SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.58 número2Different narration, same history: The politics of writing 'democratic' narratives in ZimbabweSouth goes East. South African literature at Volk & Welt índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Letterkunde

versão On-line ISSN 2309-9070
versão impressa ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.58 no.2 Pretoria  2021

http://dx.doi.org/10.17159/tl.v58i2.10473 

RESEARCH ARTICLES

 

Die vermeldingsnetwerk van gekanoniseerde Afrikaanse skrywers in die Afrikaanse literatuurstudie (2000-2020)

 

The mention network of canonized Afrikaans writers in Afrikaans literary studies (2000-2020)

 

 

Burgert SenekalI; Eduan KotzéII

I'n navorsingsgenoot aan die Departement Rekenaarwetenskap en Informatika, Fakulteit aan die Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, Suid-Afrika. Sy navorsingsbelangstelling sluit in inligtingtegnologie, datawetenskap en komplekse netwerke. E-pos: burgertsenekal@yahoo.co.uk https://orcid.org/0000-0002-1385-9258
IIDepartementshoof van die Departement Rekenaarwetenskap en Informatika, Fakulteit aan die Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, Suid-Afrika. Sy navorsingsbelangstellings lê in algoritmes en metodes om groot datastelle te verwerk. Ïds: KotzeJE@ufs.ac.za https://orcid.org/0000-0002-5572-4319

 

 


ABSTRACT

From the point of view of systems and field theory, the value attached to a work of art, for example a literary text, is not only the result of the intrinsic characteristics of the text but also includes connections with institutions such as publishers, and factors like literary prizes, the value judgments of literary historians, of reviewers, and of literary critics. The current study examines the mentions of canonized Afrikaans writers in nine academic journals over the past two decades, taking into account more than 5 000 publications and more than 70 000 pages. It is shown which authors are mentioned most, but also which authors are mentioned most often together, and it is shown that authors are mostly mentioned together in the terms of genre. Although the current study represents a large study of the visibility of authors in the study of Afrikaans literature, suggestions for further research are also made.

Keywords: Afrikaans literary studies, Afrikaans literary system, canonization, cultural fields, cultural networks, mentions.


 

 

Inleiding

Literatuur word oor die afgelope paar dekades as 'n sisteem (Even-Zohar; Schmidt) of veld (Bourdieu) gekon-sepsualiseer, waar die literêre werk nie as outonoom gesien word nie maar eerder as die produk van verskeie ver-houdinge binne die literêre sisteem of veld. Oor die afgelope dekades het die beskikbaarheid van groot datastelle, hoëspoedrekenaars en die netwerkwetenskap dit moontlik gemaak om hierdie verhoudinge opnuut en kwantitatief te bestudeer, soos byvoorbeeld Fraiberger, Sinatra, Resch, Riedl en Barabási, asook Askin en Mauskapf, gedoen het. Die huidige studie sluit by hierdie en ander studies aan en neem 'n kwantitatiewe benadering in tot die Afrikaanse literêre sisteem of veld.

In die huidige studie word die vermeldings van die skrywers oor wie profiele in die nuutste drie dele van Perspektief en profiel (uitgegee in 2015 en 2016, met H. P. van Coller as redakteur) opgeneem is, in nege akademiese joernale oor 'n tydperk van twee dekades ondersoek. Met 'n datastel wat bestaan uit 5 013 publikasies met 'n totaal van 70 761 bladsye, word aangetoon watter gekanoniseerde Afrikaanse skrywers die sigbaarste in die onlangse Afrikaanse literatuurstudie is, en deur middel van 'n netwerkontleding word die belangrikste skrywers in die Afrikaanse literatuurstudie en die skrywers waarmee hulle geassosieer word, uitgelig. Die vrae wat gevra word, is: Watter gekanoniseerde skrywers word in die meeste publikasies oor die Afrikaanse literatuur genoem en met watter ander skrywers word hulle verbind? Die primêre oogmerk is om te bepaal watter skrywers die gewildste is binne die Afrikaanse literatuurstudie, omdat vermeldings in joernaalpublikasies daarop dui dat skrywers oor genoegsame prestige beskik om bestudeer en na verwys te word. Die sekondêre oogmerk is om te bepaal watter skrywers die meeste saam genoem word en daaruit af te lei op grond waarvan skrywers met mekaar geassosieer word, byvoorbeeld ten opsigte van tydperke, style, temas, politieke sienings of genres.

Die artikel is soos volg gestruktureer: Eerstens word 'n agtergrond oor die belangrikheid van eksterne fak-tore en veral sosiale invloed in die bepaling van waarde in kulturele sisteme bespreek. Hierna word die metodes bespreek wat in die huidige studie gevolg is, waarop 'n bespreking van die resultate volg. Die artikel sluit af met slotopmerkings en voorstelle vir verdere navorsing.

 

Agtergrond

Dit is 'n groot uitdaging om die toekomstige sukses van 'n kreatiewe werk te bepaal voordat dit die kulturele mark betree (Askin en Mauskapf 912). Salganik en Watts ("Web-based Experiments for the Study of Collective Social Dynamics in Cultural Markets" 441-2) noem dat agt uitgewerye Harry Potter afgekeur het, die televisiekanaal FOX het geglo die sitcom Friends sou onsuksesvol wees, die kanale NBC, CBS en ABC het almal American Idol afgekeur omdat hulle geglo het dat dié program ongewild sou wees, en The Beatles het aanvanklik gesukkel om 'n plate-kontrak te kry. Uitgewers en musiek- en televisievervaardigers is veronderstel om kenners van kultuurmarkte te wees, maar sulke mistastings dui daarop dat die interne eienskappe van kulturele produkte nie genoeg is om sukses mee te voorspel nie.

Dit is welbekend dat artistieke meriete tot 'n groot mate deur eksterne faktore soos die waardeoordele van kritici en akademici en die status van uitgewerye en ander instellings bepaal word. Hierdie siening is bekend vanuit die sisteem- of veldteorie, wat reeds vir vier dekades in die Afrikaanse literatuurstudie toegepas word (J. Senekal; Barnard; Adendorff; Van Heerden; Venter; Kleyn). Die invloed van die status van instellings op die waarde van 'n kunswerk is duidelik en op groot skaal geïllustreer in Fraiberger et al. (sien ook Kackovic, Bun, Weinberg, Ebbers en Wijnberg, en die voorstellings deur Giuffre, deur De Nooy ("The dynamics of artistic prestige") asook deur Verboord, Janssen en Van Rees).

Fraiberger et al. skryf byvoorbeeld:

Quality in art is elusive; art appeals to individual senses, pleasures, feelings, and emotions. Recognition depends on variables external to the work itself, like its attribution, the artist's body of work, the display venue, and the work's relationship to art history as a whole. Recognition and value are shaped by a network of experts, curators, collectors, and art historians whose judgments act as gatekeepers for museums, galleries, and auction houses. (825)

Boonop toon Wang et al., Yucesoy, Varol, Eliassi-Rad en Barabási aan dat boekverkope tot 'n groot mate beïnvloed word deur die uitgewery, deels as gevolg van die prestige wat met die uitgewer se naam saamhang.

Verder word algemeen aanvaar dat die waarde wat aan 'n outeur se werk geheg word tot 'n groot mate afhang van die waarde wat deur kenners daaraan toegeskryf word. Verboord skryf: "An author's prestige is dependent on how s/he is perceived by significant others. Not only does the attribution of value to the author in question have to meet wide general acceptance, both attribution and acceptance increasingly gain weight when coming from persons possessing considerable authority on literary matters" (262). Boonop bevind Kackovic et al. dat dit nie alleen die algemene publiek is wat deur kenners se sienings beïnvloed word nie: kenners self word ook deur resensies, pryse en instellingaffiliasies beïnvloed.

Bogenoemde stelling van Verboord (262) word ook ondersteun deur navorsing deur Salganik, Dodds en Watts, en deur Salganik en Watts ("Leading the Herd Astray: an Experimental Study of Self-fulfilling Prophecies in an Artificial Cultural Market"; "Web-based experiments"), wat aantoon dat sosiale invloed 'n groot effek op mense se voorkeure uitoefen (hier ten opsigte van musiek). In pasgenoemde studies het die navorsers ondersoek ingestel na die musiekvoorkeure van persone met en sonder sosiale invloed en bevind: "social institutions that make us aware of the behavior of others-the New York Times bestseller list, the Billboard album charts, and lists of top-grossing movies-do provide a useful service to individuals, but only at the cost of increasing the overall inequality and unpredictability of the markets themselves" (Salganik en Watts, "Web-based experiments" 452).

Hierdie ongelykheid ten opsigte van die aandag wat kunstenaars ontvang is reeds met betrekking tot die literatuur. Martindale (219) skryf dat 'n klein aantal outeurs 'n groot hoeveelheid aandag in die literatuurstudie ontvang, terwyl ander baie min aandag ontvang, soos Janssen (194) ook bevind. In 'n studie betreffende boekpublikasies oor Engelse, Franse en Amerikaanse digters bring Martindale sy bevindings in verband met studies wat Pareto, Lotka en Zipf onderskeidelik oor dieselfde onderwerp gedoen het en waarin dieselfde sogenaamde kragwet in verskillende velde-onderskeidelik rykdom, wetenskaplike produktiwiteit en woordfrekwensies- geïdentifiseer is. Breedweg beteken hierdie kragwet dat 'n klein aantal datapunte met groot waardes aangetref word, teenoor 'n groot aantal datapunte met klein waardes-'n ongelyke verspreiding. Martindale (231) bring die "skewe" (ongelyke) verspreiding van aandag vir digters ook in verband met Merton se Matteus-effek, wat daarop neerkom dat dié wat bekend is of oor baie prestige beskik, buite verhouding meer bekendheid en prestige verwerf as dié wat onbekend is. In die Afrikaanse poësie is hierdie verskynsel deur Senekal ("Die hedendaagse Afrikaanse poësiesisteem: Op soek na die mees verteenwoordigende wiskundige model van die rolspelerverhoudings daarbinne") bestudeer en in verband gebring met die netwerkmodel van Barabási en Albert (1999), wat die skakelverspreidingspatroon in komplekse netwerke gemodelleer het en ook 'n kragwetverspreiding geïdentifiseer het.

In die Afrikaanse literatuurstudie word die aantal vermeldings van 'n skrywer gereeld gebruik om sy sigbaarheid en prestige te bepaal (Van Coller; Johl; Viljoen; Odendaal; Koch; Du Plooy). Vermeldings word getel, oor 'n verskeidenheid publikasieplatforms, en daaruit word afgelei tot watter mate 'n skrywer in die kanon funksioneer.

Yucesoy en Barabási wys uit dat daar 'n verband tussen bekendheid en kwaliteit is. Hulle bestudeer die bekendheid van tennisspelers en bevind dat die beste tennisspelers-gedefinieer as dié wat die meeste wedstryde wen-ook die meeste bekendheid verwerf, en stel voor dat dieselfde verskynsel ook op ander terreine mag voorkom. Alhoewel hulle nie die kunste spesifiek noem nie, is dit nie vergesog nie om ook voor te stel dat gewildheid soms met betrekking tot die kunste met kwaliteit sal saamhang (alhoewel 'n mens versigtig moet wees met die lê van so 'n verband). Dit is byvoorbeeld onwaarskynlik dat 'n groot aantal akademici sal besluit om 'n skrywer te bestudeer as daardie skrywer se werke nie meriete het nie. Dit sal egter 'n fout wees om gewildheid in die kunste oor die algemeen met kwaliteit gelyk te stel, aangesien populêre kunstenaars dan uitgelig sal word as skeppers van die "beste" produkte, wat ons insiens nie die geval is nie. Ciampaglia, Nematzadeh, Menczer en Flammini (5) wys ook daarop dat gewildheid op aanlynplatforms in die meeste gevalle nie saamhang met kwaliteit in die kunste nie, omdat algoritmes wat aanbevelings op aanlynplatforms maak 'n wanindruk van populêre kultuurprodukte kan skep.

Is die waarde wat aan 'n kunswerk toegeskryf word uitsluitlik die gevolg van sosiale invloed, of speel intrinsieke eienskappe ook 'n rol? Waardeoordele in die kunste is bekend daarvoor dat dit uiters subjektief is, maar Askin en Mauskapf (910-44) dui aan dat intrinsieke faktore 'n aantoonbare rol speel in die gewildheid van liedjies. Hulle interessantste bevinding is dat gewilde liedjies soortgelyk is aan ander gewilde liedjies, maar nie té soortgelyk nie - indien liedjies té soortgelyk aan ander is, word hulle minder gewild. Daar is met ander woorde 'n saak daarvoor uit te maak dat die gewildheid van 'n kultuurproduk nie uitsluitlik op sosiale invloed berus nie. Salganik, Dodds en Watts, asook en Salganik en Watts ("Leading the herd astray"; "Web-based experiments") noem op hulle beurt liedjies goed wanneer hierdie liedjies gewild was in die afdeling van hulle eksperiment waar sosiale invloed as faktor verwyder is, en gebruik die term goed ("good") ook uitruilbaar met aantreklik ("appealing"). Salganik en Watts ("Web-based experiments" 451) skryf: "We note that what we are calling 'appeal' is not necessarily the same as quality. Nevertheless, because the behavior of users in the independent condition is, by definition, unaffected by the behavior of others, it provides a natural measure of preexisting population preferences".

Salganik en Watts ("Leading the herd astray"; "Web-based experiments") het bevind dat "goeie" liedjies selde ongewild was, ongeag hoe die navorsers sosiale invloed gemanipuleer het. Soos ook Askin en Mauskapf bevind hulle met ander woorde dat die intrinsieke eienskappe van 'n liedjie ook 'n rol speel in sy gewildheid. Salganik en Watts ("Leading the herd astray"; "Web-based experiments") se definisie van aantreklikheid word duideliker in Ciampaglia et al. verwoord: "Quality is operationally defined as the probability that an item is selected by a user when not exposed to the popularity of the item" (2).

In aansluiting by die argument van Salganik en Watts ("Leading the herd astray"; "Web-based experiments") en van Ciampaglia et al. kan 'n literêre werk aantreklik genoem word wanneer dit aantreklik is vir lesers. Salganik en Watts ("Leading the herd astray"; "Web-based experiments") se konsepsualisering van die idee van aantreklikheid kan ook voorsiening maak vir verskillende smake, want soos in Senekal ("Straatnaamgewing en -verandering, padnetwerke en die Afrikaanse literêre kanon: Langenhovenpark in Bloemfontein as literatuurgeskiedenis") aangetoon, verskil die waarde wat letterkundiges en literatuurhistorici aan skrywers heg van die sienings van persone buite die akademie. In die ontleding hieronder gaan dit oor watter skrywers deur letterkundiges as aantreklik beskou word, met inagneming daarvan dat ander datastelle (byvoorbeeld boekbesprekings by leeskringe, lyste van voorgeskrewe boeke en die sienings van die algemene publiek) moontlik ander skrywers as aantreklik sal uitlig.

Bostaande kan soos volg saamgevat word: die waarde van 'n kultuurproduk, byvoorbeeld 'n liedjie, skildery of 'n boek, word tot 'n groot mate bepaal deur sy verbintenis met 'n instelling of uitgewery (Fraiberger et al.; Kackovic et al.; Wang et al.; Verboord, Janssen en Van Rees; Giuffre; De Nooy, "Dynamics of artistic prestige"), asook deur hoe aantreklik ander mense-kenners sowel as eweknieë-die produk gevind het (Salganik en Watts "Leading the herd astray", "Web-based experiments"; Salganik, Dodds en Watts; Verboord). Terselfdertyd beteken die eksterne toekenning van waarde deur sosiale invloed nie dat die kultuurproduk nie ook oor eienskappe beskik wat dit in die afwesigheid van eksterne faktore aantreklik maak nie (Salganik et al.; Salganik en Watts, "Leading the herd astray","Web-based experiments"; Askin en Mauskapf).

Hierdie studie fokus op 'n baie spesifieke deel van sosiale invloed in die Afrikaanse literêre sisteem, naamlik die Afrikaanse literatuurstudie. Die volgende afdeling bespreek die metodes wat in die studie gevolg is.

 

Metodes

Verboord bepaal die status van skrywers op grond van vier faktore: inskrywings in literêre ensiklopedieë, die toekenning van literêre pryse, die aandag wat in die literatuurwetenskap aan hulle gegee word en die status van die uitgewery. In die huidige studie word op vermeldings in akademiese joernale gefokus en ons ondersoek met ander woorde slegs 'n deel van die status van skrywers. Alle publikasies wat vanaf 2000 tot 2020 in die joernale Stilet, Tydskrif vir Letterkunde, Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Literator, Tydskrif vir Literatuurwetenskap, Current Writing, LitNet Akademies Geesteswetenskappe, Werkwinkel en SA Theatre Journal verskyn het, is in berekening gebring. Al hierdie joernale is egter nie vir die hele tydperk in 'n digitale formaat beskikbaar nie: Stilet is slegs vanaf 2002 beskikbaar (en net tot 2019), LitNet Akademies Geesteswetenskappe sedert 2008, Tydskrif vir Geesteswetenskappe sedert 2001, en Werkwinkel sedert 2014. Omdat die meeste tydskrifte egter vir die hele periode (2000-2020) beskikbaar is, is besluit om nie die tydperk wat hier ondersoek word, te verklein nie.

Publikasies in hierdie nege joernale is ondersoek vir vermeldings van die 73 skrywers waaroor profiele in die nuutste uitgawe van Perspektief en profiel opgeneem is, wat beteken dat dit hier gaan om die vermeldings van gekanoniseerde skrywers. Toekomstige studies kan meer skrywers betrek, maar enige studie benodig afbakening en gegewe die gesaghebbendheid van Perspektief en profiel is besluit om die skrywers van wie daar profiele in hierdie literatuurgeskiedenis-reeks bestaan as die kern van die Afrikaanse literêre kanon in ons studie te betrek.

Anders as Martindale het ons nie slegs publikasies ingesluit wat oor 'n spesifieke skrywer handel nie (wat sou beteken dat die skrywer in die titel van die publikasie vermeld sou moes word), maar alle vermeldings van hierdie skrywers is in ag geneem. In totaal is 5 013 publikasies met 'n totaal van 70 761 bladsye en 23 345 290 woorde deurgegaan vir vermeldings van hierdie skrywers. Publikasies wat nie een van hierdie skrywers noem nie, is uit die datastel verwyder. Omdat hierdie joernale ook studies en resensies publiseer wat nie met die Afrikaanse literêre sisteem saamhang nie, byvoorbeeld studies oor politiek of oor Engelse skrywers, is die datastel ook gefynkam met die oog daarop om sulke irrelevante publikasies te verwyder. In totaal bestaan die uiteindelike datastel uit 1 354 publikasies.

Taal het 'n groot konsepsuele uitdaging ten opsigte van die in- en uitsluiting van publikasies gebied. Nie alles wat oor die Afrikaanse literatuur verskyn, verskyn in Afrikaans nie, byvoorbeeld die artikels deur Barendse of Taljaard-Gilson. Dit sou met ander woorde nie sinvol wees om Engelse of Nederlandse publikasies uit die ontleding te verwyder wanneer sommige van daardie publikasies oor die Afrikaanse literatuur handel nie. Moeiliker nog is 'n publikasie soos dié van Nash wat in Engels oor 'n (oorwegend) Afrikaanse skrywer- Breyten Breytenbach-handel, of publikasies oor die vertalings van Afrikaanse literêre werke. Uiteindelik is besluit dat die insluitingskriterium die vermelding van een van die Afrikaanse skrywers met profiele in Perspektief en Profiel is. Dit beteken dat sommige publikasies ingesluit is wat oor die Engelse weergawes van 'n Afrikaanse skrywer se werk handel, maar met meer as 'n driekwart van die publikasies in ons studie wat in Afrikaans verskyn het, sal sulke publikasies in die minderheid wees.

Om die vermelding van skrywers in hierdie publikasies na te gaan, is 'n toepassing in Python 3.7 geskep. Die PDF-lêers is omgeskakel na teksdata-lêers deur gebruik te maak van die oopbron-biblioteek PyPDF4. Daarna is die Gensim oopbron-biblioteek (Rehúfek en Sojka) gebruik om die teksdata skoon te maak, aangesien dit heelwat onnodige etikette (byvoorbeeld "/n"), spasies en leestekens bevat het. Ons het ook alle niewoord-karakters met 'n spesiale (regex) uitdrukking verwyder. Laastens is al die verwerkte teksdata omgeskakel na unicode deur Gensim se to_unicode() funksie te gebruik, omdat unicode die internasionale standaard vir die kodering van binêre kodes na simbole is. Ons het gebruik gemaak van "utf-8", wat 'n karakterkodering met veranderlike breedte is en gebruik word in digitale dokumente en kommunikasie.

Die skrywer is uit die skoon teksdata geïdentifiseer deur gebruik te maak van 'n string-soekfunksie. Slegs die eerste vermelding van 'n skrywer is aangeteken, omdat die vraag is watter skrywers in die meeste publikasies genoem word; slegs die eerste vermelding was dus nodig. Die afvoer is daarna geskryf na 'n Pandas-dataraam en gestoor in 'n Microsoft Excelleer vir verdere data-ontleding.

Nadat die vermeldings van skrywers in publikasies geïdentifiseer is, is die data as 'n netwerk ontleed. Die netwerkteorie of -wetenskap is aan die een kant 'n benaderingswyse tot sisteme, soos deur Von Bertalanffy (21, 90) aangevoer, en aan die ander kant het die netwerkwetenskap ook tot 'n teorie in eie reg ontwikkel, soos Barabási (7) verduidelik. Kortom: Die netwerkteorie maak die verhoudinge binne 'n sisteem meer tasbaar deur wiskundige berekenings en netwerkvisualisasies te benut. De Nooy ("Fields and networks: correspondence analysis and social network analysis in the framework of field theory") en Teige meen ook albei dat die netwerkteorie met Bourdieu se veldteorie versoenbaar is.

Die netwerk is in hierdie studie op twee maniere saamgestel. Eerstens is 'n skakel van die titel van die publikasie na die vermelde skrywer aangedui, wat beteken dat dit 'n tweeledige netwerk is wat uit twee soorte nodusse (publikasies en skrywers) bestaan, soos bespreek in Senekal ("Die kwantifisering en toepassing van modulariteit in die Afrikaanse filmbedryf [1994-2014] as 'n komplekse netwerk"). PageRank (sien verderaan) is op hierdie netwerk toegepas. Tweedens is die netwerk van 'n tweeledige na 'n enkelledige netwerk omgeskakel, waar die skakel tussen Skrywer 1 en Publikasie 1 en tussen Skrywer 2 en Publikasie 1 omgeskakel is na 'n skakel tussen skrywers wat in dieselfde publikasie vermeld word. Hierdie omskakeling maak dit moontlik om te bepaal watter skrywers die meeste saam in 'n publikasie vermeld word; die betekenis van die skakel verander tydens die omskakeling van "[skrywer] is genoem in [publikasie]" na "[skrywerl] is saam met [skrywer2] genoem."

Daar bestaan verskeie maatstawwe in die netwerkteorie waarmee die belangrikheid van 'n nodus bepaal kan word, insluitend graadsentraliteit, tussenliggingsentraliteit en nabyheidsentraliteit, soos bespreek in Senekal ("Straatnaamgewing en -verandering" 67-8). In hierdie studie word PageRank (Brin en Page) gebruik, omdat Fraiberger et al. (825-29) aangetoon het dat PageRank geskik is om prestige in kulturele netwerke te bepaal. PageRank is deur die stigters van Google ontwikkel en neem alle skakels in die netwerk in ag, anders as graadsentraliteit, wat slegs direkte skakels in berekening bring. Dit is belangrik om die hele netwerk in ag te neem, want, soos Giuffre skryf: "Changes in relationships by each actor in the interlocking web of affiliations affects the shape of the whole web and, therefore, the prestige of all other actors in the web" (821). Nietemin het 'n eenvoudige maatstaf soos graadsentraliteit ook waarde, omdat dit in hierdie geval die skrywers sal uitlig wat in die meeste publikasies genoem word.

Daar is ook ondersoek ingestel na die vorming van groeperings of gemeenskappe. 'n Groepering of gemeenskap word in die netwerkteorie omskryf as wanneer daar meer intragemeenskaps- as intergemeenskapskakels voorkom en word met behulp van modulariteit gemeet, soos die term bespreek word deur Senekal ("Kwantifisering en toepassing van modulariteit" 665-88). Wanneer die sosiale bande van studente byvoorbeeld ondersoek word, kan daar verwag word dat meer kontak onderling tussen studente in tale en letterkunde en meer onderling tussen rekenaarwetenskapstudente sal voorkom (intragemeenskaplike skakels), eerder as dat sosiale bande gelyk versprei sal word tussen studente van verskeie fakulteite (intergemeenskaplike skakels). Modulariteit skep 'n handige manier om 'n datastel op 'n mesovlak te verken en groepe te identifiseer. Daar bestaan 'n verskeidenheid algoritmes waarmee modulariteit gemeet kan word, maar in hierdie studie word dié van Blondel, Guillaume, Lambiotte en Lefebvre gebruik. Hierdie algoritme ken ook 'n arbitrêre nommer vir verwysingsdoeleindes aan gemeenskappe toe.

Die volgende afdeling bevat die resultate van ons studie.

 

Resultate

'n Kwantitatiewe oorsig

Die twintig skrywers waarna die meeste verwys is, sowel as in hoeveel publikasies hulle vermeld is, word in Tabel 1 weergegee.

 

 

Antjie Krog word met ander woorde in die meeste publikasies vermeld, gevolg deur Breyten Breytenbach. Ander studies (B. Senekal, Canons and connections; B. Senekal "'n Netwerkontleding van die Afrikaanse poësienetwerk") het reeds aangetoon dat Krog een van die mees bestudeerde digters in die Afrikaanse poësiesisteem is, maar Tabel 1 dui aan dat sy ook oor die algemeen die skrywer is wat in die meeste joernaalpublikasies vermeld word. Verder is die skrywers wat die meeste saam vermeld word: Krog en Breytenbach (sien verderaan).

Hierdie vooropstelling van Krog, Breytenbach, Van Niekerk, Brink en Schoeman dui daarop dat hulle die gewildste skrywers in die Afrikaanse literatuurstudie is. Alhoewel daar voorheen gestel is dat 'n mens versigtig moet wees met die verband tussen gewildheid en kwaliteit, is hierdie met ander woorde tans die skrywers wat letterkundiges ag as die mees noemenswaardige skrywers in die Afrikaanse letterkunde. Die gereelde vermelding van hierdie skrywers dui daarop dat hulle oor baie prestige beskik en dat hulle bekende name in die Afrikaanse literatuurstudie verteenwoordig.

Dit is ook interessant om die vermeldings van skrywers oor tyd waar te neem. Figuur 1 verskaf 'n oorsig oor die getal publikasies wat hierdie skrywers oor die hele tydperk (2000-2020) noem. Vermeldings van hierdie skrywers bereik 'n hoogtepunt in 2009 en 'n laagtepunt in 2014. Die klein aantal studies in 2000, 2001 en 2020 is die gevolg daarvan dat nie al hierdie joernale vir hierdie jare beskikbaar was nie.

Met 'n eerste oogopslag kan 'n mens verlei word om die onderliggende data te bevraagteken: Is daar moontlik publikasies wat ontbreek rondom 2013/2014 wat hierdie afname kan verklaar? Figuur 2 wys die totale publikasies wat in ons studie in ag geneem is, ongeag of hulle hierdie skrywers noem of nie.

In Figuur 2 kan gesien word dat daar nie 'n afname in publikasies rondom 2013/2014 is wat die afname in Figuur 1 sou kon verklaar nie, maar wel 'n afname in 2020 met sommige joernale (SA Theatre Journal en Stilet) wat nie beskikbaar was nie. Die afname in 2013/2014 wat in Figuur 1 waargeneem kan word, dui met ander woorde op 'n tydelike afname in vermeldings van hierdie skrywers. Hierdie tydelike afname mag die gevolg wees daarvan dat meer studies oor niegekanoniseerde skrywers in hierdie tydperk verskyn het, maar om dít te bepaal sal meer skrywers in berekening gebring moet word.

Johl (553) herinner dat die tydperk en platform wat in berekening gebring word 'n groot rol sal speel in hoeveel vermeldings getel word. Sy verwys na spesiale uitgawes oor Krog, Breytenbach en Louw wat in onderskeidelik Stilet (2011), Tydskrif vir Letterkunde (2009) en Tydskrif vir Geesteswetenskappe (2006 en 2020) verskyn het. Aangesien ons studie wel 'n volledige datastel gebruik, kan ondersoek word hoe die vermeldings van hierdie skrywers oor tyd verskil. Figuur 3 dui die vermeldings van Krog, Breytenbach en Louw aan. In Krog se geval is die spesiale uit-gawe in 2011 nie duidelik sigbaar nie en verwysings na haar kom deurgaans voor. In Breytenbach se geval is die spesiale uitgawe in 2009 duidelik sigbaar, terwyl ook die spesiale uitgawes oor Louw in 2006 en 2020 duidelik in sy vermeldings gesien kan word.

Ter aansluiting by Van Coller se studie, "Is Leroux 'n Vergete Skrywer?" is vermeldings van Etienne Leroux bygevoeg in Figuur 3. Hier kan die spesiale uitgawe oor Leroux in Stilet in 2004 duidelik gesien word. Dit wil ook voorkom of Leroux daarná nie 'n vergete skrywer geword het nie, ten minste nie ten opsigte van sy vermeldings in hierdie joernaalpublikasies nie. Wat uit die vermeldings van hierdie vier skrywers oor tyd gesien kan word, is dat spesiale uitgawes van joernale in Breytenbach, Louw en Leroux se geval daartoe lei dat die kollig opnuut op hierdie skrywers se bydraes tot die Afrikaanse letterkunde val. In Krog se geval is die kollig egter deurgaans op haar werk en belangstelling in haar bydraes tot die Afrikaanse letterkunde kom deurgaans voor.

Die platforms waar studies verskyn het waarin die meeste na hierdie skrywers verwys is, sowel as die getal verwysings na elke skrywer, word in Tabel 2 weergegee. Die lae aantal vermeldings in Werkwinkel is toe te skryf daaraan dat hierdie joernaal slegs sedert 2014 beskikbaar was, terwyl SA Theatre Journal nie tot dieselfde mate as die ander joernale op die Afrikaanse literêre sisteem fokus nie en LitNet Akademies Geesteswetenskappe slegs sedert 2008 bestaan. Joernale soos Stilet en Tydskrif vir Letterkunde se rol in die Afrikaanse literatuurstudie is duidelik te sien daarin dat elk meer as 1 000 vermeldings van hierdie skrywers insluit.

 

 

In die volgende onderafdeling word die vermeldingsnetwerk bespreek.

Die vermeldingsnetwerk

Die data is vervolgens as 'n netwerk saamgestel, met 'n skakel aangedui tussen publikasies en skrywers. Daar is 1 361 nodusse en 4 021 skakels in hierdie netwerk.

Soos voorheen gestel, word daar in hierdie studie gebruik gemaak van PageRank om die belangrikste skrywers in hierdie vermeldingsnetwerk uit te lig. Die twintig skrywers met die hoogste PageRank-waardes kan in Tabel 3 gesien word. Antjie Krog het die hoogste PageRank-sentraliteit, gevolg deur Breyten Breytenbach, Marlene van Niekerk, André P. Brink en Karel Schoeman.

 

 

Die vermeldingsnetwerk kan in Figuur 4 gesien word. Twille van leesbaarheid is slegs die twintig nodusse met die hoogste PageRank-sentraliteitswaardes se name aangedui. Kleure verteenwoordig die twee soorte nodusse: grys is publikasies en turkoois is skrywers. Die grootte van nodusse en etikette dui hul PageRank-waarde aan. Die uitleg is met behulp van Hu se kraggebaseerde uitlegalgoritme gedoen.

Dit is interessant dat sommige skrywers nader aan mekaar aangetref word in Figuur 4, wat daarop dui dat hulle gereeld saam in publikasies genoem word. Etienne Leroux word byvoorbeeld naby aan Ingrid Winterbach aangetref in Figuur 4, Breyten Breytenbach naby aan Antjie Krog, Ingrid Jonker naby aan Adam Small en Joan Hambidge naby aan Johann de Lange. Die eenvoudigste wyse om ko-vermeldings te bepaal, is om die netwerk om te skakel na 'n enkelledige netwerk, soos voorheen bespreek is. Tabel 4 dui die skrywers aan wat die meeste saam genoem word.

 

 

'n Meer gevorderde manier om ko-vermeldings te bestudeer, is om van modulariteit gebruik te maak. Met behulp van Blondel et al. se modulariteitsalgoritme is drie gemeenskappe geïdentifiseer. Die grootste gemeenskap (Gemeenskap 1) bestaan uit 636 nodusse (46,73% van nodusse), gevolg deur Gemeenskap 0 (36,74% van nodusse) en Gemeenskap 2 (16,53% van nodusse). Slegs die skrywers wat die meeste genoem is, word hier onder in gemeenskapsverband bespreek.

Die skrywers in Gemeenskap 1 sluit in Antjie Krog, Breyten Breytenbach, Joan Hambidge, Hennie Aucamp, Ingrid Jonker, Elisabeth Eybers, Totius, Johann de Lange, Uys Krige en Wilma Stockenström. Hierdie is duidelik 'n poësie-georiënteerde gemeenskap en die feit dat dit ook die grootste gemeenskap is, beklemtoon die belangrike rol wat poësie in die Afrikaanse literêre sisteem inneem.

Die skrywers in Gemeenskap 0 sluit in Marlene van Niekerk, André P. Brink, Karel Schoeman, Etienne van Heerden, Etienne Leroux, Ingrid Winterbach, Eben Venter, Elsa Joubert, Chris Barnard en Alexander Strachan. Hierdie gemeenskap is duidelik prosa-georiënteerd. Alhoewel Brink eweneens met die poësie of drama geassosieer kon word, aangesien hy as samesteller van Groot verseboek opgetree het en ook dramas geskryf het, word hy meer gereeld in die konteks van ander prosaskrywers genoem. Dieselfde is ook die geval met Marlene van Niekerk en Chris Barnard, wat eweneens in die konteks van ander digters of dramaturge genoem sou kon word.

Die skrywers in Gemeenskap 2 is Adam SmallJan Rabie, Pieter Fourie, N. P. van Wyk Louw, Deon Opperman, Reza de Wet, D.J. Opperman, T. T. Cloete, P. G. du Plessis en C.J. Langenhoven. In lyn met die ander gemeenskappe is hier ook 'n patroon ten opsigte van genre te bespeur: Alhoewel Cloete oorwegend met poësie geassosieer word en Rabie met prosa, is ander skrywers in hierdie groepering bekende dramaturge (ofskoon hierdie skrywers se oeuvres nie tot die veld van die drama beperk is nie). Louw se insluiting in die drama-groepering is interessant, omdat hy so 'n sterk verbintenis met poësie het. Tog word hy meer saam met ander dramaturge genoem. Dit is ook opmerklik dat die drama-groepering die kleinste groepering is, waardeur Koen (192) se stelling dat drama (benewens ontspanningsliteratuur) die "stiefkind" van die Afrikaanse literatuur is, ondersteun.

Dit is merkwaardig dat groepering volgens genres geskied, maar nie verrassend nie: Dit is byvoorbeeld logies dat 'n studie oor 'n digter eerder ander digters sal vermeld as prosaskrywers. Groeperings sou egter netsowel op grond van tydperke saamgestel kon wees, omdat dit eweneens logies is dat 'n studie oor byvoorbeeld Brink as Sestiger ook ander Sestigers sou vermeld. Dit sou ook kon gebeur dat skrywers gegroepeer kon word op grond van politieke sienings, voorkeure van die universiteite waarby letterkundiges betrokke is (dit is byvoorbeeld moontlik dat sommige universiteite op spesifieke skrywers kan fokus), style, temas of ander faktore. Dít is egter nie wat gebeur nie: die skeidslyn is genre. Hierdie groeperings dui met ander woorde aan dat die onderliggende beginsel vir die ko-vermelding van skrywers genre is; nie politiek, tydperk, tema, styl of ander voorkeure nie.

 

Beperkinge

Hierdie studie het slegs ondersoek ingestel na die vermeldings van gekanoniseerde skrywers, wat gedefinieer is deur hul insluiting in die nuutste uitgawe van Perspektiefen profiel. Hierdie fokus op gekanoniseerde skrywers beteken dat byvoorbeeld kinder- en jeugliteratuurskrywers, ontspanningsliteratuurskrywers en opkomende stemme nie deel uitgemaak het van die ondersoek nie. Toekomstige studies kan die net wyer gooi en alle Afrikaanse skrywers in ag neem.

Verder het hierdie studie slegs ondersoek ingestel na vermeldings van skrywers in akademiese joernale, terwyl literatuurgeskiedenisse, verhandelings en proefskrifte, resensies asook literêre bekronings ook in ag geneem sou kon word, soos deur Verboord (265) voorgestel. Ons studie ondersoek met ander woorde slegs 'n komponent van die huidige Afrikaanse literêre sisteem en verdere studies is nodig om 'n meer volledige beeld van skrywers se posisie in die Afrikaanse literêre sisteem te verkry.

Askin en Mauskapf (910-44) se identifisering van die intrinsieke eienskappe van liedjies wat met hul gewildheid saamhang, suggereer die moontlikheid van iets soortgelyks in die geval van literêre werke. Skrywers wat later in hul loopbane geag word as deel van die kanon word gereeld as nuwelinge in resensies en besprekings in verband gebring met gevestigde skrywers. Dit mag beteken dat nuwe werke ook, soos die liedjies waarna Askin en Mauskapf (910-44) verwys, in sekere opsigte soortgelyk aan vorige werke moet wees ten einde gewild te word onder akademici, maar nie "té soortgelyk" nie.

Hierdie studie het nie gepoog om die intrinsieke eienskappe van literêre werke te ondersoek nie, maar Askin en Mauskapf se bevindinge omtrent gewilde liedjies noop 'n mens om ook intrinsieke eienskappe in ag te neem indien 'n mens die funksionering van die literatuursisteem beter wil begryp. Ons insiens kan so 'n studie met behulp van diepleer en kunsmatige intelligensie vermag word, maar daarvoor sal literêre tekste in 'n digitale formaat benodig word.1

 

Slot

Hierdie studie het die sigbaarheid van gekanoniseerde skrywers in die mees onlangse twee dekades van die Afrikaanse literatuurstudie ondersoek. Met behulp van 'n datastel wat uit meer as 5 000 joernaalpublikasies bestaan, is aangetoon dat Antjie Krog in die meeste studies vermeld word, gevolg deur Breyten Breytenbach en Marlene van Niekerk. Hierdie is met ander woorde die sigbaarste gekanoniseerde skrywers, ten minste ten opsigte van hierdie datastel. Die sigbaarheid van hierdie skrywers dui op hul prestige: Krog, Breytenbach en Van Niekerk is tans die skrywers wat die meeste deur letterkundiges in hul publikasies betrek word. Daar is ook aangetoon dat Krog en Breytenbach die meeste saam vermeld word, en met behulp van modulariteit is aangetoon dat skrywers meesal saam in genreverband vermeld word, nie ten opsigte van byvoorbeeld tydperke nie.

Alhoewel hierdie studie 'n groot en omvattende stel publikasies in berekening gebring het en verder gegaan het as byvoorbeeld Martindale, deur alle vermeldings van skrywers te ondersoek, gee die studie nie 'n volledige blik op die prestige van Afrikaanse skrywers nie. Hiervoor sal ook koerantpublikasies, webblaaie, verhandelings en proefskrifte, boeke-veral literatuurgeskiedenisse-asook literêre bekronings in berekening gebring moet word. Toekomstige studies kan ook hierdie ander publikasieplatforms insluit en die vermeldings van alle Afrikaanse skrywers ondersoek.

 

Aantekening

1 . Diepleer is 'n onderafdeling van masjienleer en kunsmatige intelligensie wat kunsmatige neurale netwerke van verskillende lae gebruik om funksies uit rou data te onttrek (Goodfellow, Bengio en Courville 13).

 

Geraadpleegde bronne

Adendorff, Elbie. "Digdebute teen die millenniumwending: 'n Polisistemiese ondersoek." Proefskrif. U Stellenbosch, 2003. http://hdl.handle.net/10019.174578.         [ Links ]

Askin, Noah & Michael Mauskapf. "What Makes Popular Culture Popular? Product Features and Optimal Differentiation in Music." American Sociological Review vol. 82, no. 5, 2017, pp. 910-44. DOI: https://doi.org/10.1177/0003122417728662.         [ Links ]

Barabási, Albert-László. Network Science. Cambridge U P, 2016.         [ Links ]

Barabási, Albert-László & Reka Albert. "Emergence of Scaling in Random Networks." Science vol. 286, no. 5439, 1999, pp. 509-12. DOI: https://doi.org/10.1126/science.286.5439.509.         [ Links ]

Barendse, Joan-Marie. "Dystopian future visions in Afrikaans novels published after 1999: A relationship between past and future." Tydskrif vir Letterkunde vol. 51, no. 2, 2014, p. 18. DOI: https://doi.org/10.4314/tvl.v51i2.2.         [ Links ]

Barnard, Riana. "Kanoniseringsprosesse in die Afrikaanse literatuursisteem: Die rol van N. P. van Wyk Louw." Proefskrif. U 1998.         [ Links ]

Blondel, Vincent D. et al. "Fast Unfolding of Communities in Large Networks." Journal of Statistical Mechanics: Theory and Experiment vol. 2008, no. 10, 2008, art. no. 10 008. DOI: https://doi.org/10.1088/1742-5468/2008/10/P10008.         [ Links ]

Bourdieu, Pierre. "The Production of Belief: Contribution to an Economy of Symbolic Goods." Media, Culture & Society vol. 2, no. 3, 1980, pp. 261-93. DOI: https://doi.org/10.1177/016344378000200305.         [ Links ]

Brin, Sergey & Lawrence Page. "The Anatomy of a Large-Scale Hypertextual Web Search Engine." Computer Networks and ISDN Systems vol. 30, no. 1-7, 1998, pp. 107-17. DOI: https://doi.org/10.1016/S0169-7552(98)00110-X.         [ Links ]

Ciampaglia, Giovanni Luca et al. "How Algorithmic Popularity Bias Hinders or Promotes Quality." Scientific Reports vol. 8, no. 15, 2018, art. no. 15 951. DOI: https://doi.org/10.1038/s41598-018-34203-2.         [ Links ]

De Nooy, Wouter. "The dynamics of artistic prestige." Poetics vol. 30, no. 3, 2002, pp. 147-67. DOI: https://doi.org/10.1016/ S0304-422X(01)00044-4.         [ Links ]

_________. "Fields and networks: correspondence analysis and social Network analysis in the framework of field theory." Poetics vol. 31, no. 5-6, 2003, pp. 305-27. DOI: https://doi.org/10.1016/S0304-422X(03)00035-4.         [ Links ]

Du Plooy, Heilna. "Die beeld is duursamer as die begrip." LitNet Akademies Geesteswetenskappe vol. 11, no. 2, 2014, pp. 526-52. https://www.litnet.co.za/die-beeld-is-duursamer-as-die-begrip/.         [ Links ]

Even-Zohar, Itamar. "Polysystem Theory." Poetics Today vol. 1, no. 1/2, 1979, pp. 287-310. DOI: https://doi.org/10.2307/1772051.         [ Links ]

Fraiberger, Samuel P. et al. "Quantifying reputation and success in art." Science vol. 362, no. 6416, 2018, pp. 825-29, DOI: https://doi.org/10.1126/science.aau7224.         [ Links ]

Giuffre, Katherine. "Sandpiles of Opportunity: Success in the Art World." Social Forces vol. 77, no. 3, 1999, pp. 815-32, DOI: https://doi.org/10.2307/3005962.         [ Links ]

Goodfellow, Ian, Bengio, Yoshua & Courville, Aaron. Deep learning. MIT P, 2016.         [ Links ]

Hu, Yifan. "Algorithms for visualizing large networks." Combinatorial Scientific Computing, geredigeer deur Uwe Naumann & Olaf Schenk. Chapman and Hall/CRC, 2012, pp. 525-49. DOI: https://doi.org/10.1201/b11644-20.         [ Links ]

Janssen, Susanne. "In het licht van de kritiek. Variaties en patronen in de aandacht van de literatuurkritiek voor auteurs en hun werke." Proefskrif. U Tilburg, 1994.         [ Links ]

Johl, Ronel. "Skrywersbibliografieë, grootdatanetwerke en die posisie van skrywers soos N P van Wyk Louw in die literêre kanon." Tydskrif vir Geesteswetenskappe vol. 60, no. 2, 2020. DOI: https://doi.org/10.17159/2224-7912/2020/v60n2a18.         [ Links ]

Kackovic, Monika et al. "Third-Party signals and sales to expert-agent buyers: Quality indicators in the contemporary visual arts market." International Journal of Research in Marketing vol. 37, no. 3, 2020, pp. 587-601, DOI: https://doi.org/ https://doi.org/10.1016/j.ijresmar.2019.11.001.         [ Links ]

Kleyn, Leti. "'n Sisteemteoretiese kartering van die Afrikaanse literatuur vir die tydperk 2000-2009: Kanonisering in die Afrikaanse literatuur." Proefskrif. U Pretoria, 2013. http://hdl.handle.net/2263/32714.         [ Links ]

Koch, Jerzy. "Komparatistiese klassifikasie, of die dampkring van die Afrikaanse literêre historiografie." Stilet vol. 26, no. 1, 2014, pp. 32-57.         [ Links ]

Koen, D. "Siende Blind." Tydskrif vir Letterkunde vol. 51, no. 2, 2014, p. 191. DOI: https://doi.org/10.4314/tvl.v51i2.21.         [ Links ]

Lotka, Alfred. "The Frequency Distribution of Scientific Productivity." Journal of the Washington Academy of Sciences vol. 16, no. 12, 1926, pp. 317-24.         [ Links ]

Martindale, Colin. "Fame More Fickle than Fortune: On the Distribution of Literary Eminence." Poetics vol. 23, 1995, pp. 219-34.         [ Links ]

Merton, Robert. "The Matthew Effect in Science: The reward and communication systems of science are considered." Science vol. 159, no. 3810, 1968, pp. 56-63. DOI: https://doi.org/10.1126/science.159.3810.56.         [ Links ]

Nash, Andrew. "Zen Communist: Breyten Breytenbach's View from Underground." Tydskrif vir Letterkunde vol. 46, no. 2, 2009, pp. 11-27. DOI: https://doi.org/10.4314/tvl.v46i2.44411.         [ Links ]

Odendaal, Bernard. "Nawerkings van Herman Gorter se Mei (1889) en Verzen (1890) in die Afrikaanse digkuns." Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans vol. 23, 2016, pp. 3-31.         [ Links ]

Pareto, V. Le Cours d'Economie Politique. Macmillan, 1897.         [ Links ]

Rehúfek, R. & P. Sojka. "Software Framework for Topic Modelling with Large Corpora." Proceedings of the LREC Workshop on New Challenges for NLP Frameworks, University of Malta, 2010, pp. 45-50.         [ Links ]

Salganik, Matthew J. et al. "Experimental Study of Inequality and Unpredictability in an Artificial Cultural Market." Science vol. 311, no. 5762, 2006, pp. 854-56, DOI: https://doi.org/10.1126/science.1121066.         [ Links ]

Salganik, Matthew J. & Duncan J. Watts. "Leading the Herd Astray: an Experimental Study of Self-fulfilling Prophecies in an Artificial Cultural Market." Social Psychology Quarterly vol. 74, no. 4, 2008, pp. 338-355. DOI: https://doi.org/10.1177/019027250807100404.         [ Links ]

_________. "Web-based Experiments for the Study of Collective Social Dynamics in Cultural Markets." Topics in Cognitive Science vol. 1, no. 3, 2009, pp. 439-68, DOI: https://doi.org/10.1111/j.1756-8765.2009.01030.x.         [ Links ]

Schmidt, Siegfried. "A Systems-orientated Approach to Literary Studies." Canadian Review of Comparative Literature vol. 24, no. 1, 1997, pp. 119-36.         [ Links ]

Senekal, Burgert. Canons and Connections: A Network Theory Approach to the Study of Literary Systems with Specific reference to Afrikaans poetry. New Academia, 2014.         [ Links ]

_________. "Die hedendaagse Afrikaanse poësiesisteem: Op soek na die mees verteenwoordigende wiskundige model van die rol- spelerverhoudings daarbinne." Tydskrif vir Geesteswetenskappe vol. 57, no. 1, 2017, pp. 168-86. https://doi.org/10.17159/2224-7912/2017/v57n1a13.         [ Links ]

_________. "Die kwantifisering en toepassing van modulariteit in die Afrikaanse filmbedryf (1994-2014) as 'n komplekse netwerk." Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie vol. 34, no. 1, 2015, pp. 665-88. DOI: https://doi.org/10.4102/satnt.v34i1.1305.         [ Links ]

_________. "Straatnaamgewing en -verandering, padnetwerke en die Afrikaanse literêre kanon: Langenhovenpark in Bloemfontein as literatuurgeskiedenis." Nomina Africana vol. 30, no. 3, 2016, pp. 61-80.         [ Links ]

_________. "'n Netwerkontleding van die Afrikaanse poësienetwerk vanaf 2000 tot 2012." Stilet vol. 25, no. 2, 2013, pp. 99-124.         [ Links ]

Senekal, Johannes. "Literatuuropvattings: 'Wese' en 'waarhede' van 'n nuwe literêre teorie." Proefskrif. U Vrystaat, 1987.         [ Links ]

Taljaard-Gilson, Gerda. "Symbolic values of the dog in Afrikaans literature." Tydskrif vir Letterkunde vol. 55, no. 3, 2018. DOI: https://doi.org/10.17159/2309-9070/tvl.v.55i3.5506.         [ Links ]

Teige, Ola. "Nettverk. En introduksjon til historisk nettverksanalyse." Norsk Slektshistorisk Tidsskrift vol. 43, no. 3, 2013, pp. 139-57.         [ Links ]

Van Coller, H. P. "Is Leroux 'n vergete skrywer?" Stilet vol. 16, no. 1, 2004, pp. 1-31.         [ Links ]

Van Heerden, Neil. "Misdaadfiksie en die literêre kanon in Afrikaans: 'n Ondersoek na aanleiding van die romans van Deon Meyer." Proefskrif. U Pretoria, 2017. http://hdl.handle.net/2263/65615.         [ Links ]

Venter, Rudi. "Die materiële produksie van Afrikaanse fiksie (1990-2005): 'n Empiriese ondersoek na die produksieprofiel en uitgeweryprofiel binne die uitgeesisteem." Proefskrif. U Pretoria, 2006. http://hdl.handle.net/2263/26989.         [ Links ]

Verboord, Marc. "Classification of authors by literary prestige." Poetics vol. 31, no. 3-4, 2003, pp. 259-81. DOI: https://doi.org/10.1016/S0304-422X(03)00037-8.         [ Links ]

Verboord, Marc, Susanne Janssen en Kees van Rees. "Indicatoren voor classificatie in het culturele en literaire veld." De Productie van Literatuur. Het literaire veld in Nederland 1800-2000, geredigeer deur Gillis J. Dorleijn & Kees van Rees. Vantilt, 2006, pp. 285-310.         [ Links ]

Viljoen, Louise. "Digterlike gesprekke met Van Wyk Louw." Tydskrif vir Geesteswetenskappe vol. 48, no. 3, 2008, pp. 267-91. http://ref.scielo.org/7wcq6v.         [ Links ]

Von Bertalanffy, Ludwig. General System Theory: Foundations, Development, Applications. George Braziller, 1969.         [ Links ]

Wang, Xindi et al. "Success in books: predicting book sales before publication." EPJ Data Science vol. 8, no. 1, 2019, p. 31. DOI: https://doi.org/10.1140/epjds/s13688-019-0208-6.         [ Links ]

Yucesoy, Burcu & Albert-László Barabási. "Untangling performance from success." EPJ Data Science vol. 5, no. 1, 2016, p. 17. DOI: https://doi.org/10.1140/epjds/s13688-016-0079-z.         [ Links ]

Zipf, George. Human Behavior and the Principle of Least Effort. Addison-Wesley, 1949.         [ Links ]

 

 

Submitted: 23 March 2021
Accepted: 15 June 2021
Published: 12 October 2021

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons