SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.57 número1Gam se tjind (Aubrey Cloete) índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Letterkunde

versão On-line ISSN 2309-9070
versão impressa ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.57 no.1 Pretoria  2020

http://dx.doi.org/10.17159/2309-9070/tvl.v.57i1.7849 

BOOK REVIEWS

 

 

Ek kom terug.

Adriaan van Dis. Vertaal deur Daniël Hugo.

Pretoria: Protea Boekhuis, 2018. 256 pp.

ISBN 978-1-4853-0767-9.

Ek kom terug is uit die Nederlands vertaal (ík kom terug [2014]). Soos in Adriaan van Dis se ander Indiese romans is daar weer 'n rekonstruksie aan die orde: die boek is 'n familiegeskiedenis, naamlik die verhaal van 'n seun (die ek-verteller) wat sy ma se storie wil neer-skryf. Die ma het in Nederlands-Indië oor die kleur-grens getrou. Die seun sê daaroor: "Haar lewe in die trope het my ook gelitteken. Ek is daar verwek. Die [In-donesiese onafhanklikheids]oorlog het jare lank saam met ons aan tafel geëet" (183).

Ek kom terug het nie 'n romantiese tempo doeloe-sfeer nie. Stories loskry, die soektog na 'n verlede en 'n identiteit, lyk soos rondskuiwery op 'n skaakbord. In die opening van die boek tref die ma haar seun gebuk-kend voor haar Nederlands-Indiese kis met 'geheime' aan, waar hy aan die geroeste slot karring. "Dit is my kis!", skreeu sy, "Ek onterf jou!" Tog wil sy terselfder-tyd "haarself verlos van 'n storie wat op haar gemoed lê" (164). 'n Sielkundige stel dit aan die seun: "Sy steek die sleutel weg, maar wil hê jy moet dit vind" (135). So begin die gestoot, getrek en gestoei.

Een van die boek se motto's is: "You must sacrifice your family on the altar of fiction" (David Vann). Dit is interessant dat Van Dis in 'n onderhoud met die Nederlandse koerant NRC stel dat die boek (outo) biografies is (Jaeger). Van Dis is in 1946 gebore van ouers wat mekaar in Nederlands-Indië leer ken het. Hy debuteer met die novelle Nathan Sid (1983), wat gaan oor sy Indiese jeug. Die onafhanklikheidsoorlog (19451949) het 'n groot invloed op die gesin. Van Dis se pa, wat getraumatiseer is in die oorlog, slaan hom. Sy ma maak of sy dit nie sien nie. Ek kom terug is die eerste boek in Van Dis se oeuvre wat, meer as indische duinen (1994) en familieziek (2002), die ma in die middelpunt stel.

Sentraal staan die moeisame heling van die versteurde band tussen die ma en die seun deur die rekon-struksie van 'n verlede, van 'n trauma wat nie verwerk is nie. Sy sê: "Die dinge uit die verlede, ja, die verlede maak seer." (133) "'Verlang jy [na Nederlands-Indië] terug?' vra ek. 'Nee', antwoord sy fel. 'Ek is nie 'n koloniale swymelaar nie'" (164-5). Oor haar dogters uit 'n vroeër huwelik met 'n inheemse man merk sy op: "Die meisies verloor [na die Indonesiese onafhanklikheid] hulle land. Waar hoort hulle nog tuis? Donker, maar ook Westers-onsuiwer in die oë van die fanatici" (208). Die ma was trots, maar voel nou skuldig.

Teen hierdie agtergrond is dit interessant dat die seun hom daaroor bekommer dat sy weergawe van sy ma se storie nie noodwendig háár waarheid is nie. "Wees eerlik", staan daar ses keer in hoofstuk 5, en die ma kla:

"My herinneringe sweef in alle rigtings ... voor jy dit weet, vertel jy dieselfde storie op drie verskillende maniere".

"En mag ek dan struktuur daaraan gee?"

"Nee, jy moet dit net so neerskryf soos wat 'n mens 'n storie vertel-soms vooruit, soms agteruit-dan eers is dit reg" (215).

Dié historiese werklikheid bestaan nie, en die seun weet sy ma vertel net wat sy wil vertel.

Ek kom terug is 'n eksplisiet poëtikale, historiese roman wat veral duidelik maak dat Nederlands-Indië ver-by is, maar dat herinneringe steeds hernu word, en dat nuwe herinneringe voortdurend gemaak word. Die om-strede voormalige kolonie is 'n belangrike lieu de memoire in die Nederlandse nasionale, kulturele bewussyn. Baie Nederlanders, onder wie gewilde skrywers soos Hella Haasse en E. du Perron, beskou Nederlands-Indië as hulle land van herkoms, of het daarby betrokke geraak deur familielede. Van oudsher het Nederlanders deur tekste in kontak getree met die oorsese dele van die koninkryk. In hierdie konteks is Van Dis se boek baie betekenisvol.

Ook die aktualiteit van Ek kom terug in 'n Suid-Afrikaanse konteks het my getref. In die NRC skryf Van Dis oor sy band met Suid-Afrika: "Ik vond in die apartheid, in de taal van Breytenbach, iets terug van dat Nederlands-Indische van mijn familie, die enorme kleurgevoeligheid". Die ma vertel: "Kleur. Ons het gemaak asof dié woord nie bestaan nie" (165). Oor haar eerste inheemse eggenoot sê sy: "Vir my was my donker Just Nederlands-Indië, en ek vir hom Holland. So eenvoudig was dit en terselfdertyd so ingewikkeld. Ek kon nie voorsien dat hy in sy eie land iemand anders sou word nie, en ek ook" (206). Dit is ook die tragiek wat die seun ervaar: wanneer die ma sterf en hy haar kis se sleutel in die hande kry, is die storie klaar, maar daar is nie noodwendig klaring gevind nie: "Ek veg my eie oorlog. Lankal reeds: 'n Kwartier in die oggend, 'n kwartier in die middag en snags om drieuur 'n kwartier lank. Wanneer miljoene mense wakker lê. Alleen" (226).

Die belang van 'n geoefende vertaler vir so 'n ryk storie blyk regdeur die boek. Daniël Hugo vertaal ge-woonlik sin na sin, sonder om die boek eers te lees. Dit het 'n baie noukeurige vertaling opgelewer wat die boek se styl weerspieël. Daar is pragtige beeldspraak: "Tuinmaak is om stories oor te vertel, aarselend, maar hulle kom onvermydelik los terwyl jy in die grond woel" (150). Die weergawe van die Nederlandse onvoltooide verlede tyd as die historiese presens in Afrikaans pas baie goed by die drang wat die seun voel om die stories van sy honderdjarige ma te bemagtig: "als ik nog meer van haar wou weten, moest ik opschieten" (52) het geword, "as ek meer van haar wil weet, sal ek moet vinnig speel" (46). Waar tipiese terme die begrip in Afrikaans kon belemmer, is daar 'n toeligting: "pasar, die mark", "nondeju (in godsnaam)", "Kaffee mit Kuchen (koffie met koek)". So is die verhaal se leesbaarheid gewaarborg.

Ek kom terug is 'n uiters menslike reis en kroniek. Dit is 'n veelseggende toevoeging tot Van Dis se oeuvre en tot die literêre tekste oor Nederlands-Indië. Die vertaling is nog 'n veertjie in Afrikaans se veelkantige hoed.

Tycho Maas

t.a.j.maas@uva.nl

Universiteit van Amsterdam

Amsterdam

ORCID: https://orcid.org/0000-0002-1009-7913

 

Geraadpleegde bron

Jaeger, Toef. "Ik kan niet leven met verbittering. Een interview met Adriaan van Dis." NRC. 1 Nov. 2014. https://www.nrc.nl/nieuws/2014/11/01/ik-kan-niet-levenmet-verbittering-1432725-a221803. Geraadpleeg 1 Aug. 2019.         [ Links ]

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons