SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.58 issue1Literature and the Law in South Africa, 191-2010This mournable body (Tsitsi Dangarembga) author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.58 n.1 Pretoria  2021

http://dx.doi.org/10.17159/tl.v58i1.9422 

BOOK REVIEWS

 

Innie Shadows

 

 

Olivia M. Coetzee. Kaapstad: Modjaji Books, 2019. 144 pp. ISBN 9781928215929.

Olivia M. Coetzee skep in haar debuutroman, Innie Shadows, 'n fiktiewe gemeenskap waar minder-heidsgroepe steeds deur die onderdrukkende ideologiese oortuigings van die verlede affekteer word. Innie Shadows is die eerste Kaapse Afrikaanse roman wat lig skyn op die lewens van Bruin queermense en hoe hulle gender en seksualiteit oorkruis met ander maatskaplike kwessies. Die roman speel af in 'n gemeenskap-die Shadows-wat gekarakteriseer word deur armoede, dwelmmisbruik en geweld. Opsommenderwys is die roman gesentreerd rondom 'n groep vriende wat bekommerd is oor die skielike verdwyning van hul vriend Carl en wat wroeg met die onsekerheid oor sy veiligheid, te midde van nuus oor 'n reeks grusame en geheimsinnige moorde in hulle gemeenskap.

Innie Shadows sluit aan by vorige literêre werke oor die Kaapse Vlakte in die hantering van temas soos armoede, geweld en alkohol- en dwelmmisbruik. Daar kan byvoorbeeld verwys word na kontemporêre tekste soos Noudat slapende honde (Ronelda Kamfer), Chokers en Survivors (Nathan Trantraal), Nomme 20 Delphistraat (Shirmoney Rhode), Kristalvlakte (Amy Jephta) en Kinnes (Chase Rhys). Anders as in al hierdie werke, voeg Coetzee bykomende tematiese dimensies tot haar verhaal, naamlik geloof, genderidentiteit en seksuele oriëntasie. Op byna 'n kinematiese wyse verken Coetzee die verhouding tussen queerheid en verskeie vorms van geweld, soos dit soms uitspeel in gemeenskappe wat sukkel met ander maatskaplike kwessies.

In Nathan Trantraal se debuutbundel Chokers en survivors (2014) verskyn daar 'n roerende gedig getiteld "bunnies", wat baie queer mense se grootste vrees en ander se daaglikse ervaringe beskryf. Die laaste strofe se eerste drie reels is veral hier relevant:

[...], wan isse unwritten law

dat as jy 'n bunny oppie veld sien,

dan mag jy hom met klippe gooi. (44)

Die teenwoordigheid en veral die sigbaarheid van die "bunny" ontwrig die sosiale norm waarvolgens queerheid en queer lewens tot die skadu's verstoot word. Daarom is die titel van Innie Shadows uiters funksioneel, want dit verklaar op 'n veelvoudige vlak die posisionering van minderheidsgroepe.

Elke hoofstuk in die roman fokus hoofsaaklik op een karakter en bied die leser die geleentheid om die Shadows vanuit verskillende perspektiewe waar te neem. In die eerste hoofstuk ontmoet ons vir Veronique 'Nique' Plaatjies, 'n transgender vrou wat onlangs 'n seksheraanpassingsoperasie ondergaan het (4). Deur Nique se perspektief kry die leser reeds insig in die probleme waarmee dié vriendekring sukkel. Daar is Gershwin se stormagtige verhouding met sy gelowige ma en Carl wat vasgevang is in 'n dwelmverslawing. Nique is in 'n verhouding met Balla-'n getroude man en die grootste gangster in die Shadows (2). Sy noem dat sy nooit haar verhouding bespreek nie, maar is ook bewus daarvan dat almal in die Shadows van hulle verhouding weet (25). Hier is daar reeds sprake van queerheid en queer verhoudings wat in die skadu's uitgeleef word. Ander karakters wat ook hul queer verhoudings in die skadu uitleef, sluit in Ley en haar meisie wat skelm saamwoon, Ley se verhouding met Sara en Gershwin se verhouding met 'n belangrike figuur in die gemeenskap.

Alhoewel Balla se aanvaarding van Nique voor én na haar operasie noemenswaardig is, kan dit nie opmaak vir die feit dat hy eintlik 'n seksuele predator is nie. Ondanks Nique se romantisering van hul eerste keer, toon haar beskrywing op seksuele geweld: "Sy het gesê sy moet loep, maa hy wou niks hoo nie. Sy het niee gesê, maa Balla vat wat hy wil hê. [...] Daai dag het sy hom hard proebee om hom weg druk, maa soe mee sy proebee het, hoe hader het hy haa vasgedruk" (27). Haar beste vriend Carl werk vir Balla en moes telkemale teen sy wil op sy knieë gaan om vir Balla seksueel te bevredig (50).

Een van die sterkste aspekte van die roman is die menslikheid en egtheid waarmee Coetzee oor die kwessie van dwelmmisbruik skryf. Myns insiens is Carl die mees volronde en komplekste karakter in die roman. As gevolg van sy half-bewustelose toestand tydens sy verdwyning, ervaar die lesers sy gedagtestroom saam met hom. Sodoende leer ken ons vir Carl en hy vertel van sy ma se droom van 'n boonste verdieping-woonstel "om hoër te bly as al haa proebleme" (99), sy ingewikkelde verhouding met Nique en hoe hy in die kloue van Tik beland het. Carl vergryp homself aan Tik na die dood van sy ouers: "'n Mens dink mos nooit dat dinge sal gebee soes dit gebee nie. Net soes ôssie geplan het om vi Mammie en Dêddie soe vroeg te veloo nie. Ek hettie geplan om myself te vekoep vi Tikkie (103)."

Carl het die eerste keer gerook op die landjie, want dit herinner hom aan sy jonger sorgelose dae. Tog is dit juis sy dwelmmisbruik wat na meer sorge lei.

Met die verloop van die verhaal word die tema van religieuse konserwatiwiteit meer prominent en ekstreem. Dit word veral gestuur deur Gershwin se ma, Rose. Volgens Rose "probee sy om hom te help, ommie op te eindig soes die vullis waamie hy vrinne issie, ve'al die duiwel wat met Got se hannewêk gemos het" (32), met laasgenoemde wat verwys na Nique en haar operasie. Haar brutale verbale aanvalle op Gershwin en haar obsessie met pastoor Richard, maak haar blind vir die skynheiligheid van die pastoor. Soortgelyk aan werklike huigelaars soos Tom Brock, Albert Odulele en Keith O'Brien (Ogles), is pastoor Richard ook besig om die kat in die donker te knyp. Dit is hiér waar lesers gekonfronteer word met 'n nodige gesprek rondom menslike skynheiligheid, moraliteit en die religieuse selotisme wat in die skadu's van ons gemeenskappe skuil.

Ten spyte van die ietwat lomp slot van die verhaal, skryf Olivia M. Coetzee hier 'n verfrissende roman wat lesers dwing tot introspeksie oor ons rol in die voortbestaan van onderdrukkende ideologiese oortuigings. Soos Sara se pa sê, "soms kry 'n mens 'n boek en daai boek kan mens nie net een kee lies nie, djy lies dit jou hele liewe lank, wan daa is te veel om te vestaan" (16). Innie Shadows is só 'n roman wat nog 'n lees verg. Die outentieke dialoog maak vir 'n boeiende en genotvolle leeservaring. Dit is 'n sterk debuut wat my opgewonde maak oor wat nog in haar pen skuil.

Earl Basson

bassonea@cput.ac.za

Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie

Kaapstad, Suid-Afrika

ORCID: https://orcid.org/0000-0001-8181-4775

 

Geraadpleegde bronne

Ogles, Jacob. "18 Homophobic Leaders Who Turned Out to Be Gay or Bi." Advocate. 24 Mei 2018. https://www.advocate.com/politicians/2018/5/24/18-homophobic-leaders-who-turned-out-be-gay-or-bi#media-gallery-media-3.         [ Links ]

Trantraal, Nathan. Chokers en survivors. Kwela, 2014.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License