SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.57 número1Die dao van Daan van der Walt (Lodewyk G. du Plessis)Ek kom terug (Adrian van Dis) índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Letterkunde

versão On-line ISSN 2309-9070
versão impressa ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.57 no.1 Pretoria  2020

http://dx.doi.org/10.17159/2309-9070/tvl.v.57i1.7831 

BOOK REVIEWS

 

 

Gam se tjind.

Aubrey Cloete.

Westville: Reach Publishers, 2019. 66 pp.

ISBN 978-0-620-82897-0.

Aubrey Cloete is 'n boorling van die Kaapse Vlakte, maar het sy matriek in Upington by Saul Damon Senior Sekondêre Skool voltooi. Na skool het hy onderwys aan die destydse Bellville Onderwyskollege studeer en het hy sy verdere studies aan die Universiteit Wes-Kaap-land afgesluit. Benewens sy passie vir die onderwys, droom Cloete sedert sy tienerjare om homself ook as 'n skrywer te vestig. Sy droom realiseer in Maart 2019 wanneer hy debuteer met sy novelle Gam se tjind.

In sy debuut takel Cloete die kwessie van seksuele mishandeling, die langtermyn gevolge daarvan en die verwerking van hierdie traumatiese gebeurtenis.

Terence Jacobs, die hoofkarakter, is in sy veertigs en het 'n byna volmaakte lewe. Hy is passievol oor sy werk as 'n onderwyser en is gelukkig getroud. Onder die oppervlak van sy volmaakte lewe krap daar egter herinneringe wat hy vir jare onderdruk het. Hy wroeg met die wete dat hy sedert vyfjarige ouderdom deur 'n familielid seksueel gemolesteer is. Met die verloop van die boek word Terence se verhaal vertel. Terugflitse van sy kinderjare word afgewissel met 'n uitbeelding van die hede, waar hy as volwassene die trauma van sy verlede probeer verwerk en later besluit om sy molesteerder te laat boet.

Hoewel Gam se tjind die potensiaal het om 'n nodige gesprek te begin, is daar 'n oorweldigende aantal probleme met die boek, wat wissel vanaf verwarrende vertelling, sinnelose terugflitse, 'n onduidelike storielyn en swak karakterontwikkeling. Ek gaan hier slegs op die onduidelike storielyn en swak karakterontwikkeling fokus.

Volgens die agterblad van die boek word die leser op 'n lewensreis geneem, waar ons Terence se verwerking van sy trauma saam met hom beleef. Ongelukkig ervaar die leser nooit Terence se beloofde "paradig-ma-verskuiwing" nie want sy reis tot bevryding word deur enkele verwysings na geestestoestande, 'n oorvloed van sekstonele en 'n bisarre klimaks geskets.

Vroeg in die verhaal sien die leser hoe Terence se verlede steeds by hom spook, wat moontlik 'n posttraumatiese stresversteuring (PTSV) suggereer. Hy noem ook netso terloops dat hy obsessief-kompulsiewe steuring (OKS) het (12). Hoewel navorsing toon dat daar 'n moontlike skakel is tussen seksuele molestering en die ontwikkeling van PTSV en OKS, word dit nooit in die boek verklaar nie. Hierdie geestestoestande word bloot as versiering vir Terence se karakter gebruik-daar word nooit verduidelik hoe dit sy lewe en verhoudings affekteer nie.

Hoewel 'n vrees vir, of vermyding van, intimiteit ook soms na seksuele molestering manifesteer, is dit glad nie die geval in Terence se huwelik nie. Inteendeel, Terence en Madeleine het 'n baie gesonde sekslewe. Die uitbeelding van hul aktiewe sekslewe word egter goedkoop gemaak deur die oorbodige amper hygromanagtige beskrywings wat die leser wil laat ineenkrimp, byvoorbeeld: " ... haar warm, sagte lippe en liggaam protesteer effens toe sy die bloed in sy Chinos voel wakker word. Hy trek haar egter stywer vas en laat haar die kroon van sy manlikheid vir 'n goeie wyle voel ... " (25).

Die ontknopping van die storielyn veroorsaak een van die grootste probleme met die boek. Die neem van wraak teen 'n molesteerder is nie 'n buitensporige storielyn nie, maar die wyse waarop Cloete dit hier hanteer beklemtoon nóg 'n probleem met die boek: swak karakterontwikkeling.

Die verhaal fokus uitsluitlik op Terence, met ander randkarakters soos Madeleine wat bloot as 'n seksobjek funksioneer, en Terence se vriend Denver wat uit die bloute verskyn en 'n beduidende rol in die ontknopping van die verhaal speel. Terence word deurlopend uitgebeeld as iemand wat deur die trauma van sy verlede verteer word. Hy neem geen pro-aktiewe stappe om sy verlede te verwerk nie. Dit verander skielik na hy op Denver afkom wat 'n slapende Jabu seksueel molesteer. As leser verwag jy 'n heftige reaksie aangesien Terence self seksueel gemolesteer is, maar die teenoorgestelde vind plaas en hy troos Denver, wat dan sy seksuele oriëntasie onthul. Dit wil voorkom asof hierdie insident Terence se genesing simboliseer. Alhoewel historiese trauma verwerk kan word deur 'n soortgelyke gebeurtenis waar te neem, is dit in swak smaak om Jabu se seksuele molestering as 'n genesingsmeganisme vir Terence te gebruik.

Dit is egter die wraak-plan wat uit 'n lokval met "gemanipuleerde, gesiglose kaalfoto's van tienerseuns ... " (64) bestaan, wat die leser laat terugsit en kop skud. Terence is seksueel gemolesteer en wil nie kinders hê nie, want hy dink nie die wêreld is veilig vir kinders nie (28). Dit is sinneloos dat hy kinders op dié wyse sou gebruik. Dit is ook onduidelik hoe Terence, met sy skynbare beheersende karakter, Denver sou toelaat om beheer te neem van die wraakplan. Verder word die sentrale tema van die boek ondermyn deur kaalfoto's van minderjarige seuns as wraakplan te gebruik aangesien onskuldige kinders hier as weggooi-seksobjekte in 'n wraak-spel gebruik word. En tussendeur al die bogenoemde vreemde optrede is dit steeds nie duidelik of Terence uiteindelik vryheid bereik het nie.

Aubrey Cloete roer hier 'n tydige gesprek aan, maar ongelukkig word die verhaal nie op 'n oortuigende wyse vertel nie. Ondanks die nuttigheid van sy prontuit-skryfstyl om nie doekies om te draai nie, is dit by tye kras en verloor die verhaal die nodige deernis. Met die hulp van 'n redakteur kon Gam se tjind 'n waardevolle toevoeging tot die huidige diskoers gewees het.

Earl Basson

earlrayb@yahoo.com

Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie

Kaapstad

ORCID: https://orcid.org/0000-0001-8181-4775

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons