SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.58 número1Lagos Noir (Chris Abani)Like a mule bringing ice cream to the sun (Sarah Ladipo Manyika) índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Letterkunde

versión On-line ISSN 2309-9070
versión impresa ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.58 no.1 Pretoria  2021

http://dx.doi.org/10.17159/tl.v58i1.10424 

BOOK REVIEWS

 

Pienk ceramic-hondjies

 

 

Ryan Pedro. Kaapstad: Kwela, 2020. 72 pp. ISBN 9780795709869.

Met die verskyning van sy digdebuut, Chokers en survivors (2013) het ek vir Nathan Trantraal in 'n onderhoud vir BY gevra hoe hy oor die Groot verseboek voel. Is dit nodig om kennis van die Afrikaanse kanon te hê om te kan dig in Afrikaans? Trantraal het geantwoord met 'n aanhaling van Dorothy Parker: "It is not a book to be tossed aside lightly. It should be thrown with great force" (Trantraal, aangehaal in Marais 97).

Die openingsgedig van Ryan Pedro se debuut, Pienk ceramic-hondjies, doen dít met berekende oorgawe. "Portret van 'n coloured laitie as 'n mixtape" is nie net 'n terloopse, implisiete middelvinger aan Opperman en Brink se kanon en 'n literêre skop tussen die bene nie-dis ook 'n trefseker, taalgewelddadige inleiding in die tematiek en die konsep van 'n digbundel wat as 'n "mixtape" aangebied word:

maar dis alles in die stiltes so beheer

jou breathing tussen tracks,

selfs die lui gesleep van 'n hondeketting

oor die agterjaart as jy kan

want dis in die stiltes

wat hulle jou nooit gaan sien kom nie

daai paar seconds net voor

die beat drop

die bass alles in

sy poes in skop (13)

Die openingsgedig, met sy verwysing na die sentrale hondemetafoor in die bundel, is dus ook 'n aanduiding van ambisie en 'n agting vir vakmanskap, afwerking en sofistikasie binne 'n ander konteks as die gebruiklike literêre norme vir deurdigte, vormvaste poësie. Nathan Trantraal, wat die (met 'n Goue Pendoring-bekroonde) omslag ontwerp het, beskryf Pienk ceramic-hondjies dan ook op die flapteks as 'n bundel "geskryf mettie craftsmanship vanne violin maker, ennie cool vanne underground hip hop artist".

Diegene wat vrye praatverse nie met vakmanskap kan versoen en hip hop nie ernstig opneem nie, sal waarskynlik verskil, maar Pedro se debuut getuig inderdaad van fyn afwerking en stembeheer.

Pedro span hip hop-lirieke van, onder andere, Drake, Pharrell, Kendrick Lamar, Ja Rule en Tupac Shakur as die belangrikste en, op enkele uitsonderings na, enigste intertekste in en wys hoe 'n goeie "mixtape" 'n merkwaardige eenheidsbundel rondom temas van bruin identiteit, manlikheid, geweld en klas- en rassespanning kan vorm.

In 'n onderhoud met Mercy Kannemeyer wat op Klyntji.com verskyn het, gee Pedro te kenne dat die gedigte in die "Side A"-afdeling in Kakamas afspeel; "Side B" se verse aan die Weskus (Vredenburg/Saldanha)-die wêrelde waarin die digter sy grootwordjare deurgebring het. Daar is ook 'n "Interludes en Leaks"-afdeling in die middel, en 'n "Bonus joint" ten slotte, met skerpsinnig meditasies oor die rolle wat die verbruikerskultuur, Jordan-tekkies en haarstyle as merkers vir identiteit en manlikheid speel. In die slotgedig, "By die barbershop", word die spreker se heftig gemengde gevoelens oor sy pa, sy herkoms en die simboliese rol van hare en haarstyle sekuur verwoord.

Pedro sê teenoor Liné Loff in 'n onderhoud op LitNet: "Ek't op universiteit my eerste régte poem geskryf dieselfde dag toe ek Bukowski discover het. En na ek [Nathan Trantraal] se Chokers en survivors gelees het, het ek vir die eerste keer gedink ek kan 'n boek skryf wat vir iemand iewers iets gaan beteken."

Daar is eggo's van beide hierdie digters in Pedro se werk, maar dis veral Trantraal se onsentimentele barskyk op liefde, wanfunksionele families en die Suid-Afrikaanse samelewing waarby hierdie verse aansluiting vind. Pedro is egter geen blote akoliet nie. Hy druk sy eie stempel af en dis veral sy spel met registers wat beïndruk.

Wat die invloedryke Amerikaanse kritikus James Wood (148) oor prosa in How Fiction Works skryf, geld ook vir Pedro se debuut: "One way to tell slick genre prose from really interesting writing is to look, in the former case, for the absence of different registers. [...] Rich and daring prose avails itself of harmony and dissonance by being able to move in and out of place."

Pedro span registerwisseling vaardig in om sowel karakters te teken as atmosfeer te skep en klasseverskille aan te dui. Hy dig nie in Kaaps nie, maar lê fonetiese spelling en streekstaal bewus spesifieke karakters in die mond, byvoorbeeld Mister Williams in "By Mister Williams se huiswinkeltjie", die pa in die aangrypende "Die dag toe Uncle Fanta vir homself opgestaan het" en "Ôs gaan hystoe":

as my pa gesê het ôs

het ek altyd oor my skouer gekyk

as my pa gesê het gan

het my bene skielik ophou werk

as my pa gesê het hystoe het ek nooit geweet van waar

hy praat nie (45).

Ook die gewelddadige familielid Alex kry bloedstollend via sy taalgebruik lewe in die verpletterende "Ons is nie meer mense wat sing nie".

Pedro se bundel onderstreep Wallace Stevens se woorde oor poësie en die verbeelding as 'n vorm van psigiese selfverdediging: "It is a violence from within that protects us from a violence without. It is the imagination pressing back against the pressure of reality" (aangehaal in Popova). Deur sy fyn deurdagte hantering van registerwisseling wys Pedro egter ook hoe kru taal en verskillende variëteite van Afrikaans net so hard soos poësie skop in en teen klas en die bitter werklikhede van strukturele ekonomiese geweld.

In die uitstaande "Ludacris se feature op Mary J. Blige se 'grown woman' as 'n title vir die poem en other ironies", wat draai om die affair van 'n bruin jongman met 'n gesiene boer in die distrik se vrou, word die boer ten slotte in sy eie "suiwer" standaard-Afrikaans gekonfronteer met die skreiende ironieë van die grondkwessie en die vooraanstaande posisie wat hy in 'n vergiftigde samelewing beklee:

beste oom

dankie vir die groen wingerde tussen hier en Alheit dankie vir vanjaar se groot oes

dankie vir die rugbytruie, toksakke, en die lemoene vir halftyd

dankie vir die werk wat oom skep in die gemeenskap dankie vir die grawe, die pikke, die vurke in ons hande in ons grond

dankie vir die sterk seuns wat ons ma's en pa's klokslag huis toe ry op sinkplaatpaaie die bloedrooi horison in

dankie vir die tralies agter op die hilux

dankie vir die eensame vrouens wat naai asof dit hulle

laaste keer is

dankie vir alles wat oom vir Kakamas doen (35-6).

Die beste verse in die bundel, waaronder laasgenoemde, "Antie Lisbeth" en "Saterdag" tel, getuig van vlymskerp waarneming en treffende metafore wat in konkrete besonderhede geanker is. In die titelgedig is honde sowel vreesaanjaende simbole van apartheid se polisiegeweld as kitch kaggelkak tipies van baie huise wat in die skadu van die vorige regime gebou is.

Die hondemetafoor word ook treffend ontgin in "om vir jou wit tjommies te moet verduidelik hoekom daar 'n hond aan 'n ketting in die backyard vasgemaak staan op 'n manier wat hulle gaan verstaan." In "portret van 'n coloured laitie en sy wit tjommies as cassius marcellus coolidge se dogs playing poker'" is dié hondebeeld egter nie so geslaagd nie. Die vers maak binne 'n slim konstruksie 'n minder genuanseerde stelling oor kleur, terwyl dit by eersgenoemde voel of die beeld van die hond in die agterplaas uit die lewe geskeur is.

Ryan Pedro se merkwaardige debuut het 'n "bass wat skop / soos 'n blonde kind in die boot" van 'n "gedropte Honda Civic" (17) ("Die keer toe headphones alles beter gemaak het"). Dis 'n roerende grootwordverhaal wat kil en geregverdigde taalgeweld kombineer met deernis en fyn elegieë vir uitgelewerde mense in ongenaakbare plekke. Pienk ceramic-hondjies is 'n bundel wat die leefwêreld en trefwydte van Afrikaanse poësie verruim.

Danie Marais

danie.marais@gmail.com

Stellenbosch, Suid-Afrika

ORCID: https://orcid.org/0000-0001-7753-528X

 

Geraadpleegde bronne

Kannemeyer, Mercy. "'n Gesprek met Ryan Pedro oor pienk ceramic-hondjies". Kyntji. 2 Nov. 2020. https://klyntji.com/joernaal/2020/11/2/ryan-pedro-pienk-ceramic-hondjies?rq=ryan°/o20pedro.         [ Links ]

Loff, Liné. "Pienk ceramic-hondjies deur Ryan Pedro: 'n onderhoud". LitNet. 21 Okt. 2020. https://www.litnet.co.za/pienk-ceramic-hondjies-deur-ryan-pedro-n-onderhoud/.         [ Links ]

Marais, Danie. Pruimtwak enskaduboksers-rubrieke, heildronke en nagedagtes. Tafelberg, 2015.         [ Links ]

Popova, Maria. "Wallace Stevens on Reality, Creativity, and Our Greatest Self-Protection from the Pressure of the News". Brain Pickings. 12 Jun. 2017. https://www.brainpickings.org/2017/06/12/wallace-stevens-the-necessary-angel-imagination-reality/.         [ Links ]

Wood, James. How Fiction Works. Jonathan Cape, 2008.         [ Links ]

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons