SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.57 issue2Die nuwe Afrikaanse prosaboekTownship Girls: The Cross-Over Generation author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.57 n.2 Pretoria  2020

http://dx.doi.org/10.17159/2309-9070/tvl.v.57i2.8534 

BOOK REVIEWS
https://doi.org/10.17159/2309-9070/tvl.v.57i2.8534

 

Vervleg

 

 

Petro Hansen. Pretoria: Protea Boekhuis, 2019. 205 pp. ISBN 978-1-4853-1082-2.

Die 96 rubrieke in Petro Hansen se versamelbundel, Vervleg, is 'n keur uit haar rubrieke vir Die Burger en Beeld wat vanaf 2012 gepubliseer is. Met 'n inskrywing op haar Facebookblad oor 'n oom en tannie wat vakansie hou by Klein-Kariba in hulle karavaan genaamd Bederf, begin Hansen se rubriekskrywery vir Die Burger. Hierdie Facebookinskrywing word raakgesien deur Willem Jordaan en daar gaan die deur vir haar oop.

In 2018 word Hansen vereer met die Orde van die Beiteltjie van die Afrikaanse Woordkunsakademie deur die Cordis-trust vir haar uitsonderlike bydrae tot Afrikaans. Keurige Afrikaans wat beelde van liefde, familie en verlange oproep, dra by tot 'n ryk versameling sketse wat by die leser 'n klokhelder oomblik voor die geestesoog oproep.

Herinnering, nostalgie, melankolie en heimwee is temas wat in die rubrieke verken word. Vir sekere Suid-Afrikaanse lesers sal Hansen se bundel telkens bekende beelde oproep van roadtrips (maar hier met 'n melankoliese kinkel van haar pa wat nie meer bel om te hoor waar trek hulle nie) in "'n Brief vir Pa", stop by 'n padstal vol verrassings in "Die aand van die padstal", die verlange na haar afgestorwe pa op Klein-Brak in "Die dood maak 'n stom hart praat", en ou films wat die hartsnare roer in die herinnering aan die laaste film wat sy en haar pa saam gekyk het in "Ek, Pa en Pablo". Hulle kyk Il Postino, die pragtige film wat handel oor 'n eenvoudige posman se verhouding met die digter Pablo Neruda, wat die fokus op die poësie plaas. So baie poësie word by die sketse ingeweef: van Pablo Neruda tot Ingrid Jonker en die onverwagte herinnering aan Johannes Kerkorrel se Hillbrow. Die straat voor 'n boekwinkel word poëties beskryf as 'n verwaarloosde kind: vuil en bemors.

Boeke, woorde en stories word die draadjie deur die bundel. Van Dominique Botha se Valsrivier wat langs Hansen se pa se bed lê na sy afsterwe tot die onverwagte fonds van 'n Afrikaanse digbundel van Ingrid Jonker tussen al die Engelse boeke in 'n boekwinkel in Johannesburg, wat maak dat sy "skielik [...] tuis[voel] in dié omgewing." Dit is asof elke boek 'n baken in die landskap van herinnerings is.

Maar, 'n vraag wat telkens by hierdie leser opgekom het, is wat die doel van so 'n versameling is? 'n Rubriek is 'n weeklikse of maandelikse opiniestuk of artikel wat in 'n koerant of tydskrif gepubliseer word. Dit gee gewoonlik die opinie of standpunt van die skrywer weer. Op sig beurt sluit dit aan by die essay of kunsopstel waarin die skrywer dikwels kommentaar lewer op 'n aktuele probleem, verskynsel of rariteit waaroor hulle besin. Party essays het ten doel om die leser van 'n bepaalde standpunt te oortuig of om 'n gesprek of debat te stimuleer. Wat laasgenoemde betref, vind die rubrieke of essays van Sonja Loots byvoorbeeld veel meer aanklank by hierdie leser. Haar kritiese blik op aktuele hebbelikhede laat die leser altyd met iets tot nadenke. Óf uit gedeelde irritasie, óf omdat jy glad nie met die skrywer saamstem nie.

Ander rubrieke wil slegs 'n storie vertel of op humoristiese wyse 'n herinnering by die leser oproep. Dit is in hierdie kategorie waarin Hansen se bundel val. Soos Dana Snyman op Vervleg se voorblad beweer: "Petro Hansen kyk met genadige oë na die land en skryf aangrypend oor gewone dinge. Haar vertellings is heerlik geanker in die hede."

'n Voorbeeld van 'n humoristiese vertelling kan gesien word in "Die inhoud van 'n vrou se handsak kan 'n nasie red!" Die handsak word beskryf as 'n Pandora se boks waaruit skatte onder die mees desperate omstandighede te voorskyn gebring kan word. Amper nes die pa by die krieketwedstryd wat rondry met 'n sak "noodgeval"-houtskool in die bak van sy kar-net ingeval hy skielik lus is om te braai!

Hansen beskryf haarself as die kind van 'n matroos. Haar pa was in die vloot en sy het grootgeword in 'n weermaghuis vol liefde en dit is hierdie liefde wat sy as kind in oorvloed in haar huis beleef het, wat haar die woorde gegee het waarmee sy toor. Met 'n liefde vir die bosveld, maar met soutwater wat deur haar are vloei, speel landskap 'n groot rol in haar onthou.

Dit kom egter by tye voor of dit die landskap is van 'n wit, middelklas vrou wat swaarkry en seerkry van 'n afstand af beskou. Daar word gepoog om om te gaan met moeiliker temas, soos 'n ouer wie se kind in die tronk is of te besin oor die motiewe van 'n sinnelose daad ("Agter tralies bly hy steeds my kind" en "Hoekom, Henri?"), maar dit voel of dit altyd geskied vanuit die gemak van "my Bosveldtuin". In "Joy het nooit gegroet nie" skyf Hansen oor haarself, "Geseënd is die kinders wat in huise grootgeword het waar mense nie op velkleur getipeer is nie. Kinders soos ek." Dit laat die kritiese leser 'n wenkbrou lig. In "Koerantverkoper, waar kom jou lag vandaan" vra sy tog selfondersoekend, "So, Edward, jy met die dun baadjie om jou skouers, sê my net asseblief, hoekom is ek die een wat swaar oor die lewe sug en jy die een met die alewige vrolike glimlag op jou gesig?"

Die skep van emosie gebeur by Hansen nie net deur woorde nie. Sy is ook 'n kunsfotograaf. Dit is dus nie net deur haar rubrieke wat sy iets wil vertel nie, maar ook deur die fotografiesebeelde watsy skep. Die voorbladfoto is een van haar eie en deel van hierdie jarelange passie waar sy veral hou van die interpretasiemoontlikhede wat deur die kyker self geskep word. Betekenisgewing en betekenismoontlikhede is dus vryer in haar foto's as wat sy regkry met haar rubrieke. Dit sou vir hierdie leser interessant wees om haar fotografíe te vergelyk met haar skryfwerk. Ek vermoed 'n rouer eerlikheid sou dalk na vore tree.

Die titel van die bundel kom van 'n gedig wat Hansen op 'n jong ouderdom vir haar ma geskryf het. Dit gaan oor haar ma se liefde vir hulle wat deur al haar kinders se lewens vervleg is. As mens is emosie en liefde ook deur jou lewe vervleg. Dit is hierdie raakvat van emosie en die eerlikheid waarmee Hansen dit verwoord, wat haar rubrieke leesbaar, maar ook eg en tog herkenbaar maak vir die lesersmark waarvoor die bedoel is.

Die rubrieke sal aanklank vind by 'n wye leesgehoor. Die akademiese leser sal miskien die intertekstuele verwysings geniet wat toelaat dat herinnering en letterkunde, kuns en landskap saamvloei en 'n dieperliggende betekenis aktiveer. Dit het egter by tye 'n gevoel van name dropping, veral as 'n bekende akademikus se blote teenwoordigheid die stilte in 'n lesingsaal met sy gesag vul.

Ilse de Korte

ilse.dekorte@nwu.ac.za

Noordwes-Universiteit

Vanderbijlpark, Suid-Afrika

ORCID: https://orcid.org/0000-0002-9643-3390

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License