SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.57 issue2BosVervleg author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.57 n.2 Pretoria  2020

http://dx.doi.org/10.17159/2309-9070/tvl.v.57i2.8424 

BOOK REVIEWS
https://doi.org/10.17159/2309-9070/tvl.v.57i2.8424

 

Die nuwe Afrikaanse prosaboek

 

 

Sonja Loots & Steward van Wyk (reds.). Kaapstad: Human & Rousseau, 2019. 688 pp. ISBN 978-0-7981-7808-2.

"Hierdie versameling wil 'n viering van verskeidenheid wees", skryf die samestellers in die inleiding tot hierdie belangwekkende boek. Wanneer 'n mens na die inhoudsopgawe kyk, is dit duidelik dat die beskrywing gepas is. Die bundel bevat 'n seleksie van prosastukke deur 'n wye verskeidenheid van skrywers: van Anna M. Louw, T. T. Cloete en Nathan Trantraal, tot Dana Snyman, Nataniël en Fransi Phillips. Langs volledig gekanoniseerde werke, verskyn tekste deur heel nuwe prosaïste soos Sisca Julius en Maruanda Wynne. Verder word doelbewus genoegsame bladspasie toegeken aan skrywers wat voorheen gemarginaliseer is, soos vroue, queer-skrywers en skrywers wat in die verskillende omgangsvariëteite van Afrikaans skryf. Die samestellers het hulle ook nie laat inperk deur genrebeskrywings (soos 'die kortverhaal') nie, aangesien die tekste wat opgeneem is die breë beskrywing van 'prosas' dra. Dit blyk dus dat verskeidenheid inderdaad die belangrikste rigtinggewende oorweging vir die samestellers was; verskeidenheid wat nuwe weë baan en opwindende moontlikhede oopmaak.

Die keuse om so 'n versameling byeen te bring en dit die sterk titel, Die nuwe Afrikaanse prosaboek te gee, is veelseggend. Die titel plaas die bundel naamlik onvermydelik en direk in gesprek met Die Afrikaanse Kortverhaalboek van Abraham H. De Vries, wat reeds sy sewende, hersiene uitgawe beleef. 'n Mens kan kwalik hierdie boek optel sonder om te wonder hoe dit ooreenstem en tot hoe 'n mate dit verskil van De Vries se versameling. Alhoewel die verhale in Die nuwe Afrikaanse prosaboek nie (soos in De Vries) chronologies rangskik is nie, aktiveer die woord "nuwe" in die titel tog iets van tyd. Sou die woord "nuwe" in die titel verwys daarna dat al die verhale wat ingesluit is, dateer vanaf 1956 (die jaar waarin Jan Rabie se 21 verskyn), en daarom in 'n sekere sin as 'nuut' of kontemporêr bestempel kan word? Moet "nuwe" verstaan word as 'n direkte uitdaging, en 'n oproep om vernuwing? Of moet 'n mens "nuwe" dalk verstaan in terme van die modernistiese? Die struktuur van die versameling word immers gerig deur 'n seleksie uit die modernistiese 'prosas' in Rabie se invloedryke bundel 21. Die samestellers tree nie in hierdie verband voorskriftelik op nie, maar verduidelik dat die rangskikking van die verhale eerder 'n proses van "nuuskierig(e) nadink" (11) behels oor hoe 21 steeds 'n baken en gespreksgenoot van die Afrikaanse verhaalkuns is.

Een so 'n "nadink" kan wees om noukeurig na te speur hoe die verhale in elkeen van die afdelings nie net tematies nie, maar ook literêr-teoreties in gesprek tree met Rabie se 'prosas'. My gevoel is dat 'n mens interessante post-postmodernistiese afleidings sal kan maak wat verhelderend kan wees ten opsigte van die proses van bundelsamestelling, maar ook wat betref individuele verhale se interaksies met die Rabie-tekste. Rabie se modernistiese skryfwyse word naamlik in hierdie bundel herwaardeer te midde van die post-postmodernistiese tydsgees waarin dierestudies, queerstudies en posthumanistiese uitgangspunte beklemtoon word. Die uitgangspunt is nie 'n siniese en afwysende ingesteldheid ten opsigte van "ou" verhale uit die 1950's nie, maar 'n geleentheid waartydens nuwe en jong stemme konstruktief in gesprek tree met Rabie se verhale. So word die invloed van Rabie se bundel op die Afrikaanse literêre tradisie opnuut in erns ondersoek. Die gesprek rondom die invloed van die modernisme op die Afrikaanse literatuur is duidelik nog lank nie klaar nie.

Die nuwe Afrikaanse prosaboek se bydrae tot die gekompliseerde en betwiste proses van kanonisering is spesifiek interessant. Volledig gekanoniseerde verhale (alhoewel opvallend min) van gevestigde en bekende kortverhaalskrywers soos Abraham H. De Vries, Hennie Aucamp en Koos Prinsloo verskyn saam met nuwe stemme. Daarmee saam is kortverhale, sketse, essays en prosagedigte betrek, en die lengte van verhale het die keuse om insluiting daarvan nie negatief beïnvloed nie. Die seleksie sluit byvoorbeeld langer kortverhale in deur Marlene van Niekerk, S. J. Naudé en Nicole Jaekel Strauss. Die insluiting van verhale wat 'n volkse gevoel skep, soos dié van Dana Snyman en Nataniël, is verfrissend en sorg ook vir 'n breër leserskorps. Die feit dat die verhale tot 'n groot mate tematies saam gegroepeer is, vergemaklik die leeservaring nog verder. Dit is moontlik om al die verhale in 'n afdeling op een slag te lees, en die duidelike ooreenkomste sowel as die interessante en onverwagse verskille daarin raak te sien en te waardeer. Die beskrywing van die seleksie as 'n padkaart is in hierdie opsig paslik. Die samestellers verduidelik egter dat dit 'n "tentatiewe" en "verskuiwende" (14) padkaart is, wat daarop dui dat hulle hierdie versameling nie beskou as 'n standpuntinname wat betref kanonisering nie. Kanonisering is immers nooit 'n afgehandelde proses nie. Die nuwe Afrikaanse prosaboek is myns insiens 'n belangrike uitdaging van die kanon, maar nie met die doel om dit wat bekend en geliefd is te ondermyn nie. Dit is eerder 'n byvoeging en 'n verbreding. Dit is 'n poging om iets heel anders toe te voeg.

Die 'geslaagdheid' van hierdie strategie-van-verskeidenheid kan uit die aard van die saak uit verskillende invalshoeke bevraagteken word, en 'n mens kan jou ook afvra of al die verhale wat ingesluit is noodwendig ewe goed buite die konteks van hierdie boek sal kan funksioneer. Waarin die versameling duidelik slaag is om die uiteenlopendheid van die Afrikaanse verhaalkuns ten toon te stel. Die proses om in die konteks van hierdie versameling aktief 'n ruimte te skep waar 'n verskeidenheid stemme as gespreksgenote met mekaar kan optree, is prysenswaardig en broodnodig. Die ideaal sal wees dat daar in die toekoms nog soortgelyke 'nuwe' versamelings verhale (of 'prosas') sal verskyn wat hierdie proses voortsit, sodat die speelveld voortdurend vergroot kan word.

Die nuwe Afrikaanse Prosaboek is 'n lywige boek wat met sy helderpienk buiteblad daarop aandring om raakgesien te word. Dit is die moeite werd om ag te slaan, en die veelheid van stemme en narratiewe toe te laat om nuwe, verrassende en miskien selfs ongemaklike assosiasies te laat gedy.

Janien Linde

Janien.Linde@nwu.ac.za

Noordwes-Universiteit

Potchefstroom, Suid-Afrika

ORCID: https://orcid.org/0000-0003-2361-8957

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License