kennis van die Ixam en hul kultuurlewe-te veel gapings om dit as oortuigend te beskou.

'n Geletterdheidsgerigte lesing

Een van die kortste lesings is miskien die insiggewendste. In 'n 1994-artikel, teen die agtergrond van 'n pleidooi vir hernude aandag aan die Ixam mondelinge tradisie in Suid-Afrikaanse letterkunde, ondersoek Van Vuuren enkele narratiewe wat deur | |kabbo oorgelewer is. Hierin kom sy tot twee belangrike gevolgtrekkings. Die eerste is dat sekere kukummi wat ||kabbo oordra van 'n tipe inheemse literêre teorie spreek ("Forgotten Territory: the Oral Tradition of the /Xam" 63). ||kabbo word, nie bloot as 'n vertolker van 'n tradisie geag nie, maar as 'n intellektueel wat 'n tradisie help skep. Dit is 'n radikaal vernuwende blik op beide ||kabbo en sy kukummi.

Hierná ondersoek Van Vuuren kortliks "Presentiments", en dit bring ons by haar tweede gevolgtrekking, naamlik dat ||kabbo daardeur insig gee in die geletterdheid van die Ixam (63). Die manier waarop die Ixam hul liggame 'lees' is, aldus Van Vuuren ("Forgotten Territory" 63), 'n bewys van 'n verwikkelde geletterdheidsisteem. Alhoewel hulle nie 'n formele alfabetiese skrifsisteem het nie (en mits hul rotskuns nie as 'piktografiese rotstaal' beskou word nie; vergelyk Van Vuuren, "Rotskuns as piktografiese rotstaal of vroeë Suider-Afrikaanse skrif-op-klip"; en Van Wyk 31), argumenteer sy dat hulle mondelinge tradisie, alhoewel ongeskrewe en dus 'ongeletterd' in die mees konkrete betekenis van die woord, wel geletterdheid geverg het om verstaan te kon word ("Forgotten Frontier" 63). Van Vuuren se twee gevolgtrekkings werk op kragtige wyses op mekaar in. Eerstens bring die erkenning van ||kabbo as literatuurteoritikus 'n ommeswaai mee ten opsigte van die raamwerk met behulp waarvan hy en sy kukummi gelees kan word. Teen dié agtergrond kan daar, tweedens, oor "Presentiments" in die lig van geletterdheidsteorie besin word-teorie wat veral die idee van die |xam as ongeletterd, dit wil sê as 'onbeskaafd' in 'n koloniale Westerse sin, teenstaan.

Dit is belangrik om, na aanleiding van dié lesing en ten opsigte van die begrip geletterdheid, van die volgende kennis te neem. Uit die insigte van kritiese geletterdheidstudies blyk dat geletterdheid altyd gekoppel is aan iets buiten die geletterdheid self (Gee 371). Kritiese geletterdheidstudies vra ook dat daar oor die verbintenis tussen kultuur, 'geletterdheid', en kultureel-spesifieke semiotiese stelsels gedink moet word. Dit is dus nie genoeg om te sê dat ||kabbo, en by implikasie die Ixam, geletterd is nie; die vraag is: Ten opsigte waarvan? Ons kan die moontlikheid erken dat dié geletterdheid aan spoorsny verbind is-iets wat in die idees van die aanhangers van die simpatiek-georiënteerde denkskool deurskemer. Van Vuuren bied egter nie 'n definitiewe antwoord op hierdie vrae nie. Wanneer haar tweetal gevolgtrekkings saam gelees word, word 'n mens wel gedwing om te besin oor hoe ||kabbo se tipe 'geletterdheid' met terreine soos die letterkunde en kulturele produksie in die breë-en nie alleenlik spoorsny nie-verbind kan wees.

Ten spyte van die afwesigheid van uitsluitsel hieroor is die belang van Van Vuuren se lesing, myns insiens, dat die klem op | |kabbo as "outeur" van "teorie" geplaas word-'n aspek wat maklik by 'n bespreking van die Bleek en Lloyd-argiefmateriaal weggelaat word. Alhoewel behorende tot 'n korpus van stemme wat van gedeelde gebruike en gelowe van die Ixam spreek, mag die individuele stem van die betrokke Ixam-verteller, myns insiens, dus nie vergeet word nie. Van Vuuren, as letterkundige, bied vir ons 'n lesing wat duidelik in die literêre teorie begrond is, en waarin kwessies soos geletterdheid en outeurskap aan bod kom-kwessies wat voorheen glad nie geopper is nie.

'n Gemeenskapsgerigte lesing

Die laaste lesing is dié van Antjie Krog. Sedert haar vertaling en omdigting van Ixam-materiaal in Afrikaans, in Met woorde soos met kerse en Die sterre sê 'tsau', toon Krog 'n besonderse belangstelling in die Ixam. Terwyl digkuns die aanvanklike vertrekpunt was, het sy later meer breedvoerig oor die Ixam en hul kultuur en wêreldbeskouing begin skryf-veral in die derde boek van haar transformasie-drieluik, Begging to be Black (vergelyk Wessels, "The Khoisan Origins of the Interconnected World View in Antjie Krog's Begging to be Black" 186 vir 'n kritiese bespreking), in Mede-wete, en in haar versameling akademiese essays, Conditional Tense. Dit is dan ook in laasgenoemde versameling waar sy "Presentiments" by 'n bespreking van haar begrip interverbondenheid-tot-heelheid (vergelyk Voges 145 vir 'n bespreking van dié term) intrek. Sy doen dit verder ook in 'n akademiese artikel in 2014 ("The Young Wind Once Was a Man", gepubliseer in International Journal of Public Theology) en in 'n 2021-boekhoofstuk ("Indigenous Texts, Rich Points and Pluriversal Sources of Knowledge", gepubliseer in Language and Decoloniality in Higher Education).

Anders as by die ander besprekings, word "Presentiments" nie in enige noemenswaardige sin ontleed of daarop kommentaar gelewer nie. Krog haal dit eerder aan as bewys van die gedeelde, gemeenskapsgefokusde bewussyn wat sy by die Ixam bespeur. Die belang hier is dus nie analities nie, maar eerder konseptueel. Deur die vertelling binne 'n breë filosofiese diskoers te plaas, verskuif Krog die klem na 'n hantering verwyderd van die tradisionele stiplees, om erkenning te verleen aan die verweefde aard van 'n groot hoeveelheid van die materiaal wat die Bleek en Lloyd-argief beslaan. Sy wil die aandag rig op die moontlike insigte wat uit só 'n omvattende leesstrategie, gerig op die geheel van verweefde tekste, verkry kan word.

 

Ontbrekende lesings

Deur op dié ses onderskeie beskouings van "Presentiments" te konsentreer, kon drie belangrike gevolgtrekkings gemaak word. Eerstens: Alhoewel die besprekings van die Bleek en Lloyd-argiefmateriaal in die breë, en "Presentiments" in die besonder, telkens sonder veel aandag aan teoretiese uitgangspunte gedoen is, kon die onderskeie interpretasies met redelike gemak aan spesifieke dissiplines verbind word. Die geleentheid bestaan dus vir meer teoreties gefundeerde studies, aangepak binne welke raamwerk ook al, om die betekenismoontlikhede van dié fassinerende teks te ontsluit.

Kukummi is, as geheel, epistemies 'grensloos', soos reeds vermeld. Daarom sou dit as onderwerp vir ondersoeke binne verskeie dissiplines beskou kon word. Die verwikkeldhede van die Ixam-kultuurskat (vergelyk Staphorst 106-11) behoort erken te word met die wete dat dié verwikkeldhede 'n eis aan die navorser stel-om gepaste dissiplines as 'n hulpmiddel of as bril in te span, maar dit nie as finale 'segspersoon' oor die studie te laat 'heers' nie. Hier is Jonathan Chimakonam (115) se idee van gespreksfilosofie, 'n benadering binne die Afrika-filosofie wat dialoog en gesprek tussen denkers en tradisies van meer waarde ag as om klinkklare antwoorde op vrae te vind, betekenisvol. Die behoefte bestaan dus vir meer teoreties gefundeerde studies, op voorwaarde dat daar met elke studie, elke teorie, bloot 'n faset van die vertelling ondersoek kan word-waarna hierdie studies in gesprek met mekaar gebring moet word.

Tweedens, daar is 'n noemenswaardige leemte ten opsigte van talig-gefundeerde besprekings van die kum. In der waarheid bestaan daar nog geen volledige beskrywing van die Ixam-taal as sodanig nie. Benewens enkele sporadiese studies oor die afgelope 110 jaar sedert die publikasie van Specimens of Bushman Folklore in 1911, is daar geen sistematiese studie van die taal onderneem nie (Du Plessis, "A Century of the Specimens of Bushman Folklore: 100 Years of Linguistic Neglect" 275)-hoewel Menán du Plessis tans werk aan 'n beskrywende grammatika, 'n eerste en welkome verwysingsbron ten opsigte van die grondtrekke van die |xam se grammatika (Galloway). Die enigste huidig opgetekende studie waar 'n taalaspek sydelings ter sake is, is dié van De Prada-Samper. Sy fokus is egter op die betekenis van 'n enkele begrip: !gwe. Alhoewel ons begrip van die Ixam-taal nie gevorderd is nie, is daar genoeg verwerkte taaldata om meer taalsensitiewe studies te regverdig, veral ten opsigte van die data wat in A Bushman Dictionary (D. F. Bleek) vervat is. Die potensiële navorser moet egter ook bewus wees van verskeie uitdagings aan die gebruik van dié woordeboek verbonde (Du Plessis, "Towards the study of South African Literature as an Integrated Corpus" 2).

Daar is, derdens, 'n afwesigheid van vergelykende besprekings. "Presentiments" en selfs die hele bundel van|xam-materiaal, Specimens of Bushman Folklore, verteenwoordig nie eens 'n druppel in die emmer van die ongeveer 13 000 bladsye wat die ganse Bleek en Lloyd-argief beslaan nie. 'n Voor die hand liggende uitdaging is dat nie al die inhoud van dié 13 000 bladsye in vertaalde, versorgde, en geannoteerde weergawes beskikbaar is nie-die navorser moet dus hierdie materiaal oorwegend met die hand deurwerk. Daar is egter 'n kum deur Diälkwain aan Lloyd oorgelewer wat 'n soortgelyke, maar nie gelyknamige |xam-ervaring as dié van ||kabbo nie, beskryf: "höüi)". Lloyd se Engelse vertaling van hierdie ervaring is ook "presentiments". Die vraag wat dus gevra behoort te word, is tot welke mate dié twee begrippe na dieselfde fenomeen verwys. Ons kan daarop let dat ||kabbo en Diälkwain van verskillende dele van Ixam-ka-lau, oftewel Boesmanland in die Noord-Kaap, gekom het, en verskillende variante van die dialekkontinuum Ixam gebesig het. ||kabbo was, byvoorbeeld, 'n sogenaamde "Vlakteboesman", terwyl Diälkwain 'n "Grasboesman" was; vergelyk Deacon ("A Tale of Two Families: Wilhelm Bleek, Lucy Lloyd and the / Xam San of the Northern Cape" 100-13) vir 'n oorsig van die lewensverhale van die Ixam wat aan die Bleek en Lloyd-optekenings deelgeneem het. Soos reeds genoem is ons kennis van die Ixam-taal nie volledig nie, en kan ons nie met sekerheid oor al die verskille en nuanses van die verskeie variante kommentaar lewer nie. Ons weet egter dat, ten spyte van die verskille, die onderlinge kommunikasie en begrip tussen Ixam-sprekende Boesmangroepe-beide op talige asook kulturele vlak-goed was. Daar bestaan dus 'n geleentheid om die nuanses van dié "presentiment"-ervaring(s) te ondersoek deur middel van 'n vergelykende lees van beide ||kabbo asook Diälkwain se vertellings.

Van selfs groter belang is die moontlikheid dat so 'n vergelykende lees die taalnuanses en verskille in denke wat onder die Ixam-sprekers as 'n gemeenskap bestaan, kan uitlig. ||kabbo, die oudste asook produkstiefse verteller van kukummi, word gereeld uitgesonder onder die Ixam wat aan die Bleek en Lloyd-optekenings deelgeneem het. Die gevolg is dat hy, "[a]nders as amper al sy vriende en familie [...] dit reggekry [het] om die sluier van geskiedenis te deurdring" (Parkington 76). Verskeie redes hiervoor word geopper-veral, soos telkens uitgelig, ||kabbo se besonderse vertelstyl (Brown 65-6; Hewitt Structure, Meaning & Ritual 194-200; Rusch 885-6), sy diepgaande kennis van die Ixam-kultuur en -gebruike (Deacon, "'My place is the Bitterpits': the Home Territory of Bleek and Lloyd's /Xam San informants"; De Prada-Samper, "The Plant Lore of the /Xam San: //Kabbo and /Kasiq's Identification of 'Bushman Medicines'" 3-8), asook sy opgewondenheid oor die moontlikheid om die narratiewe in druk te sien, en dit só aan die wêreld bekend te help stel (Lloyd x). Om welke rede ook al, hy word uitgesonder, vereer, en as 'n visioenêre persoon onder die Ixam voorgehou; vergelyk, byvoorbeeld, Deacon en Skotnes (vi-vii) asook Hofmeyr (429) vir voorbeelde van dié tipe huldiging. Die gevaar is egter dat ||kabbo 'namens' die Ixam as geheel 'praat'-dat hy die rol van die "inheemse informant" (vergelyk Spivak 6) speel, en dus gebruik word om 'n eenduidige en essensialistiese beeld van die Ixam as geheel te skets. In die onderskeie lesings van "Presentiments" wat aangepak is, is gesien dat slegs Van Vuuren 'n kontekstuele blik verskaf wat die vertelling spesifiek aan ||kabbo verbind. Hoewel ||kabbo se oorlewering heel moontlik van 'n gemeenskaplike ervaring spreek, is dit belangrik dat hierdie gegewe nie uit die staanspoor as sulks aanvaar behoort te word nie. 'n Vergelykende lees kan dié potensieel essensialiserende lokval teenwerk.

So 'n vergelykende studie behoort egter ook met betrekking tot die res van die Ixam-argief gedoen te word. Hiermee word bedoel dat die eng fokus wat telkens op die Bleek en Lloyd-argief geplaas word, en wat ander argiewe verdring, uitgedaag moet word. 'n Sentrale argief in hierdie verband is dié van Gideon Retief von Wielligh, die amateur volkskundige wat tussen 1880 en 1884 optekenings van die Ixam mondelinge tradisie in Boesmanland onderneem het. Von Wielligh se versameling word gereeld met agterdog bejeën, en gevolglik selde by besprekings van die Ixam, hul kultuur, en hul mondelinge tradisie betrek (vergelyk Van Vuuren Necklace 82-4). Daar is egter twee optekenings in die Von Wielligh-versameling waar 'voorgevoelens' aan bod kom-verweef in 'n verhaal oor jagtogbygelowe (Boesmanstories 1 230-3), en in 'n direkte, feitelike verwerking van ||kabbo se vertelling (Boesmanstories 2 78-80). Dit is veral die eerste optekening, oor ervarings gekoppel aan die jag, wat by 'n vergelykende studie ingespan behoort te kan word.

 

Slotwoord

Die artefak 'Bushman Presentiments' is nie bloot enigmaties nie, maar besit 'n aantrekkingskrag wat bykans geen ander kum in die Bleek en Lloyd-argief openbaar nie. Soos reeds genoem, word hierdie vertelling gereeld deur verwerkings, vertalings, en ander intertekstuele verwysings in veral die Suid-Afrikaanse literatuursisteem aangetref. Dié vorm van literêre 'herwaardering' is 'n algemene verskynsel wat die werk van grootse skrywers betref: "[s]itering, gesprekvoering, inversie [.] is heenwysing en implisiet huldiging" (Van Vuuren "Tussen 'Grense'" 280). Dit is egter nie bloot literêre verwysings wat die statuur van 'n teks reflekteer nie, maar ook "die skryf van literatuurgeskiedenisse en ander verwysingswerke oor die letterkunde, [asook] die produseer van literatuurwetenskaplike en interpretatiewe studies" (Viljoen 269). Die ses bespreekte interpretasies getuig hiervan: Elkeen van die ses konkrete estetiese objekte-onderskeidelik in die sielkunde, wetenskap, antropologie, towerkuns, letterkunde, en wysbegeerte begrond-reflekteer die statuur van | |kabbo en van die vertelling, asook die potensiaal tot die kreatiewe vertolking en verklaring van die kum. Dit bevestig die lewenskragtigheid van die narratief, en dit dra sodoende by tot wat Van Vuuren die "nalewing" van 'n skrywer, in dié geval ||kabbo, en hierdie skrywer se oeuvre noem (Van Vuuren, "Tussen 'Grense' en 'Groot ode'. 'n Klein essay oor die poësie van N. P. Van Wyk Louw [1906-1970]" 280).

Verder, teen die agtergrond van die epistemiese 'grensloosheid' van kukummi as sodanig, is dié belangstelling in somtyds uiteenlopende sienings van dieselfde teks nie vreemd nie. Noemenswaardig egter: hoewel elke interpretasie belangrike insigte verskaf, ontbreek daar telkens iets ten opsigte van die narratief, duik daar 'n 'oop plek' op. 'n Selektiewe vertolking van die artefak "Presentiments"-waar sekere 'oop plekke' van die kum minder aandag ontvang, of selfs buite die bespreking gelaat word-bring 'n proses van konkretisering mee waar die dinamiek van die oorlewering, asook die inhoud van die narratief, telkens slegs ten dele uitgelig en bespreek word. Deur te fokus op die leemtes in die geïdentifiseerde studies-veral ten opsigte van die verskeidenheid dissiplines waarin hulle gefundeer is, ten opsigte van talige aspekte, sowel as met die oog op vergelykende analise-kan die betekenismoontlikhede van dié invloedryke vertelling ten volle ontsluit word.

Ek beroep my dus daarop dat 'n navorsingsonderwerp soos hierdie, oor die groot en 'onderbenutte' versameling \xam-kukummi, tot vele en vrugbare ondersoeke binne verskeie dissiplines kan lei. Daar is nog veel om uit die |xam-kum te leer.

 

Erkenning

Die artikel is gebaseer op gedeeltes uit die verhandeling "Die wond sê dit aan my: die morele wêreldbeskouing van die Ixam as ekomorele fenomenologie" ter verwerwing van my M. A.-graad (Filosofie). Hierdie graad is in 2020 aan die Universiteit van Wes-Kaapland voltooi met Antjie Krog as studieleier, en Oritsegbubemi Oyowe en William Ellis as medestudieleiers. Die finansiële ondersteuning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Arikaanse Taal- en Kultuurvereniging, die Ernst en Ethel Eriksen Trust, die Cape Foundation, en UWK se Sentrum vir Meertaligheid- en Diversiteitstudies, wat die voltooiing van die verhandeling moontlik gemaak het, word graag erken. Die sienings hierin vervat verteenwoordig egter nie noodwendig dié van genoemde liggame nie.

 

Geraadpleegde bronne

| |kabbo. "Bushman Presentiments." Specimens of Bushman Folklore, geredigeer deur Wilhelm H. I. Bleek & Lucy C. Lloyd. George Allen, 1911, pp. 330-9.         [ Links ]

______. "The Bushmen's Presentiments of Things that are Going to Happen." Bleek en Lloyd-versameling: BC151, LII-28.1873. Jagger-biblioteek, Universiteit van Kaapstad. http://lloydbleekcollection.cs.uct.ac.za/books/BC_151_A2_1_034/A2_1_34_02531.html.         [ Links ]

Bank, Andrew. Bushmen in a Victorian World: the Remarkable Story of the Bleek-Lloyd Collection ofBushman Folklore. Double Storey, 2006.         [ Links ]

Barber, Karin. "Obscurity and Exegesis in African Oral Praise Poetry." Oral Literature and Performance in Southern Africa, geredigeer deur Duncan Brown. Ohio U P, 1999, pp. 27-49.         [ Links ]

Barnard, Alan. Anthropology and the Bushman. Berg, 2007.         [ Links ]

Bennum, Neil. The Broken String: The Last Words of an Extinct People. Viking, 2004.         [ Links ]

Bisschoff, Anna-Marie. "Konkretisering." Literêre Terme & Teorieë, geredigeer deur T. T. Cloete. HAUM-Literêr, 1992, pp. 235.         [ Links ]

Bleek, Dorothea F. A Bushman Dictionary. American Oriental Society, 1956.         [ Links ]

Bleek, Wilhelm H. I. Brief Account of the Bushman Folklore and Other Texts: second report concerning Bushman researches, presented toboth Houses of the Parliament of the Cape of Good Hope, by command of His Excellency the Governor. Staatsdrukker, 1875.         [ Links ]

Bleek, Wilhelm H. I. & Lucy C. Lloyd, reds. Specimens ofBushman Folklore. George Allen, 1911.         [ Links ]

Brown, Duncan. Voicing the Text: South African Oral Poetry and Performance. Oxford U P, 1998.         [ Links ]

Canetti, Elias. Masse und Macht. Claassen Verlag, 1960.         [ Links ]

______. "Vorgefühl und Verwandlung bei den Buschmännern | Presentiment and Transformation among the Bushmen." Der Mond als Schuh: Zeichnungen der San | The Moon as Shoe: Drawings of the San, geredigeer deur Miklós Szalay. Scheidegger und Spiess, 2002, pp. 101-8.         [ Links ]

Chimakonam, Jonathan O. "What Is Conversational Philosophy? A Prescription of a New Theory and Method of Philosophising, in and Beyond African Philosophy." Phronimon vol. 18, 2017, pp. 115-30. DOI: https://doi.org/10.25159/2413-3086/2874.         [ Links ]

Coetzee, Abel. Die Afrikaanse Volkskultuur: 'n inleiding tot die studie van volkskunde. A. A. Balkema, 1953.         [ Links ]

Deacon, Janette. "A Tale of Two Families: Wilhelm Bleek, Lucy Lloyd and the /Xam San of the Northern Cape." Miscast: Negotiating the Presence of the Bushmen, geredigeer deur Pippa Skotnes. U of Cape Town P, 1996, pp. 93-113.         [ Links ]

______ "'My place is the Bitterpits': the Home Territory of Bleek and Lloyd's /Xam San informants." African Studies vol. 45, no. 2, 1986, pp. 135-55. DOI: https://doi.org/10.1080/00020188608707656.         [ Links ]

Deacon, Janette & Pippa Skotnes. "Preface." The Courage of llkabbo: celebrating the 100th anniversary of the publication of Specimens of Bushman Folklore, geredigeer deur Janette Deacon & Pippa Skotnes. U of Cape Town P, 2014, pp. vi-vii.         [ Links ]

De Jong, Marianne. "Verwagtingshorison." Literêre Terme & Teoriel, geredigeer deur T. T. Cloete. HAUM-Literêr, 1992, pp. 568-69.         [ Links ]

De Prada-Samper, José M. "Strokes in Rock and Flesh: Presentiments, Rock Engravings and Landscape in ||kabbo's place." Rock Art Made in Translation: Framing Images From and Of the Landscape, geredigeer deur Pippa Skotnes. Jacana, 2010, pp. 74-81.         [ Links ]

______. "'The Pictures of the Ixam People are in Their Bodies': Presentiments, Landscape and Rock Art in ||kabbo's Country." The Courage of llkabbo: Celebrating the 100th Anniversary of the Publication of Specimens of Bushman Folklore, geredigeer deur Janette Deacon & Pippa Skotnes. U of Cape Town P, 2014, pp. 225-41.         [ Links ]

______. "The Plant Lore of the /Xam San: //Kabbo and ?Kasrrj's Identification of 'Bushman Medicines'". Culturas Populares. Revista Electrónica no. 4, 2007, pp. 1-17. http://hdl.handle.net/10017/19683.         [ Links ]

Diälkwain. "Note on hõürj." Customs and Beliefs of the \Xam Bushmen, geredigeer deur Jeremy C. Hollmann. Wits U P, 2004, p. 250.         [ Links ]

______. "The Broken String." Specimens of Bushman Folklore, geredigeer deur Wilhelm H. I. Bleek & Lucy C. Lloyd. George Allen, 1911, pp. 236-7.         [ Links ]

Dundes, Alan. "The Motif-Index and the Tale Type Index: A Critique." Journal of Folklore Research vol. 34, no. 3, 1997, pp. 195-202. https://www.jstor.org/stable/3814885.         [ Links ]

Du Plessis, Menán. "A Century of the Specimens of Bushman Folklore: 100 Years of Linguistic Neglect." The Courage of llkabbo: Celebrating the 100th Anniversary of the Publication of Specimens of Bushman Folklore, geredigeer deur Janette Deacon & Pippa Skotnes. U of Cape Town P, 2014, pp. 275-302.         [ Links ]

______. "The Khoisan Languages of Southern Africa: Facts, Theories and Confusions." Critical Arts: South-North Cultural and Media Studies vol. 33, no. 4-5, 2019, pp. 33-54. DOI: https://doi.org/10.1080/02560046.2019.1647256.         [ Links ]

______. "Towards the study of South African Literature as an Integrated Corpus." South African Journal of Science vol. 112, no. 11-2, 2016, pp. 18-20. DOI: https://doi.org/10.17159/sajs.2016/a0181.         [ Links ]

Ellis, William F. "Ons is Boesmans: Commentary on the Naming of Bushmen in the Southern Kalahari." Anthropology Southern Africa vol. 38, no. 1-2, 2015, pp. 120-33. DOI: https://doi.org/10.1080/23323256.2015.1056314.         [ Links ]

______. "Simulacral, Genealogical, Auratic and Representational Failure: Bushman Authenticity as Methodological Collapse." Critical Arts: South-North Cultural and Media Studies vol. 28, no. 3, 2014, pp. 493-520. DOI: https://doi.org/10.1080/02560046.2014.929213.         [ Links ]

Fine, Gary A. "The Sweep of Knowledge: The Politics of Grand and Local Theory in Folkloristics." Journal of Folklore Research vol. 45, no. 3, 2008, pp. 11-8. https://www.jstor.org/stable/40206959.         [ Links ]

Frazer, James G. The Golden Bough: A Study in Comparative Religion. MacMillan, 1894.         [ Links ]

Galloway, Michelle. "Rediscovering a Khoisan language-Fellows' seminar by Menán Du Plessis." Stellenbosch Institute for Advanced Study (STIAS). 3 Apr. 2020. https://stias.ac.za/2020/04/rediscovering-a-khoisan-language/.         [ Links ]

Gee, James P. "Discourse and 'the New Literacy Studies'." The Routledge Handbook of Discourse Analysis, geredigeer deur James P. Gee & Michael Handford. Routledge, 2014, pp. 371-82.         [ Links ]

Grant, Julie. "Language and Education: Photovoice Workshops and the IXun and Khwe Bushmen." Critical Arts: South-North Cultural and Media Studies vol. 33, no. 4-5, 2019, pp. 157-73. DOI: https://doi.org/10.1080/02560046.2019.1663228.         [ Links ]

Guenther, Mathias. "Attempting to Contextualise /Xam Oral Tradition." Voices from the Past: /Xam Bushmen and the Bleek and Lloyd Collection, geredigeer deur Janette Deacon & Thomas A. Dowson. Wits U P, 1996, pp. 77-99.         [ Links ]

______. Human-Animal Relationships in San and Hunter-Gatherer Cosmology, Volume I: Therianthropes and Transformation. Palgrave Macmillan, 2020.         [ Links ]

______. "'The Eyes are No Longer Wild, You Have Taken the Kudu into Your Mind': the Supererogatory Aspect of San Hunting." The South African Archaeological Bulletin vol. 72, 2017, pp. 3-16. https://www.jstor.org/stable/26407510.         [ Links ]

______. Tricksters and Trancers: Bushman Religion and Society. Indiana U P, 1999.         [ Links ]

Hall, Martin. "Earth and Stone: Archaeology as Memory." Negotiating the Past: the Making of Memory in South Africa, geredigeer deur Sarah Nuttall & Carli Coetzee. Oxford U P, 1998, pp. 180-200.         [ Links ]

______. "The Proximity of Dr Bleek's Bushman." Miscast: Negotiating the Presence of the Bushmen, geredigeer deur Pippa Skotnes. U of Cape Town P, 1996, pp. 143-59.         [ Links ]

Haring, Lee. "America's Antitheoretical Folkloristics." Journal of Folklore Research vol. 45, no. 1, 2008, pp. 1-9. https://www.jstor.org/stable/40206958.         [ Links ]

Hewitt, Roger L. "Eine Ethnographische Skizze der /Xam | An Ethnographic Sketch of the /Xam." Der Mond als Schuh: Zeichnungen der San l The Moon as Shoe: Drawings of the San, geredigeer deur Miklós Szalay. Scheidegger und Spiess, 2002, pp. 33-52.         [ Links ]

______. Structure, Meaning & Ritual in the Narratives of the Southern San. Wits U P, 2008.         [ Links ]

Hofmeyr, Isabel. "Archives in Heaven: a Tribute to the Courage of ||Kabbo: The Courage ofIlKabbo: Celebrating the 100th Anniversary of the Publication of Specimens of Bushman Folklore, geredigeer deur Janette Deacon & Pippa Skotnes. U of Cape Town P, 2014, pp. 429-34.         [ Links ]

Hollmann, Jeremy C., red. Customs and Beliefs of the Xam Bushmen. Wits U P, 2004.         [ Links ]

James, Alan. The First Bushman's Path: Stories, Songs and Testimonies of the /Xam of the Northern Cape. U of Natal P, 2001.         [ Links ]

Jones, Kerry. "Contemporary Khoesan Languages of South Africa." Critical Arts: South-North Cultural and Media Studies vol. 33, no. 4-5, 2019, pp. 55-73. DOI: https://doi.org/10.1080/02560046.2019.1688849.         [ Links ]

Krog, Antjie. Begging to be Black. Random House Struik, 2009.         [ Links ]

______. Conditional Tense: Memory and Vocabulary After the South African Truth and Reconciliation Commission. Seagull, 2013.         [ Links ]

______. "Indigenous Texts, Rich Points and Pluriversal Sources of Knowledge: Siswana-sibomvana." Language andDecoloniality in HigfrerEducation: Reclaiming Voicesfrom the South, geredigeer deur Zannie Bock & Chris Stroud. Bloomsbury, 2021. https://www.bloomsbury.com/au/language-and-decoloniality-in-higher-education-9781350049093/.         [ Links ]

______. Mede-wete. Human & Rousseau, 2014.         [ Links ]

______. Met woorde soos met kerse: inheemse verse uitgesoek en vertaal deur Antjie Krog. Kwela, 2002.         [ Links ]

______. "'The Young Wind Once Was a Man': Exploring the Work of IXam Informants, Nelson Mandela and Archbishop        [ Links ]

Desmond Tutu to Identify how a Specific Way-of-Being can Redefine Forgiveness, Reconciliation and the Self." International Journal of Public Theology vol. 8, 2014, pp. 373-92. DOI: https://doi.org/10.1163/15697320-12341364.         [ Links ]

______, red. Diesterresê 'tsau':/Xam-gedigtevanDiä!kwain, Kweiten-ta-//ken, /A!kúnta, /HanAass'o en//Kabbo. Kwela, 2004.         [ Links ]

Kruiper, Belinda & Elana Bregin. Kalahari-Waarheid. Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans, 2020.         [ Links ]

Lewis-Williams, J. D. Believing and Seeing: Symbolic Meanings in Southern San Rock Paintings. Academic, 1981.         [ Links ]

______. Myth and Meaning: San-Bushman Folklore in Global Context. U of Cape Town P, 2015.         [ Links ]

______, red. Stories that Float from Afar: Ancestral Folklore of the San of Southern Africa. David Philip, 2000.         [ Links ]

Liebenberg, Louis. The Art of Tracking: the Origin of Science. David Philip, 1990.         [ Links ]

Lloyd, Lucy C. "Preface." Specimens of Bushman Folklore, geredigeer deur Wilhelm H. I. Bleek & Lucy C. Lloyd. George Allen, 1911, pp. vi-xvi.         [ Links ]

Low, Chris. "Khoe-San Ethnography, 'New Animism' and the Interpretation of Southern San Rock Art." South African Archaeological Bulletin vol. 69, no. 200, 2014, pp. 164-72. https://www.jstor.org/stable/43868711.         [ Links ]

Markowitz, Arthur. The Rebirth of the Ostrich and other stories ofthe Kalahari Bushmen told in their manner. National Museum and Art Galery, 1971.         [ Links ]

McGranaghan, Mark. "'Different People' Coming Together: Representations of Alterity in IXam Bushman (San) Narrative." Critical Arts: South-North Cultural and Media Studies vol. 28, no. 4, 2014, pp. 670-88. DOI: https://doi.org/10.1080/02560046.2014.929223.         [ Links ]

Moran, Shane. Representing Bushmen: South Africa and the origin of language. U of Rochester P, 2009.         [ Links ]

______. "Specimens of 'Bushman' studies." Wasafiri vol. 16, no. 34, 2001, pp. 46-51. DOI: https://doi.org/10.1080/02690050108589756.         [ Links ]

Mukafovsky, Jan. "Aesthetic Function, Norm and Value as Social Facts (Excerpts)." Art in Translation vol. 7, no. 2, 2015, pp.282-303. DOI: https://doi.org/10.1080/17561310.2015.1049476.         [ Links ]

Opland, Jeff. "Mondelinge Literatuur." Literêre Terme & Teorieë, geredigeer deur T. T. Cloete. HAUM-Literêr, 1992, pp. 320-25.         [ Links ]

Parkington, John. "||Kabbo's Sentence." Claim to the Country: the Archive of Wilhelm Bleek and Lucy Lloyd, geredigeer deur Pippa Skotnes. Jacana, 2007, pp. 74-89.         [ Links ]

Raper, Peter E. "The Ethnonyms 'Bushman' and 'San'." Acta Academica vol. 42, no. 1, 2010, pp. 168-86. https://hdl.handle.net/10520/EJC15475.         [ Links ]

Rossouw, Mabel A. "Resepsieteorie". Literêre Terme & Teorieë, geredigeer deur T. T. Cloete. HAUM-Literêr, 1992, pp. 427-9.         [ Links ]

Rusch, Neil. "The Root and Tip of the ||kwanna: Introducing Chiasmus in Ixam Narratives." Critical Arts: South-North Cultural and Media Studies vol. 30, no. 6, 2016, pp. 877-97. DOI: https://doi.org/10.1080/02560046.2016.1263219.         [ Links ]

Schmidt, Sigrid. A Catalogue of Khoisan Folktales of Southern Africa. Rüdiger Köppe, 2013.         [ Links ]

______. South African /Xam Bushman Traditions and Their Relationships to Further Khoisan Folklore. Rüdiger Köppe, 2013.         [ Links ]

Schultze-Jena, Leonhard. Zoologische und Anthropologische Ergebnisse einer Forschungreise im Westlichen und Zentralen Südafrika, Ausgeführt in den Jahren 1903-1905. G. Fischer, 1928.         [ Links ]

Skotnes, Pippa. "The Thin Black Line: Diversity in the Paintings of the Southern San and the Bleek and Lloyd Collection." Voices from the Past: /Xam Bushmen and the Bleek and Lloyd collection, geredigeer deur Janette Deacon & Thomas A. Dowson. Wits U P, 1996, pp. 234-44.         [ Links ]

Solomon, Anne. "Broken Strings: Interdisciplinarity and IXam Oral Literature." Critical Arts: South-North Cultural and Media Studies vol. 23, no. 1, 2009, pp. 26-41. DOI: https://doi.org/10.1080/02560040902738941.         [ Links ]

______. "'People Who are Different': Alterity and the /Xam." The Courage of llkabbo: Celebrating the 100th1 Anniversary of the Publication of Specimens of Bushman Folklore, geredigeer deur Janette Deacon & Pippa Skotnes. U of Cape Town P, 2014, pp. 329-37.         [ Links ]

______. "Writing San Histories: The /Xam and 'Shamanism' Revisited." Journal of Southern African Studies vol. 37, no. 1, 2011, pp. 99-117. DOI: https://doi.org/10.1080/03057070.2011.552548.         [ Links ]

Spivak, Gayatri C. A Critique of Post-Colonial Reason: Toward a History of the Vanishing Present. Harvard U P, 1999.         [ Links ]

Stahl, Sandra K. D. Literary Folkloristics and the Personal Narrative. Indiana U P, 1989. publish.iupress.indiana.edu/read/literary-folkloristics-and-the-personal-narrative/section^280e31ac-1124-4899-94bb-6ee24f18b5e1.         [ Links ]

Staphorst, Luan. "Owning the Body, Embodying the Owner: Complexity and Discourses of Rights, Citizenship and Heritage of Southern African Bushmen." Critical Arts: South-North Cultura and Media Studies vol. 33, no. 4-5, 2019, pp. 104-21. DOI: https://doi.org/10.1080/02560046.2019.1660688.         [ Links ]

Suzman, James. Affluence Without Abundance: the Disappearing World of the Bushmen. Bloomsbury, 2019.         [ Links ]

Tomaselli, Keyan & Julie Grant. "The Literacy of Tracking." Critical Arts: South-North Cultural and Media Studies vol. 33, no. 4-5, 2019, pp. 191-208. DOI: https://doi.org/10.1080/02560046.2019.1696850.         [ Links ]

Twidle, Hedley. "'The Bushman's Letters': |Xam narratives of the Bleek and Lloyd Collection and their afterlives." The Cambridge History of South African Literature, geredigeer deur David Atwell & Derek Attridge. Cambridge U P, 2012, pp. 19-41.         [ Links ]

Van Vuuren, Helize. A Necklace of Springbok Ears: /Xam Orality and South African literature. SUN, 2016.         [ Links ]

______ . "'A song sung by the star !gaunu, and especially by Bushman women': the blossoming of the uintjieblom." The Courage of | kabbo: Càebrating the 100th Anniversary of the Publication of Specimens of Bushman Folklore, geredigeer deur Janette Deacon & Pippa Skotnes. U of Cape Town P, 2014, pp. 317-28.         [ Links ]

______ . "Die mondelinge tradisie van die /Xam en 'n herlees van Von Wielligh se Boesman-Stories (vier dele, 1919-1921)." Tydskrif vir Letterkunde vol. 33, no. 1, 1995, pp. 25-35.         [ Links ]

______. "Forgotten Territory: the Oral Tradition of the /Xam." Alternation vol. 1, no. 2, 1994, pp. 57-70.         [ Links ]

______."'n Besinning oor die benadering tot 'n uitgestorwe kultuur: die /Xam koloniale argief." Stilet: Tydskrif van die Afrikaanse Letterkundevereniging vol. 23, no. 2, 2011, pp. 157-66.         [ Links ]

______. "Op die spoor van Boesman-letterkunde." Literator vol. 32, no. 1, 2011, pp. 160-2. DOI: https://doi.org/10.4102/lit.v32i1.8.         [ Links ]

______. "Rotskuns as piktografiese rotstaal of vroeë Suider-Afrikaanse skrif-op-klip." LitNet. 15 Okt. 2012. https://www.litnet.co.za/rotskuns-as-piktografiese-rotstaal-of-vroe-suider-afrikaanse-skrif-op-klip/.         [ Links ]

______ . "Tussen 'Grense' en 'Groot ode'. 'n Klein essay oor die poësie van N.P. Van Wyk Louw (1906-1970)." Tydskrif vir Geesteswetenskappe vol. 46, no. 3, 2006, pp. 279-90.         [ Links ]

Van Wyk, Johan. "Dream Writing." Alternation vol. 1, no. 1, 1994, pp. 21-36.         [ Links ]

Viljoen, Louise. "Digterlike gesprekke met Van Wyk Louw." Tydskrif vir Geesteswetenskappe vol. 48, no. 3, 2008, pp. 267-91. http://ref.scielo.org/h2w2px.         [ Links ]

Voges, Remona. "Antjie Krog, gemeenskaplikheid en die behoefte aan interverbondenheid in Mede-wete (2014)." LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) vol. 16, no. 1, 2019, pp. 145-65. https://www.litnet.co.za/antjie-krog-gemeenskaplikheid-en-die-behoefte-aan-interverbondenheid-in-mede-wete-2014/.         [ Links ]

Von Wielligh, Gideon R., red. VersameldeBoesmanstories 1. Protea, 2009.         [ Links ]

______, red. Versamelde Boesmanstories 2. Protea, 2010.         [ Links ]

Watson, Stephen. Return of the Moon: Versionsfrom the /Xam. Carrefour, 1991.         [ Links ]

______. "Variations on Four |xam and !kun Themes." Claim to the Country: the Archive ofWilhelm Bleek and Lucy Lloyd, geredigeer deur Pippa Skotnes. Jacana, 2007, pp. 171-5.         [ Links ]

Wessels, Michael A. Bushman Letters: Interpreting Xam Narrative. Wits U P, 2010.         [ Links ]

______. "New directions in /Xam studies: some of the implications of Andrew Bank's Bushmen in a Victorian world: the remarkable story of the Bleek-Lloyd collection of Bushman folklore." Critical Arts: South-North Cultural and Media Studies vol. 22, no. 1, 2008, pp. 69-82. DOI: https://doi.org/10.1080/02560040802166250.         [ Links ]

______. "The Khoisan Origins of the Interconnected World View in Antjie Krog's Begging to be Black." Current Writing: Text and Reception in Southern Africa vol. 24, no. 2, 2012, pp. 186-97. DOI: https://doi.org/10.1080/1013929X.2012.706928.         [ Links ]

______. "The /Xam Narratives of the Bleek and Lloyd Collection: Questions of Period and Genre." Western Folklore vol. 71, no. 1, 2012, pp. 25-46. https://www.jstor.org/stable/24550771.         [ Links ]

Willemse, Hein. 'Tokkelossie', ''n Boesman, outa Hendrik', en ontkennende close readings." Literator vol. 29, no. 3, 2008, pp. 57-73. DOI: https://doi.org/10.4102/lit.v29i3.125.         [ Links ]

Wright, John. "Sonqua, Bosjesmans, Bushmen, abaThwa: Comments and Queries on Pre-Modern Identifications." South African Historical Journal vol. 35, no.1, 1996, pp. 16-29. DOI: https://doi.org/10.1080/02582479608671245.         [ Links ]

Wright, John & Jill Weintroub. 2014. "The Problem with 'Bushman Studies'. Critical Arts: South-North Cultural and Media Studies vol. 28, no. 4, 2014, pp. 735-6. DOI: https://doi.org/10.1080/02560046.2014.945683.         [ Links ]

 

 

Submitted: 12 May 2021
Accepted: 29 July 2021
Published: 25 October 2021

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License