SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.57 issue1All the Places (Musawenkosi Khanyile)There goes English teacher (Karin Cronje) author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.57 n.1 Pretoria  2020

http://dx.doi.org/10.17159/2309-9070/tvl.v.57i1.7830 

BOOK REVIEWS

 

 

Die kinders van Spookwerwe.

Lize Albertyn-du Toit.

Kaapstad: Human & Rousseau, 2019, 352 pp.

ISBN 9780798177207.

Die hinders van Spookwerwe (2019) is die debuutroman van Lize Albertyn-du Toit. Die verhaal handel oor die Kaliempie-gesin en speel in die 1970's af. In die Bo-Karoo woon Mieta en Hennerik Kaliempie op die plaas Spookwerwe. Milano is hulle oudste seun wat reeds skoolgaan en baie lief is vir stories, en die tweeling of "linge", Gysie en Grietjie, is nog babas. Die Kaliempies se wortels is diep geskiet op die plaas, en hulle volg 'n geroetineerde bestaan. Mieta is versorger van hulle werf en huis, en wanneer die eienaars van die plaas kom kuier, is dit haar werk om die hoofhuis skoon te maak. Hennerik sien om na verskeie plaasdiere. 'n Tragedie tref egter die gesin en daar daal 'n swaarte op die plaas neer. Die tragedie gee ook aan die titel van die roman 'n dieper betekenis. Sekere 'spoke' bly altyd op die werf en bly by die karakters spook.

Die plaas is vir die Kaliempies uiteindelik 'n be-langrike deel van hulle identiteit-op Spookwerwe bly en leef hulle, beleef hulle ook verliese en moet hulle leer om te leef met die hartseer: "Die Kaliempies moes nuwe voetpaadjies begin uittrap so tussen die verliesplekke en brakkolle deur" (27). Omdat die liefde vir die Karoo so diep ingeboesem is by sig bewoners is dit swaar wanneer juffrou Meintjies vir Mieta en Hennerik kom sien omdat sy besorg is oor Milano se opvoeding. Die plaaslike skool maak toe, maar juffrou Meintjies meen die Kaliempies moet nie Milano se opvoeding afskeep nie. Hy het goeie potensiaal, soos sy liefde vir lees en stories aandui. Hennerik beraam 'n plan om die gesin na die Swartland-area, in Riebeek-Wes na die plaas Tweefontein, te verhuis. Hennerik sal as 'n arbeider op 'n wingerd kan werk, en Milano sal sy laerskoolloop-baan kan klaarmaak en daarna met hoërskool begin.

Die roman het 'n derdepersoonverteller, en dit is veral Mieta se belewenisse wat vertel word. Die Kaliempies moet opnuut wortels skiet in hulle nuwe huis en in die nuwe omgewing wat so anders is as die Karoo. Mieta is versorger vir haar gesin, 'pleegma' vir die mishandelde Geraldine en tree sonder huiwering op teen geweld teen vroue. Sy is beskermend oor die diere op haar werf en duld nie enige skinderstories van buurvroue nie. Dit is interessant om te merk hoedat hierdie roman in dieselfde jaar as 'n nuwe rolprentweergawe van Fiela se kind verskyn. In die roman is daar ook 'n sterk fokus op 'n ma-en-kindverhouding, veral die verhouding tussen 'n ma en haar seun, en in die opsig is daar 'n verband tussen hierdie twee verhale. Die grootste verskil is dat Die kinders van Spookwerwe, anders as Fiela se kind, nie die narratief volg van 'n bruin ma wat vir 'n wit kind sorg nie. In hierdie resensie wil ek nie 'n vergelykende studie tussen die verhale, in hulle verskillende mediums, doen nie, maar slegs wys op een ooreenkoms tussen die verhale.

In 'n artikel wat Bibi Slippers geskryf het oor die jongste rolprentweergawe van Fiela se kind besin sy oor die waarde van nog 'n verfilming van dié bekende verhaal. In die 1980's het Katinka Heyns 'n rolprentweer-gawe van Fiela se kind gemaak en met die verskyning van die jongste rolprent het die vraag ontstaan of daar werklik nóg 'n rolprent nodig was. In haar artikel meen Slippers egter dat die jongste film 'n ander perspektief op 'n bekende verhaal gee. In die jongste film is daar bietjie meer te sien van die pyn wat die Komoetie-ge-sin moet deurmaak wanneer Benjamin, Fiela se wit grootmaakkind, weggeneem word van hulle. Die film fokus inderdaad meer op die pyn van Fiela se biologiese kinders om hulle broer en, nog meer, hulle ma te 'verloor' aan pyn en hartseer omdat sy gedurig wag op Benjamin se terugkeer. Tog is daar kritiek dat die film nie die volle uitbeelding van die komplekse emosies van die Komoetie-gesin vasvang nie (Slippers).

Met die lees van Die kinders van Spookwerwe is daar te bespeur hoe die roman aandag gee aan die komplekse gevoelens van verlies en hartseer wanneer die ma van 'n bruin gesin haar (biologiese) kinders verloor. 'n Roman bied natuurlik meer ruimte om emosies te omskryf, maar dit is belangrik om te merk dat hierdie roman gemoeid is daarmee om omskrywings van komplekse innerlike emosies te gee. Na die tragedie op Spookwer-we die Kaliempies diep geraak het, word Milano byna die spilpunt van haar en Hennerik se bestaan. Ter wille van die hoop op 'n beter toekoms vir Milano trek die gesin na 'n nuwe dorp, weg van die spoke wat hulle geanker gehou het op hulle werf in die Bo-Karoo.

Die Kaliempies bly egter self 'kinders' wat afkomstig is van Spookwerwe. Soos hulle aanpas en voortgaan met hulle lewens op Tweefontein verstaan hulle hulself en vorm hulle hul bestaan rondom Spookwer-we. As mense vra waar hulle vandaan kom, soos wanneer Milano in die hospitaal beland en die verpleegster aan Mieta die vraag stel, is die antwoord: "Maar ons kom eintlik van Spookwerwe af in die Karoo" (254). Die roman lewer kommentaar op waar mense behoort, waar hulle tuis voel en hoe moeilik dit kan wees om opnuut 'n lewe en 'n bestaan te probeer voer-veral as daar 'spoke' op 'n ander werf is wat in mens se geheue bly. In 'n stadium ontmoet Mieta 'n vrou van Kaapstad wat vertel hoe sy geraak is deur die vernietiging van Distrik Ses. Die vrou het 'n kind verloor en dra ook 'spoke' rond.

Hierdie roman vertel nie 'n bloot eenvoudige verhaal van 'n gesin se bestaan nie. Die roman beskryf iets van die komplekse emosies wat met verlies gepaard gaan en toon aan hoe belangrik grond vir identiteitsvorming is. Albertyn-du Toit het 'n roman geskryf wat maklik lees, maar eindelik dieper kwessies aanraak.

Shawna-Leze Meiring

shawnaleze.meiring@gmail.com

Universiteit van Pretoria

Pretoria

ORCID: https://orcid.org/0000-0001-5075-4677

 

Geraadpleegde bron

Slippers, Bibi. "Fiela se kind en die vele riviere van Heraklitus". Vrye Weekblad. 20 Sep. 2019. https://www.vryeweekblad.com/mense-en-kultuur/2019-09-19-fiela-se-kind-en-die-vele-riviere-van-heraklitus/. Geraadpleeg 18 Des. 2019.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License